Titel: Die fantastiese mevrou Smit
Skrywer: Elizabeth Wasserman
ISBN: 9781415211151
Uitgewer: Penguin
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Aronspoort sal nooit weer dieselfde wees nadat mevrou Smit haar intrek daar geneem het nie. Sommer met die intrapslag vryf sy almal verkeerd op en bring haar eerste nag in die aanhoudingselle by die polisiestasie deur. En dit is maar net die begin van baie drama in haar nuwe tuisdorp, hier waar sy so graag net wou kom “wegraak” het.
Asof ’n nag in die selle nie reeds erg genoeg is nie, stap mevrou Smit die volgende oggend haar nuwe tuiste binne en vind die liggaam van die vermoorde eiendomsagent, Suzette Pelser, op haar kombuisvloer. Is dit blote toeval dat die vermoorde redelik baie na ’n jonger en maerder weergawe van mevrou Smit lyk? Of het die moordenaar dalk per ongeluk die verkeerde vrou vermoor?
Die verhaal spring met ’n uitstekende openingshoofstuk weg wat die leeslus en nuuskierigheid lekker prikkel. Reeds op bladsy 9 besef die leser dat mevrou Smit iets het om weg te steek: “Sy het ’n plan en moet daarby hou.” Op bladsy 10: “Die bril is blote vermomming. Hier sal sy veilig wees.” Wie is die geheimsinnige mevrou Smit werklik en waarvoor kruip sy weg?
Aronspoort word geskilder as ’n tipiese klein dorpie met die egte kleindorpse mentaliteit. Daar is ’n aantreklike dokter, ’n grillerige posmeester, ’n onbevoegde konstabel, ’n formele dominee en mevrou Dominee wat dink die son sak wanneer sy gaan sit. En dan is mevrou Dominee se ma nog die grootste skinderbek van die kekkelklub op die dorp. Die wulpse slet is wel vermoor, maar skinderstories oor haar lê die dorp vol. Voeg hierby nog ’n troetelystervarkie en ’n krokodil en jy het ’n goeie mengelmoes van karakters wat die verhaal kan voortstu.
Die kekkels kom elke dag by Kekkel-en-Kraai bymekaar waar hulle al die nuutste skindernuus deel. En natuurlik is mevrou Dominee deel van die groep – haar ma is immers die hoofkekkel in die verhaal. Ek moet darem ’n lansie breek vir die kekkels, want mevrou Smit sê: “Hulle is bitsige skinderbekke, maar hulle is barmhartig” (bl 86). En maak die barmhartigheid hulle nie sommer dadelik meer aanvaarbaar nie?
Wasserman se cozy mystery sorg vir ure se prettige leesgenot en laat die leser ná die tyd met ’n genotvolle sug agteroor sit. Hierdie boek is beslis lekker ligte leesstof om korte mette van ’n luilekker Sondagmiddag te maak.
Lees ook:
Lesersindruk van Die fantastiese mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman
WF 2015: Skrywer Elizabeth Wasserman se ses vinnige skryfwenke