Kom luister saam!
Oor Afrikaans, in Afrikaans.
Die kort en kragtige Lekker LitNet-insetsel gesels oor:
♦ Afrikaans en Afrikaaps
♦ die herkoms van die taal
♦ en alles wat lekker is rondom Afrikaans
Net op Radio 786 – 100.4fm.
Robyn van de Rhede en Menán van Heerden voer onderhoude met mense wat passievol is oor hul taal.
Afrikaans en Afrikaaps leef en beef op teaterverhoë, in die woordkuns van rymkletsers en digters, tydens vurige debatte by feeste ... en die lys hou nie op nie!
Die eerste gas op die maandelikse Lekker LitNet-insetsel is die Universiteit Kaapstad-student Riyaadh Lawrence.
Ons het met Riyaadh gesels oor sy LitNet-gedig “Van Diep Rivie’ na Mennenberg”.
Riyaadh het meer vertel oor:
◊ sy passie en liefde vir Afrikaaps
◊ sy mentors
◊ die stigmatisering van Afrikaaps teenoor Standaardafrikaans
◊ die stryd van Afrikaapse leerders in Standaardafrikaanse en Standaardengelse klasse
◊ Afrikaaps op die Kaapse Vlakte
◊ Engels “vs” Afrikaaps op skool en by die huis
◊ Afrikaaps op universiteit, en
◊ Afrikaaps as lewenskragtige skryftaal.
..............
Luister hier na Lekker LitNet se eerste insetsel:
*Luister ook na die maandelikse #litkitsfeit oor Afrikaans aan die einde van elke onderhoud*
⇒ Die Lekker LitNet: #litnetisnetlit-insetsel word die eerste Sondag van elke maand uitgesaai tydens die maandelikse program Barakat, aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (met Fatima Allie agter die mikrofoon).
⇒ Skakel in op die eerste Sondag van elke maand, 17h00–18h00 (Radio 786 – 100.4fm).
⇒ Luister hier na die lewende-stroom-skakel van Radio 786

By die Radio 786-ateljee in Athlone, Kaapstad. Van links: Riyaadh Lawrence, Robyn van de Rhede, Menán van Heerden en Zainab Bean (programbestuurder by Radio 786). (Foto: Fatima Allie)
Leer ken:
♦ Riyaadh Lawrence
Riyaadh studeer maatskaplike ontwikkeling, linguistiek en Afrikaans aan die Universiteit Kaapstad.
Hy is van die Kaapse Vlakte en sy ervarings daar kom baie in sy gedigte voor. Om openlik oor die waarheid te skryf, glo hy, sal ons miskien nie heeltemal genees nie, maar dit bring daai bietjie peace.
Hy is versot op Afrikaaps en die meeste van sy werk is die gevolg van sy liefde vir die taal. Hy wil graag die stigma van Afrikaaps met sy kuns teëwerk en trots vir hul taal terugsit in sprekers se harte. “Die teks is ʼn liggaam en die liggaam is ʼn teks.”
♦ Robyn van de Rhede
Robyn matrikuleer aan die Hoërskool Bellville en gaan studeer daarna drama en teater aan die Universiteit Stellenbosch.
Daar ontdek sy gou haar liefde vir die akademie en besluit toe om haar studie voort te sit.
Sy verower haar meestersgraad in 2015, gevolg deur ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat later dieselfde jaar.
Robyn is tans die drama-onderwyser by Hoërskool Apex, bied die radioprogram Sondag-Joernaal aan op RSG, en dien as beoordelaar op die kykNET Fiësta-paneel.
Menán spreek in haar MA-verhandeling oor die teaterproduksie Afrikaaps die kwessies aan wat in die radio-insetsel uitgelig word.
Lees meer oor Afrikaaps op LitNet: https://www.litnet.co.za/afrikaans-language-dissent.
..............
Luister ook:
Ons tweede gas is bekroonde teater-praktisyn en toegepaste teater-fasiliteerder Chenal Kock. Chenal vertel onder andere meer oor haar Afrikaaps teater-produksie, Mama (regisseur: Jeremeo Le Cordeur), haar werk met leerders van verskillende gemeenskappe dmv toegepaste teater en haar kunstenaarsverblyf in Liverpool, Engeland, as Kunstekaap-verteenwoordiger:
Ons derde gas is bekroonde teater-praktisyn Jeremeo Le Cordeur. Jeremeo vertel onder andere meer oor sy Suidoosterfees-toekenning (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief, oftewel NATi se Rising Star-toekenning); sy toneelstukke Jerry, an unconventional hero en Dude, wa’s my bakkie?; sy kunstenaarsverblyf in Liverpool, Engeland as Kunstekaap-verteenwoordiger; sy deelname aan die Baxter-teater se musiek-meesterklasse aangebied deur David Kramer; asook sy toneelstukfotografie en webtuiste, Vulture Productions.
Ons vierde gas is bekroonde teater-praktisyn en voormalige Die Burger-joernalis, Herschelle Benjamin. Herschelle vertel meer oor sy dramas, In Slavenhuis 39 en Korreltjie kop klong is my dood, asook ’n teater-somerskool by die Universiteit van Edinburgh, waar hy ’n tutor was.
Ons vyfde gas is Romario Fabiano Cloete, ’n honneursstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Romario gesels oor Namakwalandse Afrikaans. Lees ook Romario se LitNet-artikel: “Van plat tot volrond en rondborstig in my taal”.
Ons sesde gas is Mercy Kannemeyer. Mercy gesels oor haar gunsteling Afrikaanse woord, haar nuutste projekte en die toekoms van Afrikaans.
Ons sewende gas is Teneal Apollis, ’n MA-student aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Ons gesels met Teneal oor haar navorsing oor Afrikaanse digters, haar studie-uitruil in Nederland, Overbergse Afrikaans en haar gunsteling- Afrikaanse herinneringe.
Ons agtste gas is Tasneem Daniels (dramaturg en onderwyser). Tasneem skryf in Maleis-Afrikaaps en wil die Kaap inspireer om “tramakassie” (Maleis vir “dankie”) weer terug te bring.
Ons gesels met Tasneem oor haar dramaproduksie Miela’s box. (Let asseblief daarop dat hierdie onderhoud voor die grendeltyd opgeneem is.)
Hierdie Suidoosterfees-toneelstuk is onlangs op Radio 786 as radiodrama uitgesaai as deel van die Kunstekaap se 2020-New Voices-program, in samewerking met die Suidoosterfees, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Jakes Gerwel-stigting.