
Nuwe toetreders skuur skouers met vorige wenners en benoemdes op die kortlyste vir vanjaar se Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse.
Dié pryse, wat tans altesaam R1,4 miljoen beloop, word jaarliks toegeken vir Afrikaanse boeke en resensies wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Vyf boekpryse is op die spel: ’n fiksieprys (vir romans), ’n niefiksieprys, die Breyten Breytenbach-prys vir digkuns, die Herman Binge-prys vir ’n werk met filmpotensiaal en die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke. Twee resensiepryse word toegeken.
Twee voormalige wenners van die fiksieprys, Willem Anker en Gerda Taljaard, is vanjaar weer in dié kategorie benoem. Die niefiksiekortlys pryk ook met twee voormalige wenners: Dana Snyman en Marita van der Vyver, wat voorheen die filmprys gewen het.
In ’n uitsonderlike prestasie is PP Fourie soos in 2024 weer benoem vir sowel die filmprys as die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede werke.
Vanjaar se kortlyste is, in alfabetiese orde volgens skrywer:
FIKSIE
- Patmos, Willem Anker (Queillerie)
- Binnerym van bloed, Antjie Krog (Penguin Books)
- Die grafdigter, Gerda Taljaard (Penguin Random House)
NIEFIKSIE
- Wie de hel is Johnny Joubert?, Dana Snyman (Tafelberg)
- My jaar van vrees en vryheid, Marita van der Vyver (Human & Rousseau)
- Spanje: Reise in ’n palimpses, André Pretorius (Naledi)
BREYTEN BREYTENBACH-PRYS VIR DIGKUNS
- Ek’t Act, Klara du Plessis (Karavan Press)
- Kolam, Fourie Botha (Protea)
- vloei/stof, Gilbert Gibson (Protea)
JAN RABIE-RAPPORTPRYS VIR DEBUUT- EN TWEEDE PROSAWERKE
- Op pad na ’n klooster in die sneeu, Johannes de Villiers (Human & Rousseau)
- Die dood van Rachel April, PP Fourie (Queillerie)
- ’n Jaar in my lewe, Louis Pretorius (LAPA Uitgewers)
HERMAN BINGE-PRYS VIR FILM
- Die dood van Rachel April, PP Fourie (Queillerie)
- Klein konings, Theo Kemp (Protea)
- Ontvoer, Constant van der Merwe (Queillerie)
Altesaam 68 inskrywings is ontvang vir die vyf pryse wat ten doel het om erkenning te gee aan Afrikaanse skrywers en hulle aan te spoor om gehalteskryfwerk in hul moedertaal te lewer.
“Daar was groot wins vir Afrikaans in 2025,” sê die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz. “Die kruin van vanjaar se inskrywings het getuig van genre-tergende, waagmoedige boeke van besonder hoë literêre gehalte. In elkeen van die kategorieë het die skrywers op die kortlyste met uitsonderlike vakmanskap ritme en kadens uit die taal getoor en dit vernuftig verruim.
“By die digkuns was dit veral opvallend hoe aandagtig daar met taal omgegaan is. ’n Verrassing was ook die vars bries van diaspora-letterkunde wat verder bewys lewer dat Afrikaans ’n lewendige taal is wat kan deelneem aan die kontemporêre gesprek in die Suid-Afrikaanse en wêreldletterkunde.”
Die individuele prysgeld beloop R350 000 elk vir die roman- en niefiksieprys onderskeidelik, R200 000 elk vir die Breyten Breytenbach-prys, die Herman Binge-prys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R50 000 elk vir die resensiepryse vir fiksie en niefiksie onderskeidelik. Die kortlyste vir die resensiepryse word binnekort aangekondig.
Die wenners word op 26 September 2026 bekend gemaak tydens ’n funksie by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad.
Die keurpanele vir die boekpryse was: Fiksie: Deborah Steinmair, Jean Meiring, Ryan Pedro en Beer Adriaanse; Niefiksie: Frederik de Jager, Marga Stoffer, Kerneels Breytenbach en Kirby van der Merwe; Breyten Breytenbach-prys vir digkuns: Louise Viljoen, Johan Myburg, Ronelda Kamfer en Alfred Schaffer; Herman Binge-filmprys: Beer Adriaanse, Wikus du Toit en Kerneels Breytenbach; Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke: Andries Bezuidenhout, Mercy Kannemeyer en Danie Marais.
Lees ook:
Spanje. Reise in ’n palimpses deur André Pretorius: ’n resensie
My jaar van vrees en vryheid deur Marita van der Vyver: ’n resensie
Op pad na ’n klooster in die sneeu deur Johannes Bertus de Villiers: ’n persoonlike bespreking
Boekevat met Deborah: Die dood van Rachel April en Die boekengel
Klein konings deur Theo Kemp "’n leeservaring uit die boonste rak"
Wie de hel is Johnny Joubert? deur Dana Snyman, ’n lesersindruk

