Boekresensie: In die blou kamp deur Dana Snyman

  • 1
_MG_9168

Dana Snyman (foto: Naomi Bruwer)

Titel: In die blou kamp
Skrywer: Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624072256

In die blou kamp is Suid-Afrika se heel eerste versameling Facebook-stories. Dis tog op dié sosiale netwerk waar ons deesdae kuier. Die skrywer het baie van sy verhale aanvanklik daar geplaas en só heelwat reaksie ontlok.

Dana Snyman deel sy reiservaringe, veral dié op die platteland. Ons ontmoet ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaners – gewones en bekendes – en ontdek, of herontdek, vergete plekke soos ’n ouwêreldse haarsalon of kontantwinkel.

In die blou kamp sou ’n tydsdokument genoem kon word, want ’n deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat reeds aan die uitsterf is, word opgeteken – met empatie, verwondering en humor. Daar is hartseer verhale, ja, soos dié oor depressie, selfdood, ouer word en die dood. Maar ander kere lag jy oor die Kersmaal wat klein gehou moes word, of oor die slot van die storie oor die ou oom wat so lank gebid het. Die Glam Guru-verhaal is eweneens prettig, maar vir sommige lesers dalk eerder ’n voorbeeld van patos.

Die nostalgie loop dik. Jy lees van ’n outydse uitstalkas, die verdwyning van die tradisionele Kerskaartjie en die sluiting van Aunt Maggie’s Book Exchange, ’n plattelandse boekwinkeltjie wat, soos die storietitel aandui, plek moes maak vir Amazon.com. Jy neem saam met die skrywer afskeid van ene oom Sakkie, eienaar van ’n haarsalon wat nog ’n barbierstoel in die middel van die vertrek het. En wanneer jy "A cappella" lees, verlang jy na die dae van musiekkassette.

Hoewel sommige verhale ’n politieke of geloofstrekking het, lewer Snyman nie pertinent uitsprake oor dié twee sensitiewe onderwerpe nie. Hy gee net weer wat hy waarneem. Tog kry jy ’n duidelike prentjie van kerklike stagnasie, die vernedering wat ’n dompas meegebring het, die brutale effek van xenofobie, asook finansiële vergrype en magsmisbruik op politieke gebied. Daarby leer jy verstaan hoekom selfs Julius Malema stemme trek.

Die skrywer het duidelik ’n besondere vermoë om mense na hom toe aan te trek. Soos wanneer hy op Nkandla gaan ronddwaal en terugkeer met ’n storie oor sy kuiertjie by Khulubuse Zuma, president Jacob Zuma se neef en raadgewer.

In die blou kamp bevat trouens stories oor ’n hele paar bekendes. In "Die tirannie van die oomblik" lees jy met groot deernis oor Pik Botha, lank nie meer "daardie man met die weerbarstige kuif" wat sewentien jaar lank Suid-Afrika se minister van buitelandse sake was nie.

indiebloukamp650

Saam met die skrywer vra jy wat bly oor wanneer iemand die dood afwag. Só word die verhaal oor die bekende trekklavierspeler Ollie Viljoen afgesluit: "Hy kyk stil na die plafon. Die gordyne is toegetrek. Op die bedkassie langs hom is ’n selfoon, ’n pen, ’n paar blokkies sjokolade en Ferdinand Deist se boek Tussen angs en sekerheid. In die hoek van die kamer staan sy drie trekklaviere waarop hy nooit weer sal speel nie."

"’n Soort voorwoord" word aan die bekende fotograaf Paul Alberts opgedra. Dis terselfdertyd ’n kykie na onvermydelike verandering: die ou algemene handelaar is deesdae "’n Shoprite, of ’n Spar of ’n OK Foods. By Avbob se kantoor het ’n Chinees en sy vrou ingetrek ... Langsaan is ’n kruiedokter van Ghana wat belowe hy kan jou verlore vrou, jou verlore bakkie en jou verlore ereksie terugbring." Daarby het omtrent almal deesdae, anders as in die verlede, ’n selfoon, ’n i-Pad of "’n toestel wat ons met die internet verbind". Die effek van tegnologie vind dwarsdeur die bundel weerklank, soos in "We Chat", "Lol", "Zanor" en die tong-in-die-kies kykie na die produktiewe Facebook-digter wat nie kan spel nie en reken dat Breyten Breytenbach onverstaanbaar brabbel.

Die eintlike trefkrag van die versameling lê in Snyman se stories oor gewone mense: donkiekarryers, lorriedrywers, ’n man wat ’n stop-en-ry-bordjie hanteer, ’n karwag. "Die lyf as teks" gee jou insae in tatoeëerkuns. Jy kom nader aan die antwoord op die vraag: Hoekom?

Vir sommige van hierdie "gewone" mense is die skrywer meer as net ’n terloopse kennis. Die huislose Kitte Honiball wat vir Snyman Please call me’s stuur, sê vir hom: "Jy moet onthou: Ek’s jou swerwer en jy’s my skrywer, my tjom."               

Van dié mense kruis Snyman se pad in plattelandse kroeë, in die Wimpy, op ongelukstonele, op die bussie wat jou van die lughawe se vertreksaal af na die vliegtuig neem. En dan gaan stap hy ook bekendes soos Sol Plaatje en Nat Nakasa se spore na. Plaatje was internasionaal bekend as ’n veeltalige Suid-Afrikaanse joernalis, skrywer en politikus, en Nat Nakasa was ’n skrywer en joernalis wat tydens die apartheidsjare die gesogte Nieman Fellowship ontvang het om aan Harvard te gaan studeer. Maar toe weier die regering dat hy ’n paspoort kry en moes hy op ’n permit staatmaak. Dit het beteken dat Nakasa nooit weer kon terugkeer na sy geliefde land nie. Later het hy selfdood as enigste uitweg gesien. Sy lyk is eers in 2014 plaaslik herbegrawe.      

Ook die mense van Snyman se hart, soos Johannes Bogosi, sy vrou, Lettie, en hul seun, Koos, wat op sy erf woon en die fort hou wanneer hy reis, is stof vir stories. Van die verhale handel oor sy oorlede ma se stryd met depressie en oor sy geliefde pa, meer onlangs oorlede, wat op sy dag ’n predikant was. Die tantes uit die skrywer se verlede wat :Sen-Sen’s in die kerk gesuig en met oorgawe by troues en begrafnisse, doopplegtighede en Kerssangdienste gehuil" het, verskyn saam met sy ma in "Moedersdag". Snyman skroom ook nie om met brutale eerlikheid oor homself te skryf nie, soos oor sy skuldgevoelens aangaande die kerk en ook apartheid. Dan is daar Magrieta, die stukwerker, wat bekommerd is oor Snyman se welsyn wanneer sy na "die wyn" en "die pille" verwys.    

In hierdie versameling van ’n 100 verhale is daar enkeles – "Ek doop jou in die Naam", "Imbongi", "Inventaris" en "In Pretôria" – wat nie so sterk is soos die res nie en dalk selfs uitgelaat kon gewees het. Maar miskien voel ander lesers nie so nie. Die foto’s – daar is een ter illustrasie by elke verhaal – is waarskynlik met ’n selfoon geneem, maar kon in ieder geval skerper gewees en meer van ’n swart-wit-kontras gebied het.  

Dit sou maklik gewees het om in mooiskrywery te verval, maar juis omdat Snyman dit tot elke prys vermy, is sy taalgebruik besonder treffend. Soos wanneer hy met oorlede Paul Alberts in gesprek tree en terselfdertyd die tema van In die blou kamp opsom. Hy skryf: "Ek wou jou boek al uit my bakkie haal, Paul. Dit lê en verniel agter die sitplek tussen die domkrag en die wheel spanner, maar van tyd tot tyd blaai ek maar weer daardeur om myself te herinner aan die teksture van hierdie land wat jy so goed geken het, aan die verganklikheid en die broosheid van dinge, en die onbestendigheid van alles in hierdie tussentyd waarin ons lewe – die lewe buite die hekke van Eden."

Die bundel is ’n absolute kultuurskat.

Kyk foto's van die boekbekendstelling.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top