
Hillbilly elegy deur JD Vance (Uitgewer: Harper Collins, 2016)
- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Hillbilly elegy
JD Vance
Uitgewer: Harper Collins, 2016
ISBN: 9780062300553
........
Die memoires is ’n dringende en ontstellende besinning oor die verlies van die “American dream” vir ’n groot segment van die VSA.
........
Met die aanloop tot die Amerikaanse presidentsverkiesing is daar ’n paar belangwekkende publikasies wat die kollig met hierdie historiese politieke gebeurtenis deel. ’n Mens dink aan Kamala Harris, die presidentskandidaat van die Demokratiese Party, se memoires, The truths we hold: an American journey, asook Gretchen Whitmer, die goewerneur van Michigan, se memoires, True Gretch: What I’ve learned about life, leadership, and everything in between. En Melania Trump se memoires, Melania. Na my mening is die mees evokatiewe – en belangrikste – onlangse werk in dié genre Hillbilly elegy deur JD Vance.
Vance is die Republikeinse Party se genomineerde visepresidentskandidaat. Nou moet die leser die boek met ’n oop gemoed benader. Ongeag die subjektiewe politieke affiliasies wat mens dalk mog koester, is dit allereers belangrik om te noem dat Hillbilly elegy vanuit ’n literêre oogpunt knap geskrewe en ontroerende memoires is. JD Vance was onlangs in die nuus tydens sy visepresidentsdebat met Tim Walz. En Vance het vir ’n beroering gesorg nadat hy erken het dat hy die samesweringsteorie dat die immigrantegemeenskap van Springfield en Aurora mense se katte en honde eet, gefabriseer het om die gesprek in die rigting van onwettige immigrante te swaai. Daar bestaan ook gegronde vrese dat Vance, as Trump se aangewese visepresident en handlanger, moontlik mog bydra tot die “volgende” opstand (soortgelyk aan die bestorming van die Capitol-gebou op 6 Januarie 2021). Of vrese dat hy niks sal doen om konflik te vermy sou daar geweldpleging uitbreek nie – want Vance het al meermale sy lojaliteit aan Trump in die openbaar bevestig en ook tydens die debat met Walz geweier om die vraag te beantwoord of Trump die verkiesing in 2020 verloor het, al dan nie.
Die leser wat Hillbilly elegy sonder vooroordeel mog benader, mag net aangenaam verras wees. Let op die volgende akkolades:
“The political book of the year” – Sunday Times
“You will not read a more important book about America this year” – The Economist
“A frank, unsentimental, harrowing memoir … A superb book” – New York Post
“I bought this to try to better understand Trump’s appeal … but the memoir is so much more than that. A gripping, unputdownable page-turner” – Evening Standard
“A riveting book” – The Wall Street Journal
“Essential reading” – New York Times.
Die werk is vir die eerste keer in 2016 gepubliseer en het weer skerp onder die soeklig gekom nadat Trump vir Vance aangewys het as sy visepresidentskandidaat. Die memoires word ook deur politieke ontleders bestudeer om te verstaan waarom die onderlaag van die VSA se bevolking vir Trump gestem het in 2016 en 2020, en moontlik weer vir hom mog stem.
Die uitgewer, Harper Collins het ’n paar weke gelede aangekondig dat hulle in die proses is om nog 650 000 kopieë van Hillbilly elegy te druk om in die vraag te voorsien. Binne ure nadat Donald Trump vir Vance aangewys het as sy visepresidentskandidaat, het dié memoires opgeskuif op Amazon se topverkoperlys.
JD, of James David, Vance is op 2 Augustus 1984 gebore. Hy staan bekend as ’n regse populis en is nasionaal-konserwatief. Vance is onder meer ’n Amerikaanse skrywer, waagkapitalis, politikus en voormalige Amerikaanse Marinier wat sedert 2023 as die junior Amerikaanse senator van Ohio dien. Hy is die eerste visepresidentskandidaat wat in die Amerikaanse Marinierskorps gedien het, sowel as die eerste millenniër.
Vance is gebore in Middletown, Ohio en het sy voorgraadse studies aan die Ohio State University voltooi. In 2013 het hy aan Yale se regskool gegradueer en later ’n Juris Doctor-graad in die regte verwerf. Hy het die Demokraties genomineerde Tim Ryan in die 2022-Amerikaanse-senaatsverkiesing in Ohio verslaan. Vance was aanvanklik gekant teen Donald Trump se kandidatuur in die 2016-verkiesing, maar het intussen ’n groot ondersteuner van hom geword. In Julie 2024 het Trump Vance as sy visiepresidentskandidaat in die 2024-presidentsverkiesing aangewys, en hy is amptelik op 15 Julie tydens die Republikeinse Nasionale Konvensie genomineer.
Hillbilly elegy beskryf Vance se grootwordjare in die Rust Belt se armoede, dwelmverslawing en die Appalachiese kultuur. Die boek is later tot film verwerk.
........
’n Elegie is ’n treursang oor ’n gestorwe persoon. Hiér is die persoon die jonge JD Vance wat sy lewe as hillbilly agtergelaat het.
........
Kom ons dubbelklik vir ’n oomblik op die titel van die memoires. In die Amerikaanse kultuur verwys hillbillies na mense wat in afgeleë, bergagtige streke van die Suide van die VSA woon, veral die bergagtige Appalachiese of Ozark-streke. Hulle het doelbewus isolasie van die groter Amerikaanse samelewing verkies. Baie hillbillies is Skotse en Ierse nasate van vroeë immigrante. Heelwat van hierdie mense het tradisioneel die voornaam William gehad, vandaar hillbilly. Die term het histories negatiewe konnotasies en is gebruik om die groep as ongeletterd, ongesofistikeerd, agterlik en arm af te maak, met ’n eenvoudige lewenstyl wat verband hou met landbou en ’n beperkte gemeenskapslewe, soos byvoorbeeld dié van trekarbeiders of kleinboere. Hillbillies is bekend vir hulle sterk familiebande, hulle liefde vir musiek soos bluegrass en country, en ’n diepgewortelde patriotisme en trots op hulle erfenis. Terwyl die term meermale lei tot negatiewe stereotipering en ook as wisselterm vir white trash of rednecks gebruik word, het sommige van dié mense in die onlangse verlede begin om die term te omarm as simbool van kulturele identiteit en trots. Heelwat Trump-ondersteuners uit die Amerikaanse platteland is hedendaagse hillbillies.
’n Elegie is ’n treursang oor ’n gestorwe persoon. Hiér is die persoon die jonge JD Vance wat sy lewe as hillbilly agtergelaat het.
Die Vance-geskiedenis begin hoopvol ná die Tweede Wêreldoorlog in Amerika. Die verteller (by implikasie Vance) se grootouers was brandarm en verlief en het noordwaarts van Kentucky se Appalachia-streek na Ohio verhuis, met die hoop om van hulle verskriklike armoede te ontkom. Die ouma en oupa het ’n middelklasgesin grootgemaak en uiteindelik sou hul kleinseun (die skrywer) by Yale gradueer – ’n konvensionele maatstaf vir uitnemendheid in terme van opwaartse generasionele mobiliteit. Maar soos die familiesage van Hillbilly elegy ontvou, besef die leser dat dit slegs die kort, oppervlakkige weergawe van die verhaal is. Vance se grootouers, tannie, oom, suster, en veral sy moeder het gesukkel met die eise van ’n nuwe middelklaslewe, en kon nooit heeltemal die nalatenskap van mishandeling, alkoholisme, armoede en trauma, wat so kenmerkend van die hillbillykultuur in Appalachia was, ontkom nie. Vance vertel in ondubbelsinnige terme hoe die demone van sy chaotiese gesinsgeskiedenis hom steeds teister. Die memoires is ’n dringende en ontstellende besinning oor die verlies van die “American dream” vir ’n groot segment van die VSA.
JD vertel van sy stormagtige grootwordjare in ’n disfunksionele gesin: Sy vader was gewelddadig en het sy moeder aangerand. Ná hulle egskeiding, toe hy ses jaar oud was, het ma Bev, JD en sy suster, Lindsay, gereeld verhuis – gewoonlik om ’n huis met Bev se nuwe minnaar te deel. Daar was baie minnaars; en elke nuwe verhouding het opnuut ’n siklus van huishoudelike geweld ontketen.
Bev was emosioneel erg onstabiel, alhoewel mense dikwels na haar hoë intelligensie verwys het. Sy was werksaam as verpleegster, maar het van die pasiënte se pynpille gesteel – net een van haar talle verslawings. Die verteller beskryf byvoorbeeld hoe sy met ’n paar rolskaatse deur die ongevalle-eenheid gejaag het toe sy bedwelm was (en daarna in ’n psigiatriese kliniek opgeneem is). By tye het sy vir JD wreed aangerand, en ná ’n insident waartydens sy probeer het om vir haar en JD te verongeluk met haar minibus, het die polisie die jong, skreeuende JD van haar weggeneem. Bev het ook gereeld vir JD gevra om vir haar urinemonsters te verskaf wanneer haar werkgewer haar vir die gebruik van dwelms wou toets. Later kon JD haar nie meer van hierdie urinemonsters voorsien nie, aangesien hy self dagga gerook het. Bev het kort-kort probeer selfmoord pleeg deur haar polse te sny of ’n oordosis dwelms te gebruik. Die jong JD se ouma (“Mamaw”) en oupa (“Papaw”) het ingegryp, en hy en Lindsay het by hulle grootouers in Middletown, Ohio gaan bly, wat volgens hom “beskawing” was (relatief tot Jackson, Kentucky, waar Bev en haar gesin op daardie stadium gewoon het). Maar Mamaw en Papaw sélf het ’n onstabiele en gewelddadige gesinsgeskiedenis – die verteller beskryf hoe Mamaw moeg geraak het vir Papaw se gedrinkery en een aand petrol oor hom gegooi het nadat hy uitgepass het, ’n vuurhoutjie getrek en op hom gegooi het. Gelukkig het een van die kinders die vlamme doodgeslaan en Papaw het slegs ligte brandwonde opgedoen. Interessant genoeg was Mamaw en Papaw pro-Demokraties, en het Papaw ’n bevredigende inkomste verdien as bloukraagwerker by die staalmaatskappy American Rolling Mill Company (Armco).
........
Vance lewer kritiek op regeringshulp soos koskoepons en welsynstoelae, en hoe dit sosiale disintegrasie en ekonomiese luiheid in Appalachia bevorder.
........
Die bose siklus is ongelukkig voortgesit, en JD en sy suster het teruggetrek na Bev – waar hulle bestaan gekenmerk is deur ’n tuimeltrein van huismoles, verslawing en chaos.
Nadat JD se skoolpunte begin tuimel het, hy dwelms gebruik en saam met een van sy stiefbroers by vandalistiese bendeaktiwiteite betrokke geraak het, het sy ouma hom opsluit gaan haal – hy moes homself regruk. Mamaw was ’n kanniedood, die enigste strooihalm van stabiliteit tydens sy onstuimige jeug. JD se wiskundepunte was swak, en hy probeer om ’n sakrekenaar wat hy vir skool benodig, in ’n winkel te steel, maar sonder sukses – hy word uitgevang – en Mamaw koop vir hom die sakrekenaar, iets wat sy glad nie kon bekostig nie. JD het wonderbaarlik, ná hierdie peperduur aankopie, die hoogste punt in wiskunde in sy klas behaal. Hierdie gebeure dien as kentering wat die res van sy lewe (ten goede) sou verander.
Vance lewer kritiek op regeringshulp soos koskoepons en welsynstoelae, en hoe dit sosiale disintegrasie en ekonomiese luiheid in Appalachia bevorder. Hy verwys na persoonlike ervarings: Terwyl hy, op Mamaw se aandrang, ’n middagwerk as ’n kassier in ’n kruidenierswarewinkel aanvaar het, het dit hom opgeval hoe welsynsontvangers op selfone praat, terwyl hy self nie een kon bekostig nie. Oor dié tydstip in sy lewe skryf hy (hoofstuk 9) só:
Mamaw encouraged me to get a job – she told me that it would be good for me and that I needed to learn the value of a dollar. When her encouragement fell on deaf ears, she then demanded that I get a job, and so I did, as a cashier at Dillman’s, a local grocery store. Working as a cashier turned me into an amateur sociologist. A frenetic stress animated so many of our customers. One of our neighbors would walk in and yell at me for the smallest of transgressions – not smiling at her, or bagging the groceries too heavy one day or too light the next. Some came into the store in a hurry, pacing between aisles, looking frantically for a particular item. But others waded through the aisles deliberately, carefully marking each item off of their list. Some folks purchased a lot of canned and frozen food, while others consistently arrived at the checkout counter with carts piled high with fresh produce. The more harried a customer, the more they purchased precooked or frozen food, the more likely they were to be poor. And I knew they were poor because of the clothes they wore or because they purchased their food with food stamps. After a few months, I came home and asked Mamaw why only poor people bought baby formula. “Don’t rich people have babies, too?” Mamaw had no answers, and it would be many years before I learned that rich folks are considerably more likely to breast-feed their children. As my job taught me a little more about America’s class divide, it also imbued me with a bit of resentment, directed toward both the wealthy and my own kind. The owners of Dillman’s were old-fashioned, so they allowed people with good credit to run grocery tabs, some of which surpassed a thousand dollars. I knew that if any of my relatives walked in and ran up a bill of over a thousand dollars, they’d be asked to pay immediately. I hated the feeling that my boss counted my people as less trustworthy than those who took their groceries home in a Cadillac. But I got over it: One day, I told myself, I’ll have my own damned tab.
I also learned how people gamed the welfare system. They’d buy two dozen packs of soda with food stamps and then sell them at a discount for cash. They’d ring up their orders separately, buying food with food stamps, and beer, wine, and cigarettes with cash. They’d regularly go through the checkout line speaking on their cell phones. I could never understand why our lives felt like a struggle while those living off of government largesse enjoyed trinkets that I only dreamed about. Mamaw listened intently to my experiences at Dillman’s. We began to view much of our fellow working class with mistrust. Most of us were struggling to get by, but we made do, worked hard, and hoped for a better life. But a large minority was content to live off the dole. Every two weeks, I’d get a small paycheck and notice the line where federal and state income taxes were deducted from my wages. At least as often, our drug-addict neighbor would buy T-bone steaks, which I was too poor to buy for myself but was forced by Uncle Sam to buy for someone else. This was my mind-set when I was seventeen, and though I’m far less angry today than I was then, it was my first indication that the policies of Mamaw’s “party of the working man” – the Democrats — weren’t all they were cracked up to be.
Political scientists have spent millions of words trying to explain how Appalachia and the South went from staunchly Democratic to staunchly Republican in less than a generation.
Some blame race relations and the Democratic Party’s embrace of the civil rights movement. Others cite religious faith and the hold that social conservatism has on evangelicals in that region. A big part of the explanation lies in the fact that many in the white working class saw precisely what I did, working at Dillman’s. As far back as the 1970s, the white working class began to turn to Richard Nixon because of a perception that, as one man put it, government was “payin’ people who are on welfare today doin’ nothin’! They’re laughin’ at our society! And we’re all hardworkin’ people and we’re gettin’ laughed at for workin’ every day!”
Vance se skryfstyl is reguit en sonder pretensie, wat sy memoires toeganklik maak vir ’n wye lesersgehoor. Sy stem is eg en hy skryf openhartig oor sy trauma en mislukkings.
Tog het Hillbilly elegy, ten spyte van die aanvanklike wegholsukses, aansienlike debat ontlok, veral oor die uitbeelding van armoede en die rol van persoonlike verantwoordelikheid. Kritici voer aan dat Vance se fokus op individuele aanspreeklikheid die strukturele kwessies – soos sistemiese ongelykheid en onvoldoende maatskaplike dienste, wat bydra tot die armoedesiklus in gemeenskappe soos syne – oor die hoof sien. Ander beskou die memoires as ’n nodige wekroep, geskryf vanuit ’n binnestandersperspektief op ’n demografie wat dikwels deur hoofstroom-Amerika geïgnoreer of misverstaan word.
........
In Hillbilly elegy is daar ’n digotomie in die verstellerstem: Die jong JD kyk terug op sy lewe en vertel die storie in kleur en geur en sleng net soos dit was. Die volwasse JD lewer sosiale kritiek; die stem is gesofistikeerd, selfs akademies. Lesers kan aanklank vind by hierdie tweestemmige aard van die memoires – of nié.
........
Die dubbele aard van dié memoires, wat as’t ware ’n Janus-karakter aanneem, vertel die persoonlike verhaal van die verteller se familieprobleme, maar dit lewer ook fel kritiek op die groter kulturele en ekonomiese kwessies wat die landelike dele van die VSA in die gesig staar. Kritici het Vance onder meer daarvan beskuldig dat hy die werk geskryf het vanuit die oogpunt van ’n Silicon Valley-miljoenêr, en dat die werk nie veel dankbaarheid betoon teenoor diegene wat hom gehelp het om die sosiale leer te klim nie. Ek stem nie noodwendig hiermee saam nie, alhoewel ek begrip het vir die kritiek. Dis dalk interessant om te noem dat daar inderdaad iets dissosiatiefs aan Vance se identiteit en optrede is; mens neem byvoorbeeld die ommeswaai in politieke oortuigings as voorbeeld. In 2021 nog was hy een van Trump se felste kritici en het hy gesê hy hoop dat Trump kan insien hy het die verkiesing verloor; Vance het hom ’n “idioot”, “afstootlik”, en “Amerika se Hitler” genoem. Vance het baie ambisie, en het uiteindelik sy waardes en Demokratiese affiliasies op die altaar geplaas om Donald Trump te volg.
In Hillbilly elegy is daar ’n digotomie in die verstellerstem: Die jong JD kyk terug op sy lewe en vertel die storie in kleur en geur en sleng net soos dit was. Die volwasse JD lewer sosiale kritiek; die stem is gesofistikeerd, selfs akademies. Lesers kan aanklank vind by hierdie tweestemmige aard van die memoires – of nié.
Iets van hierdie dissosiasie wys ook in die naamsveranderinge wat Vance ondergaan het. Hy is gebore en gedoop en geregistreer as James Donald Bowman – Bowman was sy biologiese vader se van. Sy moeder se nooiensvan was Vance. Nadat hy deur sy moeder se derde man, Bob Hamel, aangeneem is, het sy ma sy naam verander na James David Hamel, om weg te doen met sy vader se van, maar steeds ’n oom van hom se bynaam, “JD”, te behou. Hy het voor hy aan Yale gegradueer het, self sy van verander na sy moeder se nooiensvan. Uiteindelik is hy James David Vance om só erkenning aan sy ouma te gee. Dit alles dui op Vance se worsteling met sy eie herkoms en identiteit, en die feit dat hy homself al dikwels herskik het om aan die vereistes van gesagsfigure in sy lewe te voldoen, vandaar die draai van sy mantel na Trump toe die geleentheid hom voordoen. Maar dit dui ook duidelik daarop dat Vance se reis steeds onvoltooid is en dat sy lewe werk-in-proses bly.
Hillbilly elegy is ’n outentieke sosiologiese narratief oor die wit onderbuik in die VSA wat begin het om die politiek van rebellie na te jaag, veral sedert die koms van Donald Trump. Memoires wat deur belangrike politieke figure geskryf is, dien as onskatbare historiese dokumente wat ’n seldsame blik bied op die persoonlike motiewe agter sleutelgebeurtenisse in die geskiedenis. Deur ’n persoonlike vertelling vermeng met ’n politieke narratief word lesers in staat gestel om die geskiedenis deur die lens van dié wat dit gevorm het, te bekyk. Hierdie memoires bied ’n rare – en intieme – binneblik op die komplekse emosies, dilemmas en etiese kwellinge wat leiersfigure ervaar. Uiteindelik word hierdie boeke deel van die openbare geheue en nalatenskap van nie net ’n volk nie, maar ook van die wêreld. Vance se memoires is belangrik, om al die voorgaande redes.
Lees ook:
Wat sê Bettina? – Wat beteken die tweede Trump-sluipmoordpoging vir sy verkiesingsveldtog?
In die kruisvuur: moderne identiteitskonflik en strategiese oplossings
Kommentaar
Hoe lieflik. DIe boek, die fliek en nou jou blik daarop. Ek begryp my eie gemengde gevoelens oor alles nou beter. Dankie daarvoor!