Die siel van die akademie

  • 2

Intreerede deur Johann Rossouw1

Rossouw het die rede oorspronklik met aanvullende beelde gelewer. Luister na ’n opname van hoe hy die teks voorlees met die bypassende beelde as skyfievertoning: 

 

1. Inleiding: Verhore

Verhore. Hoeveel van wie ons is en wat ons geword het, wentel nie om verhore nie? Ter illustrasie kan hier na vier verhore verwys word. In twee van die verhore word die doodstraf opgelê, in twee van die verhore word die doodstraf net-net vrygespring. In die twee verhore waar die doodstraf opgelê word, verwerf die veroordeeldes mettertyd onsterflikheid – Sokrates en Christus. In die twee verhore waar die doodstraf net-net vrygespring word, is dit nog te gou om te sê of die verhoordes onsterflikheid sal verwerf, maar ten minste word hulle as buitengewoon geag – Nelson Mandela en Breyten Breytenbach.

In die twee ouer verhore, dié van Christus en Sokrates, volg die verhoordes teenoorgestelde strategieë. Sokrates voer die woord uitvoerig, vernietig die argumente van sy aanklaers, maar word nogtans skuldig bevind en ter dood veroordeel. Altans, so word dit aangebied in die weergawe van die hofverrigtinge deur Sokrates se bekendste student, Plato, ’n weergawe wat Plato se filosofiese projek2 asook die invloedrykste filosofiese tradisie, naamlik die Westerse filosofie, inlei. Let wel, voor ek deur anonieme aanklaers van Eurosentrisme of kulturele meerderwaardigheid aangekla word: Ek sê nie die grootste nie, maar die invloedrykste filosofiese tradisie, dit wil sê, waarvan die invloed wyer strek as dié van enige ander filosofiese tradisie, wat nie beteken dat die invloed daarvan uitsluitlik goed was nie.

Soos pas vermeld, volg Christus in sy verhoor die teenoorgestelde strategie as Sokrates. Buiten sy publiekskokkende verklaring dat hy ’n hoër mag as dié van die semigoddelike Pilatus respekteer,3 beantwoord Christus die valse klagtes teen hom nie met ’n uitvoerige betoog nie, maar met stilte. Hiermee word ’n ewe invloedryke tradisie gegrondves, naamlik die Christelike tradisie wat die siening huldig dat wat werklik belangrik is, nie gesê kan word nie, omdat die bron van alles – ook van taal – ánderkant taal is, sodat wie die bron van alles in toegespitste stilte benader,4 ’n soort kennis verwerf wat haar in staat stel om die beperkinge van taal en argumente te deurskou, veral wanneer dit gaan om argumente gevoer deur diegene vir wie dit eintlik om iets anders gaan, naamlik mag en manipulasie. Hieroor sou CJ Langenhoven iewers geskryf het: “Die gewone man weet nie wat hy sê nie, die ongewone man weet wat hy sê; en die buitengewone man weet wat hy nie sê nie.”

Die feit dat sowel Sokrates as Christus sover bekend niks van hulle lewens of hul idees neergeskryf het nie, en dat wat van hulle bekend is, te danke is aan wat hulle dissipels opgeteken het, is ewe betekenisvol in die sin dat hierdie geskrifte uiteindelik die eerste boustene van onderskeidelik die Westerse filosofie en die Christelike teologie word. Meermale is al opgemerk dat alle Westerse filosofie kantaantekeninge by Plato is, net soos, in die woorde van sint Gregorius die Teoloog, alle teologie ’n gestamel, die praatjies van vissermanne, is (McGuckin 2008: 162–63) Dit wat belangrik is, kan nie gesê word nie, maar ons praat en skryf onophoudelik daaroor.

So pas is opgemerk dat sowel in die verhoor van Sokrates as in die verhoor van Christus nóg die goeie argument, nóg die veelseggende stilswye van die verhoorde genoeg was om sy onskuld te handhaaf en sy lewe gespaar te kry, en wel omdat die verhoordes die teiken van ’n ander agenda was. Ook Mandela en Breytenbach was by nabetragting die slagoffers van ’n ander agenda.

 

2. René Girard en nabootsingsbegeerte

Die woorde slagoffer en ander agenda lei ons na die denke van René Girard (1923–2015), wat ons help om te verstaan wat eintlik op die spel was in hierdie verhore – en natuurlik in soveel ander verhore wat al plaasgevind het en nog gaan plaasvind. In ’n aantal gerugmakende boeke wat tussen 1961 en 20075 gepubliseer is, ontwikkel Girard aan die hand van sy studies van die letterkunde, die mitologie, tradisionele kulture en die Bybel ’n aantal boeiende insigte in wat dit beteken om mens te wees. Hier word slegs enkele aspekte van sy denke wat relevant is vir hierdie lesing, saamgevat.

In sy eerste boek (Girard 1966),6 waarin die aard van menswees en begeerte ondersoek word, met verwysing na onder meer Cervantes se roman Don Quixote, Dostojewski se letterkunde en Proust se sewedelige roman, Op soek na die verlore tyd, voer Girard aan dat dit wat ons begeer, nie in sigself vir ons begeerlik is nie, maar wel vir ons begeerlik is omdat dit in die eerste plek begeer word deur iemand soos wie ons wil wees. Miskien het ek byvoorbeeld as tienjarige dogter ’n geliefde tannie wat mooi aantrek, en so ontwikkel ek ’n begeerte om self mooi aan te trek. Of as dertienjarige seun lees ek die lewensverhaal van ’n groot skrywer wat my aangryp, en dan ontstaan die begeerte by my om self ’n skrywer te word.

Girard help ons ook om te verstaan waarom die moderne era se belofte van minder konflik en geweldpleging as in die Middeleeue en voormoderne, tradisionele kulture nie verwesenlik word nie, maar waarom die konflik en geweldpleging van die moderne era veel erger as in die Middeleeue en voormoderne, tradisionele kulture is – en dreig om nog erger te word. Volgens Girard is dit die geval omdat die moderne oorgang na gelyke samelewings wat die maatskaplike stande van tradisionele samelewings afskaf, daartoe lei dat die afstand tussen myself en my model, tussen myself en die een soos wie ek wil wees, nie net al hoe kleiner word nie, maar dat die verhouding tussen my en my model ook in beginsel al hoe meer gespanne raak, omdat my model nou ook my mededinger is wat dit wat ek begeer, voor my kan wegraap.

Om dit te demonstreer: Die armoedige edelman Don Quichot lees in boeke oor Middeleeuse ridders wat lank voor hom gelewe het, van die ridder Amadís van Gallië. Amadís besiel hom soveel dat hy met enorme verbeeldingskrag aangevuur deur sy begeerte om soos Amadís te wees homself oornag verander in ’n ridder op ’n vurige perd bygestaan deur sy manhaftige agterryer, Sancho Panza. Ofskoon die Don inderwaarheid bloot op sy ou brandmaer knol, Rossinante ry, en Sancho eintlik ’n kleinboer is wat op sy plaasdonkie aansukkel, is die Don so aangesteek deur sy begeerte om Amadís na te boots dat sy verbeeldingswêreld die werklikheid verdring, soos geïllustreer in die beroemdste toneel van die roman, wanneer die Don ’n spul windmeulens vir ’n “dertig of meer enorme reuse” (Cervantes, Kindle-ligging 1855) aansien en hulle manalleen bestorm – bloot om deur die draaiende arms van die eerste windmeul van sy knol afgesmyt te word en hom disnis te val. Die Don, sê Girard, kan uiteindelik vir homself lag en hy is ook nie skaam om sy bewondering vir sy model, Amadís, ten toon te stel nie, omdat die afstand tussen die Don en Amadís so groot is dat die Don nooit werklik soos Amadís kan word nie. Danksy hierdie selfde afstand kan daar ook nooit tussen die Don en Amadís wedywering wees nie, want daar is geen manier waarop Amadís dit wat sowel hy as die Don begeer, voor die Don kan wegraap nie.

Namate ons in die moderne era inbeweeg, sê Girard, verander die prentjie drasties. Aangesien ons almal in beginsel maatskaplik gelyk is, is alle begeerlike dinge ook in beginsel binne ons almal se bereik, selfs daardie dinge wat voorheen slegs vir konings en hoofmanne beskore was. Dus word ons almal gedompel in koorsagtige toestande van nabootsingsbegeerte, wat maklik omslaan in wedywering en heimlike afguns van die begerende een op sy model. Soos reeds vermeld, is die rede hiervoor dat die moderne wêreld die afstand tussen my en my model soveel verklein dat ons maklik mekaar se mededingers en selfs geswore vyande kan word. Nêrens sien ons dit duideliker nie as in die sosiale konteks waarin ons almal die meeste van ons lewens deurbring, naamlik ons portuurgroepe. Onseker adolessente is byvoorbeeld te bang om hulle onsekerheid teenoor mekaar te erken en probeer om te wees soos diegene onder hulle wat lyk asof hulle die meeste selfvertroue het, terwyl laasgenoemde eintlik maar net diegene is wat hulle eie gebrek aan selfvertroue die beste wegsteek. Tensy ons daarin slaag om ’n sekere mate van selfstandigheid en persoonlike integrasie te bereik – soos byvoorbeeld Sokrates en Christus het – is die kans goed dat ons lewenslank vasgevang sal wees in nabootsingsbegeerte, wedywering met ons modelle, afguns, haat en konflik. Dit verklaar ook waarom die wedywering onder moderne portuurgroepe so hewig is – die erkenning waarna ons almal in maatskaplik gelyke samelewings streef, kan uiteindelik slegs kom van dieselfde portuurgroep waarin almal ewe veel daarna streef. Ons het almal ewe veel belang daarby om mekaar te erken as om mekaar te misken. Dit verklaar waarom superryk mense meeding om steeds groter seiljagte, of akademici om steeds meer artikels en boeke te publiseer, of beroepslui om steeds meer produksie of wins te behaal, of waarom sogenaamde sosiale media ’n virtuele hel is waarin almal hulleself met almal se versigtig-geskepte ideaalbeelde vergelyk. Niks, maar niks, sê Girard, veroorsaak in die moderne samelewing soveel haat teenoor die ander as wanneer my heimlike bewondering vir die ander ontbloot word nie. Of, soos Nietzsche met instemming deur Girard aangehaal word: Alle jaloesie is ’n vorm van bewondering.

 

3. René Girard en die sondebokmeganisme

Girard gaan in sy latere werk7 verder om ons te help verstaan wat lê aan die wortel nie net van persoonlike konflikte tussen mense nie, maar ook binne kulture, en tussen kulture of tussen state. Volgens Girard begin alle kulture soos volg: ’n Groep beland tydens sy vormingsfase in ’n krisis wat sy voortbestaan bedreig. Instinktief begin die groep die oorsaak hiervan soek, en kort voor lank word ’n individu of individue wat van die groep verskil, uitgesonder as die skuldige. Die sogenaamde skuldige, wat dikwels iemand is wat die groep op een of ander manier aan sy eie onstabiliteit en onsekerheid herinner, word veroordeel en op een of ander manier geoffer, as ’n eerste tree na groepstabiliteit. Girard noem dit die sondebokmeganisme. Hierby eindig dit egter nie: Vanweë skuld wat die groep mettertyd teenoor die onskuldige slagoffer voel namate die groep verder in die tyd vanaf die offermoord wegbeweeg, word die slagoffer uiteindelik goddelike of onsterflike status gegee. So was dit ook die geval met Sokrates en Christus, wat elk deur gedestabiliseerde groepe tot sondebokke gemaak en geoffer is, maar later as grondleggers van hul kulture of tradisies gesien is.

Girard voeg ’n verdere belangrike en dikwels omstrede insig hieraan toe, naamlik dat die Joods-Christelike tradisie en die Bybel in die algemeen, en die figuur van Christus in die besonder, bogenoemde moorddadige proses, die sondebokmeganisme, eens en vir altyd aan die lig bring, sodat ons ons ná Christus nie weer tot die sondebokmeganisme hoef te wend nie. Volgens Girard is dit so omdat in Christus se kruisdood die ou sondebokmeganisme omgekeer word – in plaas daarvan dat ’n onskuldige geoffer word en daardeur mettertyd buitengewone of goddelike status verwerf, sentreer die Christendom rondom die onskuldige god wat homself vrywillig vir die skuld van almal opoffer. Dít is wat die sondebokmeganisme eens en vir altyd aan die lig bring, soos byvoorbeeld gedemonstreer in die woorde van die Romeinse soldaat wanneer Christus aan die kruis sterf: “Waarlik, hierdie man was die Seun van God” (Markus 15:39, 1953-Bybelvertaling).

Soos almal weet, het Christus se openbaarmaking van die sondebokmeganisme egter nie verhoed dat mense en groepe oor en oor onskuldige slagoffers tot sondebokke gemaak het nie, waarvan die Nazi-slagting van die Jode, Sigeuners, homoseksuele en gestremde mense seker die afskuwelikste voorbeeld is – en dit in ’n land en op ’n vasteland waarin die Christendom diep spore getrap het. Trouens, die Kerk self, veral wanneer sy met die maghebbers van hierdie wêreld heul, het haarself dikwels aan die sondebokmeganisme skuldig gemaak, soos weldra hier onder met verwysing na Dostojewski sal blyk.

Girard was natuurlik self intens hiervan bewus, en dit lei in sy latere werk tot minstens twee belangrike sienings. Eerstens, ten einde sin te maak van waarom die mensdom steeds na Christus se openbaring van die sondebokmeganisme daarvan gebruik maak, voer Girard (2001) aan die hand van briljante lesings van die Bybel aan dat “Satan” die Bybelse term vir mimetiese wedywering is, en dat dit sal voorkom in hierdie wêreld solank die heerser van hierdie wêreld se mag nog nie gebreek is nie. In ’n toenemend sekulêre universiteitswese het hierdie onverbloemde geloofsperspektief op konflik en geweldpleging Girard heelwat gramskap en verkettering op die hals gehaal, maar ten minste had hy die moed van sy oortuiging om sy posisie konsekwent uit te werk en oor sy eie geloofs- en denktradisie hand in eie boesem te steek – iets wat nie altyd van sekulêre akademici lamgelê deur mimetiese wedywering gesê kan word nie, sekulêre akademici wat Girard dalk juis tot sondebok gemaak het omdat hy hulle soos ’n Sokrates van hul eie pretensie, onvolwassenheid, onkunde en onwysheid bewus gemaak het.

Die tweede siening waartoe volgehoue mimetiese wedywering, konflik en geweldpleging in Girard se latere werk lei, is ’n bykans Ou-Testamentiese donker profetiese toon, wanneer hy in sy laaste boek in 2007, wat handel oor konflik en oorlog in die moderne geskiedenis, verklaar dat ons nou in die eindtyd is, en dat dinge hiervandaan net donkerder gaan word tot ’n nuwe aarde en ’n nuwe hemel aanbreek.

Gestel Girard is reg, waar laat dit die akademikus wat vandag gewy is aan die siel van die akademie, naamlik om jongmense en die publiek te bring tot insig in hulleself ten einde ’n beter wêreld te help skep, of ten minste nie die wêreld in ’n slegter toestand agter te laat as waarin dit aan ons gegee is nie?

 

4. Dostojewski

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons ons hiervandaan meesal op die letterkunde verlaat. Ons begin met ’n besoek aan Sevilla, Spanje, in die 16de eeu. Ons gids vir die besoek is Dostojewski in sy roman Die broers Karamazov (1880). Die toneel begin met ’n gesprek tussen twee van die Karamazov-broers: die ateïs, Ivan, en die Ortodokse leerlingmonnik, Aljosja, die Christus-figuur van die roman. Ivan en Aljosja voer ’n gesprek oor geloof en ateïsme, en in die gesprek neem Ivan ’n blaadjie uit die boek van Christus deur aan Aljosja ’n gelykenis te vertel, ’n gelykenis waarna Ivan verwys as ’n gedig en wat in Sevilla afspeel.

Op hierdie warm somersdag in Sevilla vind ’n Katolieke Mis plaas ’n dag nadat die Katolieke godsdienspolisie, die sogenaamde Heilige Inkwisisie, sowat honderd mense onder groot openbare geesdrif op die brandstapel verbrand het, ’n bloedige massaskouspel in ’n onstabiele samelewing waarin onskuldige mense met behulp van die sondebokmeganisme tot slagoffers gemaak is. Op hierdie warm somersdag, so impliseer Ivan, woon dieselfde toeskouers van die massaverbranding die vorige dag nou die begrafnis van ’n sewejarige dogtertjie in die stampvol katedraal by (Dostoevsky 2002:243).

Dan gebeur ’n merkwaardige ding, nadat Ivan verwys het na die getuienis van verskeie “righteous men, martyrs and holy men” (2002:242) dat Christus hulle besoek het, maar wat nog nie die Wederkoms in die eindtyd was nie. In Sevilla, vertel Ivan, “he desired to visit his children if only for a moment, and precisely where the fires of the heretics had begun to crackle” (242). Volgens Ivan, sonder om Christus by die naam te noem, verskyn hy “in the same human image in which he had walked for three years among men fifteen centuries earlier ... He appeared quietly, inconspicuously, but, strange to say, everyone recognized him” (242). Hier kan ons bespiegel dat die skare hom onder meer danksy sy stilte herken het, 15 eeue nadat hy die grondlegger van ’n tradisie gesentreer rondom stilte geword het. Miskien was sy stilte so opvallend dat dit hom onmiskenbaar gemaak het.

Hoe ook al: Terwyl hy sy stilte handhaaf, beweeg hy verder tussen die mense, genees hy ’n blinde man wat na hom uitroep, gooi kinders nie palmtakke nie maar blomme voor hom neer terwyl hulle Hosanna! uitroep, en wek hy die sewejarige dogtertjie uit die dood op deur vir die eerste keer sy stilte te verbreek met dieselfde sag-geuiterde woorde as waarmee hy Jaïrus se dogter in die Nuwe Testament uit die dood gewek het: “Talitha cumi” (243).

Op hierdie einste oomblik, vertel Ivan, steek die Groot Inkwisiteur-Kardinaal die plein voor die katedraal oor:

He is an old man, almost ninety, tall and straight, with a gaunt face and sunken eyes, from which a glitter still shines like a fiery spark. Oh, he is not wearing his magnificent cardinal’s robes, in which he had displayed himself to the people the day before, when the enemies of the Roman faith were burned – no, at this moment he is wearing only his old, coarse monastic cassock. (243)

Nadat hy sien hoe Christus die dogtertjie uit die dood opwek, vertel Ivan verder:

[H]is face darkens. He scowls with his thick, gray eyebrows, and his eyes shine with a sinister fire. He stretches forth his finger and orders the guard to take him. And such is his power, so tamed, submissive, and tremblingly obedient to his will are the people, that the crowd immediately parts before the guard, and they, amidst the deathly silence that has suddenly fallen, lay their hands on him and lead him away. As one man the crowd immediately bows to the ground before the aged Inquisitor, who silently blesses the people and moves on. The guard lead their prisoner to the small, gloomy, vaulted prison in the old building of the holy court, and lock him there. (243)

Teen die aand se kant betree die Inkwisiteur die sel, en kom Christus se stilte weer in die spel:

[The Inquisitor] is alone ... He stands in the entrance and for a long time, for a minute or two, gazes into his face. At last he quietly approaches, sets the lamp on the table, and says to him: “Is it you? You?” But receiving no answer, he quickly adds: “Do not answer, be silent. After all, what could you say? I know too well what you would say. And you have no right to add anything to what you already said once. Why, then, have you come to interfere with us? For you have come to interfere with us and you know it yourself. But do you know what will happen tomorrow? I do not know who you are and I do not want to know: whether it is you, or only his likeness; but tomorrow I shall condemn you and burn you at the stake as the most evil of heretics, and the very people who today kissed your feet, tomorrow, at a nod from me, will rush to heap the coals up around your stake ... (243–4)

Wat Dostojewski met hierdie gelykenis doen, is een van die briljantste voorbeelde van selfkritiek van ’n tradisie, in hierdie geval dié van ’n Christelik-Ortodokse romansier wat aanvoer dat die mensdom hul Godgegewe vrye wil oor en oor so dom sal aanwend dat hulle teen God sal kies, in so ’n mate dat Christus se eie volgelinge steeds hom deur wie die sondebokmeganisme in die eerste plek onthul is, tot sondebok sal maak.

Sommige moderne sogenaamd progressiewe universiteitslui sal aanvoer dat Dostojewski se gelykenis nie soseer op die mensdom betrekking het nie, as op godsdienstige mense. Hierdie soort van gedrag, sal hulle sê, is wat ’n mens van irrasionele godsdienstiges kan verwag, en beslis nie iets wat eie aan die akademie is nie. Per slot van rekening, mag hulle redeneer, het dit juis ’n akademikus soos Girard geverg om 2 000 jaar nadat Christus kwansuis die sondebokmeganisme onthul het, dit onder die res van ons se aandag te bring. Dat Girard in die latere deel van sy loopbaan ’n verleentheid vir akademiese neutraliteit geword het deur hom soos ’n Ou-Testamentiese profeet in openlik Christelike terme nogal vanuit die gerekende Stanford-universiteit oor die wêreld uit te laat, bevestig eintlik net hoe godsdiens selfs die briljantste akademikus se rede en goeie oordeel kan aantas. Des te meer rede dat ons in die akademie die grense tussen godsdiens en rede, tussen filosofie en teologie, tussen behoorlike argumente en wollerige letterkunde respekteer, en ons besig hou daarmee om studente te leer om krities en vir hulleself te dink. Per slot van rekening kom ons woord akademie van die naam wat Plato aan sy skool of vroeë klein universiteit gegee het, naamlik die Akademie. Laat ons liewer soos Sokrates ons studente krities en vir hulleself leer dink, weliswaar binne ’n getransformeerde, gedekoloniseerde kurrikulum wat studente darem ook moet leer dat Sokrates maar een van vele figure deur die eeue was wat hierdie soort ding beoefen het, en dat daardie Atheners, wat ’n onskuldige man ter dood veroordeel het, glad nie so uitsonderlik was as wat Westerse akademici tot enkele dekades gelede nog wyd en syd verkondig het nie – “die bakermat van die demokrasie ... die geboorteplek van tragedie”, en wat nog. Dus, sal hierdie akademici sê, kan ons dankbaar wees vir die bydrae wat kritiese rasteorie, postkoloniale denkers, feminisme, cultural studies en wat nog gemaak het om ons te bevry van hierdie soort onkritiese ophemeling van ’n spul grootliks agterlike proto-Westerlinge in hulle klein stadjie waar mans soos konings, vroue soos slawe, en slawe soos diere geleef het.

 

5. Sokrates-verhoor

Selfs al is die beeld van antieke Athene en Sokrates nie meer wat dit was nie, sal waarskynlik selfs die grootste openbare aanklaers uit die geledere van kritiese rasteorie, postkoloniale denke, die feminisme en cultural studies saamstem dat Sokrates wederregtelik die doodstraf opgelê is – dat Athene, soos Plato dit wil hê, sy voortreflikste burger vermoor het. Laat ons nou kortliks die dramatiese gebeure rondom die verhoor van Sokrates in oënskou neem.

Sokrates staan naamlik in die jaar 399 vC – of is dit nou in die jaar 399 voor die Gemeenskaplike Era? – in ’n godsdienstige hof in Athene, die Argon, tereg op twee aanklagte, naamlik dat hy die jeug van die stad gekorrumpeer en die gode van die stad in oneer gebring of ondermyn het. Voor ’n jurie bestaande uit die voorgeskrewe 501 lede is Sokrates se aanklaers die volgende drie mense, wat elkeen ’n belangrike magsfaksie in die onstabiele stad8 verteenwoordig: Meletos namens die digters, Anutos namens die beroepslui en die politici, en Lakoon namens die orators (Tyrrell 2012:106), oftewel die Sofiste, wat teen betaling beweer het hulle kon jongmense so goed in redevoering oplei dat dié enige argument kon wen en al hulle doelwitte kon verwesenlik. Dit is hierdie drie magsfaksies wat in die onstabiele stad om invloed meegeding het, en wat deur die charismatiese Sokrates bedreig kon gevoel het. Wat Sokrates onteenseglik reggekry het, was om, terwyl hy sy pligte teenoor die stad nougeset nagekom het – onder meer deur hom met dapperheid op die slagveld te onderskei – by minstens twee kritieke geleenthede in die jare voor sy verhoor hom die argwaan van die korrupte elite van die stad op die hals te haal.

Die eerste was rondom die Apaturia-fees in Oktober 406.9 Kort voor hierdie fees is begin met die verhoor van ses Atheense generaals wat ondanks ’n merkwaardige oorwinning oor die sterker Peloponnesiese vloot tereggestaan het op aanklagte dat hulle nie die gestorwenes na die slag opgetel en huis toe gebring het nie; en dat hulle sowat 1 000 soldate wat skipbreuk gely het, aan hulle lot oorgelaat het. Aanvanklik het die opinie van die jurie, waaronder Sokrates, geswaai ten gunste van die generaals, maar weens eerstens verstreke tyd, en tweedens die Apaturia-fees, is die verhoor vir drie dae opgeskort. ’n Openbare opwelling van bitterheid jeens die generaals het tydens die fees plaasgevind, met die gevolg dat die getraumatiseerde, gedestabiliseerde groep mense soos een mens kop verloor en ’n sondebok vir hulle persoonlike verlies begin soek het. Die uiteinde van die saak was dat die regsproses gruwelik gemanipuleer is, en die ses generaals ter dood veroordeel is en die gifbeker moes drink. Slegs Sokrates het geweier om die besluit te ondersteun, waaroor Tyrrell skryf: “Mimetic contagion, once focused, moved instantly to effect the mimetic mechanism. Athenians strike almost unanimously against the generals as their scapegoat for their grief. Only Socrates remained outside the violence ...” (Tyrrell 2012:123).

Die tweede voorval waardeur Sokrates hom die argwaan van die korrupte elite op die hals haal (123), geskied tydens die kortstondige regering van die Dertig Tiranne van 404 tot 403, wat Sokrates en vier ander mans beveel om die onskuldige Leon van Salamis na Athene te bring om tereggestel te word — ’n opdrag wat Sokrates teen groot persoonlike risiko op gewetensgronde weier, terwyl die ander vier mans die opdrag uitvoer.

Dit ly dus geen twyfel nie dat teen die tyd dat Sokrates aangekla is daarvan dat hy die jeug van die stad korrumpeer en die gode van die stad in oneer bring of ondermyn, hy weens sy beginselvaste, pligsgetroue optrede vir die onderling wedywerende faksies van die korrupte Atheense elite ’n gemeenskaplike steen des aanstoots moes gewees het, iemand wat in beginsel maklik tot ’n sondebok gemaak kon word.

Sokrates, wat sy eie verdediging behartig het, blyk vroeg in sy betoog goed bewus te wees van sy jare lange ongewildheid, asook van die ware redes vir sy ongewildheid, waarby ons aanstons kom. Ons tel die draad van sy verhoor op by die beroemde punt waar hy begin om die aanklag dat hy die gode in oneer bring, te weerlê deur te vertel wat dit is wat hom in die eerste plek daartoe beweeg het om burgers van alle gange van die samelewing in die openbaar onder kruisverhoor te neem om te toets of hulle werklik weet wat hulle sê hulle weet. Sokrates vertel hoe sy goeie oorlede vriend, Chairefoon, na die spreekbuis van die god, Apollo, die Orakel van Delfi, is om te vra of enigiemand wyser as Sokrates is, waarop die orakel toe antwoord dat niemand wyser as Sokrates is nie.

Sokrates sit sy betoog voort deur te vertel hoe hy diep onder die indruk van sy eie onkunde en onwysheid besluit het om die orakel verkeerd te probeer bewys deur burgers met ’n reputasie vir kennis en wysheid te ondervra om te kyk of hy iemand wyser as hy self kon vind. Hy begin sy ondersoek deur ’n gesiene politikus te ondervra en vertel aan die jurie: “Manne van Athene (sic), in my onderhoud met hom blyk dit toe dat hy vir baie ander mense, maar veral vir homself, as ’n wyse man voorkom, wat egter nie regtig die geval is nie. Daaroor het ek van hom en baie van die aanwesiges vyande gemaak” (Plato 2015:15).

Vervolgens, nadat hy met heelwat ander politici dieselfde ervaring had, beproef Sokrates die wysheid van die digters deur hulle te vra wat hulle gedigte beteken. Hieroor bevind hy: “Omtrent al die omstanders kon beter as hulleself oor hulle digwerk gepraat het ... hulle sê allerhande mooi dinge, maar verstaan niks van wat hulle sê nie ... hulle meen hulle is deur hulle digkuns ... die wysste van alle mense, wat hulle nie is nie” (Plato 2015:17).

Hierna gesels Sokrates met die vakmanne, hulle wat in vandag se samelewing nagenoeg die tegnici sowel as die tegnokrate sou wees, vaklui sowel as bestuurslui. Die vakmanne, bevind Sokrates, is wel wys in die opsig dat hulle hul vak goed ken, maar begaan die fout om te dink dat hulle tegniese kennis hulle ook sommer oor alle ander sake wys maak (Plato 2015:19), byna soos die eietydse illusie dat ’n bestuurskwalifikasie of bestuurservaring jou genoeg insig gee om haas enige organisasie te bestuur.

Sokrates vertel aan die jurie dat hy hierna tot die gevolgtrekking gekom het dat die orakel reg was: Hy ís die wysste mens, maar slegs vir een enkele rede, naamlik dat hy weet dat hy nie weet nie, in teenstelling met mense wat dink dat hulle weet, maar nie regtig weet nie. Vandaar Sokrates se een beroemde uitspraak in die volksmond bekend as: “Al wat ek weet, is dat ek nie weet nie” (2015:15) Volgens Sokrates het die orakel eintlik probeer sê dat ware wysheid goddelik is, en menslike wysheid van min of geen waarde nie. Bowendien begin hy op hierdie punt uitspraak van die orakel vertolk as sy goddelike roeping om mense se onkunde uit te wys, maar sy goddelike diens hou hom sedertdien so besig dat hy nie veel aandag aan die politiek of aan sy eie sake kon skenk nie en nou arm is. Dit is maklik om Sokrates se vertolking as arrogansie af te maak, maar vra jou af hoe jy sin sou maak van hoe dit gekom het dat jy na dekades van beginselvaste getrouheid aan die ideale wat jou kultuur jou geleer het, onder jou eie mense ’n hoogs ongewilde figuur word.

Dit bring Sokrates by die eintlike oorsake van sy ongewildheid en die redes vir die onredelike aanklagte teen hom. Eerstens is hy daarvoor geblameer dat welgestelde jong mans van die stad wat hom as model geneem het, ook ander mense begin ondervra en hulle onkunde openbaar gemaak het, tot die ondervraagdes se vernedering. Omdat mense nie hulle vernedering wou erken nie, sê Sokrates, beweer hulle hy hou hom besig met buiteaardse kennis, dat hy mense leer om nie in die gode te glo nie, asook hoe hulle met die swakker argument die sterker argument kan troef. In Girard se terme het die heimlike bewondering vir Sokrates omgeslaan in jaloesie en haat namate mense se onkunde en onwysheid blootgelê is.

Nadat Sokrates Meletos vervolgens voor die jurie ontmasker as iemand wat nog nooit enige besorgdheid oor die welstand van die stad se jeug getoon het nie, asook dat hy Sokrates daarvan beskuldig dat hy ’n ateïs is en toegee dat hy nie een is nie, kom Sokrates in ’n duidelike verwysing na die sondebokmeganisme tot die volgende slotsom: “[M]anne van Athene ... Wat ek vroeër gesê het, dat ek baie geswore vyande gemaak het – hou dit deeglik in gedagte. En dit is dít wat my sal onderkry, as ek veroordeel word, nie Meletos en ook nie Anutos nie, maar die vooroordeel en die afguns van die publiek wat al baie ander goeie manne ingehaal het en nog sal inhaal. Moenie dink dat dit by my sal eindig nie” (2015:38). Of by die Jode, die Sigeuners, die homoseksuele, immigrante of minderhede nie, wil ’n mens byvoeg.

Die vraag wat by ’n eietydse leser van Sokrates se Verdediging opkom, is ook die vraag wat op die lippe van sy tydgenote was: Wat op aarde het hom gemotiveer om selfs op risiko van die doodstraf voort te gaan met sy kritiese ondervraging van sy medeburgers? Vir Sokrates is dit allereers ’n saak van eer – nes hy eens as soldaat vreesloos vir sy stad geveg het, net so staan hy nou by sy standpunt. Bowendien, soos ons reeds gesien het, ag hy gehoorsaamheid aan die gode belangriker as gehoorsaamheid aan die owerhede, en is om die dood te vrees bloot om jou deur onkunde te laat bepaal, sê hy, want niemand van ons weet werklik wat die dood behels nie (2015:41) En dan kom hy by die kruks van sy motivering. Dit gaan nie vir hom oor die vernedering van ander deur hulle gebrekkige selfbeoordeling en onkunde bloot te lê nie, maar daaroor dat hy hoop om hulle sodoende te beweeg om die eerste tree na die sorg vir die siel te gee. Daarom, sê hy, sal hy voortgaan om aan watter medeburger hy ook al teëkom te vra:

Hoe kom dit ... dat jy as Athener uit die grootste en beroemdste stad vir wysheid en mag, nie skaam is om vir jouself die meeste geld in te palm en roem en eer na te jaag nie, maar oor insig en waarheid en oor jou siel ... daaroor maak jy jou nie besorg nie en toon jy geen insig nie? ... [E]k doen niks anders nie as om rond te gaan en julle, jonk en oud, te oortuig om nie in die eerste plek ... vir ... persoonlike voordeel en ... rykdom te sorg nie, maar eerder vir die siel ... Deug kom nie voort uit rykdom nie, maar omgekeerd: In deug lê rykdom en al die ander goeie dinge vir mense sowel individueel as gemeenskaplik ... (2015:43–4)

Daarom, sê Sokrates, is hy die grootste geskenk wat die gode nog aan die stad gegee het, want watter geskenk is groter as om tot wysheid, insig en die sorg vir jou siel te kom? Helaas, wys hy die jurie daarop, het hy vroeër reeds besef dat hy sy roeping nie in die politiek kan beoefen nie, maar slegs in die privaat lewe, want so nie het dit hom lankal sy lewe gekos:

[A]s ek my hand aan die politiek gewaag het, sou ek lankal reeds dood gewees het en nie vir julle of vir myself tot enige nut gewees het nie ... [N]iemand [sal] sy lewe behou as hy julle of enige demokratiese gemeenskap eerlik weerstaan en die baie onreg en onwettighede wat in die staat voorkom, sou teëgaan nie. Wie in die alledaagse lewe regtig wil opkom vir wat regverdig is, moet, selfs as hy net vir ’n kort rukkie aan die lewe wil bly, burgerlik lewe en hom glad nie in die politiek begewe nie. (2015:49–50)

Laat ons hierby solank die kantaantekening maak dat die politiek nie beperk is tot partye of die staat nie, maar dat dit ook voorkom in besighede, kerke en universiteite, oftewel daar waar mag ook al swaarder as die waarheid weeg – selfs al word dit oudergewoonte verdoesel onder mooi ideale, sê maar opvoeding, kritiese denke, diversiteit, die welstand van die volk, transformasie, dekolonisasie, of wat ook al. Die lys is werklik ewe eindeloos as wat magshonger en mimetiese begeerte vindingryk is.

Uiteindelik word Sokrates skuldig bevind en, soos die gebruik was, die geleentheid gegee om sy eie straf voor te stel. Op grond van die feit dat hy hom in die uitvoering van sy roeping met die geestelike welstand van die stad besig hou, stel hy voor dat die stad hom onderhou sodat hy onbesorg oor materiële sake sy roeping kan vervul. Per slot van rekening, verklaar hy in sy ander beroemde uitspraak: “Die onbedagte lewe is nie die moeite werd om te leef nie” (2015:70–1, my parafrasering). Of, soos my een Sokratiese model, die filosoof, Johan Degenaar, dit graag in ’n mooi Engelse weergawe aangehaal het: “The unexamined life is not worth living.”

Die wraaksugtige, sondeboksoekende jurie was egter nie deur Sokrates se strafvoorstel geamuseer nie, en veroordeel hom tot die dood deur die gifbeker te drink. Sokrates waarsku hulle dat dit baie makliker is om aan die dood te ontkom as om daaraan te ontkom om verkeerd te handel en verkeerd te lewe. Hy gaan voort deur ’n profetiese waarskuwing aan die jurie te rig, ’n waarskuwing wat ewe profeties sou blyk te wees oor elke jurielid, elke aanklaer, elke regter in die geskiedenis wat ’n sondebok soek:

Maar ek wil nou vir julle, my veroordelaars, die toekoms voorspel ... Ek sê nou, menere wat my ter dood veroordeel het, dat straf vir die onreg teenoor my onmiddellik na my dood oor julle gaan kom, baie erger as die doodstraf wat julle vir my bepaal het. Ja, julle het dit nou gedoen met die gedagte dat julle nie rekenskap van julle lewens hoef te gee nie, maar dit sal net mooi in die teendeel uitwerk ... Dié wat van julle rekenskap gaan eis, sal meer wees as tot nou toe ... (2015:75)

Ja, Sokrates had waarskynlik allereers die jeug van die stad in gedagte met hierdie uitspraak, die jeug en sy onbreekbare geloof in die menslike vermoë om deur bewuswording en selfkennis dit wat werklik goed is, vreesloos te verwesenlik. Maar oor hoeveel eeue weergalm sy woorde nie steeds nie? Hoe goed verstaan ons dit nie hier en nou nie, ons wat die erfgename van 2 500 jaar se Sokraties-geïnspireerde denke en 2 000 jaar se Christelik-geïnspireerde insigte in die sondebokmeganisme is? En tog kom ons nou voor die volgende vrae te staan: Het ons uit hierdie verhore geleer? Of sal Sokrates oor en oor terugkeer, verhoor, veroordeel en onsterflik word? Laat ons die saak nou ondersoek.

Daar is baie verhale oor mense wat ná die dood terugkeer. Verhale oor reïnkarnasie, die voorvadergeeste, spoke, Christus se nadoodse besoeke aan sy volgelinge. Waarom dan nie ook Sokrates nie? Om mee te begin, het ons reeds gesien hy spook nog altyd by ons. Dan weet ons ook dat sy leerling, die grote Plato, geglo het aan die migrasie van die siel, dat een siel van een lewe en een liggaam na ’n volgende lewe en ’n volgende liggaam kan beweeg. Volgens sommige Boeddhistiese skole sou die migrasie tot ’n einde kom eers wanneer die gereïnkarneerde siel oplaas in sy laaste lewe werklik wysheid verwerf. En wat van eietydse filosowe wat Sokrates as model neem? Leef hy dan nie ook deur hulle nie? Bowendien, as die ware wysheid volgens Sokrates goddelik is, dan moet dit beteken geen mens kan in hierdie lewe die ware wysheid ken nie, en dan is dit selfs moontlik dat elkeen van ons gedoem is om oor en oor terug te kom. Miskien blote versinsels, blote verdigsels, maar, om Pascal te parafraseer: Verhale het hulle waarhede waarvan verhore niks verstaan nie.

 

6. Sokrates herverhoor

Dis ’n snikhete somersdag, baie soos daardie somersdag in Sevilla. Weke lank al rol die warm westewind genadeloos oor die dorre vlakte onder ’n helderblou lug sonder wolke. Vir die boere is die wolklose lug onheilspellend, maar vir Sokrates is dit vertroostend ná al die jare wat hy op soek na wysheid geswerf het deur lande sonder die helder lig van sy geboorteland, of altans dan, van sy jongste geboorteland. Dit is na hierdie lug dat Sokrates sit en staar waar hy in die lugverkoelde raadsaal afgetrokke luister na die verrigtinge van die dissiplinêre komitee van die Senaat. Dit mag ’n ander liggaam wees as die een waarin hy in Athene gebore is, maar soos verwag kan word van een met sy kop in die wolke, is hy bra verslons, sy welige grys hare en baard onversorg, sy groterige maag wat van al die jare se braai en wyn drink saam met sy studente styf span onder sy T-hemp, wat oor sy vuil denim hang.

“Meneer Sokrates!” ruk die ergerlik verhefde stem van die verteenwoordiger van die etiese komitee hom uit sy mymeringe. Sy is self soos ’n hippie aangetrek, maar dit word allerweë beskou as ’n belangrike onderdeel van haar gewildheid onder haar studente, en van haar sukses om dié universiteit een van die voorste Suid-Afrikaanse beoefenaars van kritiese rasteorie te maak. “Meneer Sokrates, u moet asseblief oplet. Ek gaan myself nou vir die laaste maal herhaal.”

“Ekskuus, Professor, ek sal nou fokus.”

“Meneer Sokrates, dit is ’n lang lys klagtes wat elkeen van ons vanoggend hier met u moet behandel. Ek begin by die etiese klagtes. Dit het onder ons aandag gekom dat u in u klasse aanvoer dat die eietydse filosofie in die besonder en die eietydse universiteit in die algemeen sy siel verloor het toe hy opgehou het om studente te leer om vir hulle siele te sorg. Dit is ook onder ons aandag gebring dat u ter demonstrasie van hierdie bewering studente – en dan spesifiek éérstejaarstudente, wat nog baie rou is – dat u studente dan in sekere van u klasse uitgenooi het om sogenaamde geestelike oefeninge van die antieke Griekse filosowe te beoefen. U het byvoorbeeld studente in die klas regop laat staan, vir ’n paar minute lank op hulle asemhaling laat konsentreer, en hulle vervolgens uitgenooi om te midde van hierdie oefening hulleself te verbeel hulle lewens sal daardie dag om middernag eindig, en wat hulle dan in die oorblywende paar ure met hulle lewens sou doen. By ander geleenthede het u studente uitgenooi om, weer te midde van staande asemhaling, hulleself voor te stel dat hulle tydelik hulle liggame verlaat en van bo af op die aarde neerkyk, om dan tot die slotsom te kom dat dit wat die meeste mense as nastrewenswaardig beskou, eintlik volgens u snert is.

“Meneer Sokrates, ons het talle klagtes van studente ontvang dat u hulle onveilig laat voel, dat u klasse nie meer vir hulle ’n safe space is nie. Daar is selfs gevalle van studente wat hulle studies in gerespekteerde vakgebiede soos kommunikasie en bemarking laat vaar het omdat u sou gesê het dit is niks anders nie as die Sofiste van ons tyd wat studente se geld afrokkel onder die voorwendsel dat die tegnieke van hierdie vakke hulle in staat sal stel om enigiemand van enigiets te oortuig en al hulle doelwitte te verwesenlik.

“Meneer Sokrates, is dit waar?”

“Ja, Professor, dit is alles waar, maar ek ...”

“Ekskuus, meneer Sokrates, u sal weldra kans kry om u saak te stel. Vir eers wil ek dit aan u stel dat u met hierdie onderrigmetodes uself gedra soos ’n ghoeroe pleks van ’n akademikus, en dat u die nog ernstiger oortreding begaan om die ideale van die universiteit te ondermyn en kwasigodsdienstige praktyke in die klaskamer in te bring waar dit nie hoort nie.

“Dan, meneer Sokrates, is dit ook onder ons aandag gebring dat u in u klasse en op ander openbare forums verkondig het dat die filosofie en die teologie albei bloedarmoedig geword het toe hulle van mekaar geskei is.”

“Professor, dit is so, maar ek moet u daarop wys dat die feit dat soveel akademici vandag stimulante misbruik of op middels teen depressie is of in psigiatriese klinieke opgeneem word, my siening staaf. Ek bedoel ...”

“Menéér Sokrates, ek dring daarop aan dat u stilbly tot al die klagtes teen u gestel is!” skree die etikus. “Bowendien laat u my onveilig in hierdie ruimte voel, en ek gaan dit nie daar laat nie!”

“Professor, Professor,” kom die rustige stem van die rektoraatslid wat die verrigtinge lei, “ek kan u ontsteltenis begryp, maar ons almal hier moet asseblief die korrekte prosedures volg. Meneer Sokrates, ek gaan tog ’n ordereëling hier maak, want ek vrees dat u tussenwerpsels nie bevorderlik vir ons verrigtinge is nie. Ek sal u voortaan die geleentheid gee om te reageer op elke individuele klag teen u, op voorwaarde dat u die verskillende komiteelede eers die kans gee om die klagtes aan u voor te hou. Is dit in orde so?”

“Verskoning, voorsitter, dit is in orde so,” sê Sokrates terwyl hy met ’n onverklaarbare glimlaggie na die grond staar, voor hy weer by die venster uitstaar.

Vervolgens is die verteenwoordiger van die kurrikulumkomitee aan die woord, ’n internasionaal gerekende kenner van kritiese kurrikulumteorie en die integrering van die jongste tegnologie in onderrig en leer, geklee in ’n vlootblou baadjie met wit omboorsel en swart skerppuntskoene. “Dankie, voorsitter,” glimlag sy met perfekte tande en stryk ’n gemanikuurde hand oor haar foutlose kapsel. “Meneer Sokrates, verskeie klagtes rakende u hantering van die kurrikulum is onder ons aandag gebring. In die eerste plek konsentreer u op, met respek, die idees van dooie wit mans van eeue gelede. U baseer dit blykbaar op u siening dat die moderne samelewing siek is, en dat dit slegs deur die idees van hierdie dooie wit mans te heroorweeg, gediagnoseer en behandel kan word. U noem hierdie ooglopend reaksionêre poging om terug te keer na ’n verlede toe dooie wit mans nog in beheer was blykbaar die sogenaamde herwinning van wat in die moderne wêreld verlore gegaan het. Terselfdertyd gee u nie aandag aan die jongste teorieë en kritiek op u sienings nie. Verskoon my om dit so kras te stel, meneer Sokrates, maar geen student wat by u klasloop sal ooit hoor van die Vierde Industriële Revolusie, interseksionaliteit, of dekolonisasie nie. U glo blykbaar ook in ’n sogenaamde kanon van kennis, oftewel – laat ons nou maar reguit wees – die versameling idees van u geliefde dooie wit mans. Wat sê u hiervan?”

“Professor,” begin Sokrates die afgeronde dame antwoord, terwyl hy steeds droomverlore na die helderblou lug staar. “Professor, dit is waar dat ek in my klasse voorkeur gee aan die idees van wat u dooie wit mans noem. Anders as u, meet ek egter nie die waarde van ’n idee daaraan of die skepper daarvan lewend is nie, of aan of die skepper van die idee bloot pas by die jongste siening van hoe die ideale slagoffer lyk nie. Nee, ek glo dat ’n idee eers deur die tyd getoets moet word voor dit as werklik goed beskou kan word. U vergeet natuurlik dat ek self streng gesproke ’n dooie wit man is, en u kan blykbaar ewe min as ek self verklaar hoekom ek nog leef.

“Voorts, Professor, glo ek dat die jongste kennis behoorlik bemeester kan word eers as studente verstaan wat die basis daarvan is. Per slot van rekening, hoe beoordeel ons die waarde van dit wat nuut is as ons dit nie doen in die lig van dit wat die toets van die tyd deurstaan het nie? Ja, ek weet, u sal vir my sê dat ek ook bereid moet wees om abstrak te dink, dat nie álles aan die ervaring van die verlede getoets kan word nie. Wel, Professor, ek sal aan u drie dinge sê.

“Eerstens, indien u graag wil hê ons moet liewer abstrak as konkreet dink, bevind u u in die geselskap van die grootste massamoordenaars in die geskiedenis wat met die Franse Revolusie, die Sowjetunie, Nazi-Duitsland, en apartheid- sowel as postapartheid Suid-Afrika ongetoetste abstrakte idees losgelaat het op hulle samelewings, dit alles teen die prys van miljoene verlore lewens, of dit nou is weens die gaskamers, die guillotine, rasseklassifikasie, georganiseerde diefstal in die naam van die mense en ’n beter lewe vir almal, om ’n wêreldklas universiteit te wees, of om ons almal se tonge simbolies in die naam van eenheid en gelykheid met ’n taalbeleid uit te kerf.

“Tweedens, Professor, u mag dit vreemd vind dat ek tuis voel in die geselskap van antikoloniale denkers en rebelle, maar het dit al by u opgekom dat nie ’n Marthinus Steyn, ’n Bettie du Toit, ’n Susanna Smit, ’n Nelson Mandela, ’n Breyten Breytenbach of ’n Steve Biko ooit handel probeer dryf het met hulle lyding of hulle slagofferskap nie? Nee, hierdie mense het geweier om slagoffers te wees, en daarom is hulle telkens tot sondebokke gemaak. Vandag wil almal ’n slagoffer met ’n eksklusiewe premie op hulle eie ervaring en hulle eie lyding wees, mededingers in ’n resies tot die dood om as grootste slagoffer uit die stryd te tree – en wie weier om hom- of haarself so psigies te vermink, word ’n sondebok gemaak.

“Laastens, Professor, het dit al by u opgekom dat om waarlik te dekoloniseer – indien so iets moontlik is – is dit nodig om ook die idees te bestudeer waarmee u in die eerste plek gekoloniseer en psigies verkneg is? En, Professor, is u nie besig met selfkolonisering in die naam van ’n wêreldklas universiteit wanneer u benaderings soos kritiese rasteorie, feminisme, en cultural studies, wat in ’n konteks radikaal anders as ons s’n ontstaan het, kritiekloos op ons konteks toe te pas nie? Ek het nie per se beswaar teen hierdie teorieë nie, maar laat ons dit allereers toets aan ons eie omstandighede en vra of dit ons verder bevry.

“Terloops, wat interseksionaliteit betref, oftewel die idee dat slagoffers van verskillende kategorieë notas oor hulle lyding kan uitruil omdat hulle almal deur dieselfde stelsel verdruk word, vra ek u met trane in my oë hoekom hierdie slagoffers kwalik oor enige saak kan saamstaan? Herhaal u nie die fout van Karl Marx wat gedink het alle werkers sal eensgesind en progressief wees bloot omdat hulle almal uitgebuit word nie? Nee, Professor, as jy jou sogenaamde geleefde ervaring oftewel lived experience die hoeksteen van jou kennis, jou denke en jou politiek maak, eindig elkeen met sy eie denkskool en sy eie party, ’n hele heelal vol daarvan waarin niemand oor die koue afstand heen mekaar meer kan hoor nie. Nie Paul Simon en sy musikante op Graceland nie, nie Christus en sy nie-Joodse aanhangers nie, nog minder lesers die skrywers wat hulle in vertaling lees.

“En as ek tog net ’n kort opmerking oor die Vierde Industriële Revolusie mag maak. Hierdie idee het skaars drie jaar gelede die lig gesien uit die pen van Klaus Schwab, die stigter van die Ekonomiese Wêreldforum by Davos. Afgesien daarvan dat die Davos-elite skaars kan rekenskap gee van die skade wat hulle soort kapitalisme en antidemokratiese praktyke aan die ekologie en samelewings aangerig het, is hierdie Schwab-kêrel se omskrywing van die begrip so onsamehangend dat u beroep op die begrip meer lyk na ’n onbeholpe poging om u eie onkunde agter ’n masker van byderwetsheid te verdoesel as na enigiets anders.”

Met hierdie laaste woorde flits die dame met die vlootblou baadjie ’n blik van naakte haat in Sokrates se rigting en beduie met opgehewe hande aan die voorsitter dat sy niks verder het om by te voeg nie.

Die voorsitter keer hom vervolgens na die verteenwoordiger van die transformasiekomitee, eweneens ’n toonbeeld van modieuse styl met ’n swart hoedjie parmantig skuins op sy kop. “Doktor, stel asseblief die klagtes van die transformasiekantoor aan meneer Sokrates.”

“Dankie, voorsitter,” sê die aantreklike jong man terwyl ’n verbete trek om sy mond verskyn. “Meneer Sokrates, jy het ’n rukkie gelede ewe sedig verwys na wat die Nazi’s aan gay mense soos ek gedoen het, maar jy as straight wit man gaan nie so maklik wegkom met die toe-eiening van die lyding van mense in my kategorie waarvan jy niks weet nie. Wie de hel gee jou die reg om te praat oor óns kategorie se lived experience? Ek, wat van jongs af deur straight mans soos jy onderdruk is, weet baie meer van hoe ’n Jood in die gaskamer voel as wat jy met jou wit bevoorregting ook kan weet. Jy is ’n sprekende voorbeeld van die arrogansie van witheid. En ons almal weet die jongste navorsing oor patriargale strukture in antieke Griekeland wys dat jou student, Plato, gelieg het in sy vertellings oor jou laaste dae. Trouens, ewe min as wat Shakespeare sy dramas geskryf het en dit waarskynlik deur sy miskende minnares geskryf is, ewe min as wat ’n mens kan glo wat die sogenaamde Evangelie-skrywers oor Christus skryf, ewe min kan ’n mens glo wat Plato oor jou skryf. Ons weet nou dat Plato ’n patriargale, antidemokratiese agenda gehad het en jou storie aangepas het om sy agenda te bevorder. Natuurlik het jy nie die gifbeker gedrink nie! In werklikheid het jy jou laaste dae op die onkoste van Plato en sy ander ryk vriende deurgebring toe die Atheners geweier het om jou te onderhou. Die storie van die gifbeker was net opgemaak om straight wit mans ’n monopolie op slagofferskap te gee. Maar jou speletjie is verby, Sokrates. As wit man verstaan jy níks van lyding nie, en moet ek sê, behoort jy eintlik vir jou toe-eiening van ander se lyding te bedank om ten minste so die gifbeker simbolies te drink deur verder stil te bly. Julle wit mans het lank genoeg gepraat. Ons, die vervloektes van die aarde, ons sal nou besluit wie praat en wie voor ons in die klasse staan.”

Hierdie laaste woorde sis die jong man woedend deur geknerste tande met geswolle are sigbaar in sy nek.

Die voorsitter probeer sy gesigsuitdrukking so neutraal moontlik hou en keer hom na Sokrates: “Meneer Sokrates, wat is u verweer teen hierdie klagtes?”

“Voorsitter, ek het reeds nou-nou aan die verteenwoordiger van die kurrikulumkomitee verduidelik dat as jou eie ervaring die voorwaarde vir die verstaan van ’n idee was, ons geen gesprek of debat met mekaar sou kon voer nie. Ek is bevrees die lid van die transformasiekomitee verdoesel sy voorkeur om net tussen mense van sy eie kategorie te wil wees en in die naam van hulle lyding alle openbare bronne in te palm agter ’n bisarre opvatting van kennis en insig. Wat Plato se uitbeelding van my betref, moet ek hierdie jong man gelyk gee in die opsig dat Plato inderdaad, soos hierdie jong man self, ’n agenda gehad het. Dit was egter nie die agenda waarvan hierdie jong man Plato beskuldig nie, maar Plato se eie agenda as jong man om my, die ouer man op wie hy verlief was, edeler uit te beeld as wat ek in werklikheid was. Kortom, weens sy eie gebrek aan empatie en verbeelding verstaan hierdie homoseksuele jong man nie wat daardie homoseksuele jong man, Plato, in sy tyd en sy plek gemotiveer het nie.”

Ofskoon Sokrates hierdie woorde met heelwat minder drif as teenoor die lid van die kurrikulumkomitee in haar vlootblou baadjie uitspreek, lyk dit, te oordeel aan die blik waarmee die jong man van die transformasiekomitee hom aangluur, nie asof Sokrates hond haaraf gemaak het nie.

Die stilte word verbreek deur die volgende aanklaer, ’n navorser verbonde aan die Instituut vir Gelykheidstudies en lid van die taalkomitee, van wie sy veelkleurige brilraam en blinkgeskeerde kaalkop die opvallendste kenmerke is: “Sokrates, jy het nou-nou reeds jou ware kleure gewys toe jy ons progressiewe taalbeleid vergelyk het met die uitsny van mense se tonge op hierdie kampus. Vir iemand wat, soos my kollega van die transformasiekomitee pas uitgewys het, lid is van ’n kategorie mense wat al 2 500 jaar lank die diskoers oorheers, is dit nogal vermetel om jou nou skielik voor te hou as pleitbesorger vir mense wie se tonge sogenaamd uitgesny word. Maar laat ek liewer aandag gee aan die klagtes wat ons oor jou ontvang het.

“In die eerste plek het jy die universiteit se beleid oor openbare kommunikasie ondermyn deur jou sonder toestemming van die Direkteur van Kommunikasie in die media oor ons taalbeleid uit te laat. Ek hoef nie vir jou te sê hoe sleg dit vir ’n universiteit in ons tyd is as die indruk geskep word dat nie almal die visie van die instelling deel nie. In die tweede plek hou jy blykbaar aan om studente in jou klasse aan te moedig om antieke Grieks, Latyn, selfs Duits en Frans te bestudeer as hulle werklik die filosofie wil verstaan. Dit is duidelik dat jy heimlik Westerse hegemonie wil herstel deur studente geestelik te koloniseer deur hulle hierdie tale te laat bestudeer. Derdens het ons verskeie klagtes ontvang dat jy en ander Afrikaanstaliges in die teenwoordigheid van kollegas wat nie Afrikaans verstaan nie, met mekaar Afrikaans praat. Dit is dus duidelik dat jy ongevoelig teenoor die ander is en ’n ou eksklusiewe wit kultuur aan hierdie universiteit in stand wil hou. Jy sou blykbaar al vir Afrikaanstalige kollegas gesê dat sonder dat jy ooit ’n professor hier sal word, as dit sou gebeur, jy jou intreerede in Afrikaans sou hou. Skokkend ongevoelig, voorsitter, skokkend ongevoelig! Sokrates, wat het jy vir jouself te sê?”

“A, Doktor, Doktor, u gelykheidsmedisyne sal nog veel beter werk as die gifbeker van Athene, maar dan drink ek eerder die gifbeker as om aan kollektiewe selfmoord deel te neem. As u van my verwag om die hoof-Sofis se toestemming te vra voor ek ’n openbare standpunt uitspreek oor die instelling waarvan ek heimlik nog vir die siel probeer sorg, kan dit seker net wees omdat u te veel van u eie medisyne gedrink het. Tweedens, ja, ek is skuldig daaraan dat ek my studente aangemoedig het om die oorspronklike tale waarin van die invloedrykste filosofie geskryf is aan te leer, omdat om mekaar se tale te praat die voorwaarde is om mekaar saam anders te maak, saam bewus te word, saam die wêreld anders te verbeel. Derdens, ja, ek is ook skuldig daaraan dat ek soms met kollegas Afrikaans praat, maar u verswyg die feit dat sommige van hierdie kollegas my gevra het om hulle Afrikaans te leer, en dat ander van hierdie kollegas – bruin kollegas om presies te wees – in wie se mond die taal ontstaan het en met wie ek nooit tydens apartheid die geleentheid gehad het om as gelyke saam te leef en saam te werk nie, dat ek en hulle mekaar ook nou saam anders maak deur Afrikaans met mekaar te praat. U verswyg ook die feit dat ek en my Afrikaanstalige kollegas in die reël na Engels oorslaan indien ’n nie-Afrikaanssprekende kollega in die gesprek is, maar natuurlik pas dit nie u stereotipe en u skuldagenda om dit te erken nie. Nou ja, wat die veronderstelde intreerede betref: Ons almal weet dat ek nooit ’n professor hier sal word nie, onder meer omdat ek nog nooit om bevordering aansoek gedoen het nie, maar ja, as dit ooit sou gebeur, sou ek inderdaad my intreerede in Afrikaans met tolking na ander tale lewer – in Afrikaans om dieselfde redes waarom ek in Afrikaans bid.”

Met hierdie woorde gee Sokrates ’n diep sug, sak terug in sy stoel en sluit sy oë, terwyl die voorsitter die laaste klaer aan die woord stel, naamlik die verteenwoordiger van die personeelkomitee, ’n Afrikanervrou in haar laat vyftigs, wat Sokrates verrassend vriendelik aanspreek: “Meneer Sokrates, ek moet erken dat ek nog altyd vir u waardering het, sedert die dae wat ek een van u studente was. Ek is self een van daardie studente wat kommunikasie as vak gestaak en filosofie in die plek daarvan geneem het. Die klagtes, as ek dit so mag stel, wat ek hier aan u moet voorhou, is in ’n sekere sin vrae waaroor ek self nog altyd gewonder het, want ek kon nog nooit verstaan dat u oor die volgende sake so vreemd optree nie. Ek verwys na die volgende.

“U het ’n oënskynlike gebrek aan ambisie vertoon deur nooit vir bevordering aansoek te doen nie, wat effektief daartoe gelei het dat u departement asook die universiteit se profiel van senioriteit daaronder gely het. Ons almal weet tog ’n universiteit word ook gemeet aan hoeveel professore hy in diens het, en tog het u verkies om ’n blote lektor te bly. Tweedens, selfs al was u cost to company nou wel nie dit wat ’n professor die universiteit kos nie, het u nog nooit een enkele navorsingsartikel gepubliseer nie, en dus het u nog nooit enige navorsingsubsidiegeld vir die universiteit verdien nie. Derdens, soos ek sê, het ek meer waardering as my kollegas op hierdie komitee vir u, en ek dink heelwat lede van die breër Suid-Afrikaanse filosofiegemeenskap deel hierdie waardering, maar u het ook afbreuk aan die universiteit se profiel gedoen deur nooit aansoek te doen om as navorser by die NRF10 gegradeer te word nie. As ek dit so mag stel, hoe regverdig u hierdie optrede?”

Die lid van die personeelkomitee lyk besonder ongemaklik, maar die voorsitter ignoreer dit en vra Sokrates om sy verweer te stel.

Sokrates maak sy oë oop, kom moeisaam orent en sê: “Ja, alles wat u uitwys is waar, maar natuurlik het ek my redes daarvoor. In die eerste plek het ek inderdaad nooit om bevordering aansoek gedoen nie, omdat my salaris as lektor my genoeg betaal het om my plig as sieleversorger van my studente uit te voer. Tweedens weet ek so goed soos u dat die kategorie sieleversorging nie in aanmerking geneem word op die vorm waarmee aansoek om bevordering gedoen word nie. Vervolgens is u ook reg dat ek nog nooit ’n navorsingsartikel gepubliseer het nie. Ek sou seker moedswillig kon wees en u daarop wys dat daar wel in die afgelope veertig jaar wat ek hier dosent is, al heelwat artikels deur kollegas van my oor Sokrates en antieke Athene gepubliseer is, selfs deur kritiese rasteoretici en feministe wat my gebruik het om aan te voer dat ek deel van ’n patriargale wit opperkultuur was en is, en op dié manier het ek darem indirek navorsingsubsidiegeld vir die universiteit verdien.

“Maar die waarheid is dat ek nog nooit ’n artikel gepubliseer het nie, omdat ek glo die beste artikels en boeke die studente is wat jy leer om die boeke van hulle lewens te skryf deur hulle siele te versorg. Wat gradering as navorser betref, het ek eenmaal sommer uit nuuskierigheid gekyk na die spesialisgebiede waarin persone wat vir gradering aansoek wil doen, se werk gekategoriseer word, en weer eens het die kategorie van die siel nêrens voorgekom nie. U sal begryp dat selfs al spesialiseer ’n navorser al vir vyf-en-twintig eeue lank in die siel, en daardie kategorie steeds nie erken word nie, dit dan geen sin het om vir gradering aansoek te doen nie.”

Daarmee sluit Sokrates weer sy oë, sak terug in sy stoel en vou sy hande oor sy groot maag.

Die komiteelede kyk vir ’n oomblik vraend na mekaar, onseker of dit vertolk moet word as ’n teken van minagting teenoor hulle, maar dan fluister die lid van die personeelkomitee aan die voorsitter dat Sokrates waarskynlik las het van sy daimon, die simbool van sy gewete wat deur sommige navorsers selfs as ’n vorm van epilepsie beskou word (Hughes 2012: Kindle-ligging 238). Die voorsitter knik sy kop plegstatig en vervolg: “Meneer Sokrates, dit wil voorkom asof u ernstig vermoeid is en ter wille van u gesondheid wil ons u nie ooreis nie ...”

“Toe maar, voorsitter,” werp Sokrates teë terwyl hy steeds met sy toe oë en sy hande gevou oor sy maag sit-lê, “ek verstaan dat u die risiko van ’n eis om skadevergoeding wil vermy indien ek ’n epilepsie-aanval kry en kan aantoon dat hierdie komitee se aanval op my dit veroorsaak het. Ek rus maar net ’n bietjie – per slot van rekening is ek nie meer vandag se kind nie, en het ek al telling verloor van hoeveel maal ek al hierdeur is. Ekskuus, ek het u in die rede geval. Gaan gerus voort.”

“Goed, meneer Sokrates, ek aanvaar u verskoning. Wat ek wou sê, is dat ek uit besorgdheid oor die eise wat hierdie verhoor reeds aan u gestel het, onmiddellik gaan voortgaan om ’n bevinding te maak sodat ons die saak kan afhandel. Dit is so dat u, al moet ek dit nou self sê, uitstekende argumente in u verweer aangebied het, en dat u bloot op logiese gronde meermale die beter argument aangebied het. Ongelukkig tel dit nie genoeg nie, want daar is ander ernstiger oorwegings in die eietydse universiteitswese en die eietydse Suid-Afrika. Oorwegings soos nasionale eenheid, gelykheid, gehalteonderwys vir almal, demografiese verteenwoordigendheid in die dosentekorps, en so meer. Ek dink ons kan almal saamstem dat ondanks u goedgemotiveerde kritiek teen hierdie ideale, of dan, wat u beskou as die misbruik van hierdie ideale om ’n magsagenda te verdoesel, bly die feit staan dat u duidelik nie lojaal is aan hierdie ideale nie. U pas, as ek dit so mag stel, nie mooi in die inklusiewe, verdraagsame kultuur wat ons graag aan hierdie instelling wil bevorder nie.

“Dan is daar ook die kwessie van u gesondheid. Ek het hier ’n mediese verslag wat opgestel is oor u welstandsondersoek verlede jaar wat, soos u weet, al ons personeel nou jaarliks moet ondergaan. Volgens hierdie verslag ly u aan ernstige spanning, wat deur ’n psigiatriese deskundige toegeskryf is aan die feit dat u gedurig in stryd met die instelling staan. Een van u kollegas het aan die psigiater vertel dat u per geleentheid in u kantoor tydens ’n epileptiese episode aanhoudend gestotter het: ‘Die siele, die siele, ek doen nie genoeg om vir die siele te sorg nie.’ Volgens die psigiater is dit ’n vorm van psigotiese gedrag by u om u dislojaliteit aan die ideale van ons universiteit te probeer rasionaliseer. Vanoggend se verhoor het dit bewys: U pas nie meer hier in nie, en om u langer hier te hou, mag dalk u dood veroorsaak.

“Ek en u mag dalk nog van mekaar verskil, of u van die komiteelede, maar as voorsitter en lid van die rektoraat wil ek nie u bloed op my hande hê nie, en moet ek die psigiater se aanbeveling dus nou bekragtig en u inlig dat u met onmiddellike effek op ongeskiktheidspensioen geplaas word. Hoewel u opgehoopte verlof heelwat meer is as wat aan u uitbetaal mag word, het die rektoraat reeds goedgekeur dat ’n uitsondering vir u gemaak word en dat vyftig persent van u opgehoopte verlof as spesiale siekevergoeding aan u uitbetaal word. Hierdie besluit is finaal en word in u beste belang geneem. Wil u miskien ’n laaste woord spreek voor ek die verhoor afsluit?”

Sokrates roer nie. Die komiteelede kyk onderlangs bekommerd na mekaar. Die lid van die kurrikulumkomitee borsel ’n stoffie van die wit omboorsel van haar baadjie af. Dan kug Sokrates skielik tot almal se verligting. Hy kom moeisaam orent, maar skielik is dit asof hy nuwe krag het: “Voorsitter, julle het my skuldig bevind, want julle kon nie anders nie. Ons het mekaar al soveel maal ontmoet, en ons gaan mekaar nog male sonder tal ontmoet. My straf sal verskillende vorme aanneem, verskillende vorme van die doodstraf, maar die uiteinde sal altyd dieselfde wees. Ek sal sterf en voortleef, julle sal die lewende dooies wees wat nooit toegelaat word om tot rus te kom nie. Die siel van die akademie sal by julle spook en julle dag na dag aankla terwyl julle jul groot salarisse verdien, nog programme ontwikkel, internasionale ‘samewerkingsooreenkomste’ sluit, ‘globaliseer’, ‘wêreldklas’ word. Maar ek en die siel van die akademie sal by julle bly spook. Julle sal voortgaan om my en die ander sieleversorgers uit die universiteit te verdryf, maar julle vergeet dat die universiteit maar net een van baie instellings is waarin leermeesters leerlinge al geleer het hoe om die siel te versorg.

“Wat my betref, ek sal navorsing oor die siel bly doen. Ek sal my bly ontferm oor jong mense wat my kom opsoek om te leer hoe om hulle siele te versorg, en so sal die siel van die akademie migreer van hierdie lewe na ’n volgende lewe, van die universiteit na nuwe instellings waar die siel van die akademie sal herleef. Daarom, kollegas, moet ek julle ter afsluiting bedank dat julle my van die verpligting verlos het om die siel te versorg in ’n plek waar dit daagliks deur julle verdryf word. My eintlike sonde was my arrogansie en my onkunde: Eers nou het ek besef dat die siel lankal hiervandaan gevlug het, en hoe arrogant ek was om dit nog hier te probeer versorg. Julle het my van my onkunde en my arrogansie bevry, en nou mag ek julle verlaat om my volgende pelgrimstog aan te pak, op soek na die nuwe plekke waar die siel haar reeds begin tuismaak het, en vir my wag.

“Ek dank u.”

Bibliografie

De Cervantes, M. 2011. Don Quixote. Uit die Spaans vertaal deur Edith Grossman. New York: Vintage Digital.

Dostoevsky, F. 2002. The brothers Karamazov. Uit die Russies vertaal deur Richard Pevear en Larissa Volokhonsky. New York: Farrar, Strauss and Giroux.

Girard, R. 1966 [1961]. Deceit, desire and the novel: Self and other in literary structure. Uit die Frans vertaal deur Yvonne Freccero. Baltimore: The Johns Hopkins University Press.

—. 1979 [1972]. Violence and the sacred. Uit die Frans vertaal deur Patrick Gregory. New York: WW Norton & Co.

—. 1987 [1978]. Things hidden since the foundation of the world. Uit die Frans vertaal deur Stephen Bann en Michael Metteer. Stanford: Stanford University Press.

—. 1989 [1982]. The scapegoat. Uit die Frans vertaal deur Yvonne Freccero. Baltimore: The Johns Hopkins University Press.

—. 2001 (1999). I see Satan fall like lightning. Uit die Frans vertaal deur James G. Williams. Ottawa: Orbis Books.

—. 2009 [2007]. Battling to the end: Conversations with Benoît Chantre. Uit die Frans vertaal deur Mary Baker. East Lansing: Michigan State University Press.

Hart, DB. 2009. Atheist delusions: The Christian revolution and its fashionable enemies. New Haven: Yale University Press.

Hughes, B. 2012. The hemlock cup: Socrates, Athens and the search for the good life. New York: Vintage Books, Kindle-uitgawe.

McGuckin, J.A. 2008. The Orthodox Church: An introduction to its history, doctrine, and spiritual culture. Oxford: Blackwell Publishing.

Plato. 2015. Verdediging van Sokrates. Uit die Grieks vertaal deur Piet Boshoff. Kaapstad: Publishing World.

Rossouw, J. 2018. Stilgebed en skeppende skoonheid: Om uit die stilte te skep. LitNet Akademies, 15(3). https://www.litnet.co.za/stilgebed-en-skone-skeppendheid-om-uit-die-stilte-te-skep (20 Februarie 2019 geraadpleeg).

Tyrrell, WB. 2012. The sacrifice of Socrates: Athens, Plato, Girard. East Lansing: Michigan State University Press.

 

Eindnotas

1 Hierdie teks is op 28 Februarie 2019 by die Naval Hill-planetarium, Bloemfontein, as my professorale intreerede aan die Universiteit van die Vrystaat gelewer.

2 “Socrates’ death proved to be the founding murder of Plato's philosophy and its project, the development of a form of government (politeia) for the just city” (Tyrrell 2012:104).

3 Vir die destydse publiek teenwoordig by Christus se verhoor moes sy uitspraak aangaande die mag waaraan hy gehoor gee – en wat dan ’n hoër mag as dié van die Romeinse Ryk en sy verteenwoordiger, Pilatus, was – ’n skokkende ondermyning van gesag deur Christus gewees het. Hart beskryf die kontras tussen Pilatus en Christus in die destydse maatskaplike orde soos volg: “In the great cosmic hierarchy of rational powers – descending from the Highest God down to the lowliest of slaves – Pilate’s is a particularly exalted place, a little nearer to heaven than to earth, and imbued with something of the splendor of the gods. Christ, by contrast, has no natural claim whatsoever upon Pilate's clemency, nor any chartered rights upon which he might call; simply said, he has no person before the law. One figure in this picture, then, enjoys perfect sway over life and death, while the other no longer belongs even to himself.” (Kindle-ligging 2291–2294)

4 Vir ’n bespreking van die rol van stilte in die Christendom met verwysing na een van die groot apologete van stilgebed, sint Gregorius Palamas, kyk Rossouw (2018).

5 Hier word veral verwys na Girard se belangrikste boeke, in die oorspronklike Frans gepubliseer in onderskeidelik 1961, 1972, 1978, 1982, 1999 en 2007, en in die bibliografie hier met die verwysings na die Engelse titels vermeld.

6 In die volgende paar paragrawe word aspekte van hierdie boek van Girard relevant vir hierdie lesing opgesom.

7 Hier word veral verwys na Girard se insigte in Girard (1989).

8 Tyrrell (2012) en Hughes (2012) bespreek albei verskeie ontwrigtende gebeure wat Athene in die drie dekades voor Sokrates se verhoor te beurt geval het, waaronder verskeie oorloë en ’n plaag waarin massas Atheners gesterf het.

9 Hier steun ek op Tyrrell (2012:121–4) se rekonstruksie van die gebeure.

10 National Research Foundation of South Africa.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top