
Woordkunstenaars, boekliefhebbers en akademici het van 20 tot 22 September 2024 skouers geskuur by die Etienne van Heerden Veldsoirée. Lees ook Menán van Heerden se eerste fotoblad hier.

Nxuba, ook steeds bekend as Cradock, is die dorp wat ons met ope arms ontvang het.

Die fees is gehou by Die Tuishuise en Victoria Manor in Markstraat en by die Buffelshoek DiRosie Lodge net buite die dorp.

Die Antrobus-gesin het stelselmatig hierdie ou huise in Markstraat opgekoop en gerestoureer.

Skrywers en sprekers is in hierdie lieflike wonings en in die hotel gehuisves.

Die ATKV-skryfskool is ook tydens die Veldsoirée aangebied. Om 09:00 het Bernard Odendaal die digters deur hul passies begin neem in die hotel.

Terselfdertyd het Hans du Plessis die prosaskrywers, wat deel was van die ATKV-skryfskool, begin onderrig in Die biblioteek aan die einde van die wêreld, ’n huis in Markstraat wat vernoem is na Etienne van Heerden se roman.

Intussen is die saal en die toerusting gereed gemaak vir die groot afskop. Hier is Pieter Fourie besig om die videokameras gereed te maak.

Jan van Heerden het die klank behartig.

Fogarty’s Bookshop het die verkope hanteer.

Fogarty’s is een van die oudste boekwinkels in Gqeberha; hulle het al die pad gery om die skrywers se boeke beskikbaar te stel.

Om 10:45 het Darryl David en Lisa Ker almal verwelkom en daarmee die Veldsoirée onderweg gekry.

Ker se ouers, veral haar ma, het die restourasie van Markstraat begin. Vandag is Lisa deel van ’n volgende geslag wat voortgaan met dié werk.

Clinton du Plessis, ’n inwoner van die dorp, het eerste opgetree en ’n aantal aangrypende gedigte gelees.

Etienne van Heerden, die uitvoerende redakteur van LitNet, het dit goed gedink om die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad van stapel te stuur by die Veldsoirée. Hier is hy in die gehoor.

Tom Dreyer het die eerste lesing van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad gegee. Hy het talle nuwe gedigte voorgelees as deel van ’n praatjie oor identiteit.

Tim Huisamen het daarna herinneringe oor sy goeie vriend André P Brink met die gehoor gedeel.

Toe het Darryl David gesels oor sy nuwe boek Karoozing. Ek het die foto buite in die straat geneem net voor die verrigtinge ’n aanvang geneem het.

Igno van Niekerk het met David ’n onderhoud gevoer.

Etes in die statige ou hotel is altyd ’n vreugde.

Hier word gekuier en idees uitgeruil.

Ná ete is ons weer terug na die lesinglokaal toe.

Ten spyte van vol magies, was die gehoor gereed.

Die hotel het baie moeite gedoen om ons gemaklik te maak.

Om 14:00 het Dominique Botha ’n ondersoek geloods oor versoening binne ’n letterkundige konteks. Sy het ’n aangrypende praatjie gelewer met ’n aantal foto’s om dit toe te lig.

Haar ma het haar bygestaan.

Fanie Olivier het daarna gevra of debat nog moontlik is in ons hooggestemde samelewing.

Die ATKV-Skryfskool is toe weer verder gevoer. Hier is die prosaskrywers aan die werk.

Hier kan die digters gesien word.

Nie net die breine van die deelnemers is gevoed nie.

Ek kon toe my tas gaan neersit. Kyk net hierdie lekker kamer.

Die hotel is ’n lieflike mengsel van oudhede en luukses.

Voor ete kan ’n mens rustig by een van die vuurherde sit en kuier.

Gesprekke wat plaasvind tydens die etes vorm deel van die sjarme van die Etienne van Heerden Veldsoirée.

Vasti Roodt het met ’n etiese invalshoek die oop gesprek in ons land ondersoek.

Hans du Plessis het gesels oor sy navorsing rakende Griekwa-Afrikaans. Du Plessis is ’n storieverteller. Selfs wanneer hy oor akademiese navorsing praat, is dit interessant.

Burgert Senekal het na die talle uitdagings in die bewaring van ons letterkundige nalatenskap en veral die versamelings by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein verwys. Hy is betrokke daar en poog om tegnologie te benut om die sentrum te help.

Saterdagoggend het die verrigtinge geskuif na Buffelshoek DiRosie Lodge. Olive Schreiner se graf is op dié lieflike plaas. Dirkie Visser en sy gade, Rosie, besit die plaas en maak die gebruik daarvan moontlik.

Hier kan troues, reünies of skrywersbyeenkomste gehou word.

Dit is ’n groot plaas met baie wild. Ek het selfs twee aardwolwe gesien – slegs die tweede keer ooit dat ek die spesie sien. Daar is ook kameelperde en verskeie boksoorte op die plaas.

Loop ’n mens in die veld rond, sien ’n mens oral hoe mooi die harde Karoo kan wees.

Maar ons sitte het ons gesit.

Ek kou toe die tameletjie in die voortslepende debat oor resensies. Dalk moet die letterkundiges meer doen om die smaakmakers te help in ons soeke na grondige resensies van ons boeke, was my slotsom. (Foto: Menán van Heerden)

Dietloff van der Berg het gesels oor sy vertaling van Rumi en veral sy pogings om seker te maak dat oorspronklike, godsdienstige intensies van Rumi behoue bly in die Afrikaanse teks. Volgens hom is Rumi se nalatenskap vervlak deur swak vertalings in Engels.

Jaco Jacobs het ’n lesing oor kinderboeke gehou en vertel dat ’n dosent van hom gesê het “Jy kan nie ernstig wees nie” by die aanhoor daarvan dat Jacobs wou skryf vir die jongklomp.

Aanvanklik het dit hom gepla, vertel Jacobs toe, maar nou het hy opgehou om ernstig te wees en nou skryf hy opsetlik en bewustelik boeke om kinders te vermaak.

Selfs die grootmense het sy grappies verstaan.

Andries Gouws, wat homself beskryf as ’n “bles Afrikaans-Hollandse, Boeddhisties-Calvinistische bourgeois-kunstenaarfilosoof”, het Tom Holland se boek Dominion: How the Christian revolution remade the world bespreek.

Burgert Senekal het daarna ’n praktiese demonstrasie oor die wonders van kunsmatige intelligensie gegee waarin hy onder andere, danksy ’n kunsmatig-intelligente toepassing, die Engelse rockgroep Manfred Mann sover gekry het om ’n gedig van NP van Wyk Louw in Afrikaans te sing.

Ingrid Winterbach gesels toe oor haar roman Onrus op Steynshoop.

Darryl David het die gesprek gelei.

Jayden Kukari het daarna gesels oor sy roman Die kleine klitse.

Mercia Coetzee het met Kukari gesels.

Stefaans Coetzee gesels toe oor die noodsaak van vernuwing in ’n genre soos die sluipmoordroman.

Ferdie Swanepoel het hom ingevra, ook oor sy nuwe boek Sel ses.

Mercia Coetzee het bespiegel oor die rol van kunsmatige intelligensie in ons letterkunde en die beskouing van die self. Hoe bemark ’n mens byvoorbeeld ’n boek wat deur ’n rekenaar geskep is?

Johann Rossouw het ’n roerende lesing gehou oor versoening en die dinge waaroor Suid-Afrika se gemeenskappe treur.

Crystal Warren, die bestuurder van Amazwi se dokumentargief, het daarna meer vertel oor die werk wat dié museum in Makhanda doen. Amazwi het eers bekend gestaan as die National English Literary Museum, maar hulle bewaar deesdae letterkundige artefakte in al die Suid-Afrikaanse tale.

Ná ete het die bekende televisiepersoonlikheid Heindrich Wyngaard as seremoniemeester opgetree.

Hy het Etienne van Heerden genooi om voor te lees uit Gebeente.

Mphuthumi Ntabeni het toe vertel oor navorsing wat hy gedoen het in KwaNojoli, die dorp wat eers Somerset-Oos geheet het. Bitter min mense weet wie Nojoli was, het hy bevind. Mpush is ’n goeie storieverteller en het die gehoor op reis geneem deur die Oosgrens-geskiedenis tot by Nojoli, ’n Xhosa-koningin wat ook by geleentheid met Coenraad Buys ’n verhouding gehad het.

Clinton du Plessis het daarna weer gedigte voorgedra.

Ingrid Winterbach is ook genooi om weer voor te lees uit haar roman Onrus op Steynshoop.

Bernard Odendaal het gedigte voorgelees wat hy saam met ander vertaal het.

Basil Mills, ’n buitelugentoesias, historikus en slangkenner, het kom vertel oor die maniere waarop hy die natuur gebruik om jongmense lus te maak om te lees. Mills is ook bekend as Crocodile Cradock.

Sy seun, Steven Mills, het hom bygestaan.

Die Orde van die Windpomp is aan Dominique Botha toegeken vir haar sonderlinge praatjie oor versoening en haar groot bydrae tot geleerdheid in Pniel en omgewing, ook die lettere in die algemeen.

Sondagoggend het Basil Mills diegene wat vroeg kon opstaan, geneem na Kranzplaas waar Olive Schreiner ’n tyd lank gewoon het.

Daarna is ons met bakkies na Schreiner se graf. Net ’n klein groepie was dapper genoeg om die rit mee te maak.

Verskeie 4x4-kenners uit die omgewing het hul voertuie en kennis beskikbaar gestel om die steil bergpad uit te ry.

Ná die bakkies geparkeer is, moes ons nog ’n hele ent klim.

Die uitsig van bo op Buffelskop is sonderling.

Basil Mills het allerlei interessante goed uitgewys, soos hierdie dassietoilet.

Steven Mills het die noodhulptassie gedra.

Hier is Mills by die sarkofaag waarin Olive Schreiner, haar man Cronwright, hul baba en hulle hond begrawe is. Die sarkofaag is meer as 100 jaar oud en het tekens van verweer begin toon, maar Mills het dit gerestoureer.

Andile Bhali het vir ons ’n gesang gesing.

Toe is dit tyd vir ’n groepfoto (geneem deur Pieter Fourie).

Biltong, koeldrank en sjerrie is uitgedeel.

Daarna is die terugpad aangepak.

Om ’n tyd in hierdie mooi dorp deur te bring is ’n lekkerte. Knoop nou al julle ore vir volgende jaar!
- Foto’s deur Izak de Vries, tensy anders vermeld.
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise en Victoria Manor




Die skrywers van Op pad na Grysberg.
Lees ook:
Fotoblad 1: Etienne van Heerden Veldsoirée en die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad


Kommentaar
Merkwaardige samekoms van Afrikaanse kreatiwiteit!