Sêgoed van Sheila Cussons "’n Digter bly altyd ’n sintuigmens. Selfs wanneer jy rasionaliseer, doen jy dit op grond van jou sintuie. Die mooiste beskrywing van ’n digter wat ek ooit teëgekom het, is dié deur Dylan Thomas: 'Four elements and five senses, and man a spirit in love'." (Beeld, 15 Augustus 1979) "Al dig of skilder ek nie daagliks nie, wil ek in my kyk en sien en ervaar, skeppend wees. Ek wil graag, sonder pretensie, soos Opperman kan sê: 'Ek gee my daeliks aan die skepping oor.'" (Beeld, 15 Augustus 1979) In 1979: "In Barcelona neem ek natuurlik veel van die Spaanse mensheid in my op – want alle mense is gemeenskaplike mense, en nie werklik vreemd nie. Maar ek is nog Afrikaans, my bouwerk bly nog dieselfde, al rangskik ek ander ’n land se meubels daarin." (Die Burger, 8 Augustus 1992) "Ek wil in my gedigte nie net met een generasie praat nie, maar vir die groot meerderheid skryf en soveel mens moontlik probeer bereik." (Volksblad, 21 Augustus 1979) In 2002: "Steeds omgeef vrae en misterie my, maar dit is ’n uitdaging om God elke dag opnuut te ontdek. Soms is God baie naby, soms baie ver, maar tog altyd daar." (Lig, November 2002) "Afrikaans is ’n bevrydende taal. Hy het nie politieke riglyne nodig om sy toekoms te verseker nie." (Rapport, 11 Augustus 2002) "Die poësie gaan nie om vertoon nie. Die proses is ’n misterie. Die skepping of die bevryding van ’n woord in jou." (Rapport, 11 Augustus 2002) "Dis nonsens dat jy verander as jy oud word! Ek bly aards, soos altyd. Die aarde bly vir my belangrik." (Die Burger, 10 Augustus 2002) In ’n brief aan Danie van Niekerk: "Ek kan nie glo ek word in '82 sestig nie. Ek voel nog altyd veertig. Toe ek ’n meisie-agtige dertig was, het ek gedink sestig is dêm oud, en hier is die datum nou net om die deur." (Insig, Augustus 1992) "Afrikaanse digters het die voordeel van ’n soepel taal. Dis soos ’n geskenk, want in Afrikaans lê soveel moontlikhede opgesluit. Daar is die altyd vernuwende momente wat dwing tot fyner rym en die soek na die raak woord. Anders as in Engels, is daar in Afrikaans ’n meer beperkte woordeskat om gevoelsmomente te omspan en om aan insigte gestalte te gee. Maar dit is juis die wonderlike – en bevrydende – uitdaging aan die digter." (Rapport, 11 Augustus 2002) "Ek bid daarvoor dat Afrikaans nie van die liggaam van Afrika geamputeer moet word nie. Ons almal – óók hierdie kontinent – sal veel armer daarsonder wees. Verliese vir Afrikaans, sal almal se verlies wees. Afrikaans is deel van die hartklop van Afrika." (Rapport, 11 Augustus 2002) "En ek dink, vir my, is God die interessantste en vernaamste werklikheid wat ’n mens kan beleef. Ek kan myself nie beskryf as ’n religieuse digter nie, maar liewer as ’n Christen wat ’n digter is." (Die Burger, 11 Junie 1988) "Ek het die Christelike geloof gekies, want vir my raak dit die naaste en die maklikste aan die kern van dinge. Maar die vormgodsdiens is nie die belangrikste nie. Selfs al is jy bloot agnostikus, al glo jy sonder om dit te omskryf wat jy glo, moet jy ’n sin in alle dinge voel." André le Roux wou weet hoekom sy teruggekom het na Suid-Afrika na 25 jaar in Spanje: "Ek het teruggekom nie oor die land nie – die land is wel baie mooi – maar dit was die taal. Ek was dus meer taalgebonde as landgebonde." (Die Burger, 11 Junie 1988) "Ek is al ’n religieuse digter genoem. En ek dink, vir my, is God die interessantste en vernaamste werklikheid wat ’n mens kan beleef. Ek kan myself nie beskryf as ’n religieuse digter nie, maar liewer as ’n Christen wat ’n digter is." (Die Burger, 11 Junie 1988) Oor die traumatiese ingryp van die brand op haar: "Dis asof ’n mens jou eers deur pyn – of dit nou fisiek is, of geestelik – volkome kan vereenselwig met die hele komplekse seer maar heerlike ding wat menswees is." (Insig, Augustus 1992) Aan Lina Spies tydens ’n besoek van Spies aan Cussons in Estratit in 1978: "Afrikaans het my intiemste metgesel geword. Niemand anders hoor hom nie, maar ek luister altyd na hom – ek leer om steeds fyner te luister." (Beeld, 27 November 2004) "Afrikaans is ’n baie ryk genuanseerde taal. Ek het groot verwagtinge vir Afrikaans. Solank daar skrywers van formaat is, sal die taal veilig wees." (Beeld, 10 Augustus 2002) "Dig is soos koekbak. Woorde is ook bestanddele wat jy versigtig moet saamvoeg tot die wonder van die koek." (Beeld, 17 Augustus 2002) Digter Ek dig vir hulle wat kom |
Gebore en getoë
Sheila Cussons is op 9 Augustus 1922 op die sendingstasie Morawië naby Piketberg gebore en is van Ierse afkoms. Sy het een suster, Maureen. Haar broer, André, is op twintigjarige ouderdom deur sy verloofde vermoor. Hoewel daar gereeld Engels in hulle huis gepraat is, was Afrikaans hulle huistaal.
Sheila se ouers was beide begaafde mense, maar soos baie van hulle tydgenote, kon hulle nie verder gaan leer nie, weens ekonomiese probleme. Haar pa wou graag ’n ingenieur word, maar moes as klerk by die Spoorweë begin werk. Hy het wyd gelees en Sheila se logika altyd probeer opskerp. Hy tree in 1953 af as afdelingsbestuurder van Oos-Kaapland en is in 1972 oorlede. Sheila se ma was ’n verpleegster wat eintlik wou dokter word. Sy was, volgens Sheila, ’n meer emosionele mens, en vol deernis, en kon pragtig sing.
Vanweë haar pa se werk woon Sheila ’n groot aantal skole by. Haar suster sê dit was net 13 skole, maar vir Sheila voel dit soos 23. Sy vertel aan André le Roux (Die Burger, 11 November 1988) dat sy plekke in die ou Transvaal onthou: Witrivier en ’n Modderfontein. "Maar toe word dit groter dorpe: Port Elizabeth – twee keer – Beaufort-Wes, Pretoria. Ek het matriek in Pretoria geskryf aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool. Dit was die eerste keer in my skoolloopbaan dat ek onderrig in Afrikaans gekry het, en dit was nogal ’n taamlike aanpassing."
In Rooi Rose van Augustus 2002 vertel sy aan Amanda Botha dat haar duidelikste herinnering dié is van ’n kloosterskool in Port Elizabeth. Sy dink nou dat sy in daardie milieu haar latere aangetrokkenheid tot die Katolisisme herken het.
Van kleins af het sy al met woorde gespeel, en sy kon nog skaars praat, toe het sy haar al aan die woordklanke verluister. In Rooi Rose van 13 Februarie 1980 vertel sy: "En wanneer ’n mens effens ouer is, skryf jy goedjies neer en jy lag daaroor of dis vir jou mooi. En dan sal jy sê: 'Mammie, ek het vir Mammie ietsie geskryf', en hier kry jy jou eerste aanmoediging. Die aanmoediging is baie belangrik, want dit plant die eerste saadjie. Jy's natuurlik nog te klein om van ’n ding soos ’n digter te weet. Of jy loop miskien en sing dingetjies waarvoor jy die woorde self gemaak het. En dan is daar later die eerste skoolboeke met versies, en Palgrave se Golden Treasury en Pegasus waarvan ek so baie gehou het."
Sheila het begin teken toe sy twee-en-’n-half jaar oud was. Later begin sy stories skryf, wat sy self illustreer. In Die Taalgenoot van Augustus 1935 verskyn sketse van haar by die gediggie "Reënboogvlerkies" van De Wet Laubscher. In 1934 neem sy aan die Afrikaanse Kunswedstryd in Port Elizabeth deel waar sy uit vyf inskrywings vier eersteklas-diplomas verwerf het, een daarvan was in die ope klas. (Taalgenoot, Januarie/Februarie 2001)
Op sesjarige ouderdom verskyn haar eerste kinderversies in Die Jongspan en in die ATKV se amptelike tydskrif. Kort daarna het sy haar versies en ander stories geïllustreer. Amanda Botha (Rooi Rose, Augustus 2002) vertel dat sy selfs vir die pret van AG Visser se versies in die laerskool vertaal het. "Ek het so ’n gelukkige kindertyd gehad. My ouers het soveel ruimte toegelaat om net myself te wees en my verbeelding ten volle uit te leef. Dit was so spesiaal."
Sy vertel ook dat sy altyd gelees het: "Shakespeare, Dickens en wat daar was. Sê maar grootmensboeke." Sy het later baie van Rupert Brooke se werk gehou (Rooi Rose, 13 Februarie 1980).
"En ek het gedink ons eie Afrikaanse digters se werk is net so mooi ... Eugène Marais se 'Winternag' en Jan Celliers se 'Martjie'. Ek het regtig gedink dat 'Martjie' een van die grotes is. Maar dis nou nog vir my mooi; daar's so ’n mooi beskrywing van ’n plaaskombuis in 'Martjie' … 'die tafel in die kombuis / is blank geskuur vir die Sondag, / en daar staan, in eensaamheid singend, die ketel op die gele konfoortjie'."
"Later op skool, met die skryf van opstelle en die kinders wat vorentoe geroep word om hul opstelle voor te lees, dan begin jy al so effens die gevoel van skryf kry. En toe het ’n onderwyseres, Miss Lovelace van Pearston Skool, vir my gesê: 'Sheila, jy moet skryf.'"
Haar eerste verse was in Engels, want dit was net toe die Dertigers begin skryf het en min mense het nog in Afrikaans geskryf. 'Ook was die Engelse poësieskat soveel ryker', vertel sy in Rooi Rose (13 Februarie 1980).
Sheila onthou ook dat haar eerste groot freskoskildery in haar ouers se toilet was – "’n Maria-figuur wat haar pa met verslaentheid laat vra het: 'Hoekom die ongemak in die gemakshuisie?'"
Verdere studie en werk
In 1939, op sestienjarige ouderdom, ontvang Sheila ’n beurs vir studie in die skone kunste aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg. In 1942 verwerf sy haar BA-graad in die skone kunste met lof en ontvang die goue medalje van die Fakulteit. Sy studeer onder Rosa Hope en professor John Hopley en word baie gou as ’n belowende jong kunstenaar erken. Na haar BA-graad word ’n verdere studiebeurs aan haar toegeken om haar meestersgraad te voltooi. Sy verwerf daarna haar Hoër Onderwysdiploma met dubbele onderskeiding.
Een van haar opdragte van die universiteit was om ’n portretstudie van die Nederlandse digter A Roland Holst te maak tydens sy besoek aan Pietermaritzburg in 1941. Sheila neem aan verskillende groepuitstallings deel en bied onder beskerming van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging ook solo-uitstallings aan. Voor haar vertrek na Europa in die 1940's bied sy ses solo-uitstallings aan in Johannesburg, Kaapstad en Pretoria. Sy word vir ’n jaar as tydelike dosent in die skone kunste aan die Universiteit van Natal aangestel.
’n Ander aspek van haar talent wat in haar universiteitsjare sterk op die voorgrond tree, is haar kreatiewe digwerk. Sy skryf hier, net soos in haar kinderjare, gereeld gedigte in Engels en Afrikaans en bied meestal die Engelse werk vir die universiteit se jaarblaaie aan. Die agtergrond in Pietermaritzburg was in daardie tyd oorwegend Engels, maar daar was tog ook ’n kerngroep Afrikaners wat in en rondom Pietermaritzburg gewoon en gewerk het. Onder hulle was die Nienaber-broers, Gawie en Stoffel (albei letterkundiges), Philip Grobler (radioman en letterkundige) en DJ Opperman (toe digter-onderwyser) en sy vrou Marié.
Sheila vertel aan Amanda Botha dat sy op daardie stadium van haar lewe min kontak gehad het met die Afrikaanse letterkundige-wêreld en feitlik net Engels gelees het. "In die Afrikaans-klas het ek kennis gemaak met die digters van Dertig en het ek ’n baie begaafde dosent in Gawie Nienaber gehad. Só het ek die Nienaber-broers leer ken en is ek op ’n aand vir ete na die Oppermans genooi. Dit was die begin van ’n intieme kring wat gereeld vergader het, meestal aan die huis van Dirk en Marié. En hier was die gesprek hoofsaaklik net rondom die Afrikaanse literêre toneel." (Beeld, 17 November 1999)
Opperman het toe Afrikaans gegee aan die Hoërskool Voortrekker en hy was toe reeds gereken as ’n goeie digter, vertel Sheila verder aan Botha. "Hy het aan my begin torring dat ek eerder in Afrikaans as in Engels moes skryf en het aangebied om my met eerlike kritiek te help. Ek kon net nie "nee" sê nie, want elke keer as ons mekaar gesien het, was dit sy storie. En só het ek Dirk se eerste protégé geword. Elke gedig wat ek geskryf het, het ek aan hom voorgelê."
"Daar was kritiek, wenke en ek moes dikwels herhaaldelik dinge oorskryf. Ek was by tye so begeesterd dat ek later lang tye afgesonder het om net te skryf. Publikasie was nie die eerste gedagte nie; net die leerskool van skryf."
Opperman het ’n keur uit haar vroeë verse gemaak en aan die Louw-broers en Jan Greshoff gestuur, en die gedigte word in 1946 in Stiebeuel gepubliseer. Vertalings van hierdie verse is later opgeneem in The Penguin Book of South African Verse. Sheila was gretig om as negentienjarige reeds te publiseer, maar Opperman wou nie. Hy het altyd gesê sy moet eers haar ondervindings in Europa verwerk voordat sy publiseer.
In 1943 is Sheila met Stoffel Nienaber getroud. Stoffel is elf maande na Sheila Cussons ook na Europa.
Kort voor Sheila se vertrek na Europa in die 1940's is sy na Worcester, waar sy tydelik verbonde is aan die Hugo Naudé-kunssentrum, met Jean Welz as hoof. (Die presiese jaar wanneer Sheila na Europa vertrek het, verskil van bron tot bron. Party bronne gee dit as 1945 aan, ander as 1947 of 1948.)
In Londen studeer Sheila aan die Camberwell Polytechnic onder Victor Passmore en kom diep onder die indruk van die na-oorlogse Europa, wat duidelik in haar gedig "1945" in Plektrum spreek. In 1948 vertrek sy na Amsterdam, waar sy verder in die etskuns studeer onder Theo Berrendonck, en word sy weer deel van die groep Afrikaners wat in Amsterdam gewoon en gewerk het. Sy werk ook as vryskutjoernalis vir die Afrikaanse en Engelse senders van Wêreldomroep in Hilversum, Nederland, en vir die BBC in Londen.
In Amsterdam dig die jong Sheila onverpoosd voort en ’n groot aantal gedigte verskyn uit haar pen. Sy stuur steeds haar verse na Opperman in Suid-Afrika, wat nog nie wil publiseer nie, maar belowe dat haar gedigte "’n beroering sal veroorsaak".
Gedurende hierdie tyd het die verhouding tussen Sheila Cussons en NP van Wyk Louw verinnig en rondom 1950, met Stoffel se vertrek na Suid-Afrika vir sy pa se begrafnis, het die verhouding ernstig begin word. Louw se vrou, Truida, en hulle kinders was op daardie tydstip nog in Suid-Afrika.
Sheila vertel in Insig van Januarie 1999 dat Louw daarop aangedring het dat sy vir Stoffel van hulle verhouding vertel met sy terugkeer vanaf Suid-Afrika. Stoffel het hulle egter toe reeds een middag saam gesien en Sheila het hom verlaat en alleen gaan bly. Hulle is in 1950 geskei. Daar was ’n onmiddellike aanvoeling tussen Sheila en Louw. Hulle kon oor alles gesels en "’n heerlike geargumenteerdery het baie van ons saamwees gekenmerk – dit was idee teen idee en argument teen argument." Die verhouding het egter later tot ’n einde gekom.
Sheila het in die 1950's na Suid-Afrika teruggekeer met die skielike dood van haar enigste broer. In 1957 gaan sy na Spanje en vestig haar in Barcelona. In 1956 trou sy met die Spaanse sakeman Juan de Saladrigas, vir wie sy ontmoet het terwyl sy radiowerk gedoen het. Sy aanvaar in Barcelona amptelik die Rooms-Katolieke geloof en word in 1957 in die imposante katedraal gedoop. Uit hierdie huwelik is twee seuns gebore – Jordi, wat as kunstenaar bekend is, en Jaume, eers mode-ontwerper en later toerismeleier.
Sheila vertel aan Jeanne Coetzer in Die Burger van 15 Augustus 1979 oor haar herdoop as Katoliek in die katedraal van Barcelona. "Dit was ’n baie groot oomblik in my lewe, wat noodwendig in my werk neerslag vind. Ek het gevoel ek het tuisgekom. Ek het heel gevoel, volkome. Die Katolisisme betrek die héle mens – die emosionele, die sintuiglike én die intellektuele mens. Toe eers het ek die Christendom in die grote begryp. Dinge wat vroeër nie gerym het nie, het tóé geklop."
Sy verduidelik die verskil tussen skryf en skilder aan Jeanne Coetzer (Beeld, 15 Augustus 1979): "Dis moeilik. Wanneer jy skryf, verbeel jy in woorde. Wanneer jy skilder, verbeeld jy jou in formules op doek. Jy't te make met ritmes in vorm, lyn en kleur. Op die oomblik vind ek dat wanneer ek skryf en ek probeer dan tussendeur skilder, ek stram is. Ek maak klein vignettes in plaas van groot vrye bewegings en vorms. Ek dink om die digkuns en die skilderkuns te versoen, moet ’n mens meer abstrak skilder. Jy moet die ekwivalente vir idees in vorms vind. Dit is nou vir my die ideaal: om die poësie en die skilderkuns te integreer."
In Sheila se eerste dertien jaar in Spanje is sy huisvrou en moeder. Saam met haar man bou hulle twee pragtige huise – een in Barcelona, waar sy ’n pragtige ateljee het en waar sy die grootste deel van haar poësie skryf, en een ’n vakansiehuis aan die Costa Brava by Estartit.
In 1970 verskyn Sheila se eerste digbundel, Plektrum, by Tafelberg Uitgewers. Dit word beskou as die beste poësie-debuutbundel wat ooit in Afrikaans verskyn het. En dit doen die verwagtinge gestand deurdat dit met die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en WA Hofmeyr-pryse bekroon word. Sy sê self dat hoewel Van Wyk Louw haar aangemoedig het om vroeër te publiseer, sy op advies van Opperman daarmee uitgestel het "totdat die lewe my ingehaal het".
Vir Ernst Lindenberg (Huisgenoot, 9 April 1971) getuig elke gedig in hierdie debuutbundel van Cussons van vakmanskap en in Volksblad van 12 Desember 1972 skryf hy dat daar deur die bundel ’n vaste greep is, "’n sekere aanslag en boonop geen vormloosheid, onsekerheid of tasting nie en dat Plektrum die bekronings verdien".
Hy eindig sy bespreking as volg: "’n Bundel soos Plektrum is iets unieks – ’n debuut, maar een wat onmiddellik in volwasse geselskap kan meepraat."
Ook Lina Spies is beïndruk deur Plektrum en in Klasgids (September 1971) skryf sy as volg: "Anders as by ons ander digters-in-die-buiteland kom daar by Sheila Cussons weinig van die nuwe vaderland tot uitdrukking, maar in haar 'helder spel van sien', het sy waarskynlik op besondere wyse erfkind van Spanje geword. ’n Mens kan alleen maar hoop dat sy dit nie by een bundel sal laat nie, dat sy in die toekoms die moeilike speletjie van die poësie weer sal speel – Veo, veo op syn Afrikaans."
TT Cloete (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September 1971) noem Plektrum ’n saaklike bundel: "Dit bevat nie besonder baie gedigte nie, en die gedigte is meestal kort, geskryf in ’n vers sonder valse sier. In sy bondigheid is dit egter ’n véél seggende bundel – gedigte geskryf in veelseggende taal, vol kosbare dinge. (…) In alle opsigte sou mens van die bundel kan praat as ’n sterk, gevormde debuut."
Sy vertel aan Paul Alberts in Sarie van 15 Junie 1977 dat haar verblyf oorsee vir haar ’n oorweldigende ervaring was waartydens sy baie geskryf het: "Ek wou toe weer bundel, maar Opperman het nog steeds geweier om sy seën daaroor uit te spreek. Hy't gesê ek moet twee, drie jaar wag, sodat ’n vergisting van die baie invloede kan plaasvind. Dit was ongetwyfeld wyse raad."
Dit was in Estartit waar Sheila in 1974 in ’n ernstige brandongeluk was. In Rapport van 8 Augustus 1982 het Sheila Cussons aan Roelof Vorster vertel dat sy net die vlamme kon onthou voordat sy haar bewussyn verloor het: "Toe ek bykom, het ek oor die stofie gelê wat onder my omgeval het. Ek was naar verbrand. Daar was geen telefoon nie en ek was alleen in die huis. Die naaste bure was ook te ver."
Sy was langer as twee jaar in die hospitaal. Omdat sy so lank sonder behandeling was, het die wonde ontsteek en die punte van vingers aan albei hande is afgesit en so ook haar linkerbeen onder die knie.
"Ek praat nie graag hieroor nie. Dit was vir my ’n uiters traumatiese ervaring, maar omdat dit so ’n positiewe effek op my lewe gehad het, praat ek vandag, net voor my sestigste verjaardag, weer hieroor. Ek was op die rand van die dood en moes van voor af leer skryf. Ek onthou nog die vrees dat ek weer sou kon skryf nie."
Cussons het dag vir dag probeer om net een lettertjie leesbaar te skryf, Sy moes ook van voor af weer leer loop met ’n kunsbeen: "Ek het gevoel ek gaan gek word. Bloot as terapie het ek begin skryf, enigiets, dagboek gehou, en toe het die gedigte begin kom," het sy aan Vorster vertel.
"In die hospitaal het dinge in my onderbewuste gebroei en gekook en gegis. En toe breek die sluise en daar kom ’n stroom gedigte … en die tyd van groot produktiwiteit breek aan.
"Daar is niks wat met jou gebeur nie, nie eens wrede negatiewe dinge wat eindelik getransformeer kan word in presies die teenoorgestelde, in iets baie sterk positiefs, nie. Dit is die plan van die voorsienigheid. Daarom noem ek wat met my gebeur het ’n goeie ruil en ek is vandag glad nie spyt oor die ongeluk nie. Dit moes gebeur het, want dit het my as mens gelouter en daardeur my kuns verryk."
Dat sy hierdie ongeluk oorleef het om as gestremde haar lewe weer te moet aanpak, getuig van haar wil om te leef. Sy skryf hierna van haar aangrypendste gedigte. Amanda Botha skryf in Rooi Rose van Augustus 2002 dat Sheila alles in oënskou kon neem en met haar gedig "Christ of the burned men" erkenning gee aan die "verskriklike akkoord" dat sy gemerk is vir die avontuur van Christus.
Sheila vertel in ’n onderhoud met Rooi Rose van 13 Februarie 1980 dat ’n kombuis nog altyd ’n bekoring vir haar ingehou het. "Soos my ouma se kombuis en die kombuis van my tant Siel – nie om eendag daar te staan en kook nie, maar dis altyd vir my asof die hele siel van die gesin in so ’n kombuis is."
Op ’n vraag of die kombuistema wat soos ’n draad deur haar lewe loop, al kleintyd begin het, soos in die bundel Die swart kombuis wat agt jaar na haar eerste bundel in 1978 verskyn het en ook die gedig "Die geel kombuis", antwoord Sheila: "Ja, is dit nie miskien interessant nie? Dit was toe al vir my ’n toorkombuis, ’n alchemistiese plek. En daai ou ysterstowe wat altyd warm is en waarop daar altyd iets is wat in ’n pot of ’n ketel staan en sis, amper soos die alchemis se eksperimente."
Die publikasie van Die swart kombuis in 1978, sewe jaar na haar debuutbundel, is later beskryf as ’n "mylpaal in die Afrikaanse poësie". Sy het in hierdie bundel baie gebruik gemaak van drome en sy het self die titelvers beskryf as "’n soort nagmerrie wat sommer op ’n dag onverwags by my in versvorm opgekom het. Al wat ek moes doen, was maar net om dit te transkribeer". (Lantern, 1992)
Danie van Niekerk, afgetrede hoof van Tafelberg Uitgewers, beskou Die swart kombuis saam met die res van haar oeuvre as ’n hoogtepunt van die Afrikaanse letterkunde wat ’n groot bydrae gelewer het tot die geestelike literatuur van nie net Afrikaans nie, maar die hele Dietse taalgebied. (Insig, Maart 2002)
FR Gilfillan het Die swart kombuis in Beeld van 7 Augustus 1978 geresenseer: "Met hierdie nuwe bundel het die onderskatte Sheila Cussons immers op magistrale wyse geslaag om persoonlike ervaring te omskep tot van die belangrike poësie in Afrikaans en ’n waardige teëhanger en gespreksgenoot vir die indrukwekkende religieuse werk van Van Wyk Louw in Tristia. (…)
"Aan ’n bundel van hierdie gehalte kan ’n mens kwalik in beperkte ruimte laat reg geskied. Maar Cussons se ongewoon sterk taalvermoë en tegniese perfeksie wil ek nie verswyg nie – opmerklik veral waar sy besin oor die digterskap en die woord." (…)
"Ten slotte: in sy vormgewing, sy briljante komposisie en ontroerende filosofie is Die swart kombuis ’n heuglike toevoeging tot die Afrikaanse literatuur."
Vir Johann Johl (Volksblad, 29 September 1978) is Die swart kombuis meer verwikkeld, "plek-plek hoogs geslaagd en moeilik beskryfbare verse. Want dit gaan juis hier om ’n godsdienstige, ’n breër religieuse en mitologiese beswering van mistieke transformasies deur die woord." (…)
"In Die swart kombuis kom dieselfde temas (as in Plektrum) aan die orde, maar veel verwikkelder en met soms verbluffende virtuositeit. Breedweg gestel gaan dit om fisieke en geestelike verandering deur loutering tot ’n staat van suiwerheid."
"As spesifiek poëtiese prosesse is transformasie en transfigurasie twee sleutelbegrippe in hierdie konteks van die herenscenering van Christus se lye en die gevolglike suiwering – soos verwoord deur die Rooms-Katolieke vagevuur-idee. (…) Hierdie transformasie op geestelike en liggaamlike vlak vind ook neerslag in die strukturering en ordening van die verse."
Vir Johl was daar hinderlikhede soos oordrewe alliterasie, asook ’n "te geïnterpreteerde" stormweer-reeks en onfunksionele steun by Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers. As gevolg hiervan is daar heelwat verse in die bundel wat "sommer net flou aandoen".
"Saam met die beste verse wat beslis waardige toevoegings tot die Afrikaanse poësie is, is hier ook heelwat mindere verse en momente wat die bundel – om Van Wyk Louw aan te haal – ’n pakkie gemengde kruie maak," het Johl afgesluit.
Kortweg enkele uittreksels uit ander resensies oor Die swart kombuis:
- André P Brink (Rapport, 9 Julie 1978): "In hierdie swart kombuis is ’n koninklike feesmaal voorberei wat aan dié jaar in ons poësiekalender nuwe waarde en waardigheid besorg."
- Hilda Grobler (Hoofstad, 21 September 1978): "Met Die swart kombuis wat 82 bladsye beslaan en nie net lywig is nie, maar groots ook is, vestig Cussons haar digterskap stewig binne die skraal jare van sewentig en sorg sy vir een van die min werklike besonderse bundels in dié yl tyd."
- Lindenberg (Transvaler, 29 Julie 1978): "Die swart kombuis is duidelik afkomstig van ’n kunstenaar met buitengewone gawes; ná Plektrum is dit egter ’n effense teleurstelling omdat die skerpte van segging verdwyn het."
- Johan Bosman (Insig, Mei 1981): "Sheila Cussons verwoord ’n wye spektrum van temas in hierdie bundel; temas wat wemel van sintuiglike ervarings wat in ritmiese en klankvolle woorde weergegee word."
Sheila se derde bundel, Verf en vlam, wat sy geskryf het gedurende ’n vakansie aan die Spaanse kus, verskyn ook in 1978, slegs enkele maande na Die swart kombuis. Amanda Botha skryf in Lantern (1992), dit is haar "mees visueel-geïnspireerde bundel, vol beelde en verwysings na die skilderkuns". Hoewel Verf en vlam in die geheel as swakker beskou word, bevestig dit, saam met Die swart kombuis, Sheila se digterskap.
Hilda Grobler skryf in Hoofstad van 21 Desember 1978: "Cussons het met Verf en vlam haar vakmanskap letterlik met verf en vlam ingebrand. Die titelvers druk die twee teenoorstaande emosies, soos dit deurgaans in die bundel onder die verf en vlam van die woord gebring word, uit. Die foltering word deurgaans in balans gebring met die ekstase, vergelyk die slotreël van die titelvers: 'En skater sy vlammende brein ’n blakerende sonnet' (p 33).
"Kenmerkend van dié bundel is die volgehoue religieuse stroom wat sonder uitsondering in verskillende gedaantes in al die gedigte voorkom. In sommige gedigte is dié religieuse segging direk soos in die pragtige, mistieke deurlewing van die algehele heiligheid in 'H Teresa van Avila op ’n sending', en soms is dit ’n indirekte segging, ’n deureenspeling van gegewens wat dit verhef tot ’n religieuse hoogtepunt, ’n suiwer gebed soos in 'Abélard in sy looibasboomhut'."
Grobler sluit af dat Verf en vlam sy tekortkominge het en sy vermeld enkele daarvan, maar uiteindelik is dit vir haar ’n besondere bundel, "want dit is eerstens die suksesvolle versmelting van twee mediums (kuns deur verfskepping en kuns deur woordskepping) en tweedens is dit ’n bundel met ’n wye, ’n treffende geestelike drakrag as gevolg van die religieuse inslag in die algemeen en oorgawe in die besonder: 'Ou naakte manne / kruip handeviervoet / snags uit Hades / en soet en hopeloos / roep hulle God' (p. 36)."
Ronèl Johl (Volksblad, 13 Desember 1978) beskou Verf en vlam as op ’n laer peil as haar vorige bundels en vir haar sluit dit wat tema en struktuur betref, baie nou aan by Die swart kombuis, en daardeur ook by Plektrum. Sy sluit af: "Dat Cussons se digterlike oeuvre tot die bestes in Afrikaans behoort, is ongetwyfeld waar, dat sy vir haar ’n standaard gestel het waarby dié laaste bundel in die geheel nie kom nie, is jammer. Vir die tiental puik gedigte is ’n mens baie dankbaar: dit is ’n welkome toevoeging tot ons digkuns."
Vir André P Brink (Rapport, 5 November 1978) verteenwoordig Verf en vlam in die geheel ’n insinking in haar verbasende oeuvre: "Dit openbaar ’n hele paar onrusbarende verskynsels en tendensies. (…) ’n hoogs irriterende weergalm van Van Wyk Louw in gedig ná gedig; (…) Dit, tesame met soms moeisaam gemanipuleerde beelde (vergelyk die Breytenbach-invloed 'Ou kerkhof') skep ’n indruk van tweedehandsheid wat hierdie bundel skade aandoen." (…)
"Nog steeds is daar uitmuntende verse. (…) Genoeg om, binne die bestek van dié voorlopige verkenning, te bevestig dat daar in Verf en vlam van Cussons se beste verse tot op datum staan; maar daarby moet mens ook kommer konstateer oor ’n te grote fasiliteit, die skep van ’n eie retoriese woordeskat en die hinderlike navolging van Van Wyk Louw, wat van hierdie bundel as geheel iets heelwat minders maak as Plektrum of Die swart kombuis."
Ander menings oor Verf en vlam:
- Merwe Scholtz (Die Burger, 16 November 1978): "('H Teresa van Avila op ’n sending') is op sy minste die eweknie van die beste uit haar vorige bundel. Maar, ongelukkig nie ’n aanduiding van ’n beduidende aantal van die ander gedigte in hierdie bundel wat so gou (te gou!) op Die swart kombuis volg nie. Want die (heelwat minder) gedigte in Verf en vlam het ’n beperkter tematiese spektrum; daar ontbreek by te veel van hulle die digtheid, die spaarsamig-suggestiewe wat Cussons se beste werk kenmerk."
- FR Gilfillan (Oosterlig, 19 Desember 1978): "Die briljante konsepsie weer eens, en die oorwoë progressie in die rangskikking maak van Verf en Vlam nog altyd iets besonders. As geheel het dit my egter minder bevredig, selfs die gedagte laat ontstaan aan nawater."
Op uitnodiging van die SAUK om die boekeveiling van die Afrikaanse Radiodiens in 1979 by te woon, bring Sheila vir die eerste keer in tien jaar besoek aan Suid-Afrika. Sy was toe al reeds oor die dertig jaar in Europa. By die geleentheid word Die sagte sprong en Die skitterende wond, haar dubbeldoorbundels, gelyktydig bekendgestel. Dit was ook haar eerste ontmoeting met die Afrikaanse literêre wêreld. Met dié bundels verseker Sheila vir haar ’n plek onder die heel sterkste Afrikaanse digterstemme van die 1970's, sê Wium van Zyl, en bevind sy haar weer in noue verbinding met haar Afrikaanse wortels. (Rapport, 11 Augustus 2002)
Oor die verskyning van hierdie twee bundels, Die skitterende wond en Die sagte sprong in 1979 het André P Brink sy resensie in Rapport van 19 Augustus 1979 só begin: "Dít is weelde, dít is oordaad: twee nuwe digbundels van Sheila Cussons tegelyk. (…) [Daar] is nou klaarblyklik ’n milde aar oopgeboor wat nie bedwing kan word nie. ’n Smál aar, maar met ’n intensiteit wat ons nog maar min in Afrikaans gehad het; en, onder meer, seker die grootste religieuse poësie in ons literatuur.
"Die verse in die nuwe bundels lê op ’n smal baan van baie suiwer lig; en baie van hulle is onderling uitruilbaar – uitruilbaar ook met gedigte uit die twee vorige bundels. Wat soms, net soms, ’n indruk van déja dit skep. Maar juis herhaling is (…) sin en essensie van dié digterskap."
Vir Brink draai Die sagte sprong in sy geheel om die "teken van die uitgryp na die mistieke ekstase, die eenwording met die Enige, die vleeslike en geestelike vereniging van bruid en Bruidegom."
Oor Die skitterende wond het hy hom as volg uitgelaat: "As ’n toonverskil" tussen die twee bundels aangedui moes word – maar ek sou huiwer om te stellig te wees – sou mens in Die skitterende wond dalk ’n instelling op die meer skitterend-uitbundig-ekstatiese kon aandui (noem dit, grof gesproke, die 'ekshibisionisties-ekstatiese') – terwyl die mistieke ervaring in die tweede meer 'na binne toe', sagter, stiller, introvert waargeneem word. Dus eintlik nóg gevaarliker terrein, omdat alles op die oog so 'gewoon' is: met, as essensiële uitgangspunt, natuurlik juis die deurlig van die gewone sodat dit verheerlik beleef kan word. (…)
"Dit is ’n Achterberg-agtige ars poetica, óók in aansluiting by Van Wyk Louw se spel van prefigurasies en voorbereidinge wat in 'Beeld van ’n jeug: duif en perd' die afsonderlike gegewens rig. En dit is belangrik, nie maar as omskrywing van Cussons se werk nie, maar – weer eens – as sleutel tot haar manjifieke spel van wysigende herhaling (veral ook met betrekking tot assonansie en alliterasie, uitgryp-na-ryme) in haar gedigte. Dit, méér as enige 'gedagtegang', is die geheim van die wyse waarop sy teenstrydighede kan saamdig; dit is die medium waardeur, byvoorbeeld, Diana en Damaskus mekaar kan ontmoet ('Onderweg na Damaskus').
"In Die sagte sprong is daar meer effenhede, en ook meer óneffenheid, heelwat meer verse van geringer allooi, as tevore. Maar bring ’n mens die reeks waaragtig beduidende verse bymekaar, dan word jy met iets soos verbystering geslaan oor die Mozartiaans voortborrelende aar wat Sheila Cussons in ons poësie oopgeboor het."
Die gehalte van die verse in Die skitterende wond is volgens TT Cloete (Vaderland, 29 November 1979) nie almal ewe goed nie. "Daar is verskeie bespiegelende gedigte, sterk onder die invloed van Van Wyk Louw se soort bespiegeling in Tristia wat nie bo die redenasie uitstyg nie; ook heelwat moraliserende poësie wat weinig meer as deskriptief-moraliserend is.
"Gelukkig egter dat mens kan sê dat naas die dowwe gedigte daar talle goeies is, wat die reeds gevestigde naam van Sheila Cussons waardig is."
"Die skitterende wond is ’n bundel van baie lig, klank en beweging. Dis gedigte wat hulle lig, klank en beweging veral haal uit ’n diepe godsdienstige oortuiging en uit ons gewone menslikheid. Die wonderbaarlike van die geloof en van die lewe word veral gesien in paradokse, iets tipies van Sestig, Sewentig. (…)
Hierdie diep godsdienstige gedigte is ook – tipies van die kontemporêre poësie – hewig aards en hewig liggaamlik soos ons gesien het. Sentraal onder hierdie aardse gedigte (wat verwant is aan sekeres uit Cussons se vorige bundels) is 'Eenvoudige vrae van ’n vroeë Christen'." (…)
"Ten spyte van ’n hele aantal swakker gedigte, wat liefs agterweë kon gebly het, is Die skitterende wond vol uitstekende gedigte van hierdie digteres wat so ’n weelderige bloei beleef en een van die grootste bydraes tot die kontemporêre poësie reeds gelewer het."
Vir Hilda Grobler (Hoofstad, 5 Januarie 1980) is Die sagte sprong se gehalte nie op dieselfde peil as Verf en vlam nie, maar dit sit die tendens wat in die vroeëre bundels voorgekom het, voort. "Dié verse word ook deur ’n sterk religieuse onderstroming gekenmerk; trouens, party van die verse is suiwer religieus sodat die mistieke, wat so dikwels in haar werk voorkom, binne die religieuse uitkring totdat dit uiteindelik in spontane eenvoud saamsmelt."
"Die grondtoon in dié bundel is die bevestiging van ’n skakel, wat alles wat die Skepper geskep het, op een of ander wyse bind – geheel die skepping is deel van die skepping, hou verband met mekaar en huldig die Skepper op ’n unieke wyse. Die bundel het dus tot tema die werklike, onsigbare dog besliste skakel wat daar tussen mens en dier of insek of insek of voël bestaan. Cussons werk aanhoudend met terugkerende motiewe en beelde." (…)
"Die sagte sprong is dus die verdere uitbouing van ’n religieuse belydenis, ’n verdere samevloeiing van ’n moderne mistiek en ’n eeue-oue religie sodat dit tot ’n nuwe, eietydse religieuse mistiek verhef word. En dit word deurgaans met ’n suiwer eenvoud aangebied."
Ander menings oor Die sagte sprong en Die skitterende wond:
- FR Gilfillan (Beeld, 13 Augustus 1979): "Sheila Cussons is meermale gewaarsku teen aankondiging pleks van beelding, teen retoriek en betoog ten koste van die gedig. [In Die sagte sprong] is daardie besware myns insiens nou meer as ooit geldig."
- PP van der Merwe (Hoofstad, 24 November 1979): "Tog bevestig Die skitterende wond, ten spyte van die besware, ’n besondere digterskap. Cussons hanteer die taal en motiewe van ons sekulêre tydsbestel sonder enige skyn van selfbewustheid, maar gee terselfdertyd die ding ’n religieuse sinvolheid wat besonders is. Haar verse herinner aan laat-Middeleeuse ingesteldhede, terwyl hulle terselfdertyd volkome modern is en streef so miskien verby baie wat aan die tydsdenke gebonde bly."
- DH Steemberg (Transvaler, 1 Desember 1979): "Met hier en daar ’n gevaar van oordaad, wat in hierdie konteks egter op sy aanvaarbaarste is, spel verse in hierdie twee bundels in die beelding van pyn en vreugde ’n onmiskenbaar Christelike visie, wat nie net opmerklik is by behandeling van sekere temas nie, maar uit elke gedig sprankelend spreek – asof die woorde wat in die monde van die Emmaus-gangers gelê word, orals staan: 'o verlossende lag wat óp / uit ons harte brand na U."
In 1979 stuur Sheila haar jongste seun, Jaume, na Suid-Afrika om hier te kom woon en werk. Hy gaan woon by sy ma se suster, Maureen.
Met Die somerjood wat in 1980 gepubliseer is en haar vyfde bundel in drie jaar is, sit Cussons haar produktiewe streep voort. Volgens Amanda Botha kom haar eie sieninge oor kunstenaarskap en die digkuns in die bundel na vore. (Lantern, 1992)
"Die kunstenares Sheila Cussons laat haar besonder sterk geld in Die somerjood," het AP Grové (Beeld 18 Augustus 1980) geskryf. "Dit val al dadelik op in die titels waarin daar na skilders of skilderye verwys word: 'Cuadro Negro', 'Monnik met skedel', 'Spaanse skool' en 'Pieter Paul (Rubens)'. Ook ander titels is daar wat die skilderes verraai: 'Klein ode op wit', 'Vetkrytkrabbel' of 'Lepeltjie rooi'. Deurgaans word in die gedigte bowendien sterk aksent gelê op kleur, op sien, op waarneming. Daar is selfs gedigte, soos byvoorbeeld 'Die dooie bome', wat ’n mens wil laat glo dat die poësie sonder die visuele nie kan lewe nie. Kortom, ons kan Cussons ’n visuele digter noem: 'Ek wil hulle sien, ek wil hulle skerp sien'.
"Die poësie is dus, kan ons sê, in sekere sin die erkenning van die feitlike, die hier en nou, die sintuiglike werklikheid. Om digter te wees, beteken dat jy jou moet besig hou 'met die besigheid van wees'."
Johann Johl (Volksblad, 3 September 1980) is van mening dat Die somerjood saam met Cussons se vorige bundels haar beslis onder die grotes in die Afrikaanse digkuns plaas. Hier kom herhaling weer voor, skryf Johl, "maar dis eerder aansluiting by vorige temas en help so profiel gee aan Cussons se steeds verdigtende oeuvre. Die drade wat tussen verse onderling en tussen die verskillende bundels en hul verse gespan word, vorm haas al hul verfynde net."
"Maar daar is definitiewe klemverleggings hier: die fisieke en geestelike loutering deur vlam en lig en pyn maak plek vir ’n tipe religieuse vers waarin die konkrete en aardse afgespeel word teen die goddelike en ewige, die sondige teen die perfekte en suiwere, die mens teen God. Hierdie teenstelling word benut in paradoks, satire, ironie en (wat die saamtrek daarvan betref) ook vir die mistiek. Anders as in vorige bundels is die taal hier nie net ’n medium nie, maar ook tema." (…)
"Die somerjood is ’n Cussons-bundel in ligter aanslag en soms ook in ligter luim, maar die virtuose wat juis so onverwags hierin skuil, getuig van ’n vaardigheid wat meesterskap kenmerk."
EB Grobler (Hoofstad, 27 November 1980) skryf: "Die somerjood, met sy kleiner opset van 33 verse, waarvan die meeste ook betreklik kort is, besit ’n kragtige gekonsentreerdheid. Die religieuse aanspraak van haar vorige bundels word hierin weer dualisties gestel. (…) Wat egter veral verras, is die kinderlike godsdienssiening, die gekonsentreerde woordgebruik, die terugkerende doodsbesef en die varsheid van die somermilieu."
Die bundel wat Sheila "onbetwistelik as voorste digter kroon" (Amanda Botha, Lantern, 1992), Die woedende brood, verskyn in 1981. Dit verken haar gebondenheid aan haar geloof en "plaas haar as mistieke digter op die voorgrond". (Lantern, 1992)
Die bundel word met al die belangrike pryse bekroon: die CNA-, WA Hofmeyr-, Louis Luyt- en Hertzogprys. Benewens Die woedende brood word die Hertzogprys ook aan al haar vorige werk toegeken. Sheila vertel aan Kerneels Breytenbach (Rooi Rose, 13 Februarie 1980) dat hierdie bundel van haar beste werk bevat en dat daar heelwat gedigte in is wat haar gunstelinge is.
Ook die resensies oor Die woedende brood was oor die algemeen gunstig, hoewel die resensente bykans almal melding gemaak het van die swakkere verse wat ook in hierdie bundel aanwesig is. Dit was haar sesde bundel in minder as vier jaar en vir Wium van Zyl (Volksblad, 1 Julie 1981) het sy in hierdie tyd ’n "digterskap oorbluffend uitgebou en is sy in dié opsig reeds een van die merkwaardigste figure wat ons poësie nog opgelewer het."
Van Zyl het sy bespreking afgesluit: "’n Groot literêre gebeurtenis is hierdie bundel nie. Soos met eintlik al Sheila Cussons se bundels van die afgelope vier jaar is die poësie hierin ongelyk van gehalte. Die beste gedigte vergelyk egter met haar beste vorige werk en daar is genoeg goeie poësie om die bundel ’n leesplesier te maak."
In Vaderland (25 Februarie 1982) is FR Glfillan min of meer dieselfde mening aangedaan as Van Zyl hierbo. Volgens hom is Die woedende brood nie ’n groot vernuwer nie: "In menige opsig is hierdie poësie steeds náwater, maar dan bedoel ek nie negatief nie – al behoort hierdie bundel nie tot die groot werk soos van haar vorige bundels nie."
"Maar in sy gebalanseerde verskeidenheid, pikante humor, sy waardevolle aanvulling by die godsdienstige motief en die indigting en kommentaar by vroeëre verse, is Die woedende brood tot dusver nie na waarde geskat nie."
"Maklik is hierdie poësie steeds nie, inteendeel. Daarvoor is die kontemplatiewe vers wat Cussons skryf, te verwikkeld. Tog is daar enkele kort beeldgedigte wat aansluit by die tipe vers wat Plektrum in 1970 so uitsonderlik gemaak het en waarvoor daar soveel waardering was."
Ander menings is kortliks:
- Ronèl Johl (bron en datum onbekend): "’n Ongelyke bundel dus, maar nogtans een wat nie in ’n kort resensie uit te put is nie – ’n bundel met leesbare verse en ’n paar baie goeie gedigte wat tot die bestes van die Cussons-oeuvre gereken kan word."
- Hélène de Villiers (Beeld, 29 Junie 1981): "Sheila Cussons is ’n veelsydige en bekwame digteres wat steeds nuwe skynsels en nuanses van die fundamentele menslike ervaring na vore bring: paradys, sondeval,"
Sheila vertaal die Argentyn Jorge Luis Borges se kortverhale uit Spaans en dit verskyn in 1981 onder die titel Die vorm van die swaard en ander verhale. Hieroor spreek Sheila haar teenoor Kerneels Breytenbach (Beeld, 26 April 1982) as volg uit: "Maar die vertalings eis baie van jou. Hy is so ’n woordmens, elke woord tel so, selfs sy interpunksie, en jy moet getrou daaraan bly en dit tog nog laat lees soos Afrikaans. ’n Mens werk lank aan een so ’n verhaal. Dit is tydrowend. Dit het my maande gekos voor ek tevrede was."
In 1982 keer Sheila na Suid-Afrika terug. Haar man het op 58-jarige leeftyd besluit om verder te studeer en haar twee seuns was groot, en hulle het as gesin elkeen in hulle "eie rigting" getrek. Dit lei tot Sheila se groot besluit. Sy het aanvanklik gedink dat sy net vir drie maande op ’n slag na Suid-Afrika sou terugkom, maar haar toe afgevra: Hoekom nie vir altyd nie? Daar was egter geen sprake van egskeiding nie. Sy moes ook na Suid-Afrika kom om die CNA- en Louis Luyt-pryse vir Die woedende brood te ontvang en besluit toe om te bly.
"Ek het al hoe meer na my land gegroei," vertel sy aan Loep Jordaan in Rapport van 20 Junie 1982.
Vir haar sestigste verjaardag in 1982 publiseer Tafelberg Uitgewers twee geleentheidstukke: Gestaltes 1947, haar eerste prosastuk, wat sy reeds in 1947 in Londen geskryf het, en Omtoorvuur, ’n keur uit haar vorige ses bundels. Die omslae van hierdie twee werke is deur Sheila self ontwerp.
Gestaltes 1947 is ’n jeugwerk wat in ’n beperkte oplaag van ’n duisende getekende eksemplare uitgegee is. Dit is nog nooit voorheen gepubliseer nie, maar Hennie Aucamp het drie fragmente in die bundel Blommetjie gedenk aan my (1978) opgeneem. Die aanvanklike titel van die bundel was Tot dusver: ’n jeugrelaas.
Dit beslaan vyftien stukke van wisselende lengte met die totale teks wat net dertig bladsye lank is en vir JP Smuts (Die Burger, 16 September 1982) moet dit beslis getel word onder een van die "opvallendste voorbeelde van volgehoue liriese prosa in Afrikaans".
Smuts het voortgegaan: "Teen 1947 was daar beslis nie in Afrikaans ’n vergelykbare werk wat so uitdrukking probeer gee het aan die geesteswêreld van die fantasieryke kind nie. Die daarmee samehangende verkenning van die onbewuste en pogings om dié peilings literêr onder woorde te bring, is wel die vorige jaar deur CJM Nienaber in Keerweer uitgewerk, maar hy het, anders as Cussons, met die abnormale personasie gewerk."(…)
"Die vroegste herinneringe is dié van ’n kind wat intens die sintuiglike wêreld én die wêreld van die fantasie, die droom, ervaar. Daar is die vrees vir leë oë, die gefassineerdheid met bloed, pyn, wonde; die intense waarnemings van veld en see en musiek."
"In daardie stadium het die verteller oor die vermoë beskik om gestaltes wat nie deur die oog waargeneem kan word nie, te sien: die fee in die roos, die jong man in die grys manel wat vir haar wag." (…)
"Die boek eindig met die spreker se besef van menslike onvermoë om alles te ken en die sensasie dat die enkeling inpas in die groot onthou, 'een klein bewussyn (is) in die galmende ruimte van ’n ontstellende, antieke geheue'." (…)
"Die werk bevestig dat daar reeds vroeg by Cussons ’n verkenning van die verbeelding was, ’n opskerping van die sintuie en ’n poëtiese omgang met die taal. Dit bevat ook etlike verwysings wat later in haar poësie sterker sou terugkeer, onder meer in bundeltitels.
"Gestaltes 1947 is ’n unieke werk binne die Afrikaanse prosa en terselfdertyd ’n belangrike aanvulling by en uitbouing van die wêreld van Sheila Cussons. Vir die gesofistikeerde leser wat belangstel in wat met Afrikaans as medium vermag kan word, bied dit in baie opsigte ’n boeiende leeservaring."
Ander menings oor Gestaltes 1947:
- DJ Hugo (Volksblad, 5 Oktober 1982): "Gestaltes 1947 is ’n boek van drome, visioene en herinneringe wat hulle afspeel in landskappe van die onbewuste, In hierdie onbewuste wêreld stol verlede, hede en toekoms tot ’n durende moment. Cussons besit dus reeds van vroeg af die sintuig vir die mistieke – hier uiteraard nog nie spesifiek Katoliek-Christelik soos in haar poësie nie."
- Annie Schumann (Vaderland, 20 Augustus 1982): "Hierdie versameling prosa-fragmente, geskryf in haar vroeë twintigerjare, dien dan ook as ’n klein poort tot haar latere volwasse poësie. Hierdie is fragmente, herinneringe, drome, visioene – obskuur, asof deur water gesien, opgeefsels, opdrifsels, iriserende borrels wat stadig uit die dieptes van oer-moerasse opwel, breek en verdwyn. Die grens tussen die bewuste en die onbewuste word hier na willekeur oorgesteek."
Die versamelbundel, Omtoorvuur, is vir Fanie Olivier (Transvaler, 13 September 1982) keurig versorg en gepubliseer deur Tafelberg-Uitgewers en hy beskou dit as ’n "testament vir die sê-krag van Afrikaans en ’n lekkermaak bewys van die talent van ’n gróót digter".
FR Gilfillan (Die Burger, 23 September 1982) beskryf Omtoorvuur as ’n bundel met tipografie wat keurig versorg is en vir hom is dit ’n gepaste huldiging van Sheila Cussons wat as Afrikaans se belangrikste godsdienstige digter beskou kan word. "Dit verteenwoordig dan ook van die digteres se beste werk sedert sy die poësie-registers oopgetrek het en aan die Afrikaanse letterkunde die grootste verryking van die afgelope dekade besorg het.
"Maar dis ’n bundel wat ook om ander redes ryk en waardevol is. Een daarvan is die gebruik van verskeie etse van die digter self: enersyds op die omslag, andersyds om die verskillende afdelings van mekaar te skei."
Met die ontvangs van die CNA-prys vir Die woedende brood spreek Sheila haar sterk oor die kwessie van sensuur uit en sê sy onder andere (Die Burger, 29 April 1982): "[Ek] glo die hele sensuuraffêre is tydmors, geldmors en self-defeating (...), maar ek dink ek sien ’n dag kom, wanneer almal in SA, al daardie waarskynlike lesers, byvoorbeeld, eindelik vry sal wees om te wei waar hulle wil, sonder om hulle siele in die proses te verloor. (...) As kampvegter vir ’n vrye literatuur, bloei ek natuurlik die meeste vir die skrywer – of tóg miskien ewe veel vir skrywer en leser: vir die geknelde kreatiwiteit, én die verarmde leser. As ’n ryk, vitale literatuur ons erns is, sal daar eenvoudig ’n end moet kom – nie ’n halwe end nie, maar ’n hele end – aan die preutse, skrikkerige onderdrukking van die natuurlike kreatiewe libido." Tydens hierdie toespraak voeg Sheila ook haar stem by al die ander vir die begenadiging van Breyten Breytenbach.
Met die oorhandiging van die Hertzogprys aan Sheila lewer prof Merwe Scholtz (Die Vaderland, 7 November 1983) van die Universiteit van Stellenbosch se Departement Afrikaans-Nederlands die huldigingswoord. Hy het gesê: "Sheila Cussons se werk is die eerste volgehoue verwoording in ons poësie van die haas onverwoordbare mistieke ervaring en ekstase."
Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy ook haar nuwe bundel, Verwikkelde lyn, saamgebring wat in 1983 gepubliseer is.
Vir André P Brink (Rapport, 5 Junie 1983) is Die verwikkelde lyn nie "so dig" soos Die woedende brood nie, maar vir hom was dit ’n "voorreg om saam met Cussons te verwyl in ’n dimensie waar die gewoonste dinge en verskynsels getransfigureer raak – ’n proses wat nie nét die mistieke ekstase onder tekens bring nie, maar ook die digterlike proses self. Die transendensie van mimese tot semiosis, en van betekenis tot sin, 'meaning' tot 'significance', demonstreer."
AP Grové doen die bespreking van Die verwikkelde lyn in Beeld van 20 Junie 1983. Hy meen dat hierdie bundel nie liriek in die aanvaarde sin van die woord bring nie: "Daar is geen spontane sang of strewe na musikaliteit nie. Van al Sheila Cussons se bundels kom dié een waarskynlik die naaste aan wat ons bespieëlende poësie kan noem."
"Die besinnende aard van die verse openbaar hom op verskillende maniere, soos byvoorbeeld al klaar duidelik word in die aanvangsgedig 'En as ek vurig antwoord: ja!', ’n gedig wat ondanks sy mistieke inslag redenerend aandoen met sy tastende vrae (…), sy gebruik van direkte rede, sy afweeg van moontlikhede, die bewuste rekenskap gee van ’n groeiende spanning tussen selfverlies en selfhandhawing."
"Daarby die betreklike lang versreëls en die afwesigheid van rym – uiterlike faktore wat daarop dui dat die gedig sy eindbestemming (in hierdie geval ’n selfverloënende opgaan in die 'heilige wil' van God) – langs die moeitevolle weg van die beskouing eerder as dié van die musiek of die beelding wil bereik. ’n Mens sou dit byna ontroerde beeldspraak wil noem."
Ook HP van Coller (Volksblad, 6 Augustus 1983) is beïndruk met Die verwikkelde lyn. Hy beskryf dit as ’n "digbundel van groot kwaliteit en kompleksiteit; ’n toetssteen vir die produkte van die talle jong digters wat deesdae deur die muse geïnspireer word."
"Die verse dra nooit swaar aan verwysings nie, hoewel daar voortdurend in gesprek getree word, selfs implisiet na ander digters verwys word: Breytenbach, Small, ensovoorts. ’n Mens kan byvoorbeeld ook alleen waardering betuig vir die subtiele wyse waarop persoonlike en religieuse verwysings saamvloei in 'Rigtings."
Haar eerste ses bundels noem Sheila haar "Spaanse bundels", omdat hulle almal in Spanje ontstaan het. Verwikkelde lyn is haar laaste bundel wat op Spaanse bodem geskryf is. "Dit is metafisies van aard en deurgaans introspektief bespiegelend. Dit staan in sterk kontras met die vroeë bundel Verf en vlam wat ’n uitjubeling is van die sintuiglike vreugde." (Amanda Botha, Lantern, 1992)
Terug in Suid-Afrika tree sy vir die eerste keer in die openbaar op. In 1983 vra Merwe Scholtz haar om vanaf die derde kwartaal die Letterkundige Laboratorium by US te lei. Hierdie Laboratorium is in 1960 deur prof DJ Opperman begin vir senior studente in die letterkunde met geld wat deur Nasionale Pers bewillig is. Na Opperman se aftrede het hy voortgegaan om elke jaar ’n groep gekeurde studente te lei en te inspireer. Weens slegte gesondheid moes hy die taak in 1982 verlaat en het Lina Spies dit behartig. Sy aanvaar egter ’n pos aan die Universiteit van Pretoria en die pos was dus vakant. Sheila het dit aanvaar en die Laboratorium vir twee jaar gelei. Sy het haarself egter nie as ’n dosent of lektrise gesien nie, maar gesê sy sal haar taak op haar eie manier aanpak en "net as digter oor die digkuns gesels". Sy meen ook dat sy veel uit haar kontak met die studente sal leer. Sheila gee ook voorlesings oor haar eie werk aan die Universiteit van Wes-Kaapland. (Amanda Botha, Lantern, 1992)
Sheila is genooi om op ’n Akademiese Dag by die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch te praat oor die betekenis van pyn soos dit in haar gedigte vergestalt is, maar ook soos sy dit aan lyf en gees ervaar het.
In 1983 word ’n retrospektiewe uitstalling van haar kunswerk wat tot die dertigerjare terug dateer, by die Wes-Kaapse tak van die Suid-Afrikaanse Kunsvereniging aangebied. Dit het saamgeval met die publikasie van Die verwikkelde lyn. Die uitstalling word ook by die Bellville Biblioteek aangebied. Oor hierdie uitstalling laat Johan Bruwer (Rapport, 26 Junie 1983) hom as volg uit: "Die meeste werke op die tentoonstelling is dus ouer werk, veral uit die jare veertig en die laat sestigs. Hulle spreek van ’n fyn talent, maar ’n talent wat nog besig was om die visuele media te ondersoek en nog nie tot ’n sterk persoonlike visuele taal gevoer is nie. (…) Die visuele taal wat Cussons in haar jongste sketse praat, is basies nog dieselfde as dié van haar vroeër werke. Die verskil is dat dit wegbeweeg van die stywe, goedgemanierde idioom na die regstreekse, alledaagse uitdrukkings van ’n gewone mens wat in sy gewoonheid liefde gevind het en daarom wonderlikheid."
Sheila se eerste bundel wat in Suid-Afrika sy ontstaan gehad het, Membraan, word in 1984 gepubliseer. Sy beskou die bundel self as haar jubelbundel, en drome is die onderwerp van baie van hierdie gedigte. Dit is ook die eerste keer dat sy gebruik gemaak het van die Bolandse landskap in haar verse en sy het baie genot geput uit die alledaagse lewe in die Kaap soos sy dit beskou het uit haar woonstel in die Tuine en in die Kompanjiestuin. (Amanda Botha, Lantern, 1992) Die bundel is egter met gemengde gevoelens deur die breë publiek ontvang en koel deur die literatore. Sy self het erken dat die ontvangs haar ’n knou gegee het.
M Nienaber-Luitingh (Beeld, 6 Augustus 1984) het geskryf dat die mistieke ervaring van eenwording met die Goddelike ook in Membraan die hooftema is, soos in haar vroeëre bundels en dat daar dus nie ’n groot verskil is tussen die gedigte wat in Spanje ontstaan en dié wat in Suid-Afrika hulle ontstaan gehad het nie. "In Cussons se poësie gaan dit in die eerste plek om die 'ek' se verkeer met die Goddelike, en die geografiese situasie is daarby van ondergeskikte belang."
Nienaber-Luitingh het voorts geskryf: "Tot die mins geslaagde gedeelte van die bundel behoort die twee groepe kwatryne, 'Drie voorbeelde en ’n vertroosting' en '’n Kransie wildekruie', waarin die gebrek aan ’n strikte ekonomiese woordgebruik en die soms duidelike gevalle van rymdwang ’n verswakkende uitwerking het.
"Soos elke digbundel van Sheila Cussons bevat Membraan verskillende mooi gedigte. Die bundel as geheel bring egter ten opsigte van haar vorige bundels weinig nuuts wat temas, insigte en verstegniek betref; dit dui dan ook geen stygende lyn in haar poësie nie."
Ook Joan Hambidge (Vaderland, 3 September 1984) was nie oortuig van die gehalte van hierdie negende bundel van Cussons nie. Sy meen ook dat daar min digters in Afrikaans is wat die mistieke belewenis só duidelik en só herhaaldelik gekonstateer het as Sheila Cussons.
Hambidge het verder geskryf: "Ongelukkig is dit dan ook so dat dit waarvoor ’n mens die meeste waardering het, uiteindelik ook by Cussons middelmatig raak. Die gedigte wil soms té eksplisiet uitspel en dikwels kom die digter voor dié probleem te staan: hoe verwoord ’n mens die mistieke op ’n mistieke wyse?"
"In The pleasure of the text (1973,1975) skryf Barthes oor hierdie probleem: 'If I read this sentence, this story, or this word with pleasure, it is because they were written with pleasure (such pleasure does not contradict the writer's complaints). But the opposite? Does writing in pleasure guarantee – guarantee me, the writer – the reader's pleasure? Not at all' (p 4)."
"En dit is ongelukkig van toepassing op die meeste verse in Membraan: té min het ’n mens 'stuipbevange van angs en genot' soos die voorlopers in Plektrum en die vele daarna."
André P Brink (Rapport, 5 Augustus 1984) het geskryf: "Iets van ’n vroeëre digtheid en deurdigtheid bly hier soms agterweë; iets van ’n herhalerigheid vreet aan verskeie verse. Maar dan nog is veral daardie klompie verse wat ek vlugtig probeer uitwys het, stof tot dankbaarheid."
In Desember 1985 besluit Sheila om voorlopig na Spanje terug te keer. Sy is in Februarie 1985 gehospitaliseer na ’n ineenstorting weens slapeloosheid. Sy is ook na Spanje vir die geboorte van haar eerste kleinkind, Max. Sy bly in Spanje tot ses maande na die geboorte op 21 Desember 1985. Sheila beskryf die ervaring in De Kat van Mei 1988 as volg: "Toe ek Max vir die eerste keer in my arms hou, het ek emosies ervaar wat ek nie geweet het ek het nie. Emosies wat ek nie onder woorde kon bring nie. Dit was die besef dat Max iets onbetwisbaar herkenbaars van my dra."
In 1985 word Poems gepubliseer, wat ’n vertaling is van ’n keur van haar verse deur Sheila self. Die kritici was oor die algemeen redelik beïndruk deur die vertaling. Albert du Toit (Eastern Province Herald, 9 September 1986) het gehou van die oorspronklike Afrikaanse gedig wat naas die vertaling gedruk is sodat die leser kon deel in die digter se kreatiewe proses. Hy noem Sheila Cussons "a metaphysical poet of the highest order".
In The Natal Witness (26 November 1987) was Yvonne Grimbeek nie heeltemal so komplimenterend nie. Sy was nie ten gunste van die plasing van die oorspronklike naas die Engelse vertaling nie, aangesien dit die gehalte van Cussons se skryfwerk dramaties verswak as gevolg van die metode en, volgens haar, sou dit die leser net deurmekaar maak.
Heather Mackie (Cape Times, 14 Mei 1986) het geskryf: "The deceptive simplicity of her work has translated very well."
Die heilige modder (1988) bevat gedigte wat gedurende die laaste derde van 1986 hulle ontstaan gehad het, asook sommiges wat in 1987 ontstaan het. Sheila Cussons het die bundel aan Amanda Botha (Lantern, 1992) beskryf as "die gladwaterbundel wat homself los geworstel het uit swaar medikasie". Botha (Lantern, 1992) skryf dat die mistieke krag van Sheila in hierdie verse treffend is. "Sy verwonder en verlustig haar in die eenvoudige dinge wat vir haar die ewige wonder van God omskryf."
Cussons het teenoor André le Roux (Die Burger, 11 November 1988) gesê: "Ek het doelbewus probeer om my formulering in Die Heilige modder eenvoudiger te maak omdat ek bewus was van die feit dat sommige mense my werk ontoeganklik vind. Ek het probeer om oper, toegankliker te skryf."
In Republikein van 14 Oktober 1988 het IA van Zyl gemeen dat Cussons se sintaksis in Heilige modder eenvoudiger is en só ook die woordgebruik en dat dit die opvallendste verskil is tussen hierdie bundel en haar voriges: "Daar is hier ook ’n nog groter toespitsing op die digteres se verhouding met God as tevore. (…) Gepaard met haar intense Godsbelewenis, wat elke gedig deurstraal, gaan ’n verlange om weer in die eie vaderland wortel te skiet."
Van Zyl het afgesluit: "Dit is, ten slotte, ’n bundel wat spruit uit die 'transfigerende kragveld, Jesus' (p 52) en waarin alles weer 'stromend' teruggedig word, 'tot in daardie Onstuimigheid / wat Is voor Abraham was'."
"In hierdie bundel vind die leser Cussons op haar suiwerste."
André P Brink (Rapport, 25 Julie 1988) was egter ’n ander mening toegedaan: "Nou, vier jaar ná die verskyning van Membraan, het Die heilige modder uiteindelik verskyn en met watter afwagting maak die Cussons-liefhebber dit nie oop nie."
"Helaas. Dit moet dadelik gesê word. Die gedigte in Die heilige modder is byna deurgaans flou afkaatsings of napratings van haar vroeër stralende werk." (…)
"Vernuwing, in die drastiese en dramatiese sin van die woord, het mens nooit by Cussons gesoek nie. (…) Tog het sy elke keer die bekende nuut gemaak, hout omgebrand tot vuur en vlam. Maar in dié bundel is dit – meestal – ’n moedelose geblasery aan die stompe wat net rook voortbring en jou oë ergerlik laat traan: ’n uitspreek van vroeër magiese woorde wat nou net nie meer besweer nie." (…)
"’n Spesifieke prosedure aan die hand waarvan die verandering in Cussons se poësie geïllustreer kan word, is dié van 'herhaling'. In haar vroeëre werk het dié verskynsel sterk gefigureer en het dit inkantasie geword. In die huidige bundel beïndruk die prosedure soms deur die blote menslike stameling en dringendheid waarmee dit die mens se biddende uitgryp na Betekenis of Illuminasie uitdruk ('Biddende'); en in die drieledige herhalingspatrone van 'Klag' breek die geslaagde inkantasietoon van vroeër ook deur; maar elders raak dit ’n geteem en ’n gesanik, soos in 'Impromptu' ..."
Brink het afgesluit: "Cussons het klaarblyklik ’n ontstellende vonklose fase in haar digterskap bereik: mens wil opreg hoop dat sy haar mettertyd weer daar sal uitbrand."
TT Cloete het tot die volgende slotsom gekom in sy bespreking van Die heilige modder (Volksblad, 21 Mei 1988): "Die heilige modder is ’n baie suiwer bundel, baie meer beskeie, meen ek, as Sheila Cussons se beste werk. Dalk het ons hier met ’n wending te make, omdat Cussons uitdruklik in 'Eenvoudig' sê: 'Woorde wil nie oopgevlek nie / maar eenvoudig belewe word', en daar is ’n bemoeienis met die eenvoudige en gewone en die aangetrokkenheid daartoe in die bundel. Maar wat sy aan eenvoud gewen het, het sy miskien in rykdom van die taal en beeldrykheid van haar vers ingeboet. Die 'wêreld' van die bundel is egter boeiend en glansend."
Na die verskyning van laasgenoemde bundel vertel Sheila aan André le Roux (Die Burger, 11 November 1988) dat sy ’n inspirasiedigter is. "Verse moet by my opkom, jy weet. Ek moet ’n paar reëls gegee word. Dan werk ek daaraan. (…) Sommige kom baie, baie maklik. Ek moet sê, veel van my gedigte is sommer byna in hul geheel aan my ingegee. (…) Maar ek wil nie eens probeer om te ontleed hoe ’n gedig ontstaan nie ... daar is soveel misterie in die hele skeppingsproses."
Sheila se laaste bundel is Die knetterende woord wat in 1990 verskyn en bekroon is met die WA Hofmeyrprys. In trant sluit die bundel aan by Die woedende brood en Verwikkelde lyn. Dit sluit ook ’n aantal Spaanse en Engelse verse in. Die Spaanse verse is vergesel van Afrikaanse vertalinge wat, volgens Wium van Zyl (Rapport, 2 Desember 1990), "gedigte in eie reg word".
Van Zyl skryf verder: "En inderdaad is die poësie in Die knetterende woord nie in ’n enkele definisie vas te vang nie. Dit is ’n beleë, rykgeskakeerde, veeltalige verkenning van menswees en woord in ’n verskeidenheid stemminge.
"Cussons sorg hier vir een van die min meertalige digbundels in die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Die meeste verse is in Afrikaans, ’n hele aantal in Engels, maar sommige ook in Spaans. In die gedig 'Pour un jeune homme gai' vloei Afrikaans en Frans selfs vrolik ineen."
"Die veeltaligheid is egter maar een keerkant van ’n sterk mediumbewustheid in die bundel – iets wat trouens ook voorheen in Cussons se oeuvre voorkom, maar nie so gekonsentreerd as hier nie." (…)
"Die religieuse, ’n Cussons-watermerk, oorheers ook in dié bundel. Dit begin al met die voorbladontwerp (weer deur die digter self) wat onder meer ’n priester uitbeeld, besig om die hostie omhoog te hou. Die bundel is losweg afgebaken in terme van stadiums van die Katolieke mis: eers die Kyrie (…), daarna die Gloria (…), gevolg deur die Sanctus (…) en die Agnus Dei (…)."
Vir AP Grové (Beeld, 10 September 1990) is dit in al Cussons se digbundels duidelik dat sy as digter worstel om tot klaarheid te kom oor die goddelike wese, "oor sy werking in die wêreld en die lewe van die mense. Dié bepaalde drif was natuurlik nie die enigste motief in haar werk nie, maar dit was die sentrale dryfkrag in haar digterskap."
"In haar jongste bundel, Die knetterende woord, is dit nie anders nie. Ook hier is die religieuse besinning ’n deurlopende tema: die vernuwende werking van God, sy ingryp in die lewe van die mens … Trouens, die hele opset van die bundel met sy onderdele Kyrie, Gloria, Sanctus en Agnus dei wil ’n eksplisiete verband lê met die RK Mis.
"Maar hierdie religieuse preokkupasie is in die huidige bundel nie los te dink van Cussons se besinning oor die wese en werking van die taal nie, meer bepaald as die taal van die poësie. Net soos die denke oor God, speel die denke oor die taal vanaf die titel ’n essensiële rol in die opset en aard van menige gedig in die bundel."
"Cussons het haar in die verlede meermale op die poëtiese woord besin. Onder verskillende beelde het sy ingegaan teen die 18de-eeuse idee (van Locke, byvoorbeeld) dat die woord bloot die houer is wat ’n reeds bestaande betekenis (inhoud) moet ontvang en bewaar. Vir haar is die woord nie die passiewe ontvanger van wysheid of insig nie, maar eerder die dinamiese ontdekker of skepper daarvan." (…)
"… [O]ns het hier met poësie te make wat ’n mens nie op jou rug kan lê en lees nie. Dis werk wat inspanning van die leser verg. Die digteres maak geen toegewings nie en suggereer êrens dat ’n 'vrygewige digter' 'oorbodig' is." (…)
"Daar is gedigte wat met ’n verwikkelde redeneertrant gepaard gaande met ’n verwronge sintaksis in ’n onklare denkworsteling bly steek. Iets hiervan was al merkbaar in Die heilige modder, maar in die huidige bundel word dit ’n al hoe sterker bedreiging waarteen die digteres moet waak."
Ander menings kortliks oor Die knetterende woord:
- Tom Gouws (Insig, Oktober 1990): "Dit is ’n bundel wat nie die peil van Plektrum, Die swart kombuis en Die woedende brood handhaaf nie, maar dan: Dit is ’n bundel wat, alhoewel dit nou aansluit by haar poëtiese mitologie, tog sy eie barograaf is. Dit is ’n bundel wat die leser aanvanklik op ’n afstand, veral ’n talige afstand laat bly, maar dan – soos die nuwe taal aangeleer word – jou in die klein resonante holte van die bundelmond die hoogte en diepte van poësie laat ervaar."
- Merwe Scholtz (Die Burger, 16 Augustus 1990): "Sommige van die gedigte het nie die dramatiese aanslag en impak van die groot religieuse gedigte van die vorige bundels nie. En ’n mens kan dit ook nie bly verwag nie: by ’n digteres van die formaat van Cussons is daar, met respek gesê, in iedere vers ’n soort poëtiese 'stofwisseling'. Die poësie bly die aangrypende getuie van die lewensreis van ’n uiters verwikkelde, merkwaardige vrou. Geen kenner van Cussons se poësie sou die veelsydige getuienis hiervan in Die knetterende woord wil misloop nie."
- TT Cloete (Volksblad, 18 Augustus 1990): "Al die gedigte is nie op dieselfde vlak nie, en dié bundel kom nie op dieselfde peil as van die beste vroeëres van Cussons nie. Moontlik is dit omdat die drif soms te min deur die langsaamheid getemper word, moontlik is dit so dat die beskoulike vers soms te min knetter of heldersiendheid in hom het – dalk is dit albei tegelyk. (…) Die bundel is ongetwyfeld egter sterker as sy direkte voorganger, en as ’n mens dan dié vergelyking tref, wil jy in die taal van Upon a darkening flood sê: ons het hier ’n nuwe 'self' van Cussons, subtiel gerestoureer. Die beste gedigte in Die knetterende woord laat ons Cussons weer sien soos ons haar in haar beste momente tot nou toe leer ken het."
Sheila word in 1992 vereer toe die Universiteit van Natal ’n eredoktorsgraad aan haar toeken uit erkenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. In 1996 word ’n DLitt (honoris causa) deur die Potchefstroomse Universiteit aan haar toegeken vir haar onderskeiding as een van die belangrikste religieuse digters in die Afrikaanse digkuns en vir haar temas in poësie wat algemeen-Christelik toeganklik bly.
Vanaf Januarie 1997 woon Sheila in Nazareth House, ’n eertydse kloosterhuis in Vredehoek in Kaapstad. Dit is in 1910 volgens ’n ontwerp van sir Herbert Baker gebou. Met die viering van haar 75ste verjaardag publiseer Tafelberg-Uitgewers ’n keur uit haar godsdienstige verse getiteld ’n Engel deur my kop. In 2000 verskyn Die asem wat ekstase is, ’n keur uit haar niereligieuse poësie.
Oor ’n Engel deur my kop skryf Joan Hambidge (Die Burger, 8 Oktober 1997) dat die versameling verse die leser weer onder die indruk bring van Cussons se besonderse talent "om God in die kleinste, banaalste oomblik raak te sien" en in Volksblad (5 Januarie 1998) is Bernard Odendaal van mening dat "die aangenaamheid van Cussons se religieuse poësie by uitstek geleë is in die verwoorde 'maklik wees' ('Pastorale'), oftewel die spontane omgang van die gelowige met God en die wondere van die skepping."
Louise Viljoen (Insig, Desember 1997) kom tot die gevolgtrekking dat tot die Afrikaanse digkuns se voordeel is dat "Cussons se geestelike avontuur ook ’n versavontuur word in dié sin dat die religieuse ervaring verwoord word in ’n taal wat by geleentheid self die skittering van openbaring dra."
AP Grové (Beeld, 26 Junie 2000) het die publikasie van Die asem wat ekstase verwelkom, aangesien haar vroeëre bundels nie meer so algemeen verkrygbaar is nie: "Dit gee die poësie-leser as 't ware die geleentheid om hom opnuut in hierdie oeuvre te verdiep; om vas te stel watter prikkels oor die jare op haar ingewerk het; haar jeugagtergrond en die sterk Europese invloede in haar latere werk; haar poësiebeskouings en haar interessante sienings oor die ontstaan van ’n gedig."
In Rapport van 27 Augustus 2000 beskryf TT Cloete Sheila Cussons se poësie as volg: "Die werk van Sheila Cussons is ten slotte ’n taalprestasie. Dit is Afrikaanse woorde soos wyn. (…) Die titel Die asem wat ekstase is sê alles van die gedigte wat in hierdie keur opgeneem is. Cussons se beste en bekendste gedigte is hier. Die bundel bevat ’n deel van haar werk, maar dis die hele Cussons."
’n Multimedia-produksie rondom Sheila se gedigte waarin die teatrale en die digkuns bymekaargebring word, het deel uitgemaak van die hooffees se Poësie-Paleis by 1998 se KKNK. Die produksie, getiteld Cussons se kombuis, is geskep deur en geregisseer deur Charles Fourie. In 2000 word ’n produksie, Heilige modder, in Bloemfontein aangebied onder regie van Gerben Kamper met teks deur Marc Hosten. Annette Engelbrecht was die aktrise.
Met haar 70ste verjaardag skryf Charles Fryer in Die Burger (8 Augustus 1992): "Sheila Cussons se beste gedigte word gekenmerk deur ’n sensuele aardsheid; ook ’n duiselende uitreik na die 'Onverwoordlike' – ’n dwarreling, ’n dans van woorde waardeur soms ’n straal skiet van 'daardie rilling wat God is'. Sy het Afrikaans na uiterstes gevoer waar sy seggingskrag soos selde tevore beproef is, op soek na woorde wat gestalte kan gee aan dit wat raaiselagtig en verwikkeld is. Of dalk net ’n glimp, want 'die hemel verblind verbeelding'. (...) Om Cussons te lees, is om ’n vinger oor '’n hunkering se grein' te voel soek; om te weet daar het so pas ’n engel deur jou kop gegaan."
Tydens 2002 se Woordfees en in haar 80ste geboortejaar is Sheila se dubbele kuns – woord- en skilderkuns – gevier. ’n Tentoonstelling van haar werke is in die Sasol-kunsmuseum op Stellenbosch gehou en Amanda Botha en Adrie van Eeden het die verband tussen die woord en die skilderkuns belig in ’n lesing getiteld "Sheila Cussons: verf en vlam". Die lesing was ’n voorloper tot Helena Conradie en Annalise Wiid se woord-en-musiekprogram oor Sheila. ’n Huldigingsprogram vir Sheila is ook tydens die Volksblad-Kunstefees in Bloemfontein in 2002 aangebied.
Wium van Zyl skryf in 1997 in Die Burger van 9 Augustus dat Sheila, ondanks haar laat debuut, kan aanspraak maak op ’n unieke oeuvre wat styg bo tyd en ouderdom, poësie met ’n volgehoue lenige gang "oor Sy sneeuende sierras".
Sheila is op 25 November 2004 in Nazareth House oorlede. Haar oudste seun, Jordi, was langs haar bed toe sy oorlede is. Haar begrafnisdiens wat in die vorm van ’n Katolieke Mis was, is in die klein kapel van Nazareth House gelei deur vader Peter John Pearson en die preek is deur ds IL de Villiers gelewer. Wium van Zyl het ’n huldeblyk gelewer.
Selfs na haar dood bly sy steeds die fokuspunt van besprekings. In 2007 was sy die tema van die Afrikaanse Letterkundevereniging se simposium tydens die Woordfees en in 2006 verskyn haar Versamelde gedigte, wat tydens die Versindaba op Stellenbosch bekendgestel word. Hierin verskyn sekere verse van Sheila vir die eerste keer – verse wat haar debuutbundel sou gewees het, soos aanbeveel deur NP van Wyk Louw. Hierdie verse is deur Johann de Lange "ontdek" in ’n stapel dokumente wat in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) bewaar word. De Lange meen dat die verse, wat onder die titel Dekade 1943–1953, verskyn, pragtig is uit eie reg. "Ek glo hulle gee ’n vollediger beeld van die jong Cussons en hoe sy met haar medium geworstel het op soek na ’n eie stem." (Insig, Junie 2006)
In 2007 verskyn daar by Uitgeverij 521 in Amsterdam ’n Nederlandse bloemlesing van Cussons se poësie onder die titel De schitterende wond. Dit is deur Gerrit Komrij vertaal, saamgestel en ingelei.
Vir Hennie Aucamp (Rapport, 16 September 2007) is Komrij se inleiding presies wat ’n inleiding moet wees – dit verskaf sleutelinligting en -insigte in bedrieglik eenvoudige taal. Sy gevolgtrekking is as volg: "Gerrit Komrij het Afrikaans se Hoë Ambassadeur in Die Lae Lande geword. Léwe, Komrij!"
Daniel Hugo (Die Burger, 15 Januarie 2007) beskryf dié bundel as ’n heerlike bonus vir die aanhangers van Sheila Cussons se poësie.
In 2008 ontvang Sheila die Suid-Afrikaanse Literêre Toekenning Postuum van die Nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur vir haar letterkundige bydrae.
’n Engelse sprokie wat Sheila vir haar broer geskryf en geïllustreer het, Trevor in the land of fantasy, is in 2018 deur Imbali Akademies uitgegee. Haar seun, Jaume, het sy ma se wens verwesenlik. Die direkteur van verkope en bemarking, Ute Späth, het die volgende te sê gehad oor hierdie publikasie: "As volwassenes verloor ons dikwels die fantasiewêreld wat as kinders in ons verbeelding bestaan het. Ons is bevoorreg om dié kreatiewe werk beskikbaar te stel. Cussons het ’n ouwêreldse sjarme en ’n verbeeldingryke droomwêreld in Trevor in the land of fantasy geskep.
Sy het die verhaaltjie geskryf toe sy 14 jaar oud was en in ’n onderhoud het sy gesê: "Ek het ’n Engelse storie geskryf vir my boetie wat toe twee was en dit ook geïllustreer. Ek het dit in ’n hangmat in ons tuin geskryf." Sy het vir haar broer voorgelees en later ook vir haar twee seuns.
Huldeblyke:
- André P Brink: "Met maar min woorde het sy vir haar ’n plek in die Afrikaanse literatuur, en in ons gewete, oopgeskroei waaruit nog lank heling en nuwe groei denkbaar is." (Die Burger, 27 November 2004)
- Antjie Krog: "Ek het deur baie digters leer skryf, maar deur Sheila Cussons se werk het ek leer leef. Sy het die sintuie oopgeboor van almal wat poësie liefhet en ons met taal op ’n high" (Die Burger, 27 November 2004)
- Wilma Stockenström: "’n Vriendskap meet jy nie in jare nie, veral nie as ’n mens reeds in die eerste oomblikke ’n affiniteit voel gegrond op ’n respek vir mens, dier en ding nie. Haar aardse humorsin het my aangetrek. Sy bly vir my die vrou van die onverminkte gees. Haar liggaamlike gebrek het jy sommer dadelik vergeet, want haar gees was helder, so deurstraal soos haar verse." (Die Burger, 27 November 2004)
- TT Cloete: "Cussons kon ’n gedig skryf oor hoe ’n digter ’n gedig skryf, wat ons ’n insig gee in haar innerlike werkwyse. Sy was nie net digter nie, maar ook skilder, wat graag geskryf het oor ander skilders en oor skilderye, etse en akwarelle. Hierdie gedigte bied ’n verstommende insig in die onvergelyklike talent van hierdie digter en in die toorkrag van haar woord." (Die Burger, 27 November 2004)
- Hennie Aucamp: "Sheila Cussons het ’n Helleense helderheid en harmonie na die Afrikaanse letterkunde gebring, in haar prosagedigte sowel as in haar poësie. Ook in haar alledaagse spraak was daar ’n swewende ligtheid, die deursigtigheid van ’n vlam, veral haar beeldspraak." (Die Burger, 27 November 2004)
- Johann de Lange: "As digter was Sheila Cussons se bydrae tot die Afrikaanse poësie onberekenbaar. Haar begeerte om tydloos te wees, is vervul." (Die Burger, 27 November 2004)
- Hannes van Zyl: "Sy het lig gedra aan haar wysheid, haar wye visuele geletterdheid, haar fyn humor. ’n Tyd by haar het ’n verskerpte sin vir wonder en wondbaarheid gebring; ’n stil blydskap in die lewe, asof ’n mens ’n uur naby ’n engel was." (Die Burger, 27 November 2004)
- Zandra Bezuidenhout: "Vir my was Sheila Cussons die een met die aanvoeling vir die mistieke." (Die Burger, 27 November 2004)
- Wium van Zyl: "Ons het ’n groot digter verloor, maar ’n digter met ’n nalatenskap só ryk dat ons haar bede, troos en skerpte nie sal kan vergeet solank ons die onbekende deur Afrikaans bly oopkloof nie." (Beeld, 1 Desember 2004)
- Vader Peter John Pearson: "Sy was iemand wat ’n evangelie van transendensie geleef het, een van vreugde en vrede oor pyn." (Beeld, 1 Desember 2004)
- Hans Ester: "Sheila Cussons toets die taal voortdurend op sy moontlikhede. Die versreëls rol dikwels soos golwe oor mekaar. Daar is soveel wat by die digter aandring om in woorde weergegee te word." (Zuid-Afrika, Desember 2004)
- Jaume, Cussons se jonger seun: "Sy het haar eienaardighede, maar sy's meer ons beste vriendin as ons ma. Met tye kon ons vir haar woedend raak, maar haar humor het ons altyd weer gewen." (Die Burger, 18 Desember 2004)
- Jordi, haar oudste seun: "Ons het oral op ons fietse saamgery. Ons maats het toe na haar verwys as ons ouer suster. Ons het so baie van die idee gehou dat ons haar altyd as 'Sheila' voorgestel en aangespreek het. Sy kon in enige geselskap wees, want sy was cool lank voordat iemand die woord uitgedink het." (Die Burger, 18 Desember 2004)
- Elsa Joubert: "Ek onthou haar 80ste verjaardag met al haar vriende om die lang tafel. (…) Sy het baie broos gelyk. Daar was stil – mag ek sê 'skittering', nee, die woord is te skerp, liewer stil, afgetrokke glans – om haar. Die gedagte aan ’n 'heilige' het by my opgekom. (…) Ek het besef ons is om die tafel vergader by ’n baie besondere en, ondanks haar liggaamlike pyn en skending, ’n besonder geseënde mens. Die vreugde, dikwels ekstase anderkant pyn, mistieke eenwording, straal uit die religieuse verse. Die verse is vir my ’n kosbare besit." (Die Burger, 27 November 2004)
- Joan Hambidge: "Sy is ’n voortreflike digter en haar enorme bedevaart en vermoë tot gelyktydigheid verdien vermelding. ’n Gedig soos 'Christ of the burnt men' laat enige ander digter swymel voor die seggingskrag. Hierom huldig ek haar dan ook in my bundel Lykdigte en die invloed van haar digterskap, reeds sedert Plektrum, het die hele Afrikaanse digkuns verryk. Nie net op tegniese vlak nie, maar ook om die Spaanse en Katolieke invloed." (Die Burger, 30 November 2004)
- Amanda Botha: "Ek kan met alle vrymoedigheid sê dat dit vir my ’n voorreg was om haar te ondersteun en by haar te wees (tydens haar siekbed en afsterwe – samesteller). My lewe is oneindig verryk deur die aanraking met haar." (Die Burger, 26 November 2004)
- Lina Spies: "Toe sy dit nie meer kon verduur om die taal van haar verse net met die binne-oor te beluister nie, het sy teruggekeer na die geboortegrond van Afrikaans. In haar verse kon die taal weer een word met die landskap waaraan dit onlosmaaklik verbonde is. Ten slotte was die allesoorheersende passie van Sheila Cussons se lewe die poësie. Dit het neerslag gevind in een van die belangrikste digterskappe in Afrikaans." (Beeld, 27 November 2004)
- Herman Lategan: "Sheila het ’n beskeie lewe (in die Kaap) gelei en haar woonstel was minimalisties, amper spartaans, gemeubileer: ’n bed, sketse teen die mure, ’n sitkamerstel, ’n kombuisie en ’n badkamer. Sy kon ’n gedig oor die eenvoudigste dinge skep: ’n koekie seep, ’n brood, ’n vlieg. Sommer daar, so tussendeur die gesels, in haar woonstel. Sy is in 2004 oorlede, dié klein, onpretensieuse mensie wat soos ’n blink liewenheersbesie onverwags op my hand kom sit het." (Die Burger, 9 April 2011)
Publikasies:
Publikasie |
Plektrum |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624005038 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die swart kombuis |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Verf en vlam |
Publikasiedatum |
1978 |
ISBN |
062401181X (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die skitterende wond |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0624012948 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die sagte sprong |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0624012956 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die somerjood |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
0624013952 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die woedende brood |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Omtoorvuur: ’n keur uit die poësie van Sheila Cussons |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
9780624017967 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Gestaltes 1947 |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
0624017974 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Prosa |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Verwikkelde lyn |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0624019233 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Membraan |
Publikasiedatum |
1984 |
ISBN |
0624020533 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Poems: a selection |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
0624023222 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die heilige modder |
Publikasiedatum |
1988 |
ISBN |
0624026078 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die knetterende woord |
Publikasiedatum |
1990 |
ISBN |
0624029565 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
WA Hofmeyr-prys 1991 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
’n Engel deur my kop: ’n keuse uit haar religieuse gedigte. Saamgestel deur Amanda Botha |
Publikasiedatum |
1997 |
ISBN |
0624036057 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die asem wat ekstase is: ’n keuse uit haar nie-religieuse verse. Saamgestel deur Amanda Botha |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0624038564 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Versamelde gedigte |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0624043916 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Sheila Cussons as vertaler
- Borges, Jorge Luis: Die vorm van die swaard en ander verhale. Kaapstad: Tafelberg, 1981 [ISBN 0624016579 (hb)]
Artikels oor Sheila Cussons beskikbaar op die internet
- Aucamp, Hennie: Die lyf as landskap 2005
- Botha, Amanda: Die kunstenaarskap van Sheila Cussons
- Botha, Amanda: Sheila Cussons word 80
- Digter van ’n ewige jeug
- Du Plessis, Bertie: Cussons dig ’n venster oop op die ewigheid
- Du Plessis, Bertie: ’n Visie vir die lewe
- Engelbrecht, Theunis: Cussons het duiselend uitgereik na die onsêbare
- Hambidge, Joan: Sheila Cussons
- Sheila Cussons oorlede
- Smith, Francois: Cussons sê sy is klaar gedig
- Smith, Francois: Mistieke blom van die aarde
- Spies, Lina: Kluitbeklam na die lig
Sheila Cussons se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-03-12 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Kommentaar
Hierdie is ʼn wonderlike stuk, baie dankie. Ek het Sheila toe ek nog in my tienerjare was ontmoet deur die joernalis Amanda Botha. Wat ek wil noem is dat Amanda met liefde en deernis na Sheila tot met haar dood bygestaan het op vele vlakke. Sheila kon byvoorbeeld nie haar eie inkopies doen nie. Amanda het haar rondgery, geselskap gehou, uitgeneem – omdat Sheila moeilik met haar kunsbeen geloop het. Sy het Sheila deur haar depressies ook ondersteun. Amanda Botha se onselfsugtige ondersteuning vir Sheila moet altyd onthou word, ek was daar, ek het dit met my eie oë gesien. Sonder Amanda se bystand, sou Sheila nie in Suid-Afrika kon aanbly nie.