Resensie: Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe deur Johannes de Villiers

  • 0

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe
Johannes de Villiers
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179775

Met ’n tweede boek oor mindfulness na Kalmte in die malle gejaag: Mindfulness vir besige mense, bevind Johannes de Villiers hom in goeie geselskap. Deur blydskap as invalshoek te kies, sluit hy aan by niemand minder nie as die Dalai Lama in The art of happiness: A handbook for living, en weer by die Dalai Lama, hierdie keer saam met Desmond Tutu, in The book of joy: Lasting happiness in a changing world.

Die Dalai Lama is in eersgenoemde boek in gesprek met die Amerikaanse psigiater Howard C Cutler wat sy lewensbeskouing vertolk vir ’n Westerse gehoor. De Villiers put self uit die ou wysheidstradisies soos dit in verskillende spirituele strome uiting vind, sowel as uit die positiewe sielkunde waaroor hy van die jongste navorsing weergee. Dit is merkwaardig dat veral die Boeddhisme so gemaklik met die moderne wetenskap en veral die sielkunde in gesprek tree.

In The book of joy kom die kenmerkende eienskappe van twee groot geestelike leiers van ons tyd na vore: hul humorsin en skynbare geluk. In Blydskap word jy ook vermaak met De Villiers se skerp humorsin, en sy spitsvondige vertellinge het hierdie leser soms hardop aan die lag gehad. In sy ondersoek na blydskap word heelwat staaltjies vertel van reise oor die wêreld heen om mense uit te vra oor die oorsprong van hul geluk.

Onderskeid word getref tussen pyn as ’n fisiese ervaring en swaarkry en ongelukkigheid wat volg as menslike reaksie om daardie pyn te wil wegstoot en -wens. In ons gestoei en worstel deur weerstand teen die oomblik te bied, wens ons ons eie lewens weg. Die lewenskuns is egter om jou omstandighede te omhels en met ’n oop hart na jou pyn te luister.

Dis waarin die aanleer van mindfulness ’n sleutelrol speel, want jy kan “jou brein oefen om gelukkiger te wees”. Die skrywer gee deurlopend waardevolle wenke, onder meer omtrent jou meditasiepraktyk. As ’n langdurige amateur-mediteerder het ek eenvoudige goed, soos dat dit nie altyd lekker hoef te wees nie en dat jy jouself toestemming kan gee om van tyd tot tyd verveeld te wees tydens meditasie, bemoedigend gevind. So ook om name aan die bekende stemme in jou kop wat tydens meditasie opkom te gee, en hulle te verwelkom.

Ek waardeer dat die mindfulness wat De Villiers in gedagte het nie oor “pie in the sky when you die” gaan nie, maar in voortdurende wisselwerking met gemeenskapsbehoeftes is, dus werklik “from the (meditation) cushion to the community”. Jy word opgeroep om te “reageer op die roepstem wat jy tydens meditasie in jou hart hoor … om op te staan en iets te vind waarvoor jy meer omgee as vir jouself … en dan daarvoor (te) werk”.

Ek is veral geprikkel deur De Villiers as ’n oud-joernalis se opmerkings oor sy professie, asook oor sosiale media. In die vreemde tye van sosiale (liewer: fisiese) distansiëring waarin geloofsbyeenkomste byvoorbeeld aanlyn verskuif en ons afhanklik is van betroubare nuus, is dit juis relevant. Jy word op die internet deur die “chaos oorval”. Soos hy na iemand in die tegnowêreld verwys as ’n “binnestem” wat ook kritiek lewer teenoor sy eie industrie, is De Villiers so ’n stem in die mediawêreld.

“Nuus vertel jou nie wat aangaan nie, dit vertel jou wat verkeerd gaan,” sê hy reguit. Behalwe dat slegte nuus verkoop, het die skrywer dit dat woede verkoop. Die nuussiklus wat deesdae aansluiting vind by sosiale media, word volgens hom gedryf deur verontwaardiging. My reaksies laat my voel “of ek moreel beter is as hulle”.

Hy beveel nie aan dat jy nuus heeltemal uitsny nie, maar meer bewus is van die nuus wat jy volg, sowel as eenvoudig minder daarvan lees! Die toets vir inligting is vir De Villiers die bruikbaarheid daarvan – die waarde wat dit tot jou loopbaan en lewe toevoeg. Die dissipline om net eenmaal per dag na die webwerf van ’n nuusverskaffer wat jy vertrou te gaan, is nog ’n goeie wenk. In ’n tyd van groot onsekerheid waarin geïsoleerde mense rondtas om hulself met inligting te probeer bemagtig en kalmeer, is dit ’n uitdagende oefenskool. Die skrywer tref ’n belangrike onderskeid tussen meningstukke en feitelike berriggewing, waaroor hy sê dat die balans na eersgenoemde oorhel terwyl jy liewer op laasgenoemde moet fokus.

’n Ander betekenisvolle wenk terwyl ons deur ’n potensieel dodelike virus bedreig word, is dat mens van tyd tot tyd “innig aan jou dood (moet) dink, soos wat mens in al die wysheidstradisies aangemoedig word om te doen”. Sonder om morbied te raak kan dit inderdaad daartoe lei dat jou lewe “helderder” raak. Dalk kan ons uit die wysheidstradisies put vir oefeninge hieroor in ons tye van afsondering en gedwonge introspeksie.

De Villiers se slotsom is ’n verdere common sense-troos: “Die lewe is ’n klomp goed wat die een ná die ander gebeur … en so word jy oor die jare ’n rammelkas van gawes en wonde, al hoe meer kleurvol en al hoe meer uniek jouself.” Dis van die kwinkslag-waarhede waarvan jy in Blydskap volop kry. De Villiers is nie skaam om raad te gee nie en soms het ’n mens mos nodig om reguit gesê te word waarmee om op te hou, wat om te sny en wat om te doen. Die skrywer se geloofwaardigheid lê daarin dat wat hy sê gerugsteun word deur antieke tradisies, goeie navorsing en sy eie jarelange mindfulness-en-meditasie-praktyk. Sy onderwerp word geweef deur die stories van mense wat kleurvol en uniek hulself geword het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top