Boekevat met Deborah: Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag, An act of murder en Outopsietafel

  • 0

Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag
Elizabeth Wasserman
ISBN: 9781776380817
Penguin Random House South Africa

An act of murder
Tom Eaton
ISBN: 9781776380381
Penguin Random House South Africa

Outopsietafel
Ryan Blumenthal
ISBN: 9781776194704
Jonathan Ball Publishers


  • Deborah Steinmair skryf ’n nuwe boekrubriek vir LitNet.

Miskien is ek stout vir grinterige misdaad eerder as knus spanningsfiksie met ’n skeutjie romanse. Maar ek is ’n groot aanhanger van mevrou Smit, oftewel Fransesca Schmidt, ’n formidabele verkeerdeveervrou. Elizabeth Wasserman se stroomop heldin laat Sally Andrew se tannie Maria lyk na ’n tuisnywerheidstannie wat te hard probeer om houding te hê. Ek weier egter om na boeke in hierdie genre te verwys as knussies – dit klink darem te veel na snesies.

Mevrou Smit het edge. Sy het ’n verlede, waar sy die trofeebruid van ’n gay bendebaas was, met die gereg slaags was en selfs gemang het. Nou het sy ’n nuwe identiteit en ’n nuwe lyf – in haar ou inkarnasie moes sy haarself alles wat vetmakend is, ontsê en op slaaiblare en water oorleef. Nou lê sy met welbehae weg aan vlatert, melktert en koesisters. Ter wille van anonimiteit bewoon sy ’n nuwe voorkoms met vormlose rokke en Birkenstocks of Wellies. Sy weier om haarself ooit as slagoffer te sien, en sy is ’n warmbloedige vrou. Daar is nie één nie, maar twéé potensiële minnaars op haar horison, want ’n vrou is nie ’n klip nie.

........
Die plaaslike mense sien mevrou Smit steeds as inkommer en skinder boonop dat daar darem heelwat moorde in haar nabyheid gebeur. Sy is soos ’n Jessica Fletcher van die platteland.
.......

Haar troeteldier is ’n eiesinnige ystervark, Hester. Hester is in vroeë puberteit en het ’n vryer wat mevrou Smit Elvis gedoop het weens sy windmakerkuif. Mevrou Smit lewe volgens ’n ingewikkelde stel kodes van haar eie. Sy vloek soos ’n matroos en het ’n opvlieënde humeur wat spektakelagtig kan oorkook. Haar terapeut het dit gediagnoseer as angsaanvalle eerder as woede-uitbarstings, maar sy stem nie saam nie. Sy het haar op Arendspoort gevestig en is lid van ’n informele groepie wat in die koffiewinkel Kekkel en Kraai vergader. Daar is karakters soos die bemoeisieke tannie Annatjie en haar siener-niggie, Hannatjie. Hulle voer iets in die mou. Daar is ’n nuwe sjef wat die dorpenaars se palaat beproef met eksotiese disse en duidelik ook ’n versteekte agenda het.

Die plaaslike mense sien mevrou Smit steeds as inkommer en skinder boonop dat daar darem heelwat moorde in haar nabyheid gebeur. Sy is soos ’n Jessica Fletcher van die platteland.

Die vorige eienaar van haar huis was oom Apie en sy spook hang nog in die gange rond. Hy en mevrou Smit het snags betekenisvolle gesprekke om die kombuistafel. Wat ry oom Apie?

Dan ontdek mevrou Smit ’n lyk, ’n stokou geraamte, op die rivieroewer naby haar huis. Oudergewoonte begin sy krap en snuffel. Sy sál agter die kap van die byltjie kom. Sy bestudeer ou fotoalbums en geheime tuimel uit die kas. Die dorp is nie so geneë met haar speurlustigheid nie. Was mevrou Smit se oë hierdie slag groter as haar maag?

........
Dis ’n leeservaring met lyf. Mevrou Smit se 13 reëls vir goeie gedrag word aan die einde verskaf. Nommer 9 is: “oppas vir sentiment”. Wasserman slaag daarin om sentiment netjies te systap en verskaf groot vermaak, in goeie Afrikaans.
........

Dis ’n leeservaring met lyf. Mevrou Smit se 13 reëls vir goeie gedrag word aan die einde verskaf. Nommer 9 is: “oppas vir sentiment”. Wasserman slaag daarin om sentiment netjies te systap en verskaf groot vermaak, in goeie Afrikaans.

Ek het ook ’n Engelse Suid-Afrikaanse misdaadroman gelees. Tom Eaton se vierde roman, An act of murder, spog met gille van Deon Meyer op die voor- en agterblad: Voorop: “A sharp, laugh-out-loud murder mystery that crackles with wit and suspense.” En agterop: “Fans of the great Carl Hiaasen will delight in the clever twists, quirky characters, and unrelenting fun packed into every page. Wildly entertaining!”

Ek kan dink dat die humor by Meyer byval sou vind. Sy misdaadromans is ook deurspek met humor, veral in die dinamika tussen karakters en hulle dialoog.

Arnold Prinsloo – ’n Engelssprekende Prinsloo – is ’n talentvolle maar sukkelende akteur. Hy is ’n antiheld soos Lucky Jim en boonop ’n ongeluksvoël, lomp en besluitloos. Hy het ylwordende blonde hare en die begin van ’n boepie. Hy trek effens op Leonardo di Caprio op ’n slegte dag. Sy geliefde, Zelda, verlaat hom een nag met die woorde dat sy genoeg gehad het, sy kan eenvoudig nie meer nie. Sy is nog lief vir hom en die seks is glo fabelagtig, maar sy is moeg vir sy rigtingloosheid en gebrek aan dryfkrag.

Sy naam word verwar met Arnold Vosloo s’n en hy word genooi om ’n monoloog uit Shakespeare se Henry the Fifth te gaan voordra op die verjaardagparty van ’n versekeringsmiljardêr. Natuurlik loop alles lelik skeef en Arnold beland in die mensgemaakte meer, ten aanskoue van die hele gastelys, waar hy oor die vermoorde sakereus buk met ’n baksteen in sy hand.

Hy is die hoof- en enigste verdagte. Hy het ’n week om die ware moordenaar te vind ten einde sy eie onskuld te bewys – die speurder wat met die saak getaak is, is tot dan in die hospitaal. Omdat sy nering akteur is, besluit hy om hom as speurder voor te doen en aanwesiges te ondervra – op dié noodlottige aand was hy vermom met oorlogverf. Hy dra ’n slegte pruik en poliësterbroek en speel toneel vir sy lewe. Gerieflik genoeg vra niemand hom ooit vir identifikasie nie. Hy beland in allerlei netelige situasies en die verwarring styg.

Sy twee beste vriende, albei presteerders – Daniel is ’n topverkopermisdaadskrywer en Carmen ’n sepiekoningin – staan hom by. Hy hoop om Zelda terug te wen met sy daadkragtige deursettingsvermoë. Daar is ook sy landlady, die skreeusnaakse, humorlose Frau Bohm wat altyd gereed is met raad en bytende kritiek.

........
Dit is hoogs leesbaar. Die probleem met Suid-Afrikaanse Engelse fiksie is dat ’n mens dit immer vergelyk met die beste oorsese aanbiedings – Deon Meyer self het na Carl Hiaasen verwys – waar ’n mens Afrikaanse misdaadfiksie met ’n groot skep hoop en verkneukeling aan die taal lees.
........

Dit is hoogs leesbaar. Die probleem met Suid-Afrikaanse Engelse fiksie is dat ’n mens dit immer vergelyk met die beste oorsese aanbiedings – Deon Meyer self het na Carl Hiaasen verwys – waar ’n mens Afrikaanse misdaadfiksie met ’n groot skep hoop en verkneukeling aan die taal lees. Gemeet aan internasionale standaarde sou ek miskien die redigering kritiseer. Ek sou die roman meer vaartbelyn wou hê – daar is hier en daar ’n insinking voordat dit weer spoed optel.

Tog is dit onverwags en enduit boeiend. Met hier en daar ’n skaterlag. Dit eindig met wit kneukels wat aan die rotswand vasklou – duidelik gaan ons die begaafde vaalseun Arnold Prinsloo weer raakloop. As dit internasionaal versprei word, sal daar ’n glossarium moet wees – die roman is deurspek met raakvat- Afrikaanse woorde. Lekker, man.

Nog ’n boek waardeur ek my oë – meestal met een oog toegeknyp – laat gly het, is Ryan Blumenthal se Outopsietafel, die vertaling van sy topverkoper Autopsy. Dis aanvanklik deur ’n bot vertaal met minimale menslike ingryping, en natuurlik kom ’n mens dit agter. Daar is iets bloedloos aan die vertelling oor bloed en derms. Met ’n menslike knyp en draai hier en daar is botvertalings korrek, maar ver van kreatief en skitterend.

Mense het ten ene male ’n obsessie met lykskouings en disseksies, eeue al. Dink maar aan Rembrandt se skildery Die anatomieles van dr Nicolaes Tulp. Die liggaam as moordtoneel huisves ’n magdom leidrade en getuienis. Dis morbied en fassinerend om te lees watter instrumente die patoloog slyp en poleer, en grufeite soos dat daar tot 70 kg wurms en larwes in ’n liggaam teenwoordig kan wees en dat ’n ontbinde brein soos grys tandepasta lyk. Ook die lyk se klere verberg dikwels leidrade. Het jy geweet die algemeenste item wat in die sakke van oorlede Suid-Afrikaners gevind word, is ’n blikke Zam-Buk-salf? Goeie ou sambok.

Ek het ook met groot verkneukeling Bettina Wyngaard se Knal gelees, maar daaroor skryf ek vir Rapport ’n resensie. Daar is, dank die hemel, darem nog ’n paar platforms oor.

Lees ook:

Kuns en/of moraliteit

Die Groot "Ek is": heuning uit die karkas van ’n leeu

Uit die argief: Dis ek, Anna – 'n nagmerrie waaruit 'n mens nie kan wakker word

As jy van moord droom: ’n onderhoud met Deborah Steinmair

Salvador Dalí se slap horlosie

Deborah Steinmair (1962–)

Spanningsbrekers! Die nege lewens van Mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman: ’n resensie

Die fantastiese mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman: ’n lesersindruk

Resensies en redenasies

Die rigtingverandering

Heil die Leser!: Oor wonderwerke en die antieke gebruik van vas

Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur

PenAfrican: Eurotrash by Christian Kracht – a book review

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top