![]() |
SêGoed van Dana Snyman “Ek glo in God. Ek glo in hoop en vergifnis en donkies en die see en die Namib, en dat ou tantes se gebede die wêreld laat draai. En ook dat die Stormers een dag die Super 14 gaan wen.” (Rooi Rose, Maart 2007) Wat wil hy nog doen voordat hy doodgaan? “Ek wil minstens vyftig wedstryde vir die WP op haker uitdraf! Ernstige antwoord? Ek wil met groter bewussyn van alles en almal rondom my lewe.” (Rooi Rose, Maart 2007) Oor al die aandag: “Ek probeer nie slim wees nie. Ek’s bang dié aandag boemerang. Ek het nooit ge-bargain daarop dat ek sukses met skryf sou hê nie. Op skool kon ek nie juis opstelle skryf nie. Tog is ek bang mense begin my assosieer met die verlede, asof die verlede beter was. Ek verlang nie na apartheid nie. Ek vertel net hoe my kinderjare was, van apartheid se absurditeite.” (Rapport, 22 Oktober 2006) “Wat ek probeer doen, is ek probeer net mense raaksien. En natuurlik gaan jy Afrikaners raaksien, want jy’s self een; so, jy ken hul swak plekke en hul sterk en mooi goeters. Ek dra ook maar die swakheid en alles van die Afrikaners in my rond.” (Die Burger, 4 Mei 2007) “Stories is soos brood vir die hart. ’n Mens het stories nodig soos jy water nodig het – as jy ’n betekenisvolle lewe wil lei. Stories is groter as mense.” (Die Burger, 4 Mei 2007) “Of die manier waarop die politici die land bestuur gaan verbeter of versleg, weet ek nie. Miskien is ek naïef, maar ek het lankal besluit om so min vertroue as moontlik in politici en politieke partye te hê. Politiek, glo ek, staan meestal net in die pad van menslikheid.” “My skrywery is eintlik in teenstelling met wie ek is. Ek kyk met ’n baie persoonlike oog, maar probeer altyd my afstand hou. Ek wil hê mense moet húl storie vertel, maar soms is ek in die storie nodig om te verduidelik hoe hulle inpas.” (Volksblad, 2 Mei 2005) “Ek is seker bietjie snaaks. Half eenkant. Hoe sal mens dit noem – miskien ongewoon? Ek is daai sad ou saans op die highway, want ek dink die beste as ek ry. Soms ry ek Witbank se kant toe. Ek het altyd Warmbad se kant toe gery, maar nou is daar te veel tolpaaie.” (Volksblad, 2 Mei 2005) “Elke ou het sy eie struggle, maar eintlik is dit vir almal dieselfde. Almal is op soek na daardie een helder oomblik wat jy een stowwerige agtermiddag iewers kry. Dalk tussen Britstown en De Aar ...” (Die Burger, 12 Mei 2005) “As ek in iemand se woonplek kom, kyk ek altyd eerste wat op die boekrak is. Dit verraai baie. Ek dink ’n mens behoort eerstens ’n leser te wees, dan ’n skrywer.” “Ek het geen literêre ambisies nie, jy kan in my hart inkyk. Elkeen moet besef waar hy in die groter skema inpas, ek sal nooit naby die Karel Schoemans kom nie. Maar ek kry ’n kick as iemand sê hy lees my rubrieke vir sy vrou of my boeke laat die gesin lag.” (Sarie, Mei 2007) “Ek glo in stories soos ek in die Here glo. Die Boesmans sê ons is ’n storie wat deur ’n Hoër Wese vertel word. Dit maak vir my sin. Ek sien baie dinge in terme van stories. Die Here het nie mense oor die lewe geleer met 25 wette of ‘stappe’ nie, maar met gelykenisse. Met stories.” (Sarie, Mei 2007) “Geluk gaan oor oomblikke. Eenvoudige dinge. Om langs die woestyn af te ry, laatmiddag ’n stoel op te slaan onder ’n koelteboom en dinge net te laat wees. Jy het nie sperdatums nie, skuld niemand groot geld nie ... Daar lê ’n sekere wysheid in eenvoud.” (Sarie, Mei 2007) “Om ’n Afrikaanse dag te vier, is soos my ma se verjaarsdag. Ek koop sommer ’n paar wyne en vier dit.” (Die Burger, 14 Augustus 2008) “As jy die regte vraag vra en dan lank genoeg stilbly, het almal ’n storie om te vertel.” “In sekere kringe moet jy half verskoning vra omdat jy (as skrywer) gewild is. Skryfwerk wat vir my saak maak, is nie een of ander letterkundige eksperiment met 54 lesers en iemand wat ’n doktorsgraad daaroor doen nie. As jy in die toekoms ’n skrywer wil wees, moet jy nóú skryf oor waar ons mense is ... Ons gaan nie Afrikaans red met woordspel nie.” (My Tyd, 4 Maart 2012) In Julie 2012 op Facebook: “Deesdae is dit of ons letterkunde vasgevang is in ’n koffiekroeg van die gees. Ek besef dié uitspraak is ’n veralgemening. Antjie Krog is ’n welkome uitsondering, of jy van haar skryfwerk hou of nie. Soveel skrywers – hulle en hul skryfwerk – is nie regtig betrokke by wat in die land gebeur nie. Of so voel dit dikwels. En dan praat ek nie net van politiek nie. Neem rugby as voorbeeld. ’n Mens hoef nie van rugby te hou nie, maar een ding is seker: Rugby het ’n magtige invloed op die (wit) Suid-Afrikaner se psige. Tog vind dit nêrens neerslag in ons letterkunde nie. Nêrens in Brink of Van Heerden – noem maar al die groot name – se werk is karakters wat juis rugby kyk nie. Dis of ’n Afrikaanse skrywer – die meeste altans – te bang is hy sal dalk die Hertzog of die wat ook al misloop as hy durf oor rugby skryf.” Dana het by die Franschhoek-letterkundefees (2012) dalk uiteindelik ’n moontlike antwoord gehad vir die vraagstuk van misdaad en kulturele verwydering, en die literatuur se rol om dié onderwerpe te ontgin. “Jy tel die koerant op en jy wonder, moet jy hier bly of moet jy gaan, moet jy lief wees vir die plek? Al wat ons redding gaan wees in dié land, is ’n besef van mekaar se menslikheid.” Waarna luister hy op die lang pad? “Ek glo nogal daaraan dat die pad wat jy ry, die musiek bepaal. Ry ek byvoorbeeld by Kimberley verby, in Hopetown se koers, vra my ore vir David Kramer se ‘Huistoe’. Dan is jy mos op pad die Karoo in en soek jy Kramer as ’n gids. En ry ek in die Namib, daar anderkant Sesriem, wil ek na Pink Floyd se ‘Wish You Were Here’ luister en na Dylan se ‘In Every Grain of Sand’. Mozart ry ook toenemend saam met my – veral sy klavierkonserte, wat jy op enige plek kan luister, behalwe dalk op Witbank. Al musiek wat op Witbank werk, is Albert Hammond se ‘The Peacemaker’. Anton Goosen is ook een van my ou reismaats. Min dinge is lekkerder as om verby Touwsrivier te sleep met Goosen se ‘Freeweelin’ uit die bakkie se luidsprekers. Ek glo as genl De Wet se perd tydens die Boere-oorlog met ’n CD-speler toegerus was, sou hy minstens een Goosen-album in sy saalsak gehad het.” Besef hy dan nie hoeveel aanhangers hy het nie? “Ek kan dit nie glo nie, want dit is so eenvoudig. Dis so fokken eenvoudig. Ek probeer nie doelbewus mooi skryf nie. Ek probeer maar net ’n prentjie maak. Skryf is maar net om prentjies te maak, het ek iewers gelees.” Oor hoe Dana dit regkry om sulke aangrypende stories te vertel, sê hy: “Ek is maar net ’n fan van stories. En per ongeluk like stories my. Baie mense dink skryf is hierdie arty farty-ding. Ek is nie so nie. Ek wil net die gewone ou se frustrasies verwoord, want ek’s ’n gewone ou. Ek wroeg meer oor die Stormers se vaste vyf as die betekenis van die lewe.” Raak hy soms benoud oor Afrikaans se anderdagmôre? “Ja, maar glo onbevange aan die toorkrag en wederopstanding van stories. Op die ou end is goeie stories belangriker as of ’n kar se ‘starter’ ’n ‘knormoer’ genoem word en of ’n groot bank jou in Engels, eerder as Afrikaans, laat weet Maandag stuur hulle iemand om jou huis te kom terugvat. Solank ons ons stories in Afrikaans vertel, so lank sal die taal voortleef.” Drie goed wat hy wil doen voor hy doodgaan? “Die Kongo-rivier sien, ’n roman skryf, en dit sal wonderlik wees as die WP weer ’n slag die Curriebeker wen.” (Hierdie onderhoud was in 2009 met Rachelle Greeff en die WP het toe intussen in 2012 die Curriebeker gewen.) “Ek voel nie soos volksbesit nie. Hoe voel dit? Ek is net ’n gewone ou en ek’s definitief nie besig met ’n veldtog vir Afrikaners nie.” (Beeld, 9 November 2013) Waarvan hou hy die meeste? “Om geborge te voel. Dit gebeur min, maar wanneer dit gebeur, weet jy iets anderkant woorde is besig om met jou te gebeur. Dit het iets met God te doen. Dikwels is dit in iets eenvoudigs: soos om ’n swaeltjie dop te hou wat laag oor my grasperk draai en vlieg, draai en duik en vlieg.” Wat is die ding waaroor hy die jammerste is? “Dat ek nooit vir die WP haker kon speel nie. Ek dreig elke Saterdagmiddag om weer te begin draf en aan my spoed en lynstaan-ingooie te werk.” “Skryf bly maar vir my skryf. Ek skryf nie maklik nie, wat ek ook al skryf. Dis ’n gesukkel – selfs met die eenvoudigste ou storietjie sukkel ek.” "Ek skryf maar altyd oor die Afrikaner en sy leefwyse. Dit is wie ek is. Ek is ’n Afrikaner. Maar identiteit is mos ’n vreemde, vloeiende ding. Jy moet jou identiteit telkens weer ontdek, veral in hierdie land waar daar so baie veranderinge plaasgevind het." (Volksblad, 10 Desember 2013) Nadat hy ’n klompie verhoogstukke vir Frank Opperman geskryf het: "Nee, ek wil myself nog nie ’n dramaturg noem nie. Ek het nog net solostukke geskryf. Eers wanneer ek ’n propperse drama met meer as een karakter geskryf het, sal ek dit waag om myself ’n dramaturg te noem." (Volksblad, 10 Desember 2013) Die lekkerste aspek én die mees frustrerende aspek van skryf: "Die grootste frustrasie? Om een woord na die ander eenvoudig en eerlik op ’n ander te laat volg, totdat alles sin maak. Die grootste lekkerte? As jy besef een van jou stories het iemand so diep geraak dat sy vir jou wil bid. Ek moet bieg: hierdie boek (Onder die radar) is lekker dik, en dis goed vir die manlike ego." (LitNet) Waar en wanneer skryf hy op sy beste: "Ek skryf enige tyd van die dag, want ek moet. Dalk is ek op my beste in die oggend. Ek wens ek kon vir die res van my lewe hier op Jacobsbaai sit en skryf. Is daar nie ’n miljoenêr iewers wat my wil borg nie? Hy kan my gebruik as ’n soort opheffingsprojek, dan kan hy die geld weer by die ontvanger van inkomste eis." (LitNet) Raad aan voornemende skrywers: "Dis ’n ambag. Kry vir jou ’n goeie gereedskapskas." (LitNet) Nog raad aan voornemende skrywers: "Kyk goed na die wêreld om jou, luister goed en maak voortdurend notas. Skrywers moet ook nie bloot vertel nie. Hulle moet met hul woorde op papier prentjies aan die leser wys." (Bloemnuus, 13 September 2018) Hoe het Facebook Dana se lewe as skrywer verander? "My Facebookblad bring vir my baie dinge: vreugde, soms selfs ’n bietjie verdriet. Stories. Dis vir my soos my huis se stoep: ’n kuierplek waar ’n soort ou-wêreldse boere-ordentlikheid geld, ’n baie onderskatte deug in die sogenaamde sosiale media." (Die Burger, 1 Oktober 2016)
|
Gebore en getoë
Dana Snyman is in 1963 in Stellenbosch gebore, die enigste kind van Coenraad en Sara Snyman. Sy pa was bykans dertig toe hy besluit het om op Stellenbosch vir predikant te gaan leer en het in ’n myn gewerk om vir sy teologiese studies te betaal.
Sy pa was predikant en Dana vertel in Rooi Rose van Maart 2007 aan Ilse Salzwedel: "My pa was een van daardie predikante wat byna altyd sy beroepe aanvaar het. Dus het ons min of meer elke drie jaar getrek: van Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika na Daniëlskuil in die Noord-Kaap. Toe Naboomspruit toe. Ons het ook op Skeerpoort naby die Hartbeespoortdam en in Johannesburg gewoon. Dis moeilik om te sê waar was dit vir my die lekkerste. Miskien Naboomspruit. Ek was 12 jaar oud, die eienaar van ’n Challenger-resiesfiets, en onskuldig, so salig onskuldig ... Maar dan onthou ek weer die puisies en die angs van adolessensie. En dan is ek nie meer so seker van Naboom nie."
Hy was ’n alleenkind wat in sy verbeelding geleef het. Hy het sy eie bende gehad – die Caprivi-bende, geskoei op kaptein Caprivi, die held van die fliek uit die sewentigerjare. Die bende het drie lede gehad, maar ongelukkig moes Dana al drie rolle vertolk, want hy het nie eintlik vriende gehad nie.
Sy eerste boek wat hy gelees het, was Die Kindjie in die krip. Hy het hom steeds in sy boekrak – ’n groot boek met mooi illustrasies wat die Kersverhaal uitbeeld. "Ek slaan dit steeds soms oop en kyk na daardie twee donkies langs die krip in die stal. Hulle is vir my die mooiste goed in die boek, daardie donkies. Ek is mal oor donkies."
Die eerste boek wat hom aangegryp het, is Die grys adelaar van CJ Groenewald. "Ek was dalk sewe. Dit gaan oor ’n ou wat kan vlieg, met behulp van seilvlerke en skoene met sulke vere onder. Ek het toe een middag ’n kar se coil springs onderaan my skoene probeer vasmaak en ’n sambreel in my hand gehou, maar nie opgestyg nie. Ek kon nie eens daai coil springs roer nie. Ek het my alie afgeval – en só ontdek stories kan ook gevaarlik wees."
Dana vertel aan Murray la Vita in Die Burger van 5 Mei 2007 dat hy van kleins af ’n voorliefde vir stories gehad het. Sy oupa was ’n groot storieverteller en daar was altyd stories in die huis. "My mense is gewone mense. Al twee my oupas was mechanics en goeters ... my pa was ’n passer-en-draaier wat vir predikant gaan swot het."
Hy verduidelik aan Rachelle Greeff in Rapport (3 November 2009): "Omdat ek maar ’n afgetrokke, halfbot leerling was, het niemand – ek ingesluit – besef ek het skryftalent nie. En tog, ek dink mev Van der Merwe en mev Deist, wat in st 9 en in matriek my Afrikaans-onderwysers was, het my liefde vir letterkunde aangevuur. Hulle het ’n mens laat besef letterkunde is nie net woorde-op-papier nie. Letterkunde is die gevolg van ’n gestoei met belangrike lewenskwessies. Mev Deist het selfs ’n bietjie Freud vir ons verduidelik: die ego, die superego en die id. Dit het my nogal gehelp om my eerste (van vele) liefdesteleurstellings te verwerk."
Dana vertel aan Rachelle Greeff in Rapport dat hy maar so half droomverlore gebore is. "Het op die ouderdom van vier al op my eie plaas in die noorde van die ou Suidwes geboer, met twee Boesman-hulpe. Puur verbeelding. Op 11 het ek gereeld vir die Springbokke uitgedraf, en op 14 het ek vir Anneline Kriel by Sol Kerzner afgevry. Ek vermoed party mense word gebore met ’n verhoogde bewussyn van dinge – binne en buite jouself. Dis ’n seën en ’n genade, soms ook ’n straf."
Dana matrikuleer in 1980 aan die Hoërskool Nylstroom.
Sy ma is in 1998 oorlede en sy pa het saam met Dana se stiefma, Amanda, op Ventersdorp gaan bly. Hy is in April 2011 op 77-jarige ouderdom in ’n Potchefstroomse hospitaal oorlede nadat hy ongesteld was.
Verdere studie en werk
Dana se eerste werk na skool was as veiligheidswag in Pretoria en die stad was op ’n stadium Dana se tuiste waar hy na dae en soms weke "op die pad sy voete moet kom plant". Hy vertel aan Jo-Ann Floris (Volksblad, 2 Mei 2005)dat die werk as sekuriteitswag baie vervelig was. Hy het meestal by ’n tafel gesit en skelm boeke gelees. "Ek het in elk geval die skietoefeninge ge-jippo, so ek sou nooit ’n goeie wag gewees het nie." Hy gaan maak ’n draai in die weermag en kry daarna werk in ’n boekwinkel.
Ook hier het verveling hom weggedryf, totdat hy in sy agterplaas ’n onwettige sjebien bedryf het: "Ek was die frontman by die bottelstoor en Sheila die baas by die sjebien. Dit het baie goed gewerk." Hy verkoop op ’n stadium kaartjies by die Sunnypark-bioskoop tot by Sterland-bioskoop waar hy bevorder is tot skakelbordoperateur. Dana lewer die volgende kommentaar oor hierdie tydperk in sy lewe: "Ek was onder meer ’n onparate veiligheidswag, ’n onwillige verkoper van fliekkaartjies en ’n ongeskikte skakelbordoperateur."
En tussen die oproepe en mense met mekaar verbind deur het hy besluit hy wil gaan joernalistiek studeer. "Ek het altyd gehou van koerant lees. Toe ek in die koshuis was [op Naboomspruit], het ek altyd een gekoop by die koerantverkoper. As ek nie geld gehad het nie, het ek hom betaal met beskuit of tjoklitkoek wat my ma gestuur het."
Hy gaan studeer aan die destydse Technikon Pretoria en gaan werk daarna vir twee maande by Die Laevelder. In 1990 word die goue Technikon-raadsmedalje aan Dana toegeken vir buitengewone prestasie op akademiese, kulturele en sportgebied. Hy begin as misdaadverslaggewer by Beeld in Pretoria werk. Jare later word hy artikelskrywer by Huisgenoot, waar hy vir 10 jaar werk, maar hy gaan voort om sy gewilde rubrieke vir Beeld se "Beeld-Deurloop" te skryf. In 2007 word hy as reisjoernalis by die reistydskrif Weg aangestel.
Dana geniet onmiddellike sukses as rubriekskrywer en die volgende logiese stap was dat sy rubrieke gebundel sou word. In 2005 word sy eerste boek, Uit die binneland, by Human & Rousseau gepubliseer en dit is dadelik ’n blitsverkoper. Die boek gaan uiteraard oor binnelanders, maar, sê Dana aan Gerrit Rautenbach, "binnelanders is mense wat êrens tussen stad en plaas besig is om te verdwaal op soek na iets op pad iewers heen." (Die Burger, 12 Mei 2005)
Oor hierdie debuutbundel skryf die kortverhaalkenner Abraham H de Vries in Beeld,2 Mei 2005: "Daar is goeie redes hoekom uitgewers gewoonlik langtand is om rubrieke te verduursaam in boeke. Die onderwerpe van rubrieke sluit gewoonlik aan by die nuus van die dag, en nuus het selde ’n lang lewe, die vormgewing dra soms die letsels van haastig skryf, die dreigende saktyd bevorder herhaling, al is dit ook net in woordgebruik en stelwyse.
"Maar daar is uitstekende redes waarom Human & Rousseau wel besluit het om Dana Snyman se Uit die binneland die eer van uitsondering te gun: In hierdie weliswaar ook ‘gewysigde weergawes’ van rubrieke in Beeld, Huisgenoot en Weg is ’n skrywer aan die woord met ’n skerp oog vir detail, iemand wat weet hoe om taal optimaal te gebruik en hoe om met ’n paar woorde atmosfeer te skep.
"Die Afrikaanse mense wie se ‘binneland’ hier telkens vlugtig, suggestief verhaal word – want dié woord in die titel het 'n dubbele betekenis, dit is ook die binne-land, die innerlike van die figure wat aan bod is – is in die woorde van die Nederlandse skrywer Simon Carmiggelt 'n ‘stoet van dwerge’, gewone mense: oupas en oumas, ander gesinslede, boere, die teruggekeerde soldaat, inrykafee-gangers, TV-karakters, donkie kar-trekkers, ACVV-vroue, bedelaars by verkeersligte, elkeen geteken op die tydstip waarop ook die tydgees en die bekende gebeurtenisse wat hom/haar vorm, belangrik is: die Griek gevange in onluste en die kommunistejag van ongeveer 1976 (‘Andries Treurnicht Katagournas’), die Basters (wat hulleself so noem) en die woelinge om Afrikaner-wees (‘Mier’), ou Ben Basotho as slagoffer van die rigiede onderwyssisteem en seksuele vooroordele van 1969 (‘Wat seuns nie wil weet nie’) of kinders tussen Boeregrafte, Wimpy-kos en taalproblems (‘’n Meisie, vasgevang in die draaikolk van haar vergete verlede’)."
Vir De Vries is Uit die binneland ’n uitstekende debuut wat ’n wye leserskring verdien.
In 2006 verskyn Anderkant die scrap en hieroor laat De Vries (Beeld, 22 Oktober 2006) hom as volg uit: "Dis Hennie Aucamp wat in een van sy essays vertel met hoeveel sorg hy sy bundels ‘verpak’, van die titel en die buiteblad af wat die koper moet oorreed om dit aan te skaf, en wat ook die leser se eerste kennismaking is met die boek, tot die motto’s, die rangskikking van die verhale en die flapteks.
"Op die buiteblad van Dana Snyman se tweede bundel kortverhale, Anderkant die scrap, is ’n verroeste voertuigwrak, skroot dus, afvalmetaal. Uit die lees kom egter ’n ander beeld te voorskyn van hierdie verhale se bevolking. ’n Mens sou dit ook verwag van ’n skrywer wat al in Uit die binneland, sy debuut, bewys het dat hy met skaarse woorde ’n figuur, ’n ruimte, kan ‘staan maak’ en wat reliëf kan skep deur die bymekaarbring van die onheiligste teenstellings.
"Titel en voorblad skep ’n veels te eensydige verwagting vir so ’n bonte, klein-menslike, soms tragiese, plek-plek plesierige verskeidenheid. Die beskrywing op die agterblad van die figure as ‘weggesteekte mense’ met ’n ‘ontwykende droom wat nooit verbleik nie’ is nader aan die kol en sluit trouens aan by die slot van die titelverhaal met sy reis deur party van die figure in die boek se kamee-lewens: ‘Ons sal verby baie scrap ry. Ons sal ry. Tot ons die moontlikheid sien van geborgenheid wat soos lugspieëlings op die horison lê en bewe, sal ons ry.’
"Want om maar by die figure te bly: Snyman se verhaalbewoners is nie net hoewebewoners, verarmde families, figure uit ’n ou bestel, bad luck-bedelaars, ’n eens besige, nou verlate De Aar se bruin oorpakke en blou uniforms, en almal wat ’n dergelike lewe lei nie. In Snyman se beste verhale is daar ’n eietydse sosiaal-politieke dimensie.
"Daar is verhale waar die hele situasie ’n ‘simboliese’ méérwaarde kry: die man wat sy huis stuk vir stuk verkoop aan die mense van die township (‘Fred sien ’n plan’), Flip wat ’n ‘Pelgrimstog’ onderneem na die Apartheidsmuseum om homself te gaan soek op een van die foto’s (met weer eens ’n Poe-agtige slot, ’n enkele sin oor die emosies wat nié op so ’n foto verskyn nie).
"Die beste verhaal oor die ‘weggesteekte mense’ van ons geskiedenis waarvan die voete nie gewas word nie en teenoor wie die onreg nie eens herstel word nie, is ‘Skipskop’, gegrond op David Kramer se liedjie, met uitstekende gebruik van die vraag wat nooit genoeg gestel kan word nie: Wanneer hou die dinge op?
"’n Bonte verskeidenheid van weggesteekte dromers en ’n lappieskombers van sulke kleurvolle gebeure is nie scrap nie. Snyman se beste verhale (strenger keuring was moontlik) pas in ’n ander, minder veroordelende perspektief: dié van byvoorbeeld Simon Carmiggelt (Kronkel) se ‘stoet van dwergen’ in Nederlands, die mens, óns, in sakformaat, ’n wêreld in sandkorrels."
Op die agterpaaie word in 2008 gepubliseer. Ilse Salzwedel vertel dat Dana se woorde baie lag, bietjie huil, heelwat nostalgie, te veel onthou wek. "Hy ry die land plat op soek na stories en skilder woordprentjies van plekke waaroor ons droom, vertel met deernis van mense wat ons almal ken of wens ons het geken. Hy praat reguit, onthou ons land se mense soos ons was, vertel hoe ons nou is. Sonder skroom, maar sonder om aanstoot te gee, en hy skryf met ’n stewige skeut selfspot. Dana sien hom egter nie as ’n volksheld nie. 'Ek is maar ’n gewone ou wat oortrokke is by die bank en wie se kar nuwe bande moet kry'."
Ná die publikasie van Op die agterpaaie vra Karin Brynard (Rapport, 3 Desember 2008) Dana uit oor sy gunsteling-plek. "Sy blou oë het vlam gevat en hy het sy rug gemaklik gemaak sit vir ’n groot gesels. Sy tong het lang, slap drade gebrei Richtersveld toe, of na die onbekende paaie van die Karoo. Plekke met wonderwaardige mooi name en rare mense. Mense wie se kosbaarhede hy soos ’n delwer van ouds liefdevol uit die los gruis uit oopsif. En hy het met rollende erre en troetelsagte g’s vertel van die lang, ver paaie waar jy g’n lewende siel op sal teëkom nie – tot jy versigtig briek by ’n ou oom en tante wat een van hul laaste donkies aan ’t begrawe is. En dan hoor jy die storie van die Karoo se karretjiemense en hoe hulle een-een verdwyn. Hulle en hulle se donkietjies.
"Die soort kameë in ons gemeenskap waarvan groot rolprentmeesters soos Federico Fellini aangrypende rolprente sou maak. Die prentjies waarvoor die res van ons nie die oë het nie. Verhale wat byna wiegend – nes Dana se ou groot rooi Valiant op sy sawwe vere – uit die voue van vele godvergete hoekies van die padkaart uitkruie.
"Hy noem homself ’n storiesmous en hy gaan soek die dinge op waaroor ander net wonder, soos waar presies die Bosveld begin en ophou. Om die Bosveld te soek is ’n bietjie soos bekering. Op ’n kol wéét jy net jy het dit gekry. En dan, later, begin jy weer twyfel. Of waar presies is die Moordenaarskaroo? Hy ontmoet mense soos oom Fanie Pad, wat paaie gebou het in daardie kontreie en wat sy rug en knieë so opgefoeter het dat sy bene nou 'uit focus' is as hy stap. Saam ry hulle mooinaam-plekke soos Poffertjiesgat raak, of Knoffelfontein, Skelmhoogte, Dikboompies.
"Maar Dana ry nou nie meer met die Valiant nie: "Ek is bang mense dink ek wil aandag trek as ek met hom ry. En die reis is buitendien altyd belangriker as die ryding waarmee jy reis. Hy’t baie te sê oor die reisproses – soos dat dit jou verander. Dat dit jou oë oopmaak, jy regtig begin sien."
Dana is in 2008 in die Suid-Afrikaanse tydskrifwêreld bekroon as die Pica-wenner van Reisskrywer van die Jaar en hy het al vele ander akkolades en toekennings gekry. Maar hy hou nie op nie. "Ek lees ’n boek van Karel Schoeman oor die vroeë sendelinge in die land – veral van die sendingstasie by die Sakrivier in Fraserburg se omtes. Ek sal graag daardie murasies wil besoek. Ek wil ook nog gaan soek na die graf van Hendrik Witbooi, die ou Nama-kaptein. Niemand weet skynbaar waar hy begrawe is nie. Dit moet iewers in Namibië se suidelike ooptes wees," vertel hy aan Brynard.
Brynard vertel self verder in haar onderhoud: "Hy hou van grafte soek, lyk dit vir my. Hy beskryf sy soektog na Dirk Ligter se graf, die legendariese skaapdief van die Karoo oor wie daar meer legendes as waarhede bestaan. En jy kan aan die stories sien dis nie sommer vir in die kar klim en ry nie. Hy beplan. Lees, doen huiswerk. Die stories is deurspek van boeke en proefskrifte en ander geraadpleegde bronne. Hy lees wyd en haal ook gereeld sy eie geliefkoosde reisskrywers aan.
"Maar diegene wat die meeste aan die woord is, is die mense wat hy raakloop. Mense wat hy met respekte benader. Hy’s nie van die stadsadder-soort wat naweke soos bont sprinkane (in 4x4’s agter duur donkerbrille) ’n plattelandse plekkie invaar en rammetjie-uitnek ’n ou tannie se angeliere gaan staan en vertrap om ’n beter kamerahoek op haar sinkdakhuisie te kry nie.
"'Nee', sê Dana, 'die mens is die storie, die storie is die mens. Ek probeer so onopvallend moontlik wees. Miskien tel dit teen my, want soms is ek te skaam om by sekere mense aan te gaan wat baie kennis oor ’n bepaalde plek het. En ja, ek is maar ’n pleaser, ek skryf nie doelbewus dinge om te skok nie. Dis te maklik om so te skryf. Ek hoop daar is respek vir mense en die aarde in my stories'."
Abraham H de Vries het Op die toneel (2009) gekies as sy hoogtepunt uit 2009 se oes. Sy rede: "Dana is gewild, maar werklike erkenning bly weg weens ’n paar bekende wanopvattings: dat bundels kortverhale iets minder as romans en selfs soms digbundels is; dat ’n joernalis nie uitstekend verhale in ’n tydskrif kan publiseer nie; dat verhale oor die verlede dui op konserwatiewe verlede-verliefdheid; en dat goeie kortverhale nie ook lagwekkend mag wees nie. Ek kies Dana se bundel omdat die verhale deur die bank die werk is van ’n uitstekende vakman en van voor tot agter ruik na mens en na deernis (‘die wese van ons taak’ – Van Wyk Louw)."
In haar resensie oor Op die toneel skryf Joan Hambidge (Beeld, 9 November 2009): "Dit is waarskynlik onnodig om ’n boek van Dana Snyman te resenseer. Hy het reeds so ’n groot aanhang met sy stories wat op ’n onpretensieuse wyse die lotgevalle van die gewone mens opvang. ‘Die mens is die storie, die storie is die mens,’ volstaan dié raconteur. Hy kyk na die eenvoudige mens sonder om hulle uit of af te lag en die agterflap praat tereg van die verhale as eerlik en eg.
"Toe [ek] hom in Beeld ontdek en daarna sy ontwikkeling meegemaak het, het ek ’n bietjie my hart vasgehou. Gedink die aandag, bekronings en loftuitinge gaan hom bederf. Inteendeel. Hy het sy vertellinge al hoe sterker en meer vaartbelyn gemaak. In die nawoord gee die skrywer erkenning aan waar hy stories ‘geleen’ en herskryf het. Twee titels is by onderskeidelik Chris Barnard en JC Steyn geskaai. En ja, waarskynlik moet ons dan ook besef van die verhale wat ons lees, is al iewers gehoor, gesien en opgeskryf.
"Die orale teks is allemansgoed. As iemand jou ’n storie vertel en jy skryf hom oor, is dit ’n ander vertelling as die een wat jy gehoor het. Dit word verwerk deur die skrywer en kry sy eie stempel. Dis soos Boere-grappe wat permutasies beleef van grappe uit Ierland en elders.
"In ‘Groet’ kom die boeregroet onder die loep. En wat dit alles beteken. En ons lees van Oupa wat ‘taisis’ in die myn gekry het en een valstandlose nag in 1999 in die plaaslike hospitaal dood is. Kweek spartel steeds uit die tuinpaadjie en die gevoelige leser sien soms ’n digter aan die woord. Die vertellinge is nie essays nie. Hulle wil net stories wees en niks anders nie. Maar jy onthou hulle. Vir die humor, die skerp waarneming, die ingeboude ironie en die lekkerte van lees aan hulle. (...)
"Dalk sou ’n mens Snyman ten beste kon opsom as ’n beoefenaar van nostalgie en sy beskrywing van ’n nagmaalfees op Soebatsfontein kan as een van die sterkste voorbeelde daarvan gesien word. Hy beskryf alles met erbarming, terwyl hy homself as waarnemer en optekenaar daarstel – en juis daarom word die vertelling ’n skrynende verslag van rassisme én neerbuigendheid. Sonder om kommentaar te lewer, maak hy ’n Boere-oom na wat vra dat die ‘ou skepsel’ mooi moet kyk na alles. Hierdie vertelling word meer gelade wanneer dit saamgelees word met ‘Regstellende aksie’ en mense se kommentaar, van binne en buite, daarop.
"Dana Snyman is die optekenaar, ironies, sardonies. Hy skryf tydsdokumente wat vir Jan en Alleman bedoel is. Alles word beskryf in helder, sober Afrikaans en wanneer hy Engels inspan, is dit met woorde soos ‘sideboard’, wat sy plek in die volksmond gekry het. In ’n verhaal word hy as ‘kleindominee’ aangespreek en wanneer hy met sy pa gesels, is daar vergifnis en begrip. Snyman het ’n natuurlike talent. Maar deur hierdie uit-die-hart-uit-stories gee hy ’n nuwe lewe aan gemoedelike, lokale realisme waarop daar al neergesien is.
"Dalk doen hy met PG du Plessis wat PG met Mikro gedoen het? Hulle hou daardie vertellyn lewendig! Soos ’n plaastelefoon. ’n Mens mag nie die plek van Jaco Kirsten, Johann Bakkes en Dana Snyman in ons vertel-en-rubriekkultuur onderskat nie."
Tydens die tweede Boekbedonnerd-fees in 2009 op Richmond in die Karoo moes Dana en sy nuwe vriend, Rian Malan, die afsluitingskonsert red toe die twee oorspronklike kunstenaars, Antoinette Pienaar en Kabous Verwoed, afwesig was. Rian Malan, joernalis en skrywer, het ook begin liedjies skryf en ’n CD opgeneem. En hy is toe gevra om die hoofnommer te wees met Dana aan sy sy, het Emile Joubert geskryf. (Rapport, 4 November 2009)
Joubert het self verder vertel: "Terwyl Dana, geklee in ’n Zam-Buk-salf-T-hemp, senuweeagtig rondsoek in die hoop dat Pienaar en Kabous nie dalk êrens wegkruip nie, is Rian ernstig aan’t repeteer in die Paleis se Private Lounge. Hy sit op ’n stoel en streel sy kitaar terwyl sy mond beweeg sonder dat daar eintlik ’n klank uitkom. Malan is bekend as ’n über koel dude, maar vanaand lyk hy bleek en senuagtig. En wie kan hom blameer? Net hy en Dana staan tussen ’n Karoo-gehoor se dors na vermaak en algehele teleurstelling.
"’n Senuweeagtige getrippel gaan niemand egter êrens bring nie. The show must go on. Dan roer iets. ’n Ou tannie met ’n blink Zimmer frame stamp mens, kind en dier uit die pad soos sy haarself haas vir die beste sitplek. Die gehoor kry sit. Die ligte verdof.
"Dana gaan haal ’n kroegstoel en neem sy plek in op die verhoog. Rian Malan, nou met ’n swart flaphoed op sy kop, maak ’n yskoue Kaapse draai voor die verhoog, tel sy kitaar op en skuif ook agter die mikrofoon in. Jy kan ’n gebraaide skaaptjop hoor val.
"En dan trek Rian los en laat waai, geesdriftig aan die speel aan die drie kitaarkoorde wat hy ken. Hy sing in Afrikaans, met ’n Engelse aksent wat deurslaan, maar die saak is reg. Daar is musiek, soort van, en sang, amper. Maar die wynglase is vol en die Karoo-nag is mooi, en die ryery na Richmond was die moeite werd. Dis immers ’n konsert. Tussen Rian se praat-sing deur word Dana se formidabele talente as stemkunstenaar ingespan. Dana moet die verse afwissel deur soos ’n hond te blaf, iets wat hy, terloops, verstommend goed kan doen.
"Die organiseerders se gesamentlike sug van verligting is hoorbaar. Die gehoor glimlag. Ma’s sit hul hande op pa’s se sterk voorarms. Die tannie stamp haar Zimmer frame liggies op die maat van die musiek teen die vloer van die Grys Paleis. Dinge is aan die regkom.
"Rian sluit sy eerste liedjie op ’n hoë noot af en die kollig val op Dana. Hy herinner weer die gehoor dat hy nie weet wat hy hier doen nie, maar gelukkig ken hy ’n storie: Die een van die familie wat hike met hul karavaan. Ja, hulle woon in die karavaan, maar het nie ’n kar nie, nou ryloop hulle, naarstiglik aan die wag vir ’n kar met ’n sleepstang. Dit is baie snaaks, en Dana vertel dit in ’n droë en onaansitterige styl wat als nog meer treffend maak.
"Toe begin Rian se kitaar weer, en hy sing oor regstellende aksie en verwarde Afrikaners, en die gehoor is gaande, want êrens langs die pad leer Rian sommer ’n vierde akkoord by. En so tussen Rian se liedjies en Dana se stories gebeur die onwerklike: Die aangelapte konsert word ’n show: ’n regte show met mense wat handeklap en fluit. En terwyl die gehoor vra vir meer, kyk Rian en Dana ongelowig na mekaar. Vanaand die Grys Paleis, môre die heelal."
Oor Hiervandaan: op reis in die geliefde land (2011) sê Dana aan Danie Marais (Die Burger, 7 November 2013) dat hy self deurmekaar raak oor die feit of sy boeke fiksie of niefiksie is. "Hiervandaan, wat ’n reis deur die land beskryf, was absoluut niefiksie – jy kan daai mense gaan ontmoet. Maar daai boek was op die Nielsen-verkoopsyferlys onder ‘fiksie’."
"Hiervandaan is ’n soort walkabout as ’n manier om my weer in voeling met my wortels te bring," vertel hy aan Madri Victor in Rapport van 4 November 2011. " Só lees ek een keer van ’n debat oor identiteit en ek besef ek wonder knaend waar ek inpas in die land, maar ek weet nie eens wie my voorsate werklik is nie. Hoe kan jy weet wie jy is as jy nie weet waar jy vandaan kom nie?"
"Ek begeef my toe na die Kaapse argief, waar ek ontdek die eerste Snyman was ’n bruin man. My oeroupagrootjie was by die Slag van Bloedrivier, het my pa altyd vertel, en dié se broek hang in ’n museum in Pietermaritzburg.
"Toe dink ek: Ons bruines het ook by Bloedrivier geveg, want jy moet onthou daardie Bloedrivier-oupa was maar drie geslagte van die bruin stamvader af. Later toe begin ek dink: Dalk moet ek gaan kyk of daardie oupa se broek regtig in die museum hang. En toe word dit ’n reis," vertel hy verder vir Madri Victor.
Victor skryf: "Dana se reis was nie net ’n verkenning van die land en sy emosies daaroor nie, maar ook van sy verhouding met sy pa. Oor albei skryf hy eerlik, intiem en aangrypend."
"My pa was ’n outsider, nes ek," vertel Dana. "Hy was ’n ambagsman, ’n passer-en-draaier. Toe, in sy dertigs, besluit hy om vir predikant te gaan studeer. Hy was eens die kapelaan-generaal van die AWB. Daardie tye was nie vir my lekker nie, en ja, ek was vies vir hom daaroor. Hier staan hy in ’n uniform in die koerant, met ’n Bybel onder die arm. Maar ons het altyd bly praat en ek het altyd maar weer teruggegaan huis toe, op Ventersdorp."
Vir Victor was Hiervandaan deels ’n "nostalgiese opskryf van vergange dinge soos boormanne en telefoonsentrales. Om dinge wat verbygaan op te skryf, is ’n vorm van liefdevolle bewaring. Dit erken hy. Maar die nostalgie-ding maak hom baie benoud, veral omdat sy skryfwerk daarmee geassosieer word."
Dana vertel self verder: "Ek is so bang mense lees my stories en dink ek het ’n romantiese verlange na die verlede. Die verlede was nie beter as nou nie. Ek wil nooit weer in 1985 wees nie: PW, militêre diensplig, die noodtoestand, Hawaise hemde, Rodney Seale se waarskuwings oor popmusiek … Eish!
"Ons sal mooi moet besin oor wat ’nostalgie’ presies beteken en hoe dit ’n mens se lewe kan ‘rig’. Ons Afrikaners verlang deesdae so na die verlede dat ons baie dinge vergeet. Ons verlang onsself as’t ware in die onskuld in. Dis nie reg nie. Dit is gevaarlik."
"Voel hy nou minder vreemd in die land ná sy reis en die opskryf daarvan in Hiervandaan?" wou Victor weet.
"Beslis, ja. Ek is meer optimisties oor die toekoms van die land as ooit. Maar dis nie ’n Dr Phil-agtige optimisme nie. Die politici en amptenare kan dit steeds alles vir ons opneuk as ons nie oppas nie. As ek praat van ‘ons’, praat ek van gewone mense. Ons wat in die oggend opstaan en geld op ’n eerlike manier moet verdien om aan die lewe te bly. Die meeste mense wil vrede en geluk hê.
"Ek het ’n essay van Saul Bellow oor die skrywer se rol in die gemeenskap gelees. Hy skryf: ‘The writer asks himself: ‘Why shall I write this next thing?’ It is still possible, despite all theories to the contrary, to answer: ‘Because it is necessary.’ A book, any book, may be superfluous. But to manifest love – can this be superfluous? Is there so much of it about us? Not so much. It is still rare, still wonderful. It is still effective against distraction.’
"Dit kom maar alles neer op die grootste gebod: Ons moet mekaar liefhê. Of jy nou ’n skrywer of ’n Zuma of ’n wat ook al is."
Vir Max du Preez (Beeld, 24 Oktober 2011) was die twee boeke wat hom die meeste geroer en bygebly het, Ciske de Rat van Piet Bakker oor die Amsterdamse straatkind en met ’n kortkop tweede is Ampie. En toe lees hy Hiervandaan van Dana. "Ek irriteer my (Engelssprekende) vrou deur kort-kort vir haar te wil voorlees. Ek lees paragrawe twee keer oor, soms van lekkerkry, soms van verstomming oor die skrywer se vermoë om ’n mens of ’n toneel so outentiek vir die leser lewend te maak. Ek stuur ’n uitasem e-pos aan ’n boekgeesgenoot: ‘Dana is meer as net ’n hedendaagse Herman Charles Bosman, hy’s ’n bietjie Chris Barnard en Bruce Chatwin, Abraham de Vries, Paul Theroux. Ek kan nie dink ek het al ooit in enige taal ’n fyner waarnemingsvermoë en beter storieverteller teëgekom nie.’
"Hiervandaan is nie net sommer ’n bundel reisstories nie. Snyman is ’n man met ’n missie: ‘Ek wil hierdie land waaroor ons so praat en praat, weer ’n slag aan die lyf voel. Dit wat my vreemd en ontuis in die land laat voel, wil ek probeer verstaan, net vir myself. Ek wil probeer uitvind waar ek inpas. Ek wil weet of ek nog hier hoort.’ As jy nie hier hoort nie, ou Dana, hoort nie een van ons hier nie.
"Snyman se verhouding met sy pa, ’n subtema deur ’n groot deel van die boek, gaan baie manlike lesers aan hul verhouding met hul pa’s laat dink. Snyman en sy pa praat gereeld oor die telefoon tydens sy reis, maar ou Dominee Snyman se gesondheid is aan die verswak: ‘Die dokter sê dit is maar hoe dit is met die hartkwaal wat hy het: Op en af, op en af, ’n laaste weemoedige sinkplaatpad tussen die bed en die kombuistafel.’
"As sy pa sê hy’s bekommerd oor sy seun, dink Snyman: ‘Jy’s bekommerd oor my? Hoe durf jy? Ek is die een wat my met die land bemoei. Ek is die een wat rondry en namens ons wonder of ons nog hier hoort. Jy is die een wat moed opgee en die regering die skuld vir alles gee, Pa. Jy is die een wat van ‘hulle’ praat. Is ek nie eintlik die een wat bekommerd moet wees nie, Pa?’
"Maar hy sê dit nie hardop nie, sê hy wel later in ’n ander gesprek vir sy pa, in reaksie op dié se vraag of daar nie ook goeie dinge in die verlede was nie: ‘Ons was nie net sleg nie, Pa. Maar ons verlang onsself op die oomblik in die onskuld in.’
Vir Du Preez is dit nie ’n boek "oor die politiek" nie. "Of ja, dit is eintlik, maar in die heel breedste sin van die woord; oor bleek- en Afrikaans-wees in vandag se Suid-Afrika. Maar nie op ’n selfbewuste manier nie.
"Snyman besoek die Snyman-stamvader, Christoffel, se plaas buite Franschhoek en gaan soek na die skoolmeisie van De Doorns wat glo babas maak vir ’n regeringstoelae. Hy gaan Pofadder toe om te gaan uitvra oor die bankroof aldaar. Hy slaap oor in die hotel op Daniëlskuil: ‘Teen die muur in die kamer, bokant die bed, is nog ’n ou hotelradio, een wat soos ’n kassie lyk, met reghoekige wit knoppies waarop staan: Afrikaans, Engels, Streeks. Nou gebeur niks wanneer ’n mens die knoppies druk nie.’
"Hy besoek Britstown, Vosburg en Carnarvon; hy soek na ’n ou Dreyer-boormasjien; hy vertel ons van die Datsun 1400’s, die Mazda 626’e, die Thames-lorries en die Chinese winkeleienaars wat lag en ‘baie dankie’ sê as die kinders hulle koggel met ‘tsjing tsjong tsja’; ook Kimberley, Koffiefontein en Lindley, waar ’n erge plaasmoord was. Maar hy gaan kuier ook in Masakeng, ’n township buite Polokwane, op Julius Malema se spoor; en in Nkandla, Jacob Zuma se tradisionele tuiste. Eers tydens sy besoek aan Bloedrivier kry hy dit reg om oor sy pa se dood te huil.
"Dis ’n fyn ding wat Snyman met hierdie boek doen – en ’n dapper een, en ’n tydige een. Met sy akute sintuie reis hy namens ons ‘in die geliefde land’; deur ons verlede, deur die koppe van ons mense, deur ons vooroordele en vrese, en hy doen dit met ontroerende eerlikheid, deernis en meelewendheid. Hy herinner ons daaraan dat ons hier hóórt."
In sy Nawoord skryf Snyman: "’n Mens kan nie 8 000 km deur dié land ry sonder om vol moed en geloof in die toekoms terug te keer huis toe nie. Ek sal hier bly woon, want ek kan nie anders nie."
In 2013 het Dana saam met Les Javan die produksie Hiervandaan op die planke gebring by die Vryfees in Bloemfontein waarin stories vertel word met musiek wat dit komplementeer. ’n Hele reeks toevallige gebeurtenisse het tot die ontstaan van hierdie produksie gelei. Les het ’n CD met die titel Hiervandaan uitgereik en kort daarna het Dana se boek Hiervandaan verskyn. Hulle het egter nie van mekaar se projekte geweet nie.
Dana het vir Hiervandaan navorsing gedoen oor die Snyman-familie. Hy het hul oorsprong teruggespoor na Solms-Delta, ’n wynplaas naby Franschhoek waar Les ’n inwonende kunstenaar is. En dit is waar hulle besluit het om die projek aan te pak. Les het aan Theuns du Buisson vertel dat die produksie gaan oor mense en menswees, asook waar hulle vandaan kom. "Dis amazing hoe mense se lewe kan crossover en jy nie eens daarvan weet nie."
Dana en die musiekgroep Klopjag het ook kragte saamgesnoer en was al verantwoordelik vir twee produksies van woord en musiek saam op die verhoog, naamlik Baby, as ek verby ry en Hier huil jy net twee keer. Albei bied ’n unieke reis deur ’n wêreld van agterpaaie, gastehuise, kroegies en vreemde dorpies vol karakters en stories.
Onder die radar: stories uit ons land word in 2013 gepubliseer. Dié titel kom uit ’n gesprek wat Dana en Valiant Swart gehad het. "Ek en Valiant het albei gereken dis ’n goeie naam vir ’n boek of ’n plaat, maar ek het hom nou voorgespring. Vroeëre weergawes van verskeie verhale in Onder die radar het al in Die Burger, By en Weg! Verskyn," vertel Dana aan Danie Marais (By, 9 November 2013)
Onder die radar word bemark as niefiksie en vir Dana is dit baie deurmekaar, aangesien die stories in hierdie bundel meer name bevat wat verander is. "Ek weet self nie eintlik wat om die goed te noem wat ek skryf nie. Maar ek dink ons lewe in ’n tyd waar mense wil hê die stories moet waar wees. En baie van die goed wat ek skryf, is waar."
Vir Charles Smith (Beeld, 17 November 2013) is Onder die radar ’n "bloemingwil mooi boek. Hierin skryf Dana oor die vergetenes en uitgeworpenes van ons dorpies: mekênieks, kroegmanne, boormanne en spoorwegmense toe die treinfluite nog trots oor dorpies weergalm het voordat hulle die netjiese stasies ingestoom het. Nou is dinge anders," skryf Smith. "En Dana is die buitestander wat terugkeer na sy grootworddorpe. Hy is die argeoloog wat met sy soeklig in die grot soek waar die Afrikaanse denkpatroon vir dekades geheers het – en nou verdwyn. Met sy pen lig hy die seil van die nuwe Suid-Afrika op en kyk wat ons was en dalk steeds is.
"Dana skryf met ontsettende deernis oor ons mense. Sonder oordeel. Omdat dit ons was en is. Sy speurreise die geskiedenis in is intense en belangrike werk. En dan lees dit soos stories. Die een oor die spoorwegmense ('Die weggegooides') is so ’n storie. Die ooms wat die treine laat hardloop het. Die roepmanne en die stokers – en dié wat deur die treine getrap is. Dit is kragtige joernalistiek."
In 2014 is Onder die radar genomineer vir die kykNET-Rapport Boekpryse in die Niefiksie kategorie. Op LitNet het Dana aan Naomi Bruwer genoem dat hy geseënd voel om saam met sulke gesiene skrywers vir so ’n prys genomineer te word. "Ek bedoel: Karel Schoeman – dit laat my voel soos ’n junior priester wat vlugtig in die teenwoordigheid van die pous kan wees. Dit alles gee my wankelrige selfbeeld tydelike troos."
Oor wat hom geïnspireer het om Onder die radar te skryf, vertel Dana aan Bruwer dat die boek ’n klomp losstaande vertellings van sy ondervindinge in "hierdie verdwaalde land" is. Hy skryf omdat hy eenvoudig net nie anders kan nie: "Ek hoop nie dit klink pretensieus nie. Ek kom uit ’n familie van ambagsmanne. Beide my oupas was motorwerktuigkundiges. My pa was ’n passer en draaier vir Yskor voordat hy gaan studeer het. Ek glo ek sit daardie tradisie voort: skryf is vir ’n ambag. Ek het ’n rekenaar vol woorde en met daardie woorde probeer ek iets skep wat – hoop ek – soms vir iemand anders van nut kan wees."
In Rapport-Boeke (1 Desember 2013) skryf Pieter-Louis Myburgh: "As Dana Snyman ’n karakter in een van sy stories was, sou letterkundiges ’n dieper betekenis aan sy van geheg het. Met die verhale wat dié bekroonde skrywer in Onder die radar opdis, sny hy immers oudergewoonte deur die ooglopende banaliteit van gewone mense se alledaagse bestaan.
"Snyman kry dit storie ná storie reg om Jan Alleman se lot in roerende eenvoud saam te vat en hy sny tot die been met sy raak beskrywings en onverbeterlike waarneming van mense. Die skrywer gaan soek sy hoofkarakters agter die skerms, langs die kantlyn en onder die radar. (...)
"Onder die radar is beslis nie die ligte soort leesstof waarvoor die skrywer aanvanklik bekend geword het nie. Dit is verhale van regte mense se pyn en vreugde, hul foute en deugde, dig verpak in die woordkunstenaar se gestroopte styl. Afrikaanse lesers kan hulle gelukkig ag dat Snyman nie volhard het met sy voorneme om ’n boorman te word nie."
Dana se volgende bundel "stories" verskyn in 2015 onder die titel In die blou kamp: Facebookstories. Hierin het Dana 96 kort sketse van sy Facebook-inskrywings sedert 2011 saamgebundel. Oor die blou kamp van die titel vertel Dana aan Murray la Vita (Volksblad, 22 Julie 2015): "Facebook is mos blou en jy jaag jou woorde daar in ’n kampie in. Ja, daai blou kampie wat ons ons woorde nou injaag, nè ...
Oor die ontstaan van die bundel vertel hy verder aan La Vita: "Deesdae moet jy bemark as jy boeke wil verkoop en Facebook is ’n goeie bemarkingsmiddel – mense wéét van jou; al skréi dit op ’n manier teen wat jy is ... Maar ’n ou is ook maar ydel, nè? Jy kyk maar na die likes. Maar mettertyd het ek tóg agtergekom daar begin ’n gesprek ontstaan tussen my en mense. Toe het ek nou begin om klein storietjies daar op te sit. Ek probeer heeltyd vir myself sê: Skryf wég van jouself af; dis nie oor jou nie; skryf oor iéts wat jy gesien het ... verkiéslik ménse; dit gaan oor húlle, nie soseer oor jou nie. EK kom toe agter daar begin ’n gesprek; ’n mens kry veral baie inbox-boodskappe ... hierdie ou vertel my dit en daai vrou vertel my dat. En toe begin ek sien hierdie ding is – behalwe nou vir die ydel kant van bemarking en die lekker voel oor die likes ... ek het ’n verskríkle ding oor stories, net om stories te deel ... Ek voel op ’n manier soos ’n sendeling, as dit nou nie te pretensieus klink nie ... van om net mense se stories te vertél, en dit word al hoe sterker in my."
In Rapport (26 Julie 2015) skryf Jacques Myburgh dat Dana nie in sy inskrywings sanik oor die land en sy ellendige toestand nie, maar eerder probeer sin maak uit die digitale wêreld deur op ’n nostalgiese manier daaroor te skryf. In die voorwoord tot sy boek het Dana geskryf: "Ek het min of meer net een maatstaf: Met alles wat ek op Facebook skryf, probeer ek iets van myself en hierdie land en ons verlede aan myself verduidelik en dokumenteer en terselfdertyd met mense daaroor in gesprek tree."
In die blou kamp herinner Rudie van Rensburg (Volksblad, 27 Julie 2015) aan een van sy kinderdrome – "’n rit deur Lekkergoedland. Op elke tweede bladsy deel Snyman ’n lekker uit, soms stroopsoet, maar ook hier en daar ’n taai toffie of ’n suur suiglekker. Sy vermoë om uit die nietigste gewaarwording ’n pragstorie op te tower, verstom ’n mens keer op keer. (...) Koop In die blou kamp. 'Dis soos in amazing," sê dié Dana-aanhanger."
Dana bevind homself as ’n televisiester toe sy program, Op pad met Dana, vanaf 22 Februarie 2016 op VIA op DStv uitgesaai is. Vir die maak van hierdie program het hy saam met ’n televisiespan (Niel van Deventer, die vervaardiger, Charlenè Brouwer, die regisseur, Christiaan Scheepers, redigeerder en kameraman en Leon Human, kameraman) van dorp tot dorp deur die land gereis. Dana se indrukke en ervarings is op kamera vasgevang.
Vir Dana was die grootste uitdaging van die program om gewoond te raak aan die kameras wat hom oral agtervolg, het hy aan tvplus (17 Februarie 2016) vertel. "Ook was dit nogal moeilik om die kopskuif te maak dat die kameras my visuele rol as skrywer oorneem. Maar dit bring ook ’n nuwe dimensie aan die manier waarop ek reis."
Dit was nie maklik vir Dana om te sê wat uitstaan van die mense wat hy op sy reise ontmoet het nie, aangesien hy nie mense sommer wil tipeer nie. Maar wat hy wil sê, is dat "onse mense, swart, wit, bruin, is almal menslike mense. Dis al. Dis hoe dit is."
Hy hoop kykers kyk na Op pad met Dana en "hopelik gryp die land die kykers aan, soos die land en sy mense ons aangegryp het. In ’n sekere sin was die kameras toevallig by. Dit is ’n eerlike reis."
Hulle het aanvanklik beplan om van Jacobsbaai noord te ry, tot by Polokwane, maar, vertel hy aan Charlea Sieberhagen (Beeld, 3 Maart 2016), "ons roete het al by Touwsrivier verander. Toe het ons maar net begin ry en goed gevolg. Mense he ook vir ons op Facebook van mense en plekke gesê.
"Alles het vinnig gebeur en ons het in Januarie begin verfilm. Ek het toe maar net besluit ek gaan doen wat ek doen. Ek gaan nie nuwe klere koop nie. Ek wou nog gewig verloor, maar daar was nie eens tyd daarvoor nie.
"Ek het op die reis besef mense is desperaat vir hoop. Ek dink in Suid-Afrika begin mense elke dag van vooraf. Jy moet wéér besluit jy gaan nie ’n rassis wees nie. Jy moet jou elke dag weer motiveer en vir jouself sê die meeste mense is goed en wíl vrede hê. En die meeste mense ís goeie mense."
Dana verduidelik aan Sieberhagen dat wanneer mense aan hom dink, dink hulle aan verhale met ’n nostalgiese inslag. "Ek dink mense dink dalk ek gaan deur die land reis en na plekke toe gaan en terugverlang na die verlede. Ek dink party mense verwag dalk ’n nostalgiese reis deur die land. Ek hét baie respek vir die verlede, maar dit is definitief nie wat dit is nie. Ek wys mense die hier en die nou, die gewone mense en hul stories."
Dana se volgende boek is Op pad: ’n reisjoernaal wat in 2017 gepubliseer is. Dit is gegrond op sy gelyknamige televisieprogram. In die eerste deel van Op pad vertel hy van sy reise in die binneland van Suid-Afrika wat hy onderneem het vir die televisieprogram en in die tweede deel, wat ietwat korter is as die eerste deel vertel hy van die Wêreldbekerrugbytoernooi van 2015 en hoe hy dit ervaar het. Hiermee grawe hy in die binneste van ondersteuners van die Springbokke en ook diegene in Suid-Afrika wat die All Blacks ondersteun.
Vir Charles Smith (Beeld, 21 Augustus 2017) is dit ’n boek op soek na hoop, "maar dit was vir my met die lees meer ’n reis na die siel. Dana worstel met homself, met gebed, sy Afrikanerskap en sy plek in die land. Hy ry deur ’n land van armoede en hoop. Die desperate stemme. Die leë gesigte. Die wanhoop, skryf hy. (...) As lees kan help met genesing, is Op pad ’n uitsonderlike gids."
Jeanne Henning-Els (Rapport, 10 September 2017) skryf dat Dana al lank bekendstaan as een van Suid-Afrika se "eerlikste en deernisvolste" skrywers. "Hy sleur sy leser mee op emosionele binnereise met sy vertellings oor mense, diere en plekke. (...) Met sy eerlikheid dwing Snyman sy leser tot nadenke. Sy opstandige gesprekke met sy oorlede pa ontroer, so ook die liefdesband tussen hom en ’n brandsiek, mishandelde hond. Snyman beskryf mense, gebeure en emosies so helder dat die gryswit foto's in sy boek oorbodig is. Hoe is dit dat ek Op pad in een sessie deurgelees het? ’n Skryfkunstenaar is aan die woord en sy niefiksie lees soos prosa."
Ook Willie Burger is vol lof, nie net vir Op pad spesifiek nie, maar vir Dana se skryfwerk in die algemeen. Hy sluit sy resensie in Vrouekeur van 13 Oktober 2017 af: "Snyman is ongetwyfeld een van die gewildste Afrikaanse rubriekskrywers. Dit is dalk die rede waarom hy soms nie ernstig genoeg opgeneem word nie. Hy het so half ’n reputasie as die volkstem, die draer van melancholie en nostalgie – hy sien homself ook as ’n 'rugbyondersteuner wat besorg is oor die land' eerder as iemand wat met behulp van Franse filosowe se werk-insigte kan probeer formuleer. Maar hy is veel meer as ’n melancholiese rugbyondersteuner met ’n gawe vir nostalgie. Hy dink fyn na, weier die eenvoudige oplossing, behou die kompleksiteit, registreer die lewe in die fynste besonderhede en konfronteer lesers sodoende met die verlede, met skuld en met die hoekom-vrae op ’n soortgelyke manier as wat akademici en navorsers dit in moeilike boeke doen. Snyman se werk is egter ook vir die meeste rugbyondersteuners verstaanbaar. En daarvoor behoort hy eintlik groot pryse te ontvang."
In 2006 kom Dana met ’n toneelstuk vorendag. Die uwe Pottie Potgieter is binne twee weke geskryf om die sperdatum vir die Aardklop Kunstefees se voorleggings te maak. Dana vertel: "Frank Opperman bel my eendag en sê hy wil hê ek moet vir hom iets skryf. Ek dog toe – okay, hier’s ’n kans al het ek nog nooit voorheen ’n toneelstuk geskryf nie. Ek het aanvanklik gesukkel om idees te kry. Ek het maar so op my bed gelê een aand toe ek om een of ander rede dink aan 143. Eenhonderd-drie-en-veertig werksonderhoude – dit was my eerste gedagte vir Pottie. Die res het maar gevolg." Die stuk word aangewys as die naaswenner van die AngloGold Ashanti-Aardklop-Smeltkroesprys vir nuutgeskrewe tekste. Dana het al na homself verwys as "die enigste lid van Frank Opperman se skryfskool".
In sy resensie skryf Theo Kemp: "Die grootste lof kom Snyman toe deurdat hy met hierdie debuut ’n stewige en ware greep op die Afrikanerpsige het, sonder om dit te probeer verpolitiseer of die een of ander ideologiese stelling in te neem. Hy slaag ook daarin dat die kyker enersyds lagkry vir homself of met die bekendheid van die situasie, en andersyds vir kwessies waaroor hy nie normaalweg sou lag nie. En juis hierin is die sukses van die stuk opgesluit."
In 2008 word Die uwe, Pottie Potgieter opgevolg met Wyk 14. Weer is Dana die skrywer en Frank Opperman die akteur. Pottie voel in die stuk ’n mens moet betrokke raak by jou omgewing en stel hom verkiesbaar in ’n munisipale wyk, wyk 14. Frank Opperman vertel aan Elretha Britz dat hy in die proses sy lewe ondersoek en wonder of ’n mens moet ry of bly.
Hierna skryf Dana nog ’n eenmanstuk vir Frank Opperman getiteld Rooikaart. Die karakter in Rooi kaart wat Dana vir Frank geskep het, is Wally Koekemoer. "Wally is glad nie soos Pottie Potgieter nie. Hy is nie baie gaaf nie," het Opperman vertel. "Hy is die president van die rugbyklub en het baie geraamtes in sy kas. Die stuk speel af by die prysuitdeling van die rugbyklub. Wally behartig die prysuitdeling en doen sy bes om alles bymekaar te hou, ten spyte daarvan dat die meeste van die spelers nie opgedaag het nie."
Dana, Opperman en Gys de Villiers, die regisseur, was al drie baie in hul skik dat rugbyspelers Rooikaart geniet het. "’n Mens kry hierdie ouens in die regte lewe," het Dana gesê. "Hy is ’n kansvatter, ’n self-made man. Ek is opgewonde oor hom. Met die verandering van karakter het ek vir die eerste keer gesien hoe ’n uitstekende akteur Frank is. Daar is net geen ooreenkoms tussen Pottie en Wally nie. Ek is nie ’n rugby-ou nie, maar ek hou daarvan om rugby-ouens dop te hou. Dis maar hoe ek vir Wally gevind het."
Oor die samewerking tussen Dana en Frank het Frank vertel: "Ek en Dana werk lekker saam – vir so twee dae. Op die derde dag val alles inmekaar. Maar ek dink ons is ’n goeie span. Ons leer graag by mekaar. Toe my ma die stuk die eerste keer gesien het, het sy gesê alles lyk vir haar baie bekend."
Dit is die vierde produksie waaraan dié span saamwerk. Na Die uwe, Pottie Potgieter en Wyk 14 was daar die televisiereeks oor Pottie Potgieter. "Ek is besonder chuffed met Wally," sê Dana. "Ek het baie geleer uit foute wat met Pottie gemaak is. Ek het ná hom besluit dat ek totaal iemand anders op die verhoog wou sien. Wally is doelbewus nie ’n baie likeable persoon nie. Tog is dit ’n menslike verhaal."
Die televisiereeks is in opdrag van SABC2 gemaak en vir die skryf daarvan het Dana hom vir vier maande op Greyton gaan afsonder om daaraan te skryf. In die televisiestuk is daar vyf karakters wat almal middeljarige mans is wat by die huis sit. Hulle het vrede gemaak met hul situasie en nou sit hulle maar allerhande planne en maak, vertel Dana. "Daar is ’n bietjie van John Steinbeck se Cannery Row in die stuk. Die skrywery was egter makliker gesê as gedaan. Dis lekker om voltyds te skryf. Aan die anderkant is dit lekker uitdagend."
Dana het nie geweet hoe hy deur die skryf van die televisiereeks sou kom nie, "want jy sit met vyf karakters en jy sit met ’n begroting en jy sit met drie vertrekke. En al daai goed moet in daai drie vertrekke afspeel. En dit moet gesinsvermaak wees. Ek kan vir jou sê hier teen die middel raak ’n mens desperaat."
In 2014 span Dana en Frank Opperman weer saam met ’n solovertoning getiteld Die klaagliedere van ds Tienie Benade met Gerrit Schoonhoven as regisseur. Dit vertel van ’n Afrikaner-dominee in ’n tyd wanneer mense nie meer so gereeld kerk toe gaan nie. En weer is dit ’n sukses, met Frank wat aan die ontvangkant was van ’n Fiësta vir Beste Solovertoning in 2015. Selfs predikante het gesê dat die stuk baie raak vat.
Op die hakke van Ds Tienie kom Dana in 2016 met Hond vorendag en weer is dit ’n solostuk met Frank as die hoofspeler en Gerrit Schoonhoven weer as regisseur. Dit het by die Innibos Fees op Mbombela gedebuteer. Dana se teks gaan oor ’n joernalis wat op vryskutbasis vir Huisgenoot skryf en wie se hond dan siek word. Die joernalis moet ’n storie skryf oor ’n gesin wat in die parkeerarea van ’n mall in ’n Toyota Camry woon. Maar dan word hy deur Rapport gescoop. Toe word hy aangesê om ’n storie te skryf oor sy hond wat aan die doodgaan is. "Dit vertel die storie van ’n ou wat nooit huil nie, maar nou ’n breakdown kry. As jy Hond sien, gaan jy hardop lag terwyl jy huil," sê Frank vir Jaco Nel (Rapport, 19 Junie 2016)
Dana het aan Nel gesê dat die vorige stukke meer "goodie-goodie" was. Hy het self vier honde en skryf ook vir Huisgenoot.
"Dié keer is die humor donkerder en die storie is baie meer rou. Dit gaan oor een groot deadline op die ander wanneer ’n mens nie eens regtig die tyd kry om jou eie hond in vrede uit te sit nie. Ek en Frank werk teen dié tyd al soos ’n geoliede masjien. Ons het goeie vriende geword. Ons praat heeltyd oor die soort karakters wat ons skep en ons selfoonrekenings is ’n nagmerrie. Ons dink presies dieselfde, en daarom weet ek elke keer Frank gaan hierdie karakter lewe gee."
Dana sien homself as ’n gewone man – hy kyk rugby (’n WP-ondersteuner), drink J&B en soda, en raak soms depressief. Hy hou van Seinfeld en kyk graag BBC en die geskiedeniskanaal op DStv. Hy het al drie keer die Comrades-marathon gehardloop en kan nie verstaan dat mense die Comrades en die Argus-fietswedren in dieselfde asem kan noem nie. Hy is lief vir Afrikaanse musiek (hy hou van Gé Korsten), eet graag Woolworth’s se kos en koop sy klere by Mr Price.
In Februarie 2008 is Dana getroud met Naomi Herselman, ’n direkteur van New Media Publishing in Kaapstad. In Sarie van Maart 2008 vertel Dana aan Charis Labuschagne dat om eerlik te wees hy nie gedink dat hy óóit weer gaan trou nie. "Ek het my verhoudings gehad, ja, en was in my 20’s kortstondig getroud, maar in my hart was ek nog altyd op pad, ’n bietjie crazy. Toe ontmoet ek Naomi. Of liewer: leer ken ek Naomi op ’n ander manier, want ons het mekaar ’n stuk of vier jaar gelede al ontmoet. En nou het ons mekaar gekry. Ek hou van Naomi, want sy is anders as ek. Sy onthou waar sy haar motorsleutels neergesit het. Sy kan met Telkom fight en weet hoe om bouers te hanteer. Ek hou van vroue wat sterk genoeg is om sag ook te kan wees. Naomi is een. Sy is mooi en sexy en lojaal en vrygewig."
Naomi vertel: "Hoekom nou? Dalk omdat vir die eerste keer reg voel. Daar’s steeds geen waarborge nie, maar soos Dana eenkeer gesê het: ‘Ek sal eerder Alzheimersiekte saam met jou kry as met enigiemand anders. [...] Ek en Dana verskil soos dag by nag. Hy’s stil en ek hou van gesels en mense; hy lees kompulsief, hou nooit op nie, ek lees graag, maar met meer balans. Hy leef in sy kop en ek is oop en voorspelbaar. Maar ons deel ook dieselfde liefdes. Ons hou van oop paaie, die Karoo, Namibië, van net in die kar klim en die pad vat. Dana het ’n sin vir humor en goeie maniere. Hy’s intelligent. Ek respekteer hom en dis belangrik."
Dana en Naomi is later geskei.
Dana, Kabous Verwoed en Bacchus Nel stel in 2007 ’n vertoning saam getiteld Langpadstories. Dana vertel stories oor boere, boemelaars, swanger kroegmeisies en ’n ou wat 42 keer na mekaar na Steve Hofmeyr se liedjie "Pampoen" geluister het. Tussendeur sing Bacchus Nel oor die langpad se vreugde en verdriet en Kabous lees poësie voor – die ongelooflik mooiste woorde. Al drie deel hul woorde van alleenheid, misdaad, die dood en alkoholisme. "Dit is nie ’n swaar en ernstige vertoning nie, maar ook nie lighartig en laf nie. ’n Mens lag wel, soms voel jy bietjie hartseer en aan die einde voel jy beter oor die lewe in die algemeen en oor Suid-Afrika in besonder."
Erkenning vir Dana as joernalis en skrywer bly nie uit nie. In 2005, tydens die jaarlikse Mondi-kompetisie, word Dana in die kommentaar-kategorie bekroon vir sy Hans Wallaby-artikel oor die omstrede vleuel Clyde Rathbone. In hierdie artikel is Dana se tipiese satiriese aanslag en sy fyn sin vir waarneming duidelik sigbaar. Hy verwoord ook liefhebbers van Suid-Afrikaanse rugby se wrewel omdat Rathbone wat ’n Suid-Afrikaner is, vir die Aussies gaan speel het en dit dan boonop só geniet. Hy het weer, soos al baie maal in die verlede, die lesers van sy artikel gedwing om op sy uitgesproke mening te reageer.
In 2005 en 2006 ontvang Dana die ATKV–prys vir gedrukte media in die kategorie vir tydskrifjoernaliste. Hierdie prys word toegeken aan joernaliste wat deur middel van die gedrukte media die meeste gedoen het om ’n kreatiewe bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur te lewer. Die beoordelaars was Susan Samuel, Lizette Rabe en Harald Pakendorf. Van die beoordelaars het gesê Dana se portefeulje verteenwoordig "van die beste skeppende werk wat tans in ons media gesien word – en nie slegs in Afrikaans nie". In 2007 haal hy ook die kortlys vir die Jan Rabie/Rapport-prys vir nuwelingskrywers van prosa.
In 2008 wen hy die gesaghebbende Pica-toekenning vir Reisskrywer van die Jaar. In 2012 verwerf hy ’n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie rubrieke vir die verhaal van Rooikappie in SMS-taal wat in Die Burger en Beeld verskyn het – ’n prestasie wat hy in 2013 herhaal toe hy weer ’n ATKV-Mediaveertjie ontvang vir beste rubriekskrywer. In 2011 het hy ’n Mondi-koeranttoekenning in die afdeling artikelskryf ontvang vir "Ons roep hom Sello" oor Julius Malema se kinderjare. Hy is ook aan die ontvangkant van die Cordis-Trust Goue Pen-prys in 2011 saam met enkele ander mense. In September 2018 was Dana die aanbieder van die jaarlikse slypskool van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV).
Dana vertel van sy gunstelingboek The Snow Goose deur William Fiennes. "Ek weet nie van ander mense nie, maar ek kry so ’n verdrietige, woordelose verlange as ek iewers staan en wilde ganse of eende, selfs hadidas, vlieg in formasie verby. Net om daardie rede het ek dié boek gekoop, want volgens die omslag het Fiennes agter migrerende sneeuganse aan gereis. Hier is ’n bloedbroer, het ek gedink. Hy kry ook daardie gevoel wat ek kry. [...] Hy beskryf die reis, maar hy probeer ook woorde kry vir daardie woordelose verlange wat ouens soos ek en hy ervaar wanneer ons wilde voëls die ooptes in sien vlieg. [...] Ek is nogal ’n obsessiewe leser: Ek lees ’n boek, of gedeeltes daarvan, obsessief oor. Met hierdie een doen ek dit knaend, want dis deksels mooi en sintuiglik geskryf ook. Op ’n manier het my jaar ook verloop soos daardie migrerende sneeuganse se tog: al verder weg van waar ek was, hopelik al nader aan daar waar ek wil wees."
Hoewel Dana lig reis, is daar sekere goed waarsonder hy nie reis nie. In 2012: "Soms pak ek nie genoeg klere in nie, dan koop ek langs die pad vir my iets nuuts. Ek sorg altyd dat ek my kamera het, en ’n notaboek, en genoeg boeke om te lees. Ek het ’n dierbare ou Mazda-bakkie, ’n 4x4, maar ek is nie ’n perd wat glo aan allerhande bybehore nie. Jy sal nie sommer ’n leë jerry can op my dak sien nie. Deesdae sukkel ek om sonder my meisie, Ingrid, op reis te gaan. Wanneer sy saamgaan, moet allerhande muskietuitwissingsapparate saamgaan. Sy verander in Genghis Khan wanneer sy ’n muskiet sien. Sy het so ’n raket-ding waarmee sy muskiete doodskok, gewetenloos. Ek het vir haar ’n toestel gekoop wat seine uitstuur en muskiete waarsku: ‘Gevaar. Danger. Nkosi. Julle betree die gebied op eie risiko. Vat julle angels en vlieg in ’n ander rigting as jy wil bly leef.’" (aan Riëtte Grobler, Beeld, 12 Mei 2012)
Dana se groot liefde is sy drie honde, Jerry, Kleintjie en Vlooi. Jerry en Kleintjie is township-honde. Hy het hulle gekry by mense wat honde uit die townships red. Jerry is van Du Noon, ’n township naby Milnerton in die Kaap, en hy dink Kleintjie is van Khayelitsha in die Kaap. Jerry is vernoem na die sportkommentator Jerry Schuitema: "Kyk, hy lyk nogal so ’n bietjie na hom," vertel Dana vir Kirby van der Merwe. "En sommer ook na daai ander Jerry: Jerry! Jerry! Jerry! Springer. Kleintjie Grobler is net Kleintjie." (Beeld, 1 Maart 2009)
Dana bly tans op Jacobsbaai aan die Weskus. Oor hierdie keuse sê hy: "Ek het al baie rondgery in my lewe en dié plek is die beste plek. Ek like die Karoo en ek like die see. Wat ek like van die Weskus, is: dis die Karoo by die see. Ek dink nie ek gaan ooit hier wegtrek nie. Ek is nou ’n Weskusklong. Worsie Visser reincarnated."
Nadat hy Jacobsbaai gesien het en besluit het om daar te bly, het Dana dadelik bedank as voltydse joernalis by Weg!, sy pensioengeld gekry en daar gaan bly. "Die Weskus is mos eintlik nie ’n mooi wêreld nie. Ek weet nie hoekom ek tot sulke goed aangetrokke is nie, maar ek geniet ’n country song."
Behalwe sy honde bly Johannes-hulle by hom. Hy verduidelik aan Anika Marais (Volksblad, 12 Augustus 2013): "Johannes het my pa opgepas. My pa is oorlede. In April (2013) sal dit nou twee jaar terug wees. My pa het op Ventersdorp gebly. Hy was maar ’n armgat. En daar was nie regtig iets wat ek vir Johannes kon gee nie. Hy het my pa teen die einde van sy lewe toilet toe gevat. Toe ná my pa se begrafnis kon ek nie vir Johannes daar los nie. En toe het ek hom nou maar Jacobsbaai toe gebring, want daar is nie werk vir hulle daar bo nie.
"En nou is hy so ’n wenner op Jacobsbaai," sê Dana trots. "Hy het ’n lisensie en hy ry die mense se kinders skool toe en hy is net hierdie fantastiese man. Maar toe verlang hy na sy vrou. Toe sê ek vir hom: ‘Ag jirre, bring nou maar vir Lettie ook.’
"Toe bring hy vir Lettie, maar daar is nie werk vir Lettie in Jacobsbaai nie. Lettie het natuurlik dadelik charge van die huis gevat soos ’n moeder. En toe onthou ek Lettie het vir my pa ’n lappieskombers as ’n geskenk gemaak. Toe vra ek vir haar om vir my so ’n lappieskombers te maak en dan sal ek kyk of ek dit vir haar kan verkoop. Toe adverteer ek dit op Facebook en toe kry ons skielik sommer ’n klomp bestellings. Nou sit sy en lappieskomberse maak.
"Maar nou het sy ’n seun Koos wat verstandelik gestremd is. So Koos is ook nou daar op die werf. Jirre, dis verskriklik daar by my. Maar ons lewe nie haglik nie. Ons lewe mooi. Ek het ’n mooi huis.
"Toe sê Lettie haar boetie kan goed met masjiene werk. Nee, okay, laat ons die boetie ook afbring. En toe laat ons vir Moses afkom om ons uit die Egipte van komberse te lei. Toe kom hy nou. Hy het met die bus afgekom na die Kaapse stasie. Jirre, ek sal daai dag nooit vergeet nie. Daar klim hy van die bus af met ’n ou naaimasjien en ’n sak met klere. Dié ou wat nog nie eers in Johannesburg was nie. En toe gaan wys ons hom die eerste keer die see. Hy is fantasties. Hulle maak nou komberse daar by my en hulle kry nou meer geld as wat hulle ooit vantevore gekry het."
Hy vertel hoe baie Johannes, Moses, Lettie en Koos vir hom beteken het ná sy vriendin hom gelos het. "Ek was in my moer. En hulle het my aan die gang gehou. As dit nie vir hulle was nie, het ek êrens gedryf in water. Moses het letterlik by my op die bed kom sit en my hand vasgehou."
Dana skryf deesdae voltyds. Sy stories verskyn gereeld in koerante en tydskrifte en dis juis as gevolg daarvan dat Dana nie altyd na waarde geskat word nie, het Abraham de Vries aan Danie Marais (Beeld, 9 November 2013) gesê. Vir De Vries is Dana een van die beste kortverhaalskrywers in Afrikaans.
"Ek waardeer sy woorde geweldig," sê Dana aan Marais. "My selfvertroue is soms maar laag. So iets van iemand soos hy laat my aanhou. ’n Mens hoop maar jy kan in die toekoms nog ’n propperse kortverhaalbundel of ’n roman of wat ook al skryf om te bewys jy kan bo rubrieke uitstyg.
"Ek staan in die algemeen bekend as ’n ‘bekroonde rubriekskrywer’. Om een of ander rede as jy in 1972 ’n prys vir ’n rubriek gekry het, dan bly jy ’n ‘bekroonde rubriekskrywer’. Eintlik skryf ek hopeloos te veel rubrieke, maar ek skryf om oorlewing. Ek het nie die luukse om ’n universiteitsalaris te trek en te skryf wanneer ek wil nie."
Teenoor Marais meen Dana dat dit dalk is omdat hy goed uit die verlede verwoord dat mense hom met die ou dae verbind, maar vir hom is nostalgie ’n baie gevaarlike ding. "Ek wil nooit weer in 1985 wees nie. Dis PW Botha, die noodtoestand. En daai tyd het ons ook inry-bioskoop toe gegaan en by padkafees geëet, maar ek kan nie dink dat ek al ooit ’n suiwer nostalgiese storie geskryf het wat nie ’n draaitjie aan die einde het nie. Soms voel dit vir my of mense die einde van my stories mislees.
"Ek was nie en ek sou amper nie ’n skrywer kon gewees het in die ou Suid-Afrika nie. As jy daai selfde goed tóé geskryf het, sou dit half ’n vorm van opsweping gewees het. Maar nou is dit, nabetragtend beskou, ’n soeke na self, na wie ons is."
Dana meen dat die Afrikaners baie hard probeer om te versoen. "Mens kan sulke goed nie meet nie, maar in terme van die bevolkingsgroepe in die land, wonder ek of daar mense is wat harder as die Afrikaners probeer. Baie keer is dit krom en skeef en paternalisties, maar hêng, die ouens probeer."
In ’n onderhoud in die gewese Insig het Dana gesê hy dink Bruce Springsteen is ’n groot Afrikaner en hy voel steeds so en kan nie wag om een van sy konserte in Suid-Afrika by te woon nie, vertel hy vir Danie Marais: "Springsteen gaan oor daai besef dat jy in ’n landskap lewe waar alles nie verloop soos jy graag wil dit moet nie, en jy jou dan aanpas, ten spyte van. En in daai stryd om jou aan te pas, ten spyte van, maak jy f**ops."
Vir Dana, as ’n teruggetrokke mens, is dit nogal soms moeilik as soveel mense met hom wil gesels asof hulle ou vriende is. Hy erken teenoor Marais dat hy nie veel vir homself te sê het nie. "Ek’s ’n skrywer, nie ’n prater nie, maar die mense is vriendelik. En ek is dankbaar daarvoor. Dit doen my swak selfbeeld goed as mense met my wil praat oor my. ’n Swak selfbeeld is ook maar die Swart Hond se skaduwee."
Dana was die gesig van die Hike for Hope, toe daar gestap is om mense bewus te maak van die stryd teen depressie. Hy praat met respek van die Hond. "Eish, hy’s by my deur. Hy lê daar voor sy ketting. Ek leer die ou nou ken. Probeer met hom sake beding. En hoe meer ek daai Swart Hond leer ken, hoe meer besef ek, jy kan die ou miskien bietjie rustiger kry op verskillende maniere, maar alles dui daarop dat hy maar deel is van jou, dat hy in jou spoor trap, soos Van Wyk Louw sê."
Dana voel baie sterk oor die destigmatisering van depressie, vertel hy aan Danie Marais. Terwyl hy grootgeword het, was daar altyd op verskillende dorpe ’n tannie wat "aan haar senuwees gely het". Sy ma het ook aan haar senuwees gely. "So, as ek enigsins met die bewusmaking daaromtrent kan help, sal ek, maar dis steeds nie maklik vir my om te sê nie.
"En omdat ek grootgeword het in ’n gemeenskap wat geen erkenning daaraan gegee het nie, voel dit steeds of iemand vir my sê: ‘Man, ruk jou reg! Jy’s eintlik maar net ’n slapgat. Daarom lê jy 9:00 nog in die bed.’"
Aan Sarie het Dana gesê dat hy hoop om met sy werk mense aan te raak. Hy het geen literêre ambisies nie, ’n mens kan in sy hart inkyk. En hy hoop ook dat mense begin besef daar is nie maklike oplossings vir belangrike kwessies nie. "Ons lewe in ’n tyd van kitsoplossings: As jou maagspiere verslap, koop ’n abflex. As jy nie meer van jou land hou nie, kry ’n nuwe een. Ek het hoop vir Suid-Afrika, dit word bevestig deur ’n klomp dingetjies wat ek sien. Daar is drie dinge: geloof, hoop en liefde – en die grootste hiervan is die hoop."
Oor boeke, fiksie of niefiksie, wat Dana gereeld herlees, vertel hy aan Naomi Bruwer op LitNet dat hy gereeld DJ Opperman se Ballade van die Grysland herlees: "Ek het selfs al een aand vir Eugene Terre'Blanche gevra om dit vir my voor te dra. Hy het die hardop geken. Dit was drie-uur in die oggend en ek en hy het in die donker by sy Nissan-bakkie voor die Ventersdorp Hotel gestaan."
Dana het nog nooit enige geheim daarvan gemaak dat hy ’n stryd voer teen depressie nie. Hy is een van die ambassadeurs van The Hope Hike, ’n jaarlikse pretstaptog om geld vir die bewusmaking van depressie as chroniese mediese toestand in te samel.
Vir Dana is dit ’n volgehoue stryd teen depressie en behalwe medikasie is dit vir hom goed om met sy drie honde te gaan stap: "Ek dink dit is simbolies dat The Hope Hike juis ’n staptog is. Dit is ’n simbool dat jy treë vorentoe gee."
Dana en Anette Roberts van Bloemfontein het mekaar in Januarie 2017 op Jacobsbaai ontmoet en in Junie het hy haar by Boerneef se Pramberg gevra om te trou. Hy vertel aan Nadine Theron (Volksblad, 27 Junie 2017) dat dit lewensveranderend is: "Dis wonderlik, ek het nie gedink so ’n liefde sal ooit met my gebeur nie, dis regtig ’n groot ding ... daar is soveel clichés."
Op Facebook het Dana geskryf oor hoe dit voel om op ’n middeljarige leeftyd weer verlief te wees: "Een van die voordele van verlief-en-lief-raak in jou middeljare, is jy het nie meer illusies oor live-happily-ever-after nie. Jy weet live-happily-ever-after is genade, live-happily-ever-after is geduldig, live-happily-ever-after is vriendelik, live-happily-ever-after is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, live-happily-ever-after is nie verwaand nie, handel nie onwelvoeglik nie, en soek nie sy eie belang nie. Live-happily-ever-after bedek alles, hoop alles, glo alles, verdra alles."
En toe, op 4 Oktober 2017 twee maande voordat Dana en Anette op 9 Desember sou trou, het Anette haarself vergas. In ’n briefie wat sy nagelaat het, het sy geskryf: "Alles is te veel. Ek is jammer. Liefde, Anette." Sy laat haar twee dogters, Lumien en Simoné, en ’n seun AJ agter. Sy is veras en haar roudiens was op 9 Oktober 2017 in Bloemfontein.
Dana het aan Murray la Vita en André Damons vertel dat sy ’n "diep ding" in haar gehad het wat net "oorgeneem" het. "Al wat ek kan sê, is ek kan nie iets sê nie," het Dana voortgegaan. Dit is verby hartseer; dit is verby skok ... dis verby skok. (...) Dis depressie waarvan ’n mens nie weet nie. Dis amper ’n flippen cliché dat mense sê depressie is ’n verskriklike ding ... partykeer wéét mense nie ’n ander mens is depressed nie."
Anette se pa het vroeg in Desember 2017 homself in sy motor in Marlothpark, Mpumalanga vergas.
Ná Anette se selfdood het Dana besluit om op die dag wat hy en Anette sou trou ’n konsert te hou by die Kontrei Keffie op Jacobsbaai. Gian Groen, Gert Vlok Nel, Wouter van de Venter, Stefan Burger en Les Jovan het by die konsert opgetree. Johan Bakkes was die seremoniemeester. In minder as ’n week was die konsert volbespreek. Toegang was gratis en die konsert is ook regstreeks op Netwerk24 uitgesaai.
Dana het die konsert op Facebook aangekondig: "Iets goed moet uit al die verdriet kom ... en hierdie is die begin van ’n projek wat ek iewers in die nuwe jaar mee wil begin. Om mense veral van bipolêre depressie bewus te maak. Ook om almal wat iemand deur selfdood verloor het, te probeer help en by te staan ... Al die dinge prut nog in my kop. Maar ’n mens moet iewers begin. So, as jy op 9 Desember kan of wil, kom huil en lag saam."
Tydens die konsert het Dana gepraat oor hoe sy drome oor sy troudag versplinter het. Hy het ook ’n gebed aan Anette opgedra.
Dana het reeds in Desember 2017 sy huis op Jacobsbaai verkoop en hy het in April 2018 na Kaapsehoop in Mpumalanga getrek. Hy vertel aan Hanlie Retief (Rapport, 10 Desember 2017) dat dit tyd is vir nuwe hoop: "Mens moet hoopvol lewe. Ek is 55. Ek was nog nooit ambisieus nie, maar die 15, 20 jaar wat oor is, wil ek iewers help. Ek is nie gekwalifiseerd nie, maar ek kan vloere vee, ek kan luister. En ek sal maar altyd skryf ..."
Na Anette se dood het hy besluit op ’n koersaanpassing. Sy vriendskap met die skrywer Annemarie van der Walt, wat al 14 jaar lank op Kaapsehoop woon, kom ’n lang pad. Dit het begin in die dae toe hulle albei saam by Beeld gewerk het. Sy het een deel van haar huis aan Dana beskikbaar gestel en hy en sy vier honde het die lang pad van die Weskus af aangedurf om op Kaapsehoop te kom nes skrop.
"Ek het wonderlike herinneringe aan Jacobsbaai, maar dit is ’n fase in my lewe wat ek wou afhandel. Ek het oor die jare baie op Kaapsehoop kom kuier en my en Annemarie se vriendskap is ’n konstante vriendskap wat oor jare strek. Die plekkie het my al met my eerste besoek bekoor, want ek is mos nie iemand wat in ’n stad kan bly nie. Selfs Nelspruit is te groot vir my. Ek het ’n kleindorpmentaliteit, want ek het grootgeword op klein dorpies soos Daniëlskuil in die Noord-Kaap. Kaapsehoop het in die paar maande op my kom groei. Dis heerlik omdat hier soveel plekke is waar ek met die honde kan gaan stap. Dit is nie eers nodig om hulle in ’n bakkie te laai nie, want daar is lekker staproetes reg rondom die dorp." (https://afrikaans.com/leefstyl/n-nuwe-staning-vir-dana/)
Dana het later in 2018 weer terug Weskus toe getrek.
Publikasies:
Publikasie |
Uit die binneland |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0798144858 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Sketse |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Anderkant die scrap |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0798147148 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Sketse |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Op die agterpaaie |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780624043522 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Sketse |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels onder die titel On the backroads |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Op die toneel: stories, reise en stemme |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780798151214 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Sketse |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Hiervandaan: op reis in die geliefde land |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780624053187 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Reissketse |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels vertaal deur Erla Rabe onder die titel The long way home |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Onder die radar: stories uit ons land |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780624062271 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
In die blou kamp: Facebook-stories |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9780924072256 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Sketse |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Op pad: ’n reisjoernaal |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780624077176 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Reissketse |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Artikels oor Dana Snyman beskikbaar op die internet
- Bosman, Petro: “Ons vind mekaar deur stories”
- Britz, Elretha: Voel jy nog tuis in die land?
- Brümmer, Willemien: Om met sagter oë te kyk ...
- Cilliers, Susan: Dana "sien nie tekens van gevaar"
- Cloete, Henry: “Ek skryf nie maklik nie”
- Dana Snyman
- Dana Snyman
- Dana Snyman
- Dana Snyman
- Dana Snyman: Storie-sendeling
- Dana Snyman se verloofde neem haar eie lewe
- Dié drie haal Jan Rabie/Rapport-prys se kortlys
- Eloff, Helene: Dana Snyman se Laeveld-kuier sal ’n tuiskoms wees
- Gaum, Frits: 10 vrae aan Dana Snyman
- Goosen, Sinette: Snyman se predikant-pa sterf in Potchefstroom
- Greeff, Rachelle: Dana was daar
- Greyling, Jeanelle: Dana: "Anette se goedheid leef voort"
- Kemp, Charné: #Swarthond-konsert: Dana lees ’n gebed vir Anette
- Kruger, Jackie: Dana se konsert lok groot reaksie
- Malan, Marlene: Ek is van Afrika, sê Dana
- Floris, Jo-Ann: Dana se rubriekboek hier
- Joubert, Emile: Dana tot die redding in ’n rêrige “show”
- Küsel, Andrea: Dana: Anette se pa neem eie lewe
- La Vita, Murray en Damons, André: "Diep ding het net oorgevat"
- La Vita, Murray: Murray la Vita gesels met Dana Snyman: Woorde in ’n blou kampie
- La Vita, Murray: Stories is groter as mense
- Lamprecht, Leon-Ben: Pottie boor ’n aar raak
- Lemmer, Leon: Is Dana Snyman ’n beter Afrikaner as sy pa?
- Lourens, Mariné: Dana Snyman se verloofde sterf
- Malan, Mariana: Driemanskap bring stories van die langpad Kaap toe
- Marais, Anika: 5 vrae aan Dana Snyman
- Marais, Anika: Dana Snyman: die randfiguur
- Marais, Danie: Nostalgie ’n gevaarlike ding
- Myburgh, Jacques: Vleis Visagie sou Dana Snyman se Anette na die kansel neem op hul troue
- Nel, Jaco: Die klaagliedere van ds Tienie Benade
- Pereira, PN: Om die verlede te bemeester: geheue en identiteit in die prosa van Dana Snyman
- Proust herbesoek: Dana Snyman
- Rautenbach, Gerrit: Elke reis het sy storie
- Retief, Hanlie: Hanlie Retief gesels met Dana Snyman
- Sieberhagen, Charlea: TV-program met Dana móét oor mense gaan
- Smith, Charles: "Jy moes swaar gedra het, my lief"
- Steenkamp, Alita: ’n Nuwe staning vir Dana
- Storieman
- Theron, Nadine: Dana se Swart Hond-konsert volbespreek
- Theron, Nadine: Kyk Dana se konsert vir Anette regstreeks op Netwerk24
- Theron, Nadine: (Oom) Dana Snyman wil weer trou
- Truter, Suzette: Dana Snyman se hoop, vrees en lewenslesse
- Van der Merwe, Kirby: Daar sal nog stories wees
- Van Zyl, Pieter: Dana Snyman praat oor sy pad met depressie en verlies
- Venter, Malani: Stories by elke afdraaipaadjie
- Verster, Francois:
’n Keur van artikels deur Dana Snyman beskikbaar op die internet:
- Die 13 wat in die SAR gesneuwel het, was óns soldate
- 27 April 1994
- 1913 is vir baie nie verby
- Afdankings en allerlei gerugte van afdankings
- Afrikaners is mos hoflik, dit kan julle glo
- Afrikaners se eie “The spear”
- Afskeidstoespraak
- Alles is gepak, dis nou net die kat wat oorbly
- ’n Aristokratiese gevoel en dan ’n vraag
- Armes in land is nou ook ’n marksegment
- As jy ’n Gamkasklower is, my tjênd
- As Verwoerd hom soos Zuma gedra het
- Attie en Poppie
- Die bal! Die bal!
- ’n Besoek aan Huis Willie Posthumus
- Die bid en skel en verlang van ’n plaas se naam
- Bloedpoedieng bevat nie uie uit
- Boekplek gaan van stof tot stof
- Boerekrygers
- Brandblussers? Hier?
- ’n Brandraaisel op Verneukpan
- Brekfis by tant Nellie
- ’n Brief, met die datum regs bo
- Brood en sous
- Buig die boompie
- Chin en Zhal van Brandvlei
- Cliffie en die wilde jare …
- Daai slag kon selfs Miss Ellie ons nie help
- Daar moes ook iets oor Jerry gestaan het
- Daar sit hulle, agterop, en kyk agtertoe
- Dade is dalk die sterkste gebede
- Die dag as Mandela sou sterf …
- Die dag toe ou Tonic die “router” vreet
- Dana does his thing
- Dana Snyman groet Riaan Cruywagen
- Daniël Morakile se trek met die Hilux
- Dankie, Gerrie, en ek hoop jy’s darem orraait”
- “Dankie vir jul harde werk oor die jare, maar …”
- Dié is ’n vloed, maar daai was Dié Vloed (en dis presies dertig jaar later)
- Dié support is g’n nuwe biesigheid nie
- Dié verlies aan menslikheid maak my bang
- Diep Tienie word ’n digter op Facebook
- Dis al weer Gav wat gou met Trace gesels
- Dis dalk hoe om wêreld beter te maak
- Dis dié merke wat ’n pan beter laat bak
- “Dis orraait …”
- Dít is Radio Suid-Afrika
- ’n Dokter vir die droogte
- “Donnie was mos anders”
- Doodsberigte en die goedjies wat agterbly
- Droogte kleef aan jou siel
- Droom Lance op 75 nog van Nashville?
- Droom van ’n fiets
- Die dwergie, die leeumis en die AWB-leeu
- "Ek is sewe jaar oud, en ons is op pad see toe"
- Ek sit en kyk na Pa se kassette
- Ek soek dít nou anders trek ek Oz toe
- Ek verlang na Nana Mouskouri
- Ek weet sy weet hoekom
- En dáár kom die assuransieman
- En dan, uiteindelik, reën dit!
- En ek koop vir my ’n poskaart met tulpe op
- En in Bfn het die troukar toe ’n bar in
- En lugtyd daal oor ’n dorp neer
- En ’n oproep uit die verlede
- ’n Ereplek vir die telefoon in elke huis
- ’n Ete in die Commercial Hotel
- Fanie luister nie, want hy sien iets anders
- “Gaan gooi gou vir jou pa nog enetjie in”
- Gebroke huise
- Genesing van ons woede is dalk nie maklik
- “Geseënde Kersfees julle daar onder!”
- ’n Geskiedenis opgeteken in ’n ou sakboekie
- Die (ge)skrif aan die muur
- Gister se blom in knoopsgat, vandag se baret
- Die Grys Merrie en ander Valiants
- Die “hampers” en die hartseer
- Hartenbos: sal hulle soos toeka nog skoffel?
- Hartseer lyftaal in De Walletjes se toonvenster
- Hei, what’s new? Sy’s dan seriously ryk!
- Heil die leser
- Helaas, nog ’n setel van ouds onttroon
- Hoe reis julle woefspoedig?
- Hoe ver dan, oom Mannetjies?
- Hoe vra ’n mens verskoning vir apartheid
- Hoekom steel hulle vleis as daar brood is?
- Hondeskool
- Huis toe
- Hy en Blackie gesels daar by die Datsuntjie
- “Hy is ook ’n Snyman”
- Iets is verkeerd hier, maar wat?
- In daai rigting kan ’n mens mos nie bid nie
- In die hof op Hopefield
- Is daar iemand wat kla oor die geiser lek?
- Is dr Manie dan 40% skaam?
- Is jou reisgenoot verdrietige leë bokse?
- Jaar sonder Midmar, Kili of die Argus
- Jammer, Angus
- Kan jy so ’n plaaswerf ook hoor?
- Kaptein Duiwel
- Ken jy vir Tenk, ou Kobus?
- Kiekie van die Afrikaners op die KKNK
- Kies verkeerde kant
- ’n Klein plekkie waar Afrikaans gered kan word
- Kom, die biblioteek is oop!
- Kom gooi briek by oom Niek
- Kom ons laat Phineas weer “twist”
- Kuiertjie in Kraaifontein
- Laai ons op! Of hoor jy ons nie?
- ’n Land wat in jou niere bly sit
- ’n Leidraad oor wie die man in die bakkie is
- Die liniaaltoets
- “Little Miss Personality”
- Luister, luister of die water ys gaan word
- Die man met die hond onder sy arm
- ’n Man wag om ’n knop te druk
- Meer as ’n oom in ’n safaripak in Bloemfontein
- Meneer Human se vlot
- Die mense gaan dood, Daan, ek’s bang
- Die menslikheid van onthou
- Met die reuk van trots in die lug
- “Met ons gesels word sprokies, stories en legendes, die ou-ou juwele, uit die kis gehaal, opgevryf en rondgegee sodat dit lewend bly”
- Minister, ek is nie ’n definisie nie
- Die mis pak saam, en Jan Ellis is dood
- My 1 Korinthiërs 13 of waarom ek positief oor ons land is
- Mymeringe om ’n nier-transaksie
- Ná die “Nag van die Ooms”: Totsiens, Toppies?
- ’n Naam in sokker is nooit net ’n naam
- Nagmerries oor bomme wat ek nie sou maak
- Nagmerries oor wiskundepunte
- ’n Nederlaag voor ’n masjien op Winburg
- Niemand rep ’n woord oor moeraspaddas
- “Nommer 5. Hallo, dis Dana Snyman”
- Nooit weer LO met ou Sparky
- Die nuwe ANC kan gekeer word
- ’n Nuwe soort trek
- Nuweland toe!
- ’n Ode aan die skedonk
- Om behoorlik te kan groet
- Om die wêreld beter te maak
- Om nou te rook of nie te rook nie
- Om te bid voor ’n wedstryd
- Om te probeer hou van Tony Yengeni
- Om te weet as die petrol op is
- Omgee is stunning en amazing!
- Ongelukke is saamkomplek van aftjoppers
- Ons mense
- “Ons roep hom Sello”
- Ons sal darem nog woorde hê
- “Ons wou soos jy wees”
- Onthou tog die sjefs
- Oom Happy bring tyding by die voorhek
- Oom Jors en ander ooms wat Sappe was
- Oom, kan ek Oom se handtekening kry, asseblief, Oom?
- Oom Soekie se gebed vir Josef in die Paastyd
- Ooppad-cowboy – met ’n plan
- Op die toneel [Madiba kuier by Betsie Verwoerd]
- Op soek na die wáre Bosveld
- Op soek na ’n ring iewers naby Calvinia
- Oros-gebede met g’n sement en g’n stene
- Ossewania Kakebenia
- Ouma het sonder wapens gewag
- “Ou platteland” nie ’n paradys vir almal
- Ouma ni gr8, so Roi-^ gan ky-ir
- Owakuru, mta wa tere: Die laaste Herero’s van die Bosveld se stil gebed
- Piet Skyfies en ek spook dit uit vir die laaste plek
- Platteland tóé heilig en heilsaam mits …
- Die plek waar ek “Stille Nag” nié hoor nie
- Pofadder se eerste bankroof
- ’n R10-storie kry steeds net R2
- Reddende stilte in ’n ou dorpskerk
- Reuk van Brasso, Sunbeam en Vicks
- Die rituele vir ’n eindstryd in die Curriebeker
- Rooi ligte, blou kolle en die son in stukkies
- ’n Roomse hond en geluk vir Verwoerd
- Ry noord en jy weet jy is in Afrika
- Die saamrygeleentheid teen skemer -
- Sako3006 vuur die skuilkoeëls af
- Sal ek vertel van die bottel, of net die pot?
- Sê as jy kaartjies vir Durban soek
- Sê nou net so ’n dag breek aan, o Heer?
- Sê wie?
- September is tyd vir matriekafskeid
- "Shap" sê die wyse man
- ’n Simbool van … wat?
- Sjiek en stylvol met ’n donkerbril bo-op kop
- Skippie en sy Bronson-pa
- Skorro-skorros, loose draws en afgekapte mense
- So alleen soos Dirkie
- So klap die hek tussen ons toe
- Sodat Madiba ook van dié delusie weet
- Sou ek nie ook hendsopper of joiner wees?
- Spaar die kers as almal se oë dan toe is
- ’n Stem uit die verlede troos ’n gekneusde hart
- Steyntjie, man alleen aan ’t braai
- Stil, daar gaan ’n biker verby
- ’n Stil Sondag op De Doorns
- Stoffel, James Hadley Chase en die bulpil
- Ta’ Miem se les vir ANC
- Tel u soms al daardie sepies?
- Terug Uncle Charlie’s toe
- “Toe ek die foto in die donkerkamer sien, toe weet ek …”
- Toe lees Madiba vir tant Betsie
- Toe toilet nog ’n klein soort van gemak was
- The tree people welcome you!
- Die trek na volksbesef
- Trui sit nie reg aan die ou lyf nie
- Tsjernobil? Ja, dis net straight en nog straight
- Twee praat by mekaar verby, slimfone en al
- Twee soorte mense in SA
- Twitterklippe vir ’n land wat brood wil hê
- Tyd om die wapens neer te lê
- Vanwaar al die uitspattige huwelike?
- Vasgenael voor die TV
- Veertig sinkplate teen die suidewind
- Veg of oorgee, wie’s dapper, wie’s dwaas?
- Veka? Dis darem sy eerste pak!
- Die vergete, vergeefse trek van die Jerusalemgangers
- ’n Verkleinwoord, 3 ekstra letters
- Vertoonkas se spieël wys my ’n vreemdeling
- Vir my was hy “oom Gene”
- Volgende jaar trek jy jou boeke self oor
- Volume 2: bygewerk en aangepas: Ampie – Die kind
- Voorstedelike ateïste en hul eie apostel
- Vriende, ek het hartseer in my hart
- Vry om soos kinders te speel en te stry
- Waar is jy nou, HF Verwoerd Katagournos?
- Waar ’n mens is wat jy gemaak is om te wees …
- Waarna ’n gewone man alles verlang
- Die walvismense van Donkergat
- Wanneer hoofde vlug vir leerlinge
- Want almal verstaan dan net een taal …
- Want Sifiso is weer terug hier
- Was ons koffie regtig gedokter met vitterjoel?
- Wat kos dié gek-skeerdery regtig?
- Wat sien ek as ek daar inloer
- Welkom in Gomorra
- Werk is mos ’n snaakse ding
- Wil rugby kyk, sien net toks!
- Wit myners het ook gestaak, nes Lonmin
- “Word lekker dun sommer terwyl u eet”
Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Dana is 'n nasionale skat. Sy waarnemingsvermoë is besonders en hy het die kuns vervolmaak om oor die banaal alledaagse te skryf en die leser te boei met gewone mense en hul geitighehede. En hy is onpretensieus. Hy is plat oppie vloer.
Aards.
Hy is 'n ware denker wat diep waarhede eenvoudig kan verduidelik aan die hand van woordspeling.
Maar die belangrikste vir my is sy vermoë om konserwatiewe lesers só mee te voer dat hulle self 'n kopskuif maak oor godsdiens, politiek en sake van die dag. Hy verruim ons muwwe denke deur selfontdekking en maak gebruik van die komiese om daar te gaan waar geen dominee of politikus ooit sal kan deurbreek nie.
Hy maak ons almal weer 'mens'.
Hi, ek is 'n 67 jaar oud en 'n pensionaris van Klerksdorp. Ek skryf gediggies vandat ek 18jaar oud was. My eerste bundel laat druk in 2016 na baie se spaar. My tweede bundel se gedigte is klaar by die drukkers, ek wil net weet of daar nie iemand is wat my kan borg. Ek het by Afriaans.com aangeklop, nie eerst antwoord gekry nie. My gedigte vertel stories. Dankie dat julle luister.
Groete.