Dana Snyman: "Ek skryf nie maklik nie ..."

  • 3

Dana Snyman se nuwe bundel verhale, Onder die radar, het onlangs verskyn. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Dana. Hoe’s alles?

Hallo Henry. Gaan orraait. Ek is so kalm soos ’n palm.

Geluk met die vrystelling van Onder die radar. Julle het nou al talle bekendstellingsgeleenthede daarvoor beleef – hoe ervaar jy die reaksie op die nuwe boek tot dusver?

Dankie. Party mense sê mooi dinge oor die boek. Maar ek wag nog in spanning vir die resensies.

Heelwat van die verhale in die boek het vroeër in verkorte of ander weergawes in verskeie publikasies soos Weg! en Die Burger verskyn. Hoe het jy te werk gegaan om te kies watter verhale in Onder die radar opgeneem sou word? Was dit ’n moeilike proses om die verhale in hierdie opsig te herbesoek en herskep?

Nee wat, ek sou nie sê dit was moeilik nie. Ek is net spyt: daar was verhale wat ek uitgelaat het wat eintlik in die boek moes gewees het. Ek neem myself nogal kwalik daarvoor.

In ’n onderhoud met Danie Marais in 9 November se By bespreek julle vlugtig die grens tussen fiksie en niefiksie en die rol wat dit in jou verhale speel. Die debat van “Hoef dit waar te wees?” is seker al geyk, maar tog is dit duidelik dat talle van die verhale ’n diep persoonlike aanslag het, soos byvoorbeeld die gesprek met jou pa tydens ’n Google Earth-soektog (in “Daniëlskuil toe”). Hoe verskil jou benadering, indien enigsins, in terme van verbeeldingselemente inwerk by die herinneringe wanneer die stories soveel meer persoonlik is?

Dis ’n moeilike een. Daardie Google Earth-storie het min of meer net so gebeur. In party van die ander stories het ek die name van die mense verander. Tog word die boek bemark as "niefiksie". Ek weet nie mooi wat om die stories te noem wat ek skryf nie. Is dit kortverhale? Is dit reisvertellings? Is dit sketse? Is dit essays? Ek weet nie. Ek sê altyd: dit wat waar is in my stories, is waar. 

Op daardie noot, vind jy dit moeiliker om dié meer persoonlike stories te skryf as byvoorbeeld satiriese stukke (soos “Roikappiki”)? Met ander woorde, ervaar jy soms ’n huiwering om stories te vertel wat heelwat van jou persoonlike ervaringe en interaksies verklap, of is jy juis gemakliker daarmee?

Skryf bly vir my maar skryf. Ek skryf nie maklik nie, wat ek ook al skryf. Dis ’n gesukkel – selfs met die eenvoudigste ou storietjie sukkel ek. 

In die onderhoud met Danie sê jy: “Nostalgie is ’n gevaarlike ding.” In Augustus het jy ook in ’n “Van Alle Kante”-rubriek in Die Burger die kwessie van nostalgie en hoe jy in jou skryfwerk daarmee omgaan, bespreek. Wat is dit aan nostalgie wat vir jou gevaarlik is, en wat is die denkproses daaraan verbonde om “verantwoordelik” daarmee om te gaan, soos jy in die rubriek geskryf het, veral vir Afrikaners?

Party van ons – Afrikaners – sien net die slegte dinge in die nuwe Suid-Afrika raak, en dan verbeel ons ons die ou Suid-Afrika was beter. En, ja, die hospitale ens het dalk beter gefunksioneer in die ou Suid-Afrika, maar die Suid-Afrika van, sê maar, 1984 was nie ’n beter land as nou nie. Inteendeel. Ons drink wyn en praat oor die dae voor TV toe ons ouers nog in Valiants gery het, en dan wil ons weer in 1984 wees. Maar in 1984, vergeet ons gou, was daar ’n noodtoestand in die land. Die townships het gebrand, meer as wat hulle nou brand. Ons vergeet die nuwe Suid-Afrika het ons ook vry gemaak. 

Voel jy ooit ’n mate van “druk” aan wat betref die aard en trant van openbare diskoerse (oor politiek, grond en so meer) en hoe ’n rubriekskrywer in ’n mate daarby moet “inval”? Ek dink byvoorbeeld aan die herrie wat destyds ontketen is met Annelie Botes – dis nou dalk ’n ekstreme voorbeeld, maar is daar ’n mate van lugtigheid in hierdie opsig?

Nee wat. Ek ervaar dit nie as druk nie. Dis bly vir my ewe moeilik om te skryf, soos ek reeds gesê het.

Jy voel sterk oor die destigmatisering van sielkundige kwale, en vernaam depressie. Is Suid-Afrikaners agter die res van die wêreld wat kennis van en empatie met hierdie kwale betref? Wat is die oplossing – op klein of groot skaal – vir dit om in families, gemeenskappe en ook breër openbare gesprekvoering – uit daardie “ruk jouself reg”-mentaliteit gepluk te word?

Ons moet daaroor bly praat. Praat, praat, praat. Depressie is ’n helse ding. Nooit gedink ek sal dit ooit in die openbaar sê nie. Maar ek kon nie langer stilbly daaroor nie.

Op ’n ligter noot – waarheen beplan jy om volgende te reis? Is daar enige plekke wat nog op jou “moet-nog-besoek”-lys is, of enige plekke waarna jy brand om terug te keer? Hoekom?

Ek wil nog in my ou Valiant op in Afrika ry, tot waar hy my sal dra.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir jou in – ten minste dít waarin jy ’n sê het?

Ek skryf om oorlewing. Daarom moet ek maar knaend rubrieke en artikels skryf. Ek is ook besig met ’n boek oor Afrikaners. Die voorlopige titel is Ons Mense.

  • 3

Kommentaar

  • Annemarie van der Heever

    Ek hoop Dana gaan "Ons Mense" skryf. . . .  Ek is een van hulle!! Dana is so 'n ongelooflike skrywer, dit voel asof hy binne in my kop geklim en die stories daar gesien het en dit woorde gegee het.  Toevallig is ook nou besig met 'n Annelie Botes boek, wonderlik.  

  • Francois Verster

    Ek was onlangs op Richmond (Boekbedonnerd fees) en braai toe saam met die gawe boere daar een aand. Sulke oop, eerlike, gemaklike mense wat jou sommer aanvaar en kos en drank aandra - mens voel skoon bewoee as jy 'n stadsjapie is.

     

    Nietemin, iewers draai die gesprek toe na skrywers at daar opgetree het en iemand noem Dana se naam. Een ou vra toe "Wie's Dana Snyman?" Die skok en amper afgryse in die groep was tasbaar - die man se verweer "Ek is 'n boer. Ek lees nie," kon nie minder belaglik wees nie. veral nei in daardie geselskap nie ...

     

    Maar ek is seker hy sal 'n boek vir Kersfees kry. Ek sal ook nie verbaas wees as dit Dana se "Onder die radar" is nie.

     

    Vang hulle met heuning, nie asyn nie ...

     

    Mag daar nog baie Dana Snyman-boeke kom. Ons het hulle nodig.

     

    Francois

  • Ai Dana, hoekom skryf jy dan so mooi?   Ek het Onder die Radar vir my gekoop en lees dit so proe-proe, maar ek is pap gehuil oor hoe raak jy dinge beskryf.

     

    Baie dankie dat jy nie jou pen neersit nie, al is dit moeilik vir jou om te skryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top