Blydskap in moeilike tye: ’n onderhoud met Johannes de Villiers

  • 1

Johannes de Villiers (Foto: verskaf)

Ons leef in onsekere tye met talle uitdagings aan die orde van die dag – onder andere ’n wêreldpandemie en ekonomiese onstabiliteit – en dit is daarom maklik om in vandag se tyd oorweldig, gespanne en ongelukkig deur die lewe te gaan.

Soms is dit nodig om stil te raak om van die chaos van die lewe te ontsnap. Die skrywer en joernalis Johannes de Villiers, wat bekend is vir sy boeke oor bewustelikheid (mindfulness) en meditasie, glo dis belangrik om rustig te raak en vrede in jouself te vind. Johannes bied onder andere werkwinkels in mindfulness en meditasie aan. Sy boek Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe wat vroeër die jaar bekendgestel is, brei uit op die idee van bewustelikheid en die positiewe sielkunde, en hoe om ’n gelukkiger lewe te lei. Die boek se voorganger, Kalmte in die malle gejaag, handel ook oor dié konsepte.

Johannes gee raad oor hoe ’n mens in vandag se uitdagende tye kan kies om blymoedig te wees, want soos hy dit op sy webtuiste stel: “Mens hoef nie Japan toe te gaan om jou Zen te vind nie.”

Jou nuwe boek wat vanjaar verskyn het, is getiteld Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe – wat beteken blydskap vir jou?

Baie mense, as hulle sien daar is ’n boek oor blydskap, dink dit gaan alles net oor “vrolik” wees. Hulle dink blydskap is vrolikheid, reënbogies, voëltjies wat sing, pienk spookasem … Maar blydskap is eintlik ’n veel meer diepgaande ding. Blydskap is ’n leefstyl wat jou deur maklike sowel as moeilike tye kan dra. Om ’n bly mens te wees beteken nie jy is elke dag noodwendig lus om uit jou vel te spring van gelukkigheid nie, maar wat dit wel beteken, is om tuis te kom in jou eie lewe en jou lewe te aanvaar soos wat dit is.

Dis onvermydelik dat die lewe terugslae gaan hê waaroor ’n mens nie beheer gaan hê nie. Soms gaan dit goed en soms gaan dit moeilik, maar baie van ons is hartseer omdat ons in ’n stryd is met die lewe. Ons wil nie hê dinge moet wees soos dit is nie; ons wil hê dinge moet net goed gaan. Ons wil nie hê slegte goed moet met ons gebeur nie, en so sit en wens ons ons lewe weg. En wat blydskap eerder is, is die idee om tuis te kom in jou lewe, om te sê jy besef dat die lewe nie net goed is nie en jy aanvaar die lewe volkome met al sy uitdagings. Blydskap beteken om jou lewe te waardeer, met al die moeilikheid saam, want dis wat die lewe maak wat dit is.

Hulle sê swaarkry is amper om met twee pyle geskiet te word: die een pyl tref wanneer iets verkeerd gaan in jou lewe (jy is byvoorbeeld siek of jy verloor geld of iets), maar die tweede pyl is al daardie emosionele aspekte wat bykom, die verwyt en die bitterheid en die stories wat in ons kop maal daaroor. Wat blydskap is, is om daai tweede pyl uit te trek en te sê weet jy, of my lewe nou swaar of moeilik is, ek gaan oukei wees, ek gaan aanhou asemhaal en ek kan nog steeds probeer om selfs in die moeilike tye te kies hoe ek daarop reageer.

’n Bly mens is iemand wat wanneer dit nodig is om te treur jouself toestemming gee om te treur eerder as om jouself daarvoor te verwyt. Blymoedige mense is mense wat hulself toestemming gee om kwaad te wees wanneer dit nodig is, want wanneer jy vir jouself daardie ruimte skep om jou gevoelens in ag te neem, gun jy jouself ook om gelukkig en vreugdevol te wees. ’n Blymoedige mens is ’n mens wat ’n volronde lewe lei en vir alle emosies en alle dinge ruimte maak eerder as om die heeltyd sy of haar lewe weg te wens en te hoop dinge was anders as wat dit is.

Vir mense wat nie weet nie, wat presies behels mindfulness?

Mense dink mindfulness is die vermoë om net aandag te gee in die hier en nou, te konsentreer op wat nou aan die gebeur is. Maar mindfulness is eintlik meer as dit. Dis ’n spesifieke soort aandag. Dit is om aandag te gee aan wat nou gebeur sonder om te oordeel. Baie keer is ons inderdaad in die oomblik teenwoordig, maar ons is die heeltyd besig om te oordeel – ek hou hiervan, ek hou nie daarvan nie – en daai konstante stroom van gedagtes, om dinge op te weeg teen mekaar, om die lewe te verwyt, en om die lewe weg te wens – dit is in ’n groot mate wat ons ongelukkig maak.

So mindfulness sê wees hier, maar sonder daai kommentaar en konstante stroom van gedagtes. Wees net hier, word ’n bietjie stil en laat dinge oor jou spoel soos wat dit is. Kom agter jy kan ook ’n stille teenwoordigheid wees wat kan aanvaar, wat kan ruimte maak vir al die goed wat oor en deur jou beweeg. Skielik sal jy vind dat jou las in die lewe ’n bietjie ligter word; jy word oper, jy word ’n bietjie sagter, en daar is baie meer ruimte vir blydskap en vrede as wat daar is wanneer jy jou kop vul met geraas.

Tans bedryf Johannes ’n jogaskool op Stellenbosch, The Hot Yoga Studio, en ’n klooster op Stanford (Foto: verskaf)

En meditasie? Hoe kan mindfulness en meditasie tot ’n beter lewenskwaliteit lei?

Baie mense wil graag meer rustig en meer bly wees, maar die vraag is hoe kom jy nou daar. Almal sien of ken iemand wat “bly” is, wat goed in die lewe aangepas is en wat ’n rustige en ’n gemoedelike benadering tot die lewe het. Ons dink dan telkens “Ek wil so wees – hoekom kry ek dit nie reg nie?” Die wonder van meditasie is, dis die tegniek waarmee jy jouself leer om meer so te leef, meer mindful, meer blymoedig. Soos wat jy byvoorbeeld gym toe gaan of push-ups doen om jou armspiere te oefen, so moet jy mediteer om meer mindful te word.

Meditasie sluit ’n klomp tegnieke in, en behels in sommige gevalle om stil te sit, en te dink wat jy met jou aandag doen. Sit jy die aandag op al die geraas in jou kop? Leer dan om jou aandag terug te bring na die hier en nou, en leer om teenwoordig te wees in die oomblik. Ten spyte van al die dinge wat teenwoordig is in jou lewe, maklik en moeilik, besef daarmee kan jy saamleef. Wie jy is, is genoeg. En dis die tegniek wat jy in meditasie inoefen, met gekruisde bene, of agter die wasbak terwyl jy skottelgoed was, enige plek. In die boeke wat ek geskryf het, gee ek ’n paar praktiese wenke en tegnieke om jou te help om te mediteer en stil te raak.

Hierdie is vreemde en moeilike tye waarin ons leef (veral nou tydens die inperking). Het jy praktiese wenke hoe ’n mens kalm kan raak wanneer die alledaagse lewe net te deurmekaar voel?

1. Kry ’n hond. ’n Mens het kontak nodig met ’n ander soogdier – dis wetenskaplike bewys. Jou goedvoelhormone raak meer as jy vir ander drukkies gee, en as jy nie aan ander mense raak nie, raak jou streshormone meer. Ons mag natuurlik nie nou vir mense drukkies gee nie, maar daar is ook al bewys dat as jy vir ’n hond ’n drukkie gee, kry jy daai selfde goedvoelhormone. So kry ’n hond – gaan neem een aan by die Dierebeskermingsvereniging – en gee vir die hond drukkies.

2. Moenie in hierdie tye ontspan deur op sosiale media te klim nie. Sosiale media gee jou meer stres eerder as om jou stres te verminder. Sosiale media is nie ’n ontspanningsmiddel nie, dis gevul met hoogs emotiewe inligting wat jou net meer gaan laat stres. Doen eerder iets anders wat ontspannend is, soos om in die tuin te werk.

3. Drink minder koffie en wyn. Ons kan nou in elk geval nie wyn koop nie, maar moenie omdat jy nou dalk minder wyn drink, meer koffie drink nie. Dit is slegs korttermynstimulante en op langtermyn depressante wat jou selfs erger gaan laat voel. Drink ’n paar koppies minder koffie ’n dag – jy gaan agter kom jy deal beter met dinge.

4. Probeer elke dag vir jou ’n tydjie inruim wanneer jy stilsit en niks doen nie. Dis verstommend hoe besig ’n mens raak selfs as jy by die huis is. Jy hardloop en skarrel heeltyd rond; daar is altyd iets wat gedoen moet word. Om stil te sit vir 10 minute gaan dalk moeilik wees, maar dis baie nodig sodat jou gemoed net kan stil raak en jy kan wegbeweeg van die geraas wat jou kop so mal dryf. Mediteer.

5. Lees minder nuus. Lees een keer per dag nuus en dan los jy dit daar.

Hoe kan ’n mens leer om meer dankbaar te wees?

Op enige oomblik in jou dag as jy voel dinge raak buite beheer – jy is dalk kwaad, jy raak bang – plant jou voete op die grond, raak rustig, en vra jouself wat is daar op daardie oomblik waarvoor jy dankbaar kan wees. Span jou sintuie in en vra jouself: Wat is daar wat ek nou kan sien, hoor, voel of proe om voor dankbaar te wees. Dalk is dit iets klein. Dalk is dit letterlik die klere aan jou lyf. Luister na die geluide in jou huis – dalk is dit die geluid van die wind, ’n voëltjie. Of dalk ruik jy iets lekker; dalk sit jy naby aan iemand wat vir wie jy lief is: ’n vriend, jou kind, ’n eggenoot, of dalk ’n kollega – wees daarvoor dankbaar.

Dankbaarheid is iets wat jy daagliks moet oefen – jy moet van jou kant af werk om dit te kweek. Moenie wag tot die einde van die dag om ’n dankbaarheidslysie op te stel nie. Doen dit sommer nou. Vra vir jouself: Wat kan ek op hierdie oomblik sien, hoor, ruik, voel of proe waarvoor ek dankbaar kan wees?


Johannes de Villiers het as joernalis gewerk by onder andere Huisgenoot, Rapport en Die Burger. Hy het ook voorheen doseer by die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Tans bedryf hy ’n jogaskool op Stellenbosch, The Hot Yoga Studio, en ’n klooster op Stanford.

Lees ook

Resensie: Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe deur Johannes de Villiers

Kalmte in die malle gejaag deur Johannes Bertus de Villiers

US Woordfees 2018: ’n Onderhoud oor Kalmte in die malle gejaag

  • 1

Kommentaar

  • Sjoe, iemand wie se liggaam só soepel is, se denke moet ook buigsaam wees!
    Dit nooi my uit om die boek te lees - klink na 'n vars bries op die Afrikaanse horison.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top