
Trump (Foto: Shaleah Craighead [Wikimedia Commons, openbare domein]) en Harris (Foto: Lawrence Jackson [Wikimedia Commons, openbare domein])
Op 26 September 1964 het die eerste regstreekse TV-debat tussen die presidentskandidate Richard Nixon en John F Kennedy plaasgevind voor ’n rekordgehoor in die VSA. Dit sou vir die volgende 64 jaar die norm word, en die debat wat op 10 September tussen Kamala Harris en Donald Trump plaasgevind het, was ’n voortsetting van daardie tradisie. Die debat is deur ABC gefasiliteer en aangebied en deur 17 ander kanale wêreldwyd uitgesaai, met ’n geraamde 67 miljoen kykers. Die debat het plaasgevind in een van die deelstate, Pennsilvanië, wat ook een van die sewe kantelstate is, en ’n dag voor die historiese 11 September waarop die aanvalle op die Twin Towers in New York en die Pentagon in Washington, DC in 2001 herdenk is. Die formaat van die debatte is oor jare aangepas, maar die aanbieding word steeds afgewissel tussen die groot TV-dienste, naamlik CBS, NBC (MSNBC) en ABC, maar in die laaste dekade het die groeiende CNN en konserwatiewe Fox News ook deel hiervan geword.
Dit was Donald Trump se sesde deelname aan ’n politieke debat. Hy het in 2016 by twee geleenthede met Hillary Clinton kragte gemeet en in 2020 twee maal met Joe Biden. Vroeër vanjaar, in Julie, het hy ook met Joe Biden kragte gemeet, waarin dit duidelik was dat Biden nie meer op 82 die stamina het om aan hierdie uitmergelende politieke debatte deel te neem nie. Die debat op 10 September was die eerste presidensiële debat waaraan Kamala Harris deelgeneem het na die uittrede van Joe Biden, en die verwagting was dat omdat sy onervare was, Donald Trump oor baie meer politieke skietgoed sou beskik.
David Axelrod, wat al ’n aantal presidensiële kandidate afgerig en voorberei het vir hierdie soort debatte (onder andere ook Barack Obama en Hillary Clinton), verwys na hierdie debat as iets soortgelyk aan ’n mondelinge eksamen! Dit word regstreeks uitgesaai en die deelnemers weet nie presies wat die vrae gaan behels of hoe die opponent gaan reageer nie. Reaksie, lyftaal en “op jou voete dink” is van die belangrikste aspekte vir die deelnemers, behalwe goeie voorbereiding en ’n fyn en skerp aanvoeling vir die medium. Vorige kandidate met uitgebreide mediablootstelling het tradisioneel goed gevaar in die debatte, soos Ronald Reagan, Bill Clinton, Barack Obama en natuurlik Donald Trump self, wat op ’n stadium sy eie TV-program aangebied het.
Politieke beleid word nie in die debatte geskep of ernstig gewysig nie, en feitelike besonderhede is dikwels die slagoffer ten gunste van ’n kandidaat se slim en skerp reaksie op stellings deur sy of haar teenstander. ’n Goeie voorbeeld hiervan was die debat tussen Ronald Reagan en Walter Mondale in 1984, toe daar voor die debat baie vrae oor Reagan se ouderdom was. Hy was toe reeds 73. In die debat het hy opgemerk dat hy nie van ouderdom ’n kwessie sal maak nie, omdat dit Mondale se jeugdige onervarendheid onnodig sou blootlê, en hy wou dit vermy! So ’n oomblik draai die debat in die guns van een van die twee deelnemers. Daar was volgens my minstens twee sulke oomblikke in die debat tussen Harris en Trump (wat vanjaar 78 jaar oud is). Trump het met groot bravade daarop gewys dat hy die meeste stemme in ’n presidentsverkiesing in 2020 van enige Republikeinse presidentskandidaat gekry het toe 75 miljoen Amerikaners vir hom gestem het. Dit was ’n feitelik korrekte stelling. Kamala Harris het later in die debat op die punt teruggekeer en daarop gewys dat in dieselfde verkiesing 81 miljoen kiesers Trump in die pad gesteek het toe hulle vir Joe Biden verkies het. Dit was ’n skerp en fyn sinspeling op Trump se gewilde TV-program The apprentice wat hy vanaf 2004 vir 14 seisoene aangebied het en waar die program gewoonlik uitgeloop het op iemand wat in die pad gesteek word met die bekende woorde “You’re fired.”
Die tweede oomblik wat belangrik was in hoe Trump op stellings gereageer het, was toe Harris hom daarvan beskuldig dat hy mense verveel wat sy vergaderings bywoon. Dit was duidelik dat die stelling Trump die harnas ingejaag het, want hy spog gedurig met die groot skares wat sy politieke byeenkomste bywoon, en so tree sy gewone tirade in. Mense is gewoond daaraan dat Trump wye draaie deur die waarheid loop, maar dit het hom van sy sentrale tema ontneem, terwyl Harris by haar sentrale tema kon bly.
........
In die 90-minute-debat het Trump meer as 43 minute opgeneem, terwyl Harris net 37 minute gebruik het. Trump was egter swak voorberei en het waarskynlik gehoop dat sy afbrekende verwysings na Harris, en om haar waardigheid, identiteit en selfvertroue af te kraak, haar sou ontsenu. Dit het egter nie gebeur nie en die teendeel het ontvou.
........
Van die groot TV-kanale het Trump se feitebasis gekontroleer en 33 leuens of halwe waarhede uitgewys! Harris het egter ook twee of drie ongestaafde bewerings gemaak, om dit in konteks te stel. Dit het selfs daartoe gelei dat Trump immigrante daarvan beskuldig het dat hulle in Amerikaanse dorpies mense se troeteldiere eet!
In die 90-minute-debat het Trump meer as 43 minute opgeneem, terwyl Harris net 37 minute gebruik het. Trump was egter swak voorberei en het waarskynlik gehoop dat sy afbrekende verwysings na Harris, en om haar waardigheid, identiteit en selfvertroue af te kraak, haar sou ontsenu. Dit het egter nie gebeur nie en die teendeel het ontvou. Harris het Trump gedurig met uitlokkende opmerkings laat ontspoor en het geweet dat hy met sy sensitiewe ego op die punte sou reageer. Uiteindelik het Trump bitter min van die vrae aan hom beantwoord en telkens skuiling gaan soek by die gevaar wat immigrante vir die VSA inhou en dat Harris geen eie idees het nie, maar bloot ’n verlengstuk van ’n swak en sukkelende Joe Biden is.
Die debat het veral vier of vyf verkiesingstemas hanteer, naamlik die ekonomie en oplossings vir ekonomiese probleme; die kwessie van aborsie asook bekostigbare mediese versekering; immigrasie en die toename in misdaad; klimaatsverandering en buitelandse beleid, met twee fokuspunte, naamlik Oekraïne en Palestina. Die verskil in die reaksies van die twee kandidate was sigbaar duidelik. Trump het baie min oogkontak met Harris gemaak en stip na die kamera gekyk, soos ’n brombeer, terwyl Harris vriendelik rondgekyk, oogkontak gemaak en dikwels geglimlag het. Trump het meer tyd as Harris gebruik omdat hy daarop aangedring het om op haar stellings te reageer, wat telkens uitgeloop het op verdere onwaarhede, vergrotings en oordrywings. Een voorbeeld hiervan is die taal waarmee hy na immigrante verwys het wat daarop neerkom dat hulle verontmenslik is, dat hulle gedehumaniseer is en dat hulle politieke objekte is; teenoor Harris wat die menslike en humanitêre sy baie duidelik gekommunikeer het.
Oor die ekonomie het Trump sy meerderwaardige kennis duidelik uitgestal en eintlik met minagting na Harris en Biden verwys, terwyl hulle Trump se ekonomie na die Covid-pandemie geërf het. Harris het in haar model van ’n “geleentheidsekonomie” ook baie duidelik met die middelklas geïdentifiseer en Trump bestempel as iemand wat net die belange van die miljoenêrs en miljardêrs bevorder. Trump het Harris allerlei dinge genoem, van ’n liberalis tot ’n marxis, en daarmee wou hy aandui dat sy ’n gevaar inhou vir die kapitalisme in die VSA.
Twee punte het baie intense emosie by beide veroorsaak. Die eerste was die opheffing van die Roe vs Wade-aborsiebeginsel wat deur konserwatiewe regters opgehef is. Dit is deur die toedoen van Trump gedoen, en uit haar regsondervinding was Harris baie beslis dat sy die reg van ’n vrou om oor haar eie liggaam besluite te moet kan neem, sterk sal bevorder. Daar word onder andere in 10 deelstate referendums gehou oor wettige aborsies al dan nie op 5 November, terwyl daar reeds in 14 deelstate groot beperkings op die uitvoer van wettige aborsies is.
Die tweede aspek waarop Trump verseg het om toe te gee, was of hy enigsins verantwoordelik voel vir die oproer by die Kongresgebou op 6 Januarie 2021 en of hy die verkiesing gewen of verloor het. Hy het telkens die vrae beantwoord met verwysings na gebreke in ander konfliksituasies of die vraagstuk van swak grensbeheer en onwettige immigrasie as ’n teenvoeter gebruik. Hy het selfs beweer dat die Demokrate onwettige immigrante vir verkiesings registreer en dat hulle op dié wyse verkiesings manipuleer. Sy lyftaal en gesigsuitdrukkings het duidelik gewys dat die vrae hom irriteer. Dit was in hierdie konteks dat Harris ’n soort politieke uitklophou geplant het toe sy vir Trump sê dat 81 miljoen Amerikaanse kiesers hom in 2020 in die pad gesteek het.
........
Twyfelaars oor Donald Trump het na die debat meer rede om te twyfel, en dié wat onseker oor Harris se vermoëns was, het beslis berusting gekry dat sy, indien sy verkies sou word, ’n volwaardige eerste vrou van kleur in die Withuis sal kan wees.
........
Ten slotte: Hierdie debatte verander nie die steun van deurwinterde Demokrate of Republikeine nie, maar het tog ’n impak op die twyfelstemme. Donald Trump het opgetree presies soos wat hy altyd in dié soort gesprekke optree, naamlik selfversekerd, oortuig van sy standpunt, aanmatigend teenoor sy opponent, en met sy ego voorop gestel. Teen die einde van die debat het hy wel weer sy sentrale tema op koers gekry en wou hy wys dat Harris net ’n verlengstuk van ’n swak Biden-presidensie is. Harris, daarenteen, wou wys dat haar veldtog oor die kieser gaan en nie oor haarself nie en dat ’n tweede Trump-administrasie weer ongekende chaos gaan skep.
Kamala Harris het gedemonstreer dat sy met selfvertroue aan dié soort debatte kan deelneem. Haar argumente was duidelik en sy was emosioneel en sterk oor sake wat haar na aan die hart lê, soos die reg op aborsie. Sy het egter seker gemaak dat sy met die kiesers praat en nie oor haarself nie, en het gedemonstreer dat sy beslis presidensiële materiaal is. Twyfelaars oor Donald Trump het na die debat meer rede om te twyfel, en dié wat onseker oor Harris se vermoëns was, het beslis berusting gekry dat sy, indien sy verkies sou word, ’n volwaardige eerste vrou van kleur in die Withuis sal kan wees. Na die debat is die steun vir die twee kandidate steeds op ’n mespunt gebalanseer, maar Kamala Harris het die swak ondersteuning wat Joe Biden deurlopend ontvang het, in ’n 50/50-uitkoms verander.
Lees ook:

