Sheila Cussons: Versamelde gedigte

  • 1

Dit is altyd ’n uitsonderlike gebeurtenis wanneer die versamelde gedigte van ’n Afrikaanse skrywer verskyn. Afrikaans is ’n kleinerige taal met beperkte publikasiemoontlikhede. Só ’n publikasie is vir enige uitgewer ’n finansiële waagstuk – veral as dit so omvangryk (672 bladsye) en pragtig geïllustreer is soos dié van Sheila Cussons. Daarvoor verdien Tafelberg-uitgewers ons dank en bewondering.

Hierdie Versamelde gedigte is nog uitsonderliker omdat dit ’n afdeling (“Naskrif”) bevat met 72 voorheen ongepubliseerde en ongebundelde verse. Maar dit is juis hier waar my opgewondenheid oor dié publikasie omslaan in onvrede.

By ’n eerste lees van hierdie gedigte het ek op die volgende setfoute afgekom: feoniks ipv feniks (p 575), Hominid ipv Hominied of Hominide (p 591), bef ipv hef (p 600), glaat ipv gelaat (p 611), handvol ipv hand vol (p 641). Sommige kan ook transkribeerfoute wees. In haar “Verantwoording” agterin die bundel sê Amanda Botha: “Cussons se laaste verse is (soos ook haar laaste drie bundels) deur my getranskribeer. Van die oorgeskrewe verse kon sy self nog nagaan, ander het ek ná haar dood gekopieer” (p 650). Die onbekende woord “viseraal” op bladsy 590 is waarskynlik ’n oorskyffout, soos ook die dubbelpunt aan die einde van reël 21 op bladsy 608, die “en” aan die einde van reël 7 op bladsy 610 en die tweede “dit” in reël 4 op bladsy 629. In die inhoudsopgawe van “Naskrif” (voor in die bundel) staan daar “Estarit” ipv “Estartit” en “Anticris” ipv “Antichris”.

In die “Verantwoording” verduidelik Amanda Botha (wat ook die outeursreg van hierdie bundel besit) waar hierdie gedigte vandaan kom. Sy noem ’n aantal bronne, maar in die “Naskrif”-afdeling verskyn hierdie gedigte sonder bronvermelding. Sommige verse is wel van ’n datum voorsien, maar sonder enige verdere verduideliking. Die leser weet dus nie of hierdie gedigte uit die ongepubliseerde manuskrip Dekade 1943-1953 kom en of  hulle van die weggelate gedigte uit haar gepubliseerde bundels is nie. Al wat die leser volgens die bygevoegde datering met sekerheid kan vasstel, is dat die laaste ses gedigte geskryf is ná die verskyning van Cussons se laaste bundel, Die knetterende woord, in 1990.

Botha sê dat sommige gedigte uit Dekade 1943-1953 wel opgeneem is in die versamelbundels Omtoorvuur (1982) en Die asem wat ekstase is (2000), en dat ander – vroeër uiteraard – in die tydskrifte Die Huisgenoot, Die Brandwag en Standpunte gepubliseer is. Verder is sewe ingesluit in die “jeugbloemlesing” (sic) Stiebeuel van 1946 (saamgestel deur DJ Opperman en FJ le Roux), waarvan ‘n paar weer na DJ Opperman se eerste Groot verseboek van 1951 oorgedra is. Dan gaan sy voort: “Van ‘n seleksie van haar vroeë verse het Engelse vertalings in The Penguin book of South African verse (1968) verskyn. Geen van hierdie gedigte het in Plektrum (1970), haar debuutbundel, neerslag gevind nie.” (p. 649). In die genoemde Engelse bloemlesing (saamgestel deur Jack Cope en Uys Krige) staan net een gedig van Cussons, naamlik “1945” – die baie bekende openingsvers van Plektrum. Waarna sou Botha dan verwys?

Benewens die tydskrifte wat Amanda Botha hier bo noem, wys JC Kannemeyer daarop dat vroeë Cussons-gedigte ook in Die Taalgenoot, Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, Naweek en NUSAS verskyn het (Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur II, Academica, 1983, p 197). Was Botha hiervan bewus?

In die “Verantwoording” lees mens ná die bronne-opgaaf die volgende: “Hierbenewens is nog 46 voorheen ongebundelde, ongepubliseerde verse gevind …” (pp 649-650). Die vraag is uiteraard: Waar? Daar is darem dié troos: “Al haar werk – ook onvoltooid – lê vir bona fide-navorsers ter insae by NALN in Bloemfontein en in die Dokumentasiesentrum van die Universiteit van Stellenbosch se JS Gericke Biblioteek” (p 651). Maar dit is sekerlik nie net “bona fide-navorsers” wat belangstel in die oorsprong en datering van gedigte wat nou vir die eerste keer gebundel is nie.

Die verwarring oor die bronne van Sheila Cussons se ongebundelde gedigte word groter as ’n mens in Amanda Botha se “Verantwoording” by Die asem wat ekstase is – ’n keuse uit haar nie-religieuse poësie deur die digter en Amanda Botha (Tafelberg, 2000) lees: “Die paar vroeë ongepubliseerde verse wat hier ingesluit word, is in briewe tussen die digter en DJ Opperman gevind. Hulle is geskryf tydens Sheila se studiejare aan die Universiteit van Natal.” Die (gedateerde) verse waarna sy verwys is “Anaesthesia” (1944), “Hindoetempel” (1944) en “Hooimied” (1945). Die eerste twee gedigte staan egter in Stiebeuel (1946). Slegs “Hooimied” was dus met die verskyning van Die asem wat ekstase is nog “ongepubliseer”. As die genoemde drie gedigte werklik uit briewe kom wat Cussons tydens haar studiejare geskryf het, is die datering verkeerd. Volgens JC Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur II (p 196) het sy alreeds in 1942 die graad BA. in Skone Kunste aan die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg behaal.

By vyftien gebundelde gedigte is veranderings aangebring – “soos die digter dit self in herdrukeksemplare aangeteken het” (p 650). Die gedigte word dan gelys met slegs ‘n vae aanduiding van die wysiging: hoofletter, aksent, veranderde slotreëls, komma, woordvervanging, ensovoorts. Die belangstellende leser wat nie al Cussons se digbundels besit nie, sal dus nooit weet wat presies verander is nie. Volgens die reëls van die edisie-tegniek is sulke ongeërgde omgang met variante totaal taboe.  

Amanda Botha sluit haar “Verantwoording” by die Versamelde gedigte soos volg af: “Dié volledigs moontlike bundeling van haar nagelate werk bring nuwe aspekte van Sheila Cussons se digterskap na vore. Met Versamelde gedigte is haar oeuvre voltooi” (p 651). Tog nie. In 1985 het die vertalings van haar gedigte by Tafelberg verskyn as Poems – A selection translated by the poet. Elke vertaling is inderwaarheid ‘n nuwe skepping, en dit is net soveel deel van haar oeuvre as die oorspronklike Afrikaanse verse. Hierdie vertalings was waarskynlik ook die stimulus vir haar Engelse gedigte in Die knetterende woord (1990). Cussons het self ‘n presedent geskep deur haar Engelse vertaling van “Die populierbos” uit Die skitterende wond van1979 as “The Poplar Grove” in te sluit in Die knetterende woord. (Hierdie vertaling is nie opgeneem in Poems nie.)

Cussons se oeuvre is om nog ‘n rede onvoltooi. Uit ‘n totaal van 143 is 72 ongebundelde gedigte (dws die helfte) vir die Versamelde gedigte gekies. Hierdie keuse is gedoen deur Petra Müller en George Louw, “met insette van Wium van Zyl” (p 650). Ek kan my voorstel dat ‘n ander kombinasie keurders met ‘n heeltemal ander keuse vorendag sou kom. Weer eens sidder die edisie-kundiges! 

Sheila Cussons is een van die groot digters in Afrikaans. Haar nalatenskap verdien beter as hierdie slordige behandeling deur haar literêre eksekutrise en uitgewer.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Antonia du toit

    Ek is op soek na die geskiedenis van Shiela Cussons. My dogter is in graad ag by Bloemhof en doen 'n taak oor haar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top