...
Konflik is deel van menswees. Ons moet ophou om die belangrike konflikte in ons lewens te probeer vermy of in netjiese kategorieë weg te bêre.
...
Die skote wat laas naweek in Butler, Philadelphia geklap het tydens die verkiesingstoespraak van voormalige VSA-president Donald Trump, het ons almal teruggeruk na ’n paar onsmaaklike werklikhede wat ons partykeer, en om verstaanbare redes, verkies om weg te steek, te ignoreer, of met clichés en redenasies te hervorm totdat hulle vir ons sin maak sodat ons weer gemaklik in ons eie wêreld voel.
Net soos wat die sluipmoord op John F Kennedy, of die 9/11-gebeure, of ’n lang lys ander gewelddadige wêreldkonflikte ons rede tot nadenke gee, kan ’n dieper begrip van hierdie tipe insident ons van groot praktiese waarde wees.
Die naweek se aanval op Trump is ’n uiters nuttige voorbeeld van die konflikkonsepte waarmee ons wil werk.
Terwyl ons dit, sonder om miskien te veel daaraan te dink, onder die vaandel van “politiek” klassifiseer, help dit ons nie baie op die lang duur nie. Dit is juis een van die redes hoekom selfs gebeure soos hierdie, wat in werklike tyd op ons skerms voor ons afspeel, en dan eindeloos teruggespeel kan word, nie juis tot enige langdurige resolusie lei of selfs ’n algemeen aanvaarde weergawe van die ware feite daarstel nie. Ons stry nog oor wie Kennedy geskiet het, wie nou eintlik verantwoordelik is vir 9/11, en ons is alreeds goed op pad met ’n groot aantal weergawes van wat dan nou eintlik gebeur het tydens die aanval op Trump.
Ons kan nie hierdie verskynsel verstaan, en onsself voorberei om effektief daarmee te handel in ons professionele of persoonlike lewens, alvorens ons die kern van hierdie probleme verstaan nie; dit vereis van ons om ’n wye aantal idees soos legkaartstukke te moet raaksien en orden.
Al noem ons dit “polities”, “terrorisme” of ’n lang lys ander name, moet ons eers raaksien dat die goue draad wat deur dit alles loop, menslike konflik is. Ons uiteenlopende belange en wense, ons vrese, ons waardes, en, wesenlik, die uitoefening van mag in ’n gesofistikeerde omgewing kan, sonder uitsondering, in elkeen van hierdie insidente bespeur word.
Konflik is die lens waardeur ons hierna moet kyk, en soos ons sal sien, maak alles dan sin, en word dit meer hanteerbaar.
Identiteitskonflik
Die spesifieke tipe konflik waarmee ons werk, is identiteitskonflik.
Dit is dalk nie bloot identiteitspolitiek waaroor ons kla nie, maar dit is deel daarvan.
Identiteitspolitiek is ’n dinamiese en uiters komplekse veld, maar ons kan dit kortliks verstaan as dat ons almal ons eie identiteit het en ons eie stel waardes. Al die komponente van ons lewens wat saamgevoeg word, skep ons identiteit. So is ek tegelyk ’n man, ’n eggenoot, ’n pa, ’n rugbyliefhebber, en so aan. Ons identiteite is wat ons menswees daarstel. Dit bepaal wat ons, in verskillende grade van belangrikheid, glo en aanvaar, wat ons nie glo of aanvaar nie. Dit is baie meer as net ’n veranderbare lys van voorkeure; dit skep ons eksistensiële self, ons “ek”.
As daar ’n “ek” is, moet daar ’n “ons” wees, en as daar “ons” is, dan moet daar “hulle” wees. Dit is die hart van identiteitskonflik. Soveel as wat ons dit wil ignoreer, of minimaliseer, is hierdie dinge die boublokke van ons menswees, en dit is die fondamente waarop ons konflikte van stapel stuur, of dit hanteer.
Studies in konflikbestuur wys dat ons heelwat minder rasioneel is as wat party van ons graag wil wees. Daar is ’n onvermybare en uiters belangrike emosionele aspek betrokke by ons besluitnemeningsprosesse en die gevolge van daardie besluite.
Die emosionele kant van ons denkprosesse neig in ’n rigting wat bepaal word deur ons identiteit en waardes, dan soek én vind ons rasionele stawing daarvoor. Daardie emosionele voorkeure aangaande onderwerpe soos ras, geslag en ander soortgelyke onderwerpe is belangrike aspekte van ons identiteit. Dit is ook ’n deel van hoe ons gemanipuleer kan word.
By belangrike konflikte is die dinge meer subtiel en daarom moeiliker om raak te sien; hulle oefen ook ’n groter invloed op ons besluitneming uit.
Hierdie identiteit van ons is bepalend van die groepe waartoe ons behoort en die waardes wat ons uitleef.
Die denkprosesse gebeur vinnig en sonder dat ons juis bewus is van hoe ons breine dit verwerk. As ons egter weet waar om te kyk, dan begin ons sien hoe die identiteitsproses betekenis gee aan ons groepe. Dán sien ons ander mense wat die wêreld sien soos ons dit sien, in ’n bepaalde groep raak. Dan kan ons begin saamwerk in die soeke na idees waaroor ons saamstem, sodat daar ’n aanvaarbare manier van optree en die uitleef van ons gedeelde waardes kan wees. Hierdie “korrekte” vorme van optree word op verskeie maniere vergoed, subtiel en andersins.
Dit volg uiteraard ook dat dieselfde groep onaanvaarbare uitlatings en gedrag sal straf.
Deur hierdie proses te volg vind ons ’n plekkie in die wêreld, sekuriteit, menslike aanvaarding, erkenning en beloning.
Die sirkel van identiteitskonflik is skielik gereed om in werking te tree.
So ontstaan konflik
Wanneer ons eers raaksien dat hierdie identiteit my beloon vir sekere optrede en straf vir ander optrede, ook dat my hele menswees, sekuriteit en wêreldbeeld opgesluit is in identiteitskonflik, dan het ons die sleutel tot hierdie prosesse in ons hand.
My identiteit bepaal nou hoe mense soos ons die wêreld sien, hoe óns reageer op sekere gebeure. Dit begin as ’n geslote sirkel van insette, stawing en bevestiging. Elke keer wat ek so ’n “aanval” oorleef, elke keer as iemand my Facebook-plasing “like”, word ek bevestig in hierdie identiteit en hoe óns dinge hier doen.
Enige aanval op ons waardes is dan nie net, soos ons soms wil glo, ’n akademiese vraagstuk of ’n debat oor feite nie, maar ’n aanval op my menswees, op my identiteit. Die emosionele sy van ons sielkundige mondering het nou die stuurwiel in die hand, alhoewel ons oortuig is daarvan dat ons, en ons groep, die feite aan ons kant het.
Ons kan dus sien hoe belangrik ’n identiteitskonflik word. Die argument mag dalk oënskynlik handel oor die taal by ’n skool, of godsdiens, of ons verteenwoordiging op politieke vlak, maar dit het met baie meer te doen.
Ons reaksies in konflik word dan grootliks bepaal deur hierdie identiteitsgroeperings, sonder dat ons eers werklik bewus is daarvan.
As ons dit verstaan, begin dit vir ons sin maak hoekom mense van oënskynlike intelligensie, opvoeding en goedertrou so eindeloos kan stry oor byvoorbeeld COVID-19, aardverwarming, die eienskappe van Donald Trump, en so meer.
Maar ons kyk dan grotendeels na dieselfde feite! Hoe kan die gevolgtrekkings so verskillend wees? Die sogenaamde objektiewe feite begin eintlik ’n mindere rol speel in die groter belange wat betrokke is. Ons identiteitsgroep en waardes skryf subtiel sekere reaksies en wêreldbeskouings aan ons voor. Dit bepaal hoe goeie, ordentlike mense onderwerpe X beskou en so daarteenoor reageer. Enige ander reaksie, of simpatie met ander reaksies, mag dan in hierdie besondere konflikte eenvoudig nie toegelaat word nie, veral aangesien die bestaan, die prestige en belange van die groep dit so vereis.
Ons neem deel aan hierdie prosesse omdat ons identiteit en ons waardes in gedrang kom.
Sondag se gebeure met Trump
Ons kan nou meer volledig en met die voordeel van ons kennis kyk na Sondag se aanval op Trump. Dit is ’n uitstekende voorbeeld van die gevolge van ’n identiteitskonflik. Met ons nuwe lens kan ons verder gaan as om bloot die gebeure beter te verstaan; ons kan ook, tot ’n mate, reaksies daarop begin antisipeer. Dit is een van die grootste voordele van effektiewe konflikbestuur.
Vir jare reeds sien ons die daarstel en die ontwikkeling van identiteitsgroepe in die Amerikaanse politieke en sosiale lewe. Die in groep en uit groep se narratiewe het erger en erger geword. Daar is skynbaar geen vlak van belediging en onderduimshede wat meer buite die grense van aanvaarbaarheid val nie. In hierdie proses het die dinamiek van die identiteitskonflikte ’n gevoel laat posvat van “Hulle het dit begin” en “Ons mag dit ook doen, want hulle het dit eerste gedoen.”
Die eskalering van hierdie tipes konflik is nooit werklik hanteer, bestuur of beperk nie. Nou bepaal daardie narratiewe, of hulle nou reg of verkeerd is, dat dit ’n eksistensiële konflik geword het. Mense beskou dit nou as veel meer as bloot ’n debat oor mediese fondse of belasting; hulle menswees en die behoud van hulle groep is nou ter sprake.
Meesters van konflikmanipulasie
Ons sien tans die meesters van konflikmanipulasie aan die werk. Hulle verstaan identiteitskonflik. Sonder veel twyfel of huiwering gebruik hulle dit tot voordeel van hulle groep (en natuurlik ook hulle persoonlike belange).
Die raamwerk wat ons hier bo bespreek het, word nou gebruik om politieke narratiewe te bestuur en te verskerp; die “korrekte” reaksie word bepaal en gekommunikeer; dit word beloon (al is dit net deur voortgesette lidmaatskap van die groep), en enige afwykende gedrag word gestraf. Die kommunikasie en instandhouding van hierdie identiteitsreëls word gereeld bepaal en bevestig deur ons media, sosiale media en natuurlik ons eie deelname. (Indien jy hoegenaamd hieroor twyfel, gaan maak ’n “verkeerde” politieke stelling op jou plaaslike WhatsApp-groep!)
Hierdie polarisasie vereis bitter min werk of toesig. Dit vorm baie gou ’n eie organiese groei. Dit brei vanself uit, kort net af en toe ’n rigtingverandering, of ’n wysiging, van die leier(s) van so ’n groep.
Ek vereenvoudig uiteraard nou die proses, maar kyk gewoon na die situasie in VSA, die politieke toneel in Suid-Afrika, of selfs die situasie by jou werk of in jou sosiale kringe. Menslike samelewings het konflik as brandstof; daardie konflik bestaan grotendeels uit identiteitskonflik.
Die struktuur van konflik
Enige inligting wat strydig is met my wêreldbeeld, is nou nie meer iets nietigs of van blote akademiese belang nie; dit is nou ’n aanval op my menswees, my sekuriteit:
- Wie is ek as hierdie identiteit dan nou nie meer bestaan nie?
- Wat moet ek sê, wat moet ek dink?
Ons kom gereeld voor ’n onsmaaklike, soms baie subtiele keuse te staan: Aanvaar ek nuwe getuienis, val my identiteit uitmekaar. Nou moet ek ’n manier vind om die getuienis te verwerp, of te ignoreer – meestal, vir die meeste van ons, ’n maklike keuse.
Dit verklaar vir ons hoe maklik dit dan is om gemanipuleer te word.
’n Demokraat wat na die aanval op Trump op TV kyk, sou nou byvoorbeeld moet aanvaar dat iemand aan sy kant die aanval beplan het, wat heeltemal teen sy groep se waardes is, of dat hulle, die ander buite sy groep, dit self beplan en uitgevoer het. Danksy die wantroue van die ander groep, pas laasgenoemde by sy eie groep se waardes.
Dit bring ons ook by ’n verklaring waarom dit soms lyk asof mense eenvoudig nie “die feite” kan raaksien nie. Ons reaksie op hulle skynbare onvermoë om feite te verstaan, maak dat ons dan mettertyd allerlei uiters negatiewe emosies en kenmerke aan die ander groep toeskryf, soos dat hulle onnosel is, of dat hulle nie omgee oor goeie waardes nie, en so aan.
Hoe maak ons vrede?
Wat my, en ander, se werk bemoeilik tydens identiteitskonflikte, is dat mense mekaar wantrou en dat enige poging om vrede te maak, veral vroeg in sulke konflikte of insidente, met wantroue bejeën word:
- Is jy werklik een van ons?
- Verstaan jy die pyn of trauma waardeur ons gaan?
Wraak en vergelding is sterk dryfvere in identiteitskonflikte.
Politieke leiers wat wil vrede maak, loop die risiko om wantrou te word. Ander weer kan die insidente bloot gebruik vir die beweerde gewin van die groep.
Hier sien ons weer eens hoe uiters gevaarlik hierdie prosesse kan wees:
- Trump kan die naweek se aanval maklik aanwend vir die versterking van sy groep se waardes en beskouings – die slagspreuke skryf hulleself amper, en die dinamika van ’n in groep of uit groep is nou sterker as voor die voorval.
- Biden se span kan ook gebeure wat vir ’n Trump-navolger ooglopend en objektief mag wees, gebruik in argumente en debatte; hulle kan die potensiaal van identiteitskonflik gebruik om hulle mense bedreig te laat voel en, ironies, meer tuis en meer lojaal teenoor hulle groep.
Selfs die openbare pogings wat ons in die paar uur na die insident van beide Biden en Trump sien om kalmte te herstel, is opgestel in die taal van identiteitskonflik.
Die afwesigheid van alom aanvaarde, objektiewe feite, die emosionele komponent van hierdie insidente, en sogenaamde onversoenbare belange, maak dit ’n uiters moeilike taak om mense tydens hierdie soort konflikte te oorreed.
Wat nou?
Daardie proses in die VSA is kompleks, en pogings om dit op te los, gaan meer besprekingspasie nodig hê as wat ons hier het.
Om so ’n proses van konflik te stuit is ’n komplekse en tydrowende taak, veral gesien in die lig van die oënskynlike voordele wat leiers uit die misbruik van hierdie kennis kan trek.
Die geleenthede om ’n oplossing is daar, maar die versoekings en korttermynbelonings is gewoonlik te aanloklik.
’n Mens het soveel meer as net feite nodig.
’n Insident wat ’n paar sekondes geneem het, maak nou ’n verskeidenheid identiteitskonflikte moontlik; dink maar aan politieke affiliasie, ras, opvoeding (of die gebrek daaraan).
’n Les vir Suid-Afrika?
Ons kan daardie gebeure op die globale verhoog, en ons kennis van identiteitskonflik, ook hier by ons in Suid-Afrika tot ons voordeel gebruik:
- Sal ons byvoorbeeld voortgaan met die manier waarop ons mense wil oorreed om hulle waardes te verander as ons besef dat die manier waarop ons dit doen, byvoorbeeld met kritiese gebruik van ons feite, nie bloot oneffektief is tydens identiteitskonflikte nie, maar selfs die ander groep in hulle siening kan versterk?
- Sal ons nog steeds dieselfde toerusting gebruik in ons konflikte as ons sien dat dit juis die verkeerde gereedskap is?
- Sal ons die opposisie beter verstaan as hulle weier om ons waterdigte argumente te aanvaar?
Geen van bostaande vrae het te doen met kompromie of beter menswees nie, bloot maar om meer effektief in ons hantering van konflik te wees.
Ons onlangse nasionale verkiesing het daagliks voorbeelde meegebring van ons leiers se onkunde of onbereidwilligheid om identiteitskonflikte korrek te verstaan en in te span. Ons lewe met die gevolge daarvan.
Konflik is deel van menswees.
Ons moet ophou om die belangrike konflikte in ons lewens te probeer vermy of in netjiese kategorieë weg te bêre.
Konflik kan ’n wonderlike masjien vir beter verhoudings, groei en vooruitgang wees as ons dit reg verstaan en aanwend. Ons het nie minder konflik nodig nie, ons het beter konflik nodig.
*
Lesers kan Andre Vlok kontak by andre@conflictresolutioncentre.co.za vir kommentaar of vrae oor hierdie artikel.