Death in Pretoria deur Peter Auf der Heyde, ’n resensie

  • 2

Titel: Death in Pretoria: Untold stories of political activists executed during apartheid
Skrywer: Peter Auf der Heyde

ISBN: 9781776391875
Uitgewer: Penguin Random House South Africa

Die blinddoek van die Griekse Themis en haar Romeinse eweknie, Lustitia, is simbolies van onbevooroordeeldheid. Die swaard van geregtigheid moet immers sonder aansien des persoons gehanteer word. Wanneer die praktiese toepassing van hierdie ideaal getoets word, lyk die prentjie egter heel anders, dermate dat Themis en Lustitia waarskynlik die blinddoeke oor hulle gesigte sal trek om herkenbaarheid te verbloem.

Van 1960 tot 1989 is ongeveer 130 veroordeeldes in Suid-Afrika tereggestel vir misdade wat met ’n politieke oogmerk gepleeg is. Die woord “ongeveer” word doelbewus deur die skrywer gebruik, want die werklike getal is versteek tussen lastighede soos burokratiese rompslomp, nalatigheid en onakkuraatheid. In sommige gevalle is name verkeerd gespel, in andere is voorname en vanne omgeruil, vele name verskyn glad nie, en in een geval was die persoon wat wel aangedui is as veroordeel en tereggestel, nie net nog springlewendig nie, hy het selfs ’n onderhoud met die skrywer toegestaan.

Die werkswyse en doelstellings van die publikasie word van meet af aan duidelik gestel. Die bronne sluit in amptelike rekords, onderhoude met veroordeeldes wat wel begenadig was, die familielede, vriende en mede-aktiviste van tereggesteldes, asook verskeie rolspelers, insluitend voorsittende beamptes, advokate vir die verdediging, en diegene gemoeid met die uitvoering van die vonnisse. Die waarheid word nie geblinddoek nie, en die grusaamhede van onregte in die naam van geregtigheid, asook die versuim van die postapartheid regering om diegene wat weens sodanige teregstellings gely het, te eer, te herdenk en te vergoed, word in gelyke mate oopgevlek.

Artikels 277, 278 en 279 van die Strafproseswet 51 van 1977, wat op soortgelyke bepalings in die 1955-wetgewing gevolg het,  het tot 1990 die riglyne vir die oplegging van die doodstraf neergelê. Van belang is veral die bepaling dat ’n voorsittende beampte (’n regter in die destydse Hooggeregshof) ná ’n skuldigbevinding aan moord sonder versagtende omstandighede met geen keuse gelaat was nie – die oplegging van die doodstraf was dan verpligtend. Die regterlike diskresie was beperk tot ’n beslissing aangaande getuienis om die aanwesigheid van versagtende omstandighede, al dan nie, te bepaal. Die dik swart raam wat die lasbrief tot teregstelling gekenmerk het, was ’n bevestiging van die grimmige bepalings van artikel 279(4) dat die veroordeelde aan sy/haar nek sal hang tot hy/sy dood is.

Die gevalle wat deur die skrywer ondersoek en geboekstaaf is, word chronologies aangebied en neem die leser terug na die 1920’s, toe rasdiskriminerende wetgewing ingestel is om kunsmatige magstoewysing in gebiede soos Cato Manor te verseker. Opstande het toenemend gevolg, ook in die destydse Pondoland (wat deel van Transkei geword het), en liggame soos iKongo het ontstaan. Teen die 1960’s was die PAC/Poqo die protesleiers teen die statutêre afdwinging van genadelose belasting en die koelbloedige uitdunning van veetroppe om beweerde oorbeweiding te ontmoedig.

Gewapende konflik was onvermydelik. Advokate vir die verdediging het hulle toenemend beroep op die navorsing en publikasies van kundiges aangaande menslike groepsgedrag soos Gustave Le Bon se Psychologie des foules, gebaseer op die aard daarvan soos waargeneem tydens die Franse Revolusie, en het daarvolgens desperaat vir versagtende omstandighede betoog deur te verwys na die ontstaan van morele groepskodes, onafhanklik van die beperkings en eienskappe van die samelewing soos wat dit algemeen aanvaar word. Dit was dikwels hulle kliënte se enigste kans om die galgtou vry te spring, maar was selde geslaagd.

Maart 1962 was buitengewoon bedrywig in die kantoor van die laksman, en ook die teelaarde vir ’n afgryslike onreg. Verskeie beskuldigdes, na bewering betrokke by iKongo, is skuldig bevind en ter dood veroordeel. Mjanyelwa Mnconco, Zwelibazi Kwetshuba, Yiva Voyoyo en Gudu Nkuku het appèl aangeteken. Volgens die hofbevel, op skrif gestel deur die waarnemende assistentregistrateur, is verlof tot appèl teen skuldigbevinding en vonnis toegestaan aan Nkuku, en ten opsigte van vonnis (die beslissing ten opsigte van die aanwesigheid van versagtende omstandighede wat die verskil tussen lewe en dood sou maak) aan Mnconco, Voyoyo en ... Nkuku.

Oplettende lesers sal opmerk dat Nkuku se naam twee maal genoem word, maar dié van Kwetshuba glad nie. En dit sou redelik wees om af te lei dat een van die dupliserings na regte na Kwetshuba moes verwys het, maar dit is nooit opgevolg of bevraagteken nie. Hierdie onreëlmatigheid illustreer die onverbiddelikheid van die doodstraf. Daar is natuurlik geen waarborg dat Kwetshuba se aansoek suksesvol sou gewees het nie, maar dis kwalik die punt. Dit was ’n onverskoonbare onreg – en dit het hom sy lewe gekos.

Insiggewende onderhoude met rolspelers verskaf veelvlakkige insig en afronding aan die teks. Pat Mulveno, ’n voormalige assistentbalju, bewys sy deskundige ervaring om korrekte toulengtes met ’n oogopslag te bepaal deur die skrywer se lengte, gewig en die omtrek van sy nek met verstommende akkuraatheid te skat. Die trauma wat deur diegene in die regsberoep beleef is, word treffend verwoord deur Ramon Leon, een van slegs enkele individue wat die doodstraf vanuit wisselende perspektiewe beleef het, onder andere as ’n advokaat wie se kliënt tereggestel is, maar ook as regter wat die vonnis moes oplê, wanneer hy woordkeuses soos “distressed beyond words”, “made me sick” en “Absolutely awful” (bl 66) gebruik om sy emosies te beskryf. Hy sluit af: “But I was bound by the law and there it was” (274).

Die skrywer slaag daarin om ’n stem te gee aan diegene wat andersins gevaar loop om deur die geskiedenis vergeet te word, en herstel daardeur die waardigheid van hulle wat die hoogste prys betaal het. Sommiges se name is wel bekend. Heelwat Suid-Afrikaners sal byvoorbeeld die naam van Solomon Mahlangu herken, maar weinig sal weet of onthou dat geen getuienis hom met die daad van die ten laste gelegde moord verbind het nie – hy is skuldig bevind ingevolge die gemeenskaplike-opset-doktrine, ’n leerstuk ingevolge waarvan hy tereggestel is sonder dat hy ’n hand teen die oorledene gelig het.

Minder bekend is die name van Jonathan Sogwagwa en Fillemon Nangolo. Eersgenoemde is op 11 Junie 1963 ter dood veroordeel en drie maande later tereggestel, met die kil woorde van die regter nog skaars koud: “Sogwagwa was a cruel murderer and is of no value to society” (119). Laasgenoemde is op 30 Mei 1977 tereggestel, nieteenstaande die feit dat hy aan ’n rolstoel gekluister was as gevolg van ’n skietwond wat tydens sy arrestasie in Namibië opgedoen is. Sy moeder, ten tye van haar onderhoud met die skrywer meer as 100 jaar oud, het geen vergoeding ontvang nie, en het steeds nie geweet waar haar seun begrawe is nie. Die teregstelling van John Harris is deur soortgelyke minagting gevolg. Hy is op 6 November 1964 ter dood veroordeel en sy as het vir jare op ’n rak in ’n gevangenislid se kantoor gepryk voordat hy later besluit het dat hy dit nie meer wil hê nie.

Die onbetroubaarheid en dubbele standaarde van die strafregstelsel word duidelik geïllustreer deur die verloop van die moordverhoor van Klaas Hoza, ’n polisiekonstabel, in 1962. Nkosencinci Roseberry Maseti is op 26 September 1967 tereggestel nadat die hof bevind het dat hy die oorledene oor die kop geslaan het voordat hy deur ’n groep aanvallers oorval en vermoor is. By ’n latere verhoor is Johannes Notyawe en Vanele Matikinca ook skuldig bevind en tereggestel vir dieselfde moord, maar hierdie keer was die bewese feite dat die oorledene geskiet was voordat hy neergevel en deur die groep vermoor is. Hierdie skreiende teenstrydigheid is gerieflikheidshalwe geïgnoreer.

Op 9 September 1986 is Sipho Xulu en Lucky Payi tereggestel vir die moord op Ben Langa. Die oorledene was valslik uitgewys as ’n verraaier deur agente van die destydse regering – dubbele verraad in sy ergste gedaante. In 1995 is Ben se broer, Pius Langa, een van die regters in die Konstitusionele Hof wat in die uitspraak in Sv Makwanyane and Another die doodstraf as ongrondwetlik verklaar.

Die doodstraf is van nature ’n gelade onderwerp wat sterk emosies ontlok, maar die skrywer slaag deurentyd daarin om die fokus op die feite te hou en die leser toe te laat om sy/haar eie afleidings te maak. Sy keuses van ingeslote materiaal beklemtoon egter ongetwyfeld die argument dat die doodstraf, anders as die meerderheid ander vonnisopsies, ’n voorbeeld is van die werkinge van die absolute-straf-teorie, eerder as die relatiewe. Ingevolge eersgenoemde is straf die doel op sigself, in teenstelling met die ruimte vir hervorming wat deur voorstanders van die relatiewe-straf-teorie bepleit word, waar straf slegs as ’n middel tot ’n doel geklassifiseer word.  

Die absolute teorie het wel ’n beperkende vereiste, naamlik die proporsionaliteit van die vergelding, maar ’n objektiewe maatstaf daarvoor is moeilik definieerbaar en gaan daarom gebuk onder inherente risiko’s – soos wat die voorbeelde hier bo bewys. ’n Addisionele debatshoof aangaande die doodstraf is die aard van die strafregstelsel waarin dit funksioneer. In ’n akkusatoriese stelsel soos dié van Suid-Afrika, en in teenstelling met die inkwisatoriese stelsel, is daar van meet af aan ’n magswanbalans. Die voorsittende beampte is beide letterlik en figuurlik bo die regsarena verhewe, met die beskuldigde op ’n laer vlak. Statistieke bewys ook dat beskuldigdes wat tereggestel was, merendeels op pro deo-verdediging moes staatmaak. In die woorde van Geoff Budlender: “It is impossible to doubt that if you have a system in which the people charged with the most serious offences are often represented by the least experienced counsel, the pro deo counsel, you are going to get a failure of adequate representation” (6).

’n Vooraf aanhaling deur Jacob Dlamini dra uiteindelik die slotsom waartoe hierdie monumentale werk kom, die beste oor:

Government officials may cloak their decisions in official garb, but their decisions rest ultimately on such things as personal whim, ideological commitment and hubris, not justice. That is why the death penalty is barbaric, because of the power it affords certain individuals to take upon themselves to decide who lives and who doesn’t.

Lees ook:

Doodstraf

Strafoplegging vir dummies

Die siel van die akademie

  • 2

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Interessante resensie deur 'n regsgeleerde wat soos ek ook 'n teenstander van die doodstraf is. Ek het my mening oor die doodstraf gegee in my kommentaar op Bettina se rubriek waarvan die skakel hierbo verskaf word. Wat Auf der Heyde se boek betref:

    Enige gesprek oor die "regverdigheid" van die doodstraf en teregstelling moet onderskei tussen die onderliggende gebeure en die regsproses. As ek die resensie reg lees, dan word daar nie aangevoer dat enige van die tereggesteldes onskuldig was nie. In my navorsing oor die toepassing van die doodstraf kon ek geen geval vind waar die beskuldigde inderdaad onskuldig was nie. Daar was wel gevalle waar 'n mindere straf verantwoord kon word.

    Wat wel waar is, is dat die regsproses self onvolmaak is, en dat in talle gevalle mank gegaan het aan een of ander tegniese gebrek, soos die skrywer beweer. Maar dit het nie, soos dit vir my lyk, die onderliggende skuld van die betrokke beskuldigde geraak nie.

    Sipho Xulu en Lucky Payi se saak is in ons advokate-teekamer bespreek voor en tydens die verhoor. Die saak was as hopeloos beskou. Die advokaat se taktiek was om aan te voer die hof het nie jurisdiksie oor hulle nie. Pius Langa - wie se ander broer vermoor is, as ek reg onthou - moes binnekennis gehad het want hy het toe al beweer die staat se agente was verantwoordelik. So is van die ander sake daar bespreek; die Amanzimtoti bommer - verdedig deur Louis Sweyiya, later ook 'n regter in die KH, Robert McBride, en ander. Nie een van hulle was onskuldig nie. Selfs Solomon Mahlangu se saak is streng op regsbeginsels beslis. Beginsels wat steeds daagliks toegepas word. (Die rower wat in die kar sit terwyl sy gewapende makkers die bank beroof is ook skuldig aan roof, en selfs moord as hulle die bankier vermoor. En dit is wat in Mahlangu se geval gebeur het.)

    My klip in die bos: Die destydse verhoorregters was meer bekwaam as die huidiges: beter gekwalifiseer, met meer diepte van ondervinding, en ja, selfs meer onpartydig. Kyk maar wat het gebeur in die Leeu-saak, Coligny, die doodskis saak, ensomeer. En kyk maar hoe het moordsake nou in sirkusse ontaard.

  • Anschen Conradie

    Absoluut korrek, Chris. Die skuld/aanspreeklikheid van die beskuldigdes word nooit deur die skrywer ontken nie. Net die strafoplegging.

    En ek gaan my nek uisteek en dit waag om te sê dat ek volmondig met jou laaste stelling saamstem. Dis iets wat ‘n gesprek op sy eie benodig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top