
- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Die afgelope paar maande het daar ’n stewige oes digbundels met ’n ekfrastiese inslag verskyn. Nou wat beteken ekfrasties? mag sommige lesers vra. Vereenvoudigd dui ekfrasis op die digterlike gesprekvoering tussen die beeldende kuns en poësie. Digters skryf beeldgedigte na aanleiding van skilderye, foto’s, beeldhouwerke en ander visuele media. Vir eeue al tree die beeldende kuns en poësie in gesprek met mekaar. Deur middel van ekfrastiese poësie vertolk digters visuele kuns en ontstaan daar só ’n interaksie of simbiose tussen kunswerk en woordkuns. Beeldgedigte kom volop voor in Afrikaanse poësie, byvoorbeeld in die werk van Sheila Cussons, HJ Pieterse, DJ Opperman, Antjie Krog, Tom Gouws, Marlise Joubert en Joan Hambidge. Beeldpoësie/ekfrasis is wydlopend en kan beskrywend, krities, interpreterend of meditatief wees.
Ek gaan vlugtig vier ekfrastiese bundels wat die afgelope paar maande verskyn het, bespreek.
Stil gesprek

Stil gesprek. Gedigte by die foto’s van Geo Jooste deur Jan Pretorius (Naledi)
In Jan Pretorius se Stil gesprek. Gedigte by die foto’s van Geo Jooste (Naledi) tree 28 beeldgedigte in gesprek met die natuurfoto’s van die bekroonde fotograaf Geo Jooste. Sy foto’s is in vooraanstaande uitstallings opgeneem en hy word erken as een van die vernaamste fotograwe van sy generasie. Die digter Jan Pretorius is ’n medeprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat, nadat hy vir 20 jaar as biologie-onderwyser werksaam was. Stil gesprek is sy poësiedebuut.
Die verkwiklike aard en diversiteit van ekfrastiese poësie lê in die onderskeie taalregisters waarbinne digters skryf, afhangend van die kuns waarmee hul verse in gesprek tree. Pretorius se diafane en sobere taalgebruik pas by die natuurfoto’s. (Louis Jansen van Vuuren skryf byvoorbeeld, in teenstelling met Pretorius, meer barokke beeldpoësie, in ooreenstemming met die visuele kuns in die bundel, Moerasperd deur die nag.) Só skik digters hulle taalregisters na gelang van die kuns waarmee hulle in gesprek tree.
Pretorius maak gebuik van vrye vers, maar ook vasteversvorme soos die villanelle en kwatryn. Die verse in Stil gesprek is besonder realisties in aanbod, alhoewel enkele verse met die magiese, mistieke en selfs die metafisiese flankeer. (Die verwysing na Opperman se “Vuurbees” op die agterblad dien as sentrale interteks tot die bundel.) Let op die prikkelende liefdesgedig (bl 21) wat herinner aan die Bybelboek “Hooglied” en wat geskryf is na aanleiding van P!nk se liriek, “A million dreams”:
Droom
(Na aanleiding van P!nk se “A million dreams”)
Kom, beminde, laat ons uitgaan op die duine.
Elke nag slaap ek onder kameeldoringbome;
ek sien glimmende kleure in miljoene drome,
ek sien visioene van ons in ver woestyne.
In elke droom wat jy na my toe kom,
roep ek: ek is hier, ek les jou dors!
Ek het varsgeplukte gemsbokkomkommers.
Laat ons gaan kyk hoe die soetdorings blom.
Met jou horings kan jy ’n leeu deurboor,
die tint van jou vel herinner aan halssierade.
Kom, beminde, laat ons feesvier met tsamma-sade.
My hart drup granaatsap as ek jou hoor.
In jou is ek bitterkambro wat pienk blomme kry;
nes weerlig slaan jy geel in my.
Waar Noord van Malelane (Hennie Nortjé, Turksvy Publikasies) satiriese en geestige poësie oor die wildlewe in die Krugerwildtuin bevat, doen Pretorius die teenoorgestelde: Hy skryf poësie waarin diere deur die gebruik van personifiërende metafore in “menslike” gedaantes en situasies optree, en as sodanig nie aan die tragiek van die menslike kondisie kan ontkom nie.
Vlindervreter

Vlindervreter deur Melanie Grobler en Christiaan Diedericks (Naledi)
’n Ekfrastiese bundel wat heeltemal anders is as Stil gesprek, wat met sy direkte en aardse segging bekoor, is Vlindervreter (Naledi), een van poësiehoogtepunte van die jaar. Dié bundel bring 21 kunswerke van die veelbekroonde drukgrafiese kunstenaar Christiaan Diedericks byeen, vergesel van ekfrastiese poësie van die digter Melanie Grobler, en van Diedericks self. Grobler is ’n bekroonde digter en bekend vir haar bundels Tye en swye in die lewe van Hester H (1991), Die waterbreker (2004), Deur ruite van die reis (2013) en Huis van tyd (2022). Diedericks is een van Suid-Afrika se voorste kunstenaars en het talle internasionale toekennings vir sy kuns verower. Hy het meer as 50 internasionale kunstenaarsresidensies bygewoon en Suid-Afrika by meer as 30 internasionale biënnales en triënnales verteenwoordig.
........
Die verse is tematies en intertekstueel gelade, ruig en surrealisties.
........
Vlindervreter is Diedericks se digdebuut. Die kuns in die bundel is geïnspireer deur sadhoes, oftewel Hindoe-askete, wat Diedericks in Indië verfilm het. Hierdie is ’n besonder mooi publikasie en dit boekstaaf die verenigde visie en kreatiewe sinergie van Grobler en Diedericks. Die verse is tematies en intertekstueel gelade, ruig en surrealisties. Grobler en Diedericks begryp dat die gebruik van die metafoor die digterlike verbeelding aktiveer in verse wat ’n genuanseerde en diepgaande blik op die menslike psige bied. Die sentrale leitmotief is die mite van Ariadne se goue draad, die labirint, asook die Minotourus, soos dit voorkom in die Griekse mitologie. Laasgenoemde simbool kan beskou word as die spanning tussen brutaliteit en kwesbaarheid, of die spanning tussen die mens se primitiewe instinkte en beskawing.
Temas soos verlies, dood, wanhoop en oorlog word sensitief verwoord. Let op die onderstaande aangrypende vers deur Melanie Grobler:
Die wond van stilte
Toe tropiese wolke versplinter, die see opswel,
die bittereinders van afvlerkmotte
in jou huil, word jy die sout
wat oor die wond van stilte buk, ritselend,
suisend roep: verlaat die paradys.
Hier, waar ek vertoef teen die kussing van wolke,
sien ek die vallei van verlatenheid, herken ek die rotse
hoor ek die rooi berg se knaende klagtes,
die hemel en die dam,
ek, die vuur, wat stadig brand. (8)
Christiaan Diedericks dig só:
Erediens
my ganse straat
komplotter
rooibelip
agter laventelkant
die hoogheiliges van skyn
graveer roerende raaisels
op my skarlaken lyf,
wat beeldskoon
op die leë visdam dryf
vir my verassing, sal ek
roubeklaers betaal
goedkoop linne koop
mooipraat oor niks
troostrompette grafstil blaas
brandende treurblomme bestel
’n stamelende stomprediker
en ’n horde hoere huur
vir die moerse after-party
om my vreugdevuur. (46)
Digby

Digby deur Elmarie Stofberg (Turksvy Publikasies)
’n Derde bundel waarin daar ’n huwelik tussen visuele kuns en woordkuns plaasvind, is Digby deur Elmarie Stofberg, uitgegee deur Turksvy Publikasies.
Stofberg woon op ’n plaas buite Rawsonville. Sy is ’n opgeleide linguis, maar put vreugde uit die ontwikkeling van leesprogramme vir kinders. Haar verse het tydens die Covid-inperking ontstaan toe sy begin eksperimenteer het met die spel tussen haar kuns en poësie. Met haar debuutbundel bied sy ’n lensopening aan die leser om van naby, om digby, na verskynsels te kyk.
In die persverklaring verneem die leser: “In hierdie boeiende debuutbundel word die aandag gevestig op die wesenlike kenmerke van objekte, mense en alledaagse ervarings soos die verloop van tyd, die wisseling in seisoene en verandering van landskappe. Dit is ’n vorm van abstraksie. Daar word so intens en digby na dinge gekyk dat dit heeltemal anders en nuut lyk. Die titel Digby sinspeel ook op die digter se abstrakte kunswerke wat by elke gedig staan. Die veertig kwatryne, waarin alles tot die essensiële gereduseer word, is verwant aan die digtheid en helderheid van Japannese haikoes.”
........
Die 40 abstrakte kunswerke, deur Stofberg self word vergesel van 40 kwatryne in die bundel. Die kwatryne is meer as flitsgedigte. Dit word meditasies; dit bied ’n halte of bestemming waar die leser graag wil vertoef.
........
Die digter en literator Daniel Hugo het tydens die bekendstelling van Digby herhaal dat Stofberg se bundel herinner aan Oosterse natuurverse wat helder en deursigtig is, met ’n subtiele reikwydte en resonansie.
Die 40 abstrakte kunswerke, deur Stofberg self word vergesel van 40 kwatryne in die bundel. Die kwatryne is meer as flitsgedigte. Dit word meditasies; dit bied ’n halte of bestemming waar die leser graag wil vertoef.
Daar word wegbeweeg van die tradisionele voorstelling van voorwerpe en figure, en die digter-skilder fokus eerder op die gebruik van vorm, kleur, lyn, beweging, ritme en tekstuur om atmosfeer, emosie en idees oor te dra. Uiteindelik is Stofberg se ekfrasis ’n onvoltooide gesprek wat oorgegee word aan die leser; dit is oop vir interpretasie.
Streel
son het lakenplat op die dam gaan lê
suidoos kom streel sag oor haar
sy draai stil om en toe sy hom sien
dans duisend diamante in haar oë (63)
Asook:
Partykeer
Ek dink nog soms aan ons laaste dag by die see
toe die son kol-kol onder die melkhoutboom
geval, geval en toe stil gaan lê het
blink gevlek soos luiperdvel (61)
Gekaapte stad

Gekaapte stad van Martin Kruger (Turksvy Publikasies)
In die vierde ekfrastiese bundel, Gekaapte stad van Martin Kruger (Turksvy Publikasies), word ruimtes, stede, geopolitieke kwessies, liefde, reisherinneringe en die rol van geheue belig. Kruger is ’n argitek van beroep en in hierdie digdebuut gee hy sy indrukke van onder meer Kaapstad, Amsterdam, Parys, Barcelona, Venesië en New York weer. Die titel sinspeel op die beskouing dat alle stede inderwaarheid gekaapte stede is, hetsy deur kapitaliste, politici, ontwikkelaars of argitekte. Die zoemlens beweeg metafories van die wyehoeklens van globalisering na die mikrolens van sosio-ekonomiese kwessies, soos die lot van weeskinders van Kaapstad.
Sentraal tot hierdie bundel staan Italo Calvino se roman Le città invisibili, oftewel Die onsigbare stede (1972), ’n poëtiese en verbeeldingryke stuk reisliteratuur. Die spilpunt van dié werk bestaan uit ’n reeks dialoë tussen die Venesiese ontdekkingsreisiger Marco Polo en die Tartaarse keiser, Koeblai Khan. Polo beskryf dosyne fantastiese stede, elk met sy unieke kenmerke wat ’n spel tussen die werklikheid en die surrealisme verteenwoordig. Hierdie stede, hoewel uiteenlopend en vreemd, dien as uitgebreide metafore vir menslike ervarings, begeertes en die stedelike lewe, maar dit lewer ook kritiek op die aard van taal, kultuur, tyd en die dood. Die roman volg nie ’n lineêre storielyn nie, maar funksioneer as ’n meditasie oor herinnering en die verbeelding. Calvino se ryk, beeldende prosa noop die leser om die aard van stede – hetsy werklik of denkbeeldig – te beskou as weerspieëlings van menslike kreatiwiteit en kompleksiteit.
Gekaapte stad is in twee dele verdeel, met 41 gedigte in deel I, en slegs een gedig in deel II. En dit is hier waar die ekfrastiese faset van die bundel inkom: Kruger se ruimtelike besinnings en argitektoniese verwysings word deur middel van krabbels (doodles), asook die gebruik van sketse, belig. Die grafika dien as verheldering en ter illustrasie van gedigte, byvoorbeeld “Le Baux de Provence”, “Oewer, Oostewal” en “Mozart se dans”.
In die programgedig in deel II word die skeppende prosesse om te skryf en te teken gejukstaponeer met die reisproses, ’n leitmotief wat dwarsdeur die bundel voorkom.
Om te teken is ’n
intuïtiewe ondersoek
na betekenis, soos
’n gedig. die alfabet
is die lyn wat jou
op ’n reis neem, ’n
avontuur, onvoorspelbaar
dikwels weet jy nie
wat jy gaan teken
of skryf nie, dis jou
vingergriffels op
papier wat die
tekening in ’n skets
’n storie of ’n gedig
in sy eie taal
gaan haal (69)
........
Argitektuur bou ’n brug tussen die verlede en die hede; en argitektuur transporteer die verlede na die hede. Deur die digterlike beskrywings van argitektuur word die fisiese omgewing ’n katalisator waardeur ’n verlore verlede metafories herwin word.
........
In Gekaapte stad is een van sentrale temas die rol van herinnering. Argitektuur bou ’n brug tussen die verlede en die hede; en argitektuur transporteer die verlede na die hede. Deur die digterlike beskrywings van argitektuur word die fisiese omgewing ’n katalisator waardeur ’n verlore verlede metafories herwin word. ’n Gedeelde metafoor tussen die argitektuur en poësie is waarskynlik die subteks van ’n palimpses. In argitektuur is ‘n palimpses die gelaagde geskiedenis van ’n gebou of plek, waar verskillende tydperke se invloede en veranderinge oor mekaar lê en saam bestaan. Hierdie beskouing beklemtoon hoe geboue as draers van herinnering optree, aangesien elke nuwe generasie sy eie afdruk op beboude ruimtes laat, maar steeds eerbied betoon aan die geskiedenis wat dit voorafgegaan het. ’n Palimpses in argitektuur dra by tot ’n gevoel van kontinuïteit en kulturele evolusie, waar ou en nuwe elemente saamsmelt en ’n ryk, komplekse verhaal vertel. In poësie is die beskouing van ’n palimpses in ’n bundel soos Johann Lodewyk Marais se Palimpses (1987) ondersoek, waarin die bundeltitel verwys ’n perkamentrol waarop die geskrewe teks keer op keer uitgevee word sodat die rol weer vir ’n nuwe skrywe gebruik kan word. In letterkunde dui ’n palimpses figuurlik op die superponering van historiese en moderne tekste. ’n Palimpses is onafwendbaar deel van Gekaapte stad se grein, en word as sodanig ingespan as konseptuele metafoor; let byvoorbeeld op die anachronistiese spel in die onderstaande vers:
Beste Amsterdam
as dit reent, gragnat
en die wind jou sambreel laat flikflak
dan tier ek teen jou ou mure
hou my afrikaanse asem op vir jou taal
jou vriendelike blomme, kleurvol getooi
jou blinkswart geboue
wat sonder skroom die krulgewels
van kaapshollands naboots
miskien teen die vyftiende eeu
was instagram die tekenmooi soeweniers
van dapper kunstenaars, verkenners, reisigers
en dergelik noodsaaklike raconteurs (23)
Gekaapte stad is ’n knap debuut, ’n bundel wat nog nie die nodige erkenning geniet het wat dit toekom nie. Dit is egter bemoedigend dat die sogenaamde kleiner uitgewers soos Naledi en Turksvy Publikasies deurlopend vir ’n goeie oes digbundels sorg – waarvan hierdie vier ekfrastiese bundels ook die bewys is.
Lees ook:
… so ook op die aarde deur Betsie van Niekerk: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Cliff-hanger: "Afrikaanse boeke is net so goed soos Engelse boeke"

