
Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 20 September 2024 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.
Die Groot “Ek is”: heuning uit die karkas van ’n leeu
Wie is ek en waaroor en hoe skryf ek?
Toe Izak en Etienne my vra om hier by die Veldsoiree ’n praatjie oor identiteit te gee, was my eerste reaksie ’n soort beklemming, ’n ligte rilling teen my ruggraat af. En dit was om twee redes. Die eerste rede is relatief voor die hand liggend: Laat ons eerlik wees – min mense gaan ’n deur oopskop om meer te hoor oor die identiteit van ’n middeljarige wit Afrikaanse man. Dis gewoon nie die tyd waarin ons leef nie. Maar die tweede rede vir my ambivalensie was eintlik belangriker, en dit is dat ek nie mooi netjiese gedagtes oor identiteit het nie. My identiteit voel vir my na ’n flikkerende en meerduidige ding, iets onvaspenbaar, ’n bietjie soos ’n vuur wat in al sy tonge teenwoordig is, maar nie gereduseer kan word tot enige van hulle nie. Gelyktydig oral en nêrens.
Die woord identiteit laat my soms dink aan daardie toneel in Men in black waar die alien se kop oopvou soos ’n blom en dan ’n ander veel kleiner alientjie daarbinne onthul, met sy hande letterlik op die stuurstok. Where the buck stops. Die real McCoy, die eintlike cahoona, dit wat oorbly nadat jy van al die fluff ontslae geraak het. As jy jou kop om daardie klein homunkulus kan kry, dan weet jy skynbaar alles wat daar te wete is van die lewensvorm daar voor jou. Ek skat dit is verstaanbaar en dalk selfs onvermydelik dat mense so oor hulleself en oor ander mense sal dink. Daar moet tog, so voel dit, iewers ’n lokus van beheer wees, die eintlike essensiële onverdeelbare jy wat kan pa staan vir jou woorde en dade, en die verwyte of akkolades van ander kan dra. Sonder so ’n klein mini-me, wat is dan die setel van jou persoonlikheid, die hegplek vir jou drome en vrese? Wat is die middelpunt van waar jy jou lote uitstoot in die wêreld? I get it. But I also don’t get it. Want ek dink gewoon nie dat ons elkeen so ’n netjiese klein essensiele self hét nie.
As ’n mens wil praat oor middelpunte, moet mens ’n reeks van middelpunte betrek. As jy wil praat van ’n klein homunkulus, beter jy plek maak vir ’n trop van hulle. Want ’n mens vervul ’n klomp rolle in hierdie wêreld; jy sit op ’n klomp stoele. Jy is die middelpunt van, of ten minste in, soveel sirkels (jou vriendekring, jou familiekring, die sirkel van jou verhouding, die sirkels van jou dorpsgenote, jou landgenote, jou rasgenote, jou taalgenote, jou kerkgenote, jou gendergenote, mense met wie jy ’n geskiedenis deel, of ’n sekere tydstip in die geskiedenis, ’n werkplek, ’n skool, ’n lewensuitkyk, ’n rekenaar operating system, ’n liefde vir elektriese motors of vir die musiek van Bruce Springsteen, lojaliteit teenoor die Stormers of die leerstellinge van Karl Marx of die Vryemesselaars of die anargiste, ’n fobie vir slange, ’n belangstelling in Star Trek of knoop-en-doop of prekoloniale migrasieroetes. Ek sou vir die res van my praatjie sirkels kon trek. En elkeen van hierdie sirkels is vektore wat op jou inspeel en saambou aan die meerkoppige ding wat eintlik maar net by wyse van spreke jy genoem kan word. Elkeen van hierdie sirkels is ’n speelveld waarop jy uitdraf onderhewig aan sy eie reëls, soms nouliks versoenbaar met wat aangaan op ander speelvelde waarop jy jou soms begeef. En jy stuur vanuit die middelpunt van elkeen van hierdie sirkels lote in die wêreld uit, oftewel: gedagtes, woorde, dade. En as ’n mens dan nou rêrig bly aandring op een ware jy, met ’n omskrewe identiteit, moet jy darem in gedagte hou dat daardie identiteit ’n konstruksie is, ’n opvlamming gevoed deur ’n labiele en flikkerende versameling vektore.
Gun my ’n voorbeeld. Gestel ek sou ’n vyftigsentstuk vat en dit hier op die tafel sit, en dit dan met een vinger vinnig wegskiet. Ek skiet dit reguit vorentoe, perfek horisontaal, en swaartekrag trek dit reguit af, perfek vertikaal, maar die eindresultaat is dat dit skuins ondertoe beweeg. Nou as hierdie vyftigsentstuk ’n bewussyn gehad het, sou hy, of dalk sy, bes moontlik voel of ervaar dat hy of sy skuins ondertoe getrek word of gedruk word, asof die hefboom vir “diagonaal” iewers getrek is, maar dit is natuurlik nie die geval nie. Die waarheid is dat twee ander dinge gelyktydig gebeur het. Net so: Jy sit by die huis wanneer jy skielik lus voel om te gaan stap. Dis nie omdat die klein homunkulus in jou kop – jou identiteit se judge, jury en executioner – die “ek-is-lus-om-te-gaan-stap-hefboom” getrek het nie. Talle hefbome was betrokke:
die “ek-is-lus-vir-stap-want-dan-sal-ek-dalk-vergeet-van-vanmiddag-se-zoom-call”-hefboom
die “ek-is-lus-vir-stap-want-my-karige-knie-het-dit-nodig”-hefboom
die “ek-is-lus-vir-stap-want-dalk-sien-ek-die-joga-instruktrise-op-die-hoek”-hefboom
die “ek-is-lus-vir-stap-want-dan-kan-ek-afshow-met-my-nuwe-skoene”-hefboom
die “ek-is-lus-vir-stap-want-dalk-kry-ek-die-bure-se-verlore-budjie”-hefboom
die “ek-is-lus-vir-stap-want-dan-kan-ek-my-weer-verlekker-in-presies-hoe-horribaal-die-buurman-se-nuwe-aanbouing-is”-hefboom.
Ensovoorts. Ensovoorts. Ons is ’n woud vol bome.
Psychonauts, oftewel psigedeliese reisigers, beskryf die psige soms as ’n eindelose reeks kamers. En ek vermoed hulle het iets beet. Iets aan ons is soos repeterende breuke, asimptote wat na oneindigheid toe neig. Ons is, if nothing else, besonder ingewikkelde en verweefde verskynsels, en ’n mens moet dapper wees om te dink dat enige gegewe identiteitsmerker sin van hierdie kompleksiteit sal kan maak. Natuurlik kan ’n mens kies om een of meer aspekte van jou identiteit te benadruk, om voorrang te gee aan daardie sirkels uit die veelheid sirkels waaraan jy deelneem of wat uit jou binneste kring. Dit is elkeen van ons se volste reg, en ek sou argumenteer dat die individuasieproses juis ’n uitpluis is van die stories wat jy verkies om oor jouself te vertel, of om uit te leef. Maar om te let op iemand anders se lidmaatskap aan ’n gegewe sirkel, en dan te glo dat jy, soos op ’n Venn-diagram, die sleutel tot sy geheimenisse verkry het, voel vir my na die toppunt van aanmatiging, en natuurlik ook gewoon verkeerd.
Maar ek praat baie. Na die voorgaande behoort dit duidelik te wees dat ek voel ’n mens moet versigtig trap as dit by identiteit kom, bloot omdat ons nie almal mooi en ondubbelsinnige kewers is wat in ’n museumlaai lê en wag vir ons etikette nie.
Maar ek het vir Izak beloof dat ek vandag ook ’n bietjie sal voorlees, en het daarom my debuutbundel, Nou in infrarooi, saamgebring, asook ’n paar gedigte uit die bundel waarmee ek tans besig is. Die titel van hierdie praatjie, soos deur Etienne en Izak voorgestel, is “Die Groot ‘Ek is’”, en hopelik sal hierdie gedigte iets laat blyk van die verskillende ekke wat, soos Fernando Pessoa se heteronieme, na vore tree wanneer ek dit waag om die pen op te neem.
middaggebed
maar wat dan van hóm
en sy dae wat telkens hervat
ná nog ʼn sprong of kort hiatus? is dit
dieselfde hy wat in kaïro op ʼn koffie wag
of ʼn quart aanvat in ʼn agterkamer dieselfde
hy wat in lissabon ʼn trem bestyg soos pessoa: (hý
met die vele gesigte wat in een leeftyd kon leer
om tegelyk in alle tye en stede en lywe te leef)?
op veertigduisend voet is elke seestraat
in die eerste plek ʼn tong elke koppie
oorgroei met klimop murasie of wildevy
om en by omʼt ewe. het elke sioux, sjangaan
of galliër daarom in elke eeu by dieselfde vuurtjie
teen die donkerte geskuil? is hy nog hy as hy luister
na die bruising van ’n amstelsluis of in die midwest
hoor wat ’n mielieland se stoppels hom vertel?
as wie jag hy saam met honde
langs khayelitsha se kuile? en wie wag songelooi
dat die skipper van ʼn dhow sy middaggebed voltooi?
Hier lig ’n eerste ek sy kop: ek as lewensreisiger, soeker en rondkyker.
’n Tweede ek sou natuurlik wees: Afrikaanse skrywer. Hiervan kan ’n mens seker nie ontsnap nie. Ek het die volgende stukkie prosa jare gelede in Iowa City geskryf, as inleidende paragraaf toe ek my aan ’n stuk of honderd ander skrywers van oor die wêreld heen moes voorstel:
Ek is ’n Afrikaanse skrywer. Ek skryf in ’n taal wat soos Nederlands is, maar ook nie, inheems aan Afrika, maar ook nie – al is dit die enigste taal vernoem na hierdie (of enige ander) kontinent. Ek skryf in ’n taal wat min uit te waai het met tulpe, windmeulens of simpel sneeumanne met wortelneuse. ’n Taal geslyp om Afrika se skoonheid én sy ongenaakbaarheid te verwoord. “Erdvark”, “veld” en “wildebeest” – hierdie is die woorde wat Afrikaans aan die wêreld gegee het. Ook “trek”, natuurlik. Om te roer, om aan die beweeg te kom, om te swig voor die koors van die horison.
Dit het vir my waar gevoel in 2008, en voel seker nou nog vir my waar. Maar kom ons stoot aan met ons uitkenningsparade van selwe.
’n Derde ek wat ek vir ’n oomblik na vore wil laat tree, is ek as woordling, ek as taalliefhebber, ek as skrynwerker wat met toewyding en presisie skaaf aan die planke van my sinne. Die ek wat destyds al gewonder het oor Afrikaans se bydrae tot die woorde van die wêreld, en nou gedigte soos hierdie een skryf:
Tiptol
vlak bo my kop land pietoto
en hop-hop hoër synde ook klouter-
bok hierdie baketoerie baketoera
wat my dag omskryf met sy gefluit pieter-
pol op patrollie in my taal hy fluit “piet-
kluitjie-korrel” om homself te adverteer hy fluit
“piet-piet-patatta” hy skrou “wie-drolletjie-drie”
hierdie piek-piek hierdie toppie hierdie tippie
op die tippie van my tong hierdie priestertjie
woerend tussen takke janverwat jangeelgat
wipgat want hy is klapperjot pietmanklot
en altyd ook asprissie
En hier skyn ’n vierde ek sommer ook deur: ek as liefhebber van plante en diere, ek wat tot in my grein toe verwond is oor die verwoesting wat ons op ons een en enigste planeet saai.
Onverbryseld
ek sien hulle al van ver af kom
’n stoet van hobbels bo die teer
suurpootjies en rooipense
sou ek raai en sterretjiedoppe
ook padloper ná padloper: sáám
stroom hulle aan al het afrikaans
vir hulle soort geen versamelnaam
swaarweerskilpaaie deur reënvlae
uitgelok ’n knoppiesdop of twee
selfs die klipskilpad wat ek eens
in as sien lê het wonderbaarlik verrys
uit daai swart en leeggeëte dop
vandag stap die sagmoediges
wydsbeen soos stoeiers vandag verlaat
die terugtrekkers hul benige kamers
vandag is almal ploegskaarskilpaaie
almal stoot die aarde voor hulle óóp
stom heroute in hooggewelfde doppe
onverswelg deur vuur onverbryseld op paaie
onverskeep na eensame afsterwes ter see
’n klein rewolusie van lewendes
of vir-oulaas lewendes die wêreld gestol
in die horingagtige skedes van hul bekke
En terwyl ek nou praat van moeilike dinge, laat ek nie wegskram van ’n vyfde ek wat mens beswaarlik kan ignoreer nie: ek as erfgenaam en afstammeling van problematiese voorsate.
Ek sien my voorsate
soms te perd soms laggend in die boorde
soms skietend tot hul mausers gloei
op strafekspedisies na die noorde
soms op fuiftreine
halfpad deur die ruite
soms met vingers in bladsakkies
soms in tierkloof se skeure
tussen ’n wemeling van varingblare
soms langs gragte in amsterdam
met 1651 op die gewel soms skoongeskeer
soms bebaard soms met hul hande om kele
of kaal in bergspruite
of aan flarde aan die voet van koppies
soms slu en afgetrokke in die eerste lig
of uitgespan langs bantam-bakkies
met hardgekookte eiers tussen hulle vingers
So stuit ons keer op keer teen die pa’s en hulle pa’s. Asof die ganse land ’n spookhuis is waarin ons hulle telkens teëkom, net wanneer ons dink dat ons hulle uiteindelik afgelê het.
Kom ons lees nog een in hierdie trant, want die nalatenskap van die verlede speel immer nog oral om ons uit.
Springboksee
digby gifberg raak my kar onklaar
ek sit en tob oor kapers
en moordenaars
terwyl die grootpad voor my gloei
ek deel die bloed van maniakke
ek sien gifberg bo my straal
hierdie veld was ’n springboksee
maar my pa se pa’s het dit reklameer
Ek is nie blind vir die donkerte in my diereriem van selwe nie. Ek het, soos ons almal, genoeg skuld, verwyt en bitterheid om my deur ’n leeftyd te dra. Maar gelukkig is daar, soos by ons almal, darem ook soet en bekoorlike dinge, want selfs in die karkas van ’n leeu is daar glo soms ’n heuningkoek te vinde. Want ek is immers ook: ek as ’n liefhebber van vroue, en dan natuurlik veral my vrou, Vasti. 😊 Ek is ook: liefhebber van lekkergoed, en so dan en wan praat hierdie twee stemme saam in dieselfde gedig.
Soetdingetjie
vir vasti
op my eie in die noorde eet ek my teë
aan trekdrop babbelaars en botterwafels
ook speculoos en superspek. ek neem
op treine mergpijpjes met my mee
en borrelnoten roep my naam
maar dan kom jy op gent se stasie aan
aan die spits van ’n lang string sms’e
jy wat ek bemin bo haagse hopjes
bo krakelingen en bloue tongen
framboosjes kan gaan vlieg
jy’s ’n soeter soet as moeselientjes
jy kom en jy trek my los uit stroop
speen my van taai-taai stel my vry
van pieker oor foonboodskap of brief.
want ek hoor jou woorde verrukliker
as bokkepoten “ek het jou lief”
Hoe lus voel ek nou vir ’n botterwafeltjie! Ja, soms moet ek myself knyp oor die wonderlikheid van die sirkels waarin my lewe afspeel. Selfs die sirkel van my werk voel by tye vir my onbetaamlik prettig. Ek werk mos as rekenaarprogrammeerder, en ja, daar is rompslomp en admin, maar meestal voel dit meer na ’n soort speletjie, ’n onwaarskynlike klein fairy circle te midde van die woestynlandskap van moeite waaroor so baie van my vriende kla. Ek dink rekenaarprogrammering het ’n PR-probleem. Baie mense dink dit is soos rekeningkunde, soos om met Excel te sukkel, en eintlik is dit meer soos om op die punte van jou tone te spring oor stepping stones oor dammetjies vol helderkleurige visse. In een van die afdelings van my nuwe bundel probeer ek liries omgaan met hierdie oënskynlik onliriese dinge: rekenaars, arcade games, modems, en ja, selfs inkjet printers:
Supernova: oor en uit
ek sien weer ná dertig jaar
die sterreryk kafee dit ruik
na sen-sen en sparletta
ek en cas speel asteroids
min gespin oor bokse perskes
die jakarandas in die ruit
die straat ’n filmrol stasiewaens
want cas versplinter ruimterommel
in ’n onafgebroke stroom van laservuur
locked & ready sê hy sy tuigie
’n wit naspoor soos hy tol en duik
dan slaan hy hyperspace
en tonnel deur kwantums tot hy herverskyn
te rats vir die asteroïede-swerm
te flink vir die vaal waens
wat bloeisels vertrap tot ’n pers pappery
ek en cas is weerkaatsings in die skerm
cas korrel cas skiet cas slaan hyperspace
cas laat ’n naspoor soos hy koes en skuif
Ek staan einde se kant toe, die plek waar sprekers tipies woorde soos “gevolglik” of “dus” of “samevattend” begin inspan. In hierdie geval voel dit ’n bietjie problematies, want my betoog is eintlik juis dat identiteit nie lekker saamgevat kán word nie. Ek skat die beste wat ek sou kon doen, is om te soek na gemene delers tussen die verskillende monde waaruit my gedigte praat. Daar is ontvanklikheid. Daar is nuuskierigheid. Daar is entoesiasme, soos ’n klein rasende spruitjie. Maar veral is daar ’n gevoel van verwondering oor alles wat ons omring, en ten diepste dus verwondering oor die onwaarskynlike feit van lewendig wees. Ek is te oud en sinies om te dink dat die digter antwoorde kan verskaf, of groot insigte wat die vinger lê op wat eintlik aangaan of wat ons eintlik te doen staan. Die beste wat digters kan doen, is om hul oë en ore oop te hou, om die klein flits van hul woorde nou hier en dan daar te rig. Digters is boekstawers, verdwaasde maar immer hoopvolle makers van lyste:
15 dinge om aan te dink in ʼn mri-skandeerder
die uitleg van aurora en die keer toe jy met jou fiets in die skoolbus vasgery het
die klam broeiplekke van kolganse
al die karre waaroor evel knievel ooit gespring het
verlange, versoeking en die spoed waarteen ʼn frisbee draai
hoe om ʼn papierkaart te vou
die onverwagse skoonheid van x-straalplate
verkeerde maniere om ʼn reddingsbaadjie te dra
die swartbergpas en die afdraai na die hel
die heilsleër se leuse: bloed en vuur
mitiese ongediertes van die keetmanshoop-omgewing
die valkveer op die maan, die hamer, die sewe vlae
mri-skanderings en die feit dat jou eie selle jou eendag sal verraai
elke black label-bottel waardeur die son ooit sal skyn
’n man wat ontroosbaar deur ’n parkie dwaal
ons lywe om middernag in tierhoek se dam.
Lees ook:
Bernard Lategan: “Ek is ...”: Oor die problematiek van enkelvoudige en meervoudige identiteit
Cornel du Toit: Perspektiewe op “self” en “identiteit”
Achmat Dangor: Language and the shaping of “otherness” — a personal testimony
Tom Dreyer: Die mond het klaar gelag


Kommentaar
Jinne, om te dink dat ek laas week gewonder het waarmee ek my Vrydagoggend sal begin na VWB se heengaan.
Dankie, dankie vir hierdie wonderlike identiteitsverklaring!
En sommer ook vir Vasti en Johan Fourie se uitstekende artikels.