Boekevat met Deborah: Die dood van Rachel April en Die boekengel

  • 0

Boekomslae: Die dood van Rachel April deur PP Fourie (Queillerie) en Die boekengel deur Malene Breytenbach (Lapa)

  • Deborah Steinmair skryf ’n nuwe boekrubriek vir LitNet.

Pieter P Fourie het beïndruk met ’n Hart is so groot soos ’n vuis, in klinkende Afrikaans vertaal deur Marius Swart. Dit was veral Fourie se talent vir mosaïek en collage wat getref het, met hoeveel vertroue hy fragmente naas mekaar stel om ’n liriese, gebroke geheel te vorm. So ’n ongewone debuut bly dikwels alleen op die rak staan as die enigste boek van ’n skrywer, soos iets wat ten alle koste moes uit, waarna daar net stilte heers. Fourie se tweede boek het weldra gevolg. Dit was suiwer fiksie, en nogal misdaadfiksie. Ons skulde was atmosferies en dit was duidelik dat die skrywer geloofwaardige karakters, skerp dialoog en spannende storielyne kan skep. En dat hy hom ewe digterlik in Afrikaans uitdruk. Sy verpletterende kinderjare was nog tot ’n mate aanwesig, en die drang na vergelding. Maar wat veral treffend was in hierdie roman, was die stelinkleding: naby- en verskote van die Oos-Vrystaat in al sy goue, gestroopte glorie. Visueel uitnemend.

Die dood van Rachel April deur PP Fourie (Queillerie, 2025)

Die dood van Rachel April vermeng geskiedenis en fiksie. Ons het almal al gehoor dat Vincent van Gogh se jongste broer, Cor, vir ’n tydperk in Suid-Afrika gewoon het. Fourie het ’n vrou in Nederland ontmoet wat hom vertel het van ’n brief van Cor aan hulle broer Theo, waarin hy hom bedank vir ’n “prent”. So het die gerug ontstaan dat daar ’n verlore Van Gogh-skildery in Suid-Afrika is. Dit, en die feit dat Cor in Brandfort in die Vrystaat dood is en daar in ’n begraafplaas in ’n ongemerkte graf lê, het by Fourie bly spook.

Die resultaat is ’n hoogs leesbare boek wat feit en fiksie verweef. Dit speel merendeels in die hede in Bloemfontein af. Rachel April en Lesea du Plessis is studente aan Kovsies, en deel van die “Professore van môre”-program, wat vir groter inklusiwiteit in die dosentekorps wil sorg. Hulle agtergrond verskil heeltemal: Rachel het arm grootgeword by ’n enkelma, en sy is self die ma van ’n dogtertjie. Sy is besig met haar M en wil haar gesin uit die armoede lig. Lesea, met een wit en een swart ouer, maar aangeneem deur welgestelde boere, het bevoorreg grootgeword. Sy is ook besig met haar M en soek toenemend na haar identiteit, veral toe Rachel haar meedeel dat sy ’n insider is wat dink sy’s ’n outsider. En: “Jy’s dalk bruin liefie, maar jy’s nie kallit nie.”

Lesea, of Sia, is ’n boeiende karakter. Daar is ’n derdepersoonverteller, maar Lesea is grotendeels die fokalisator. Sy het ’n boesemvriend Louw wat soos ’n broer is: Nadat haar aanneemouers in ’n plaasaanval dood is, het hulle prokureur, Jaap Berg, hom oor haar ontferm. Jaap is Louw se pa en ’n alkoholis. Sy gedrink en jare van benign neglect het Louw en Lesea op mekaar aangewese gemaak. Louw is gay en sy love language is wegneemkos.

Rachel verdwyn en word ’n paar weke later in ’n vlak graf langs die pad gevind. Haar liggaam is halfbevrore en haar linkerduim is soek. Sy is dood aan ’n steekwond in die hart. Lesea is vasbeslote om die raaisel van Rachel se moord op te los, veral ook omdat sy Rachel se dogtertjie belowe het dat sy dit sou doen.

Die polisie is ook in die prentjie, en veral die aangename, wakker adjudant Bobby Motaung, maar soos gewoonlik lyk dit nie of hulle hond haaraf maak nie. Lesea en Louw sal self moet inspring. En soos al ons gunstelingspeurders kleur hulle nie altyd binne die lyne in nie. Hulle word veel wys deur onwettig na sekuriteitsbeeldmateriaal te kyk. Rachel se skootrekenaar is uit haar studentewoonstel gesteel nadat sy ontvoer is. Haar selfoon is weg. Iemand het boonop toegang tot haar biblioteekhokkie gekry en alles waaraan sy gewerk het, verwyder. Hulle maak redelik maklik die sprong van linkerduim (sy was links) tot toegang tot haar skootrekenaar en foon.

Dit word duidelik dat Rachel besig was met navorsing oor iets wat min of niks met haar tesis te doen gehad het nie. Dit word duidelik dat die Van Gogh-konneksie sentraal tot die raaisel is. Meer kan ek nie verklap nie.

.......
Dis ’n heerlike literêre riller oor die kunswêreld en die leefwêreld van voorheen benadeelde jongmense in ’n nuwe bedeling, oor identiteit en tuishoort. Ek beveel dit hoog aan.
.......

Die leser voel haar in goeie hande en die kontrak met haar word nagekom. Fourie skryf soos hy praat: beheerst, met gesag, insig en altyd ’n vonkel in die oog. In lewende lywe het hy die soort rustige teenwoordigheid van iemand wat heelwat geheime ken en hom in die stilligheid daaroor verkneukel. Die soort skrywer wat hom nie laat voorskryf wat betref toe-eiening nie; wat onder enige karakter se vel inklim en hulle klinkklaar weergee.

Die spanning raak in die laaste hoofstukke haas ondraaglik, soos dit hoort. Dis ’n heerlike literêre riller oor die kunswêreld en die leefwêreld van voorheen benadeelde jongmense in ’n nuwe bedeling, oor identiteit en tuishoort. Ek beveel dit hoog aan.

Kerneels Breytenbach, met wie ek vir ’n wyle so lekker saamgewerk het by die gesneuwelde Vrye Weekblad, het my geleer om nie my neus op te trek vir liefdesverhale nie. Soos misdaadfiksie behoort dit tot sogenaamde genrefiksie, en lesers van hogere letterkunde loop ’n draai daarom. Darem nie almal nie.

.......
Ek het al meer letterkundige boeke van Malene Breytenbach gelees en haar skrams leer ken as iemand met ’n vonkel in die oog soos Fourie en, ook soos hy, skerp van verstand. Boonop oorrompel enige roman met die woord “boek” in die titel my.
.......

Die boekengel deur Malene Breytenbach (Lapa, 2025)

Ek het al meer letterkundige boeke van Malene Breytenbach gelees en haar skrams leer ken as iemand met ’n vonkel in die oog soos Fourie en, ook soos hy, skerp van verstand. Boonop oorrompel enige roman met die woord “boek” in die titel my. Die boekengel speel in Stellenbosch af – daardie kweekhuis van filosofie, snobisme, geletterdheid en lewensgenieting.

Mara Gericke se vriendin Liana oorreed haar om Stellenbosch toe te trek ná ’n pynlike egskeiding. Sy is veertig, daardie ouderdom waarop ’n nuwe begin en selfs nuwe liefde substansiële moontlikhede is. Sy het daar studeer. Haar eksman is welgesteld en sy sit daar redelik warmpies in, hoewel haar selfbeeld gekneus is. Haar droom is, soos myne, om ’n boekwinkel te besit.

Sy koop ’n boekwinkel (wel, die sakeregte en voorraad) in ’n historiese gebou. Die verkopers is ‘n bejaarde egpaar en die plek is redelik karig en verwaarloos. Hulle stel haar voor aan Bart Terblanche, die engel van die titel. Hy is ’n romanskrywer (huishoudelike noir) en hoogleraar by die kweekskool. Ongeveer Mara se ouderdom, enkellopend, redelik sag op die oog, ’n bibliofiel en ywerige versamelaar van antieke Bybels. Hier kom ’n ding, weet die leser.

Bart is baie behulpsaam met die inrig van die boekwinkel en spoedig ervaar Mara vlinders op die maag in sy nabyheid. Natuurlik word haar droom nie sonder slag of stoot verwesenlik nie, maar dit is hoogs bevredigend om te sien hoe ’n boekwinkel gestalte kry en die gemeenskap daarrondom groei. Daar is heelwat intriges, soos Mara se vriendin Liana se huweliksprobleme, soos Bart se voormalige verloofde wat kom moeilikheid maak; maar uiteindelik, weet ons, gaan die sluimerende liefde bot soos ’n roos.

Die boekengel is baie onderhoudend en ek beveel dit aan.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: The Nicotine Gospel deur Sven Axelrad en Canary deur Onke Mazibuko

Boekevat met Deborah: Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag, An act of murder en Outopsietafel

Boekevat met Deborah: Binnerym van bloed

Boekevat met Deborah: Dink jouself gelukkig, Hollywood on the veld en Khaki fever

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top