
Foto: Donald Trump (Gerd Altmann op Pixabay)
Op Sondag 15 September 2024 was daar ’n tweede poging op Donald Trump se lewe terwyl hy besig was om gholf te speel in Florida.
Anders as die vorige poging, waar Trump skrams teen die oor getref was, is die vermeende aanvaller opgemerk en gekeer voordat hy op Trump kon vuur. Volgens berigte het ’n lid van Trump se beskermingseenheid, getaak om vooruitbespieding te doen, die loop van ’n geweer by ’n struik sien uitsteek en begin skiet. Die verdagte het toe sonder sy geweer, na bewering ’n AK-47, gevlug. Hy is later aangekeer en gearresteer.
Daar is alreeds in die kort tydjie sedert die nuus bekend geword het, heelwat geskryf oor hoekom die aanvaller so naby aan Trump kon kom, en oor die feit dat dit die tweede aanval in twee maande is. Waarskynlik gaan daar ook heelwat geskryf word oor die omstrede Amerikaanse vuurwapenwetgewing wat dit moontlik maak vir individue om outomatiese aanvalswapens te koop.
Hierdie artikel probeer ’n voorspelling waag oor die impak van ’n tweede aanval op Trump se presidensiële veldtog.
........
Die eerste aanval het Trump se veldtog aansienlik versterk, in beide entoesiasme en finansiële bydraes. Sedertdien het hy verskeie terugslae gehad.
........
Die eerste aanval het Trump se veldtog aansienlik versterk, in beide entoesiasme en finansiële bydraes. Sedertdien het hy verskeie terugslae gehad. Eers het Biden onttrek as die Demokratiese kandidaat, en daarmee saam Trump se hele strategie, om homself as die meer energieke kandidaat te posisioneer, laat inmekaar tuimel.
Toe, nadat Kamala Harris, ’n aansienlik jonger en meer dinamiese kandidaat, na vore getree het, het sy blitsvinnig fondswerwingsrekords laat spat. Tim Walz, haar keuse as potensiële visepresident, is ook aansienlik meer gewild en toeganklik as Trump se keuse, JD Vance. Na die eerste openbare debat tussen Harris en Trump, waar Harris voorspelbaar aansienlik beter gevaar het as haar teenstander, het daar verdere terugslae gevolg. Die bisarre stelling dat migrante katte en honde eet, wat tot heelwat memes en spotdryf aanleiding gegee het, het Trump se geloofwaardigheid ’n knou toegedien, veral nadat amptenare van Springfield, die dorp waaroor die bewerings gemaak is, dit as onwaar afgemaak het.
Boonop het Taylor Swift, ’n persoon wie se beeld en musiek Trump sonder haar toestemming in sy veldtog gebruik het, in die openbaar haar steun aan Harris bekendgemaak. Dit was waarskynlik vir Trump ’n groter terugslag as wat die debatdebakel kon gewees het.
JD Vance was in elk geval ook flink besig om Trump se veldtog te ondermyn. Dis nie seker wat hulle obsessie met katte is nie, maar Vance het by geleentheid te velde getrek teen kinderlose vroue wat eerder katte as troeteldiere aanhou. Swift het Vance se woorde gebruik deur haar steun aan Harris te onderteken as ’n “childless cat lady”. Soos ’n kollega sou sê, “Nog ’n knock op ’n knock” vir Trump.
Ek vermoed Trump gaan hierdie sluipmoordpoging, soos met die eerste aanval, gebruik as ’n fondsinsamelingsgeleentheid en om nuwe lewe in sy veldtog te blaas. Dit het laas gewerk. Gaan hy hordes nuwe kiesers na sy kant oorhaal? Ek hoop nie so nie, maar sy lojale en fanatiese ondersteuners sal beslis nou met hernude ywer werk om hom herkies te kry.
........
Dis in elk geval onrusbarend dat geweld nou as ’n aanvaarbare politieke reaksie gesien word. Trump het deels self daaraan meegedoen toe hy die 2020-verkiesing se resultate probeer omverwerp het.
........
Dis in elk geval onrusbarend dat geweld nou as ’n aanvaarbare politieke reaksie gesien word. Trump het deels self daaraan meegedoen toe hy die 2020-verkiesing se resultate probeer omverwerp het. Was dit Harris in die spervuur, sou hy dit waarskynlik goedgekeur het. Maar dit gaan juis daarom dat volwasse politieke diskoers geweld as ’n opsie verwerp. Die alternatief is ’n terugkeer na die Wilde Weste van “Mag is krag”.
Biden het reeds aangedui dat Trump alle hulpbronne tot sy beskikking sal hê om sy veiligheid voor die verkiesing te verseker. My hoop is dat dieselfde hulpbronne ook aan Harris beskikbaar gestel word. Ek kan my kwalik ’n groter ramp indink as dat Harris die slagoffer van ’n sluipmoordaanval moet word.
As Trump hierdie verkiesing wen, woorde wat ek met ys en ’n beklemming in my hart skryf, dan is demokrasie in die VSA iets van die verlede. Om hom as martelaar voor te hou, selfs as gevolg van ’n mislukte aanval op sy lewe, bring hom ongemaklik naby aan so ’n oorwinning.
Dit kan nie gebeur nie, want so ongemaklik soos hierdie waarheid is, beteken demokrasie in die VSA ook demokrasie in ander wêrelddele, insluitend hier by ons.
Lees ook:
In die kruisvuur: moderne identiteitskonflik en strategiese oplossings

