Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.
Onder die radar deur Dana Snyman is genomineer in die kategorie: Niefiksie.
|
Dana Snyman |
|
|
|
Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?
Ek voel geseënd. Net om saam met sulke gesiene skrywers vir so ’n prys in aanmerking te kom, is klaar vir my ’n groot eer. Ek bedoel: Karel Schoeman - dit laat my voel soos ’n junior priester wat vlugtig in die teenwoordigheid van die pous kan wees. Dit alles gee my wankelrige selfbeeld tydelike troos.
Kry Afrikaanse skryfwerk die nodige erkenning?
Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Erkenning van wie? Daar is ’n goeie netwerk binne die Afrikaanse wêreld wat Afrikaanse boeke en skryfwerk al erkennende ondersteun. Ek praat van ’n geleentheid soos die Woordfees op Stellenbosch. Ek praat van kykNET en RSG en die Afrikaanse koerante en tydskrifte. Is dit genoeg? Dalk. Maar hoekom bestaan Boeke-Insig nie meer nie? Hoekom het By, wat tot onlangs nog van die beste eietydse Afrikaanse skryfwerk publiseer het, verskraal tot iets tussen ’n reisbylaag, ’n reseptebladjie en ’n traktaat vir herinneringe van lank gelede? Ek voel bevoorreg: daar is ’n groot groep lojale Afrikaanse lesers. Of dis wat ek ervaar. Een dierbare vrou het selfs al my selfoonnommer iewers in die hande gekry, my gebel en vir my oor die foon gebid, nadat sy ’n storie van my gelees het. Ek sê dit sonder enige ironiese bedoelings. Ek het ook baie waardering vir die erkenning wat boekklubs vir Afrikaanse boeke gee – dikwels ’n klein Gideonsbende van vroue wat iewers in ’n sitkamer byeenkom. Dis hulle wat Afrikaanse boeke koop en daaroor praat en dit as geskenke vir hul kinders in Australië stuur.
Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke boek te skryf?
Onder die radar, die boek wat op die kortlys is, is ’n klomp losstaande vertellings oor van my ervarings in hierdie verdwaalde land. Wat het my geïnspireer om dit te skryf? My maandelikse Absa-verbandbetaling? Ek maak net ’n grap. Ek hoop nie dit klink pretensieus nie, maar ek skryf omdat ek nie anders kan nie. Ek kom uit ’n familie van ambagsmanne. Beide my oupas was motorwerktuigkundiges. My pa was ’n passer en draaier vir Yskor voordat hy gaan studeer het. Ek glo ek sit daardie tradisie voort: skryf is vir my ’n ambag. Ek het ’n rekenaar vol woorde en met daardie woorde probeer ek iets skep wat – hoop ek – soms vir iemand anders van nut kan wees.
As jy kyk na die boek in sy geheel, van die eerste gedagte tot die finale produk, wat is vir jou die lekkerste aspek van die skryfproses en wat frustreer jou die meeste?
Die grootste frustrasie? Om een woord na ’n ander eenvoudig en eerlik op ’n ander te laat volg, totdat alles sin maak. Die grootste lekkerte? As jy besef een van jou stories het iemand so diep geraak dat sy vir jou wil bid. Ek moet bieg: hierdie boek is lekker dik, en dis goed vir die manlike ego, sien.
Waar en watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?
Ek skryf enige tyd van die dag, want ek moet. Dalk is ek op my beste in die oggend. Ek wens ek kon vir die res van lewe hier op Jacobsbaai sit en skryf. Is daar nie 'n miljoenêr iewers wat my wil borg nie? Hy kan my gebruik as ’n soort opheffingsprojek, dan kan hy die geld weer by die ontvanger van inkomste terugeis.
Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?
Daar is so baie, en aanhoudend kom daar nuwes by. Steinbeck sal altyd op my lys wees, oor sy menslikheid. Hemingway se kortverhale. Bruce Chatwin. Orhan Pamuk (pas ontdek). Raymond Carver. In Afrikaans: Karel Schoeman met daardie lang sinne wat soos die pad tussen Prins Albert en Oudtshoorn die Swartberg uit kronkel. Chris Barnard, oom PG se Fees, oom Braam se alles, Kleinboer, Petra Müller, en dan E Kotze – tannie Sussie Kotze. Ek weet nie veel van letterkunde af nie, maar tannie Sussie moes al die Hertzogprys gekry het. Daar is nog baie ander. Ek lees Richard Holloway oor godsdienssake. En die Britse filosoof John Gray. (Let wel, hy is nie die John Gray van Women are from Venus and Men from Ellisras nie.)
Is daar een of meer boeke, fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?
Ek lees gereeld Opperman se “Ballade van die Grysland”. Ek het selfs al een aand vir Eugene Terre’Blanche gevra om dit vir my voor te dra. Hy het dit hardop geken. Dis was drie-uur in die oggend en ek en hy het in die donker by sy sat Nissan-bakkie voor die Ventersdorp Hotel gestaan.
As jy nou aan jouself dink as ’n nog ongepubliseerde skrywer, watter raad sou jy aan jouself gee?
Dis ’n ambag. Kry vir jou ’n goeie gereedskapskas.
Werk jy aan ’n nuwe boek?
Jip.
Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse