#feesmustfall kan bydra tot ’n beter Suid-Afrika

  • 6

Daar is ’n verbasende konsensus dat die #feesmustfall-veldtog wat soos ’n veldbrand onder universiteite versprei het, eintlik alle Suid-Afrikaners raak. Indien dit reg bestuur word, behoort die land beter af te wees daarna, sê die politieke ontleder en universiteitsdosent Piet Croucamp. Hy het in ’n uitgebreide onderhoud oor die huidige studenteonrus aan Jean Oosthuizen gesê Suid-Afrika is vandag beter af as ’n maand gelede, danksy die woede en angs van die swart middelklas.

Read more on universities, language, access, education and current student protest

pcfees650

Studente se stryd teen die verhoging van studiegeld is besig om soos ’n veldbrand oor die land te versprei. Gaan dit regtig net oor studiegeld of sit daar meer agter die betogings?

Dit gaan beslis oor studiegeld, maar meer waarskynlik is die verskynsel aansienlik meer kompleks as net dit, en akademici gaan nog baie lank meet en pas om al die sosiologiese veranderlikes wat daartoe aanleiding gegee het, in ’n enkele kwalitatiewe ontleding in te pas.

Hoe lyk die tipiese student wat aan hierdie aksie deelneem?

Die studente ter sprake is relatief tot die res van Suid-Afrika ’n uiters bevoorregte identiteit en kom waarskynlik meestal uit die swart middelklas. Hulle het oorwegend hul skolastiese ervaring by die beter skole in die land opgedoen en dit is maklik om die afleiding te maak dat hul sosiale en ekonomiese omstandighede vir ’n beduidende tydperk in hul lewens aansienlik beter was as die gemiddelde Suid-Afrikaner s’n, anders sou hulle nie daarin kon geslaag het om aan die relatief inhiberende vereistes van die beter universiteite in Suid-Afrika te voldoen nie.

Hulle kry ook per kapita groter finansiële steun vanaf die staat as enige ander subpopulasie waarvan ek bewus is. Beurse en lenings vanuit die privaatsektor subsidieer die studente se verblyf aan universiteite in ’n beduidende mate. Ek vermoed akademiese jargon soos “relatiewe deprivasie” (die spanning wat ontstaan weens die diskrepansie tussen jou waardeverwagtings en jou waardevermoëns) sal die gebeure van die laaste weke beter verklaar as “armoede”.

Onthou, ons praat nie van die voormalige tuislanduniversiteite waar armoede nog altyd ’n werklikheid was nie; hierdie is die swart middelklas in aksie.

Ons weet almal Suid-Afrika se universiteite word nie voldoende gefinansier nie, maar wie moet die blaam hiervoor dra?

Die regering dra waarskynlik die meeste blaam. Hulle plaas ontsaglike druk op universiteite om toeganklik te wees, maar in relatiewe terme verminder hulle die subsidies van akademiese instellings alreeds vir baie jare. Universiteite moet natuurlik self ook ten dele die blaam dra.

Die kennis wat aan dié instellings gegenereer word, het baie dikwels geen bemarkingswaarde nie en is soms totaal uit pas met die behoeftes van die ekonomie. Ons lei te veel mense op vir wie daar geen produktiewe toekoms kan wees nie. Indien universiteite se uitsette en die ekonomie se behoeftes beter gekalibreer kon word, sou die privaatsektor ook meer geneë gewees het om direk in die opleiding van studente te investeer.

En die studente?

Ja, studente moet natuurlik self ook ’n deel van die blaam dra – die feit dat soveel as 50% wat inskryf vir ’n graad nooit die kwalifikasie voltooi nie, kan maklik voor die deur van ’n gebrekkige werksetiek gelê word. Die energie wat studente bereid is om in hul studies in te sit gegewe wat die staat, die universiteit en hul ouers moet belê, is soms skrikwekkend.

Gesien dat hierdie studente waarskynlik ’n middelklas agtergrond het, is dit dalk sinvol om weer te kyk na die maatskaplike en ekonomiese druk waaronder hierdie subekonomiese identiteit verkeer. Die middelklas in Suid-Afrika is onder ongelooflike druk weens die lae groeitrajek van die bruto nasionale produk.

Dit beteken in eenvoudige terme dat lewenskostes eskaleer op ’n skaal groter as die toename in die gemiddelde, werkende gesin se inkomste. Hoewel staatsamptenare se salarisse jaarliks met beduidend meer as inflasie aangepas word, is soveel as 90% van die swart middelklas werksaam in die privaatsektor waar aanpassings onder groot druk was en nie veel meer as gelyk aan inflasie aangepas is nie.

Die werklikheid is egter dat die standaarddefinisie van ’n middelklas se polities-ekonomiese identiteit juis is dat dit permanent sente moet omdraai.

Maar ervaar die wit middelklas dan nie ook maar dieselfde probleme nie?

Die wit middelklas het ’n beduidende historiese voordeel in wat genoem word ’n demografiese dividend, met ander woorde waarde, bates, kapitaal en maatskaplike voordele wat oor generasies heen oorgedra word van een geslag na ’n volgende.

Die swart middelklas is dus, ten spyte daarvan dat hulle per kapita-inkomste relatief goed vergelyk met dié van die wit middelklas, steeds aansienlik armer as die wit middelklas is en daarom ook onder groter druk. Toegang tot privaat finansiering korreleer in ’n groot mate met die omvang en kwaliteit van jou demografiese dividend. In kort, indien ’n wit pa vir ’n lening by ’n bank moet teken vir sy kind, is hy aansienlik meer kredietwaardig as wanneer ’n swart pa dieselfde moet gaan doen.

Is dit ’n spontane protes of ’n georganiseerde aksie, en wie sit daaragter?

Wel, “spontaan” moet seker gekwalifiseer word. Geen kollektiewe aksie is spontaan nie. Die werkersklas het dikwels genoeg politieke en ekonomiese energie om kollektief te reageer en die geskiedenis het ons geleer dat studente ’n soortgelyke gemeenskaplike drif kan genereer. ’n Bepaalde identiteit moet dikwels onder enorme direkte druk geplaas word om tot aksie oor te gaan.

Die onlangse pogings om na die Uniegebou te marsjeer met teenkorrupsie as die motief het klaaglik misluk. Die weiering van die Gautengse middelklas om e-tol te betaal is meer suksesvol omdat dit bloot passiwiteit vereis, maar dit het ook gewerk. Geen kollektiewe aksie is spontaan nie; die dinamika en die sosiologiese drukgange is dalk nog net nie na behore ontdek en ontleed nie.

Die vonk in die jongste vlaag onrus was by die Universiteit van die Witwatersrand, of Wits, in Johannesburg. Hoekom juis daar?

Wel ook by UCT. Die antwoord is dalk eenvoudig: dit is die universiteite waar studente akademies die beste toegerus word, waar finansiële steun aansienlik beter is, en hulle kom ook uit beter skole, dikwels privaat skole. Die verwagtings is aansienlik hoër daar as aan byvoorbeeld die Universiteit van Limpopo, waar studente uit aansienlik meer armoedige omstandighede kom. Maar die verwagtings is tans onder geweldige druk van die vermoëns weens swak ekonomiese groei en swak regering oor die algemeen.

Baie studente wat universiteit toe wil gaan, is nie regtig op skool goed genoeg voorberei vir die universiteitslewe nie en kom nie die mas op daar nie. Behoort daar nie strenger toelatingsvereistes te wees vir mense wat verder wil studeer nie?

Die staat kan universiteite met 100% subsidie finansier, maar dit gaan steeds nie die werklike probleme van universiteite oplos nie. Daar is te min akademiese instellings, maar daar is eenvoudig te min instansies wat eenvoudig daarop ingestel is om mense op te lei. 80% van alle studente wat tans aan universiteite studeer, moes eerder deur die privaatsektor opgelei gewees het. Daar is byvoorbeeld geen rede hoekom die staat mediese personeel moet oplei op die skaal wat dit gedoen word nie.

Die privaatsektor probeer al vir jare die staat oortuig dat hulle dokters behoort op te lei en is ook bereid om die totale koste daarvan te dra; die regering verseg om dit toe te laat. So kan van die ingenieurswese tot besigheidskole op eenvoudige sakelogika ’n groot deel van die opleiding verskaf wat tans so ’n ingrypende tekort in ons ekonomie is. Kortsigtige ideologiese intensies en vrese kom teen ’n geweldige prys.

Dit wil voorkom of daar nie genoeg meganismes by universiteite is om die geskille te besleg nie. Is dit ’n billike afleiding en indien wel, hoe stel mens dit reg?

Universiteite het hul eie probleme, maar die onlangse studenteaktiwiteite het sin begin maak eers toe die massas by die parlement opdaag. Die hart van die siekte is die wetgewer en die minister wat jaarliks met burokratiese argeloosheid die onbeholpenheid en korrupsie van die regering verduur en goedkeur.

Universiteite is nie ingestel op konflikbestuur wanneer dit buite die parameters van koloniale civility funksioneer nie. Die primêre definisie van ’n akademiese identiteit is retoriek en redevoering, nie intimidasie en geweld nie.

Jy kan die visekanselier nie blameer vir sy ontgogelde voorkoms nie; hy is akademies ongewapen wanneer ’n student met ’n tradisionele wapen sy kantoor binnestap.

Maar om die parlement te bestorm soos wat die studente gedoen het, grens aan ’n daad van anargie. Kan ’n demokratiese land so iets bekostig?

In ’n demokrasie is die veronderstelling dat die staat of die regering in ’n redelike mate sal reageer op die behoeftes van die samelewing. Outoritêre leierskap ignoreer die behoeftes van die samelewing en swak staatsvorme onttrek mettertyd aan die samelewing omdat die kapasiteit om te reageer op die behoeftes van die samelewing nie meer bestaan nie.

Die Suid-Afrikaanse staat en regering het ’n kombinasie van genoemde kenmerke geword. Daarom is geweld toenemend ’n alternatief. Dit maak sin om dit te ontmoedig as ’n strategie, maar uiteindelik sal die fenomeen sy eie momentum opbou.

Die studente se optrede het sommige mense laat dink aan die Franse revolusie. Kan hierdie die begin wees van ’n revolusie?

Die verskil tussen onrus en revolusie is geweld. Onrus word gebore uit ontevredenheid ter wille van die “greater good”. ’n Revolusie se DNS word geformuleer in die konteks van die strukturele geweld van ’n outoritêre of onaktiewe staat. Ons is nie náby ’n revolusie nie; hierdie is iets wat besig is om gebore te word, nie om te vergaan nie.

In die proses word die res van die middelklas en diegene wat dit kan bekostig se studies ook ontwrig. Is dit billik teenoor daardie studente wat graag wíl studeer?

Daar is ’n verbasende konsensus dat dit wat nou gebeur, eintlik alle Suid-Afrikaners raak en indien dit reg bestuur word, die land beter af behoort te wees daarna. Elke politieke of kulturele identiteit het sy eie redes om goedkeuring te verleen aan minstens ’n deel van die gebeure. Die Potch-student wat die verlede probeer beskerm by Totius se monument is net so verlig dat die massas studente uiteindelik by die parlement aangekom het as wat die EFF is. Almal het griewe teen die onbevoegde staat; dit is die gemeenskaplike vyand, ongeag die verskille.

Wat van die dosente en ander personeel? Sommige van hulle voel bedreig en word verhoed om kampusse te betree of te verlaat. Hulle het tog ook regte en dis mos nie hulle skuld dat die klasgelde verhoog word nie?

Ek het die afgelope dae vrylik tussen die studente rondbeweeg en nooit enigsins bedreig gevoel nie. Ek vermoed die polisie en Blade Nzimande kan nie dieselfde sê nie. Die woede en angs is redelik gefokus; dit is nie ongebreidelde behoeftes om te vernietig wat vaardig is nie.

Die Grondwet beloof dat student maklike toegang tot tersiêre onderrig sal hê, maar net die middelklas het dit. Hoe stel mens hierdie wanbalans reg en waar moet die geld vandaan kom?

Die ironie is dat indien ons net beter gewerk het met dit wat ons het, ons nie alleen gratis tersiêre onderwys sou kon aangebied het nie, maar ook meer opleidingsinstellings en universiteite sou kon gehad het. Die benarde posisie waarin ons ons bevind, het min met kapasiteit en alles met verkwisting te doen.

Sommige doemprofete vrees dat hierdie oproer die einde van die land se demokrasie voorspel en die begin van ’n “Arabiese lente” is. Is studenteopstande soos wat ons tans ervaar, regtig so ongewoon of gebeur dit ook elders in die wêreld?

Hierdie is normaal, selfs vir Suid-Afrika. Dit is jammer dat die werkloses nie dieselfde sosiale momentum kan opbou nie, maar wanorde het ’n argitektuur nodig om koherent te funksioneer, en dit bestaan nie onder armes nie. Suid-Afrika is vandag beter af as ’n maand gelede, danksy die woede en angs van die swart middelklas.

Hoe lank moet Suid-Afrikaners hulle staal vir die huidige opstande, en wat sal gebeur as daar nie aan die studente se eise voldoen word nie?

Die vakansie begin binnekort en die kampusse sal noodwendig leegloop. Die vraag is of dieselfde momentum vroeg volgende jaar gehandhaaf kan word. Dalk tog, want dan moet daardie gewraakte gelde betaal word.

Daar dreig ook in die ANC tweespalt oor wie verantwoordelik is vir die studentebetogings. Sommige blameer Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, vir die dilemma, maar Cosatu skerm vir hom. Hoe raak dit die ANC as party?

Die ANC is so gefragmenteer soos ’n 100-stuk-puzzle. Die momentum is besig om op te bou teen die uitvoerende gesag. Die party is besig om van buite die uitvoerende gesag in opstand te kom teen sommige van die ministers in die Zuma-kabinet. Luthuli-huis is uiters gespanne en Gwede Mantashe veg om sy politieke lewe. Ek sal verbaas wees as die President nou bereid sou wees om ’n lekgotla uit te roep; die middelpuntvlietende kragte by so ’n byeenkoms sal net deur die withemde tot orde gebring kan word.


Fees Must Fall | Klasgelde Moet Daal

2015

 


  • 6

Kommentaar

  • Henriette Norris

    Stem saam met die artikel. Te veel matrikulante wat nie oor die kognitiewe vermoëns beskik nie word tot universiteite toegelaat. Meer klem moet op vakmanopleiding geplaas word. Daar is ’n geweldige tekort. Baie studente mors ook geld op universiteit weens ’n gebrek aan toegewydheid. Keuring moet strenger wees. Al die gegradueerdes kan grade studeer waarvoor daar nie werksgeleenthede bestaan nie. Ek wil ook graag weet waarvoor word die opleidingsheffing aangewend wat deur besighede betaal word. Ek sien geen voordeel wat daaruit verkry word nie. Waar is die fondse?

  • "Die swart middelklas is dus, ten spyte daarvan dat hulle per kapita-inkomste relatief goed vergelyk met dié van die wit middelklas, steeds aansienlik armer as die wit middelklas en is daarom ook onder groter druk. Toegang tot privaat finansiering korreleer in ’n groot mate met die omvang en kwaliteit van jou demografiese dividend. In kort, indien ’n wit pa vir ’n lening by ’n bank moet teken vir sy kind, is hy aansienlik meer kredietwaardig as wanneer ’n swart pa dieselfde moet gaan doen."
    Die Proffie lei aan verbale diarree!

  • helize van vuuren

    Hierdie stelling is darem erg simplisties: "Die kennis wat aan dié instellings gegenereer word, het baie dikwels geen bemarkingswaarde nie en is soms totaal uit pas met die behoeftes van die ekonomie".
    Dit laat ongelukkig een van die kernbesighede weg wat tog seker die basiese eerste uitgangspunt is van 'n tersiêre opleiding – om mense behoorlik te leer skryf, krities leer dink, en 'n sosio-historiese greep bybring van waarbinne gedink word. Al drie dié aktiwiteite ontbreek deesdae dikwels skromelik by studente vars van die skool.
    En waarom sou die "ekonomie" nou die Alleroogste Goed moet wees in die bedryf van 'n tersiêre instelling?
    .

  • Riana de Beer

    Hoewel sport en ook kultuur saam met akademie 'n groot bydrae lewer in die gebalanseerde opvoeding van studente, is ek van mening dat die sportfasiliteite aan universiteite in sy geheel geprivatiseer behoort te word en dat huurgeld dan aan die universiteite betaal word. Ek is seker dat die begroting van universiteite aansienlik meer geld aan die akademiese opleiding beskikbaar sal kan maak as die universiteite nie verantwoordelik is vir daardie uitgawes nie. Die studente wat sport op provinsiale vlak beoefen, is eintlik semi-professioneel, is dikwels lang tye afwesig van klasse en kan onmoontlik as werklik uitmuntende studente beskou word. Indien hierdie bostaande stelling nie waar is nie, mors die res van die studente 'n geweldige klomp tyd en geld.

  • Aggenee, ek is oortuig daarvan dat daar mense is met dieper insig en meer direkte kontak met die feesmustfall beweging as Piet. Sy menings klink twedehands en verlep.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top