Ek is gevra om enkele “uit-die-vuis” opmerkings te maak oor Lategan se artikel oor enkelvoudige en meervoudige identiteit (wat ek baie geniet het). Lategan se werk is deeglik en sy formulering glashelder. Wat volg, is ’n beskeie poging om die idees wat aan bod kom te komplementeer met eie perspektiewe. Dit is dus nie ’n akademies-geordende stuk werk nie, maar gedagtes wat vir my van belang is oor “self” en “identiteit” en idees wat opgeroep is met die lees van genoemde artikel. Wat ek kwytraak, grond uiteraard wel op werk wat ek vroeër gedoen het.
Lategan bespreek onder teorieë van identiteitsvorming individuele en groepsidentiteit asof die twee natuurlike gegewes van menswees is. Ons moet egter in gedagte hou dat daar vir baie lank samelewings bestaan het waarin individuele identiteit nie ’n moontlikheid was soos ons dit vandag as natuurlik aanvaar nie en waar identiteit bykans eksklusief groepsidentiteit was. In die Middeleeue is identiteit bepaal deur die kerk, wat jou natuur en die lot daarvan “geken” en beheer het.
|
|
|
René Descartes |
Westerse identiteit as individuele identiteit is ’n produk van die wetenskaprevolusie, Descartes, die Verligting en ontwikkelinge daarna. In tradisionele Afrikakultuur word die individu deur sy plek in die groep bepaal en in tradisionele Hindoekultuur word die self in en deur ander (die groep) gesien. Hierteenoor het Westerse denke ontwikkel as analities, diskriminerend, induktief, individualisties, intellektueel, objektief, wetenskaplik en onpersoonlik.
Om opnuut na te dink oor identiteit maak veral sin uit die perspektief van bedreiging (sien Lategan oor verontregte minderhede, bl 266). Dit is immers teen die agtergrond van die een of ander vorm van bedreiging dat die identiteitskwessie weer na vore kom. Dit is wanneer ek uitgesonder word as ’n (wit) minderheid, of as ’n persoon wat op die een of ander vlak “anders” is, van die gemiddeldes statistiek “afwyk” dat identiteit ondervra word. Identiteit kom skerp na vore wanneer wat ek is of doen, skielik teen my tel. Identiteit kom na vore wanneer my keuse verskil van joune. Ek behoort aan ’n ander party as jy, verkies ander musiek, outeurs, filmsterre, ensovoorts. Onder “normale” omstandighede ontplooi my identiteit so geleidelik dat ek nouliks van die besondere wyse waarop ek ontwikkel, bewus is.
Die rol van die negatiewe of die “is nie”-aspekte van identiteit kan nouliks onderskat word. Ek identifiseer myself in die lig van wat ek nie is nie. Ek is nie ’n dief of rassis of korrup nie. Maar ek is ook nie swart of armlastig of ’n afgetrede nie. Ek is ook nie ’n ouditeur nie en het, sover ek weet, nie kanker nie. Ek was ook nog nie in Ysland nie. Die lys kan oneindig voortgaan en maak sin alleen in die lig van die vraag binne ’n bepaalde konteks waarin die vraag opkom of ek dalk al afgetree het, of siek is of Ysland besoek het. Op dié vlak val identiteit saam met die dinge wat ek nie weet dat ek weet nie. Daar is dinge wat ek weet ek weet, dinge waarvan ek weet dat ek dit nie weet nie, en dinge waarvan ek nie weet dat ek dit nie weet nie, asook dinge waarvan ek nie weet dat ek dit weet nie. So kan ek agterkom dat ek nogal goed is met brug speel of tafeltennis as ek dit op uitnodiging vir die eerste keer begin doen; of ek kom na baie jare weer by ’n stad uit wat ek lank terug besoek het en herken die pad na ’n sekere plek toe. Ek het nie geweet dat ek die pad ken nie en sou dit ook nie voor die tyd aan iemand anders kon verduidelik het nie.
So sou my unieke identiteit na vore tree in baie situasies waarin ek nog nie voorheen was nie en waarin die een mens se reaksie sou verskil van dié van ’n ander mens s’n. Maar dit is op die vlak van bedreiging dat identiteit sterk gevoelens kan opwerk. In Nazi-Duitsland het soveel Jode hulle identiteit probeer wegsteek. Jou ware identiteit beteken in die konteks jou einde. In Suid-Afrika beteken jou wit vel, asook, vandag, jou geslag, dat jy nie vir bepaalde betrekkings in aanmerking geneem sal word nie. So was dit die geval onder apartheid-Suid-Afrika as jou vel swart was. Maar ook jou kerkverband, politieke sentiment, misdaadrekord, onderwysvlak, familieverband, of vriendekring kon ’n beslissende invloed uitoefen, alhoewel verskillende verbande in verskillende kontekste ander gewig sou dra.
In dié konteks is Lategan se kritiek teen enkelvoudige identiteit so belangrik (sien bl 268). Tot watter mate kan wit Suid-Afrikaners hulle identifiseer met die Afrika-kontinent se ideale, of bly wit Afrikane ’n geïsoleerde eiland op ’n swart kontinent? Sodanige identifikasie behoort ’n heilsame invloed uit te oefen op wit identiteit in Afrika en behoort mens meer simpatiek te stem in die lig van die veelheid probleme wat Afrika teister. Geïsoleerde, bedreigde minderhede verval in die steriele “ons-hulle”-sindroom van redevoering. Daarom bly die ideaal van gedeelde waardes en gedeelde identiteit (nasiebou) ten spyte van die regverdigbare sinisme daarom heen van belang (sien Lategan bl 269 oor eie identiteit as ’n doel op sigself, en ble 276 ev oor die soeke na gemeenskaplikheid; bl 278 oor identiteitsvorming per negativum).
Maar hoe vry is ons om ons eie identiteit te bepaal? Dit is nogal ontstellend om na te dink oor hoe min dinge jy werklik ’n eie sê oor het. Jy kies nie jou geboortejaar, velkleur, geslag, oriëntasie, familie, intelligensie, taal, burgerskap nie. Op die keper beskou, kies jy ook nie jou onderwysvlak, beroep, salarisskaal, wêreldbeeld, geloof, kritiese houding teenoor dinge ens nie, omdat dié dinge in ’n groot mate bepaal word (is) deur jou ouers, tydgenote en die konteks waarbinne jy grootgeword het.
Die self is ’n konstruk net soos my werklikheid ook ’n konstruksie is (sien Lategan bl 270). Die konstruk is egter oneindig kompleks en ek is beslis nie die enigste of selfs die belangrikste argitek daarvan nie. Die maatskappy, met die oneindige veelheid fasette wat dit inhou, en waarin ek grootgeword het, was ook ’n bepaalde konstruk en was medebepalend van hoe my identiteit daarbinne vorm aangeneem het.
Voorts is die self as konstruk nie gegiet in beton nie, maar ’n organiese ontwerp wat groei en verander. Die self wat ek is, is ’n self alleen binne ’n bepaalde ruimte en tyd. Die self wat op hierdie oomblik in my bewussyn na vore kom terwyl ek daaroor nadink, is op ’n manier uniek en sal nooit weer presies so in die toekoms na vore kom as ek daaroor nadink nie. Dit is omdat daar net een gedagte op ’n keer in my bewussyn na vore kom en die bepaalde bewussynstroom bepaal hoe een gedagte (herinnering) ’n ander na vore roep. Dit is daarom dat ek aan die einde van my lewe voel dat alles maar ’n oogwink was, ’n droom wat ook tot ’n einde kom. Dan kom ’n hele leeftyd in die bewussyn as een gevoel of indruk na vore en dit is te min om ’n hele lewe in saam te vat. Geen mens kan ’n leeftyd se indrukke in een kulminerende gevoel uitdruk nie. Menswees sou nie verstaan kon word sonder die rol wat bewussynstruktuur op identiteit uitoefen nie, en dit sal waarskynlik eers in die toekoms van kognitiewe navorsing duideliker word.
Voorts dink ek oor myself na binne ’n bepaalde konteks met ’n bepaalde vraagstelling en teen die horison van ’n bepaalde stimulus (byvoorbeeld Bernard se teks wat ek gelees het). Daar is duisende ander moontlike idees oor myself wat na vore sou kon kom, maar wat binne die bepaalde konteks nie geaktiveer word nie. Dit is soos ons herinneringe wat nooit presies op dieselfde manier na vore geroep word nie. Nuwe ervaringe en insig skuif voortdurend soos ’n lens oor ons herinneringe in en elke keer as ek weer oor iets betekenisvol nadink, is dit op ’n manier anders.
|
|
|
Paul Ricoeur |
|
|
|
Michel Foucault |
|
|
|
|
“Identiteit” en “self” het ’n narratiewe struktuur. Ek druk my identiteit uit in my lewensverhaal. Soos enige verhaal het dit ’n begin, verloop en (“eendag”) ’n einde (sien Ricoeur). Ek is die hoofprotagonis en vele ander spelers word op my verhoog (biografie) toegelaat omdat hulle ’n funksie vervul wat my verklaar (my selfsiening verklaar). Die verhaal is egter ook ’n konstruk wat anders daar kon uitsien.
Identiteit word dus in ’n groot mate bepaal deur die (A)ander; hoe die ander my beïnvloed; wat die ander aan my doen; hoe die ander my tipeer; wat die ander van my verwag; waartoe die ander my dwing. Ek tree anders op as ek bewus is dat ek dopgehou word (sien ook Foucault oor die “mediese blik” – “medical gaze” – en Lacan oor “gaze” en ideale ego en ego-ideaal). Op negatiewe vlak is dit die ander wat die onmoontlike moontlikheid van ’n lewensverhaal as een lang alibi moontlik maak. My mislukte, onvervulde lewe is alles as gevolg van jou (julle)! Hier kan die “ander” ook ’n tydvak, politieke bestel, godsdiens of bepaalde kultuur wees. Die veronderstelling van lewensverhaal as alibi is dat ek my situasie kan vergelyk met dié van ander wat as normaal of buitengewoon beskou word. Sonder die ander is geen vergelyking, en by verstek ook geen identiteit, moontlik nie.
Bernard bring Fil 3 en I Kor 9 met mekaar in verband waar Paulus enersyds roem op sekere identiteitstrekke (Fil 3) en dit dan weer oënskynlik relativeer (I Kor 9). Hy gebruik die voorbeeld om veelvoudige identiteit mee te verduidelik (ble 271 ev).
Ter ondersteuning van veelvoudige identiteit moet daar krities na Paulus se “openheid” gekyk word. In die bekende I Kor 9 roem Paulus dat hy vir die Jood ’n Jood en vir die Griek ’n Griek geword het; vir dié onder die wet soos een onder die wet en vir dié sonder die wet soos een sonder die wet – met die doel om enigeen vir die evangelie (Christus) te wen. Op die oog af kan Paulus dus meerduidige identiteite aanneem en die wêreld van die ander ingaan en deel daarvan word. So wen hy mense se vertroue, leer hulle hom ken en vertrou en kry hy kans om hulle deur die evangelie tot bekering te bring.
Maar hoe eerlik is Paulus hier, en is dit wat “oop” identiteit beteken? Paulus gaan die wêreld van die ander met vooropgestelde motiewe binne. Dit is geen “gelyke” verhouding van gee en neem nie. Immers daar is nie enige aanduiding dat Paulus verrykende insigte van die Grieke en “wetteloses” oorgeneem het nie. Hy word vir “hulle” soos “hulle” om hulle van oortuiging te verander. Die ontwikkeling van normale vriendskappe beteken gee en neem. Soos ek jou leer ken en jy my leer ken, verander ons albei (Hegel). Ons albei se insigte (moet) verander, soos ons mekaar beter leer begryp en verstaan. Vriendskap beteken nie ek weet alles en jy moet wat ek jou bied, “inkultureer” nie. Dit was juis in die sendelingtydvak die probleem gewees. “Ons” het (soos Paulus) bymotiewe gehad (asook die waarheid) en dit moes net so ingesluk word deur die ontvangers. “Hulle” moes verander – nie ons nie. Ons het immers reeds “tot die waarheid gekom”. Die rol van ’n sendelinggeloof in die geskiedenis van Westerse waarheidsimperialisme kan nie ontken word nie. Dit beteken nie dat die een of ander oortuiging altyd ten grondslag van die kolonisering van die ander lê nie. Natuurlik is die verhouding eenheid-veelheid kompleks en kan dit nie tot eenduidige sieninge gereduseer word nie (Lategan bl 274).
Identiteit het dus baie met mag, magkonstrukte en strategieë te doen. Absolute waarheid is identiteit in sy finale vorm. Dan dínk jy nie meer nie, maar wéét jy; vrá jy nie meer nie, maar gló jy. Hier is nie plek vir kritiek nie, maar net lojaliteit. In die konteks van absolute waarheid word identiteitsdenke gewelddadig. Dit durf geen teenspraak nie. As waarheid een is, is enige vorm van perpektivisme, wat veelheid insluit, taboe. Dit kom na vore in fundamentalistiese geloof, nasionalisme, fascisme, kommunisme, sosialisme, manlike chauvinisme, klassisme, en noem maar op (sien Lategan se uiteensetting van binêre denke, ble 269 ev).
Laastens die vraag of essensie (identiteit) eksistensie (optrede) voorafgaan of omgekeerd. Bepaal my wese (identiteit) hoe ek sal optree, of is dit my optrede (woorde en veral dade) wat bepaal wie ek is? Hoe sien my identiteit daar uit as ek doen wat ek nie wil nie en nie doen wat ek moet nie (Paulus)? Dit is die tipiese eksistensiële dilemma wat veral pas na die Tweede Wêreldoorlog na vore getree het. Die epistemologiese abstraksie van menswees soos dit by Descartes se “denkende ek” na vore kom, verloor die “eksistensiële ek” uit die oog waar my eindigheid en vervreemding (Tillich en Marx) my werklikheid bepaal. Daar is ’n ander werklikheid agter die “is” van “ergo sum”! In Hegel het essensialisme sy hoogtepunt bereik. Eksistensie gaan op in die essensie (die beweging van die Gees as werklikheid).
|
|
Sartre het in sy hoofwerk, Syn en niks (L’etre et le neant), die self in sy essensialistiese bestaanswyse (en-soi) as mite uitgewys en die voortdurende wordende self (pour-soi) in die plek daarvan voorgestel. As deel van die ontplooiende pour-soi sien ek Lategan se poging om gemeenskaplike gronde te vind, om met die verlede om te gaan (bl 278), om die ander in ’n nuwe lig te sien, ens.
Ek sou graag die biologiese gronde van, en belang vir, identiteitsvorming wou bespreek, maar dit sal ons te ver van die onderwerp wegneem. Ek volstaan deur te sê dat ons evolusionêre agtergrond ons juis toerus met ’n binêre tipe van denke wat as filtermeganisme opereer en ons help om te fokus en vinnig besluite te neem. Die proses word “badging” genoem en verwys na die rol wat ’n instinktiewe tipe etikettering speel om ons te help om vinnig oor die ander (moontlike vyand) te oordeel en betyds te kan optree om onsself te beskerm. Ons het sekerlik veel van die evolusionêre reste ontgroei, maar in konfliksituasies kom dit wel weer sterk na vore. Dan staan rassisme en etikettering op en word fundamentalisme die dryfkrag vir ons ywer. Dit is ’n scenario wat ons wil vermy en dit vra uiteraard baie toewyding.
Terug na die webseminaar: Die problematiek van enkelvoudige en meervoudige identiteit







