
Heindrich Wyngaard, Riana Scheepers, Darryl David en Hein Willemse
LitNet en sy vennote kondig graag aan dat daar ’n suksesvolle aansoeker was vir die 2025-inwoonskrywerskap in Cradock/Nxuba, en dat ’n lang lys skrywers, boekliefhebbers, navorsers en musikante op pad is na die Etienne van Heerden Veldsoirée wat van 25 tot 27 Julie 2025 in Cradock/Nxuba plaasvind.

Ruhan Fourie
Die oogmerk van die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap is om aan skrywers wat ruimte nodig het om ongestoord met hul muse in gesprek te tree, sorgelose verblyf vir ’n maand in die Karoodorp te bied om in betreklike stilte en afsondering aan ’n skryfprojek te werk. Ruhan Fourie, ’n postdoktorale genoot verbonde aan die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, het suksesvol aansoek gedoen om ’n maand lank as gas van Die Tuishuise & Victoria Manor te werk aan ’n biografie van Beyers Naudé, ’n seun van die buurdorp Graaff-Reinet, waarmee hy besig is. Fourie is ook die ontvanger van 2025 se Desmond Tutu Gerrit Brand-prys vir sy debuutwerk, Christian nationalism and anticommunism in twentieth century South Africa (Routledge en die Christelike Lektuurfonds, 2024).

Bernard Odendaal en Hannes Barnard
Die ATKV-Skryfskool word weer vanjaar aangebied tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée. Hannes Barnard bied ’n prosakursus aan, terwyl Bernard Odendaal ’n poësiekursus aanbied. Beide kursusse kos slegs R380 en kursusgangers kry outomaties toegang tot alle gespreksessies van die veldsoirée. Kursusgangers hoef dus slegs vir eie verblyf en maaltye te sorg. Afskoptyd vir albei kursusse is 09:00 Vrydagoggend 25 Julie. Om deel te neem aan die ATKV-Skryfskool kan inskrywings en navrae gestuur word na reservations@tuishuise.co.za.
Die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée, ondersteun deur Die Tuishuise & Victoria Manor, Buffelshoek DiRosie Lodge en Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad, vind plaas van Vrydag 25 Julie tot Sondag 27 Julie. Sprekers sluit in AJ Opperman, Albert Grundlingh, Alwyn Roux, André Hattingh, Anthony Akerman, Bernard Odendaal, Burgert Senekal, Darryl David, Ena Jansen, Frederik de Jager, Hannes Barnard, Hein Willemse, Heindrich Wyngaard, Ingrid Glorie, Juliana Pistorius, Luan Staphorst, Mercia Coetzee, Mphuthumi Ntabeni, PJO Jonker, Riana Scheepers, Rory Riordan, Selwyn Milborrow en Yves T'Sjoen.

Mphuthumi Ntabeni, Yves T'Sjoen, Ingrid Glorie en Ena Jansen
Van die sprekers lewer hul voordragte as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad, waarna hul bydraes ook op LitNet gepubliseer sal word as deel van hierdie beraad, wat tot aan die einde van 2025 aangebied word. Temas wat gedek sal word, sluit in Arabiese Afrikaanse geskrifte, die bydrae van musiek tot identiteit, die transformasie van teks na kuns, en die manier waarop Suid-Afrikaanse letterkunde steeds in interaksie tree met die letterkundes van die Lae Lande en voormalige Nederlandse kolonies soos Suriname en Indonesië.

Christoff Berg en Luna Paige
Luna Paige en Christoff Berg sal onderskeidelik op Vrydagaand 25 Julie en Saterdagaand 26 Julie musiekvertonings lewer.
Op Sondagmiddag 27 Julie sal Elsabé Brits ’n toespraak lewer oor die aktivis Emily Hobhouse, veral oor Hobhouse se interaksie met die skrywer en aktivis Olive Schreiner. Hierdie toespraak sal plaasvind op Buffelskop, langs Schreiner se sarkofaag. Feesgangers sal die geleentheid kry om met 4x4-voertuie tot ongeveer 300 m van die sarkofaag te ry. Belangstellendes kan by buffelshoek.gamelodge@gmail.com bespreek om ’n sitplek op ’n bakkie, teen R250 per persoon, te bevestig.
Enige persoon wat die veldsoirée wil bywoon, kan navrae rig aan reservations@tuishuise.co.za.
Verblyf kan bespreek word by reservations@tuishuise.co.za of buffelshoek.gamelodge@gmail.com.
Kyk en lees ook:
Slegs R380 vir die ATKV-Skryfskool én skouers skuur met skrywers
Conversations beyond the comfort zone | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
On land, constitutional law and social justice | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
Hou KI ’n bedreiging vir skrywers in? | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
SteedsDink in die Karoo met LitNet Akademies: Hans du Plessis
Fotoblad 1: Etienne van Heerden Veldsoirée en die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad
Fotoblad 3: Etienne van Heerden Veldsoirée en die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad


Kommentaar
Mag elkeen hulself terdeë geniet. Dis 'n ervaring wat nie net verryk nie, maar besieling en insig verskaf en waar nuwe vriendskappe gesmee word.