Heil die Leser! ’n Oorsig van wetenskapkommunikasie

  • 5

Nini Bennett-Moll skryf voortaan ’n nuwe boekrubriek vir LitNet. Hier onder is die eerste aflewering.


Heil die Leser!: ’n Oorsig van wetenskapkommunikasie

“Somewhere, something incredible is waiting to be known.” – Carl Sagan

Fox Mulder se ikoniese monoloog aan die begin van die tweede seisoen van The X-files resoneer regdeur die reeks:

We wanted to believe. We wanted to call out. On August 20th and September 5th, 1977, two spacecraft were launched from the Kennedy Space Flight Center, Florida; they were called Voyager. Each one carries a message. A gold-plated record depicting images, music, and sounds of our planet, arranged so that it may be understood if ever intercepted by a technologically mature extraterrestrial civilization. Thirteen years after its launch, Voyager I passed the orbital plane of Neptune, and essentially left our solar system. Within that time, there were no further messages sent, nor are any planned. We wanted to listen. On October 12th, 1992, NASA initiated the high resolution microwave survey – a decade long search by radio telescopes scanning 10 million frequencies for any transmission by extraterrestrial intelligence.

’n Belangrike tema in The X-files is die verkenning van die ruimte, en die soektog na intelligente lewe elders in die multiversum. Die karakters Mulder en Scully kom voor verskeie raaiselagtige uitdagings in hulle soeke na die waarheid te staan.

Ek het ook nog nooit ’n vrou so vinnig sien hardloop met ’n paar hoëhakskoene aan soos agent Scully nie. “Maar van waar, Gehasi?”, dié verwysing na die ’90’s se televisiereeks, kan die leser seker vra. Wel, skynbaar het geen ander karakter jong meisies só geïnspireer om in die mediese veld en die wetenskappe te studeer as juis Dana Scully nie.

Wat mens bring by die begrip wetenskapkommunikasie, wat vereenvoudigend verwys na die wyse waarop komplekse wetenskaplike beginsels en begrippe op ’n verstaanbare manier aan “gewone” mense, leerders en Jan Publiek gekommunikeer word.

As deel van wetenskapkommunikasie is daar die publikasie van boeke waarin die abstraksies in die wetenskappe gepopulariseer word. ’n Voorbeeld is Peet van Schalkwyk se So werk die natuur eintlik! wat onlangs by Naledi verskyn het, en wat my baie vreugde verskaf het. Van Schalkwyk is goed onderlê in die skryf van wetenskapkommunikasielektuur, en soos elke skrywer wat sy sout werd is, ken hy die truuks.

Meer hieroor later. 

Studente wat in die wetenskappe studeer, kla dikwels dat hulle dosente sukkel om hulle kennis oor te dra – selfs senior akademici. Noem dit wat jy wil: Wetenskapkommunikasie is ’n noodsaaklike vaardigheid – én literêre gawe. Bekommerde ouers sal ten duurste betaal vir ekstra wiskunde- en wetenskapklasse, en dis gewoonlik die geval wanneer Jannie soos ’n vink aan ’n tak swaai, op die punt om te druip; óf wanneer Jannie daardie gesogte onderskeiding wat net buite sy bereik bly, wil behaal.

My man, Mellet, raak nostalgies wanneer hy begin vertel van Johan Botha, een van die pioniers van die ingenieursberoep in Suid-Afrika. Botha was getroud met die legendariese literator Elize Botha. Johan Botha het met mening die mite dat ingenieurs nie kan spel (of skryf) nie, die nek ingeslaan. Tydens Mellet se tweede jaar het Botha as deel van UP se kurrikulum ’n vak aangebied genaamd Kommunikasie 210, wat inderwaarheid wetenskapkommunikasievaardighede betrek het. Dit het ten doel gehad om ingenieurstudente se skriftelike en verbale vaardighede op standaard te kry. Hulle moes opstelle oor ’n wetenskaplike onderwerp skryf, en Botha sou dit soos ’n stuk skeppende skryfwerk nasien. In Afrikaans én Engels, en die tydsgewrig waarna Mellet verwys, is die ’80’s. Die studente moes ook ’n voordrag oor ’n wetenskaplike onderwerp lewer, en hulle taalgebruik is eweneens streng geëvalueer. 

’n Paar studente het behoorlik hulle moses teëgekom, want Botha sou nie gehuiwer het om iemand te druip nie!

Hierdie model, wat as snypunt tussen die wetenskappe en die lettere dien, is ook deur die bekroonde digter en skrywer Ken Barris, voorheen verbonde aan KSUT, nagevolg in ’n vak wat studente in wetenskapkommunikasievaardighede onderrig. Dan dink ’n mens aan wyle PC (Pierre) Haarhoff, kernfisikus en professor in meganiese ingenieurwese wat oor ’n breë spektrum skryfwerk, van tegniese akademiese artikels tot wetenskapfiksie, wetenskapkommunikasie bepleit het. Haarhoff was ’n bekroonde kortverhaalskrywer en die broer van die digter Melanie Grobler.

’n Hedendaagse voorbeeld van ’n wetenskapkommunikeerder ter plaatse is Adriana Marais, ’n teoretiese fisikus wat die voordele van die kolonisering van Mars propageer. Marais bly siele wen vir die wetenskappe met haar YouTube-kanaal en TED-praatjies.

Daar bestaan in Suid-Afrika inderdaad ’n paar visioenêre pioniers wat al vir ’n geruime tyd delf in die onskatbare potensiaal wat wetenskapkommunikasie bied.

Sedert die koms van die Vierde Industriële Revolusie die afgelope dekade het daar ’n bloeitydperk in tegnologiese vooruitgang aangebreek. Hierdie skaars akademiese vaardighede staan bekend as STEM, ’n akroniem vir “science, technology, engineering, mathematics”. Daar het intussen stemme opgegaan dat leerders en studente se skeppende vaardighede óók as belangrik geag moet word binne ’n groter interdissiplinêre benadering, of STEAM, waar die “A” staan vir “arts”. Suid-Afrika het nie nog meer regslui, letterkundiges of sielkundiges nodig nie, maar afgestudeerdes wat in die sogenaamde skaars vaardighede spesialiseer. Faktore soos werkskepping, hernubare energie en ekonomiese groei is van kardinale belang vir die toekoms; en die belangrikheid van wetenskapkommunikasie word gereeld beklemtoon. Ekspo’s, demonstrasies en uitstallings, wat die bou van dioramas insluit, asook die popularisering van die wetenskappe vorm die eerste hoeksteen om ’n voornemende wetenskaplike of ingenieur na sy latere beroep te lok. Die vader van wetenskapkommunikasie, Carl Sagan, wat dikwels gekritiseer is vir sy benadering om die wetenskappe te populariseer, het inderwaarheid die weg gebaan vir hierdie moderne benadering ten opsigte van verkenning. 

Wetenskapkommunikeerders het samevattend ten doel om die breë publiek se begrip en waardering vir wetenskap, ingenieurswese en tegnologie te bevorder. Laasgenoemde fokus op uitreikprogramme, wetenskapfeeste en mediabetrokkenheid om wetenskap nader aan die mense te bring.

Die opkoms van digitale media en sosialenetwerkplatforms het nuwe geleenthede oopgemaak vir die betrokkenheid van leke, wat die wetenskappe meer toeganklik en interaktief maak. Praktiese inisiatiewe soos ScienceTubeSA, ’n YouTube-kanaal wat ingespan word vir die vertoon van Suid-Afrikaanse wetenskaplike prestasies, weerspieël die vernuwende maniere waarop wetenskapkommunikeerders diverse gehore bereik.

COVID-19 het die kritieke belang van doeltreffende wetenskapkommunikasie beklemtoon. Waninligting ten opsigte van Covid en entstowwe het tot ’n verdraaiing van die werklike gevare van die virus gelei. In reaksie hierop het Suid-Afrikaanse wetenskapkommunikeerders hul pogings opgeskerp om betroubare inligting te verskaf, waninformasie te beveg, en die publiek te betrek by kwessies wat verband hou met gesondheid en wetenskap. Dit is in noodsituasies soos hierdie waarin die waarde van wetenskapkommunikasie as absoluut noodsaaklik onderstreep word, en nie bloot as ’n akademiese luukse nie. Die behoefte om kennis te sosialiseer en die wetenskap meer toeganklik vir alle burgers te maak; om wetenskap en tegnologie in die aanpak van die land se sosio-ekonomiese uitdagings en die bou van ’n kennisgebaseerde ekonomie te rig – dít is die langtermyngevolg en sleutelkomponent van wetenskapkommunikasie.

Wetenskapkommunikasie as literêre genre

Op 14 Februarie 1990 is die laaste foto’s van Voyager 1 ontvang toe dit na die aarde teruggekyk het op ’n verstommende afstand van 5,9 miljard km. Dit het ’n blou kolletjie ingesluit. “The pale blue dot” is seker een van die mooiste odes wat ooit oor ons nat, blou planeet geskryf is. Hier volg ’n uittreksel:

Look again at that dot. That’s here. That’s home. That’s us. On it everyone you love, everyone you know, everyone you ever heard of, every human being who ever was, lived out their lives. The aggregate of our joy and suffering, thousands of confident religions, ideologies, and economic doctrines, every hunter and forager, every hero and coward, every creator and destroyer of civilization, every king and peasant, every young couple in love, every mother and father, hopeful child, inventor and explorer, every teacher of morals, every corrupt politician, every “superstar”, every “supreme leader”, every saint and sinner in the history of our species lived there – on a mote of dust suspended in a sunbeam.

Aan die woord is die Amerikaanse sterrekundige, ruimtewetenskaplike, kosmoloog en skrywer Carl Sagan. Hy het bekendheid verwerf vir sy wetenskaplike navorsing oor die moontlikheid van buiteaardse lewe – maar dis met sy televisiereeks Cosmos: a personal voyage dat hy as huishoudelike naam verewig is. Kykers sal Sagan onthou as die sjarmante en welsprekende aanbieder, kenmerkend met ’n mosterdkleurige corduroybaadjie en bypassende rolnektrui. Dink ’n mens aan hierdie intellektuele reus, dan dink jy aan die wyse waarop hy komplekse begrippe op byna hipnotiese wyse kon kommunikeer en selfs verromantiseer. Dit is duidelik dat Sagan die liefdesverhouding tussen die wetenskappe en poësie gesnap het. As wetenskapkommunikeerder par excellence het hy nié binne die konvensionele begrensings van tradisionele vakgebiede gedink nie. Hy was skrywer, medeskrywer of redakteur van meer as 20 boeke en 600 wetenskapgeskrifte, maar word ook onthou vir sy populêre wetenskapfaksie en -fiksie soos The dragons of Eden: speculations on the evolution (1977); Broca’s brain: reflections on the romance of science (1979); en Pale blue dot: a vision of the human future in space (1994). Sy roman Contact (1985) is tot film verwerk. Sagan het sy kennis van die ruimte- en die geesteswetenskappe met leke- sowel as akademiese gehore gedeel. Ten spyte van kritiek deur sommige tydgenote dat hy slegs op die popularisering van die wetenskappe gefokus het, het hy ’n reuse bydrae gelewer tot wetenskaplike bewusmakingsveldtogte. Trouens: As wetenskapkommunikeerder was hy ook betrokke by die ruimtesendings van die Mariner-, Pioneer- en Voyagerreekse.

Sagan is bekend en geliefd om sy buitengewone taalvaardighede: Nie net was hy ’n veelsydige wetenskaplike nie; hy was ook literêr begaafd. “He was, quite simply, the best science educator in the world this century.” Só beweer Yervant Terzian, wat op ’n stadium die hoof van Cornell-universiteit se sterrekundedepartement  was. Sagan word onthou vir sy besondere poëtiese aanslag as wetenskapkommunikeerder. Dit is interessant om te noem dat sy fassinasie met die kosmos allereers, vóór sy studiejare, gevorm is deur die poësie van groot digters en die musiek van die sfere: ’n residu wat lewenslank teenwoordig sou wees in sy werk. Die tweede helfte van die 20ste eeu was “die goue eeu” wat gekenmerk is deur kosmiese ontdekkings, en Sagan was waarskynlik die verteenwoordiger van dié tydsgewrig. Hy het in sy leeftyd sowel as postuum ’n magdom toekennings vir sy werk ontvang, onder meer die Pulitzer-prys vir niefiksie vir The dragons of Eden in 1978.

Ander wetenskapskrywers wat wetenskapfaksie as poëtiese prosa aanbied, is die ekoloog en mariene bioloog, Rachel Carson, met haar blitsverkoper Under the sea wind: a naturalist’s picture of ocean life (1941), en die bosboukundige Peter Wohlleben, met sy wetenskaplik-poëtiese besinning oor bome, The hidden life of trees (2015). Dit is insiggewend dat ook die tradisionele lesers van digkuns kopers van poëtiese wetenskaplektuur word; die genrevervaging skep inderdaad nuwe moontlikhede vir skrywers, lesers en uitgewers van hierdie hibriede, wondermooie lektuur. 

’n Alternatiewe stem as wetenskapkommunikeerder was dié van die 15-jarige Greta Thunberg, wat as kind wêreldleiers uitgedaag en haar laat geld het téén die risiko’s van klimaatsverandering. Ongelukkig het die koms van COVID-19 haar stem gestil. Thunberg is egter ’n interessante geval, aangesien sy effektief Generasie Z bereik het met haar toesprake en skrywes waarvoor sy talle toekennings en bekronings ontvang het.

Die lys invloedryke moderne wetenskapkommunikeerders sluit in die 98-jarige David Attenborough, Neil deGrasse Tyson, Michio Kaku en Stephen Hawking (reeds oorlede).

Dan moet ons nie vir Richard Dawkins vergeet nie. Ongelukkig is die meeste lesers van hom bewus weens die veldtog wat hy teen bygeloof en magiese denke by wyse van geïnstitusionaliseerde wêreldgodsdienste (en skyngodsdienste, byvoorbeeld die New Age-beweging) voer. Dit is maar ’n gegewe dat debatte oor ’n godheid (al dan nie), wetenskaplektuur vergesel – en immer uit Pandora se boks sal spring. ’n Uitgebreide metafoor word geaktiveer as die draer van ’n storie in Dawkins se River out of Eden (1995) wanneer daar van dié konseptuele troop in “the river of genes” gebruik gemaak word. Volgens die skrywer se beskouing oor evolusie kan hierdie rivier met verloop van tyd vertak. Hierdie vertakkings kan uitmekaar dryf om nuwe spesies te vorm, of die takke kan opdroog (uitsterf), of die takke kan herhaaldelik verdeel en bly eskaleer in die 30 miljoen takke soos ons dit vandag ken.

’n Afrikaanse voorbeeld van ’n belangrike werk binne dié subgenre is die wetenskaplik-poëtiese narratief Die groot gedagte: abstrakte weefsel van die kosmos (1998) deur Gideon Joubert, ’n werk wat bekroon is met die Andrew Murray-prys en die Insig-prys vir Afrikaanse niefiksie. Joubert put mildelik uit die wêreldletterkunde en poësie – en slaag daarin om ’n sinvolle simbiose tussen die twee velde te bewerk. 

Wanneer ons praat oor wetenskapkommunikasie as ’n literêre subgenre, verwys ons na werk wat op wetenskaplike idees fokus, maar geaktiveer word met die stilistiese elemente van letterkunde. Die gebruik van byvoorbeeld stories (narratiewe), metafore, allegorieë, fabels, gelykenisse, mites en volkskuns speel ’n belangrike rol in hierdie tekste. 

Wetenskapkommunikasielektuur is ’n hibriede genre waarin die wetenskap deur die lens van letterkunde veel méér as ’n liggaam van kennis word: Dit word ook ’n soeke na oorsprong, geloof en menslike interafhanklikheid; en dit word ’n bron van inspirasie én ’n katalisator vir die etiese dimensies wat die wetenskappe bied. 

So werk die natuur eintlik! as voorbeeld van wetenskapkommunikasielektuur

So werk die natuur eintlik! Tarantukan se verbeeldingsreise deur Peet van Schalkwyk.

Uitgewer: Naledi.

Prys: R275

Hierdie publikasie is befonds deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Peet van Schalkwyk het dwarsdeur sy loopbaan sy merk as wetenskapkommunikeerder gelaat. Hy verwerf die kwalifikasies BIng (Siviel), MSc (Fisika) en PhD (Filosofie en Opvoedkunde). Hy was medestigter van die Eksploratorium by die Universiteit van Pretoria in 1978, asook die stigter van die Wetenskaptuin by die NWU in 1986. ’n Groot aantal skole besoek gereeld hierdie sentrums waarin ’n belangstelling in die wetenskappe by besoekers gekweek word.

Van Schalkwyk is die ontvanger van ’n TWAS-UNESCO toekenning in 2012, en ’n finalis vir die NSTF-BHP Billiton Award in 2013. Hy dien as voorsitter van die Vereniging vir Wetenskapsentrums (SAASTEC) en lewer gereeld demonstrasies en aanmoedigingspraatjies oor natuurverskynsels by Sasol TechnoX. Hy het ’n reeks animasieprodukte in wiskunde, wetenskap en tegnologie ontwikkel wat internasionaal op AppStore verkoop word. 

So werk die natuur eintlik! is geskryf vir lesers van alle ouderdomme, nie net leerders nie. Die werkinge van die natuur word belig aan die hand van 49 kort vertellinge wat as kort verhaaltjies of sketse aangebied word, vergesel van toepaslike en bekoorlike grafika. In elke verhaal word die ontdekking van die een of ander wetenskaplike wonder aan die hand van ’n avontuur belig. Daar is die hoofkarakter (waarskynlik die verteller, of Van Schalkwyk self) wat met die hulp van sy alter ego, Tarantukan, en sy magiese towermuntstuk op verskeie ekspedisies en ontdekkingsreise vertrek. Die harde feite van die wetenskap, en hoe die werklike wêreld gerat is, word met die bekoorlikheid van fantasie aangebied.

Daarmee skep die skrywer ’n sprokieswêreld vir die nuuskierige leser, vir diegene wat belangstel in wetenskaplike natuurverskynsels. Hierdie verbeeldingsreise kom in verskillende gedaantes voor. Daar is byvoorbeeld karakters uit die mitologie en volksverhale; uit wetenskaplegendes; uit fabels, en selfs spookstories. Tarantukan se subjektiewe insigte oor die werking van die wêreld word telkens uitgedaag, en Van Schalkwyk beloon die leser deur op verrassende wyse die tradisioneel “eksakte” feite van die wetenskappe as ’n vorm van magie aan te bied.

Só leer Tarantukan byvoorbeeld van riviere wat opdraand vloei; dat die maan af beweeg as hy opkom; dat hy op ’n fiets met vislynspeke kan ry; dat sonstrale nie uiteenloop soos dit met sonsopkoms lyk nie; dat sy badkamerskaal vir hom jok; en dat sy twee oë nie dieselfde reënboog sien nie.

Tarantukan dra ’n goue towermunt wat hom betyds waarsku wanneer sy verbeelding op pad is. Hy hoef die muntstuk net te vryf wanneer hy wysheid nodig het.

Die werk word bevolk met ’n rykdom van magiese karakters, soos geneem uit verskeie tradisies en oertradisies van die mensdom se vertelkuns. Dit is nie net die leser se kennis van die wetenskappe wat met die lees van hierdie werk verbeter nie, maar ook kennis van die Griekse, Romeinse en Noorse mitologieë. Met So werk die natuur eintlik! bevestig Van Schalkwyk dat hy by ’n pedagoog, maar ook skrywer en wetenskapkommunikeerder van formaat is. Die werk beweeg op die snypunt van die wetenskappe en literatuur; en die leser mag verras word deur Van Schalkwyk se hantering van literêre tegniek. Die goue muntstuk byvoorbeeld simboliseer die transaksionele oordrag van kennis; mag wat oor generasies strek; maar ook spirituele verheldering en transformasie. In die gedeelte “Ten slotte” (bl 163) noem Van Schalkwyk dat hy van die gegewens wat in die boek beskryf is, persoonlik ervaar het: Hy het ’n akkerboom gesien wat deur weerlig oopgekloof is; hy het die middernagson by Rovanimi gesien; hy het die werkende model van ’n girokragstasie gebou; hy het in ’n trein oor sy klein radio’tjie gehoor hoe Neil Armstrong sy beroemde woorde direk van die maan afgesê het, ens. Hy verstaan dat die mens ’n narratiewe wese is, en dat ons sin maak uit die wêreld deur storievertelling.

Uiteindelik deel die wetenskap en letterkunde dieselfde siening, om David G Haskell aan te haal: “There can be no separate literature of science because the aim of science is to discover and illuminate truth, which is also the aim of literature.”

  • 5

Kommentaar

  • Prof M Labuschaigne

    Absoluut fassinerend! Só bly oor hierdie belangrike boodskap, Nini. Die mistiekheid van die wetenskap kan effeketief op hierdie manier ontsluit word.

  • Marlies Taljard

    Baie interessante rubriek, Nini. Ek het in my loopbaan dikwels opgelet dat studente in die harde wetenskappe (veral ingenieurs) dikwels beter skryf as dié in die Geesteswetenskappe. (En dink maar aan Einstein se wonderskone Duits.)
    Jy praat oor prof Botha. Prof Skinner van UP was net so streng. Een van my laerskoolmaats herinner my nou die dag weer daaraan dat ek mos in ons eerstejaar vir hom 'n opstel in Engels geskryf het wat hy in Chemiese Ingenieurswese vir Skinner moes inhandig. Skinner skryf toe vir hom in groot rooi letters bo-oor die opstel dat hy oor 'n week sy eie opstel moet inhandig in sy eie Engels.

  • Rina Cascione

    Wonderlik en baie dankie Nini. En al die belangrike agtergrond voor die bespreking van die boek.

  • Peet van Schalkwyk

    Nini, baie dankie vir die resensie van my boek en die agtergrond en inligting oor wetenskapkommunikasie. Ek waardeer dit regtig baie.
    Die leser sal nie maklik agterkom nie, maar daar skuil ‘n stuk diep filosofie in die agtergrond van elke storie, naamlik die ontmaskering van mense se denkraamwerke. Byvoorbeeld, in ons daaglikse bestaan dink ons almal in terme van ‘n plat aarde! Stry!

    Die boek het gegroei van eenvoudige verduidelikings aan die begin tot uiteindelik fantasie verbeeldingsvlugte in die finale produk. Die draaipunt het gekom toe ek een aand op Stoepstories na Gertjie Odendaal se humoristiese verbeeldingsvlugte geluister het.
    Ek hoop die lesers geniet my boek!

  • Baie dankie Nini en LitNet. Hierdie inisiatief gaan goeie vrugte lewer. Ek ken Sagan se COSMOS baie goed en het op skool al ingeteken op tydskrife soos Scientific American. Toe ek tien was, het iemand my pa ingeteken op National Geographic. Ons skool het gereeld die Archimedes tydskrif ontvang, maar ek dink die bestaan nie meer. Hierdie artikel het my op n nuwe spoor van wetenskapliteratuur geplaas.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top