
Foto: ’n Pretpark in Charlotte, VSA (Skyler Gerald op Unsplash)
Die afgelope week moes vir Amerikaners gevoel het asof hulle op die Kobra by die eertydse Ratanga Junction ry. Dis in elk geval hoe dit vir my as buitestander gevoel het.
Eers word op Trump geskiet. Bemarker wat hy is, het hy die geleentheid gebruik om sy politieke posisie te versterk. Die stoerste Demokraat moet simpatie hê met iemand wat aan die ontvangkant van politieke geweld is, tog. Ek dink nie Amerikaners sou twee minute van die politieke geweld in sê nou maar KwaZulu-Natal kon verduur nie, maar dalk is ek sinies. En ek is beslis sinies wanneer ek dink Trump is self agter die verkope van die stukkies gaasverband wat by die pas afgelope Republikeinse Nasionale Konvensie op talle ore gesien is. Maar onteenseglik het Trump die aanval in ’n positiewe geleentheid vir sy presidensiële veldtog omskep.
Boonop het hy JD Vance aangewys as sy verkiesingsvennoot en potensiële opvolger. Presies hoe en wanneer Vance verander het van ’n “Never Trump”-Republikein na sy grootste ondersteuner, is onseker, maar weer is dit gesien as tekenend van Trump se vermoë om sy party te verenig, en dit het sy posisie verder versterk.
Biden, daarenteen, was nog besig om te herstel van sy swak vertoning in die debat en om sy party te probeer oortuig hy is nog steeds hulle beste kans om Trump weer ’n bloedneus te gee soos in 2020, toe hy moes gaan isoleer nadat hy Covid opgedoen het. Dit het sy alreeds benarde posisie verder verswak.
Op Sondagaand ons tyd, nadat gerugte die rondte gedoen het dat selfs Barack Obama nou reken Biden moet eerder terugstaan, het Biden inderdaad aangekondig dat hy nie meer gaan staan vir herverkiesing nie, en dat hy Kamala Harris, sy huidige visepresident, ondersteun as die Demokrate se presidentskandidaat.
Sy moet natuurlik nou formeel benoem en deur die party as hul kandidaat aanvaar word. Gaan dit gebeur?
........
Trump het die Republikeinse Party, ten minste in die openbaar, verenig.
........
Die Demokratiese Party is in ’n moeilike posisie. Hulle het nie meer veel tyd oor voor November nie. Hulle moet die party verenig, maar is dalk onseker of Harris ’n sterk genoeg kandidaat is om Trump te verslaan. Om egter op hierdie stadium die resies oop te stel vir ander nominasies gaan potensieel hulle kandidaat verswak en Trump se oorwinning waarborg. Die beste wat hulle kan doen, is om Harris te bevestig, en dan een van die ander wat hul oog op die presidentskap het, haar verkiesingsmaat te maak. Hulle sal egter vinnig moet besluit. Trump het ’n voorsprong daarin dat hy alreeds geruime tyd met sy veldtog besig is. Harris, of wie ook al die Demokrate se nuwe kandidaat is, sal hard en vinnig moet werk om daai voorsprong te kanselleer.
Wat ons nou by Kamala Harris bring. Indien sy die Demokrate se steun ontvang, sal sy die eerste swart vrou in daardie posisie wees. Ander het al aan die resies deelgeneem, maar niemand is nog goedgekeur as nommer een op hulle lys nie.
Dit het met Hillary Clinton duidelik geword dat die Amerikaners nie veel aptyt vir ’n vroulike president het nie. Hopelik het die chaos van Trump se eerste termyn genoeg kiesers laat besef dat hulle nie kans sien vir ’n tweede termyn nie. Maar Trump het die Republikeinse Party, ten minste in die openbaar, verenig.
Met die 2020-verkiesing het ek gehoop vir ’n Kamala Harris-Elizabeth Warren-vennootskap. Met hierdie rondte is dit onseker wie sy sal kies, maar dit sal waarskynlik ’n man wees. Harris se eerste taak, een wat ek hoop sy alreeds die afgelope paar weke mee besig was, is om seker te maak dat die verskillende faksies binne haar party verenig om haar te ondersteun. Die Squad het alreeds hulle steun gegee, en hulle is verteenwoordigend van die mees kritiese, linkse faksies binne die party.
Onder die lys van ondersteuners is ook die Clintons, Warren en Pete Buttigieg. Barack Obama, na wie baie kyk vir ’n aanduiding van wat hulle moet doen, het egter nog geen aanduiding gegee dat hy haar, of enige ander kandidaat, steun nie.
........
Kan Harris wen? Dis die vraag op almal se lippe. Sy is beslis jonk en energiek genoeg om Trump opdraand te gee. Die aanduiding sover is dat sy aborsie en korrupsie as die fokus van haar veldtog wil kies.
........
Kan Harris wen? Dis die vraag op almal se lippe. Sy is beslis jonk en energiek genoeg om Trump opdraand te gee. Die aanduiding sover is dat sy aborsie en korrupsie as die fokus van haar veldtog wil kies. Aborsie was met die 2020-verkiesing ’n groot faktor wat veral jong vroue gemotiveer het om in rekordgetalle te gaan stem.
Maar sedert 2020 het heelwat water in die see geloop, en is daar ’n ander kwessie wat, vermoed ek, mense se keuses gaan beïnvloed, en waaroor sy sover stil is: Gaza, en Israel se vergrype daar. Nadat die Internasionale Geregshof Vrydag beslis het dat Israel se voortgesette besetting van Gaza en ander Palestynse gebiede onregmatig is, en dadelik gestaak moet word, is daar bepaald groter druk op Amerika om die regte ding te doen en hul ondersteuning van Israel te staak. Dit beteken onder meer dat hulle finansiële steun asook die voorsiening van wapentuig moet staak. Harris sal vermoedelik strenger wees, maar of sy alle ondersteuning vir Israel sal staak, is op hierdie stadium nog nie duidelik nie.
Trump sal waarskynlik ook een van sy gunstelingonderwerpe, onwettige migrasie oor die Meksikaanse grens, aan haar voete lê as ’n probleem wat sy nie kan oplos nie en waarvoor hy die enigste oplossing het.
Die grootste struikelblok wat Harris egter moet oorkom is dit: Beide binne die grense van haar land en daarbuite is die eeue oue vraag: Is ’n swart vrou goed genoeg om leier van een van die magtigste en rykste nasies in die wêreld te wees?
Michelle Obama het dit met die Trump-presidentskap baie goed gestel: “At this point, anyone is qualified.” En sy is reg.
Trump het met sy eerste termyn bewys tot watter grade van bewapende inkompetensie hy in staat is, en steeds was hy elke keer vergewe en selfs opgehemel. Harris het veel meer ondervinding binne die regering en internasionaal, en steeds moet sy haarself bewys.
Dis nie ’n toets van haar bevoegdheid of vermoëns nie, dis ’n toets van verskuilde (en minder verskuilde) vooroordele op grond van haar ras en geslag.
Ek sien uit na ’n Harris-presidentskap. Sy is veel meer ervare, diplomaties en bevoeg as die kompetisie.
Ongelukkig is dit nie noodwendig oorwegings in die Amerikaanse politiek, of inderdaad elders nie. Dus kan ek net duim vashou dat nugter denke sal seëvier en dat daar asseblief tog geen vinger na haar e-posse gewys kan word nie.
Lees ook:
In die kruisvuur: moderne identiteitskonflik en strategiese oplossings
Links en regs: Hoe lyk die huidige globale politieke toneel?

