Robyn van de Rhede voer onderhoude met mense wat passievol is oor hul taal.
Die volgende gas op die maandelikse Lekker LitNet-insetsel op Radio 786, in samewerking met die Afrikaanse Taalraad, is rymkletser Naaim Briesies van Prins Albert.
Naaim was in 2020 deel van die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees se mentorskapprogram vir jong liriekskrywers, waar Frazer Barry van Tribal Echo die mentor was.
Lees ook waar Naaim se passie vir musiek vandaan kom:
Ek is eintlik Naaim Naivo Briesies, van Prins Albert, ’n versteekte dorpie in die Karoo. Ek is 25 jaar oud.
Ek was nie altyd ’n liefhebber van ritme en poësie nie; dit was die elektroniese binnegoed van my speelgoed en eenvoudige elektriese stroombane wat ’n vuur in my laat brand het. Daar was nie juis veel wat ’n seun op ’n plaas kon doen behalwe om boeke, tydskrifte, koerant te lees en radio te luister nie. Die radio was natuurlik my gunsteling – ek dink ook dit is waar my passie vir musiek vandaan kom – Kurt Darren, Steve Hofmeyr, Dozi en David Kramer het nou maar eenmaal net ’n manier gehad om jou vas te spyker aan jou plankbankie voor die radio.
Ek het altyd probeer om my eie liedjies en gedigte te skryf, wat meestal gegaan het oor die plaaslewe en skoolervaringe, en dan natuurlik die sake van die hart. Dit was meer sing as rap – ek het eers in graad 7 kennis gemaak met hierdie genre van musiek. Sedertdien kan ek nie ’n dag herroep wat ek my nie beoefen het in hierdie vorm van kuns nie. My loop, my slaap, my eet en my drink is rap! Dit brand altyd deur soos ’n vuur in my, daarom my naam Gellyblik.
Deesdae rap ek gospel, nie net omdat dit altyddeur ’n positiewe boodskap dra nie, maar ek dink dit is iets waarna almal kan luister, kind en kraai! Daar is baie humor in my skryfwerk, selfs in die ernstigste scenario’s. In ’n mate voel ek dit is ook wat my uniek maak, en die boodskap in my songs baie meer ontvanklik maak. Die olie op die vuur wat in my brand, is eerstens my liefde vir dit wat ek doen, die vrugte wat dit al afgewerp het, nie net in my persoonlike lewe nie, maar ook in dié van ander. Rap was die sleutel wat vir my ’n wêreld van aanvaarding en vergenoegsaamheid oopgesluit het, en wat my doel op aarde in duidelikheid geskets het in ’n tyd toe ek op myself wou opgee. Dit is wat vir my aan die gang hou, in die donkerste van tye.
Benewens alles wat ek genoem het, dink ek my lewe is ’n Jeremia 29 v 11-belewenis, daarom kan ek net al die eer aan God gee. Sonder hom sou ek sekerlik maar net nog ’n mens gewees het.