Hier is die deelnemers aan vanjaar se Kommadagga-slypskool en -residensie

  • 2

Die Jakes Gerwel Stigting bied, in vennootskap met Huisgenoot en LitNet, ’n mentorskapprogram aan belowende opkomende kortverhaalskrywers.

Die skrywers sal onder leiding van ons bekwame mentor, Fourie Botha, digter, ervare uitgewer van gerekende skrywers en literêre agent, tydens die residensie skaaf aan kortverhale wat spesifiek gemik is op Huisgenoot se gesinsmark. Indien dié tydskrif na afloop van die kursus ’n skrywer se kortverhaal goedkeur, sal die skrywer daarvoor vergoed word. LitNet bied verdere blootstelling aan die jong skrywers en die projek en bied moontlike verdere publikasiegeleenthede.

Siphiwe Gloria Ndlovu is vanjaar die inwonende skrywer.

Hier is die deelnemers aan vanjaar se Kommadagga-slypskool en -residensie:

Keamogetswe Koenaite

Keamogetswe Koenaite is ’n Suid-Afrikaanse skrywer wie se kreatiewe werk fiksie, niefiksie en digkuns insluit. Sy werk is liries, emosioneel kwesbaar en gegrond in herinnering, identiteit en die stil oomblikke van transformasie. Dit weerspieël invloede van musikale storievertelling en groot literêre figure soos Ocean Vuong en Chimamanda Ngozi Adichie. Deur sy werk – hetsy oor gebroke gesinne, eerste liefde, of geloof wat in ’n taxi herontdek word – nooi Koenaite lesers om ’n wêreld te betree waarin stiltes eggo, en waar krag in sagtheid lê.

Kgomotso Tsotetsi

Kgomotso Tsotetsi is ’n multidissiplinêre storieverteller, skrywer en visuele denker. Met woorde en beelde skep Tsotetsi stories wat die diepte van menslike emosie weergee, en die ruimte ondersoek waar die magiese nie apart staan van die werklikheid nie. Hulle werk sluit kortverhale, poëtiese essays, toneelstukke en visuele komposisies in. Tsotetsi is verbind tot één uiteindelike doel: om werk te skep wat ’n gevoel van verwondering ontlok, wat dit moontlik maak om weer te voel, en wat die wêreld vir ons draagliker maak, een storie op ’n slag.

Paballo Sekoto

Paballo Sekoto is ’n opkomende skrywer wat in Lesotho gebore en getoë is. Sy is nou getroud en woon in Suid-Afrika. Haar kortverhaal, Utopians from the Enclave, was op die kortlys vir die Bold-versameling van Ibua Journal, en in 2021 het een van haar essays die Wêreldbank se Blog4Dev-kompetisie gewen. Sy publiseer haar essays op haar LinkedIn-profiel en haar kortverhale op haar blog, Paballo Writes. Wanneer sy nie lees of skryf nie, hardloop of stap sy lang ente. Sy is ook ’n deeltydse geoktrooieerde rekenmeester.

Rushdiyah Narker

Rushdiyah Narker is ’n Kaapstadse skrywer wat stories oor die liefde, kultuur en identiteit skryf. Sy het in ’n hegte familie grootgeword en daar was altyd troues om te beplan. Vandag is sy self ’n entrepreneur in die trouebedryf. Die stories wat om haar ontvou, het haar nog altyd geboei. Terwyl sy besig was met ’n meestersgraad in sosiale antropologie, het sy ontdek dat sy daarvan hou om fiksie oor haar gemeenskap te skryf. Wanneer sy nie skryf of studeer nie, lewe sy haar eie storie saam met haar man, hulle vier dogters, en vyf katte.

Ọbáfẹ́mi Thanni

Ọbáfẹ́mi Thanni is ’n Nigeriese digter wie se digkuns en fiksie al vir ’n Pushcart Prize genomineer is. Hy is ’n oudstudent van die Johannesburg Institute for Advanced Study se Skrywerswerkwinkel, en sy werke het in die 20.35 Africa-versameling, Lolwe, SAND en elders verskyn. In 2023 het hy die kortlys gehaal vir A Public Space se skryfgenootskap, en in 2022 vir The Alpine Fellowship se digkunsprys. In 2022 het die Berlynse Skrywersprys eervolle vermelding aan hom verleen.

  • 2

Kommentaar

    • Izak de Vries

      Sonja. Hou LitNet en die Gerwel-stigting se webblaaie dop. Ons laat weet wanneer aansoeke open.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top