Seun en Die binneland in deur Dana Snyman, ’n resensie

  • 0

Skrywer: Dana Snyman
Titel & ISBN: Die binneland in (9780624094517)
Titel & ISBN: Seun (97806624093671)
Uitgewer: Tafelberg

Ek sit onder Ventersdorp se dorpsnaambord met “God is liefde” agterop. Ek is nie seker wanneer of deur wie dit geverf is nie, maar my herinneringe koppel nie goddelike liefde aan hiérdie dorp wat na Johannes Venter – op wie se grond die kerk gebou is – vernoem is nie.

Toe Dana Snyman se pa in die vroeë 90’s nog kapelaan van die AWB (Afrikaner Weerstandsbeweging) was, was Ventersdorp die hoofstad van haat en rassisme. Jy onthou mos die omgekeerde Nazi-hakekruis, die opsweping, geweld en bomaanvalle.

Wit terroriste!

Dit is juis weens die wit terreur dat daar ’n band tussen my en die 62-jarige predikantseun ontstaan het. Hy het my medebeskuldigdes, Cliffie en Koper, goed geken. En dit is weens die intieme ken dat hy weet hoe ver ek ná 18 jaar en ses maande agter tralies vir my aandeel aan ’n vlaag verregse bomaanvalle gedurende die middel 90’s gevorder het, daarom moedig hy my gedurig aan en sê hoe trots hy op my is.

Maar wat weet ek van my geliefde vriend, buiten dat ons soms met die Swarthond opstaan? En wat weet Suid-Afrika van “onse Dana”, buiten dat die bekroonde skrywer se 51-jarige verloofde, Anette Roberts, op sy verjaarsdag in 2017 dood in ’n vriend se motor gevind is?

In die voormalige Weg!-redakteur se dosyn reisbundels (Uit die binneland, Anderkant die scrap, Op die agterpaaie, Op die toneel, Hiervandaan, Onder die radar, In die blou, Op pad, Soekmekaar, Onder een dak en In die tyd van die gif) het hy ons gereeld op die stoep ingelaat, selfs in die sitkamer en aan tafel.

Maar hy het ons nooit in die brandkluis van sy hart toegelaat nie. Die skaamte – dat hy onbevoeg verklaar is om Suid-Afrika teen sy vyande te beskerm, waarvan hy soos ’n Jona probeer wegvlug het, maar tog in sy bundels en op Facebook-plasings onlosmaaklik in die verlede vasgevang was – was te diep begrawe vir hom om met ons te deel. Tot nou.

In Seun, die eerste van drie, dalk vier memoires, deel Troep 78302494BG vir die eerste keer sy skaamte van Saal 24 en sy oneervolle ontslag uit die weermag met ons.

Die foto op die voorblad – van ’n sesjarige borselkop op ’n glyplank in Swakopmund – pronk op bladsy 272 van sy vorige boek, Die binneland in. Dié boek is onlangs bekroon met die kykNET-Rapportprys vir niefiksie.

Lindie Koorts skryf oor Snyman se eie innerlike Groot Trek onder meer: “Hy ontsien homself nie – sy eie teenstrydighede, kwesbaarheid, vertwyfeling en verlies word aan die leser uitgestal.”

Met ’n keur van 91 verhale in Die binneland in roep die volksprofeet vanuit die woestyn sy lesers tot introspeksie. Hy doen dit, op sy klassieke manier, aan die hand van ’n eietydse geskiedenis waarin die alledaagse die praatwerk doen. Hy dwing ons om anders na die lewe te kyk, veral in ’n postapartheidera waar duisende wittes terug na die “goeie ou dae” verlang.

Tot voor Seun het sommige mense gevoel: “Beweeg net aan, beweeg aan” (Die binneland in, bladsy 9), sonder om te besef dat die skrywer nie kan aanbeweeg solank hy nog met homself oor die verlede worstel nie.

Met die volmaakte 12 pennevrug agter sy naam, het Snyman moontlik gevoel dat sy dissipels hom lief genoeg het om hom nie te verstoot, te verkwalik, óf te beskinder, nog minder te bejammer nie. Want, net soos Jesus, wil hy aan ons ’n ander weg na geloof, hoop en liefde wys as dié waarmee hy grootgeword het. Hy moes egter eers genoeg selfvertoue opbou om homself, met Seun, voor die volk kruisig.

Snyman is ’n mensemens; sout van die aarde, sou die grysbaarde sê. Selfs in ’n tyd toe Mirages en Impalas laag oor die stad gevlieg het, toe skole nog in weermaguniforms weekliks kadette geoefen en ’n noodplan ingeoefen het en ons vreesbevange was om by ’n Wimpy Bar in te gaan weens ’n ANC-bom op Amanzimtoti, het Snyman diep binne hom geweet iets is nie reg nie. In Seun deel hy sy wroeging met ons.

Ek sit op die bank en lees Cry, the beloved country.

“Jirder, lees jy nou Engelse boeke, tjom? Waaroor gaan dit?”

“Oor die land.”

“Wat van die land?”

“Ons maak nie reg met die swartes nie, Lappies.”

’n Paar bladsye later staan Seun teen Pa op, wat die NG Kerk vir die Afrikaanse Protestantse Kerk en die AWB op Ventersdorp verruil het.

“Ek het baie hoop vir die toekoms, Pa. Ons almal in die land moet net saamwerk.”

“Ek sal graag daardie toekoms wil sien, Seun.”

Snyman sien in al sy bundels, veral in sy soeke na hoop in Op pad: ’n Reisjoernaal, hoop raak. Dit is asof hy homself met elke bundel aan Pa wou bewys en so die Kainsmerk van verraaier en iemand minder as ’n man wou afskud.

As ek Pa was, sou ek my hande nou oor die gemeente lug, handpalms oop en die laaste seën uitspreek:

Dana “Seun” Snyman, ek salueer jou braafheid, want die toekoms het gekom en jy was reg om haar met ope arms te ontvang, ongeag die spot en selfverwyt, ongeag Ma en Pa se afkeur, ongeag ... Ek wens ek was mans genoeg om teen geweld op te staan! Om liefde te kies. En hoop. Ek is moer bly jy het intussen van daardie glyplank afgegly om Seun met ons te deel. Mag ek soos jy mense op hulle regte name aanspreek. Amen.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: video-opname van gesprek met Dana Snyman oor Seun

FMR-resensies: Die binneland in deur Dana Snyman en Hierdie land, ’n bundel deur verskeie skrywers

Dana Snyman vereer: ’n fotoberig

’n Korpusgebaseerde ondersoek na kohesieskakels as kenmerkende eienskap van outeurstyl van Dana Snyman en André le Roux

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top