Staatsgreeppoging in Amerika: pateties maar belangrik

  • 19

Gerd Altmann | Pixabay

Die poging tot ’n staatsgreep verlede week op Capitol Hill in Washington, DC was pateties maar belangrik en potensieel rigtinggewend vir die Amerikaanse politiek en vir demokrasieë dwarsoor die wêreld.

Die wêreld het verstom gestaan en kyk hoe ’n massa ontevredenes, soos ’n spul akteurs in die volgende apokaliptiese rolprent, die bekende bakens langs die National Mall binne stroom, en hoe hulle die kongres se kantore en selfs die senaat se vergadersaal oorneem. Die verkose volksverteenwoordigers is ontruim terwyl die oproerige massa hul vandalistiese gang gegaan het.

Die enkele verskil met die rolprente was dat die aanstigter in hierdie geval die president, Donald Trump, self was. Soos verskeie Derdewêreldse leiers het hy geweier om te aanvaar dat hy ’n verkiesing verloor het. Die gevolge was tragies – vir sy nalatenskap, vir sy land, en veral vir die vyf mense wat in die geharwar oorlede is, en hul gesinne. Drie is tydens die beleg dood aan mediese toestande terwyl een oproermaker en een polisielid dood is tydens gevegte.

...
Die onlangse aanval op Washington, DC was die eerste insident waar ’n vyand tot binne die geboue van die Amerikaanse regering gedring het sedert die oorlog met die Britte in 1812 – maar hierdie keer was dit ’n binnelandse vyand van die demokrasie wat ter sprake was.
...

Maar die belangrikste ding wat gebeur het, is dat die poging misluk het. Die Amerikaanse demokrasie het sy grootste toets sedert die Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1865) deurstaan. Die onlangse aanval op Washington, DC was die eerste insident waar ’n vyand tot binne die geboue van die Amerikaanse regering gedring het sedert die oorlog met die Britte in 1812 – maar hierdie keer was dit ’n binnelandse vyand van die demokrasie wat ter sprake was.

Hierdie tuisgemaakte Amerikaanse vyand van die demokrasie is ’n groep grotendeels wit Amerikaners wat tereg meen hulle is besig om hul greep op die land te verloor. Navorsing toon dit is families wat al geslagte lank in die land is en dikwels redelik min akademiese opleiding het, en wat stadigaan relatief armer word namate die ekonomie oorskakel van industriële vervaardiging na ’n globale kennis-ekonomie, en ’n vloedgolf immigrante die land binnekom.

Daardie immigrante kan basies in twee groepe verdeel word. Eerstens is daar hoogs geskoolde arbeiders van regoor die wêreld – onder meer Asië – wat die kennis-ekonomie voed en by ’n nuwe, grootliks stedelike elite aansluit. Dan is daar die ongeskoolde immigrante uit veral Latyns-Amerika en by name Mexiko. Hulle bied kompetisie vir wit mense wat tot dusver redelik maklik ’n bestaan kon maak uit stukwerk (casual labour). Sulke wit mense se verhaal word miskien ten beste vertel in die veelbekroonde onlangse boek Hillbilly elegy deur JD Vance.

Vance vertel die verhaal van sy familie as deel van ’n subklas Amerikaners wat tydens ’n groot trek gedurende die tydperk van ongeveer 1950 tot 1980 uit die deelstaat Kentucky en ander mooi maar arm deelstate langs die Appalachiese Gebergte na die swaar geïndustrialiseerde deelstate in die Midde-Weste van Amerika (soos Pennsilvanië, Indiana en Michigan) verskuif het. Die boek behoort verpligte leesstof te wees vir enigeen wat die Trump-verskynsel wil verstaan. Vance is die eerste in sy hele familie wat ’n graad kon verwerf, en sy verhaal is een van ontheemde vooruitgang wat gestol het met die oorgang van die swaar vervaardigingsekonomie en die gepaardgaande hoewel onafhanklike opkoms van multinasionale maatskappye (sommige gesetel in Amerika, ander elders) wat ongeskoolde arbeid goedkoper buite Amerika kon bekom. Tesame met die reeds vermelde instroming van ongeskoolde arbeid het dit tot ’n gegronde gevoel van magteloosheid en magsverlies by veral die hillbilly- of redneck-element van die Amerikaanse bevolking gelei.

...
Vir hierdie element van die Amerikaanse bevolking was Donald Trump se boodskap van ekonomiese en kulturele proteksionisme in 2016 net te aanloklik om te weerstaan.
...

Vir hierdie element van die Amerikaanse bevolking was Donald Trump se boodskap van ekonomiese en kulturele proteksionisme in 2016 net te aanloklik om te weerstaan. Hoewel hy minder stemme as die polities baie onaantreklike Demokratiese kandidaat Hillary Clinton gekry het, het hy naelskraap die eerste Republikein in generasies geword om die Midde-Westelike deelstate Pennsilvanië, Michigan en Wisconsin in te palm, wat hom saam met Ohio, Florida en die Republikeinse basisstate in die Suide en die platteland ’n meerderheid oor Clinton in die kieskollege gegee het.

Boonop het Trump se beleid van ekonomiese proteksionisme, ’n afkeer in Clinton se kilheid, ’n persepsie dat sy oneerbaar is en die hoop dat hy sy onsmaaklike, bombastiese manier van doen sou aanpas as hy eers president is, gesorg dat hy genoeg van die akademies opgeleide stem, die voorstedelike stem en die vrouestem vir die Republikeine behou om koning te kraai in die 2016-verkiesing.

Trump se bombastiese persoonlikheid en verdelende gedrag het egter nie verander toe hy president word nie. Hy het nie uitgereik na diegene wat hom nie ondersteun het nie. Sy gedrag was te alle tye aggressief en enigeen wat hom teengegaan het, ook in sy eie party, is vir die wolwe gegooi. Boonop het hy slu met die waarheid omgegaan en by tye skaamteloos gelieg, sodat veral die meerderheid mense wat oor akademiese kwalifikasies beskik, begin besluit het dit sal nie deug nie; die man is ’n ploert. Soos Trump se gelyknamige seun tydens hierdie week se opstand in Washington, DC ter opstoking van die opstandelinge uitgeroep het, het hy die Republikeinse Party omskep sodat dit nie meer die Republikeine se party was nie, maar Trump se party.

Hoewel daar baie steun vir Trump se proteksionistiese beleid was en is, veral wat die ekonomie betref, het sy gedrag hom begin stemme kos in voorstedelike gebiede, onder vroue en by akademies opgeleide mense. Hulle het hul rug begin draai op die despotiese plutokrasie van Trump se party. Die tekens was ryp in die blom toe die Demokrate tydens die tussenverkiesings in 2018 die Raad van Verteenwoordigers oorgeneem het. Trump se gedrag, sy omarmende ondersteuning van verregse groepe en vreemde samesweringsteorieë, en sy algemene gebrek aan goeie maniere was besig om hom in te haal, al het die ekonomiese sukses van sy beleid gelyk of dit sy herkiesing sou kon red.

...
Trump het kenners soos Anthony Fauci verkleineer al het hy self geen mediese opleiding of agtergrond nie. Onsinnige samesweringsteorieë oor entstowwe is versprei.
...

Uiteindelik was dit sy hantering van die koronavirus wat Trump sou kelder. Lank nadat mediese owerhede gewaarsku het teen die dodelikheid van die virus het Trump bly beweer dis fopnuus. Hy het geweier om ’n gesigmasker te dra en ook nie ander Amerikaners verplig om dit te doen nie. Die VSA het die middelpunt van die virus geword, met die meeste gevalle en die meeste sterftes. Trump het kenners soos Anthony Fauci verkleineer al het hy self geen mediese opleiding of agtergrond nie. Onsinnige samesweringsteorieë oor entstowwe is versprei.

Die luidrugtige aanhang van kwaksalwers het Trump net mooi niks gehelp toe hy self enkele dae voor die verkiesing die virus opdoen en in die hospitaal opgeneem word nie. Net die allersafste intellek sou beïndruk word deur sy aanspraak oor sy eie krag nadat hy van die virus herstel het. Dit het al duideliker geword dat hy in die oë van ’n groeiende getal kiesers ’n grootdoenerige windsak is.

In die aanloop tot stemdag het dit geblyk dat die stempersentasie heelwat hoër as gewoonlik sou wees. Demokrate se optimisme is aangevuur deur die groot aantal kiesers wat posstemme uitgebring het nadat Trump (moontlik as deel van sy ontkenning van die koronavirus) standpunt ingeneem het teen posstemme en ten gunste van stem in persoon op stemdag.

Dit was juis toe dat Trump vleis begin gee het aan sy voortgesette bewerings dat enige uitslag wat hom nie die oorwinnaar verklaar nie, bedrog sou wees. Tekens van dit waarna senator Bill Cassidy, Republikein van die deelstaat Louisiana, die dag na die opstand sou verwys as “Derdewêreldse” gedrag, het algaande duideliker begin deurslaan. Dit sluit in die ondergrawing van die verkiesingsproses se legitimiteit, aanhitsing van geweld nadat jy verloor het, en die ontwikkeling van onbewese samesweringsteorieë om jou nederlaag mee te ontken.

Tersyde: In November het Andreas Velthuizen in LitNet Akademies geskryf: “Op grond van ’n literatuurstudie en vertolkings gegrond op persoonlike waarnemings onder verskillende omstandighede, het ek bevind dat liberale demokrasie volgens Westerse verwagtinge, waar mensevryhede grondwetlik gewaarborg is (soos in die VSA en Europa), in Afrika nie volle wasdom bereik het nie.” Hy gaan dan voort om breedvoerig hierop uit te brei. ’n Mens wil tog die stoute skoene aantrek en wonder waar verlede week se gebeure die VSA laat in hierdie bevinding, om van sommige lande in Europa nie te praat nie.

...
Meer as 90 regters – van wie baie deur Trump met die hand uitgesoek is – het in hofsake reeds bevind daar is geen noemenswaardige tekens van knoeiery nie, en dat Trump se aansprake pure bog is.
...

Tans is dit duidelik dat Trump se persoonlike ster tekens gee dat dit besig is om te verskiet. Slegs 6 senatore uit 100 het gehoor gegee aan sy oproep om die verkiesingsuitslae ongeldig te laat verklaar. Meer as 90 regters – van wie baie deur Trump met die hand uitgesoek is – het in hofsake reeds bevind daar is geen noemenswaardige tekens van knoeiery nie, en dat Trump se aansprake pure bog is. Trump se ondermyning van die geloofwaardigheid van die Amerikaanse verkiesingsproses en van die Republikeinse Party het die Republikeine volgens alle aanduidings hul meerderheid in die senaat gekos met die twee verkiesingsnederlae verlede Dinsdag in die deelstaat Georgia. Veral David Perdue se kanse op sukses as ’n Republikein sou goed gewees het as Trump hom nie so openlik in eiebelang gesaboteer het nie.

...
Dit beteken nie die regspopulistiese verskynsel in Amerika is hoegenaamd verby nie. Die kiesers tot wie dit spreek se situasie is onveranderd.
...

Dit beteken nie die regspopulistiese verskynsel in Amerika is hoegenaamd verby nie. Die kiesers tot wie dit spreek se situasie is onveranderd. Die agteruitgang van die Amerikaanse wit werkersklas is wesenlik en gaan nie maklik sonder proteksionistiese maatreëls gestuit word nie. ’n Verdere faktor is dat Demokrate nou die hele federale regering – presidensie, Raad van Verteenwoordigers en senaat – beheer. Daar is Demokrate, byvoorbeeld die speaker van die Raad van Verteenwoordigers, Nancy Pelosi, wat eweseer persoonlik aanstoot gee as Trump. En daar is ’n erge linkervleuel in die Demokratiese Party wat in gedrag nie vreeslik baie verskil van die erge regtervleuel van die Republikeine nie.

Die pendulum sal swaai, tensy hierdie tipe ondersteuners en ampsdraers van die Demokrate hul gedrag matig, en die kanse daarop lyk gering. Politieke partye was nog altyd hul eie grootste vyande.

Trump-ondersteuning in Suid-Afrika

Een van die vreemdste newe-effekte van die Trump-fenomeen is die vurige gevolg en reaksie wat dit in Suid-Afrika ontlok. Trump-ondersteuning in Suid-Afrika is nog nie behoorlik nagevors nie, maar op die oog af bestaan dit ook grootliks (maar nie uitsluitlik nie) uit wit mense met ’n gevoel van ontheemdheid en magsverlies, wat lei tot ’n geneigdheid tot populisme, samesweringsteorieë en fundamentalistiese geloofsuitlewing, asook wantroue in onder meer die hoofstroommedia, die demokratiese politieke proses en die mediese wetenskap. Verhale van Suid-Afrikaners, selfs akademies goed opgeleide Suid-Afrikaners, wat weier om ingeënt te word teen die koronavirus kom toenemend voor. Dit is uiteraard kommerwekkend, want met ’n entstof as die enigste teenmiddel teen die virus kan hierdie tipe balhorigheid hulle, hul geliefdes en die samelewing duur te staan kom en van veel ontneem.

...
Verhale van Suid-Afrikaners, selfs akademies goed opgeleide Suid-Afrikaners, wat weier om ingeënt te word teen die koronavirus kom toenemend voor.
...

Dit sal Suid-Afrikaanse simpatiseerders van Trump dalk loon om die onlangse woorde van ’n baie suksesvolle en polities gerespekteerde gematigde Republikein, oudgoewerneur Arnold Schwarzenegger van Kalifornië, ter harte te neem. Schwarzenegger het hierdie week ’n video vrygestel waarin hy vir die eerste keer in die openbaar oor sy pa praat. Soos baie Oostenrykers in die aanloop tot en tydens die verloop van die Tweede Wêreldoorlog was sy pa nie juis anti-Semities nie, maar het hy om ander redes by die Nazi’s betrokke geraak en kon hy homself later nie meer distansieer daarvan nie. Schwarzenegger se vertelling van die invloed van hierdie insypelende ekstremisme op sy pa en op hul gesin is hartroerend en straks instruktief, ook vir Suid-Afrikaanse Trump-ondersteuners.

Ander joernaliste soos Tim du Plessis en Arrie Rossouw het tereg elders reeds gewys op die raakpunte tussen verlede week se gedrag deur die Trump-oproermakers in Washington, DC en die gedrag deur die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) in Suid-Afrika tussen 1979 en 1994, veral betreffende die ontwrigting van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) in Kempton Park in 1993, en die inval in Bophuthatswana in 1994. Waar die beelde verlede week herinner het aan eersgenoemde, was dit die video-onderhoud met ene Elizabeth van Knoxville, Tennessee, wat aan laasgenoemde herinner het.

Soos met die frustrasies van Trump-ondersteuners in die VSA is die ontevredenheid en ontheemding van Trump-ondersteuners hier in Suid-Afrika wesenlik en gaan dit nie sommer verdwyn nie. Die vraag is hoe om dit effektief op ’n eties verantwoordbare, beskaafde en aanvaarbare wyse te takel.

...
Die gedrag van die AWB in veral 1993 en 1994 het die onverwagse gevolg gehad dat dit Suid-Afrikaners oor ideologiese, historiese, politieke en rassegrense heen teen daardie tipe gedrag verenig het – miskien teen slegs daardie tipe gedrag.
...

Dit was IL de Villiers wat in sy gedig “Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself” gekonstateer het “as niks meer heilig is nie, word alles heilig”. Die gedrag van die AWB in veral 1993 en 1994 het die onverwagse gevolg gehad dat dit Suid-Afrikaners oor ideologiese, historiese, politieke en rassegrense heen teen daardie tipe gedrag verenig het – miskien teen slegs daardie tipe gedrag. Verskeie Amerikaanse leiersfigure het na verlede week se gebeure as die ontheiliging van die tempel van Amerikaanse demokrasie verwys. Dit is sterker terme as wat ek sou verkies, maar dit wil lyk asof die geskiedenis homself mag herhaal, en Yeats se middelpuntsoekende kragte in “The second coming” – straks net uit weersin met verlede week se gedrag – in so ’n mate sal sentreer dat dit aan die bloedbevlekte gety van die geskiedenis sal ontkom.

Lees ook op LitNet Akademies:

Die buigsaamheid van demokratiese verkiesings in Afrika: Manipulasie in belang van faksiebeskerming of mensgerigte veiligheid?

  • 19

Kommentaar

  • Dankie vir ‘n goeie ontleding van die situasie. Een aspek wat jy nagelaat het was die sensortaktiek wat Big Tech en die hoofstroommedia in die saga gespeel het en die gevaar wat die verbod van verskeie Twitter-rekenings kan teweegbring. Eerstens kan dit Trump as martelaar verklaar wat baie probleme vir die Biden-regering kan veroorsaak. Die vryheid van spraak is ook in so ‘n mate aangetas - baie diktators veral in die Midde-Ooste word nog toegelaat om vryelik hul haat teen die Weste en veral Amerika op die platforms te verkondig. Moet sê baie van diegene wat jy Trump-ondersteuners noem, het meer die Republikeinse party ondersteun en dit veral so genoem. Die Trump-haters aan die ander kant het gehamer op sy sinnelose uitsprake en verby gekyk hoe vinnig die entstof onder sy aansporing ontwikkel is, hy reeds vroeg vlugte van China wou stop, maar die Demokrate rassis geskree het en dat hy China en die WGO se aandeel in die verspreiding van die virus as verdag verklaar het. Ook dat die virus die grootste skade in die Demokratiese deelstate aangerig het. Nou dat China nie ‘n ondersoekspan daar wil toelaat nie is dit duidelik dat die rokie wat daar was werklik ‘n vuurtjie was en nie samesweringsteorië nie.

  • Ondanks alles wat geskryf is en nog geskryf sal word, wemel die web steeds met opskrifte soos: https://theconversation.com/american-elections-ranked-worst-among-western-democracies-heres-why-56485
    American elections ranked worst among Western democracies. Here’s why.

    Sonder om op al die besonderhede in te gaan is dit tog verbasend om te sien dat die VSA laag op die Electoral integrity index geplaas word.

    Berigte soos die laat 'n mens wonder waarom belangrike sake soos dié so min aandag geniet wanneer oorsake oor ontevredenheid by Amerikaanse kiesers en dan veral die aan die sg regse kant bespreek word.

  • Gustaf Claassens

    Ek het nog altyd gedink dat Jan-Jan Joubert redelike pogings aanwend om gebalanseerde kommentaar te lewer oor politieke aangeleenthede. In hierdie geval sluit hy homself egter aan by die Amerikaanse hoofstroommedia kollegas en anti-Trump haatgroepe wat bekend is vir hulle eensydige standpunte, kommentaar en vyandigheid.

    Erger nog, hy raak absolute belaglikhede kwyt waarvan sy stelling van 'n staatsgreep werklik die wenkbroue laat lig. Ek het waaragtig nie vir 'n oomlik gedink dat daardie protesterende groep mense met baniere daarop uit was om 'n staatsgreep te probeer uitvoer nie. En dit nogal teen opgeleide en gewapende magte van die grootste wêreld moontheid. Hierdie oordrewe stelling van Joubert reg in die begin van sy artikel was reeds 'n aanduiding dat 'n erg subjektiewe bydrae gaan volg.

    Joubert se verwysing na die protesgangers as die "vyand" is eweneens belaglik, indien nie lagwekkend nie. Hoe kan na mede burgers as die vyand verwys word bloot omdat hulle nie die Demokrate, Black Lives Matter en Antifa se standpunte deel nie. Sou 'n verwysing na "politieke opponente," wat in boewery oorgegaan het, nie 'n raker beskrywing wees nie? Joubert werp nie 'n woord oor die geweld van groepe soos BLM en Antifa in hul geweldadige stedelike protesoptogte nie. Hoe alles wat voorkom aan die brand gesteek en geplunder word en hoe die hoogste hof redelik onlangs geweldadig deur hulle beset is. Geen woord daaroor of 'n beskuldigde vingerwysing na hulle as "die vyand" nie.

    Wat egter skandalig is, is die indruk wat Joubert probeer skep dat hierdie mense agterlik is, nie oor kwalifikasies beskik nie en daarom eintlik maar net geïgnoreer en op sy beste, dalk maar net verdra moet word. Hy bevind hom hiermee in die geselskap van Hillary Clinton wat ook na dieselfde mense as "deplorables" verwys het wat haar die verkiesing in 2016 gekos het.

    Bloot omdat hierdie mense nie die Demokrate steun nie, word neerhalend na hulle verwys. Wat Joubert by implikasie sê is dat byna die helfte Amerikaanse kiesers (74 miljoen) deel is van hierdie 'deplorables.' As Joubert die moeite gedoen het sou hy geweet het dat dit juis hierdie mense is wat Amerika gebou het tot waar die land vandag is. Met harde arbeid en sweet is Amerika gebou, iets waarna leiers graag met trots verwys wanneer na die land se geskiedenis verwys word. Natuurlik is dit 'n totaal oordrewe standpunt om die indruk te skep dat dit bloot Demokrate is wat oor kwalifikasies beskik en wat grade verwerf.

    Miljoene Republikeine beskik oor dieselfde kwalifikasies. Mens verwag dat die rassekaart gewoonlik deur meeste joernaliste gespeel word maar hier gaan Joubert verder en speel ook 'n klasse-kaart. Nie iets om op trots te wees vir iemand soos hy nie. Dis nie net die 'grade mense' wat bydraes lewer nie. Inteendeel, dis ook die mense met ruggraat wat dit doen.

    Ek is nie 'n Trump of Biden aanhanger nie oor verskillende redes. Maar, ek kan wel insien dat Trump nie net sleg en hopeloos was in sy termyn as President nie. Aan die anderkant kan ek, anders as die media, aantoon dat die aangewese President Biden glad nie iemand is om na op te sien nie.

    Praat jy oór, of ván Donald Trump, bestaan daar amper nie ‘n afbrekende of beledigende woord wat nog nie teen hom gebruik is nie. Hy het egter die meeste aanslae teen hom oorleef totdat dinge erg skeef geloop het tydens die optog van sy ondersteuners na "Capitol Hill." Chaos is veroorsaak wat onverskoonbaar is.

    Donald Trump is nie 'n altyd 'n 'aangename' mens nie. Hy het talle narsistiese eienskappe en is in die uitoefening van sy pligte ook baie diktatoriaal. Enige redelike mens sal dit erken. Hy is 'n gedrewe mens en resultaat gerig. Loop dinge reg, is hy vriendelik en selfs joviaal. Loop dinge nie reg nie verander hy gou in 'n 'norse bul.' Maar dit gesê; hoe lyk die prestasielys van hierdie vyand van die hoofstroom media en radikale linkse groeperinge na 4 jaar in die Withuis? Net 'n paar voorbeelde:

    * Hy is die eerste Amerikaanse president, sedert Eizenhower, wat nie in ‘n buitelandse oorlog betrokke geraak het nie.

    * Hy het die Noord Koreane geneutraliseer en hul missiele oor Japan, wat die Amerikaanse Weskus bedreig het, stopgesit.

    * Hy het die wydverspreide korrupsie in die FBI, die CIA en ander instellings grootliks hokgeslaan en ongerymdhede in die Demokratiese sowel as die Republikeinse Party oopgekrap en openbaar gemaak.

    * Hy het Midde Oosterse Vredes Ooreenkomstes bewerkstellig. Iets wat sy voorgangers oor baie dekades nie kon regkry nie.

    * Hy het Amerika se verhouding met China omgeswaai en het honderde besighede en ekonomiese geleenthede na Amerika teruggebring en sodoende die Amerikaanse ekonomie 'n groot hupstoot gegee.

    * Sy impak op die Amerikaanse ekonomie was om die minste te sê, uiters merkwaardig. Hy het derduisende werksgeleenthede geskep en werkloosheid onder die Latyns-Amerikaanse en Swart bevolkingsgroepe drasties verminder. Meer as enige president voor hom.

    * Hy het in sy eerste jaar op kantoor, talle sleutel Generaals en Admiraals die trekpas gegee en dit ‘ondervang’ met ‘n positiewe en doelgerigte opbou van die Amerikaanse weermag. 'n Weermag wat deur die Obama/Biden Administrasie groot agteruitgang begin toon het.

    * Hy het NAVO lande gedwing om hulle finansieële (lidmaatskapgelde) verantwoordelikhede teenoor dié Organisasie na te kom. Iets wat vir dekades nie gedoen is nie en die rekening gewoonlik aan Amerika oorgelaat is om te vereffen.

    * Hy het Amerika se belasting verminder, die standaard terugbetaling op die IRP van getroude paartjies van $12,000 na $24,000 verhoog en veroorsaak dat die aandelebeurs tot rekord hoogtes gestyg het. Dit het ‘n positiewe impak op 10 miljoene burgers se aftree-pakkette gehad.

    * Hy het die ontwikkeling van verskillende COVID entstowwe aangemoedig en voorspel dat die eerste inentings voor 2021 sou plaasvind. Hy's deur die media en opponente uitgelag totdat dit werklikheid geword het. Onder vorige administrasies kon geen entstowwe vir SARS, Voëlgriep, Ebola, en ‘n hele rits ander siektes ooit suksesvol aangespreek word nie.

    Daarteenoor word die nuut verkose President, Joe Biden basies net deur die media "regop" gehou. 'n Persoon wat in sy 47 jaarlange politieke loopbaan absoluut niks vermag het nie. Iemand wat in die spervuur is vir "onreëlmatige" transaksies met China en die Oekraïne. Iemand wat klagtes van seksuele teistering in die gesig (ge)staar (het). Iemand wat bekend is vir sy vatterigheid en snuifery aan vroue en kinders wat hewige kritiek ontlok - sien skakel hieronder. Iemand wat homself kort-kort 'verloor' tydens toesprake....... tekens van dementia wat selfs deur sy eie ondersteuners te kenne gegee word - sien skakel hieronder van ons eie Trevor Noah voordat hy besef het dat Biden Amerika se nuwe President sou word. Die vraag op almal se lippe is of die Demokrate en die Biden familie dit gaan regkry om al hierdie dinge 'onder die mat in te vee' en gaan laat verdwyn. Veral noudat die mag (en groot tegnologiese instellings) in hulle hande is.

    Dit is egter Biden se skeinheilige, agterbakse oneerlikheid wat die meeste pla maar selde ooit deur die hoofstroom media aangespreek word. Hier is 'n paar voorbeelde, uitgelig op Netwerk24 deur Rhynie Greeff:

    * Biden vertel aan 'n Swart gehoor op 11 Februarie 2020 hoe hy en Ambassadeur Andrew Young in die sewentigerjare in Soweto gearresteer is toe hy Pres. Mandela in Robbeneiland wou besoek. Toe hy daaroor gekonfronteer word moes hy erken hy't gelieg om nie eers te praat oor sy belaglike opmerking dat Robbeneiland in Soweto is nie. Verstommend!!

    * Biden vertel 'n soorgelyke arrestasie storie van hoe hy in SA was, oppad na Lesotho en toe sommer aangekeer is. Ook hieroor lieg hy en moes bontstaan toe hy meer daaroor tydens die verkiesing uitgevra en gekonfronteer is.

    * In 1987 stel Biden hom beskikbaar as Presidents-kandidaat en pleeg plagiaat deur 'n toespraak van die Britse Opposisie leier Neil Kinnock woordeliks te gebruik. Biden gaan selfs so ver om aspekte van sy eie lewe uit sy duim te suig en in te pas by Kinnock se gesteelde woorde. Skokkend maar waar!

    * As 'n gewoonte leuenaar word Biden op Universiteit deur 'n Professor aangekla vir plagiaat en met 'n "F" simbool gedruip. Onverskoonbare gedrag maar glad nie ernstig in die oë van die hoofstroom media nie!

    * Steeds kan Biden homself nie help nie en sy lieglys word net langer en langer. Hy loop en vertel aan almal om te hoor dat hy met 'n volle beurs in die boonste helfte van sy klas geëindig het, drie grade verwerf het en aangewys is "as die mees uitstaande student." Natuurlik 'n klomp bog soos gewoonlik want die feite wys toe daarop dat hy net 'n gewone BA-graad behaal het en 506de uit 'n klas van 688 geëindig het. Nog 'n skandaal waaroor die media nie wil praat nie!

    * Na verdere ondersoek oor sy akademiese rekord blyk dit ook dat hy net 'n halwe beurs gehad het om regte te studeer en 76ste uit 85 geëindig het om vir regstudies te kwalifiseer. Weereens die gedrag van iemand met 'n minderwaardigheids kompleks maar aan 'n verwronge grootheidswaan ly!

    * In 1987 loop en vertel Biden heldhaftig hoe hy saam met duisende mense marsjeer het vir Swart burgerregte. Na druk van die media moes hy later erken dat sy betrokkenheid by burgerregte beperk was tot 'n somervakansie loswerkie by 'n swembad waar hy bloot swart lewensredders leer ken het.

    * Hierdie blatante liegstorie van Biden dwing die swartburgerregteaktivis om soos volg na Biden te verwys: "Since the early 1970's Joe Biden has been a serial liar when it comes to his 'work' in the Civil Rights Movement."

    Tydens die 2020 Presidensiële verkiesing word Biden se geestestoestand dikwels bevraagteken en lieg homself deurentyd vas oor belangrike aangeleenthede wat uiteraard geen aandag in die media kry nie - sien skakel hieronder. Hy kom selde uit sy "bunker" om stemme te werf en wanneer hy dit wel doen luister (meesal) tussen 10 en 80 mense na hom. Daarteenoor trek Trump tussen 10 en 50 000 mense op 'n slag. Toe die uitslae egter bekend gemaak word, het dit presies die teenoorgestelde uitkoms wat uiteraard groot vrae oor die geldigheid van die verkiesing laat ontstaan. 'n Verkiesing wat grootliks deur massas posstemme bepaal is onder die voorwendsel dat Covid-19 dit noodsaak.

    Hierdie situasie eindig eventueel in die onaanvaarbare protes-optrede van Trump ondersteuners wat "Capitol Hill" storm loop. Dit is presies waarop die hoofstroom media gehoop het en die gebeure word 24/7 oor en oor op CNN en ander TV-netwerke gewys. Trump word as die skuldige en selfs onstabiele mens voorgehou. Hy word van Twitter verwyder en so begin 'n proses om enige iemand wat met die Demokrate en die hoofstroom media verskil, stil te maak - sien skakel hieronder. Mense wat dit wel doen word geïntimideer en gedreig dat hulle, hulle werk sal verloor. Hierdie diktatoriale optrede van die Demokrate, hoofstroom media en mega tegnologiese instellings soos Google, Faceboek en Twitter is tans besig om groot debatte te ontlok. Dit word tereg as 'n groot aanslag teen demokrasie en die Vryheid van Spraak beskou. Iets wat altyd as fundamentele regte van Amerikaanse burgers beskou word - sien skakel hieronder.

    Wat Pres. Trump self betref; wel, hy het met sy grootheidswaan en arrogansie grootliks tot sy eie val bygedra. Natuurlik het TV-netwerke wat vir 4 jaar lank en 24 uur per dag gewerk het om hom te diskrediteer en af te breek, deel aan daardie 'sukses.' Hulle haat, nyd en leuens het telkemale die irritasie kol getref en Trump se argwaan op die hals gehaal. Dit lyk of Trump se politieke dae vir alle praktiese doeleindes as gevolg van hierdie gebeure vir eers verby is. Trump was nooit die tipe persoon wat Amerikaners in 'n eenheid kon saamsnoer nie. By hom was dinge óf wit óf swart. Niks tussenin nie. Politieke korrektheid het hom laat gril omdat dit vals en in niemand se belang is nie. Om 'n leuen in hierdie opsig te leef was nie vir hom nie.

    Dit bly egter 'n feit dat Donald Trump wel goeie dinge gedoen het én groot suksesse behaal het. Om dit te probeer afmaak sou kwaadwillig en 'n doelbewuste leuen wees. Dit slaan mens wel dronk dat Amerika op die oog af net nie oor die vermoë beskik om sterk, eerbare leiers met integriteit in die veld kan stoot vir President nie. Die volgende 4 jaar gaan dit weer onderstreep.

    SKAKELS.

    1. https://deadline.com/2020/03/trevor-noah-confused-by-joe-biden-gaffes-1202872949/

    2. https://youtu.be/iXPqXW534nQ

    3. https://www.facebook.com/190003578249292/videos/415322913118877/

    4. https://www.facebook.com/AmericaBolling/videos/4908948079146564/

  • Hans Richardt

    Jan-Jan, niemand skryf of praat oor sagte staatsgreep deur ANC bevelsraad in SA nie? As jy ooit tandlose honde gesien het, is dit nou politieke opposisie partye in SA...
    Sagter gestel, opposisie partye is nou net ekspert politieke kommentators in media en op sosiale media.

  • Bravo, Jan-Jan Joubert, jy noem dit soos dit is! Drie kort kommentare:

    1. Baie Mexikane is onlangse immigrante, maar baie het sedert die negentiende eeu deel geword van die VSA toe groot dele van Mexiko deur die VSA geannekseer is.

    2. Daar is 'n diepgesetelde neiging in die Amerikaanse psige tot afsondering en onttrekking wat in 1917 en met Pearl Harbour uitwaarts gedwing is. Pres. Trump het dit met slagspreke soos "America First" uitgebuit.

    3. Die grootste probleem is egter die grondwet van die VSA met sy (nou) fundamentele ondemokratiese kiesstelsel wat die direkte instem van 'n kandidaat stuit soos met die geval van Me Clinton wat die meerderheidstemme ontvang het, maar nie genoeg kieskollegestemme gekry het nie. Dit is 'n komplekse stelsel, geheilig deur tradisie en die verwikkelde aard van die federale stelsel en die hervorming daarvan bied 'n groot uitdaging aan die Amerikaners.

  • Jan-Jan duidelik is jy deel van die linkse hoofstroom media en fake news. Ek kyk direk op youtube en talle platforms en kon nie sien waar Trump die mense tot geweld aanhits nie. Ek het ook gekyk na die talle opnames oor verkiesingsbedrog, bewyse van dooies wat gestem het, stembriewe wat talle kere gelaai word, hantekeninge wat ontbreek, affidavits van werkers wat tydens die stem tellery gewerk het, van die eerste persoon wat nou in hegtenis geneem is oor bedrog en kullery. Jy is een van die sogenaamde joernaliste wat eintlikse aktiviste is en die bevolking bedrieg met jou verskuilde sosialistiese agenda.

  • Sarie ek stem 100% saam met jou. Big tech se aanslag op die vryheid van spraak gaan die linkerkant ook byt. Hulle jubel en juig sal van korte duur wees.

  • Baie goeie artikel. Daar word nie vermelding gemaak van Trump se groot klomp skuld nie. Daar word beweer dat sy maatskappye meer as $1bilj dollar skuld het. Sy hotelgroep het alleenlik, heelwat meer as $100milj dollar skuld. Dit is so ooglopend hoe Trump in vele openbare verskynings COVID-19 afgemaak het as 'n oordrewe bedreiging nie, dat dit nie ontken kan word nie. Geen hotelgroep kan sy skuld diens as daar nie besoekers is nie. Dit blyk dat Trump, dikwels in eie belang opgetreë het, wat niks anders is as staatskaping nie. Regse mense ontken Trump se skuld. Trump self, het op media konferensies gesê sy skuld is die helfte minder. Maar dit is dis nog steeds 'n reuse $500milj dollar. Daar is ook die kwessie van sy beweerde uitstaande belasting. dis duidelik hoekom hy nog wou aanbly as president. Dit is moeilik om 'n president in 'n siviele saak in howe te laat verskyn en dit het Trump gepas.

  • Baie mooi die MSM opgesom en vir ons nou 'n samevatting gegee. Dit sal nou lekker wees as jy die ware feite en stand van sake in die heelal navors en its behoorliks saamstel wat ons nie elke dag op CNN hoef te verwurg aan nie.

  • Wat sê Forbes oor die skuld."It is important to note, as Trump did Thursday night, that he also has significant assets. Forbes values them at $3.66 billion, enough to make his net worth an estimated $2.5 billion. He is not broke, despite what many critics claim."

  • Gustaf Claassens, niemand kon dit beter as jyself gestel het nie, en ingeval jy dalk vergeet het, haal ek uit jou kommetaar direk aan: "Wat Pres. Trump self betref; wel, hy het met sy grootheidswaan en arrogansie grootliks tot sy eie val bygedra". Daar het ons dit nou.

  • Theo, hoe is dit moontlik dat Trump se regspan nie genoeg van die "bewyse" wat jy op die vele platforms gesien het, kon voorlê om beslissings in Trump se guns te kry nie? Of was die verhoor-regters almal dom? Sekerlik is die oorgrote meerderheid nie in Biden se sak nie...?

  • Jammer, maar dit was geen staatsgreep piging nie. Artikel bevat maar grootliks dieselfde bog wat links-liberale media dag na dag opdis. Is al so moeg hiervoor.

  • Chris Erasmus

    Ek lees mnr Joubert se artikel met die nodige "respek" as wat ek die res van die Nuus24 bende se beriggewings lees. Ek het die afgelope VSA verkiesing en konsert wat daarop gevolg het nogal slaafs nagevolg. Ek het tot die besef gekom die VS van A is ook nie meer so 'n lekker plek om in te bly nie. (Hulle het ons begin navolg) Verstaan my mooi, ek hou nie van Trompie nie. Hy is bombasties, nukkerig en en het ergere verwaandheidswaansin. Ek is ook nie te vinde vir die trop wat hy saam met hom Withuis toe gesleep het nie. Dit daar gelaat. Hy is duidelik nie 'n politikus nie. Met sy beleid en besluite kan ek geen fout vind nie. 'n Land is soos enige ondernemimg. Jy moet 'n balansstaat hê. Hy het volgens my baie goed reg gedoen. Hy het ook die "Amerikaanse droom" tot 'n val gebring, as daar ooit een was. Hy het die Westerse grootste moontheid se demokratiese bedrogspul ontbloot. Dit sal interresant wees wat die Osama Bin Biden gaan en kan doen. Ek het al voorheen voorspellings gewaag en in die hek geduik, maar die oudste gaan nie sy termyn uitdien nie. Me Kameel Harras gaan oorneem. Ons praat van rassespanning in Suid-Afrika. Ons gaan nou sien wat rassespanning werklik is. Wat in die VSA gebeur het, gaan 'n rippeleffek op die res van Westerse wêreld hê. Die Liberale regerings/denkwyse se tyd is ook uitgedien. Wat my die meeste onstel is dat indien jy nie saam met die liberale saamstem nie word jy as regs/agterlik en versteurd gebrandmerk. Die gemiddelde obese Coke en Hamburger kultuur eiewaan Amerikaner gaan nog wakker skrik en ek is bevrees dit gaan te laat wees. Sal ook nie verbaas wees as daar state gaan wegbreek nie. Glo nie al die Amerkaners dink Hollywood is die alfa en omega nie. Slegs die tyd sal leer. Hou egter vir Trompie dop. Hy is nog nie klaar nie.

  • "Meer as 90 regters – van wie baie deur Trump met die hand uitgesoek is – het in hofsake reeds bevind daar is geen noemenswaardige tekens van knoeiery nie, en dat Trump se aansprake pure bog is."

    Rerig? Doen die moeite en kyk na die sake self. Jy werk met sekondêre hoofstroom bronne Jan-Jan. Vrot joernalistiek op sy sagste gestel. Doen jouself 'n guns en kyk na die analise van R & R Law Group en lees dan die sake self. 'n Verskoning sal gepas wees.....

  • Hans Richardt

    Jan-Jan Joubert, hier in SA het ANC bevelsraad sagte staatsgreep, met toestemming van sg opposisie partye uitgevoer. Terselfdetyd is leiers van hierdie opposisie partye, ekspert politieke kommentators, net in media, met weinig invloed by Bevelsraad.
    Bv Bevelsraad is alleen verantwoordelik vir verkryging van Covid entstof. Waarom mag Suid-Afrikaners nie meer bv malaria medikasie koop oor toonbank soos voorheen nie of Ivermectin tablette in kursus? Oral word reeds inentings gedoen, behalwe in agterlike SA onder beheer van ANC Bevelsraad. Voorheen was inentings vir griep vrylik oor toonbank medikasie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top