… so ook op die aarde deur Betsie van Niekerk: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 1

Omslag: Naledi

Titel: …so ook op die aarde
Skrywer: Betsie van Niekerk
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9 781991 256591

 

1.    Inleiding

In haar blog, Woorde wat weeg (2014), vra Joan Hambidge tereg: “[…] en ’n mens wonder wat het van die digter van die bundel Ronkedoor geword?”

Die skrywer en digter Betsie van Niekerk het gedurende haar honneursjaar DJ Opperman se letterkundige laboratorium bygewoon en gedebuteer met die digbundel Ronkedoor (1988) wat ’n goeie resepsie tot gevolg gehad het. Maar om Hambidge se vraag te baantwoord: Die digter het nie in die niet verdwyn nie; sy het met verloop van tyd haar oeuvre verruim en naam gemaak as jeugverhaalskrywer, te wete met Die Rooiberg is hol (1991), waarvoor sy eervolle vermelding gekry het by die toekenning van die CP Hoogenhout-prys in 1992; met Gamkab (1995), wat vir skole voorgeskryf is waarmee sy in 1996 die Sanlamprys vir Jeuglektuur verower; en ten laaste, Anderkind (2021), ’n historiese jeugroman wat afspeel in die tyd van die Groot Griep in 1918, waarvoor sy die 2021-Sanlamprys vir Jeuglektuur (silwer) ontvang. Met die onlangs verskene … so ook op die aarde (2024) verras Van Niekerk met ’n roman wat handel oor die wel en wee van Rooms-Katolieke sendelinge in ’n dorpie in die Kalahari-woestyn in 1880. Die roman getuig van ’n rare eteriese en digterlike kwaliteit en sluit aan by die klein en gemarginaliseerde korpus Afrikaanse letterkunde waarin Rooms-Katolieke tematiek die spilpunt vorm.

https://www.litnet.co.za/die-onsienlike-son-deur-jacobus-van-der-riet-die-digter-as-skriba-en-kalligraaf/

Ander Afrikaanse skrywers wat ’n bydrae gelewer het tot die verruiming van die Rooms-Katolieke leksikon en tematiek in Afrikaans, is Sheila Cussons en Bonaventure Hinwood, en aansluitend hierby, Jacobus van der Riet, ’n priester in die Oosters-Ortodokse Kerk, met sy bundels Die onsienlike son (2012) en Die heimlike heiligdom (2020), wat oor die heiliges handel.

https://www.litnet.co.za/sheila-cussons-1922-2004/

… so ook op die aarde, wat fokus op die geloofstryd van ’n Rooms-Katolieke geestelike, toon in dié verband raakpunte met Morris West se bekende The devil’s advocate (1959). In laasgenoemde roman word ’n Katolieke priester se soeke na God binne die verhaalwêreld van die Vatikaan en die Katolieke Kerk belig.

Boekomslae: NB; https://www.litnet.co.za/so-ook-op-die-aarde-n-onderhoud-met-betsie-van-niekerk/

Hierdie essay is nie ’n teologiese studie nie, maar ‘n verkenning van Rooms-Katolieke motiewe wat ondervang word in … so ook op die aarde as bildungsroman. Die protagonis, suster Léonie Duvernois, se katarsisse en uiteindelike kentering vorm die kern van die verhaalgegewens. Hierdie is ’n belangrike roman vir Afrikaans, ’n werk wat Hambidge (2024) in ’n resensie as ’n as “juweel” bestempel. Soos in die geval van Dolf van Niekerk se oeuvre, figureer die motief van die buitestander ook dwarsdeur Van Niekerk se oeuvre, ’n tema wat reeds met haar reeds genoemde digdebuut, Ronkedoor, geaktiveer word. ’n Ronkedoor is ’n alleenloper-olifantbul wat ’n verstotene uit die trop is. In Van Niekerk se jongste roman word die hondkind die simbool van die buitestander en verworpene in die kleindorpse gemeenskap. 

Boekomslae: NB; https://www.litnet.co.za/so-ook-op-die-aarde-n-onderhoud-met-betsie-van-niekerk/

 

2.    Verhaalstruktuur

2.1 Titel

Die titel is ontleen aan ’n Bybelvers, Mathéüs 6:10 (1953-vertaling), wat deel is van die Onse Vader-gebed: “[L]aat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Hierdie implisiete verwysing na die liefde word dan geparafraseer in ouma Pop se heel laaste woorde, haar sterwenswoorde: “[O]nthou wat ek vir jou gesê het: liefde is ’n vlam van die Here af … soos wat sy liefde vir ons in die hemele is, so is dit ook op onse aarde …” (159).

2.2 Magiese realisme

Die roman is verpak in 30 kort hoofstukke, ’n gebruiksvriendelike aanbod vir die leser wat die boek nie in een sitting deurlees nie, maar eerder in ekonomiese eenhede oor ’n langer tyd kan geniet.

Die roman word gekenmerk deur magiese realisme. Alhoewel die subteks tot die verhaalgebeure mag heenwys na werklike historiese gebeure en karakters in die Katolieke sendingstasie op Pella in die 1800’s, lui die skrywer se vrywaring voor in die boek soos volg: “Hierdie verhaal is fiksie. Enige ooreenkoms met werklike karakters, gebeure en plekke is bloot toevallig.” ’n Mens mog dalk beweer dat sy flankeer met historiese feite, of dat die roman losweg op historiese gebeure gebaseer is; maar … so ook op die aarde is veel eerder ’n bildungsroman waarin die innerlike stryd van die hoofkarakter, Suster Léonie Duvernois, onder die soeklig kom. Haar persoonlike en geestelike groeikurwe open eindelik die weg na individuasie, van ’n religieuse non na ’n spiritueel bevryde vrou. Kenmerkend van ’n magies-realistiese roman oorskry Van Niekerk se vertelling die grense van tyd en ruimte, soos aangedui sal word, asook die uitbeelding van die personasies as magiese wesens wat bande met die bosinlike het. In kort: As magies-realistiese roman vermy … so ook op die aarde met genoemde skadeloosstelling die risiko’s en slaggate wat ’n historiese roman sou skep. Die leefwêreld van die roman is byvoorbeeld nader aan ’n Eurosentriese as aan ’n historiese Khoisan-milieu, soos met die “werklike” katedraal op Pella die geval is. Anastasia de Vries (2022) verwys na insidente rondom die werklike Vader Jean-Marie Simon, gebeure wat ingrypend verskil van die leefwêreld van Vader Simon en gepaardgaande personasies in die roman. Deur die roman se aanbod as magies-realistiese teks skep Van Niekerk haar eie tabula rasa vir ’n fiktiewe verhaalmilieu wat verruimend, in stede van beperkend op die teks inwerk. Die reële historiese ingryp tot die gebeure lees verkwikkend en oorskadu nie die roman nie.

2.3 Die verhaal

Dit is 1880 en suster Léonie Duvernois, ’n Oblate Franse non van Lyon, bevind haar in ’n afgeleë Rooms-Katolieke katedraal in die Kalahari-woestyn. Die verhaal open met die sentrale verhaalgegewe, naamlik die hondkind wat in die kerk se bieghok sit – en Léonie met vrees en afgryse vervul. Die hondkind is waarskynlik ’n verstandelik gestremde seun met kongenitale afwykings; dit vanuit ’n moderne perspektief beskou. Maar binne die magies-realistiese sfeer van die roman met sy skakeling met die bonatuurlike word die “village idiot” as ’n argetipe van die sondebok, vergesel van die Messiaanse kode, verbeeld.

Léonie ontvang ’n onthutsende brief van die senior suster Agnes Achart wat haar inlig dat sy die hondkind, wat op hierdie stadium nog nie ’n naam het nie, uit die kerk verjaag het en as skepsel van God geminag het. Sy word gemaan tot selfondersoek en boetedoening, en om die seun (die “hondkind”), deel van die gemeente te maak (33).

Implisiet tot die verhaal staan Léonie se liefde vir die priester, vader Simon, insgelyks ’n Franse sendeling. As Oblate suster van die Leer van die heilige Fransiskus van Sales mag Léonie nie ’n man liefkry nie; haar lewe, liggaam en diens moet aan Jesus Christus gewy wees.

Die gemeenskappie in die Kalahari-woestyn wat die Katolieke sendingstasie bedien, bestaan uit arm kleinboere: eenvoudige, aardse mense soos ouma Pop met die pienk sokkie en seer been. (Sy is waarskynlik ’n tromboselyer met ’n septiese infeksie in haar been, laasgenoemde vanuit ’n moderne perspektief bejeën.) Ander personasies is Herklaas, die hoofouderling; Dawid, die opsigter; Kleinklaas, die seun wat aan “agteroorsiek” (waarskynlik epilepsie) ly; en die koster Rufus, wat voorheen ’n priester was. Die katedraal word omring deur ’n dadelplantasie wat ’n inkomste vir die kerk genereer, sowel as ’n oase. Die leser verneem dat vader Simon die katedraal sélf, met sy eie hande, gebou het (46), en dat hy die Christus-beeld voor in die kerk met sy knipmes uit wilgehout gekerf het (47). Die relevansie hiervan word later vermeld.

Léonie doen haar bes om haar vrees vir die hondkind te oorkom en begin om uit te reik na hom. Die seun se fassinasie met sekere muurprente (die 14 stasies van die kruis) val op – veral die drie kruiswegstasies waar Christus val en handeviervoet onder die kruis te lande kom. Die hondkind self loop soms handeviervoet, veral wanneer hy bang of verneder voel. Tog, al kan die seun glad nie praat nie en net drie klanke maak, omgewe ’n vreemde stilte en mistieke aura hom. Hy bring graag patryseiers en heuningkoeke in ’n mandjie vir Léonie kerk toe; dit blyk liefdesoffers te wees.  

Ongelukkig beweer die naïewe, bygelowige en godvresende dorpenaars dat die hondkind die Bose self is; die koster probeer hom ’n paar keer in ’n draadhok vang. Die ware Bose in die kerk se geledere is egter die koster. Een nag sien Léonie hoe hy die Bybel en silwerware van die altaar af vee en smalend met Moeder Maria praat. En telkens poog hy om vir Léonie en vader Simon te ondermyn. Hierdie insidente skok die suster, en soos haar liefde vir die hondkind begin toeneem, só ontwikkel haar vrees vir die koster.

Kleinklaas verdrink in die fontein en die hondkind word onmiddellik en valslik deur die gemeente daarvan beskuldig dat hy vir Kleinklaas verdrink het. Die sondebokmotief word geaktiveer, ’n argetipe wat raakpunte met Etienne Leroux se Een vir Azazel toon. Tydens die hondkind se begrafnis breek die koster die hondkind se liefdesgawe van vyf patryseiers (wat as korrelaat tot die Geheimenisse van die gebedekrale kan dien). Tydens hierdie begrafnis word die diepe menslikheid en verdriet van vader Simon verbeeld (64).

Léonie besluit om in die Grootrivier te gaan swem: ’n belewenis wat haar bewus maak van haar eie lyflikheid, sensualiteit en seksualiteit as vrou (71). Sy besef egter dat die koster in die omgewing is en haar waarskynlik dophou. Haar drasak verdwyn spoorloos en in ’n poging om weg te kom, raak sy verstrengel in ’n doringbos. Sy vlug na vader Simon se biblioteek, waar hy haar skrape behandel

Die gemeente se heksejag teen die hondkind, wat kwansuis die Bose verteenwoordig, neem toe: Hulle dreig om met stokke en swepe op te ruk (konnotasies met Bybelse strafmaatreëls) en hom met ’n vangriem te vang (75), en beskuldig hom dat hy suster Léonie aangeval het, vandaar haar skrape; óók dat hy vir Kleinklaas in die fontein verdrink het.  

Léonie stap ontsteld Oukop toe, waar sy die hondkind op ’n rots sien slaap (78). Sy merk hoe vuil en gehawend hy lyk en opregte empatie maak plek vir die vrees wat sy vroeër vir hom ervaar het. Suster Agnes haas haar na Léonie en die hondkind; sy erken dat die hondkind háár kind is en dat die twee susters hom moet beskerm teen die gemeenskap wat vergelding eis. Suster Agnes bely aan Léonie dat sy lief geraak het vir ’n man (die koster), en dat sy haar seun, die hondkind, met geboorte verwerp het, omdat dit is wat sy vader wou gehad het. Sy beweer dat haar verwerping van haar seun van kleins af daartoe gelei het dat hy handeviervoet hol en so wild (en verstandelik gestrem) is.

Die woedende en veroordelende dorpenaars gebruik rate soos die brand van salie om die Bose (hier: die hondkind) te besweer, en Léonie vertel vir Agnes dat die mense die hondkind tot “offerlam” (81) en “boetebok” (82) verklaar het. Die gemeenskap is vasberade om die hondkind in ’n draadhok te kry, maar die twee susters loop doodkalm, met die seun tussen hulle, teen die koppie af.

Ouma Pop wys vir die skare mense wat die hondkind in ’n hok wil sit, Kleinklaas se hempie en bevestig sy onskuld (85). 

“As julle vandag die hondkind wil beskuldig van boosheid, sê ek vir julle hy is onskuldig. Hy het nie Kleinklaas se hemp afgeskeur en hom doodgemaak nie. Hier is Kleinklaas se hemp nog net so heel soos toe hy by die huis weg is!” (85)

Intussen het vader Simon die koster, wat die hondkind in ’n hok ingestamp het, beveel om die hok oop te sluit en die seun te laat gaan. Ouma Pop spreek die dorpenaars toe; betig hulle oor hulle hartelose gedrag jeens die kind, en toe die mense weg is, gee sy die kind se gedroogde helmsakkie vir sy moeder, Suster Agnes.

Die vroue se liefde vir die hondkind word voltrek toe hulle hom bad, met olie invryf en sy hare afskeer (87). Vir die heel eerste keer in die roman word sy naam genoem: “Mikah”, wat konnotasies met God het. Hierdie bad (wat herinner aan ’n sakramentele onderdompeling), lei tot ’n transformasie van Mikah, waarin water as simbool van liminaliteit dien, soos later beskryf sal word.

Die gemeenskap is druk besig om die dorpie gereed te kry vir die biskop se voorgenome besoek – en daar word ook heerlike kos voorberei.

Met die koms van die biskop bieg suster Agnes teenoor hom dat Mikah buite die eg verwek is en dat hy haar kind is (101). Maar – die biskop, wat die bieg aanhoor, sit en slaap in die bieghok. Dit kan ook figuurlik as ’n psichoom vertolk word: Die kerk is horende doof vir die werklike pyn, skuld en angs waardeur sy lidmate gaan.

Die biskop moet vir Mikah doop, ’n ritueel wat glad verloop danksy die dogtertjie Dina, wat hom vorentoe lok deur voor te gee dat hulle gaan speel (103.) Die biskop sit sy kroon op Mikah se kop, die wit doopkleed word om hom gehang en hy word suksesvol as lidmaat van die Rooms-Katolieke Kerk gedoop. Dit beteken dat suster Léonie geslaag het in haar opdrag om die “hondkind” as Mikah deel van die gemeente te maak.

Léonie word deur die koster, wat haar seksueel teister en valslik daarvan beskuldig dat sy onfatsoenlik optree, herinner aan soortgelyke teistering deur ’n kardinaal in Lyon. Laasgenoemde geestelike het sy seksuele attensies op haar afgedwing, wat ’n verwringing van die beeld van Jesus Christus skep (107–10).

Een nag slaan vader Simon se biblioteek en die dadelboord aan die brand en die dorpenaars help om die vlamme te blus. (Die vermoede is dat die bose koster vir die brandstigting verantwoordelik is.) Mikah troos vir vader Simon deur te wieg en vir hom die muurprent van negende kruiswegstasie te gee (119).

Hierna tref nóg ’n ramp die klein gemeenskappie: Die dadels is ryp om gepluk te word en Léonie klim op ’n leer, maar die leer se spar breek middeldeur. Sy val en word ernstig beseer – met onder meer ’n diep sny in haar sy en ’n knop teen haar kop. Vader Simon, ouma Pop en suster Agnes versorg haar en waak om die beurt by haar.

Maar Léonie raak al hoe meer in haarself gekeer. Uiteindelik bieg sy by vader Simon oor wat haar pla: Sy voel onwaardig vir haar amp as non en sy vertel hom van die kardinaal en koster se onwelkome seksuele attensies, waarop hy antwoord dat sy niks verkeerd gedoen het nie (133).

Twee amptenare van die Katolieke Kerk arriveer met ’n kapkar, kerkmanne wat net moeilikheid voorspel (134). Die klagtes sluit in vader Simon se ongewenste boeke in sy biblioteek, asook die onbetaamlike gedrag van twee Oblate susters. Vader Simon lui die klok en die dorpenaars vergader vir dié ongewone samekoms. Maar oom Dicky, wat aan sy senuwees ly, takel die amptenare en verwilder hulle (letterlik!) uit die kerk uit, die klagskrif onaangeraak. Mikah, wat intussen die kerk handeviervoet binnegehol het, jaag die twee mans die skrik op die lyf en hulle verskree hom. Oom Dicky vertel in ru, aardse Afrikaanse streekstaal vir die amptenare van Jesus en die kruiswegstasies, en vader Simon besef dat sy klein en gemarginaliseerde gemeente, met al hulle gebreke, vir hom heilig is (136):

Hy dink aan sy gemeente wat nou opgeskryf staan in die kerk se klagskrif. God is Heilig … En voor hom sien hy vir Mikah, ’n skurwevoetkind met gebedekrale om die nek; oom Dicky, ’n man met senuwees wat pla; Herklaas, die hoofouderling wie se woorde min raak sodra hy kniel en bid; ouma Pop, ’n waardige, wyse vrou met ’n seer been en een pienk slaapsokkie aan; Dina Cloete, ’n klein dogtertjie met ’n paar klam suurklontjies in haar hand vir Oususter.

[…]

Hierdie gemeente, weet hy, is heilig. (136)

Léonie besluit om weer in die Grootrivier te gaan swem, maar merk onraad: Die koster is weer iewers, dáár. Hierdie keer is sy seksuele teistering direk en hy gryp haar vas (’n toneel wat waarskynlik ’n poging tot verkragting suggereer). Die volgende oomblik verskyn Mikah, en tydens ’n struweling wat tussen die koster en die seun ontstaan, druk hy die koster se kop onder die water (146). Léonie vlug om hulp te ontbied.

Mikah se lewelose liggaam word uit die rivier gehaal en die vroue versorg hom vir sy begrafnis. Sy status as heilige word bevestig (148). Hy kry ook die hoogste graf in die begraafplaas, ’n ironiese eer wat aan die mees geringe persoon in die gemeenskap gegee word. Vir die eerste keer in jare loop die fontein oor – en dié fontein, as simbool van liefde, kom tot volle uiting as die versinnebeelding van Mikah, “God se afskynsel hier op die aarde” (149).

Ná Mikah se afsterwe begin suster Agnes om haar oor al die “wegsteekkinders” – kinders wat gestremd is – te ontferm (154). Die simbool van die beskermheilige, Philomena, word geaktiveer in tandem met Moeder Maria, ’n ekstrapolasie van die tema van moederskap. Ek keer hierna terug.

Ouma Pop gaan agteruit: Sy het heel waarskynlik bloedvergiftiging opgedoen, en sy sterf. Voor haar dood vertel sy vir Léonie van die kerk se “toemaakgoed” en van al die geheime wat sy moes aanhoor as vroedvrou – en waarvan slegs vader Simon bewus is (157).

Léonie besef dat haar rol as Oblate non by die woestynkatedraal uitgedien is, en sy keer terug Lyon toe. Sy kom tot die gevolgtrekking dat ’n mens op enige plek ’n goeie Katoliek kan wees (160–1). Sy het geleer om met haar hele lyf te glo en lief te hê, in teenstelling met die kerklike beperkinge wat haar nonnebeloftes voorskryf. Die spanning met die Katolieke Kerk in Lyon (Europa) word dwarsdeur die roman geskets; maar dit is in die Kalahari-woestyn waar Léonie se spirituele bewussyn hoër dimensies bereik het. Sy noem dit vir vader Simon, maar hý beweer dat wanneer jy kan liefhê, dan kan jy God nog liewer hê (by implikasie die selibate leefstyf van ’n priester/non volhou). Sy vertrek met die poskar terug Lyon toe, soos sy gekom het, en in die slottoneel bieg vader Simon op roerende wyse by God (die versinnebeelding van die leë bieghok) dat hy ’n vrou liefgekry het, maar smeek dat God hom moet vergewe.

 

3.    Historiese ooreenkomste met die roman

3.1 Pella

In haar onderhoud met Estelle Kruger (2024) vertel Van Niekerk waarom die dorpie Pella en die werklike vader Jean-Marie Simon die inspirasie was vir die skryf van … so ook op die aarde:

Ons het lank in die Noord-Kaap gebly en die klein mikrogeskiedenis van Pella het my gefassineer. Hoe kon ’n jong 24-jarige Rooms-Katolieke-Franse priester só ’n ongelooflike roeping hê om ver in ’n halfwoestyn sewe jaar lank klip vir klip aan ’n klein katedraal te bou en vir 50 jaar lank sy “opdrag” uit te leef met die motto: “TENUI NEC DIMITAM.” (Ek hou vas en sal nie laat los nie.)

Sý lewensgeskiedenis het my geneem na Franciskus van Sales se leer, na Teresa van Ávila, die Katolieke kerkvaders … En alhoewel Pella se geskiedenis my inspirasie was, is my verhaal fiksie.

[…]

Ek het vir my boek die lieflike klein mikrogeskiedenis van Pella ure lank bestudeer en daarmee saam vir twee jaar lank die Rooms-Katolieke leer probeer verstaan – en baie gevind wat ontsaglik mooi vir my is.

[…]

Op Pella was wel vroeër ’n Vader Simon, die stigter van die gemeentetjie. Hy het werklik die klein katedraal daar eiehandig gebou, net met ’n Franse ensiklopedie in sy hand; hy het ’n baie duidelike roeping daar gehad en het vir 50 jaar daar gebly voor hy oorlede is en daar in die kerkie begrawe is.

Die dorpie Pella, wat dus as inspirasie en impetus vir die skryf van hierdie magies-realistiese roman gedien het, is ook herkenbaar aan die oase, die dadelplantasies eie aan dié Kalahari-woestyn-dorpie, asook die Grootrivier.

Die Rooms-Katolieke katedraal is eiehandig deur die werklike vader Jean-Marie Simon gebou. In die roman korreleer die gegewens met die historiese: “Hy gaan staan stil en kyk terug na die klein katedraal waaraan hy sy lewe toewy; die katedraal wat hy met sy twee hande klip vir klip gebou het …” (132).

Pella het ’n lang voorgeskiedenis van voormalige sendelinge wat die Kalahari-woestyn en gepaardgaande hitte en ongereptheid van die natuurlewe onhoudbaar gevind en die dorp verlaat het. Dit was egter deur vader Simon se toedoen dat daar nie net ’n katedraal gebou is nie, maar ook gewasse verbou is – en myns insiens word die Franse sendelinge onthou vir hulle ontwikkeling van dié historiese dorp (Ikin 2014).  

3.2 Personasies

Anastasia de Vries (2022) vermeld in haar studie oor Rooms-Katolieke Afrikaans dat vader Jean-Marie Simon inderdaad in 1882 in Pella aangekom het. Die roman se tydlyn verskil, tiperend van die magies-realistiese styl waarin dit geskryf is. Slegs op een plek in die roman word die datum vermeld, en wel dat dit die jaar 1880 is (33). Die werklike vader Jean-Marie Simon het die eerste biskop van die Noord-Kaap geword en het sy dagboek, Bishop for the Hottentots, geskryf (dit was oorspronklik in Frans, en het in 1959 in Engels verskyn), wat handel oor sy wedervaringe as priester met die Khoisan. Van Niekerk se roman het op sy beurt eerder ’n Eurosentriese karakter en verskil in dié verband sterk van die “werklike” geskiedenis van vader Simon se sendingstasie. Van Niekerk skryf oor ’n fiktiewe tydsgreep in die Noord-Kaapse geskiedenis en is meer gemoeid met die liries-digterlike taal en die Afrikaanse streekstaal in die roman as met die historiese tydlyn.

W de Vries (2024) vertel aan Yves T’Sjoen dat vader Simon in sy dagboek gemeld het dat hy saans Afrikaans (“the Dutch of Africa”) probeer bemeester het, en dat hy dit moeiliker as die Nederlands van Nederland gevind het. Met … so ook op die aarde skep Van Niekerk ’n belangrike sosiolinguistiese ruimte waarin die streekstaal van die Kalahari-woestyn-inwoners van die laat 1800’s gesimuleer word, en wat sodoende ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van die bepaalde leksikon van die tydsgees skep – maar dit val buite die skopus van hierdie essay.

In die roman blyk dit dat vader Simon die Christus-houtkruis voor in die kerk sélf, met ’n knipmes uit wilgehout gekerf het, fiktiewe gegewens wat egter ooreenstem met die historiese korrelaat: “Daardie Christus-beeld, die houtbeeld daar voor, het ek met hierdie twee hande stukkie vir stukkie uitgekerf, die wilgehout laat meegee onder my knipmes se lem” (47).

Vergelyk in dié verband ook die historiese narratief:

It must have been during this time that he carved the crucified Jesus with his pocket knife. In 1984 when 3 pillars of the Cathedral tumbled down, this pocket knife was found in the third pillar with a note: “this is the knife I have used to carve the Image of Christ on the Cross.”  (Thirstland epics: Bishop Simon – the sturdy pioneer and first Oblate Bishop. https://thirstlandepics.co.za/bishop-simon-the-first-oblate-bishop; datum onbekend)

Daar is ook ’n moontlike toespeling op die fiktiewe Oblate suster, Léonie Duvernois, en haar historiese deelgenoot. Die werklike Augustine Duvernois, bekend as suster Francoise-Marie, toon gelyknamige ooreenkomste. Francoise-Marie het in teenstelling met Léonie Duvernois egter haar roeping as non vir meer as 40 jaar getrou aanvaar en uitgeleef. (Sr Francoise-Marie; sien bibliografie)

Prent: Canva

4.    Rooms-Katolieke motiewe

Die beskrywing van Rooms-Katolieke gebruike en motiewe in … so ook op die aarde is outentiek, in besonderhede en stoffering. Of om Hambidge (2024) aan te haal:

Die skrywer gee ’n besondere kennis weer van die Katolieke liturgie en gebede: die gebedsweë, kruisweë, litanieë en novene (oftewel, die gebed van 9 dae), gebede tot die Drie-eenheid, gebede tot die heilige Maagd Maria, opstaangebede, gaan-slaap-gebede, die Jesus-gebed, die mag van die bidsnoer-gebed. (21)

4.1 Fransiskus van Sales

Binne die Rooms-Katolieke geloof bestaan daar verskillende Rooms-Katolieke Ordes. Voorbeelde hiervan is die Salesianers, Benediktyne, Cistersiënsers, Fransiskane, Karmeliete, Klariste, Tempelridders, Trappiste en Kartuisers (List of Catholic orders and congregations; datum onbekend). Anastasia de Vries (2022) verwys dan ook na die aankoms van die Franse Salesiaanse sendelinge van die Society for Africa Missions in die Noord-Kaap.

Sint Fransiskus van Sales se Introduction à la vie devote (1609) is ’n klassieke geestelike werk en in verskeie tale vertaal. Hierdie bakenwerk dien tot vandag toe as rigsnoer vir Rooms-Katolieke, maar ook as ’n bron van spirituele kennis in die algemeen. Die werk is aanvanklik geskryf as ’n gids tot die strewe na geestelike volmaaktheid, of heiligheid, vir leke in die Katolieke Kerk.

Die fiktiewe sendingstasie in die Kalahari-woestyn met Oblate kloosterlinge soos vader Simon en susters Léonie en Agnes, wat hierdie stasie beman, volg die leer van die heilige Fransiskus van Sales. Van Sales se bekende Introduction to the devout life (1609) word ’n paar keer in die roman gemeld. Op bl 82 verneem die leser:

“Ek het ’n man liefgekry … my eie kind verwerp. Dit is my sonde wat deur my hele wese spoel, in my diepste murg en gebeente gaan sit het.

“Geen woord of sin in Devout Life, geen leerboek of gebed kan my daarvan genees nie, al sê ek dit tienduisend maal op.” (82)

Van Sales se verwysing na ’n voëltjienes word op twee plekke in die roman aangedui: op ble 31 en 167. “Daar is soveel wat sy nog vir vader Simon wil vra: oor Teresa van Avila se diamantkasteel met sewe kamers binne-in jou en Vader van Sales se siening van ’n voëltjienes wat jy in jou hart moet bou vir ’n veilige plek van stilte” (31).

En in die slotparagraaf van die roman: “Maak vir my ’n voëltjienes in jou hart, Vader Simon […]” (167).

Die metafoor van die voëltjienes waarna Fransiskus van Sales verwys, moedig vertroue in die goddelike voorsienigheid aan. Ten spyte van onsekerheid vertrou ’n voël op sy vermoë om te vlieg, selfs wanneer sy rusplek onseker lyk: “Be like the bird that, pausing in her flight awhile on boughs too slight, feels them give way beneath her, and yet sings, knowing that she hath wings” (De Sales 2002).

4.2 Die stasies van die kruis

Die 14 stasies van die kruis, bekend as die Via Crucis in Latyn, beeld die gebeure van Jesus Christus se lyding uit, van sy veroordeling tot sy kruisiging en begrafnis (Herbert 1914:20–1). Die kruiswegstasies is ’n reeks ikoniese afbeeldings wat Jesus Christus se tog op die dag van sy kruisiging op pad na Golgota uitbeeld. Die kruiswegstasies het ontstaan na aanleiding van die Via Dolorosa in Jerusalem, ’n tradisionele prosessiegang wat die pad simboliseer wat Jesus na Golgota geloop het. Die doel van die kruiswegstasies is om Christelike gelowiges te help om ’n geestelike pelgrimsreis mee te maak en die lyding van Christus te oorpeins. Dit het een van die mees gewilde vorme van toewyding geword en die kruiswegstasies kan in baie Westerse Christelike kerke gevind word, insluitend kerke in die Rooms-Katolieke, die Lutherse, Anglikaanse en Metodiste-tradisies.

Die 14 stasies van die kruis beeld die volgende tonele uit:

  • Jesus word ter dood veroordeel.
  • Jesus neem sy kruis op.
  • Jesus val die eerste keer.
  • Jesus ontmoet sy moeder, Maria.
  • Simon van Sirene help Jesus om sy kruis te dra.
  • Veronika vee die gesig van Jesus af.
  • Jesus val die tweede keer.
  • Jesus ontmoet die vroue van Jerusalem.
  • Jesus val die derde keer.
  • Jesus word van sy klere beroof.
  • Jesus word aan die kruis vasgespyker.
  • Jesus sterf aan die kruis.
  • Die liggaam van Jesus word van die kruis afgehaal.
  • Jesus word in ’n graf neergelê.

Die hondkind het ’n besondere fassinasie met die muurprente in die katedraal, wat die kruiswegstasies voorstel. Ten spyte van sy verstandelike gestremdheid vind hy aanklank by die drie prente waar Jesus val en, soos hý (die hondkind), handeviervoet onder die gewig van die kruis beur. (Jesus val in die derde, sesde en negende voorstelling van die kruiswegstasies.)

Een van die sentrale temas in … so ook op die aarde is dié van moederskap: Maria gee haar Seun, Jesus, af aan die dood, soortgelyk aan Kleinklaas en Mikah se moeders – in beide gevalle verteenwoordig laasgenoemde seuns ’n Messiaanse kode.

Ouma Pop hou Kleinklaas se hempie, wat nié geskeur is nie, in die lug op vir die woedende dorpenaars om te aanskou (85): “Hier is Kleinklaas se hemp nog net so heel soos toe hy by die huis weg is!” (85). Laasgemelde herinner aan onder meer Johannes 19:23–24, waarin daar beweer word dat die soldate tydens Christus se kruisiging nie sy bo- en onderkleed geskeur het nie, maar dat dit heel was toe hulle daaroor geloot het. Parallel tot die gebeurtenis (Kleinklaas se hemp wat aan die mense gewys word) word die hondkind se onskuld bevestig: Hy het nie vir Kleinklaas verdrink en by implikasie sy hemp geskeur nie.  

Die analogie tussen die hondkind, wat handeviervoet loop, en Christus, wat handeviervoet onder sy kruis struikel, is duidelik. Die heilige Moeder Maria word voorgestel as ’n universele moeder/Moeder, óók van die hondkind en van ander gebrokenes:

Dan gaan staan sy voor die muurprent van die vierde stasie van die kruis waar Maria haar hande na Jesus uitsteek om Hom te help. Met die doringkroon ingedruk op sy kop en bloed wat langs sy slape afloop, struikel Hy onder die las van die kruis en kom op sy hande en knieë op die grond te lande.

Suster Léonie maak die kruisteken en bid hardop: “Moeder van ’n bang en struikelende kind, handeviervoet in die stof, Moeder van hulle met stukkende rowe, van hulle wat nie woorde het nie, bid vir ons.” (54)

Van Niekerk is bewus van die intrinsieke poëtiese kwaliteit in die Rooms-Katolieke geloof. As voorbeeld, in liriese Afrikaans:

Sy kyk byna smekend na die Maria-beeld om die regte gebed vir die hondkind te vind, maar sy weet nie met watter naam sy haar nou moet aanspreek nie: Mistieke Roos, Koningin van die Engele, Môrester, Woning van Goud, Toring van Ivoor, Poort van die Hemel, Toevlug van sondaars … (54)

4.3 Botticelli se Moeder en kind

Sandro Botticelli se emblematiese Renaissance-skildery, Moeder en kind (1470), bevestig bogenoemde tematiek van moederskap, vergesel van die pynlike dood van die moeders se seuns.

Vroeg in die roman word Botticelli se ikoniese werk geaktiveer tot ’n universele kode van moederskap: “’n Skildery van Maria met haar kind op haar skoot, ’n swierige bloupers mantel om haar gevou, hang langs een van die boekrakke. Sy het al dikwels dié skildery van Botticelli staan en bewonder” (20).

4.4 Kruie

Die Rooms-Katolieke Kerk het ’n lang geskiedenis van die gebruik van kruie vir medisinale en rituele doeleindes. Die Kerk het gepoog om haar tradisionele kruiekennis met dié van geestelike en medisinale praktyke te integreer en te versoen. Die Kerk, wat as beide ’n geestelike en ‘n sosiale instelling opgetree het, het ’n belangrike rol gespeel in die bewaring en bevordering van hierdie kennis van kruiegeneeskunde, veral in landelike gebiede waar toegang tot moderne mediese fasiliteite beperk was (Grieve 1976).  Hildegard van Bingen, ’n 12de-eeuse Benediktynse abdis, het in Physica en Causae et Curae uitvoerig oor die medisinale eienskappe van kruie geskryf, wat kruiepraktyke tot laat in die 1800’s beïnvloed het.

Volksgeneeskundepraktyke was met ander woorde diep verweef met godsdienstige geloof. Kruie is dikwels deur priesters geseën om hul genesende eienskappe te versterk, en baie genesingsrituele het gebed en die aanroeping van heiliges ingesluit.

Die sendingstasie in die Kalahari-woestyn, verteenwoordigend van die kloosterlike Salesiaanse Orde, was vertroud met die gebruik en verbouing van kruie, met kruietuine wat beide die klooster en die omliggende gemeenskap van medisinale plante voorsien het.

In … so ook op die aarde word die gebruik van kruie dwarsdeur die roman in klinkende en poëtiese Afrikaanse streekstaal beskryf. Maar dit is ook so dat die gebruik van kruie en genesingsrites plek gemaak het vir bygeloof en magiese denke.

Hier is ’n voorbeeld van die gebruik van kruie vir medisinale doeleindes: “Dankie, ouma Pop. Nou moet jy die wildealstee heel skoon opdrink. Daar’s wynruit ook by. Dis vir die hoë bloed saam met ’n skaafseltjie neut vir krag” (18).

Vervolgens, ’n voorbeeld van die gebruik van kruie, vergesel van godsdiens, bygeloof en magiese denke:

Hulle staan met gebedekrale en stokke, maak die kruisteken en strooi droë salieblare. Hulle sit droë takkies neer, gaan haal ’n gedroogde slangvel en wit werwelbene en sit dit deur die draad in die een hoek.

Hulle sprinkel ook ’n aftreksel van slangklimop in die hok om die bose geeste af te weer. (80)

Taksonomies is salie in 1753 deur Carl Linnaeus benoem as Salvia officinalis. Dit is vir eeue lank in die Ou Wêreld vir sy voedsel en helende eienskappe gekweek. Die tweede deel van die naam, officinalis, verwys na salie se medisinale gebruik – die officina was die tradisionele stoorkamer van ’n klooster waar kruie en medisyne geberg is (Salie, Wikipedia). Daar is dan ook talle verwysings na die klooster se stoorkamer in die roman.

 

5.    Literêre stylgrepe

5.1 Simboliek

… so ook op die aarde is ’n roman wat besonder ruig is aan simboliek. Van Niekerk steun in dié verband op haar vaardighede en liriese stem as digter. Die roman het ’n serene kwaliteit en lees soos vloeibare poësie.

Soos die verhaal ontwikkel, word dit duidelik dat Mikah, die hondkind, ’n Messiaanse sondebok geword het wat die skuld namens die dorpie in die Kalahari-woestyn moes dra. Die belang van die sondebokmotief, wat ook in die Bybel voorkom (sien Levitikus 16:8; 16:10; 16:26), verdien verdere vermelding. Hier word verwys na Asasel, wat in die boek van Henog as ’n gevalle engel beskryf word. Eksegete beweer dat dit benewens ’n sondebok ook verwys na ’n plek wat 12 myl (ongeveer 19 km) oos van Jerusalem geleë is, terwyl ander dit as ’n wildernis, ’n bose gees, of selfs Satan beskryf. Een spesifieke vertolking is dat Levitikus 16 verwys na een bok vir Christus en die ander vir Asasel as die een wat boete doen en die effek van die boetedoening, met ander woorde die simboliese oplegging van die skuld op die sondebok, dra. Die sondebok (vir Asasel) word gevolglik verban na die woestyn (dus die totale verwydering en reiniging van die sonde). Die sondebok is ’n integrale deel van die reinigingsrite en ’n vooruitwysing na Christus as metaforiese sondebok wat (onskuldig) die skuld (blaam) van die kollektief moes dra. Die sondebok is tradisioneel onskuldig, want as die sondebok skuldig is, kan daar geen katarsis in die boetedoening van die kollektief wees nie (Metzger en Coogan 1993). Die kwesbaarheid van ’n sondebok maak hom of haar ’n maklike teiken van ander, aangesien hulle dikwels vrywillig die las namens ander dra en histories gewoonlik uit dorpe (dikwels na woestyne) verban is. Die hondkind in die roman, wat later Mikah heet, het verskeie belemmerings. Hy kan nie praat nie, hy loop handeviervoet, en is erg gestrem in verskeie opsigte. As gevolg van hierdie belemmerings is die seun kwesbaar en word hy die teiken van die dorpenaars se hoon en smaad, want hy verteenwoordig kwansuis die Bose. Die leser verneem ook dat hy sogenaamd met die helm gebore is – dit verwys na ‘n geval waar ’n baba met die vrugwatersak oor die kop of gesig gebore word. Die vrugwatersak is skadeloos en kan maklik en onmiddellik ná geboorte deur die vroedvrou of dokter verwyder word. Om “met die helm” gebore te wees gebeur selde, in minder as 1 in 80 000 geboortes. In die Middeleeue is die helm as ’n teken van geluk en as ’n goeie voorteken beskou: dat die kind vir grootheid van gees en grootmoedigheid uitverkore is, of met begaafde welsprekendheid toegerus sal wees. Daarbenewens is geglo dat sulke kinders bonatuurlike vermoëns het en kan “sien” (Helm (geboorte), Wikipedia). Mettertyd het die legende ontstaan dat die eienaar van ’n vrugwatersakhelm oor besondere geluk beskik en dat dit hom teen verdrinking sou vrywaar. Dit lees egter baie ironies in die roman, aangesien Mikah, nadat hy vir Léonie probeer beskerm het teen die koster, júis verdrink het in die rivier. Die dualisme goddelik/diabolies wat die hondkind kenmerk, blyk aan die einde van die verhaal na die goddelike kant oor te neig. Ook die fontein, wat die simbool van liefde en van God is, loop oor ná sy begrafnis. Mikah beteken “Wie is soos God?”, en is afgelei van die Hebreeuse Mikha’el. Ouma Pop verwys na hom as “God se afskynsel hier op die aarde” (149). Dit is ook interessant dat Mikah in dié verband ooreenkomste met die aartsengel Migael toon. Migael word volgens Openbaring 12:7 as die verslaner van Satan uitgebeeld. Die koster, Rufus, word in die roman uiteindelik geopenbaar as die inkarnasie van die Bose – en Mikah as die onwaarskynlike goddelike wese wat vir Léonie van moontlike verkragting red.

Verwysings na die sprinkaanvoël of ooievaar figureer ‘n paar keer in die roman. Laasgenoemde is interessant ook ’n Bybelse simbool en kom slegs een keer in die Bybel voor. In die roman word die voël uitgebeeld as ’n gewonde wese, met ’n pyl deur sy nek – maar hy leef ondanks dié verwonding nog steeds. Dit is slegs een voorbeeld van hoe fyn Van Niekerk met haar simboliek omgaan.

Vergelyk die Bybelverwysings:

Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op ’n vaste tyd terug, maar my volk wil nie weet wat die Here vir hulle vasgestel het nie. (Jeremia 8:7, 1983-vertaling)

Selfs ’n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en ’n tortelduif en ’n swaweltjie en ’n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die Here nie. (Jeremia 8:7, 1953-vertaling).

Die Pfeilstorch (letterlik vertaal as pylooievaar) het ook ornitoloë se aandag getrek:

In 1822, one White Stork helped put an end to this mystery. The bird landed near the German village of Klütz with a 30-inch spear through its neck. The spear was discovered to be made from African wood, meaning this stork must have traveled between the continents. Being a literal people, the Germans felt this strange, new animal needed a new name: Pfeilstorch, or arrow-stork.

[…]

The Pfeilstorch was the first concrete evidence for migration, the annual, large-scale movement of birds between their breeding and non-breeding territories. (Brosnan 2019)

In … so ook op die aarde merk Léonie tereg op:

“[O]ns ken hom as ’n sprinkaanvoël, maar daar ver anderkant die see is hy ’n ooievaar. Hierdie een is ’n ‘Pfeilstorch’ in Duits. Soos hulle oor Afrika vlieg, skiet die jagters hulle van onder af met ’n pyl en boog. Die pyl bly agter in die nek en die voël oorleef dit.” (40)

Iewers ver weg waar dit koeler is, dalk in Lyon, het hy ’n nes […]. Wat het hom hierheen gebring? Wat het haar uit Lyon hiernatoe gebring, wonder sy. (41)

Léonie se jukstaposisie met die sprinkaanvoël is van belang. Op haar laaste dag, voor sy vertrek uit die Kalahari-dorpie, merk sy weer die verwonde sprinkaanvoël voor die klooster op (164). Die parallelle simboliek tussen die voël (Lyon) en die Kalahari-woestyn dui enersyds op die migrasiepatrone van die sprinkaanvoël, maar andersyds op die migrasie van die Franse Katolieke sendelinge na Afrika. Die pyl deur die voël se nek word voorts ’n simbool van suster Léonie se eie verwonding (sy is lief vir vader Simon, maar sy moet hom verlaat).

Die volgende simbool wat opval, is water wat figureer as simbool van transformasie en liminaliteit. Toe Léonie een skemeraad nakend gaan swem in die rivier, raak sy vir die eerste keer volkome bewus van haar eie liggaam: haar lyflikheid en van die erotiek wat opgesluit lê in haar naakte vroulike liggaam (70–1). In die rivier se waterspieël kan sy haar hele lyf sien, so anders as die klein spieëltjie in haar kloosterkamer, waar sy slegs glimpsies van haarself kan sien. As non voel sy skuldig oor hierdie fisieke gewaarwordinge, maar terselfdertyd besef sy dat ’n mens soveel meer as (net) die geestelike of spirituele is; méér is as die leringe wat die kerk vir haar as Oblate non voorskryf. Hierdie toneel herinner aan ’n parodie op ’n doop – of liminale oorgang – van die geestelike (terug) na die vleeslike, met ander woorde die omgekeerde as die kerk se voorskrifte, wat transformasie van die vleeslike na die geestelike impliseer. Die kaalswem in die rivier dien as transendente oomblik tot ’n verdiepende lyflikheid. Op sy beurt word Léonie se “onderdompeling” in die rivier ook ’n “doop” waarin die geestelike verenig met die vleeslike tot ’n holistiese spirituele bewussyn, of die lyflikheid van geloofsbewussyn.

Twee van die karakters in die roman sterf weens verdrinking: Kleinklaas verdrink in die fontein (58) as gevolg van “agteroorsiek” (epilepsie), en Mikah verdrink onder die hand van die koster in die rivier nadat hy Léonie met sy lewe probeer beskerm teen die koster se onwelkome attensies (147). Water is egter ook ’n voorafskaduwing van twee ander liminale gebeure in die seun se lewe: Sy naam, Mikah, word vir die eerste maal genoem nadat die vroue hom bad en met olie insmeer. Voor dit was hy net bekend as “die hondkind”. Die bad (water) gee hom met ander woorde ’n identiteit en menswaardigheid. Die tweede liminale gebeurtenis is die een waar Mikah deur die biskop (met water) gedoop word en hy sakramenteel deel word van die kerk en die liggaam van Christus (104).

Die roman is voorts ruig aan Bybelse simboliek. Vervolgens enkele voorbeelde hiervan.  

Die dadelplantasie by die klooster figureer as simbool van erotiek: Die dadelplant het mannetjie- én wyfieplante en is met ander woorde ’n tweehuisige plant. In hoofstuk 5 verneem die leser: “Die wyfiebome lyk vir haar soos gesluierde bruide met belofte van vrug” (36).

Die fontein simboliseer liefde. In Spreuke 14:27 staan daar immers: “Die Here se liefde is soos ’n borrelende fontein” (Die Boodskap-­weergawe). ’n Fontein is voorts ook ’n uitgebreide simbool van reiniging, lewegewende water, spirituele verkwikking, wedergeboorte en ’n goddelike bron van lewe.

Die rol van heuning en heuningkoeke kan vertolk word as die simbool van Goddelike openbaring. Van Niekerk werk ook via assosiasie – die vuurrook en sweet wat die koster omring, dra konnotasies van die hel. Verder: Met Léonie se vertrek terug Lyon toe vertel Dawid dat hy ’n sagteoorlammertjie sal grootmaak in haar plek (166). Hierdie terloopse verwysing dui op ’n Agnus Dei – die Lam van God. Van Niekerk skryf prosa met ’n deurwinterde digtershand en die teks bied aan die volhardende leser ’n rykdom van poëtiese stylfigure.

5.2 Epifanie

Die woord epifanie kan terugherlei word na die Griekse epiphaneia, wat beteken “verskyning”, “openbaring” of “manifestasie”. Epifanie as literêre tegniek verwys na ’n personasie se openbaring of verhelderende oomblik wat op sy beurt die keerpunt of draaipunt van die narratief inlui. Die epifaniese oomblik kan beskou word as daardie deurbraakoomblik wanneer die onbewuste na die oppervlak keer en bewustelik word – as ’n oomblik van selfinsig.

As literêre tegniek is epifanie ’n waardevolle werktuig in karakterontwikkeling, narratiewe progressie en tematiese ontginning. Epifanie is kenmerkend van veral Modernistiese letterkunde, alhoewel die gebruik van dié tegniek verskillende genres en tydperke oorspan en die oomblikke van verheldering, wat die menslike kondisie kenmerk, weerspieël (Morris 1971).

In bostaande gedeelte oor simboliek, en water as simbool van transformasie en liminaliteit, word verwys na Léonie wanneer sy vir die eerste maal kaal swem in die rivier. Die gewaarwording is inderdaad dan ook die epifaniese oomblik in die roman. Hierdie verheldering word op konkrete wyse verbeeld wanneer sy haar spieëlbeeld duidelik en volkome in die water sien:  

Waar sy by die waterkant staan, is haar weerkaatsing helder voor haar in die spieëlgladde poel. Hoe anders is dit nie wanneer sy in die klein vierkantige spieëltjie agter die deur in haar kloosterkamer kyk nie. Daar sien sy soms net haar oë, haar neus, en as sy op haar tone staan, haar mond; net glimpsies van haarself. Hier in die helder poel is sy méér. Sy streel verwonderd oor haar arms, haar borste, haar maag, haar heupe. Sy is werklik. Sy is haar hele lyf! Haar hele lyf is sy. […]

Hier tussen hemel en aarde kan sy bid sonder woorde, dis of Grootvader self haar vashou, haar toedraai in skemerlig, haar sus …” (70–1)

5.3 Transendentalisme

Die Transendentalisme is ’n literêre en filosofiese beweging wat in 1836 in Amerika ontstaan het, met Ralph Waldo Emerson en Walt Whitman as die belangrikste eksponente van hierdie beweging. Die Transendentaliste het geglo dat ’n individu bó die chaos van ’n samelewing kan transendeer, en dat die krag van die menslike gees, of die spirituele binnelandskap van die mens, verantwoordelik is vir die bevryding van ’n individu in sy soeke na waarheid (Myerson (red) 2010). Aanhangers van hierdie beweging, wat inderdaad die voorloper van talle beskouings binne die hedendaagse New Age-beweging was, het geglo in die inherente goedheid van die mens; in sy belewenis van die natuur; in die menslike intuïsie; in persoonlike ervaring; en in niekonformiteit ten opsigte van georganiseerde godsdiens. In stede van religie transendeer ’n individu eerder op holistiese spirituele vlak deur te fokus op die inherente heiligheid van die lewe self. In … so ook op die aarde oorstyg suster Léonie die gebruike en dogma van die Rooms-Katolieke Kerk tot ’n universele begrip van menslike liefde asook empatie met die wondbare en weerlose menslike kondisie. Léonie se ontwikkeling as protagonis word gekenmerk deur twyfel (in haar roeping en geloof); deur die epifaniese oomblik wanneer sy bewus word van haar eie lyflikheid in die rivier; en in die geleidelike oorgang van religie na transendentalisme dwarsdeur die roman. Die swaarkry in die Kalahari-woestyn, ver weg van die Europese sofistikasie van Lyon, asook die empatie wat sy mettertyd met Mikah ontwikkel, is die twee vername katalisators in Léonie se spirituele verdieping.  

Op die agterflap verneem die leser:

Menswees kom tot verruklike volheid wanneer die hoofkarakter leer dat die kleinste detail van menslike wonde, worsteling en wegsteekdinge baie meer werklik is as “kerkgoed en sielsondes”. Die universeel-menslike soeke na die transendente word sintuiglik en liries vertaal tot die gewoonheid van stof, hongerte en siekte in die barre woestynwerklikheid.

Toe Léonie vir ouma Pop vra wie God vir haar is, antwoord sy: “Wondmeester, Sustertjie, […]. Woestynwind in die gras, Asemtog, Alles Tussenin …” (90).

Vervolgens ’n paar sleutelaanhalings in die roman wat Léonie se oorgang van religie na transendentalisme kenmerk:

Sensus divinitatus het sy by Suster Agnes geleer – elke mens het ’n ingebore bewussyn van God; ook hy [die hondkind] moet ’n voorwete hê, al is dit nie voorskrifte en belydenisse nie, al is dit dan net sy eie kinderlike drie klanke van geloof. (105)

[…] en sy weet opeens God is naby en ver, kenbaar én ’n geheimenis. (114)

“Nee, Vader Simon, wat ek hier in dié woestyn van die lyflikheid van geloof geleer het, is ver verwyderd van kerklike voorskrifte.” (161)

“Glo met jou hele wese, asseblief, Vader Simon, glo verby jou eie wete, ook met jou hele lyf, die aandwind op jou voorkop, die koel rivierwater wat om jou vou, die otterspore wat voor jou lê … ag, kom loop saam met my en leer Grootvader ken, die Oral Tussenin, God in ons lywe …” (163)

 

6.    Slot

In die persverklaring word na … so ook op die aarde as kultuurhistoriese fiksie verwys. Dit is inderdaad ’n veelvlakkige teks wat as bildungsroman die katarsisse en kentering van suster Léonie, in haar reis na individuasie, boekmerk. 

Aangesien Jung se individuasie steun op die idee dat perfeksie nooit moontlik is nie, is dit die reis (na introspeksie of selfinsig), in plaas van die uiteindelike bestemming, wat die reis die moeite werd maak en ook ware verandering aandui (Jung 2024). Die verdieping in Léonie se spirituele bewussyn bevat ook elemente van die gebroke menslike kondisie – sy moet vader Simon, die man wat sy liefgekry het, agterlaat, omdat sy sy eed van selibaatheid respekteer. Ironies en paradoksaal kan sy hom liefhê slegs deur hom te laat gaan.

Betsie van Niekerk het vir haar ’n plek as eklektiese skrywer losgeskryf in die Afrikaanse letterkunde. Sy lewer ’n besondere bydrae met die roman, wat tematies sy plek in die klein korpus Afrikaanse tekste met die Rooms-Katolieke geloof as konteks inneem. Die skrywer aktiveer temas van buitestanderskap (’n Rooms-Katolieke sendingstasie) op sosiale sowel as persoonlike vlak – en die onderbeklemtoonde historiese rol van Franse Katolieke sendelinge in Afrika in 1800’s.

Die roman is ’n meestersklas in die gebruik van argaïese Noord-Kaapse Afrikaanse streekstaal, ’n onderwerp wat buite die skopus van dié essay val, maar wat moontlik brandpunte vir toekomstige navorsers karteer.

 

Bibliografie

Bishop Simon – the sturdy pioneer and first Oblate Bishop. Datum onbekend. Thirstland Epics. https://thirstlandepics.co.za/bishop-simon-the-first-oblate-bishop (30 Junie 2024 geraadpleeg).

Brosnan, E. 2019. Bird of the month: the Pfeilstorch. Audobun Society Northern Virginia.  https://www.audubonva.org/news/2019/9/1-pfeilstorch (2 Julie 2024 geraadpleeg).

De Sales, St F. 2002. Introduction to the devout life. Londen: Vintage Books.

De Vries, A. 2022. ’n Geskiedenis van Afrikaans as kerktaal: van altaar tot kansel. Tydskrif vir Letterkunde, 59(3):96–112.

De Vries, W. 2024. Bruggenhoofden: Anastasia de Vries lewer rigtende bydraes in kritiese herevaluering van tale, geskiedenis en gemeenskappe. Voertaal.  https://voertaal.nu/bruggenhoofden-anastasia-de-vries-lewer-rigtende-bydraes-in-kritiese-herevaluering-van-tale-geskiedenis-en-gemeenskappe (27 Junie 2024 geraadpleeg).

Grieve, M. 1976. A modern herbal. Londen: Penguin

Hambidge, J. 2014. ’n Klein nota by ’n ongepubliseerde vers van Johann de Lange. Woorde wat weeg. https://joanhambidge.blogspot.com/2014/07/joan-hambidge-n-klein-nota-by-n.html (25 Junie 2024 geraadpleeg).

—. 2024. Resensie: Betsie van Niekerk – ... so ook op die aarde. Naledi 2024. Woorde wat weeg. https://joanhambidge.blogspot.com/2024/04/resensie-betsie-van-niekerk-so-ook-op.html (26 Junie 2024 geraadpleeg).

Helm (geboorte): Wikipedia. https://af.wikipedia.org/wiki/Helm_(geboorte) (1 Julie 2024 geraadpleeg).

Ikin, J. 2024. Forward ever, backward never, Pella!! Cross Country Insurance Consultants. https://ccic.co.za/forward-ever-backward-never-pella (28 Junie 2024 geraadpleeg).  

Jung, CG. 2024. Collected works of CG Jung, Volume 8: The structure and dynamics of the psyche. Tweede uitgawe. New Jersey: Princeton University Press.

Kruger, E en B van Niekerk. 2024-04-03. … so ook op die aarde: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk. Skrywersonderhoude. LitNet. https://www.litnet.co.za/so-ook-op-die-aarde-n-onderhoud-met-betsie-van-niekerk (26 Junie 2024 geraadpleeg).

List of Catholic orders and congregations. Geen datum. TranslationDirectory.com. https://www.translationdirectory.com/articles/article2296.php (24 Junie 2024 geraadpleeg).

Metzger, B en MD Coogan. 1993. The Oxford companion to the Bible. Londen: Oxford University Press.

Morris, B. 1971. Epiphany in the modern novel. Seattle: University of Washington Press.

Morris, W. 2018. The devil’s advocate. East Melbourne: Allen & Unwin.

Myerson, J (red). 2010. The Oxford handbook of transcendentalism. Oxford: Oxford University Press.

Salie. Wikipedia. https://af.wikipedia.org/wiki/Salie (2 Julie 2024 geraadpleeg).

Simon, JM. 1959. Bishop for the Hottentots. African memories: 1882–1909. Cincinnati: Benziger. 

Sr Francoise-Marie. Datum onbekend. Thirstland epics. https://thirstlandepics.co.za/sr-francoise-marie  (27 Junie 2024 geraadpleeg).

Thurston, H. 1914. The stations of the cross: an account of their history and devotional purpose. London: Burns & Oates.

Van Niekerk, B. 1988. Ronkedoor. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1991. Die Rooiberg is hol. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1995. Gamkab. Kaapstad: Tafelberg.  

—. 2021. Anderkind. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2024. … so ook op die aarde. Gansbaai: Naledi.

Lees ook:

Die onsienlike son deur Jacobus van der Riet: Die digter as skriba en kalligraaf

Die mistieke soos dit neerslag vind in "Christ of the burnt men" van Sheila Cussons

Sheila Cussons (1922–2004)

Sanlamprys vir jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk

... so ook op die aarde: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk

Vrouedag-skryfkompetisie: Ma

  • 1

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Dankie vir die uitvoerige en insiggewende artikel. Ek wil die boek volgende jaar by 'n leeskring bespreek en hier is baie inspirasie en insig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top