Robyn van de Rhede voer onderhoude met mense wat passievol is oor hul taal.
Die volgende gas op die maandelikse Lekker LitNet-insetsel op Radio 786, in samewerking met die Afrikaanse Taalraad, is Brumelda Bell.
Luister na die onderhoud:
Luister na “Wie is ek”:
Lees ook waar Brumelda se passie vir musiek vandaan kom:
Ek kom uit ’n musikale familie. My oupa van my ma se kant af was saam met sy twee broers en susterskind in ’n mannekoor in Heidelberg in die Suid-Kaap. Een van my neefs was in ’n mannekoor, Southern Ethos, en het verskyn op die televisieprogram Maak ’n las saam met wyle Tolla van der Merwe. So hierdie passie vir my musiek leef al binne my voordat ek gebore was.
In my skooljaar 2008, graad 3, op die ouderdom van 10 jaar het ek besef ek het ’n passie vir musiek, en op daardie jong ouderdom was baie plaaslike rymkletsers my inspirasie. Ek het hul liedjies geleer en uit my kop gerymklets. Dit was lekker om hul musiek te ken. My vriende het altyd ’n beat gekap en ek rymklets. Op die hoek van ons straat het ons so fun gehad. Ek het enige iets gerymklets wat in my kop opkom, al het van dit nie sin gemaak nie. Tot dit sin gemaak het en ek besef ek en rymklets het iets onbeskryflik gemeen.
2015 is die jaar waarin ek my passie vir musiek ten volle begin uitleef het, tot vandag! 2016, elke einde van die maand se Vrydae was daar “Hip hop Fridays” gehou. Daar het ek vir die eerste keer opgetree. Ek het op die verhoog gegaan en myself express. Die gevoel is altyd goed om vir my dorp Montagu se mense te rymklets. Die kinders wat in die straat speel, sal altyd skree “Milla-G die Khoisankind!” (my verhoognaam) en vra ek moet vir hulle paar lines rymklets
Daar het al swaar tye gekom, soos om my musiek op te neem. Die gedagte van musiek is nie goed genoeg nie, maar dit het my nooit ondergekry nie. Ek het aanhou skryf en gegroei in my musiekloopbaan. Ek is altyd gereed om aan nuwe idees te werk vir liedjies. Ek is nog steeds in die fases van meer leer oor musiek en ek grawe meer om te leer!
My doel is altyd om ander te uplift deur my musiek. Musiek is die geneesmiddel vir seer en ek sal aanhou lewe deur my passie om ander te genees!