Jan Smuts must fall?

  • 2

'n Ruk gelede is in die media berig dat die skildery van generaal JC Smuts (1870-1950) uit die Hoofeetsaal (Hall) van Christ College op Cambridge in Regent Street nou verwyder is (as daarnaas ook ’n beeld van hom) omdat die Universiteit van Cambridge nie “’n tuin van herinnering” is nie. Gedenktekens moet glo verantwoordbaar gehou word met die “lewende doelstellings” van daardie universiteit. Die rede hiervoor sou wees dat Smuts deel gehad het aan die apartheidsbedeling in Suid-Afrika. Niks kan eintlik verder van die waarheid  af wees nie. Smuts het besef dat hierdie ideologie nie in die praktyk sou werk nie en het dit teengestaan.

Ek was self ’n doktorale student op Cambridge, vir drie jaar, teen die helfte van die vorige eeu, en het daardie skildery deur Arthur Pan gesien waar dit saam met dié van Charles Darwin en John Milton agter teen die muur van die High Table gehang het. En ek was, as Afrikaner, oneindig trots daarop. Dit was vir my geen geringe teken van sy grootse statuur nie en ek het dit breëbors daarna vir baie jare in Suid-Afrika verkondig.

JC Smuts (“Slim Jannie”) het in Oktober 1891 aan Christ College op Cambridge begin studeer in die Regte met ’n Alfred Ebden-studiebeurs. Hy het daar só uitermate uitgeblink dat hy tot ’n Scholar (oftewel Fellow) van die kollege verkies is. Aan die einde van 1893 verower hy die eerste plek in die interkollegiale regseksamens, en in 1894 ook die eerste plek in albei die afdelings van die tripos in die Regte – ’n prestasie wat tot op daardie tydstip in die eeue-lange geskiedenis van Cambridge ongeëwenaard was.

Smuts het hierna na sy vaderland teruggekeer om hom in die wispelturige lot van die politiek te begewe.  Nog vóór die aanvang van die rampspoedige Tweede Anglo-Boereoorlog het hy ’n belangrike rol gespeel in die geskil tussen Brittanje en die ou Transvaalse ZAR.  Hy het aanvanklik gemeen dat Groot Brittanje nie, sonder ’n “goeie formele rede” teen  die wêreldmening in, die ZAR militêr sou aanvat  nie. Daarom het hy by die ZAR-regering  aangedring om eerder voortydig sélf ’n program van hervorming in te stel, met inbegrip van die stemreg van buitelanders wat hulle hier gevestig  het. Hierdie was, helaas, uiters wyse raad in retrospeksie gesien. Uiteindelik kon Smuts nie hierdie vernietigende oorlog vir die Afrikaner keer nie. Uit ’n siekbed het hy toe wel ’n merkwaardige memorandum oor politieke en militêre strategie vir die twee Afrikaner-republieke in die Noorde voorgestel. Hy het selfs gemeen dat hulle hul uiteindelik tog, oor die groot afstand van Brittanje, militêr dalk sou kon handhaaf. So nie, het hy gesê, sal die Afrikaner se aspirasies dáár totaal en finaal geruïneer word. En as hulle sou wen, het hy, seker eerder wensdenkend, ’n Afrikanerrepubliek gesien wat vanaf Tafelbaai tot aan die Zambezi sou kon strek. Smuts was self die skrywer van die vurige vlugskrif Een eeuw van onrecht. Die res is egter nou geskiedenis, bitter en tragies soos dit was.

Die Britte sou egter nie vir altyd die buitengewone begaafdheid van Jan Christiaan Smuts vergeet nie. Amper ’n halfeeu later, met die Tweede Wêreldoorlog, word hy selfs deel van die Britse Oorlogskabinet van Winston Churchill, juis as gevolg van die internasionale reputasie wat hy sedertdien verwerf het. Hy het ook buite Suid-Afrika gedink.

Smuts was sy tyd ver vooruit, besef ons vandag maar te goed. Daarvoor moes hy die prys in 1948 in Suid-Afrika betaal toe DF Malan se Nasionale Party die bewind oorgeneem het. Ook op wysgerige gebied was sy boek oor Holisme (waaraan hy reeds op Cambridge as student begin werk het) sy tyd ver vooruit, omdat hy die sonderlinge gawe gehad het om buite “die kassie van tradisie” te kon dink.

En nou, let wel, Cambridge! JC Smuts was inderwaarheid ’n bestryder van die apartheidsideaal, wat hy gesien het die land in ’n dodelike doodloopstraat sou laat beland. Dit sou nie alleen tot internasionale isolasie van sy volk lei nie, maar uiteindelik ook die ekonomie van die land oneindig skade berokken. Voortydig, dan, het hy ’n kommissie oor die probleem van swart arbeid en verstedeliking in Suid-Afrika laat ondersoek onder voorsitterskap van regter HA Fagan. In Maart 1948 het hy die grondbevindinge daarvan aan die Parlement voorgelê: apartheid is as totaal onuitvoerbaar beskou, en alle diskriminerende wette wat deur wit Suid-Afrikaners gemaak sou word, sou  geheel en al onaanneemlik wees. In Mei van daardie jaar het die Nasionale Party egter die leisels van die land oorgeneem onder leiding van die teoloog Malan. En die Fagan-verslag is begrawe. Weer ’n (ander) eeu van onreg waarby Jan Christiaan Smuts nou betrokke  is!

In 1986 was ek weer met sabbatsverlof na King’s College op Cambridge. Ek het Christ College ook weer besoek en die drie groot geeste se portrette steeds daar sien hang. Hierdie keer was dit vir my ook ’n soort pelgrimstog om die geskiedenis van die universiteit en sy 31 kolleges uit die later middeleeue beter te leer ken. Dit was toe dat die bibliotekaris van Christ College (ek moet byvoeg op die uiterste aandrang van my kant) vir my ’n kopie laat kry van Christ College se tydskrif vir die Michaelmas Term van 1948. Daarin word die redaksionele storie vertel van veldmaarskalk Smuts se aanvaarding van die amp van Kanselier van die Universiteit van Cambridge – ’n oudstudent van Christ College! En ’n nuwe gebou is toe ook summier na hom vernoem. In daardie termynblad van Christ College verskyn ook ’n foto van Smuts saam met ’n groep bewonderaars voor die Senate House, langs King’s College, waaronder ’n Matie aan sy baadjie duidelik uitgeken kan word. Dit was op 9, 10 of 11 Junie 1950.‘n Kleinood vir my om huis toe te neem!

Hoe bring ’n mens nou die kloutjie by die oortjie?  Kan Cambridge werklik só die feite van die geskiedenis verloën om een van sy briljantste en beroemdste oudstudente se nagelate glorie sommer so dood te veeg? Ek wens ek kon die redaksionele teks van “Our Chancellor” hier bygevoeg het uit daardie Christ College Magazine wat my daardie dag geluk het om te ontvang ná amper ’n halwe eeu.

Smuts het pas in 1948 die verkiesing in Suid-Afrika (“teen alle verwagting in”) verloor. Die berig in die Christ College Magazine begin egter met hierdie woorde: “He (Field-Marshal Smuts) seemed like a man who had come through an earthquake and was not yet certain how much of the familiar world was still secure”. En Cambridge sou hom weer daardie vaste grond gee, ook na ’n besoek aan die Cavendish Laboratories waar Francis Crick en James Watson vyftig jaar later die DNS van die mens sou ontrafel – iets wat juis die ewige student Smuts so intens geïnteresseer het. Helaas, die ikonoklasters is nog steeds wêreldwyd bedrywig. Toe Smuts as die Kanselier van die Universiteit van Cambridge verkies is, het dit glo gelê tussen hom en Mahatma Gandi. Die uiters liberale “Christen-gelowige” Smuts is toe vir die amp gekies - alhoewel Gandhi toe tog ook reeds deur die Engelse vergewe was vir sy “civil disobedience” wat hulle eertyds soveel grys hare besorg het.

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

"Standing up for injustices"? – Nine notes on #FeesMustFall

#FeesMustFall: Danny Titus on burning libraries and human rights

Interview: Different conditions on the campuses, different protests

#feesmustfall kan bydra tot ’n beter Suid-Afrika

  • 2

Kommentaar

  • Die skrywer vergeet gerieflikheidshalwe van "slim Jannie" Smuts se onverbiddelike en onvergeefbare optrede teenoor sy eie volk, en vernaam sy verraderlike optrede teenoor Jopie Fourie; waar geen sweempie van medemenslikheid, versoening en vergewensgesindheid ter sprake was nie!
    Geen wonder dan dat sy kwansuise wêreldwye statuur min aftrek, TROTS en entoesiasme wek by baie Afrikaners nie, wie hom ken vir dit wat hy werklik was. Sy dade het in werklikheid harder gepraat as sy mooipraatjies.
    Dat Cambridge nou sy skildery verwyder, SKEEL ONS DUS WERKLIK MIN.
    "The left ALWAYS eats its own eventually."

  • Sakkie Spangenberg
    Sakkie Spangenberg

    Ek het die artikel van Gerrit van Wyk Kruger geniet, maar tog gewonder of Jan Smuts wel so onomwonde anti-rassisties was dat hy hom nie met die NP se beleid kon versoen nie. Dis tog 'n feit soos 'n koei dat die totale Westerse wêreld op daardie tydstip nog nie mense van kleur as gelykwaardig beskou en behandel het nie. Die "lokasies" waar swartmense rondom die dorpe en stede in van die Unie van Suid-Afrika gewoon het, was nie 'n skepping van die NP-regering nie, maar 'n erfstuk van die Britte en ook van die SAP-party. Die NP-regering het nie apartheid uitgedink nie – dit was hoe die Westerse wêreld op daardie tydstip gedink en gedoen het. Neem die VSA as voorbeeld. Alhoewel hulle nie 'n beleid van apartheid gehad het nie, was hulle samelewing duidelik soos die NP se apartheidsbeleid gestruktureer. Die NP het nie die tekens van die tye reg gelees nie – dis waar, maar Jan Smuts (wat inderdaad geniaal was) het Suid-Afrika nie vooruit gehelp met menseverhoudings nie. Miskien is dit die rede waarom Smuts uiteindelik in Cambridge geval het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top