WF 2015: Skrywer Elizabeth Wasserman se ses vinnige skryfwenke

  • 0
  1. Elizabeth WassermanLees baie. Jy sal gou agter kom hoe die kuns van storie-weef werk. Daar is nie iets soos ’n goeie en suksesvolle skrywer wat nie ook ’n leesvraat is nie. As jy nie hou van lees nie, gaan jy dit nie regkry om iets te skryf wat ander mense wil lees nie. Gaan doen dan eerder iets anders.
  2. Skryf die storie wat jy self graag sou wou lees. Met ander woorde: bly eerlik in jou skryfwerk. Jy hoef glad nie jou diepste hartsgeheime uit te blaker nie, maar dit wat jy skryf, is soos ’n vingerafdruk van hoe jou kop werk. Dit is jou styl en dit is onvervalsbaar.
  3. Moenie net begin skryf sonder dat jy iets het om te sê nie. ’n Skrywer wat hom vasloop in die sogenaamde "writer’s block" moet dalk eerder sy pen in sy sak hou.
  4. Doen iets wat jou kop kans gee om met sy eie paaie langs te dink. Gaan stap met die hond, gaan ry ’n end met jou fiets. Maak plek vir jou verbeelding, maak jou kop skoon. Die neerskryf van ’n storie is maar net een deel van die werk.
  5. Besluit wat die sentrale tema van jou storie is. Gaan dit oor die opoffering van liefde? Gaan dit om die dryf tot sukses? Daar is maar net ’n paar sentrale storielyne, maar tienduisende verskillende maniere om dit te vertel. As jy weet wat aan die hart van jou storie lê, kan jy dit meer suiwer oordra.
  6. Laat niks aan die toeval oor nie. Nie spelling nie, nie sinskonstruksies nie, nie enigiets wat ’n karakter sê of doen nie. Alles moet inpas by ’n groter patroon. Aandag aan detail lei tot ’n perfekte geheel.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top