LitNet Akademies Weerdink: Die ontwrigting en radikalisering van die Amerikaanse demokratiese politieke proses deur Donald Trump

  • 1

Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele kwessies van 2021.

Chris Nelson het in sy LitNet Akademies-artikels “Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel – Deel 1” (en “Deel 2”) (Julie 2019) Donald Trump se populistiese mobiliseringstrategie bespreek.

Chris Nelson bespreek die stand van sake in Januarie 2021.

1. Inleiding

Sedert die Amerikaanse burgeroorlog, wat van 1861 tot 1865 geduur het, is die Amerikaanse demokratiese politieke proses aan geen groter ontwrigting en radikalisering blootgestel as gedurende die bewindstermyn van oudpresident Donald John Trump, die 45ste president van die VSA, nie.

Waarskynlik die beste aanduiding van die mate waartoe hy die proses ontwrig en geradikaliseer het, was die beroep wat hy op 6 Januarie 2021, twee weke voor sy ampsontruiming, op sy ondersteuners gedoen het om in opstand te kom en die federale parlementsgebou op Capitol Hill in Washington te bestorm en te beset. Die oogmerk met hierdie opstand (“insurrection”) was om die sertifisering van die presidensiëleverkiesingsuitslag tydens ’n gesamentlike sitting van die Kongres (Huis van Verteenwoordigers en Senaat), onder die voorsitterskap van die visepresident, te verhoed. Vanweë die geweld wat gebruik is, die lewensverlies wat plaasgevind het en die planmatigheid wat die aksie gekenmerk het, word hierdie opstand deur sommige waarnemers as ’n rebellie, ’n insurgensie en sedisie beskou. Elkeen van hierdie tipe optredes is ernstige wandade en strafbaar.

Ten einde verdere opstande te verhoed en die inhuldiging van Joe Biden op 20 Januarie 2021 sonder voorval te laat verloop was dit nodig om 25 000 lede van die Amerikaanse Nasionale Wag en ’n groot aantal lede van die federale polisiediens, die Federal Bureau of Investigation (FBI), in Washington te ontplooi. Soortgelyke maatreëls is in die hoofstede van die deelstate getref.

Verder is besluit dat die inhuldiging van sy opvolger slegs in die teenwoordigheid van ’n klein aantal gaste sal geskied en nie die tienduisende toeskouers wat tradisioneel hierdie geleentheid op feestelike wyse gevier het nie. In die plek van die afwesige toeskouers is 200 000 Amerikaanse vlae in die gebied voor die Washington-monument gehys om die geleentheid te vier.

Die ontwrigting en radikalisering van die politieke proses in die VSA deur oudpresident Trump vind verdere treffende illustrasie in die feit dat hy

  • die eerste president is wat twee keer deur die Huis van Verteenwoordigers in ’n staat van beskuldiging geplaas is
  • die eerste president is wat blootgestel word aan die inwerkingstelling van die 25ste Amendement van die VSA se grondwet op grond van die aanhitsing van geweld
  • die eerste president is wat deur talle afgetrede Amerikaanse militêre en politieke leiers beskou is as ’n onmiddellike bedreiging (“clear and present danger”) vir die VSA en sy bondgenote se nasionale veiligheid
  • die eerste president in meer as 150 jaar is wat nie die inhuldiging van sy opvolger bygewooon het nie
  • die eerste president in die moderne era is wie se Twitterrekening permanent opgeskort is vir sy aanhitsing van geweld.

Die navorsers Maegan Vazquez, Christopher Hickey, Priya Krishnakumar and Janie Boschma (2020) het die diepgaande en ontwrigtende invloed van die Trump-presidentskap op die Amerikaanse politieke proses probeer illustreer aan die hand van getalle. Hulle wys daarop dat oudpresident Trump gedurende sy presidentskap tot Desember 2020

  • ongeveer 25 000 keer van sosiale media (Twitter in besonder) gebruik gemaak het teen gemiddeld 18 twiets per dag (205 per maand gedurende die eerste jaar, maar teen Desember 2020 het dit gestyg tot 997 per maand
  • ’n personeelomset van 91% in die Withuis gehad het, waaronder die bedanking van 13 kabinetslede en sewe kommunikasiedirekteure
  • meer regters aangestel het as enige ander president in die moderne era, waaronder drie regters in die Federale Hooggeregshof
  • meer as 11 500 presidensiële dokumente (uitvoerende bevele, memoranda en kennisgewings) uitgevaardig het
  • die COVID-19-pandemie grootliks geïgnoreer het, met die gevolg dat in die VSA, met 4% van die wêreldbevolking, 23% van alle Covid-gevalle en 19% van alle Covid-sterftes voorgekom het
  • meer as 400 dae by eiendomme met die Trump-handelsmerk deurgebring het
  • meer as 300 dae die gholfbaan besoek het
  • meer doodsvonnisvoltrekkings goedgekeur het as enige ander president die afgelope 75 jaar (10 in 2020 alleen)
  • meer persone in sy binnekring aan vervolging blootgestel was as enige ander president in die moderne era
  • bykans 100 kwytskeldings en strafversagtings verleen het.

Selfs meer beskrywend van die ontwrigting van die politieke proses in sy geheel deur oudpresident Trump tydens sy presidentskap was onder meer sy

  • ontplooiing van federale magte om onluste in sekere stedelike gebiede van die deelstate te onderdruk
  • beskuldigings van wydverspreide verkiesingsbedrog tydens die afgelope verkiesing ofskoon nie hy of sy regsverteenwoordigers in meer as 60 hofgedinge met enige bewyse daarvoor vorendag kon kom nie (dit word algemeen as die “groot leuen” beskryf)
  • uitoefening van druk op die regeringsamptenare van verskeie deelstate om verkiesingsuitslae te manipuleer
  • uitoefening van druk op bondgenote in die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) om hulle finansiële en militêreverdragsverpligtinge te vergroot
  • intensifisering van die “handelsoorlog” met die Chinese Volksrepubliek deur die verhoging van tariewe op ingevoerde goedere
  • instelling van ekonomiese sanksies teen etlike “vyandige” state
  • vervreemding van state op die Afrika-kontinent deur ’n banale term te gebruik om na hulle te verwys
  • instelling van streng en rigiede immigrasiemaatreëls, asook die oprigting van ’n muur op die grens met Meksiko ten einde beheer oor migrante uit suid- en sentraal-Amerika uit te oefen
  • erkenning van Jerusalem as hoofstad van Israel en die Golan-hoogland as deel van daardie staat se grondgebied
  • heronderhandeling met Meksiko en Kanada van die Noord-Amerikaanse Vryhandelsooreenkoms (NAFTA)
  • ontrekking van die VSA se lidmaatskap aan verskeie internasionale ooreenkomste en instellings waaronder die Paryse Klimaatooreenkoms, die Kernwapenooreenkoms met Iran (Joint Comprehensive Plan of Action (JCPOA)), die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en die Trans-Stille Oseaan-vennootskap (TPP).

Die doel van hierdie meningsartikel is om meer lig te werp op daardie faktore wat aan die wortel gelê het van oudpresident Trump se ontwrigting en radikalisering van die politieke proses in Amerika en wat tot gevolg gehad het dat die samelewing tans as hoogs gepolariseerd en diep verdeeld beskryf kan word. Dit is interessant om te meld dat hierdie polarisering en verdeeldheid selfs na ander samelewings uitgekring het.

Die volgende werkswyse sal gevolg word: Eers sal gekonsentreer word op sy aanvaarding van populistiese mobilisering as breë politieke strategie, wat hierdie strategie behels en die metodes wat gebruik is in die toepassing daarvan. Tweedens sal die klem verskuif na die identifisering van daardie eienskappe wat as tiperend van sy politieke persoonlikheid beskou kan word.

2. Die gebruik deur oudpresident Donald Trump van populistiese mobilisering as politieke strategie

Ter agtergrond kan gemeld word dat die toepassing van populistiese mobilisering as politieke strategie deur personalistiese politieke leiers, politieke partye en politieke bewegings as een van die mees belangwekkende politieke ontwikkelings sedert die einde van die Koue Oorlog beskou kan word.

Aanduidend van die kragtige oplewing van hierdie besondere politieke strategie deur politieke leiers regoor die politieke spektrum en hoedanig hierdie ontwikkeling die politieke landskap verander het, kan afgelei word uit die feit dat die getal populistiese politieke leiers in regeerposisies regoor die wêreld tussen 1990 en 2018 vyfvoudig toegeneem het. Gedurende Julie 2019 het ek ’n artikel oor die besondere verskynsel geskryf. Dit is getiteld “Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel: voorkoms, oorsake en gevolge”, wat in twee aflewerings (Deel I en Deel II) in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) gepubliseer is.

Populistiese mobilisering as politieke strategie is diep gewortel in identiteitspolitiek (die geneigdheid van ’n bepaalde ras-, etniese, godsdienstige of klasgroepering om voorrang te verleen aan die bevordering van eie partikuliere belange) en behels

  • die positiewe beskouing en waardering van ’n gedeelte van die samelewing as die legitieme burgery (“the people”) of die ware burgery (“the true people”)
  • die negatiewe beskouing van die res van die samelewing as die nielegitieme burgery
  • die negatiewe beskouing van sekere elitegroeperings in die samelewing as korrup en ingestel op die bevordering van eiebelang
  • die verheffing van onbelemmerde populêre soewereiniteit ten aansien van die legitieme gedeelte van die burgery bo verteenwoordigende demokrasie en liberale konstitusionalisme.

Populistiese mobilisering as politieke strategie soos deur oudpresident Donald Trump in die VSA toegepas, het beteken dat

  • hoofsaaklik die ondersteuners van die Republikeinse Party as die legitieme burgery (“ware Amerikaners”) beskou is
  • die res van die samelewing, en in besonder die sogenaamde etniese minderhede, nie legitieme burgers (“ware Amerikaners”) is nie
  • die leierskap van die Demokratiese Party ’n elitegroepering in die samelewing vorm wat tydens vorige bewindstydperke ’n “moeras” van oneerlikheid en knoeiery in veral die federale hoofstad Washington geskep het wat as ’n saak van dringendheid “gedreineer” moet word
  • die wil en wense van die legitieme burgery (die “ware Amerikaners”) soewerein is en op generlei wyse aan bande gelê mag word nie, selfs nie eens deur die verhewe demokratiese beginsels van verteenwoordigende demokrasie en liberale konstitusionalisme nie. Die internasionale verdragsverpligtinge van die VSA mag insgelyks ook nie inbreuk maak op die soewereiniteit van die legitieme burgery nie.

Die nasionalistiese en anti-elitistiese retoriek wat deur Trump gebruik is om die steun van die “ware Amerikaners” te verkry, was saamgevat in sy slagspreuk: “Make America Great Again (MAGA)”. Ten einde sy politieke strategie van populistiese mobilisering suksesvol in werking te stel het hy die mediagroepe wat hom goedgesind was, intensief aangewend. In hierdie verband kan slegs verwys word na sy gebruik van die mediagroep bekend as Fox News Channel (FNC). Sy gebruik van die sosiale media in die besonder is ook welbekend en is hier bo vermeld. Ewe bekend is sy veroordeling van mediagroepe wat nie sy politieke strategie van populistiese mobilisering ondersteun of begrip daarvoor getoon het nie. Hierdie mediagroepe is sonder meer deur hom as “die vyand van die nasie” (“the enemy of the people”) getipeer.

Verder was hy bereid om in die toepassing van sy politieke strategie van populistiese mobilisering van ’n verskeidenheid metodes gebruik te maak. Veral prominent was die gebruik van waninligting (“misinformation”) of die manipulering van inligting. Tekenend hiervan is onder meer

  • die gebruik van “alternatiewe feite” (valshede)
  • die verkondiging van “nuwe waarhede” (leuens) – die getal leuens wat hy gedurende sy presidentskap kwytgeraak het, word deur sommige ontleders op ongeveer 25 000 geskat
  • die verwerping van feitgebaseerde kritiese kommentaar as fopnuus (“fake news”)
  • die aanbied van maklike oplossings vir ingewikkelde probleme en uitdagings (soos dat die COVID-19-virus mettertyd sal verdwyn)
  • die bereidwilligheid om sy ondersteuners slegs dit te vertel wat hulle graag wil hoor
  • die bereidwilligheid om die lof te besing van militante regse groeperings in die burgerlike samelewing (hy het dikwels na hierdie groeperings as patriotte verwys)
  • die verlening van geloofwaardigheid aan allerhande samesweringsteorieë en die instansies en persone wat daardie teorieë ontwikkel en versprei
  • die skep van denkbeeldige vyande
  • die kriminalisering van opponerende groeperings (soos om die linkse politieke beweging Antifa te blameer vir die aanval op en besetting van die federaleparlementsgebou in Washington)
  • die fabrisering van bedreigings en gevare om elke hoek en draai
  • afkraking van kritici as kwaadwillige buitelandse agente.

Die gebruik van populistiese mobilisering deur oudpresident Trump het daartoe gelei dat hy weliswaar wye steun kon monster, maar in die proses is die samelewing in twee opponerende en diep verdeelde kampe verdeel. Die uitslag van die verkiesing van 2020 is waarskynlik die beste aanduiding van die omvang en intensiteit van die verdeeldheid en polarisering. Biden het 81 283 098 van die uitgebragte stemme (51,3%) verower (die eerste president in die geskiedenis van die VSA wat meer as 80 miljoen stemme gekry het) en Trump 74 222 958 (46,8%).

Die kritiek wat Trump moes verduur van leiers in die Republikeinse Party, soos Mitch Mconnell, na die Capitol Hill-voorval, dui daarop dat hy uiteindelik nie alleen die samelewing verdeel het nie, maar ook sy eie party. Daar kan op hierdie stadium slegs gespekuleer word oor die toekoms van die Republikeinse Party. Sekere mediagroepe in die VSA voorspel egter reeds die vorming van ’n eie politieke party deur Trump. Tydens sy afskeidsboodskap op 20 Januarie 2021 op Joint Base Andrews het hy aan ondersteuners inderdaad ’n “terugkeer” belowe.

3. Die besondere aard van oudpresident Donald Trump se politieke persoonlikheid

Die ontwrigting en radikalisering van die politieke proses in die VSA deur oudpresident Trump kan direk toegeskryf word aan die besondere aard van sy politieke persoonlikheid. In die bepaling van die aard van sy politieke persoonlikheid is gebruik gemaak van die klassifikasiemodelle van politiekepersoonlikheidstipes soos ontwikkel deur die Amerikaanse sielkundige David Rosen (2013) van die Fordham Graduate School of Arts and Sciences aan Fordham-universiteit, sowel as die befaamde politieke wetenskaplike Robert A Dahl (1915–2014) (1984:111–8) gedurende sy loopbaan aan Yale-universiteit.

Ek het in 2018 hierdie wetenskaplikes se klassifikasiemodelle ook gebruik om in ’n artikel getiteld “Die rol van politieke partye en verkiesings in die demokratisering van samelewings met spesiale verwysing na eietydse Suid-Afrika” enkele van die onlangse Suid-Afrikaanse leiers se politieke persoonlikhede te tipeer. Die betrokke artikel is gedurende November 2018 in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) gepubliseer.

Rosen het in sy navorsing oor die onderwerp ses politiekepersoonlikheidstipes geïdentifiseer, naamlik die narsistiese, obsessief-kompulsiewe, Machiavelliaanse, outoritêre, paranoïese en totalitêre tipes. Oudpresident Trump het gedurende sy bewindstydperk met politiekebeleidformulering en politieke besluitneming vorendag gekom wat, met die uitsondering van die obsessief-kompulsiewe politieke persoonlikheid, tiperend is van vyf van hierdie ses persoonlikheidstipes.

  • Eerstens was sy politieke optrede en gedrag kenmerkend van die narsistiese persoonlikheidstipe. Hierdie persoonlikheid het ’n hoë selfbeeld; is ’n aandagsoeker; het ’n geneigdheid om te spog op ’n wyse wat aan ekshibisionisme grens; is ’n leuenaar; is ’n uitbuiter van ander sonder om ’n teenprestasie te lewer; en is ’n sondeboksoeker wanneer besluite skeefloop. Hulle is gewoonlik nie goeie besluitnemers nie, maar hulle charismatiese persoonlikhede veroorsaak dat hulle as sterk leiers na vore tree.
  • Tweedens kan sy politieke optrede met die Machiavelliaanse persoonlikheidstipe in verband gebring word. Machiavelliane is meestermanipuleerders met die uitsluitlike doel om eiebelang te bevorder. Hulle stel meer belang in die resultate as die spelwyse. Etiese en morele oorwegings speel ’n mindere of geen rol in beleidformulering en besluitneming nie. Om eiebelang te bevorder en as ”wenner” na vore te tree is allesoorheersend; die res is onderhandelbaar.
  • Derdens was van sy politieke handelinge kenmerkend van Rosen se outoritêre persoonlikheidstipe. Outoritêre leiers is wel onderdanig aan meerderes, kompeterend met eweknieë, maar dominerend teenoor ondergeskiktes. Groot waarde word geheg aan kragdadigheid en die gebruik van mag. Verder is die outoritêre politieke persoonlikheidstipe sonder empatie, konserwatief, reël-georiënteerd en bevooroordeeld teenoor laestatusgroepe in die samelewing.
  • Vierdens het hy met politieke optredes vorendag gekom wat dikwels met die paranoïese persoonlikheidstipe geassosieer word. Die paranoïese persoonlikheid is geheimsinnig, agterdogtig, konspiratories en wraaksugtig. Volgens Rosen is die paranoïese fantasieë van hierdie persoonlikheidstipe ’n weerspieëling van ’n diepgesetelde minderwaardigheidsgevoel.
  • Vyfdens het oudpresident Trump besluite geneem en optredes uitgevoer wat kenmerkend is van die totalitêre persoonlikheidstipe. Hierdie tipe persoonlikheid is bekend vir die aandrang op absolute onderdanigheid van ondergeskiktes; vaste geloof in eie onfeilbaarheid; bereidwilligheid om mag te gebruik; uitbuiting van die liggelowigheid van volgelinge; ontwikkeling van ’n persoonlikheidskultus; verwerping van weersprekende feite; en fanatisme.

Dahl (1984:111–8) het die volgende vier politiekepersoonlikheidstipes en die belangrikste kenmerke wat tiperend van elkeen is, geïdentifiseer: die demokratiese, despotiese of outoritêre, die agitator en die onderhandelaar. Oudpresident Trump het gedurende sy bewindstermyn politieke gedrag openbaar tiperend van twee van Dahl se vier politieke persoonlikheidstipes.

  • Eerstens was sy optrede in etlike opsigte kenmerkend van die despotiese of outoritêre politieke persoonlikheid. Hierdie tipe persoonlikheid het onder meer ’n rigiede ingesteldheid; is gekant teen ’n verbeeldingryke en positiewe lewens- en wêreldbeskouing; het ’n mags- en geweldgebaseerde definisie van die politieke proses; is onsensitief vir die welsyn van die samelewing (sy onvermoë om empatie te toon het duidelik na vore gekom in sy hantering van die COVID-19-pandemie); en het ’n beheptheid met die bestaan van allerhande samesweringsteorieë en onderduimse komplotte.
  • Tweedens het oudpresident Trump eienskappe eie aan die agitator openbaar. Die agitator is by uitstek daarop ingestel om ’n emosionele reaksie by die publiek te ontlok, irritasie te veroorsaak (“rubbing the fur the wrong way”), geen teenstand te duld nie, en opponente deurentyd daarvan te beskuldig dat hulle in kwader trou optree (soos dat hulle die verkiesing “gesteel” het). Hulle is ongedissiplineerd, agterdogtig, bereid om selfopofferend te wees ter wille van slegs bepaalde beginsels, bereid om mense op te stook en aan te hits om te protesteer en te rebelleer, en aarsel nie om kwetsend en sarkasties teenoor opponente op te tree nie (die etikettering van sy politieke opponente in die presidensiële verkiesings as “crooked Hillary” en “sleepy Joe” is tekenend).

4. Slotbeskouing

Op 20 Januarie 2021 het oudpresident Trump se ampstermyn tot ’n einde gekom en is hy opgevolg deur Joseph Robinette Biden jr wat vir twee termyne as visepresident onder president Barack Obama gedien het. Oudpresident Trump het, om sy ontwrigting van die Amerikaanse politieke proses tot finaliteit te voer, soos gemeld, nie die inhuldiging van president Biden bygewoon nie. In plek daarvan het hy ’n afskeidseremonie vir homself op Joint Base Andrews gereël. Verder het hy ter elfder ure kwytskeldings en strafversagtings aan 143 ondersteuners verleen. Sy voormalige hoofverkiesingsveldtogstrateeg, Steve Bannon, wat na bewering bedrog gepleeg het ten einde fondse te bekom vir die bou van die muur op die grens met Meksiko, was een van die persone wat kwytskelding ontvang het.

President Biden is in bykans elke opsig die antitese van sy voorganger. In direkte teenstelling met oudpresident Trump kan hy, gebaseer op die klassifikasiemodelle van politiekepersoonlikheidstipes hier bo vermeld, getipeer word as ’n obsessief-kompulsiewe politieke persoonlikheid soos deur Rosen uiteengesit en ’n demokratiese politieke persoonlikheid en ’n onderhandelaar soos deur Dahl vermeld.

  • Die obsessief-kompulsiewe politieke persoonlikheid is hardwerkend, ambisieus, gebonde aan etiese norme en het ’n behoefte aan akkurate inligting ten einde oorwoë besluite te neem. President Biden se lang en suksesvolle politieke loopbaan van langer as vier dekades in die federale wetgewende en uitvoerende gesagstrukture van die VSA getuig hiervan.
  • Die demokratiese tipe politieke persoonlikheid het ’n ontwikkelde sin vir eiewaarde; respek vir die waarde en waardigheid van ander; beklemtoon persoonlike outonomie en wantrou persone en instellings wat oor baie mag beskik; aanvaar verskille met ander leiers in die samelewing; onderskryf ’n onderhandelings- en ’n konsensusgebaseerde beskouing van die politieke proses; beklemtoon verskeie waardes eerder as ’n enkele allesoorheersende oortuiging; en vertoon ’n bereidwilligheid om die algemene belang te dien eerder as die bevordering van gierige eiebelang. President Biden het in die talle toesprake en media-onderhoude gedurende die verkiesing sowel as sy presidensiële intreerede duidelike demonstrasie van hierdie eienskappe gelewer.
  • Die onderhandelaar is ’n konsensussoeker; verbind tot die sluiting van kompromieë; ’n beplanner; vertroud met die belangrikste kwessies in die samelewing sowel as die oplossings daarvoor (soos die geval met die skepping van maatreëls ter bekamping van die COVID-19-pandemie en die stimulering van die ekonomie); sensitief vir die openbare mening; ’n goeie kommunikeerder; het ’n sterk oorredingsvermoë; integriteit; ’n goeie oordeelsvermoë; en politieke intelligensie. President Biden het gedurende die verkiesingsveldtog duidelik getoon dat hierdie eienskappe inderdaad tiperend is van sy persoonlike politieke mondering.

Nieteenstaande die feit dat oudpresident Trump met sy politieke strategie van populistiese mobilisering en besondere politiekepersoonlikheidseienskappe met ’n radikale en ontwrigtende benadering tot die politieke proses in die VSA vorendag gekom het, kon hy die demokratiese vlam nie blus nie. Die Amerikaanse samelewing ervaar weliswaar die diepste verdeeldheid en polarisering sedert die burgeroorlog van 1861–1865, maar die demokratiese stelsel is nie vernietig nie. Die VSA is steeds, in die woorde van voormalige president Ronald Reagan, “a shining city upon a hill whose beacon light guides freedom-loving people everywhere”.

Bibliografie

Dahl, RA. 1984. Modern political analysis. Vierde Uitgawe. Englewood Cliffs: Prentice-Hall International.

Rosen, D. 2013. The 6 political personality types. Campaigns and elections. 6 Oktober 2013. https://www.campaignsandelections.com/campaign-insider/the-6-political-personality-types (21 Januarie 2021 geraadpleeg).

Vazquez, M, C Hickey, P Krishnakumar en J Boschma. 2020. Donald Trump's presidency by the numbers. CNN Politics, 18 Desember 2020. https://edition.cnn.com/2020/12/18/politics/trump-presidency-by-the-numbers/index.html (13 Januarie 2021 geraadpleeg).

Lees ook:

LitNet Akademies Weerdink: Trump, Palestina en Israel

LitNet Akademies Weerdink: Brexit

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    'n Goeie (maar geen moeilike) poging van Chris Nelson om elke denkbare persoon se bydrae op die Trump haatlys te gebruik ten einde Trump voor te stel as die mees walglike en agterlike mens denkbaar. Uiteraard is dit eensydig en vir geen ander rede as dat dit juis die bedoeling van die bydrae moes wees nie. En hoe geduldig kan papier tog wees ... Natuurlik het Trump in baie opsigte 'aangejaag' en natuurlik is dit 'n welbekende feit dat sy narsistiese persoonlikheid dikwels afstootlik ervaar word. Hy is in sulke tye verseker nie 'n aangename mens nie. Punt.

    Wat moeliker verklaarbaar is, is hoe dit dan moontlik is dat amper die helfte van die Amerikaanse kieserkorps steeds vir Trump gestem het. Dis dalk iets om na te vors en wat die nodige antwoorde sal gee waarna mense op soek is. Geen leier kan soveel stemme op homself verenig tensy hy nie ook dinge reg gedoen het en mense se lewensomstandighede verbeter het nie.

    Waar Trump dinge blatant sê en doen, het sy voorgangers (Obama en Biden) soortgelyke lang lyste van mislukkings en optredes wat as alles behalwe suksesvol en eerbaar beskou kan word. Die verskil in die geval van Obama en Biden is dat gewoonlik agteraf gedoen is en met skynheiligheid gepaard gegaan het. Hulle is selde ooit deur die hoofstroom media in die spervuur geplaas wat 'n groot verskil maak in hoe hierdie here deur die oë van die publiek waargeneem is/word.

    Sonder om in detail hierop in te gaan en 'n ook 'n lang lys te tabuleer met 'n soortgelyke relaas wat beide Obama en Biden betref, plaas ek eerder 'n paar skakels wat dit sal bevestig. Hoekom? Wel, net ter wille van balans soos ek menige male vantevore gepoog het om te doen. Lees gerus self.

    Oor Pres. Obama:
    https://www.bostonglobe.com/opinion/editorials/2017/01/08/home-and-abroad-obama-trail-disasters/YOaU1KuAT3hSHaGHkmGCeN/story.html (Lys van Obama mislukkings.)

    https://www.aa.com.tr/en/americas/obamas-economic-failures-outweigh-successes/691847

    Oor Pres. Biden:

    http://content.time.com/time/specials/packages/completelist/0,29569,1895156,00.html (druk op elke item vir meer inligting)

    https://www.foxnews.com/politics/list-of-bidens-political-blunders (Lang lys van Biden mislukkings/foute.)

    https://youtu.be/JvOjlfRpXHQ (Luister na die Biden eskepades.)

    Mense het hulle voor-en-afkeure. Ook hulle eie menings. Menings wat deur 'n verskeidenheid faktore gevorm word. Dit maak dat daar vir verskillende politieke partye en individue gestem word. Dis 'n keuse. Feit is, geen politieke party, of dan kandidaat, wat verkiesbaar is, is perfek nie. Allermins. Om voor te gee dat dit die geval is, is oneerlik. Om Trump se foute uit te wys beteken tog nie dat sy opponent(e) daarsonder is nie. Inteendeel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top