Lesersindruk van Die fantastiese mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman

  • 0

Titel: Die fantastiese mevrou Smit
Skrywer: Elizabeth Wasserman
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781415211151

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Elizabeth Wasserman se Die fantastiese mevrou Smit is ’n tipiese, snoesige speurverhaal wat tog nie heeltemal tradisioneel is nie. Wasserman het daarin geslaag om feitlik al die elemente nodig om ’n boek in hierdie gewilde subgenre suksesvol te maak, sinvol in die storielyn te integreer. Die vereiste onverklaarbare sterftes en klaarblyklike moorde ontbreek weliswaar nie. Soos dit hoort, word die leser ook nie met eksplisiete geweld, aaklige senuslopende marteling of soortgelyke donkere gruwelikhede gekonfronteer nie. Dis eerder ’n geval van ’n slagoffer is dood, en daar moet so gou moontlik uitgevind word hoe, waarom en deur wie se toedoen? Maar mevrou Smit, as die gebruiklike vroulike amateurspeurder, is nou nie juis ’n Miss Marple of ’n Jessica Fletcher nie. Inteendeel…

Die verhaal speel in Aronspoort af, ’n tipiese plattelandse dorpie in die skouspelagtige Langeberge, met ruim ou huise, groot stoepe, leiwatervore en windpompe. Dit word deur presies die karakters wat ’n mens verwag om daar aan te tref, bewoon: Mevrou Dominee met haar stywe rug en stywer kapsel; haar ma, tannie Annatjie, met haar kierie en skindertong; Pieterse, die naïewe plaaslike konstabel; die dorp se kieskeurige, mooiste meisie met haar kort rompies, sonbruin bene en haar visier vol selfvertroue op die aantreklike enkellopende dokter gerig. Stereotipes? Miskien, maar dalk net bekende, argetipiese rolspelers wat die leser dadelik kan herken en aanvaar.

En mevrou Smit? Mevrou Smit is beslis nie stereotipies nie. Sy is impulsief, nogal strydlustig en ongepoets. Sy besin nie normaalweg voordat sy teen iets of iemand begin uitvaar nie. Inteendeel, dikwels dink sy sommer hardop. Sy gebruik maklik gekruide en beledigende skeltaal as sy haar vervies, maar is darem nooit regtig vulgêr nie. Die leser kom gaandeweg agter dat hierdie skynbaar onverskrokke, hardgebakte vroumens eintlik weerloos en angstig voel, maar weet hoe om dit vir almal te verberg.

Om op te som, mevrou Smit is, wel, mevrou Smit is fantasties.

...
Die skrywer wissel die vinnige pas af deur mevrou Smit op lang staptogte, verkyker om die nek, in haar sandale-en-sokkies in en om die dorp rond te stuur. Verder spandeer sy heelwat tyd daaraan om gesprekke af te luister terwyl sy koffie drink en melktert eet. Daar is ook ’n subplot wat te doen het met ’n kloof vol bedreigde paddatjies.
...

Haar angstigheid is die gevolg van ’n twyfelagtige verlede: ’n Onkonvensionele, gelukkige huwelik met ’n gekultiveerde, allemintige ryk, dog misdadige man. Sedert sy dood is sy voortvlugtig, met sy rampokkervennote ylings op soek na haar en sy nagelate fortuin.

Sy het rus, vrede en anonimiteit in Aronspoort kom soek, maar arriveer met skreeuende remme en bots terstond met die gereg. Nadat sy haar eerste nag in die enigste polisiesel op die dorp deurbring en op ’n lyk in die kombuis van haar pasgekoopte huis afkom, is sy nie meer anoniem nie. Sy is onmiddellik die onderwerp van ’n lustige geskinder. Wanneer die een katastrofe na die ander – waarvan die dorpenaars dink sy die oorsaak is – plaasvind, besluit sy noodgedwonge om so gou moontlik agter die waarheid te kom.

Die tempo van die slim bedinkte plot is con brio, met die onortodokse hoofkarakter wat haar in een onverwagte, ontstellende situasie, gebeurtenis of konfrontasie na die ander vasloop, terwyl sy probeer om die sterftes en moorde te ontrafel. Die skrywer wissel die vinnige pas af deur mevrou Smit op lang staptogte, verkyker om die nek, in haar sandale-en-sokkies in en om die dorp rond te stuur. Verder spandeer sy heelwat tyd daaraan om gesprekke af te luister terwyl sy koffie drink en melktert eet. Daar is ook ’n subplot wat te doen het met ’n kloof vol bedreigde paddatjies. Die dorpenaars se verdeeldheid oor wat met die kloof moet gebeur, lei tot ernstige meningsverskille, onmin en agteraf geknoeiery.

’n Baasspeurder uit die Kaap en ’n ervare joernalis verteenwoordig die “amptelike” ondersoekers wat onvermydelik ook in Aronspoort rondsnuffel. Mevrou Smit het reeds voorheen as die hiper-elegante Francesca Schmidt met albei paaie gekruis, maar gelukkig flous haar nuwe persona hulle met haar lelike bril, onvleiende klere en weerbarstige haredos. Sy bots nietemin kort-kort met die polisie, wat daarop aandring om haar ná elke nuwe insident te ondervra en dreig om haar te arresteer. Sy bly ongemaklik, benoud en bekommerd.

Die taalversorging van Die fantastiese mevrou Smit is professioneel, sonder steurende foute. Die taalgebruik is deurgaans vermaaklik, kleurryk, idiomaties en gemaklik. Die Afrikaans is keurig en die inspan van swetswoorde doodluiters en onpretensieus: Mevrou Smit is nou maar eenmaal stuitig, astrant en ongepoets.

Die moorde word in die finale ontknoping bevredigend opgelos. Hier word die leser dalk met te veel geweld en bloed gekonfronteer vir die boek om gemaklik binne die “snoesige” raamwerk te bly. Vir Suid-Afrikaners met hulle afgestomptheid jeens geweld, is dit waarskynlik nie ’n probleem nie. Dit verskaf ’n dramatiese klimaks aan die einde van die boek. Daar bly darem genoeg vrae onbeantwoord vir ’n opvolgboek of twee, waarna mevrou Smit se aanhangers kan uitsien.

Geweld is een ding, maar oneerbiedigheid is iets totaal anders. Baie mense wat nie ’n oog sal knip teen ’n oormaat moord en doodslag nie – en wat hulle honde name soos “Doodskoot” en “Vreethom” gee – gaan waarskynlik erg gegrief wees dat mevrou Smit ’n Gideonsbybel as notaboek gebruik en oor haar onbesonne, heidense uitlatings.  Ek het dus vir ’n vriend wat die boek gelees het, gesê dat ek miskien moet aanbeveel dat preutse mense liewers nie Die fantastiese mevrou Smit moet lees nie. Sy reaksie? Bekrompe mense moet juis die boek lees! Wel, hy is ’n professor en weet dus sekerlik waarvan hy praat.

Ek beveel dus aan dat preutse mense, sowel as almal wat van prettige Afrikaanse leesstof (veral speurverhale) hou, hierdie boek moet lees.

Lees ook:

Elf dae in Amsterdam deur Elizabeth Wasserman: ’n resensie

WF 2015: Skrywer Elizabeth Wasserman se ses vinnige skryfwenke

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top