Heil die Leser!: Vertaalkuns as tweespraak – Mario Relandini en Rina Cascione

  • 2

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Rina Cascione (foto: verskaf)

1

Op 91 skyn die digter en vertaler Rina Cascione se ster helder. Sy het op die ouderdom van 88 gedebuteer met ’n digbundel, Meer as woorde (Naledi, 2021), ’n bundel wat Johan Myburg getakseer het as “sprekend van deurleefde ervaring met fyn aanvoeling”. Daarna volg Kliniek van verlatenheid (Naledi, 2022), wat die vertaalde poësie van die Italiaanse digter Alda Merini insluit. Oor dié bundel skryf Joan Hambidge in haar resensie op Versindaba: “Vertalings verryk ’n letterkunde en hierdie een van Cascione is ’n belangrike deur wat oopgemaak word. [...] Die uitgewer en die vertaler het met hierdie bundel vir ons ’n belangrike bundel gegee. Vir nadink oor die ellende van digterwees én vertalingsproblematiek.” En onlangs verras Cascione met ’n vollengte- Afrikaanse vertaling van die Italiaanse skrywer, digter en joernalis Mario Relandini se roman Pater meus (Naledi, 2024).

Maar wie is hierdie merkwaardige digter en vertaler?

Catharina (Rina) Lichthart Cascione (née Van der Merwe) is op 12 Oktober 1933 in Middelpos in die distrik Calvinia gebore. Haar vader was die bevelvoerder van die tweemanpolisiestasie wat die hele gebied bedien het. Haar moeder was ’n nooi Louw, en oupa Louw die eienaar van die plaas Groot Toren. Tog het die gesin vroeg reeds hartseer leer ken. Daar is drie kinders uit die Van der Merwe-huwelik gebore, maar die oudste seuntjie is op die ouderdom van sewe dae oorlede. Cascione se ouers is geskei voordat sy sewe geword het, en dit was uitdagende jare tydens die Groot Depressie. Cascione se moeder en die oorlewende twee susters het ’n onsekere bestaan gevoer: eers in Calvinia, waar hulle voorlopig by vriende ingewoon het, en daarna by ’n familielid wat weens werksverpligtinge dikwels verplaas is. So was Cascione ná haar verblyf op Middelpos en Calvinia in beide Keetmanshoop en Walvisbaai op skool.

Cascione se moeder het ’n pos as matrone van die skoolkoshuis in Postmasburg in die Noord-Kaap bekom. Na twee jaar daar het die gesin egter weer verhuis, na Springbok, waar die moeder se salarisvoordele aansienlik beter was. In Cascione se standerd 3-jaar is haar moeder met ’n vrygesel, Andries Swart, getroud. Hy was ’n kleurryke karakter en uitmuntende storieverteller wat op ’n kol tydens ’n jagtog in die Kalahari opgemerk het: “Ek sê vir jou ou swaer, toe ons so oor die bult kom toe bewe dit so van die bokke!”

Die gesin het weer verhuis – dié keer na Kimberley, waar Swart werksaam was. Aan die begin van Cascione se standerd 4-jaar was dit reeds die sewende skool wat sy bygewoon het.

Twee seuns, Hendrik en Kobus, is uit die Swart-huwelik gebore – Cascione se halfsibbe, dus. Nou was dit die tyd van die Tweede Wêreldoorlog, en die rimpeleffek van die oorlog was ook in Suid-Afrika voelbaar. Daar moes veral in stede vir voedsel soos vis tougestaan word. Cascione het dikwels ná skool gaan toustaan, want daar was ’n gesin van ses wat gevoed moes word. Daar was rantsoenering op suiker, botter, kaas en vleis ... maar as jou moeder die heerlikste vispastei in die vallei kan optower, dan is die toustanery ’n moet!

En wéér het die gesin verhuis – dié keer na Postmasburg, waar daar ’n matronepos vakant was met bykomende salarisvoordele.

........
En die noodlot het dit weer eens so bestem dat Cascione se loopbaan in musiek begin het.
........

Cascione het in Postmasburg haar skoolloopbaan hervat – standerd 7 – en ook daar gematrikuleer. Maar dié (latere) gerekende musikus het nie besef dat sy musiektalent het nie – sy wou graag wiskunde en ’n derde taal neem, maar weens die min getalle in die hoërskool is daar nie ’n derde taal aangebied nie, en die skoolrooster het dit só dikteer dat meisies nie wiskunde as vak mog geneem het nie! Sy het haar verlaat op musiek as vak, en begin klavierlesse neem – die noodlot het dit so bestem. Op daardie stadium het sy nog daarvan gedroom om ’n kleuterskoolonderwyseres te word.

Cascione se skryftalent is vroeg reeds opgemerk; sy kon tydens eksamens nie wag om die grammatikavraestel te voltooi en die opstel te skryf nie, en sy het in haar matriekjaar ’n gesogte prys in ’n landswye opstelwedstryd gewen. Sy het Camera obscura van Hildebrand as boekprys gekies omdat sy so baie van haar Nederlandse voorgeskrewe werk gehou het.

Cascione se skryftalent is vroeg reeds opgemerk. (Die foto is die eiendom van Rina Cascione, het nog nie elders verskyn nie en verskyn met haar skriftelike toestemming.)

Dit was veral met die behandeling van gedigte soos “Mabalêl” dat die taalgogga behoorlik gebyt het. Teen haar matriekjaar het Cascione geweet dat sy in tale wil studeer. Intussen het sy in die tweede kwartaal begin wiskundeklasse neem met die hoop op ’n hereksamen.

Sy het met groot verwagting ingeskryf vir ‘n BA-graad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, maar toe by die administrasiekantoor verneem dat haar matriekvakkeuse, selfs met ’n hereksamen in wiskunde, haar nie vir ’n graadkursus kwalifiseer nie. In ’n oogwink het haar toekomsplanne in duie gestort ... Maar, asof in ’n droom, het sy die klerk hoor sê dat haar musieksimbool haar wél toelating tot die Konserwatorium sou gee. Sy moes dus óf ’n kursus in musiek volg, óf matriek met ander vakke herhaal. En die noodlot het dit weer eens so bestem dat Cascione se loopbaan in musiek begin het.

By die Konserwatorium het sy met groot ywer begin klavier oefen en die aandag van haar klavierdosente getrek – sy het die kursus werklik geniet. Daar was egter heelwat van die praktiese komponent om in te haal omdat sy so laat met klavier begin het, maar die teoretiese vakke het vlot verloop.

Cascione se eerste musiekpos was by Tygerberg Hoërskool in die Kaap. (Die foto is die eiendom van Rina Cascione, het nog nie elders verskyn nie en verskyn met haar skriftelike toestemming.)

Cascione se eerste musiekpos was by Tygerberg Hoërskool in die Kaap. In 1965 het sy van koers verander en ’n musiekpos by ’n privaatskool in Oranjemund in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) aanvaar, hoofsaaklik omdat Anglo American uitstekende salarisse betaal het. Uiteindelik is haar ánder droom bewaarheid, en het sy vir ’n BA-graad by Unisa ingeskryf, aanvanklik met Duits en wysbegeerte as hoofvakke. En nou was die volgende droom op die horison: Sy het getrou elke maand geld gespaar, want sy wou in Europa verder gaan studeer.

In 1968 verhuis sy na Frankryk, waar sy in Strasbourg aan die Konserwatorium musiek studeer – en ’n nuwe wêreld in argitektuur en kuns het vir haar oopgegaan. Sy was veral beïndruk deur die individualiteit van die Franse studente; die meisies se eenvoud in kleredrag, waar daar nie op die uiterlike klem gelê is nie – bloot ’n grys romp, swart kouse en ’n trui in die winter. Stylvol en onopgesmuk. Haar hospita, madame Kien, was ’n joernalis en het vlot Duits gepraat – en sy het daarop aangedring om met Cascione Duits te praat, aangesien sy met Duits I besig was. Madame Kien se biblioteekmure was van die vloer tot die dak vol boeke gepak, en die jong Cascione kon enige boek van haar keuse lees. Só het sy per geleentheid, terwyl sy siek was, Tostoi se Oorlog en vrede in Duits gelees.

In 1968 verhuis sy na Frankryk, waar sy in Strasbourg aan die Konserwatorium musiek studeer. (Die foto is die eiendom van Rina Cascione, het nog nie elders verskyn nie en verskyn met haar skriftelike toestemming.)

Teen die einde van die akademiese jaar het sy ’n pianis met ’n besonder helder klankkwaliteit tydens ’n konsert hoor speel, en vasgestel dat hy by Louis Hiltbrand in Genève les geneem het. Cascione se volgende doelwit was om by dié befaamde leermeester musiek te studeer en sy het Hiltbrand gekontak, waarna hy haar genooi het om ’n somerskool by te woon waar sy vir ’n oudisie kon speel. Hiltbrand (1916–1983) was ’n gerespekteerde Switserse pianis, komponis, kritikus en dosent.

Louis Hiltbrand (1916–1983) was ’n gerespekteerde Switserse pianis, komponis, kritikus en dosent. (Die foto is die eiendom van Rina Cascione, het nog nie elders verskyn nie en verskyn met haar skriftelike toestemming.)

Cascione het van Strasbourg na Genève verhuis, waar sy twee en half jaar by die Konserwatorium by Hiltbrand onderrig ontvang het, en waar sy ook by die Conservatoire Populaire afloswerk gedoen het vir musiekonderwysers wat siek of met verlof was.

Aan die einde van 1971 het sy by die eertydse Pretoria Technikon (vandag TUT) ’n aanstelling as klavierdosent gekry. Kort voor haar vertrek terug na Suid-Afrika het die hoof van die Conservatoire Populaire haar geskakel en haar ’n permanente pos aangebied. Sy wou egter baie graag terugkeer Suid-Afrika toe en het eers láter besef hoe moeilik dit is om in Europa ’n pos by so ’n instansie te bekom!

Cascione het haar aanstaande Italiaanse man, Paolo Cascione, in ’n privaat hotel in Pretoria ontmoet. Hy was na ’n egskeiding reeds vir ongeveer ’n jaar weg uit Rome, en woonagtig in Suid-Afrika. Sy het een Saterdagoggend in die teekamer gaan tee drink toe ’n aantreklike man in tennisklere die vertrek binnestap en al die dames groet. Toe hy weg is, het een van die vroue opgemerk: “Now this is truly an exceptionally nice man.” Maar Paolo Cascione het net oë gehad vir een fyngeboude, blouoogdame, en ’n vriend in die hotel gevra om hulle aan mekaar voor te stel. Dit was liefde met die eerste oogopslag ... en die verliefde paartjie het na Rome vertrek om sy familie te ontmoet. Cascione het die volgende fase van haar lewe betree. Sy het dadelik geresoneer met die uitgaande temperament van die meeste Italianers; en daarmee saam is hulle uitermate familievas. 

Rina Cascione het haar aanstaande Italiaanse man, Paolo Cascione, in Pretoria ontmoet. (Die foto is die eiendom van Rina Cascione, het nog nie elders verskyn nie en verskyn met haar skriftelike toestemming.)

Cascione kon glad nie Italiaans praat nie, maar moes vinnig leer. Haar kennis van Frans het egter gehelp. Die egpaar se huistaal was jare lank Italiaans.

Musiek is ’n jaloerse minnaar wat min speling vir ander belangstellings laat. Wat die tydfaktor van lees betref, het sy haar hoofsaaklik tot die digkuns gewend onderwyl sy haar BA-graad voltooi het.

Gedurende Cascione se musiekloopbaan het sy ook klaviereksamens vir Unisa geëksamineer. Sy het gedien op die paneel van beoordelaars vir nasionale klavierkompetisies, sowel as op die keurpaneel van Unisa se internasionale klavierkompetisies. Sy het insgelyks klavier by kunswedstryde beoordeel.

Ná beide haar en haar man se aftrede het die egpaar jaarliks vir drie maande in hulle woonstel in Rome deurgebring, en dan van daar gereis na onder meer Madrid, Parys, Londen, Moskou en Sint Petersburg.

........
Uiteraard is daar dikwels kritiek op digkuns – maar musiek het haar die nodige dissipline geleer en dat ’n mens net kan verbeter deur kritiek as ’n leerkurwe te beskou. Die ritme en metrum in musiek het haar ook gehelp om ’n fyn oor in haar eie digkuns te ontwikkel.
........

Cascione se geliefde eggenoot is in 2013 oorlede. Klavierspeel en lees was baie terapeuties tydens hierdie treurfase, en sy het die begeerte ontwikkel om haar volgende droom na te streef, naamlik om gedigte te skryf. Sy het by ’n digkunsgroep aangesluit waarin sy weer haar liefde vir haar moedertaal, Afrikaans, kon voed. Uiteraard is daar dikwels kritiek op digkuns – maar musiek het haar die nodige dissipline geleer en dat ’n mens net kan verbeter deur kritiek as ’n leerkurwe te beskou. Die ritme en metrum in musiek het haar ook gehelp om ’n fyn oor in haar eie digkuns te ontwikkel.

Cascione het besef dat sy baie aanklank by vertaling vind toe sy vir haar BA-kursus eers ’n voorbereidende jaar in Duits moes doen. Die talle vertalings uit Duits in Afrikaans het haar soos ’n handskoen gepas. En toe die besef: Waarom nie uit Italiaans in Afrikaans vertaal nie? Sy vertaal hoofsaaklik omdat sy dit wat haar beïndruk, met ander lesers wil deel.

Pater meus is ’n kort roman wat Cascione uit Italiaans vertaal het. Sy het die teks vir die eerste maal by ’n familielid in Italië gelees en dadelik geweet dat sy dit wil – of móét – vertaal. Mario Relandini se weduwee het ’n eksemplaar van Pater meus aan haar geskenk. Maar Italiaanse vertaling bied sy eie uitdagings – met Pater meus het sy te staan gekom voor die langer Italiaanse sinne wat baie verskil van dié in Afrikaans. In vergelyking hiermee was die gedigte in Kliniek van verlatenheid van Alda Merini makliker om te vertaal, omdat die sinne in dié digter se poësie kort en kragtig is.

Daar is ongelukkig die turksvy van kopieregtoestemming, ’n proses wat baie lank kan duur en senutergend kan raak. Cascione het besluit dat die Italiaanse kortverhale, wat sy tans besig is om te vertaal, buite die bestek van kopiereg moet val. En al is Rina Cascione 91 jaar oud, het haar loopbaan as vertaler met Pater meus (2024) nou eers behoorlik momentum gekry. Sy geniet haar stokperdjie terdeë, en lesers sien uit na nog heelwat Italiaans-Afrikaanse vertalings uit haar pen.

By die bekendstelling van Pater meus by die Oude Leeskamer in Stellenbosch, met Nini Bennett-Moll, gespreksleier Jonathan Amid, Johan Coetzee (Naledi) en Rina Cascione (voor). Foto: verskaf

2

Pater meus deur Mario Relandini, uit die Italiaans vertaal deur Rina Cascione (Naledi, 2024)

Pater meus deur Mario Relandini. Uit die Italiaans vertaal deur Rina Cascione

Naledi, 2024

Pater Meus is ’n toeganklike en genietlike roman met ’n tydlose kwaliteit. Dit berig enersyds oor die drome en die harde werklikheid van die Tweede Wêreldoorlog waarmee die jeugdige protagonis, Marco, gekonfronteer word. Pater meus beteken “my vader” in Latyn, maar dit kan ook dui op ’n spirituele mentor soos ’n priester, of selfs op God-as-Vader. Mario Relandini het die roman in sy sewentigerjare geskryf, en hy kyk terug op sy jeugjare in ’n oorloggeteisterde Italië: sy diep liefde vir sy vader; die rol van Fascistiese politiek; die lot van Italiaanse burgerlikes; bombardemente; en die unieke perspektief van ’n seun wat inderhaas moes grootword en in tandem hiermee, die verlies aan onskuld. In hierdie opsig herinner Pater meus aan JG Ballard se roman Empire of the sun (1984), waarin die 12-jarige Jimmy Graham insgelyks tydens die Tweede Wêreldoorlog gestroop word van alle jeugdige illusies. Relandini se roman maak uit die staanspoor geen geheim daarvan dat die jong Marco se vader gaan sterf nie; en Pater meus is, naas gekoesterde herinnering, ook ’n testament aan een van die gesiglose helde van Italië – Marco se vader, wat ’n joernalis was. Uiteindelik word die ontslape vader verhef tot iemand met ontsterflike (goddelike) status, soos die dubbelbetekenis van die titel ook impliseer.

........
Dié roman is ’n moet-lees wat tot op die laaste bladsy ’n sekulêre gebed word aan ’n ouer wat nooit vergeet sal word nie.
.........

Die gruwels van die oorlog word deurlopend gejukstaponeer met die vaderfiguur wat bo alles uittroon en as betowerende memoires geboekstaaf word. Dié roman is ’n moet-lees wat tot op die laaste bladsy ’n sekulêre gebed word aan ’n ouer wat nooit vergeet sal word nie. Getrou aan die sober eenvoud van die bronteks vertaal Cascione die teks op ’n besonder helder, dog steeds poëtiese wyse. Die oorspronklike roman is met die Internasionale Letterkundeprys in 2014 bekroon en word allerweë bestempel as ’n klein juweel – en die vertaling in Afrikaans is inderdaad ’n belangrike toevoeging tot ons vertaalskat.

Let op die diafane en digterlike skoonheid van die volgende dele, en hoe die gebed aan die vader ’n omdigting van die Onse Vader word – en uiteindelik staan as ’n universele korrelaat vir enigeen wat ’n geliefde aan die dood moes afstaan (ble 110–1):

Twee dae tevore het dit gesneeu in Rome en ’n intense koue het alles net so in die begraafplaas bewaar. Die lang sipresse was wit, die struike en die tuine was wit, die grafte was wit en die onverskillige lug bo ons was wit. [...]

Pater meus, wat in die hemel is – ek weet nie watter hemel nie, dié van rustige saligheid of daardie stilte van ’n absolute niks – jou herinnering en my liefde vir jou sal tot aan die einde by my bly. Ek kan nooit die wil van daardie een wat jou van my weggeruk het, vergewe nie. As jy kan, gee my vandag die krag om sonder jou te lewe. Lei my nie in die versoeking om toe te gee aan smart nie. Bevry my van die angs wat my meer as vyftig jaar al teister. Amen.

Lees ook:

Heil die Leser!: Oor kortkuns, briewe en toesprake

Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels

Heil die Leser! Die omstrede Vance – en sy boeiende memoires

Heil die Leser! ’n Oorsig van wetenskapkommunikasie

  • 2

Kommentaar

  • Estelle Venter

    Boeiende stuk. Net: Maties het nog nooit ‘n BA-graad in Joernalistiek aangebied nie. Die Joernalistiek-departement, wat net nagraadse kursusse aanbied, is eers ‘n dekade of vier gelede in die lewe geroep.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top