Vrouedag-skryfkompetisie: Ma

  • 0

Moeder moeksie my onthou-jy-nog-ma
Jy het altyd die blomkomberse van jou liefde
Vir ons uitgesprei
Jou Jesus-bid sag om ons ingevou
Tot ons warmlyf ons lê kry
In jou sagpraat stories van ver onthou …
Met jou witnagrok langvlegsel bid
Bind jy ons seerknie-dae
Saggies vas
Jou uie en borrie hande
Kerk ons in
As die groureën teen die ruite slaan
Word ons jou klein gemeentetjie
Aan moedersknie geleer –
Moeder moeksie my onthou-jy-nog-ma
Voor ons voete rol jy tapyte in die sterre oop
En leer ons katjievoet
Deur die dorings en donkerte loop
Jou rooiblomrok is vir my
Huistuin
Waarin ek die geure van die liefde kry

Moeder-moeksie my onthou-jy-nog-ma
Jou hare het wit geword
En die klein-eend het spoortjies
Oor jou gesig kom loop
Oor jou voorkop streel ek wit katjiepierings
En sê vir almal suutjies praat
Vir my onthou-jy-nog-mamma, my onthou-jy-nog-maat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top