... so ook op die aarde: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk

  • 1

... so ook op die aarde (Naledi, 2024) (ISBN: 978-1-991256-59-1)

Estelle Kruger gesels met Betsie van Niekerk oor haar boek, ... so ook op die aarde.

Estelle: Welkom, Betsie, hier by ons in een van die baie wonings van LitNet. Dankie dat jy ingestem het om met my ’n e-gesprek te hê.

Ek lees dat jy reeds bekend is op die Afrikaanse literatuurfront, met baie bekronings.

Vertel asseblief vir ons van almal en hoe hulle in jou lewe gebeur het.

Betsie: My digbundel Ronkedoor – oor ’n alleenloper olifantbul wat uit die trop verstoot is – is geskryf om afskeid te neem van my pa ná ’n motorongeluk. Hy het jare lank in Kenia op sy eie navorsing gedoen oor die tsetsevlieg. In ons huis was daar altyd boeke, stories, kaarte en kunswerke van Afrika.

Twee van my jeugverhale, Die Rooiberg is hol en Anderkind, speel af op die plaas naby Clanwilliam waar ek grootgeword het; Gamkab is geskryf ná ’n roeitog op die Oranjerivier. Omdat ek lank vir tieners skoolgehou het, was hulle leefwêreld vir my bekend. Gamkab en meer onlangs Anderkind het die Sanlamprys vir Jeuglektuur gekry.

Estelle: Baie geluk met hierdie bekronings. Ek is verder nuuskierig om te hoor hoe so ook op die aarde in jou gedagtes gaan lê het en jy dit met woorde vir ons geskep het.

Hoe het die boek ontstaan en wat het jou gehelp om dit te struktureer?

Betsie: Ons het lank in die Noord-Kaap gebly en die klein mikrogeskiedenis van Pella het my gefassineer. Hoe kon ’n jong 24-jarige Rooms-Katolieke-Franse priester só ’n ongelooflike roeping hê om ver in ’n halfwoestyn sewe jaar lank klip vir klip aan ’n klein katedraal te bou en vir 50 jaar lank sy “opdrag” uit te leef met die motto: “TENUI NEC DIMITAM.” (Ek hou vas en sal nie laat los nie.)

Sý lewensgeskiedenis het my geneem na Franciskus van Sales se leer, na Teresa van Ávila, die Katolieke kerkvaders … En alhoewel Pella se geskiedenis my inspirasie was, is my verhaal fiksie.

Estelle: Jou boek word aangebied as kultuurhistoriese fiksie op die uitgewer se webblad en voor in die boek is daar ’n inskrywing wat meld dat enige “ooreenkoms met werklike karakters, gebeure en plekke” toevallig is.

Tog is daar reeds op die buiteblad – kunstig ontwerp deur Nadene Kriel – baie inligting waarmee menige leser sal kan identifiseer. Op die voorblad sien ek: “Liefde borrel óp soos ’n fontein, jy kan dit nie keer nie.” Hierdie inskrywing het my as leser dadelik laat weet dat hier ’n verhaal oor verbode of onbeantwoorde liefde is.

Die kerk, patryseiertjies en dorre landskap op die voorblad maak dat ’n leser kan raai dat die verhaal in die Kalahari-woestyn afspeel. Die sandpatryseiertjies op die voorblad (wat kunstig uitgebeeld en geïntegreer is met die landskap) speel ’n belangrike rol van versoening tussen die hondkind en Léonie en later ook ’n groot deel van die gemeenskap.

Ek sien dat jy in Malmesbury woon – het hierdie ruimte ’n rol gespeel in jou sintuiglike ervaring en uitbeelding van ’n dorre landskap?

Betsie: Ek woon tans in Malmesbury, maar het vir baie lank in Upington gewoon; die Noord-Kaap, Namibië en Kalahari is deel van my hele wese. Ons het dikwels in Namibië en die Kgalagadi Oorgrenspark gekamp, staptogte langs die Oranjerivier gedoen, op plase in die Kalahari gekom.

Estelle: Vir my as krities-waarderende leser is daar reeds baie paratekstei wat my verwagtingshorison en my verbeelding prikkel om te raai waaroor die verhaal handel. Nog voordat ek die boek oopgemaak het om te lees, is daar dus ’n hele lot agtergrondskennis van my as leser wat geaktiveer is en my so te sê diep in die verhaal geplaas het.

Die titel sal lesers wat (soos ek) met die Bybel grootgeword het, dadelik die woorde wat nie geskryf is nie en deur ’n ellips aangedui word, in gedagte laat onthou of herken – dit kom naamlik uit die Onse Vader-gebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het: “[...] laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” Hier is dus ’n godsdienstige element ter sprake wat die verloop en gebeure in die verhaal stuur.

Deur die boek heen is dit duidelik dat geloof, kennis van die Bybel en die kerk se leringe ’n belangrike rol speel. Léonie kry herinneringe van haar beeld van God wat sy in Lyon gehad het wat besig is om te vervaag, en in die plek daarvan raak sy bewus van die Skepper in die natuur (92). So ook verskerp haar vraag aan haarself om eerlik te besin oor wat haar roeping is.

Ek kom agter dat dadels en die sprinkaanvoël ’n groot rol speel. Wat is jou interpretasie daarvan?

Betsie: Dadels is vir my ’n oervrug, met die aarde en son in hulle, sag en sensueel. Dadels is mos juis ’n aphrodisiac. En dat daar wyfiebome en mannetjiebome is, toepaslik met betrekking tot Léonie en Vader Simon se spontane en verdiepende aangetrokkenheid tot mekaar. Die lieflike blommesluiers (hoofstuk 5), die bruide wat Léonie nooit kan wees nie, wel net ’n “bruid vir Christus”.

Dan is daar die palmtakke op die pont later in die boek toe die biskop op besoek kom: ’n verwysing na hoe palmtakke voor Christus se voete gegooi is met sy intog in Jerusalem.

Die sprinkaanvoël (leef ook met ’n wond met ’n pyl deur sy nek) is vir my ’n simbool van Léonie wat haarself ook tussen twee wêrelde bevind, een Europees en een van Afrika. Hy vlieg aan die einde ’n stippeltjie teen die blou lug terug en so verdwyn sy ook (met haar binnewond) stippeltjie vir stippeltjie oor die veraf horison.

Estelle: Met die verloop van die verhaal word dit langsamerhand duidelik dat elkeen van die karakters wat name het en dus rolle vertolk (bewustelik en onbewustelik) worstel met wat die wese of hart van geloof is. Al die hoof- en newekarakters word gekonfronteer met selfondersoek oor liefde en sonde en vergifnis. Om hierdie rede speel die bieghokkie in die kerk ’n belangrike rol.

Léonie besef algaande dat God vir haar ’n vae indruk (en in jou woorde ’n “skemerwete”) geword het – die leser kom agter dat dit trouens waar van baie van die karakters is. Hulle weet meer van die kerkreëls as van God se liefde en vergifnis. Omdat die mense in die verhaal nie dieselfde diep-weet van God het nie – “daar is ’n kerkglo en daar is ’n binneglo” (74) – ken die meeste van die karakters tipiese Latynse woorde wat vir hulle ’n troos bied sonder dat hulle werklik verstaan wat dit beteken. Tog beskik húlle oor ’n aardse wysheid en ’n eiesoortige siening van geloof en die bose wat tot uitdrukking kom in hul manier van dink, voel en lewe.      

Dit lyk vir my of jy eerstehandse kennis en ervaring het van die worsteling wat gepaardgaan met ’n mens se roeping.

Is ek reg?

Sal jy asseblief vir ons vertel hoe laasgenoemde in jou ervaring en/of waarneming van mense gestalte gekry het?

Betsie: Ons het geleer om kerk, geloof, worsteling met die transendente in ’n aparte kategorie te sit; eenkant weg van die gewoonheid van lewe. Die verhaal speel af in en rondom ’n kerk, maar die karakters se gewoonheid van lewe, hulle swaarkry in die woestyn en hulle worsteling met kerk en kerkspraak is op een of ander manier ons almal s’n. ’n Mens het nooit “klaar” geglo óf nie geglo nie; dit bly ’n immerskuiwende soeke na nog ánder perspektiewe, ánder woorde. Geloof is ’n voortgaande gesprek en aldus “arriveer” jy nooit met jou geloof nie. Roeping is vir my die openheid wat ek behou om telkens nuut te dink en in verwondering te bly oor alles wat is.

Estelle: Een van jou portuurlesers vra die vraag: “Waar op die aarde kry ’n NG-dominee se vrou daardie diepe insig in die Katolieke Kerk?”

Dit lyk of jy ’n intieme kennis het van die Katolieke Kerk se gewoontes en leringe ... Hoe het jy dit opgedoen? Ek stem saam met een van jou lesers wat skryf: “Dis vir my ’n wonderlike beskrywing van mens op aarde met sy geloof en leef en bestaan en vrae.”

Betsie: Ek onthou dat wanneer my skoolmaats op Clanwilliam Vrydagmiddae “dorp” toe kon gaan, ek in die Roomse kerkie ingeglip het en ure lank daar vertoef het. Ek het van altyd af daarvan gehou om soms alleen te wees. Daar het ek die reuk van die klipkerkie gekry, die loodglasvensters, die gebedeboekies, die rooi fluweel-knielbankies, die klein altaar met sy silwerware, die nagmaalbroodjies ...

Ek het vir my boek die lieflike klein mikrogeskiedenis van Pella ure lank bestudeer en daarmee saam vir twee jaar lank die Rooms-Katolieke leer probeer verstaan – en baie gevind wat ontsaglik mooi vir my is.

Iewers gaar dinge seker maar op in ’n mens, totdat dit begin opstu, deur lae en lae lewe opbeur en uitbeur boontoe en saamkom op ’n onverklaarbare manier.

Estelle: In ... so ook op die aarde is die universeel, eg menslike verhaal van ’n klein gemeenskap met eie wegsteekdinge, mense vir wie God in die worsteling van hul bestaan soms net ’n skrale wete is, ’n drama met konflik en verlies wat ook genadiglik mettertyd ontwikkel tot vergifnis.

Die hele tyd dat ek gelees het, het Aristoteles se retoriese driehoek “logos”, “ethos” en “pathos” in my gedagtes lêplek gesoek.ii

Logos appeals to reason. Logos can also be thought of as the text of the argument, as well as how well a writer has argued his/her point.

Hier is die waarhede van die Rooms-Katolieke Kerk se leer van toepassing.

Ethos appeals to the writer’s character. Ethos can also be thought of as the role of the writer in the argument, and how credible his/her argument is.

Hier vind ek aansluiting by jou ervaring en kennis van die Rooms-Katolieke Kerk. Jou kredietwaardigheid is bevestig deur jou bekronings wat jy gekry het.

Pathos appeals to the emotions and the sympathetic imagination, as well as to beliefs and values. Pathos can also be thought of as the role of the audience in the argument.

Met deernis en passie word die verhaal uitgebeeld en die karakters se belewinge gemotiveer. Dit word gefokaliseer deur Léonie en Ouma Pop. En dan, aan die einde is dit vir my hartseer dat Léonie en Vader Simon nie liefdesvervulling kon gesmaak het nie.

Ook merk een van jou portuurlesers op: “En Sr Léonie se wroeginge en ontdekkings sal mens se gedagtes tot aan die einde van ons leeftyd besig hou.”

Dink jy ek het dit korrek (in ’n neutedop) geïnterpreteer?

Betsie: Dankie, Estelle. Ek dink dis ’n toepaslike opsomming van hoe my verhaal gestruktureer is en ontplooi.

Estelle: Watter ervaring het jy van ’n tipiese kleinwêreldse dorpie wat jy met die karakters en gebeure en duidelike temas uitgebeeld het en hoe dit vergestalt word in hulle konsepsies van geloof?

’n Portuurleser merk op: “Die weerloosheid van die mense, die mooi beskrywing van die halfmens se gaan stilstaan en die omkyk-praat van die mens met ’n laaste betekenisvolle woord.”

Betsie: Ek het in 32 jaar in ’n landelike omgewing mense leer ken oor die hele spektrum van geloofsmoontlikhede – van die mees “gesofistikeerde” tot die mees eenvoudige; ek het mense leer ken in al hulle magtelose worstelinge met God, ook hulle sobere en soms kritiese aanvaarding van die kerk se leer.

Ons lewe lank was die Kalahari en Namibië my en my (ietwat onkonvensionele) dominee-man se uitvlug en toevlug. Hy het geskilder en ons het die veld (koker-) boom vir boom, struik vir struik, klip vir klip leer ken, vir ure lank het ek saam met hom by of onder ’n boom gesit, die teksture, kleure waargeneem; dit ons eie gemaak. Dan het hy dit geskets, strepie vir strepie, kwashaal vir kwashaal geskilder.

Ek het Kalahari-gedigte geskryf by sy uitstallings. Ook het ons met gereelde huisbesoeke en bidure diep in die Kalahari ingery, saans onder die stil en helder sterre teruggery, dikwels stilgehou en plat in die pad sit en luister, luister en kyk ... Ons het presies geweet waar die kelkiewyne roep, ’n aardvark se houplek was, waar die !nabbas uit barsies in die rooigrond peul.

Ons het baie keer staptoere met groepe kinders gedoen langs die Grootrivier. So het ons ook by Pella aangekom en die nonne en Vader van die Rooms-Katolieke Kerk daar ontmoet ...

Op Pella was wel vroeër ’n Vader Simon, die stigter van die gemeentetjie. Hy het werklik die klein katedraal daar eiehandig gebou, net met ’n Franse ensiklopedie in sy hand; hy het ’n baie duidelike roeping daar gehad en het vir 50 jaar daar gebly voor hy oorlede is en daar in die kerkie begrawe is.

Estelle: By die oerwyse Ouma Pop leer Léonie dat ons hier op die aarde net ons lywe het en ons moet lewe en glo met ons lywe. Sy kom ook agter dat Ouma Pop almal se pyn en verlies ken, omdat sy die vroedvrou by hulle kinders se geboortes was.

Waar het jy die diep en egte mensekennis opgedoen wat jy hier uitbeeld?

Betsie: Pyn en verlies is déél van menswees. My ma het lank met ’n wond, ’n aarseer, aan haar een been geleef wat ek help versorg het. Haar ma was op Schroder naby Kakamas die vroedvrou en die medisynevrou wat (soos Ouma Pop) die hele gemeenskap geken het.

Estelle: Léonie is vir die grootste deel van die boek die fokaliseerder, die karakter wat die alwetende verteller as katalisator gebruik om deur haar worsteling, sintuiglike en innerlike waarneming, gevoelens en dade die motoriese momente in die verhaal te stuur.

Die leser sien en beleef uit Léonie se oë en haar gevoelens wat gebeur. Omdat sy ’n sterk sintuiglike bewussyn het, beleef sy die gebeure, plekke en mense met al haar sintuie en die leser voel en leef saam met haar poëtiese waarneming.

Ander sekondêre fokaliseerders is Rufus, die koster met sy wreedheid teenoor die hondkind en sy woede teen God (51), sr Agnes (62) en die oerwyse Ouma Pop wat vertel van die mense se pyn wat sy in haar ledemate aanvoel, wat sy probeer wegsteek met haar hekelwerk.

Aan die einde raak die leser ook deel van die jong priester, Vader Simon, se innerlike konflik (142). Elkeen van hierdie karakters het ’n letsel wat ’n invloed op hul optredes het.

Dit wil vir my voorkom asof hierdie aspek van Léonie se karakter versterk word deur jou eie poëtiese en liriese aanslag wat in jou gedigte tot uiting kom.

Vertel vir ons van jou ontwikkeling as digter en jou eie sintuiglike inslag.

Betsie: Resensente verwys dikwels na my poëties-liriese gebruik van taal. Digkuns is my eerste liefde, my manier van kyk na die wêreld – om die sintuiglike impak daarvan tot taal te bring.

Ek het op ’n plaas naby Clanwilliam grootgeword en as middelkind van vyf het niemand my ooit gesoek nie – hulle het geweet ek is iewers in die veld! In DJ Opperman se Letterkunde Laboratorium is my poging tot digwerk verder geslyp en gevorm.

Estelle: Wat verhoudinge betref, word Léonie reeds aan die begin van die verhaal gekonfronteer met die vreemde hondkind wat handeviervoet deur die dorpie se strate hardloop en die geheimsinnige, streng Suster Agnes wat vir Léonie aanvanklik aankla van onbehoorlike optrede. Mettertyd ontplooi die gebeure in die verskillende karakters se persepsies van God en geloof en kerk.

Wie die hondkind se ma (81) en pa (153) is, word algaande vir Léonie bekend – ’n wete wat sy (soos Ouma Pop) nie met iemand kan deel nie, vanweë die aard van die privaatheid en konfidensialiteit daarvan.

Mettertyd is dit duidelik vir Léonie dat die vreemde hondkind in die oë van die gemeenskap die sondebok is, die bose; en sy is die heilige. Dan sien sy hom een oggend in die kerk, met die muurprent van Christus waar hy die derde keer val, handeviervoet onder die kruis struikel (89).

Hierdie prent word ’n metafoor waarmee die hondkind uitgebeeld word in sy handeviervoet struikelgang as hy loop, ook sy uiteindelike identifikasie met die prent en beeld van Christus se lyding.

Ons lees ook Léonie leer ken die jong Vader Simon, die kaalvoet priester wat die klein woestynkatedraal eiehandig gebou het en wie se biblioteek vol verbode boeke is – hulle werk saam aan verskeie projekte en sy raak baie bewus van elke klein gebaartjie van gemeensaamheid.

Wanneer Léonie in die skemerlig kaal swem in die Grootrivier, raak sy met verwondering aan haar borste en heupe en voel hoe die water al langs haar rug streel as sy haar oorgee aan die sorgelose vryheid van ligter word en wegdryf. Hiermee ontdek sy dat haar lewe lyflik en aards is en om lief te hê onkeerbaar soos ’n fontein in jou opborrel.

En tog, en tog ... so wonderlik en vry as wat sy voel in die water, kom sy by die uitklim agter dat haar drasak met klere weg is, en sy raak bewus daarvan dat sy afgeloer word ... (71).

Sy kry hulp by Vader Simon wat haar arms en hande was nadat sy ’n pluk aan haar roksoom kry en losbeur uit dorings en takke (72).

Dan “maak sy haar oë toe en beleef weer die wegglip in die water, die wegdryf tussen die fluitjiesriet [...] asof die warm naglug, Grootvader self, haar toedraai”. Dit is vir haar ’n spirituele ervaring. Later kry sy haar drasak in die mandjie wat op sy gewone plek onder die trap is. In die drasak is dan ’n groot stuk heuningkoek, en later hoor sy dat die hondkind dit aangedra en in die mandjie gesit het.

Van jou portuurlesers het in hulle response melding gemaak van die intertekstuele verband tussen hierdie verhaal en Elsa Joubert se Die missionaris.

Die ooreenkomste wat ek vind, is dat beide die missionaris en die hondkind fisiese gebrek het waarmee hulle vrede maak in die verhaal. Ook is albei verhale ’n uitbeelding van die Westerling wat in Afrika die Woord wil verkondig.

Watter ooreenkomste het jy gevind?

Betsie: Ek het eers van hierdie ooreenkoms bewus geword nadat my verhaal reeds voltooi is. Ek het in ’n resensie die volgende teëgekom wat op ’n ander manier uitdrukking gee aan ’n sentrale tema van my verhaal:

Perhaps we are mistaking the whole nature of the experience of God. Perhaps we are making too much of it. Perhaps it is much simpler and quieter, and as natural as breathing, as close to us as our hands and feet. Perhaps we are living in God and His breath is our breath (Irwin 2015).

Estelle: Wat dink jy – as ’n teoloog die boek sou lees, wat sal hy dalk in hierdie verhaal raaklees?

Betsie:    

  • Die Evangelie van weerloosheid en radikale insluiting waarvan die hondkind die uitdrukking word.
  • Deep incarnation – die lyflikheid van geloofsbewussyn.
  • Abstrakte kerkspraak teenoor die Godsbelewenis tot in die kleinste klankgrepe van gewone taal.
  • Die heilige in die alledaagse.
  • Geloof manifesteer op baie verskillende maniere.

Estelle: Jou dominee-vriend, Danie du Toit, lewer dan wel die volgende kosbare kommentaar:

Een van die héél beste leeservarings van my lewe! Ek weet nie wanneer laas ek iets so hartverowerend mooi gelees het nie. Ek was verwonderd oor elke paragraaf, elke sin, elke woord.

En toe ek die boek vir die tweede keer lees, is dié indrukke bevestig. Die verhaal is bedrieglik eenvoudig, maar tegelykertyd so ryk geskakeerd en genuanseerd, dat ek in die herlees daarvan net soveel betrokke geraak het, en opnuut diep ontroer is deur van die gebeure wat verhaal word.

Al speel die verhaal af op ’n klein sendingdorpie in die Kalahari waar bykans geen uitsonderlike gebeure verwag kan word nie, is daar ’n onderliggende spanningslyn wat telkens uitloop op ’n oomblik van (meermale klein) drama; maar die spanning word ook gereeld ontlont met talryke verligtende oomblikke. Dié mengsel maak die verloop van gebeure opwindend. Die verhaal bevat talle verrassende wendinge wat my telkens laat glimlag het, en soms ligweg ontstel het!

Die klein omgewing waarin alles afspeel, word uiteindelik ’n spieëlbeeld van die groter “wêreld” waarin ons almal ons bevind. Terloops, die “beperktheid” van die sendingstasie-omgewing vind ’n teenhanger in die byna onmeetlike (onbeperkte) uitgestrektheid van die omringende woestynwêreld. Die leser is die hele tyd daarvan bewus sonder om direk daarop attent gemaak te word.

Die krag van die vertelling is nie in die blote ontvouing van die verhaal geleë nie, maar eerder in die menslikheid wat deurlopend uitgebeeld word. Menslikheid en liefde as teenhanger van rigiditeit, agterdog, vrees en bygeloof. Menslikheid (en ook geloof) wat nie beperk word tot “geestelikheid” nie, maar juis in ons lyflikheid en aardsheid ervaar word.

Die karakters in die verhaal word een en elk met insig, humor en deernis uitgebeeld. Die uiteenlopendheid van die karakters en tegelykertyd die gemeenskaplikheid van hul lewenservaring lei tot samesyn én tot vervreemding. Dit word deel van die intrige. Behalwe die natuurlike karakterontwikkeling wat soepel verloop en tred hou met die gang van die verhaal, gebruik die skrywer die tegniek van klein terugflitse na enkele van die karakters se (soms verre) verlede, en dit het my getref hoedat dit my eie siening van die karakters beïnvloed.

Terugkyk op dié manier slaag om ons met nuwe eerbied / begrip te laat kyk na mense. Meermale kon ek karakters wat ek as “boos” beskou het, deur nuwe oë sien. Hoe besonders [is dit] dat die weet “van waar iemand kom” so ’n verskil kan maak.

Die agtergrond van die uitbeelding van die omgewing het my onkant gevang – my selfs oorrompel. Ek sou nie kon dink dat die beskrywing van die veld en die veldlewe en plante my – ’n stadsjapie – so sou kon bekoor nie. Dit word nie as ’n agtergrondprentjie of milieu-skepping by die verhaal gevoeg nie, maar is inherent en funksioneel deel van die verloop van die gebeure. Die verruklike taal / sprankelende woordgebruik waarmee alles beskryf word, word selde teëgekom.

(Of nog nooit tot nou toe nie, kan ek byvoeg!)

Ten slotte vind ek op die agterplat ’n kosbare opsomming van die boek wat ek nie self beter sou kon verwoord nie:

Hierdie is die universeel, eg menslike verhaal van ’n klein gemeenskap met eie wegsteekdinge, mense vir wie God in die worsteling van hul bestaan soms net ’n skrale wete is.

Menswees kom tot verruklike volheid wanneer Léonie leer dat die kleinste detail van menslike wonde en letsels, worsteling en wegsteekdinge baie meer werklik is as “kerkgoed en sielsondes”.

Die verhaal verbeeld die mens se universele soeke na die transendente sintuiglik en liries tot ook die gewoonheid van stof, hongerte, siekte en liefde in ’n barre woestynwerklikheid.

Die gebeure en karakters word beskryf met humor (100) – dit plaas die erns van geloof en “waarheid” in jukstaposisie en dit versag die konflik en ruwe waarhede van mense se innerlike stryd, verlies en optredes.

Laastens: Wat sou jy sê is die kern van jou boek?

Betsie: Die kern van die boek is nie slegs Léonie en Vader Simon se liefdesverhaal nie. Vir my is dit ook die radikale insluiting van alle mense in die kerk – meer bepaald die hondkind wat aanvanklik weens sy afskuwelike voorkoms en onvermoë om te praat, buite die geloofsgemeenskap staan en selfs as die bose uitgemaak word. Dit word heel aan die begin duidelik deurdat Léonie hom afstootlik ervaar en hom uit die kerk uitjaag.

Maar algaande “betree” hy die heilige ruimte van die kerk met sy eie klein “offerande” van patryseiertjies in ’n nessie, ’n heuningkoek, veertjies en allerhande dinge uit die veld. Aanvanklik sien niemand dit raak nie; trouens die koster skop die patryseiertjies uit die pad.

Uit haar opdrag om hom “deel van die gemeente te maak”, beleef Léonie algaande hoe hy op sy eie manier ’n Godsbewussyn het en hoe dit tot uitdrukking kom in die kleinste klanke van die taal – ’n “i” en “a” en “o”. In sy totale gebrokenheid en onvermoë om selfs net te begín glo soos die kerk dit voorskryf, kan hy alleen maar met die prent van die gevalle Christus in sy hande sit en wieg.

Dit is hierdie uitgeworpene wat deur Léonie se toewyding nadergebring word en gedoop word en uitstap met die biskop se kroon op sy kop.

Estelle: Baie geluk met ’n diep boek met (volgens my) eg literêre waarde wat ek hoop in die annale van die Afrikaanse letterkunde opgeskryf sal word.

Betsie: Dankie, Estelle. Ek is werklik verras hoe uiteenlopende mense op een of ander manier hul met die verhaal kan vereenselwig. Vir my word sulke lesers medeskrywers van die groter menslike verhaal wat al vir eeue lank oor en oor op verskillende maniere vertel word.    

Estelle: Dankie vir jou deelname aan ons gesprek. Voorspoed vorentoe met jou volgende skryfwerk.


Bronne:

Kleyn, A.J.T. 2013. ’n Sisteemteoretiese kartering van die Afrikaanse literatuur vir die tydperk 2000-2009: Kanonisering in die Afrikaanse literatuur. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Irwin, R. 2014. The Hunchback Missionary by Elsa Joubert. https://www.litnet.co.za/review-the-hunchback-missionary-by-elsa-joubert/


Eindnotas:

i Kleyn 2013:72. “Die parateks of bykomende gegewens (wat verskyn) en ook ’n invloed op die leser sal hê, is ...: voorwoord ... naam van uitgewer; titel, genre; motto; opdrag; biografiese inligting oor die outeur; en flapteks.”

ii https://www.lsu.edu/hss/english/files/university_writing_files/item35402.pdf

  • 1

Kommentaar

  • Jou "... so ook ..." gelees en beleef as 'n ragfyn spinneweb, vroeg in die oggend met spatsels blink doudruppels wat daarin verweef is en saggies tril in 'n stil nanagwindjie. Die takkies waaraan dit geheg is die voorgebeure wat met die draadjies van die verhaal ineenvleg tot die een storie, so broos soos sydrade. Jou karakters die blink druppels oral in die fyn web, elkeen verbind aan hulle eie voorstorie maar vervleg met mekaar; as een draadjie versteur word, tril die hele web. Verweefde prosagedig. Geloof en lyflikheid vervleg tot een spinnedraad. Soekende onrus én blymoedige hoop, soos die luggie wat deur alles waai. Die allerteerste woorde en beelde. Dankie Betsie, dis 'n boek wat ek weer en weer sal lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top