Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
........
Die lewe kom sonder ’n handleiding. ... [O]ns is weerloos en in wese onvoorbereid op lewenskrisisse.
........
1
Die lewe kom sonder ’n handleiding. ’n Mens word uitgelewer aan allerlei onvoorsiene uitdagings en krisisse: egskeiding, finansiële teëspoed, trauma, die dood van ’n geliefde, werkloosheid – en so kan mens aangaan. En juis omdat die noodlot so ’n onvoorspelbare deelgenoot is, is die mark vir sg selfhelpboeke en ander motiveringslektuur so florerend, veral vanuit die oogpunt van ’n uitgewer. Dié boeke is gewild en soms word miljoene kopieë verkoop. Want ons is weerloos en in wese onvoorbereid op lewenskrisisse. Dieselfde beginsel van gewildheid geld waarskynlik vir motiveringsprekers en lewensafrigters. Dis dalk net daardie één persoon met die towerstaf, daardie één boek, wat my lewe ten goede kan verander. Ek het jare gelede na ’n episode van Dr Phil gekyk, en die gas tydens die program was ’n vrou wie se pa in die dodeselle was (vir reeksmoord). Dr Phil het droogweg opgemerk dat daar nie selfhelpboeke bestaan vir kinders wie se vaders reeksmoordenaars is nie … Inderdaad; maar dis ’n lag met ’n traan.
Die kern van selfhelpboeke is dat kenners raad gee oor hoe om veerkragtig te bly; hoe om strategieë aan te leer, of te volg, om uitdagings die hoof te bied; en hoe om jouself te bemagtig. In die negentigerjare en 2000’s het die New Age-mark ’n legio selfhelpboeke opgelewer, maar dit is steeds Christelike lektuur se selfhelpkultuur wat los voor is as dit by verkope kom. ’n Mens herken ook ’n “gesaghebbende” selfhelpboek deur ’n Amerikaanse kenner aan die “PhD” of “MD” wat so ’n persoon se naam vergesel.
Die skrywers van selfhelpboeke en motiveringslektuur word sonder twyfel glanspersoonlikhede op sosiale media, waar hulle gebruik maak van talle internetplatforms om hulle raad en motiveringspraatjies te deel. Hierdie tipe boeke bestaan nie in isolasie nie, maar is meesal omring deur ’n digitale wêreld waarin die skrywers as beïnvloeders met mekaar kompeteer. En meer as kompetisie: Hierdie boeke kan ook die spin-offs van subkulture word – ’n mens dink byvoorbeeld aan die topverkoper The secret van Rhonda Byrne wat gelei het tot The power, The magic, Hero, How the secret changed my life, ens. Daar bestaan báie bladsye op sosiale media waar Byrne se aanhangers haar volg, amper soos ’n kultus – geskik rondom die beskouing van the law of attraction.
Die eerste selfhelpboek wat ek gelees het, was toe ek in standerd 8 was: The game of life and how to play it deur Florence Scovel Shinn, oorspronklik uitgegee in 1925. Die boek was nog op my ouma se boekrak. Ek onthou Shinn se werk het talle “affirmations” bevat wat jy aanhoudend moet opsê, soos mantras. Ek het sonder ophou, soos ’n papegaai met OCD, dié affirmations dag na dag herhaal, tot ek iewers keelvol begin raak het daarvoor, maar tóg bly besin het oor die krag van outosuggestie.
Nog voorbeelde van selfhelp- en motiveringslektuur wat topverkopers was, is The power of positive thinking deur Norman Vincent Peale, en The seven habits of highly effective people deur Stephen R Covey.
Alhoewel hierdie boeke van waarde kan wees vir sekere individue, is die skadukant daarvan dat dit soms onrealistiese verwagtinge by die leser skep en ’n verglanste beeld van beloofde of gewaande sukses kan voorhou.
Open when ... a companion for life’s twists & turns
Julie Smith
Penguin Random House, VK
2025

Open when ... a companion for life’s twists & turns deur Julie Smith (Penguin, 2025)
Julie Smith het meer as 10 jaar ondervinding as ’n kliniese sielkundige, en was die eerste professionele persoon wat TikTok gebruik het om haar insigte oor psigoterapie te deel. Nadat sy haar privaatpraktyk vaarwel geroep het, het sy haar eie TikTok-kanaal begin met die doel om geestesgesondheidsonderrig vir almal toeganklik te maak. Gedurende Covid het haar gehoor astronomies gegroei tot sewe miljoen volgelinge, omdat kykers aanklank gevind het by die bondige selfhelpvideo’s wat sy gedeel het. Hierdie video’s het vir altesaam ’n halfmiljard kyke oor verskeie platforms heen gesorg.
Smith maak ook haar verskyning in twee BBC-films; op CBBC, Good Morning Britain, BBC Breakfast en CNN International. As ’n gevierde sielkundige verskyn haar artikels in talle publikasies, want haar vermoë om komplekse sielkundige konsepte om te skakel in verstaanbare, praktiese raad het van haar ’n gesogte kundige gemaak. In 2022 het Smith se debuut, Why has nobody told me this before?, ’n topverkoper (niefiksie) geword en is benoem vir die Goodreads Choice Awards vir beste niefiksie in 2022. Smith se benadering word gekenmerk deur haar empatie en toewyding om kennis oor geestesgesondheid te demokratiseer. Sy oorbrug die gaping tussen kliniese praktyk en publieke begrip rondom geestesgesondheid, en bemagtig individue om op persoonlike vlak te groei.
Waar Why has nobody told me this before? eindig, gaan dr Julie voort en deel navorsingsgegronde konsepte en daadwerklike vaardighede wat ons kan help om deur ons mees kwesbare oomblikke en fases te kom.
Elke hoofstuk begin met ’n brief van dr Julie aan die leser, waarin sy troos en perspektief bied. Daarna volg ’n praktiese afdeling, “Real-time tools”, waarin sy werkbare en beproefde raad/gereedskap aan die leser bied, gevolg deur “Takeaways”, of ’n sinopsis van die voorafgaande, amper berei soos padkos vir die leser om saam te neem.
........
In hierdie gids leer Smith haar miljoene lesers en kliënte hoe om deur die moeilikste oomblikke van hulle lewe te navigeer terwyl dit gebeur, eerder as later, of jare daarná.
........
In hierdie gids leer Smith haar miljoene lesers en kliënte hoe om deur die moeilikste oomblikke van hulle lewe te navigeer terwyl dit gebeur, eerder as later, of jare daarná. Wat sou die effek wees as ons kon leer om ons emosies te beheer en “geanker” in die oomblik te bly, sodat ons bewustelik kan kies hoe om op ’n situasie te reageer?
Die kernpunte wat dr Julie aanspreek, is die volgende:
– Wanneer dit moeilik is om (alleen) met jouself te wees: hoe om kwesbaarheid te hanteer, jou innerlike kritikus stil te maak, en die sg imposter-sindroom te oorkom.
– Wanneer dit moeilik is om tussen ander mense te wees: hoe om verraad te verwerk en wat om te doen as jy (of jou ouers) foute gemaak het.
– Wanneer dit moeilik is om jou gevoelens te hanteer: hoe om eensaamheid, vrees en hopeloosheid te hanteer.
– Wanneer jy van die verlede genees: hoe om traumareaksie te oorkom.
– Wanneer jy na die toekoms kyk: hoe om dieselfde foute te vermy, onsekerheid te hanteer, en jou weg te vind.
Ongelukkig is Open when ... A companion for life’s twists & turns as selfhelpboek te dik. Mense wat getraumatiseer of lewensmoeg is, het nie noodwendig die energie om so ’n lywige lewensgids deur te lees nie.
2
’n Vrou staan op
Ilse Verster
LAPA Uitgewers
2024

’n Vrou staan op deur Ilse Verster (LAPA, 2024)
Ons, as lesers en skrywers, genees mekaar met stories. ’n Voorbeeld hiervan is ’n Vrou staan op, Ilse Verster se opvolg op haar blitsverkoper, So lyk ’n vrou, wat in 2022 gepubliseer is.
Dit is ’n belangrike roman binne die Suid-Afrikaanse konteks waarin geweld teen vroue hoogty vier, en as roman is dit ’n hibried tussen fiksie en motiveringslektuur. Met “fiksie” verwys ek hier na die subgenre, alhoewel die vertelling ’n outobiografiese opgaaf is. Ek moet bieg, ek het nie So lyk ’n vrou gelees nie, wat ook voordele inhou, want ek takseer hierdie boek op sy eie meriete.
Die protagonis, Esli, was vir 40 jaar getroud met Bart, ’n narsis. Ek het vir ’n rukkie gedubbelklik op die “narsis”-karakter, want die nuwe siekte van ons tyd is narsisme – wat heel waarskynlik in ’n groot mate deur sosiale media geaktiveer word. Elke tweede buffel is deesdae kwansuis ’n narsis. Maar nee: Verster se beskouing van haar eksman as narsis blyk ’n korrekte aanname te wees. Volgens die DSM-5-TR word ’n narsis gekenmerk deur ’n grandiose selfpersepsie, ’n gebrek aan empatie, en arrogante en haatdraende optredes, om net enkele eienskappe te noem.
........
Ons, as lesers en skrywers, genees mekaar met stories.
........
Die beskrywing van die karakter Esli se armoedige en disfunksionele kinderjare herinner aan Leo Tolstoi, wat in Anna Karenina beweer: “Happy families are all alike; every unhappy family is unhappy in its own way.” Voortspruitend hieruit word die langtermyneffek van posttraumatiese stresversteuring geskets. Deur in die ope te kom met ’n persoonlike vertelling soos ’n Vrou staan op, belig dié roman die verkenning van individuele veerkragtigheid – “weerbaarheid” voel vir my na ’n meer akkurate vertaling van resilience – en deursettingsvermoë. Deur hul oorwinnings oor struikelblokke word lesers herinner aan hul eie innerlike krag. Verster se werk – met ’n vrou se psigologiese en persoonlike uitdagings en kwellinge – herinner aan Adele Vorster se roman Tien voor een, maar ook aan The color purple deur Alice Walker, wat Celie se transformasie uitbeeld van ’n slagoffer van mishandeling na ’n vrou wat haar eie stem en onafhanklikheid vind. Op soortgelyke wyse ondersoek Big little lies deur Liane Moriarty temas soos huishoudelike geweld.
Na Esli se egskeiding vertrek sy op ’n bus op ’n alleenreis om te ontkom van haar verlede, ’n huwelik van vier dekades waarin sy vasgevang was in ’n afwaartse spiraal van haar gewese man, Bart, se alkoholisme, mishandeling en manipulasie. Soos in ’n sprokie ontmoet sy ’n saggeaarde man met integriteit, Francois Verster, en skaars binne drie weke ná hulle ontmoeting raak hulle verloof. Maar sy sal moet afskeid neem van talle geliefdes alvorens sy Kaap toe verhuis, onder meer haar bejaarde moeder en haar huiswerker van 26 jaar. Esli moet ook deur traumatiese jeugherinneringe werk: Haar pa was gewelddadig en kompleks, en het sy eie kinders verruil vir die stiefkinders in ’n nuwe huwelik. Esli ken verraad baie goed: dié van haar eie vader, haar stiefpa, en haar man, Bart, wat haar dikwels verneuk het met ander vroue. Dis ’n lang pad na emosionele herstel en individuasie, maar in die laaste hoofstuk, hoofstuk 45, kom die persoonlike deurbraak: “Uiteindelik … die lig” (233).
........
Deur in die ope te kom met ’n persoonlike vertelling soos ’n Vrou staan op, belig dié roman die verkenning van individuele veerkragtigheid – “weerbaarheid” voel vir my na ’n meer akkurate vertaling van resilience – en deursettingsvermoë.
........
Wat van hierdie werk ’n hibried maak (tussen fiksie en ’n selfhelpboek), is die addisionele inligting, soos hoofstuk 34, “Wat veroorsaak narsisme?”, en hoofstuk 35, “Die narsis se werkswyse”. Die skrywer bied ook raad aan ouers oor hoe om hulle kinders te waarsku teen narsistiese gedrag, en hoe om die leser te bemagtig teen die eienskappe van hierdie donker persoonlikheidsversteuring.
Bekendes soos Dana Snyman, Gert Vlok Nel en C Johan Bakkes maak ook kameeverskynings in dié roman.
Fiksie soos laasgenoemde voorbeeld, wat ten doel het om die leser te motiveer of inspireer, se onderbou behels identifikasie, katarsis en insig. Die veronderstelling is dat ’n leser (sal) identifiseer met sekere aspekte van ’n verhaal, en ná ’n katarsis verligting sal ervaar via die gedeelde emosies met die karakters in die verhaal, en dan uiteindelik tot nuwe insigte sal kom in die hantering van soortgelyke persoonlike emosies.
Motiveringslektuur, wat mens figuurlik ook “narratiewe terapie” kan noem, se boodskap is in alle gevalle dieselfde: Karakters wat durf om uitdagings te trotseer, nuwe drome na te jaag deur die mag van persoonlike keuses, mag dalk net die potensiaal vir persoonlike transformasie omarm – vroue wat agente vir positiewe verandering in hulle onderskeie gemeenskappe word. Hierdie motiveringslektuur dien dan ook as katalisator vir maatskaplike verandering: ’n Vrou staan op en haar voorganger, So lyk ’n vrou, is ’n dringende stem, ’n SOS binne die diskoers van geweld teen vroue in Suid-Afrika.
........
Die boek staan sonder twyfel as baken vir die triomf van die menslike gees.
........
Ek het ’n Vrou staan op geniet, en die inligting rakende die narsistiese versteuring interessant gevind – alhoewel ek ’n effense ongemak ervaar het met van die vakkundige inligting wat nié deur byvoorbeeld ’n kliniese sielkundige of psigiater geskryf is nie. Die woord empaat (147) is onder meer ’n woord wat voorkom in die populêre sielkunde, en nie as term opgeneem is in die jongste DSM-5-TR nie. Maar afgesien hiervan is hierdie boek ’n belangrike werk wat talle vroue in gebroke verhoudings en huwelike mag help om hulle weg na vryheid en selfverwesenliking te vind. Die boek staan sonder twyfel as baken vir die triomf van die menslike gees.
“One sheds one’s sicknesses in books,” het DH Lawrence op ’n keer gesê. Dis inderdaad so: Ons, as lesers en skrywers, genees mekaar met stories.
Lees ook:
Heil die Leser!: Vertaalkuns as tweespraak – Mario Relandini en Rina Cascione
Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels
Kommentaar
Ek lees graag selfhelpboeke. Hoeveel dit my nou eintlik gehelp het oor die jare, die weet nie. Ek weet net, dit lees vir my lekkerder as Shakespeare se sonnette.
Vir interessantheid, en vir wie dit dalk nie weet nie: Die heel eerste selfhelpboek was getiteld: Self-help, geskryf deur Samuel Smiles en gepubliseer in 1859.
Een van die ikoniese selfhelpboeke is "How to win friends and influence people", wat so vol generiese idees is, dat dit nie juis van veel nut is nie.
Van hierdie boeke is ook boderline gif of selfs suiwer gif as jy my vra. Ek dink hier aan "Rich dad poor dad" van Robert Kiyosaki. Kiyosaki se boek is, so terloops, gelaai met opgemaakte stories. Hy is gedurig op X, besig om te voorspel die wereldekonomie gaan crash, maar dit gebeur nooit.
En dan, Jordan Peterson. 'n Uiters vreemde man met vreemde idees. Hy skryf ook selfhelpboeke, soos sy "12 rules for life". Wat ek nie die moeite sal doen om te lees nie. Maar, mense verskil... Vir die konserwatiewes is Peterson 'n held.
Peterson is borderline gif. Kiyosaki is suiwer gif.
Ek het ook al gesien, sommige van die boeke is vol lof oor 'veerkragtigheid'. Ander boeke kritiseer weer die konsep van veerkragtigheid.
Me Bennett-Moll moet nou ook 'n boek lees om haar te vergewis van wat "roman" beteken, want “'n Vrou staan op” is beslis nie 'n roman nie, en so ook nie “So lyk ’n vrou nie.” Boonop het die "protagonis” in beide daardie boeke nie 'n doktorsgraad nodig om navorsing te doen nie - ek het een en ek sou tot dieselfde gevolgtrekings as sy gekom het. Wat ek nie het nie, is eersterangse ervaring van 'n narsistiese verhouding, nes, en ek verondestel nou hier, soos Me Bennett-Moll aannames maak, dat laasgenoemde ook nie so iets ervaar het nie. Uiteraard wens ek dit haar, inderdaad niemand, so iets toe nie.
Ongelukkig is daar egter derduisende vroue (en mans) wat alleen in so 'n storm staan. Dosyne van hulle het die skrywer hieroor om raad gekontak, en sy het empaties met hulle omgegaan, maar hulle elke keer daarop gewys dat sy nie ’n opgeleide berader van enige aard is of voorgee om en te wees nie. Ek was daar, so ek weet.
Insgelyks is daar talle mense wat kan getuig dat hierdie “storie” nie fiksie is nie, en allesbehalwe ’n sprokie. Ek is bevrees dat hierdie parodie van 'n artikel deur Me Bennett-Moll (waarin etlike bekende name en boektitels kameerolle speel) ’n klug van baie lydende mense se lewens maak deurdat sy hierdie twee boeke uit konteks met ander boeke, wat óf fiksie óf ware selfhelpboeke is, te plaas. En dan erken sy nogal dat Ilse Verster se boeke nie een van die twee is nie. As sy dink “’n Vrou staan op” is faksie (dubbelkliek bietjie daarop Me B-M), kan sy so dink, maar dis NIE 'n roman nie.
Ag nee, ag nee ... ek moet bieg, ek het nog nooit van Me Bennett-Moll gehoor nie, maar die kennismaking was nie inspirerend nie. As skeppende skrywer behoort sy van beter te weet, nl dat al draai jy ’n strik om ’n dr*l, die stank steeds die game weggee.
Ek volg jou bydraes altyd met groot belangstelling en diep respek, Nini. Welgedaan, en baie dankie vir jou waardevolle insig oor soveel onderwerpe!