
’n Jaar in my lewe
Louis Pretorius
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637008280
Die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur het die afgelope twee dekades ’n gesonde opbloei beleef. Ten spyte van ’n algemene gebrek aan ’n leeskultuur en ’n afname in kinders en tieners se leesbegripvermoëns (soos bevind in die 2021-uitslae van die Progress in International Reading Literacy Studies), is daar wel jong lesers wat kinder- en jeugliteratuur ywerig lees en geniet. Skrywers soos Nerine Ahlers, Annerle Barnard, Hannes Barnard, Zelda Bezuidenhout, François Bloemhof, Jaco Jacobs, Christien Neser, Cecilia Steyn, Derick van der Walt, Jan Vermeulen en Fanie Viljoen se jeugromans is gewilde leesstof onder tienerlesers. Verskeie jong skrywers van kinder- en jeugliteratuur, soos Faeed Amardien, De Wet Hugo, Cliffordene Norton, (wyle) Joha van Dyk en Carel van Rooyen, het onlangs gedebuteer. Ten spyte van ’n immers groeiende gebrek aan ’n leeskultuur in ouerhuise en skole, is daar nog hoop vir dié literêre genre in Afrikaans.
Die bekroonde dramaturg en draaiboekskrywer, Louis Pretorius, het in 2023 met Kompleks gedebuteer. Dié jeugroman is in 2025 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon met die Scheepersprys vir jeugliteratuur. Pretorius is bekend as draaiboekskrywer van televisiereekse soos Die boekklub, Kompleks en Tuiskoms. Sy tweede jeugroman ’n Jaar in my lewe het pas by LAPA verskyn.
Die jeugroman word opgedra aan “al die verlore tieners van klein dorpies”. Die milieu en tydvak waarin die jeugroman afspeel is belangrik, aangesien dit die konteks bied en atmosfeer skep waarin die karakters in die negentigerjare hul seksuele identiteit verken en vir hulself ’n regmatige plek in die breër samelewing kan uitkerf. Die verhaallyn fokus op die lewensverhaal van twee tienerseuns wat in hul matriekjaar allerlei uitdagings moet trotseer. Liam Human se ouers is eng konserwatief, terwyl Martin van Breda se ouers redelik “verlig” in hul lewensuitkyk is. Dit is ironies dat sy pa juis ’n NG-predikant is – ’n aanduiding dat daar selfs spreekwoordelike lig is binne die eens verkrampte Afrikaanse geloofsgemeenskappe. Hiermee wil Pretorius ook beklemtoon, om die titel van wyle Jeanne Goosen se novelle te gebruik: Ons is nie almal so nie. ’n Ouer se liefde vir sy of haar kind is immers in die meeste gevalle onvoorwaardelik. Alhoewel Liam aanvanklik nie veel aandag skenk aan die nuwe seun, Martin van Breda, nie, is daar reeds tydens hul eerste ontmoeting tydens die atletiekbyeenkoms ’n vonk wat nie ongesiens verbygaan nie. As gay tienerseun is Martin dadelik verlief op Liam. Maar is Liam gay? Dit is die reis waarop die narratief die leser neem. Selfontdekking en -aanvaarding geskied nie oornag nie.
Die verhaal begin in Januarie 1996 en strek oor die tienerseuns se volle matriekjaar. Die leser kan met verskeie mylpale, soos die Valentynsdans, Matriekdans en die K53-toets, identifiseer. Soos die meeste matrikulante, ervaar Liam en Martin akademiese druk om te presteer, wroeg deur belangrike eksamens met universiteitsaansoeke in gedagte en beoefen buitemuurse aktiwiteite soos sport en redenaars. Insgelyks moet Liam en Martin hul onderskeie sosiale lewens bestuur. Vriendskap, liefde, jaloesie en komplekse verhoudings is maar enkele faktore waarmee hul op daaglikse basis gekonfronteer word. Die eerstepersoonsperspektief komplementeer die onpretensieuse wyse waarop elke karakter se gevoelens en denke sonder sensuur verwoord word. Pretorius slaag daarin om die tydvak op merkwaardige wyse te verbeeld. Die verwysings na musiek, sangers, haarstyle, rekenaartegnologie (wie onthou nog ’n 486-rekenaarstelsel?), kassette, videowinkels en fietsloodse dien maar as enkele voorbeelde. Musiek is veral belangrik in die konteks van die jeugroman. In dié opsig verskyn ’n Spotify-skakel voorin die jeugroman, sodat hedendaagse lesers wat nie vertroud is met Cindy Lauper se “Time after time” of REM se “Losing my religion” nie, hul verwysingsraamwerk kan uitbrei. Die keuse van musieksnitte is vernuftig by die teks ingeweef. Die leser kan die musiek aan die konteks van ’n spesifieke gebeurtenis koppel, hetsy romanties of gewelddadig.
So wat maak Pretorius se jeugroman uniek? Daar is immers hoofkarakters in ander Afrikaanse jeugromans soos Fanie Viljoen se Uit (2014) wat gay of queer is. Myns insiens is dit die eerlike en geloofwaardige diepte waarmee Pretorius elke karakter se seksuele identiteit, persoonlikheid, denke, gevoelens en lewensverhaal uitpluis, wat dié jeugroman van ander onderskei. Daar word openlik gesoen, hande vasgehou en gemasturbeer. Geen onderwerp is taboe nie. Volwasse lesers wat in die negentigerjare grootgeword het, móét hierdie jeugroman lees. As ’n leser soos Liam in ’n dorp soos Potgietersrus, Vryheid, Clanwilliam of in Verwoerdburg daagliks bullebakke by die skool moes trotseer, is hierdie jeugroman vir jou ook bedoel. Indien iemand jou ’n “moffie”, “boudkapper” of “faggot” genoem het, is hierdie jeugroman ’n teks wat gelees moet word. Vir gays (of queers) was daar nie in 1996 ’n jeugroman soos Pretorius se ’n Jaar in my lewe nie. Hulle was die onsigbares wat daagliks verskuil agter ’n masker moes voorgee en wegkruip. Diegene wat moes ontken wie hul werklik is en vir wie hul lief mag wees. Dié jeugroman is geskryf vir elke tienerseun of -meisie wat nie die ou of meisie van sy of haar drome na ’n matriekafskeid kon neem nie. Elke ouer, onderwyser en tiener behoort hierdie jeugroman te lees. Dit is ook verblydend dat ’n karakter soos Juffrou Grobler geskep is. ’n Positiewe rolmodel is broodnodig vir enige tiener wat met sy of haar seksuele identiteit wroeg.
Aanvanklik mag die tyd waarin die jeugroman afspeel vir hedendaagse tienerlesers vreemd wees, maar menslike emosies, vooroordele en gedrag is universeel. Ek kan maar net sê: Ek wens ék kon ’n Jaar in my lewe in die negentigerjare in Verwoerdburg lees. Dalk was daar dan minder selfdoodpogings, haat, geweld of mense soos Aubrey Levin wat gays in die voormalige SAW gemartel het met onder andere hormoonbehandeling en aversieterapie, wat sonder genade toegepas is. Dit is ’n diep persoonlike jeugroman wat soveel meer bied as dit wat op die oppervlak verskyn. Temas soos seksuele identiteit, selfdood, geloof, afknouery, poging tot moord, haat, diskriminasie en liefde kom aan bod. Tienerlesers wat die jeugroman sonder vooropgestelde idees benader, sal dié verfrissende storielyn terdeë geniet.
’n Punt van kritiek is egter die verbloeming van kragwoorde. In dié opsig het Afrikaanse jeugliteratuur nog ’n uitdaging wat oorbrug moet word. As oud-onderwyser en dosent verstaan ek die uitgewer se rede vir die gebruik van simboliese tekens om kragwoorde te “versag”, soos die waarskuwing in die begin van die jeugroman ook aandui. Myns insiens was dit onnodig om die kragwoorde met simbole aan te dui. Die meeste tieners (en die meerderheid volwassenes) skroom selde om op daaglikse basis kragwoorde (vloekwoorde) te gebruik. As daar immers oor gay seks geskryf kan word, kan kragwoorde soos fok, kak, moer en poes netsowel uitgeskryf word, sonder die gebruik van simbole. Dit belemmer soms die leestempo, aangesien die leser fyn en aandagtig moet lees om te sien of die woord kak of fok is. Indien ’n leser (of onderwyser) ongemaklik voel om dié woorde hardop voor te lees, kan hulle dit eenvoudig oorslaan in die klaskamer. Die leerders is oud genoeg om vir hulself te besluit of hulle die kragwoorde wil lees of nie. Nietemin is hierdie enkele punt van kritiek nie die alfa en die omega nie en is die jeugroman steeds grensverskuiwend van aard.
Pretorius het met ’n Jaar in my lewe die Rubicon oorgesteek. Alhoewel skrywers soos Zelda Bezuidenhout (Toe ons oneindig was), François Bloemhof (Slinger-slinger en Nie vir kinders nie), Barrie Hough (Skilpoppe), Ihette Senekal (Vyf sekondes voor Vrydag) en Fanie Viljoen (Uit) gay karakters in die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur verwelkom het, is daar tot op hede geen Afrikaanse jeugroman wat só lewensgetrou en onverskrokke op seksuele identiteit fokus nie.
Liam en Martin se verhaal is ’n verhaal wat al dekades wag om vertel te word. Hierdie liefdesroman tussen twee tienerseuns huiwer nie om alle grense te oorskry wat sogenaamde “sensitiewe” lesers mag ontstel nie. Pretorius (en die uitgewer) was dapper om ’n jeugroman van hierdie kaliber die wye wêreld in te stuur. Iemand iewers, hetsy op ’n klein dorpie of in ’n metropool, gaan diep ontroer word deur Pretorius se ’n Jaar in my lewe. ’n Jaar in my lewe is in elke denkbare opsig ’n merkwaardige jeugroman wat die Afrikaanse jeugliteratuur vir ewig op sy kop gedraai het. Pretorius het as sodanig die spreekwoordelike sluise geopen vir ’n nuwe generasie skrywers wat gay (of queer) identiteit sonder skroom kan verken. Beide tieners en volwassenes behoort dié jeugroman te lees. Dit is ’n prysenswaardige jeugroman.
Lees ook:
Die uitbeelding van gay manlikheid in die werk van drie debuutdigters

