
Dana Snyman is op Vrydag 20 November by ’n intieme geleentheid deur die ATKV vereer vir sy jare lange bydrae om die stories van mense met deernis en humor te vertel.

Die oorkonde is aan hom oorhandig deur Marlene le Roux, die voorsitter van die ATKV se direksie.

Jodi Jantjies het luister verleen aan die aand deur haar storie, en ander se stories, te sing. Sy hakkel wanneer sy praat, maar wanneer sy sing, vloei die woorde. Danksy leiding wat sy van ATKV-Crescendo gekry het, is haar toekoms blink.

Isaac Jones (trom) en Melvin Williams (klavier) het haar begelei.

Jodi Jantjies is ’n klein mensie met ’n groot stem en nog groter storie. Marlene le Roux is diep geraak deur haar sang en die manier waarop sy haar uitleef, ten spyte van ’n groot uitdaging.

Snyman het in ’n gesprek genoem dat hy baie versigtig is om nie in nostalgie te verval nie. Dit is lekker om terug te dink aan die dae toe hy ’n sorgvrye jeug gehad het, maar wat van die mense wat aan die ander kant van die spoorlyn gebly het? Ons mag hulle nie vergeet nie. Daarom sal hy die mooi onthou, maar altyd ook die menslikheid, en die seer, van die verlede in sy stories erken.

Die swart hond ken hy maar goed.

Sy verloofde het selfdood gepleeg en sy huidige genoot, Erna Oosthuizen, wat hier saam met hom staan, se man is ook deur depressie van haar geroof. “Depressie is ’n terminale siekte,” sê Snyman. “Niemand sê vir ’n kankerlyer ‘Ruk jou reg’ nie. Hoekom doen ons dit aan mense met depressie?”

Om te help, praat Snyman oor depressie, maar hy en sy geliefde ondersteun ook werklose mense deur hierdie – baie bont – honde en hoede te koop en dan weer te verkoop.

Die verkoophonde is daar om hoop te bring, daarom is hulle bont.

Die tafels is pragtig voorberei.

Marietjie Stander van die Kaapstad-tak het almal laat tuis voel.

Elize Fortuin van die ATKV het die aand en die verrigtinge beplan.

Almero Oosthuizen, ook van die ATKV, het die commendatio aan Snyman voorgelees. (Die ATKV het die volledige teks aan LitNet verskaf. Lees dit hier.)

Ná die formele verrigtinge verby is, kon gaste ’n glas wyn en ’n maaltyd geniet.

Mario Arnold het sy saksofoon uitgehaal en het die note laat jubel.

Marlene le Roux het toe, tot groot vermaak van almal, vir Dana Snyman opgekommandeer om op maat van Arnold se musiek met haar te dans.
Lees ook:
Dana Snyman: Commendatio by die oorhandiging van ’n ATKV-oorkonde
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Op pad deur Dana Snyman


Kommentaar
Ek en Ilse was by Dana se ATKV-funksie en was werklik beindruk met die event. Geluk aan Dana, en geluk aan die ATKV.
Staan op vir hierdie kampioen!
Geluk Dana, geluk. Ek vermoed die toekenning is uiteraard ’n eer ... en ek hoop jy vind dít waarna jy só soek.