Kalmte in die malle gejaag deur Johannes Bertus de Villiers

  • 4

Foto van Johannes Bertus de Villiers: LitNet

Kalmte in die malle gejaag, mindfulness vir besige mense
Johannes Bertus de Villiers
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798175883

Wat ’n aangename verrassing om oor mindfulness in Afrikaans te lees! Johannes het ’n stukkie baanbrekerswerk verrig en daarin geslaag om hierdie misterieuse tema meer toeganklik te maak vir Afrikaanse lesers. ’n Potensieel moeilike tema word op ’n ligte, gemaklike manier aan ons bekendgestel en die volle spektrum van mindfulness word gedek – van tegnieke, die wetenskap daaragter, en die fisiologiese en sielkundige voordele wat mens daaruit kan kry, tot plekke waar mens kan mediteer. Hy bespreek die voortbestaan van ons planeet, Donald Trump, Facebook, die Dalai Lama en selfs die Ku Klux Klan!

Daar is ’n goeie balans tussen staaltjies uit sy verlede en dié van ander mense wat ’n rol gespeel het (en steeds speel) in die bevordering van mindfulness. Veral die manier waarop Johannes die toepassing van mindfulness op persoonlike emosies (soos aggressie) en algemene lewensomstandighede uitlig, gaan vir lesers van waarde wees. Die boek plaas die soeklig op al die tersaaklike gebiede van ons moderne lewe, soos die digitale en sosiale media, en sy kuberdetoksplan bied praktiese stappe om dié nuwetydse tegnologie te beheer. Die manier waarop hy geloof en mindfulness in konteks plaas, help om hierdie kopwetenskap aanvaarbaar te maak vir almal, ongeag jou geloofsuitkyk.

Die boek slaag nie net daarin om mindfulness bekend te stel nie, maar gee ook wenke hoe om dit vir persoonlike voordeel toe te pas. Selfs deur net die boek te lees word mens se bewustheid verhoog. Wat nog as jy dit begin toepas!

Johannes het self die pad geloop, en skryf uit persoonlike ondervinding. Sy avonture in Mianmar getuig daarvan. Dis nie slegs ’n kommentaar op mindfulness nie, maar 'n persoonlike interpretasie van ’n eeue oue lewensfilosofie. Na 2 500 jaar het Johannes dit Afrikaans gemaak. Die boek is ’n moet vir elke gesin. Ons moet almal hierdie kopwetenskap opneem en daagliks toepas.

 

  • Klasie Wessels, mindfulness-gids wat toere na die Tibettane in die Himalaja begelei
  • 4

Kommentaar

  • Sal mens nie die woord "mindfulness" met bedagsaamheid kan vervang nie? Dat mens 'bedag' moet wees oor jou besluit. Om in die oomblik te wees.

  • Bedagsaamheid is 'n goeie alternatief Con. Taal en metafoor is so 'n wonderlike manier om 'n gedagte oor te dra. Soos jou laaste sin byvoorbeeld - om "in" die oomblik te leef is anders as om "vir" die oomblik te leef. Eersgenoemde stelling is nader aan die intensie van Bedagsaamheid. Laasgenoemde het 'n effense selfsugtige aanklank.

  • Nee, Johannes, jy het nog nie werklik geleef nie. As jy 72 is en alles wat jy besit, brand voor jou oë af, dan weet jy wat is verlies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top