Op pad na ’n klooster in die sneeu deur Johannes Bertus de Villiers: ’n persoonlike bespreking

  • 0

Boekomslag: https://www.nb.co.za/

Op pad na ’n klooster in die sneeu
Johannes Bertus de Villiers
Human & Rousseau
ISBN: 9780798185400

  • Winnie Nel is ’n opgeleide meditasie-fasiliteerder. Sy bied geleenthede aan en fasiliteer samekomste van mense wat wil stil wees. Haar indrukke van Johannes Bertus de Villiers se boek is vanuit hierdie vertrekpunt geskryf.

........
As mens oor hierdie wonderlike boek deur Johannes Bertus de Villiers wil praat, moet mens ook die misterie van die mistieke bespreek.
........

As mens oor hierdie wonderlike boek deur Johannes Bertus de Villiers wil praat, moet mens ook die misterie van die mistieke bespreek. Dit is presies hier waar mens kan vasval. Ek moet dan seker op die "Cloud of unknowing" bly en my mond hou, maar ek gaan teen my eie beterwete iets probeer sê.

Die mistieke ervaring is ’n direkte belewing van die Heilige Eenheid met God. Mens kan dit ook ’n transendente ervaring noem en van die ware mistikusee getuig van ekstase wat nie in woorde omgesit kan word nie. Die verlange na so ’n ervaring lei jou op die pad van die pelgrim.

Dit was in 1997 dat ek vir die eerste keer ook saam met die Fransiskaanse monnike leer mediteer het. Ons wou by die een monnik weet wat hulle heeldag so in die klooster doen toe hy ons nooi om naweke saam te kom “wag”. “Wag op wat?” wou ons natuurlik weet. “Op God!” was sy antwoord. Die hele ding is: Jy moet die dissipline van stilte inwerk in jou lewe, maar die waarborg dat jy ’n mistieke belewing sal ervaar, hang nie van jou af nie.

Dit was aanvanklik vir my baie moeilik om so in stilte te wag, maar my verlange na die Groot Beminde het my nuuskierig genoeg gehou om te wou wag. In stilte, natuurlik.

Dit was die monnik Thomas Merton wat hierdie tradisie weer terug gebring het in moderne Christene se lewe. Iemand soos Thomas Keating en James Finley, asook Richard Rohr, het regtig baie geskryf om weer die hedendaagse mens terug te bring na die krag van meditasie, of eerder kontemplasie, soos dit in die Christelike tradisie bekend staan.

11 Mei 2016 was ek in die middel van ’n agt weke lange MBSR- (Mindfulness-based stress reduction-) kursus toe ek hoor my ma, Winnie Rust, is vermoor. Ons huiswerk was dat ons altyd in die oomblik moet probeer bly en alles wat op ons pad kom, onvoorwaardelik moet aanvaar. Die kursusleier stuur ons die vorige aand huis toe met ’n Rumi-gedig getitel “The guest house”. Dit is toe met Rumi (’n Sofi-digter) se gedig en die beoefening van stilte dat ek die dal van doodskaduwee betree het.

........
Dit is toe met Rumi (’n Sofi-digter) se gedig en die beoefening van stilte dat ek die dal van doodskaduwee betree het.
........

In 2019 skryf ek my by IMISA (Institute for Mindfulness South Africa) in om ook die tweejaaropleiding te doen om ’n MBSR-fasiliteerder te word. Sedertdien help ek ook om stil ruimtes te skep waar mense kan leer mediteer of kontempleer, wat jy dit ook al wil noem.

Dit is ’n lang storie om seker te regverdig dat ek dit durf om oor hierdie besonderse boek te mag skryf.

Ek en my vriend Johannes probeer saam met baie ander mistiekboere en -boervroue die beoefening van stilte aan te moedig. Dis nie maklik in hierdie aandagafleibare tyd nie, maar dit sal jou manier wees om jou deel te doen vir wêreldvrede.

Dit is min dat mens ’n boek lees in jou eie taal wat jou eie fantasie verwoord en selfs ondersoek en bevraagteken.

........
Dit is min dat mens ’n boek lees in jou eie taal wat jou eie fantasie verwoord en selfs ondersoek en bevraagteken.
........

Hierdie boek van Johannes was so ’n boek vir my. Toe die skrywer die ou beskryf wat letterlik van ’n soloboot af duik om nog verder in die stilte te verdwyn, het die boek my in sy verrassende kloue gehad.

Ek het ook al van baie kleins af die drang gehad om die “matrix” te ontvlug, en dit is ook presies wat die verteller in die boek wou doen nadat hy die sin en verveling van sy bestaan bepeins het.

Dit is wanneer die ontvlugtende Apteker by sy verlangse halfgrootoom, oor wie niemand in die familie ooit praat nie, in Parys (Frankryk) gaan kuier dat die dinge juis begin interessant raak.

Voor die deur van ’n kerkhuis in Parys wonder die Apteker wat hy eintlik daar soek. Sal die verlangse oom, Adelbert, enigsins met hom wil gesels?

Die oom was inderdaad bly om hom te sien, alhoewel die jongman nie juis iemand van die familie geken het na wie oom Adelbert uitgevra het nie.

Hierdie middag, in Parys, was die ou, verlangse oom Adelbert so uitgehonger vir gesels dat die jong Apteker nie juis sy vraag aan die oom kon stel nie.

Gelukkig nooi die oom hom terug vir Russiese tee, en dis die aand wat hy sy vraag aan die Katolieke kerkman kan vra.

“Ek wil na ’n klooster gaan om die geraas van die wêreld te ontvlug. Waarvan moet ek bewus wees voor ek gaan?” vra die jong Apteker aan sy oom, die kanunnik van ’n Katolieke Kerk in Parys.

En dit is met die antwoord dat die leser byna vergeet van die Apteker en verder op reis gaan saam met Adelbert en sy twee Amerikaanse klasmaats, Clyde en Ollie, na ’n klooster in die sneeu.

Hier kry die verhaal sy wending en die storie speel toe glad nie uit soos ek heimlik gehoop het nie.

Die vrae wat die boek aan my stel is subtiel. Die temas word nie ryp gedruk nie en die antwoorde word nie duidelik uitgespel nie.

Gun my asseblief my mening, naamlik die groot rol wat Op pad na ’n klooster in die sneeu en Johannes de Villiers speel in die herontdekking van die mistieke tradisies van die vroeëre kerkvaders en -moeders.

Die boek raak aan die vraag: Wat is die verskil tussen geloof, wensdenkery, kopkennis en die mistieke belewenis van ’n soeker?

“Mindfulness”, om bewustelik te leef, is mos nou die modewoord. Min lesers weet dalk dat die Christendom ook ’n baie ryke tradisie van kontemplasie, die beoefening van stilte, het.

Op pad na ’n klooster in die sneeu kan beslis nuuskierigheid wakker maak by ons Protestante om meer te leer oor die mistieke tradisies asook die herontdekking van die praktyke van stilte en rituele.

........
Op pad na ’n klooster in die sneeu kan beslis nuuskierigheid wakker maak by ons Protestante om meer te leer oor die mistieke tradisies asook die herontdekking van die praktyke van stilte en rituele.
........

Die ontmoeting met padre Pio laat Adelbert met ’n Godsbelewing wat die res van sy lewe inkleur. Die aanraking was nie wat hy verwag het nie. Mens sou dink dit gaan ekstase wees, of diepe vrede, of dalk oorweldigende liefde, maar Adelbert is geseën met iets baie dieper as dit, iets wat ons almal nog sal beleef of reeds beleef het.

Indien jy jou verdiep in die lewe van St Johannes van die Kruis of Teresa van Avila of Julian van Norwich of enige van die talle mistikusse, sal jy hierdie storie baie waardeer en geniet.

Hierdie reis van beide die Apteker en Adelbert besit die elemente van ’n klassieke roman. Daar is ’n onbesingde held in hierdie boek, daar is die soekers en daar is die eensames, daar is dié wat wil weet en diegene wat bly vra. Die mensdom het baie verhale en vrae en menings oor die Godheid, maar hierdie boek oordeel niemand nie.

Dit is wat vader Richard Rohr in sy boek Breathing under water gesê het: “Ons almal is verslaaf aan ons eie gedagtes.” Hoe sal ons wees as ons nie elke gedagte glo nie en nie op elke gedagte reageer nie, maar eerder meer die huidige oomblik beleef?

Johannes se stem is dwarsdeur die boek hoorbaar, maar dis nie steurend nie, want dit is ’n mooi stem.

Dalk het hierdie Apteker vir ons die regte medikasie vir hierdie tye. My ma het altyd gewaarsku teen die “tegnologiese barbaar”. Dalk is die belang van hierdie boek meer as wat dit tans voorgee.

Die laaste, kort, sinnetjie is ’n pylreguit vraag en in dié eenvoudige vraag lê die antwoord.

Nie almal sal miskien by Op pad na ’n klooster in die sneeu aanklank vind nie, maar dit is beslis ’n baie belangrike boek vir mense wat die groot vrae vra.

Dankie, Johannes Bertus de Villiers, vir hierdie storie. Jou vertelstyl is vol menslikheid en deernis.

Ek hoop ons kan nog vele boeke uit jou pen verwag.

Johannes se ander drie boeke is ook die moeite werd om te lees: Kalmte in die malle gejaag, Blydskap en Jy is meer as jou seerkry.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: In gesprek met Johannes de Villiers oor sy roman, Op pad na ’n klooster in die sneeu

In gesprek met Johannes de Villiers oor Op pad na ’n klooster in die sneeu

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top