In gesprek met Johannes de Villiers oor Op pad na ’n klooster in die sneeu

  • 1

Foto: Johannes de Villiers (YouTube.com/@LitNetKanaal). Boekomslag: Op pad na ’n klooster in die sneeu deur Johannes de Villiers (Human & Rousseau, 2025)

.....
Ek het in kloosters gewoon, talle geestelike begeleiers gehad, aan die voete van wysgere in die VSA, Birma, Frankryk en Spanje geleer. Al daardie dinge en insigte dam oor die jare heen in jou kop op. Toe ek gaan sit en skryf, was dit soos om ’n sluis oop te trek en het baie daarvan op die bladsye uitgespoel.
.....

Titel: Op pad na ’n klooster in die sneeu – ’n roman
Skrywer: Johannes de Villiers
Uitgewer: Human & Rousseau (2025)
ISBN: 9780798185400
Epub ISBN: 9780798185417

Johannes de Villiers se nuutste boek, Op pad na ’n klooster in die sneeu – ’n roman, het pas verskyn. Die meeste mense ken hom van Die blydskapnavorser op RSG, ’n insetsel op die oggendprogram wat reeds vyf seisoene agter die rug het, en sy boeke oor blydskap en mindfulness.

Hy lei landwyd slypskole en naweekkursusse oor meditasie en aandagtigheid. Hy was jare lank joernalis by Huisgenoot, Rapport en Die Burger en voorheen dosent in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Ek ken sy skrywes oor die jare as medejoernalis en volg sy loopbaan so met een oog – soos mens maar doen met kollegas – tot ons saam op ’n mediatoer na Estland genooi word. Dis laat November, die land is met sneeu oortrek en die vier mediamense wat mekaar net van naam ken, word saamgegooi in ’n warrelwind van kulturele besoeke, vergaderings, filmfeeste, heerlike etes en kopverskuiwende ervarings in ondergrondse Nazi-museums.

Johannes bly die kalmste in dié chaotiese week – soos wat mens kan verwag van ’n meditasie-instrukteur met ’n jogaskool. Waar ander mense allerhande toeriste-agtergronde kies vir selfies, kies hy plekke waar hy ’n ingewikkelde jogaposisie kan inneem en ons hom afneem.

.......
Hy dra sy bewustheid van in die oomblik leef soos ’n dik jas om sy skouers. Dis asof hy elke oomblik in oorversadigde Technicolor sien; elke reuk opadem; elke klank indrink totdat dit in sy gebeentes vastrapplek kry om vir die res van sy lewe met hom saam te reis.
.......

Hy dra sy bewustheid van in die oomblik leef soos ’n dik jas om sy skouers. Dis asof hy elke oomblik in oorversadigde Technicolor sien; elke reuk opadem; elke klank indrink totdat dit in sy gebeentes vastrapplek kry om vir die res van sy lewe met hom saam te reis.

Dit bring ’n nuutgevonde energie en lus vir die lewe in ons na vore. ’n Meer gereelde verposing en besyekopname van hoe mooi die lewe is; hoe bevoorreg ons is. Stadig maar seker kom sit die Technicolor ook agter ons oogkaste.

Die reis gebeur voor sy boeke oor kalmte en blydskap, Kalmte in die malle gejaag (2018), Blydskap (2020) en Meer as jou seerkry (2022), verskyn het. Dié boeke het aanleiding gegee tot ’n reeks slypskole wat hy van 2023 af landwyd oor bewustheid en blydskap aanbied.

Dis bykans agt jaar ná ons Estland-kuier dat sy nuutste boek op my bedkassie lê. Dié keer ’n roman. Fiksie. Nie sy eerste probeerslag om fiksie te skryf nie. Sy eerste twee boeke, Agter die Somber Gordyn (2011) en Die einde van die wêreld (2012), gaan oor spookstories en doemprofesieë.

Op sy webwerf, www.blydskap.com, kondig hy die boek as volg aan: “1964, Rome: ’n Suid-Afrikaner studeer aan die Gregoriaanse Universiteit om ’n Katolieke priester te word. Wanneer hy gerugte hoor van ’n heilige man en wonderwerker wat in ’n bergdorpie in die ooste van Italië woon, vertrek hy op ’n avontuur om dié wysgeer op te soek.

“2003, Bloemfontein: ’n Jong apteker voel ontuis in sy voorstedelike bestaan, hy wil wegvlug na ’n afgeleë klooster in die Franse Alpe. Op pad ontmoet hy sy verlangse oom, ’n afgetrede priester wat in die hartjie van Parys werk en woon.

“Op pad na ’n klooster in die sneeu is ’n teer roman oor ’n vriendskap wat oor twee geslagte en twee vastelande heen strek. ’n Verhaal oor die soeke na identiteit, sin en skoonheid te midde van ’n lewe van weemoed, eensaamheid en verlies.”

Die agterblad van die boek gee nog ‘n bietjie meer pitkos: “’n Jong man begin werk by ’n apteek in Bloemfontein maar is gou ontnugter deur sy lot. Is werk, eet en slaap al wat die volgende vyftig jaar vir hom voorlê? Wanneer hy afkom op die mistikus Thomas à Kempis se geskrifte, begin hy droom oor ’n asketiese lewe – weg van geldmaak en ambisie.”

En so met die beplande reis kruis sy pad met dié van die priester-oom en ’n kosbare vriendskap begin tussen ’n bejaarde pater in Frankryk en ’n verlore siel uit die Vrystaat – vier dekades nadat die pater self uit daardie verlorenheid gevlug het.

.......
Soos die bladsye een na die ander haasoortjies kry om ’n mooi beskrywing vir my geliefde te lees, word die jong apteker én die pater vir my die mens wat saam met ons drie vir ’n wyle dele van Estland ontdek het. Dieselfde waarneming van die lewe se mooi, maar ook se weemoed, is in hul skrywes aanwesig.
.......

Soos die bladsye een na die ander haasoortjies kry om ’n mooi beskrywing vir my geliefde te lees, word die jong apteker én die pater vir my die mens wat saam met ons drie vir ’n wyle dele van Estland ontdek het. Dieselfde waarneming van die lewe se mooi, maar ook se weemoed, is in hul skrywes aanwesig. Roman/fiksie of bloot ’n baie mooi verhaal van iemand wat weet hoe dit voel om die pad byster te raak, maar weer die lig voor in die wapad te vind en op te staan.

En hoewel die boek vir my een pragtige leeservaring was omdat Johannes waarlik weet hoe om met woorde om te gaan, was die boek ook soveel meer. Die gedagtes van verlore wees; die “reis oor ’n bergterrein wat ’n spits bereik het” en die hoop van die gelyke pad wat voorlê, was baie bekend – sny naby aan die been.

Ook die mooi beskrywing van hoe die jong pater se hartseer, “die gevoel waarmee ek sedert vanoggend se bieg rondgeloop het, was soos ’n groot put in my gemoed waarin Clyde al sy bitterheid en teleurstelling kon stort. Ek kon hom help om dit te dra totdat dit in my wegsypel en verdwyn”; “Adelbert se verhaal oor sy reis ... het my laat besef, my wegvlug van my vertroude, beklemmende wêreld sou my bloot na ’n nuwe omgewing neem waar ek met nog ’n kultuur met sy gepaardgaande gedragsnorme en opvattings sou moes konfronteer, net nog ’n wêreld waar ek nie sou inpas nie” is eggo’s van die woorde in my kop op my eie lewensreis.

En ook: “[D]aar is ook ’n ander soort weemoed dink ek: die pyn om te lewe in ’n wêreld waarvan jy jou nie deel voel nie, wat jy nie verstaan nie en wat jou nie troos nie. ’n Lewe wat jy graag sou wóú weggee, as jy iets gehad het om dit voor op te offer.”

Dis egter dié woorde – ’n aanhaling van ’n kerkvader – wat my sal bybly: “Dis goed om na die waarheid te soek. Hou aan soek. En wanneer jy dit uiteindelik vind, hou dan steeds aan soek asof jy dit nooit gevind het nie.”

Vertel my waar die idee van hierdie boek ontstaan het en hoe jou navorsing gewerk het?

Die boek is eintlik gevorm deur ’n verskeidenheid gedagtestrome wat bymekaar gekom het. Eerder as om jou van almal te vertel, deel ek een: Toe ek jonk was, sowat 20 jaar gelede, het ek kennis gemaak met ’n bejaarde priester wat in Parys gewoon het. Hy was eintlik ’n Suid-Afrikaner, Afrikaanssprekend van afkoms, maar nadat hy hom as jongman tot die Katolisisme bekeer het, het hy in Frankryk ’n priestersloopbaan gevolg. Teen die tyd dat ek hom ontmoet het, was hy reeds 50 jaar lank weg uit sy geboorteland.

Hy het my in sy woonstel onthaal en my ’n verhaal vertel van hoe hy dekades vantevore, as jong man ’n pelgrimsreis deur Italië afgelê het om ’n heilige man, padre Pio, in ’n Kapusyner-klooster in Italië se ooste te gaan opsoek.

.......
Dié priester, vr Arnold Smit, is al lank oorlede, maar deur die jare het die prentjie van ’n jong Afrikaanse priester op ’n trein deur ’n Europese sneeulandskap, onderweg om ’n heilige man te gaan opsoek, my bygebly. Daar was iets diep weemoedig daaraan, maar dit was ook gelade met iets meer waarop ek nie regtig my vinger kon plaas nie, dalk iets misties.
.......

Dié priester, vr Arnold Smit, is al lank oorlede, maar deur die jare het die prentjie van ’n jong Afrikaanse priester op ’n trein deur ’n Europese sneeulandskap, onderweg om ’n heilige man te gaan opsoek, my bygebly. Daar was iets diep weemoedig daaraan, maar dit was ook gelade met iets meer waarop ek nie regtig my vinger kon plaas nie, dalk iets misties.

So twee jaar gelede het ek besluit om dieselfde reis te onderneem na die dorpie San Giovanni Rotondo in die Italiaanse Gargano-streek. Ek het oral notas geneem; aanvanklik gemeen dit sal dalk stof wees vir ’n meestersgraad aan die Vrystaatse Universiteit se Franse afdeling, waar ek voorheen studeer het, maar daar in die ou dorpie op ’n berg het die idee tot my deurgedring dat ek ’n boek oor die saak sou wou skryf.

Aangesien ek nie meer by vr Smit oor sy ervarings kon kers opsteek nie, moes ek geweldig baie leemtes met my verbeelding inkleur, karakters uitdink, tonele skets, en so het ek besef die boek sal ’n roman moet wees. Ek het die karakters ander name gegee, die handbriek losgemaak en my verbeelding vrye teuels gegee, met die gevolg dat die uiteindelike storie, hoewel deur ’n ware voorval geïnspireer, fiksie geword het.

Hoe verhoed jy dat jou boek te prekerig en geskiedkundig word en te min storie het?

Waarskynlik kan mens nie regtig keer dat so ’n boek sedig en histories sal klink nie. Trouens, ek wou nie regtig religie en geskiedenis vermy nie.

Daar sal onvermydelik mense wees wat voel die boek is te outyds en vroom, meestal omdat hulle nie ’n smaak vir sulke leesstof het nie. Op pad na ’n klooster in die sneeu is nie ’n krimi nie, daar is geen erotiese tonele nie, daar is min politiek. Die mense wat in die boek belangstel, sal waarskynlik juis die soort wees wat veraf, ou, byna Middeleeuse wêrelde interessant en dalk selfs romanties vind.

.......
Groot dele van die boek speel in kloosters af, die karakters is monnike en priesters, hulle praat soms oor teologie, hulle doen niks vreeslik sensasioneel nie. As iemand nie van sulke goed hou nie, sal my raad gewoon wees hulle moet dalk maar die boek vermy.
.......

Groot dele van die boek speel in kloosters af, die karakters is monnike en priesters, hulle praat soms oor teologie, hulle doen niks vreeslik sensasioneel nie. As iemand nie van sulke goed hou nie, sal my raad gewoon wees hulle moet dalk maar die boek vermy. Ek het van my kant af min moeite gedoen om moderne smake ter wille te wees.

Terwyl ek nog aan die skryf was, het mense my by een of twee geleenthede aangeraai om ’n lekker souserige liefdesverhaal en ’n warm vryery hier en daar in te sluit ten einde die boek bietjie meer spicy te maak. Ek is so dankbaar ek het dit nie gedoen nie. My bedoeling was om die wêreld van ’n baie ou Katolisisme vir lesers van binne af te beskryf, met sy eie karakter, priesters en kloosterlinge uit te beeld soos wat hulle is en nie soos wat moderne lesers, grootgemaak op The thorn birds en sodanige verhale, sou wou hê hulle moet wees nie.

Hoe moeilik of maklik was dit om ’n roman te skryf na jou vorige drie boeke?

My vorige drie boeke is bemark as “selfhelp”. Baie mense hou nie van dié etiket nie, maar my het dit nie gepla nie. Ek wou vir mense praktiese raad gee oor hoe hulle meer blymoedig kan lewe, in hul gemoed stil kan raak, trauma kan oorleef.

Oor die jare heen het ek egter ook lus gevoel om mense te herinner dat ons binneruimte – ons emosies, ons gees – tog maar ook baie ingewikkeld is. Daar is nie altyd vyfpunt-lysies wat jou die pad na blydskap aandui nie, daar is nie ’n resep om weemoed op sy plek te sit nie. Die lewe bestaan gelyk uit vreugde en verganklikheid, uit ekstase en droefgeestigheid, en as mens jou arms wyd kan oopmaak om dit alles in te laat, kan iets baie mooi en selfs heiligmakend gebeur. Dit klink seker nou baie abstrak. Maar ’n storie het my die geleentheid gegee om ’n voller, meer genuanseerde beeld van die lewe te skets, iets wat mens nie altyd in selfhelp kan (of moet) doen nie.

Hier is geweldig baie pitkos in jou boek, mooie aanhalings en gedagtes ... Loop jy met ’n boekie rond of is jou huis vol PostIts?

Eerlikwaar, ek werk al 20 jaar aan die boek. Selfs al het ek maar die laaste twee jaar aktief daaraan geskryf, is hier 20 jaar se studie, navorsing, bepeinsing en meditasie betrokke. Ek het in kloosters gewoon, talle geestelike begeleiers gehad, aan die voete van wysgere in die VSA, Birma, Frankryk en Spanje geleer. Al daardie dinge en insigte dam oor die jare heen in jou kop op. Toe ek gaan sit en skryf, was dit soos om ’n sluis oop te trek en het baie daarvan op die bladsye uitgespoel.

Hoe lank het dit toe uiteindelik geneem om die boek te skryf?

Die eenvoudige antwoord sou wees dat die eerste weergawe in ’n redelik frenetiese drie weke geskryf is. Ek was worstelend met ’n paar synsvrae, het San Giovanni Rotondo besoek, in die argiewe van Parys se aartsbiskopdom navorsing gedoen, en toe was dit meteens asof iets anderwêrelds my beetgepak het. In die daaropvolgende dae het ek à la Hemingway in Parys se straatkafees, later op die Kanarie-eilande, gaan sit en elke dag omtrent 16 ure lank geskryf, begeesterd. Ná drie weke het ek ’n manuskrip gehad.

Meer eerlik sou egter wees om te sê dit het so twee jaar gevat. My aanvanklike manuskrip was sterk, maar ek was geseënd met ’n baie wyse redakteur, Nèlleke de Jager van Human & Rousseau, wat aan my uitgewys het daardie manuskrip het nog báie aandag nodig, dus het ons verfyn en verfyn, lang stukke bygeskryf, groot stukke weggelaat, ander verwikkelinge in die teks ingebou. Dié proses het veel langer gevat.

En dan, soos in die vorige antwoord genoem, sou ek ook kon sê dit het my 20 jaar geneem om die boek te skryf. Die aanvanklike idee is in 2004 in my gemoed geplant en het oor die jare geperkoleer, al meer vorm aangeneem, nou uiteindelik gestalte gekry.

Hoe het jy kop gehou met die verskillende tydgleuwe en om seker te maak die inhoud is tydsgetrou? Daar is sulke klein, amper oorkykbare verwysings na tegnologie – of nie – wat die leser regtig in die era sit.

’n Joernalistieke agtergrond is baie waardevol. Omtrent alles wat ek doen, word deur navorsing gesteun. Ek het elke plek in die boek besoek, verkieslik in die seisoen waarin tonele in die boek daar afspeel, notas gemaak van die bome wat daar groei, die mense se gesigte, die geboue, die weer, die klanklandskap. Dan het ek maar gaan oplees oor hoe dit 40 jaar vroeër daar sou gelyk het en dinge verder ingekleur. As mens genoeg navorsing doen, dan skets dié plekke hul amper vanself in jou woorde.

......
As mens genoeg navorsing doen, dan skets dié plekke hul amper vanself in jou woorde.
......

Ek het elke plek besoek wat in die boek genoem word, selfs probeer om op die presiese kerkbankies te gaan sit waar tonele afspeel. Die een uitsondering was ’n paar tonele in Brasilië. Daarvoor het ek maar ’n magdom YouTubes gekyk om so naby as moontlik aan die ervaring te kom.

Om dinge vir die leser makliker te maak, het ek toe probeer om die boek se verskillende vertellers se stemme met hul era te laat rym. Een karakter vertel die stukke wat in 1964 en 1965 afspeel – hy praat dikwels ’n ouer Afrikaans. ’n Ander een vertel die dele van 2003 tot 2024, en sy register is ’n raps meer modern. Ek hoop inniglik dié strategie het gewerk.

Jou boodskap en selfs jou webwerf is “blydskap”. Is jy regtig die blyste, gelukkigste mens op aarde – die orakel as’t ware – of stoei jy ook maar met jou kop?

Mense maak soms die fout om te dink ek praat oor blydskap omdat ek self van temperament blymoedig is. Die teendeel is eintlik waar. Ek bestudeer blydskap omdat dit vir my nie maklik kom nie – ek moes dit oor die jare aanleer. Ek wil graag vir ander mense wys dit kan gedoen word.

In my ervaring is die beste leermeesters diegene wat met hul materiaal moes stoei.

Elke boek wat ek skryf, begin met ’n vraag. My vorige boek het byvoorbeeld oor trauma en hartseer gegaan. Ek onthou die vraag wat ek eendag helder in my gemoed gehoor het: Hoe leef mens in ’n stukkende wêreld?

......
Blydskap was lank vir my ’n vraag, en my skryfwerk en radioprogramme is ’n poging om die antwoorde te vind.
......

Ek het dié vraag gehoor, toe navorsing begin doen vir ’n boek sonder dat ek enige idee gehad het wat die boek sou sê. Skryf dwing mens om met jou vrae te worstel en sin daaruit te maak. Dis hoe dit in elk geval vir my gewerk het.

Blydskap was lank vir my ’n vraag, en my skryfwerk en radioprogramme is ’n poging om die antwoorde te vind.

My nuutste boek moes ook vir my ’n paar vrae beantwoord waarmee ek in my gemoed rondgeloop het. Wat daardie vrae was, sal dalk uit die teks blyk. Ek gaan my kaarte toe hou.

Wat het jy van jouself geleer met hierdie boek?

Sonder om te veel uit te brei: Ek het geleer dat ek Katoliek is.

Watter terugvoer kry jy op jou boek en sal jy weer ’n roman aanpak?

Dit is nog baie vroeg – die boek het maar so drie weke gelede verskyn, dus is ek nog in daardie gefolterde ruimte waar ek weet mense lees die boek, maar ek het nog nie hul terugvoer gehoor nie. Daar is gerugte van een of twee positiewe resensies wat op pad is, en ek is versigtig optimisties daaroor. Maar ek staal my ook vir mense wat nie ’n aanvoeling het vir die ruimtes en die spiritualiteit waarbinne die boek afspeel nie en wat daardeur verveel sal word. So moet dit ook wees – wie kan tog daarop aanspraak maak dat hulle almal tevrede kan stel?

Waaraan werk jy volgende?

Oor ’n paar weke vertrek ek weer na Frankryk. Daar is ’n baie, baie ou storie met diep wortels in die vergete verlede waarvan die impak tot in hedendaagse Suid-Afrika uitspeel. Ek gaan ‘n bietjie meer daaroor uitvind en kyk of dit ’n roman kan oplewer. En nou het ek klaar te veel uitgelap.

  • Johannes, nou ’n Bloemfonteiner, is vanjaar op die Vrystaat Kunstefees en gesels op 18 Julie om 11:00 met Francois Smith oor sy nuwe boek in die ATKV Boeke-oase (Hoofsaal). Die gesprek duur 60 minute en kaartjies is op Webtickets beskikbaar hier
Lees en kyk ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: In gesprek met Johannes de Villiers oor sy roman, Op pad na ’n klooster in die sneeu

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Reisjoernaal

Blydskap in moeilike tye: ’n onderhoud met Johannes de Villiers

’n Helse gedoente: Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Ingelei, vertaal, toegelig, vertolk

https://www.litnet.co.za/author/johannes-bertus-de-villiers/

 

US Woordfees 2018: ’n Onderhoud oor Kalmte in die malle gejaag

 

  • 1

Kommentaar

  • Lev 19:2 is die eintlike strewe om van die eensame na die eensame uit te reik. Op pad na 'n klooster in die sneeu is daardie rein, weemoedige, tog kalme, esoteriese weg wat ons na volkomendheid reis. Die seer, maar altyd hoopvolle pad na egtheid, na waarheid waarin die “ek” genoegsaam is om “ons” te word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top