Wie de hel is Johnny Joubert? deur Dana Snyman, ’n lesersindruk

  • 1

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Wie de hel is Johnny Joubert?
Skrywer: Dana Snyman

ISBN: 9780624092346
Uitgewer: Tafelberg

Vir sommige van sy kritici is hy te nostalgies, hunker hy te veel na wat verby is, te veel bemoeid met die jare van apartheid en wit bevoorregting. Vir andere is hy Dana Snyman die liberaal wat die kats te diep inlê oor die sondes van apartheid, wat ’n kneg is van die reënboogillusie. Maar vir die groot klomp wat waardering vir sy skryfwerk het, sien ons waarskynlik iets van onsself in die verhale. Ons feilbaarheid, ons broosheid, verlangens, vrae en vrese, die dinge wat ons koester, maar ook als wat ons verafsku aan ons land. Dikwels is dit twee kante van dieselfde munt. Dis verhale oor die dinge wat jy sukkel om self te sê, self te verwoord. Dit laat jou ongemaklik. Maar terselfdertyd laat dit jou ook voel of jy tuis is by die bekende. Die taal. Die kultuur. Die plekke. Die mense. Die musiek. En wat ’n ereplek beklee die rugby nie in daardie mengsel nie? Die magie van Springbok-rugby wat mense bymekaarbring en waar stories gebore word ...

Dit is miskien ekstra spesiaal dat hierdie bundeltjie vertellinge vanjaar gepubliseer word, want 55 jaar nadat die Griekwas die Curriebeker in Kimberley gewen het, staan die beker in 2025 nou weer vir die eerste keer in Kimberley. In “Eindstryd” (17) skets Snyman daardie dag, 26 September 1970, toe hy sy “eerste provinsiale wedstryd” gesien het. Noord-Transvaal (vandag beter bekend as die Bulle) was die oorwegende gunsteling, maar die magtige Bulspan, gelaai met Springbokke, moes die dag die knieg buig teen die span van Mannetjies Roux. Soos Snyman, onthou ek ook nog goed my heel eerste provinsiale wedstryd wat ek gesien het, juis ook die einste Griekwas, wat in 1996 teen die All Blacks-toerspan gespeel het. Soos Snyman, het ook ek saam met my pa na die wedstryd gereis. Die legendariese All Black-vleuel Jonah Lomu (1975–2015) was die dag ook in aksie, maar moes die veld weens ’n besering verlaat.

Al het Snyman na skool in Pretoria beland, het hy ’n lewenslange WP-ondersteuner geword (waar ek weer uiteindelik ’n Vrystaat-Cheetah). Hoewel die verhale later in die boek wegdryf van die Griekwas se rugby, bly die Griekwas in die boek opduik. Soos die verhaal van “oom Popeye de Bruin”, wat weens komplikasies met sy vrou se swangerskap aan die finaal moes onttrek. In “Plig” spoor Snyman hom op in Bloemhof, waar hy in die aftreeoord gekoppel is aan ’n suurstofmasjien. Ook in “Dankie, oom Mannetjies” reflekteer Snyman weer op die span van 1970. In ’n monoloog aan die legendariese senter, verklaar hy: “Ons verlang na Ford Fairlanes en Valiant Regals, na Gé Korsten, na Jan Wilkens se volstruisskoppe, na die wit haas by Caltex-diensstasies”, maar ook dat hy “besef hoe gevaarlik nostalgie kan raak. Die verlede was nie altyd beter as wat nou is nie” (259).

Presies nes Snyman, het ook ek eens gedroom ek is ’n Springbok, terwyl ek in die tuin speel met my eerste rugbybal. En sou ’n mens kon noem dat jou dorp ’n Springbok opgelewer het, dan was dit waarlik iets om op trots te wees. Daniëlskuil het weliswaar nog geen Springbok opgelewer nie, maar die kerk se orrelis was op ’n stadium ene “tannie Coenie Bredenkamp”, wat die legendariese sportkommentator Gerhard Viviers (1926–1998) se suster was. In my geval was dit Johan Claassen (1929–2019), wat weliswaar in Prins Albert gebore is, maar in Christiana gematrikuleer het en in 1955 vir die Springbokke teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het, en later die Springbokke se kaptein en ook afrigter sou word. Met die koms van televisie in 1976, het ’n ander tradisie ontstaan – vroeg opstaan om die wedstryde ver oor die water op die kassie te kan kyk. Dit is miskien die een gebruik wat ek nooit eintlik geken het nie, want professionele rugby het die televisieregte van rugby aan Naspers se Supersport verkoop, waartoe ons nie toegang had nie. Tog het ons ook die uitslae van enige toer oorsee slaafs gevolg. Ek had nooit plakboeke vol Springbokke soos Snyman nie, maar die kamermuur was vol sportsterre, waaronder Springbokke, en in daardie jare was daar ook rugbykaarte, soortgelyk aan die bekende bofbalkaarte wat mens in die VSA gekry het.

’n Mens se pad met rugby is ook nie heeltemal mooi afgerond voordat jy nog nie in een van jou skool se spanne gespeel het wat grotendeels uit die skool se misfits bestaan het nie. Op klein dorpies is dit altyd die B-span, maar in groot skole is dit dalk die D-span, of die E-span, of so iets. Die kaptein van die B-span is dikwels die knapste spelertjie in die span, en hy was bestem vir die A-span, maar omdat sy pa arm is en nie die A-span se tokse en sakke kon borg nie, het ’n ander outjie sy plek in die eerstespan gekry. Gewoonlik kan hy darem as reserwe speel vir die “eerstes”. Die backline van so ’n B-span bevat altyd ’n roker of drie, rowwe manne wat AC/DC en Iron Maiden geluister het. Die reuk van Deep Heat neem jou dadelik terug na daardie jare, van busry na buurdorpe, van kringetjies maak en bid, van spanmaats soek voor die afskop, want hulle dwaal in die vreemde rond en vergeet hulle is daar vir rugby. Langs die veld was daar altyd ’n fanatiese ouer wat onverstaanbaarhede tydens die wedstryd geskree het: “Pyle! Pyle!”, of: “Die bal! Die bal!” En halftyd het daardie selfde oom jou nadergetrek en sy insigte met jou gedeel oor hoe jy moet maak in die tweede helfte. Snyman trakteer die lesers op sy eie weergawe van hierdie herinneringe.

Saam met die soet, was daar die veel meer onsmaaklike kenmerke van rugby. Die politiek. Die boikotte. Die toere waar die Springbokke met vyandigheid begroet is. Die meelbom-toer van 1981, onder andere. Later, in “Die All Black-klub” (187), kyk Snyman rugby saam met vurige Suid-Afrikaanse ondersteuners van die All Blacks. Die tradisie om die All Blacks te ondersteun het by sommige Suid-Afrikaners gedurende die apartheidsjare ontstaan, as verset teen die Springbok wat as simbool van onderdrukking en diskriminasie ervaar is. Die gebruik duur tot vandag voort, ’n pynlike herinnering aan ons verdeelde verlede. Die 2010-Sokkerwêreldbeker, met die nuwe stadions wat gebou is, het ook die doodsklok gelui vir legendariese rugbyvelde soos Nuweland en die Boet Erasmus-stadion, beide waar Snyman besoek aflê om terug te dink aan al die drama wat op daardie velde en in die spankamers afgespeel het.

Soos met die meeste dinge, beteken rugby verskillende dinge vir verskillende mense. Oomblikke voordat Francois Pienaar in 1995 die Rugbywêreldbeker omhoog gehou het, het hy verklaar: “We didn’t have 60 000 South Africans, we had 43 million South Africans [supporters].” Miskien is dit daar waar die idee posgevat het dat die Springbokke as ’n soort voorbeeld vir die hele land kan dien. Of miskien is die tradisie al veel ouer. “Die Springbokspan is hoe ons moet wees,” skryf Snyman (259), waarop baie andere ook sal sê: Amen. Maar is dit realisties? Is sport nie ten beste maar net goeie vermaak nie? In die 20ste eeu was dit glad nie ongewoon vir plattelandse dorpies om Springbokke op te lewer nie. In die professionele era is dit byna ongehoord. Die Springbokke en ander professionele spelers kom almal uit gegoede skole. Hierdie spanne verteenwoordig nie regtig meer wie ons is nie. Ten minste nie meer die gemiddelde mens nie. Maar selfs na die oorgang van die amateurera na die professionele era, bring sport steeds mense bymekaar, smee vriendskappe en bly ’n onuitputbare bron van verhale. Van skolerugby, klubs, provinsies, franchises, tot en met die nasionale spanne, die sprankel van rugby is steeds daar.

In sy inleiding skryf Snyman dat hy hom nie die lewe sonder rugby kan indink nie. Hy teken ook betoog aan teen mense wat rugbyondersteuners vlak kyk: “In rugby is iets van die verskuilde elegansie van kuns, in vlees en bloed” (13). En hoewel die angel van kommersialisme oor die jare ook maar veel skade aangerig het aan rugby, is daar tog pogings om iets van die oudtydse romantiek te herwin. Die onlangse aankondiging dat die All Blacks in 2026 vir die eerste keer in 30 jaar weer ’n toer deur Suid-Afrika sal onderneem, met vier toetse, asook wedstryde teen die vier franchises, wek juis daardie gevoel. Die tafel is gedek vir nuwe helde, nuwe karakters, en bowenal, nuwe stories.

Lees en kyk ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: video-opname van gesprek met Dana Snyman oor Seun

Seun en Die binneland in deur Dana Snyman, ’n resensie

Video's en foto's: Dana Snyman se In die blou kamp word bekendgestel

Dana Snyman vereer: ’n fotoberig

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top