Kalmte in die malle gejaag
Johannes Bertus de Villiers
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798175883
Johannes Bertus de Villiers gesels met Naomi Meyer oor Kalmte in die malle gejaag.
Is vrede die teenoorgestelde van oorlog? Is kalmte die teenoorgestelde van chaos? Brei asseblief uit op daardie stil plek in die oog van die storm.
Dankie vir die geleentheid vir ’n geselsie. Mindfulness (of bewustelikheid soos ons dit in die boek op Afrikaans noem) is ’n baie rare ding – dit werk eintlik heel anders as wat mense verwag. Mense maak dikwels die aanname dat jy “kalmte” en bewustelikheid net kan ontgin as jy met ’n vreedsame uitdrukking op jou gesig rondsit - verkieslik op ’n strand of in ’n groen woud, soos iets ’n sjampoe-advertensie. Maar bitter min van ons gaan onsself ooit in sulke omstandighede bevind; buiten vir ’n kort vakansie hier en daar. ’n Veel nuttiger kuns is om iets van kalmte en tevredenheid in jou alledaagse, holderstebolder lewe te kan beoefen.
Hoewel mense in bewustelikheidswerk aangemoedig word om daagliks iewers ’n tydjie alleen te kry waar jy kan leer om jou gedagtes dop te hou en jou kalmte te vind, is die doel daarvan nie om jou te lank van die wêreld weg te keer nie, maar juis sodat jy kan leer om daardie kalmte in jou gemoed te vind selfs wanneer jy by die werk of tussen jou gesin of by ’n kuierplek deur geraas en chaos omring word. Dis die kuns om tydens chaos ’n oomblik stil te staan en te besef hoewel die chaos rondom jou gebeur, hoef dit nie binne jou ook te gebeur nie. Daar is tegnieke wat mens kan aanleer om te keer dat die geraas rondom jou oorspoel en ’n geraas binne jou kop word.
In ons toenemend gejaagde en besige wêreld is dit waarskynlik die een vaardigheid wat toenemend van kritieke belang word vir mens se sielkundige welsyn: om te weet hoe jy ’n besige lewe kan navigeer sonder dat jou gedagtes self waansinnig begin raak. ’n Helder kop in ’n mal wêreld.
Wat veroorsaak al die nie-kalmte, dink jy? Is dit die groter bereikbaarheid van ons almal (byvoorbeeld weens sosiale media en selfone), omdat ons almal heeltyd beskikbaar moet wees?
As jy in die geskiedenis terug gaan, sal jy sien in antieke Indië en die vroeë Christelike kerk was daar al talle wysgere wat gemaan het dat mense deur die geraas in hul koppe heen en weer gepluk word, en dat mense moet leer om weer kalmte en helderheid binne hulself te vind. Die Boeddha het 400 vC al gesê elke mens het ’n mal aap in sy kop. So dis nie ’n probleem wat eie aan die 21ste eeu is nie.
Die nuwe kontemplatiewe neurowetenskap help ons deesdae om te verstaan dat die mens se brein maar so bedraad is om vinnig met ’n ding op hol te wil gaan en dikwels op negatiewe dinge te wil fikseer. In prehistoriese tye het dit mense help oorleef as hulle altyd op die uitkyk was vir moontlike gevare en probleme soos roofdiere en vyandige stamme.
Ek vermoed wel dat die dinge vererger word in ons era deur die oormaat van media in ons kontemporêre wêreld. Studies het al getoon hoe die nuusdekking in koerante en in uitsaaimedia oor die laaste 40 jaar stelselmatig al meer swartgallig geword het en al meer op die negatiewe fokus. Dis moeilik om deesdae die nuus te volg sonder om woedend of verontwaardig te voel.
Ons koppe is soos masjiene wat van tyd tot tyd ’n blaaskans moet kry sodat dit kan bedaar en insette kan verwerk. Maar met die 24 uur-nuussiklus word ons konstant met inligting gebombardeer en ons word al meer senuagtig sonder dat ons dit ooit kan verwerk. Daardie tipe dinge het uiteraard ’n geweldige impak op mense se geesteswelsyn.
Jy is 'n joernalis, Johannes. Is dit dalk jou werk waaruit dit spruit, die gevoel dat alles al gister moes klaar wees? Hoor jy dit by ander mense ook?
Ek is eintlik ’n oudjoernalis. Joernaliste is berug daarvoor dat hulle onder hoë stres werk en dikwels knak – dis waar die ou cliché vandaan kom van joernaliste wat te veel drink; in die ou dae was dit maar mense se manier om met die geraas in hul kop te probeer omgaan.
Maar dis nie iets wat eie is aan joernaliste nie. Jy kan in enige beroep staan en jou kop kan met jou op hol gaan. Trouens, jy kan op ’n koppie in die middel van die Karoo gaan sit om jou af te sonder en vind dat jy steeds in jou gedagtes heeltyd met kollegas of familielede of nuusfigure baklei. Dis verstommend hoeveel huisvroue en afgetredenes met angssteurnisse sukkel. Verreweg die meeste van ons sukkel om daardie “af”-skakelaar te vind.
Ons praat nog heeltyd oor jou boek Kalmte in die malle gejaag. Waar kom die inspirasie vandaan, hoe is hierdie boek gebore?
Die idee van die boek kom van Annake Müller, my uitgewer by Human & Rousseau. Die uitgewers doen gereeld vooruitskattings oor goed wat die wêreld aan die praat het en kry dan iemand om daaroor te skryf. Tans is daar ’n geweldige belangstelling in mindfulness en H&R het gemeen Afrikaanse mense wil saam gesels.
Hulle het my gevra om dit te skryf, want benewens oudjoernalis, het ek ook 18 jaar se ervaring van die indiepte-studie van meditasie en bewustelikheid. Ek help lei soms retraites namens die organisasie The Dharma Centre, waar ons mense leer om stil te sit, bewus te raak van die geraas in hul koppe en stadig die leisels van hul eie gedagtewêreld weer terug te neem. So, hoewel ek die boek binne ’n paar maande geskryf het, sê ek vir mense ek werk eintlik al sedert die jaar 2000 daaraan, want baie van die ervarings en stories wat ek in die deur jare se meditasie-werk in Suid-Afrika, Amerika en Asië opgetel het, het in die boek ingevloei.
Dit was ook vir my ’n goeie geleentheid om ander mense se stories te vertel. Jy sal sien die boek se formaat is grotendeels dat ek vertel hoe ander mense (oorwegend Suid-Afrikaners) met behulp van bewustelikheid geleer het om helderder, sagter en meer goedhartig te lewe.
Jy eet spesiale kos. Of nie? Eet die res van ons dalk die spesiale en verwerkte goeters? Praat bietjie met my oor kos en of dit impakteer op daardie kalmte waarna ons almal strewe.
Ek eet nie juis spesiale kos nie, als wat op my bord is kom van Checkers. Ek eet wel geen vleis of diereprodukte nie uit etiese oorwegings.
As mens mindfulness en meditasie beoefen, raak jy baie helder. Dit wil sê jy let al meer op wat rondom jou aan die gebeur is, maar jy raak ook bewus van wat binne jou gebeur, hoe jou lyf voel, hoe jou gesondheid op sekere dinge reageer. So dit raak bietjie moeiliker om jou lyf vol ongesonde dinge te prop as jou aandag baie skerp is en jy kan voel wat dit als aan jou ingewande en gemoed doen.
As jy baie ure insit om jou gedagtes helder te kry, is dit ook bietjie sinneloos om baie kafeïen en alkohol te drink, wat net weer jou gedagtes gaan omkrap; so ek probeer om nie te veel van daardie substansies in te neem nie.
Joga. Nog 'n aktiwiteit waarby jy betrokke is. Vertel bietjie.
Ek besit ’n joga-ateljee op Stellenbosch. Ek bestuur dit sedert ek die joernalistiek einde 2016 verlaat het.
Ons bied daar meditasie-byeenkomste aan en dis vir my nogal lekker om te sien hoe mense uit allerlei agtergronde reageer as hulle kom leer om hul asem dop te hou en hul oë oop te maak vir die wêreld rondom hulle.
In jou boek deel jy ook ander mense se stories. Hoe het hulle jou pad gekruis, enigiemand se verhaal wat jy wil uitsonder?
Ek is sedert 2001 student van ’n Zen-sentrum, The Dharma Centre. Ons is in die dorp Robertson gesetel en my leermeester daar is Heila Downey SSN, ’n voormalige student van die Koreaanse Zen-meester Seung Sahn. Party mense dink Zen is baie weird, maar dis eintlik net ’n Japanese woord wat “meditasie” beteken. So ons kom gereeld daar bymekaar om vir tydperke van twee tot tien dae doodstil te sit en saam te mediteer. Soms werk ons bietjie stil in die tuin of maak saam kos, dis waar ons bewustelikheidsvaardighede inoefen wat ons dan in die res van ons lewens kan toepas.
Baie van die mense wie se stories ek in die boek vertel, is mense wat ek deur The Dharma Centre of verwante netwerke ontmoet het, sielkundiges, sakelui, ouers, kinders, misdadigers, predikante, studente, wat ook nog als. Ek hoop mense wat die boek lees sal iets by al hierdie mense kan leer.
Twee stories uit die boek wat my veral sal bybly, is dié van twee mense wat nabydood-ervarings gehad het. Die een het in die sneeu in ’n berg in Amerika vasgeval en byna gesterf, die ander het wel ’n paar tellings klinies gesterf ná ’n operasie wat skeefgeloop het. Albei van hulle het deur daardie ervaring besef hoe ontsettend kosbaar die lewe is en hoe spyt hulle is dat hulle so baie van hul eie lewens misgeloop het, hul gedagtes ver weg. Nou weet hulle elke oomblik is heilig – selfs as hul kinders met hulle baklei of die bure se grassnyer raas, dan is hulle verheug dat hulle hier kan wees om dit te beleef. Hul stories vorm die begin en einde van die boek en ek hoop dit sal lesers net soveel aangryp as wat dit my geroer het.
Wat lees jy, wat doen jy in die algemeen sommer net vir die lekker?
Ek bedryf my eie onderneming, gee klas aan die Universiteit van Stellenbosch, studeer en het nou ’n boek wat pas verskyn het, so daar is nie regtig veel vrye tyd in my lewe nie. Ek gebruik die vaardighede wat ek uit bewustelikheid en meditasie geleer het om bietjie ruimte in my besige tye te bring en daar magic te vind. As ek in spitsverkeer sit, kyk ek met aandag na die mense rondom my en probeer iets oor hul stories verstaan. As ek met iemand vergader, probeer ek van hul stem bewus bly en om hulle in die oë te kyk. As ek met die sypaadjie afstap, herinner ek myself daaraan om na voëlgeluide te luister en na die goggas teen boomstamme te kyk.
My aanvanklike voorstel vir ’n naam vir die boek was “’n Tikkie magic waar jy ook al gaan”. Die uitgewer het nie baie van die naam gehou nie, maar ek probeer dit nogtans so bietjie van ’n persoonlike leuse maak. Jy hoef nie na Mauritius of Thailand te gaan om iets lekker te doen nie; jy kan op enige tydstip gaan stilstaan en vir jouself vra: “Waar is die magic in hierdie oomblik?” en jy sal waarskynlik iets kry.
Wat gaan jy als by die Woordfees bywoon? Jy kan sommer ook vertel van die item op die program wat jy MOET bywoon, naamlik jou boekbekendstelling.
Ek dink nie dis tegnies ’n “bekendstelling” nie, net ’n boekbespreking. My boek word bespreek op ’n geleentheid in die Botaniese Tuin. Ek gaan eers saam met die gehoor ’n mindfulness-oefening doen, waarna ek en die joernalis Erns Grundling oor die boek gaan gesels. Die kaartjies was uitverkoop, maar daar is ‘n paar ekstra kaartjies deur die Woordfeeskantoor beskikbaar gestel.
Ek gaan ook na ’n bespreking van Carina Stander se roman Die Bergengel. Dis die mooiste boek wat in baie jare in Afrikaans verskyn het, ’n ouwêreldse fantasie vir volwassenes wat mens nogal aan Ursula le Guin se Earthsea-boeke herinner.