![](https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2024/08/Madame-Prez_650-2-600x369.png)
Foto’s: Harris (links) deur Lawrence Jackson (Wikimedia Commons, openbare domein); Trump (regs) deur Shaleah Craighead (Wikimedia Commons, openbare domein)
Wat is ’n Amerikaanse presidentsverkiesing sonder Hollywood-glans? In 1924 is die eerste voorstelling van ’n vroulike Amerikaanse president gedoen in die wetenskapfiksiefilm, The last man on earth. ’n Eeu later verskyn Kamala Harris, vise-president en presidensiële kandidaat, op die toneel. Harris herinner aan ’n filmster wat die rol van die VSA se president vertolk, maar sy is méér as dit: Sy is outentiek en sy is die ware Jakob, die lang verwagte vroulike president van die VSA, ’n vrou met ’n onbesproke rekord as politikus.
In die 2013-stromingsreeks, House of cards, vertolk Robin Wright die rol van president, Claire Underwood, ná die afsterwe van haar man, president Frank Underwood. Dit is egter die televisiereeks, Commander in Chief, wat waarskynlik die beste voorstelling van ’n vroulike VSA-president lewer, met Geena Davis in die hoofrol as Mackenzie Allen. Allen bevind haar in die ongenaakbare manswêreld van die politieke arena, vergesel van die Speaker, Nathan Templeton, se seksisme (nogal soortgelyk aan JD Vance se gewraakte “childless cat ladies”-aanmerkings). Daar het oornag ’n hernieude belangstelling in hierdie reeks ontstaan, maar wanneer dit by persoonlikhede kom, herinner Davis/Allen eerder aan die goewerneur van Michigan, Gretchen Whitmer, oftewel Big Gretch. Die “first second gentleman” en waarskynlik binnekort die “first gentleman”, Doug Emhoff, het nie enige voorgangers nie. Daar bestaan nie ’n selfhelpboek vir die manlike gade van ’n vroulike president nie, maar gelukkig aanvaar Emhoff sy unieke posisie met ’n groot skeut humor. In Commander in Chief sien die kyker hoe die “first gentleman”, Rod Calloway, deur die president se privaatsekretaresse rondgewys word in die Withuis om die etiket en nuwe pligte wat van “haar” verwag word, te verstaan: blommerangskikking, kulinêre wonders in die kombuis…
Die vorming van ’n Baudrillardiaanse hiperrealiteit tussen die werklikheid, films en stromingsreekse is ’n gegewe. Met die 2016-Amerikaanse verkiesing het plakkate van Donald J Trump versus Frank Underwood (van The house of cards-faam) deur mense se nuusvoer op die sosiale media beweeg – met die suggestie dat Underwood vir Trump ’n bloedneus gaan toedien; almal het skynbaar dié parodie geniet. Dan moet ons nie vergeet van die sosiale kritiek wat die Simpsons op Trump as president gelewer het nie. Hierdie fiktiewe anime-profete het in “Bart to the future”, die sewentiende episode van The Simpsons (seisoen 11), die verkiesing van Trump as president korrek “voorspel”. Maar meer as dit – in dié episode word Lisa Simpson president van die VSA, ’n insident wat skynbaar ooreenkomste met Kamala Harris toon, ook in terme van die twee dames se kleredrag. Die grense tussen werklikheid, fiksie en fantasie vervaag, en ons as kykers/lesers probeer sin maak uit al die afspieëlings van die sogenaamde “werklikheid”, of hiperrealiteit.
Die Amerikaanse leefwêreld is in alle reekse en films teenwoordig, byvoorbeeld Amerika se tradisionele vyande soos Noord-Korea, China en Rusland. Ongelukkig het Poetin ná 20 jaar sy ware kleure gewys, en soortgelyk aan Robert Mugabe sy varkies beginne verloor. Ten spyte van ’n sterk weermag, is China nie ’n militêre opponent vir die VSA nie; wel ’n ekonomiese mededinger. En hiervan gepraat: Donald Trump het nogal ’n koddige manier om China uit te spreek – “Chiaanááá!”
Die sogenaamde Withuis-movies het momentum gekry ná die 9/11-terreuraanvalle op Amerika, en die supermoondheid het met die hulp van Hollywood sy beeld op heroïese wyse verstewig. Reekse en films oor die Amerikaanse presidensie is gevestig en baie gewild – en mens kan nie help om bewondering te hê vir die good guys wat altyd teen die einde seëvier nie, al is dit fiktief. Kykers leer baie van die inkleding van Amerikaanse politiek, of dit nou die Oval Office of die leefstyl van die president is. Ek het al gewonder of daar nie byvoorbeeld een standaardstudio is vir die verfilming van die Oval Ofiice nie. Wel, interessantheidshalwe: Wanneer die nuwe president van Amerika aangewys word, ontvang hy/sy ’n katalogus van meubels om vanuit te kies. Die prez kan ook besluit watter kleur die mure van die Oval Office en die residensie op die eerste vloer geverf word. Soms sien ’n mens in ’n film die Oval Office se buitedeur waar Barack Obama uitgestap het om ’n dampie te slaan. Kykers leer inderdaad baie van die korrekte dekorum en protokol in die Withuis deur na televisiereekse en films te kyk. Daar is selfs akteurs wat in sommige van hierdie films en reekse speel wat werklik in die Withuis gewerk het (byvoorbeeld die akteur Kal Penn in die reeks Designated survivor).
........
Amerikaanse politiek funksioneer soos politieke teater, ’n rollespel wat versterk word deur Hollywood-glans en die hibriede voorstelling van hiperrealiteit. Voornemende kiesers, kykers en belangstellendes is tans besig om, inderwaarheid, die nuwe rolverdeling met die Harris/Trump-presidensiële veldtogte te kies en Suid-Afrikaners doen mee aan hierdie proses, waarskynlik omdat ons eie politiek ter plaatse te vervelig of korrup is.
........
Eintlik is die Amerikaanse president ’n gevangene wat in luuksheid woon, maar wat geen persoonlike vryhede geniet nie. Onthou nog die toneel waar president Andrew Shepherd (vertolk deur Michael Douglas in The American president) ’n bloemiste bel om ’n bos blomme te bestel – net om te onthou dat hy geen persoonlike kredietkaart het nie? Toe die verliefde staatshoof aan die bloemiste noem dat hy die president is, vra die persoon aan die ander kant: “Of what?” Die president word te alle tye bewaak deur sekuriteit en beskik dus oor geen persoonlike vryheid van beweging nie.
Amerikaanse politiek funksioneer soos politieke teater, ’n rollespel wat versterk word deur Hollywood-glans en die hibriede voorstelling van hiperrealiteit. Voornemende kiesers, kykers en belangstellendes is tans besig om, inderwaarheid, die nuwe rolverdeling met die Harris/Trump-presidensiële veldtogte te kies en Suid-Afrikaners doen mee aan hierdie proses, waarskynlik omdat ons eie politiek ter plaatse te vervelig of korrup is.
Ons sien daagliks op televisie politici se geite en maniërismes: Joe Biden wat by tye met ’n fluisterstem praat en klink soos ’n oupa wat ’n gruwelsprokie aan sy kleinkinders vertel. En die einste Biden het met die verloop van tyd so veraf kyk, soos Clint Eastwood, in sy oë begin kry wanneer hy sy Ray Bans afhaal. Kamala Harris is weer gekritiseer omdat sy te veel lag, maar is sy nie die vriendelikste (vise-) president op aarde nie? Iewers het ’n raadgewer aan haar die briljante advies gegee om hierdie gewaande swakheid as haar superpower te gebruik. Haar geesdrif is aansteeklik, so anders as JD Vance met sy astrante klap-my-gesiggie. Hy lyk of hy lid kan wees van die Bittereinders in ’n hofsaal op ’n klein dorpie in die Vrystaat. Die vise-presidentskandidaat, Tim Walz, tref mens weer as ’n omie van Philippolis met ’n skaapboerdery iewers, ’n man wat sy rugby ernstig opneem en die laerskoolspan op Woensdagmiddae afrig. Ja, en ons almal ken Trump se aftrekmond soos ’n vis, of sy grinnik wanneer hy iets amusant vind.
........
Kenners kom tot die gevolgtrekking dat Trump ongeveer twee leuens per minuut vertel, ’n propagandistiese taktiek wat herinner aan die Big Lie of große Lüge, soos dit bekendgestel is deur Hitler in sy berugte politieke manifes, Mein Kampf.
........
Inderwaarheid herinner Trump aan ’n stand-up comedian wat letterlik niks meer kan doen as die verspreiding van beledigende wan-, dis- en misinformasie nie, gevolg deur die voorspelbare ge-boe van sy gehore tydens sy saamtrekke. Eers was dit “crooked Hillary”; nou, “crazy Kamala”. Ai, die bynaampies darem. Kenners kom tot die gevolgtrekking dat Trump ongeveer twee leuens per minuut vertel, ’n propagandistiese taktiek wat herinner aan die Big Lie of große Lüge, soos dit bekendgestel is deur Hitler in sy berugte politieke manifes, Mein Kampf. Joseph Goebbels, wat Hitler se propagandamasjien gedryf het, het ingesien dat wanneer mens ’n leuen genoeg herhaal, dit later die aanskyn van waarheid geniet. Nou ja, joernaliste beweer dat Trump ongeveer 30 000 leuens of verdraaiings van die waarheid in sy ampstermyn van vier jaar kwytgeraak het. Dit is ongeveer 20 leuens per dag.
In sy temerige falsettostemmetjie val Trump terug op sy berugte seksistiese, rassistiese en xenofobiese uitsprake, wat onder ander omstandighede snaaks kon gewees het vanweë die absurde inhoud daarvan. Trump se bangpratery en populistiese tweets skets ’n donker narratief van ’n distopiese zombie-apokalips aan sy volgelinge. Om die self te versterk, moet jy ’n sterk ander skep, presies dieselfde politieke narratief wat Hitler en Goebbels nagevolg het. Kenners wat Trump se simplistiese taalgebruik tydens saamtrekke ontleed, het lank reeds tot die gevolgtrekking gekom dat sy brutalisering van taal meer soos ’n stoeigeveg as politieke toesprake klink. Regverdig sy banale lingua franca werklik die bysleep van filosowe soos Žižek, of Foucault met sy beskouings van magsdiskoerse? Laat ons ook nie die 1984-profeet, George Orwell, vergeet nie. Donald Trump manipuleer al ’n geruime tyd die nuusnetwerke, Fox News en Newsmax, wat die konserwatiewes en Republikeine se spreekbuise is. Op soortgelyke wyse as wat Joseph Goebbels die waarde van ’n Nazi-propagandamasjien vir die Partei verstaan het, gebruik Trump Fox News as neokonserwatiewe politieke platform. Dit is nogal pret om Fox News te volg vir die belaglike sêgoed – die aanbieder Jesse Watters het gewaarsku om nié vir Harris te stem nie, want “when a man votes for a woman, he actually transitions into a woman”.
Die Trump/Harris-verkiesing is veel meer as net ’n Amerikaanse presidentsverkiesing. Die wêreld kyk op na die VSA vir leierskap en die handhawing van gesonde demokratiese waardes. Die toekoms van die Vrye Weste en die wêreld word geamplifeer deur Amerikaanse politiek. As Donald Trump op 4 November wen, word Amerika in terme van beleidspolitiek teruggesit na die 1800’s. Dit is van kardinale belang dat Amerika op ’n demokratiese trajek bly, dat die Verenigde State steeds die rol van die wêreld se simboliese sekuriteit behou. ’n Trump-bewindname sal Amerika effektief isoleer van die res van die wêreld. Ons is gewoond daaraan dat die VSA, as die baken van demokrasie, ’n teenpool vir diktature vorm. Trump se dreigemente aan sy NATO-vennote en Amerika se tradisionele bondgenote voorspel egter ’n donker en distopiese scenario.
Donald Trump, met die mentaliteit van ’n hotelbaas, is berug vir sy hedonistiese leefstyl en verhoudings met pornografiese sterre, iets wat heeltemal in kontras verkeer met sy konserwatiewe agendas. ’n Mens roep dadelik sy goue toilet en die goue roltrap van die Trump Towers, waarmee hy afgery en ’n skare gegroet het tydens sy presidensiële aankondiging in 2016, voor die oog. Tog, en verskoon die oksimoron, maar Trump is ná alles ’n sukkelende miljardêr. Hy kleur en blaas sy dunnerwordende hare, wat herinner aan ’n vervloë 80’s-haarstyl, geel, maar die haarsproei gee so ’n snaaragtige skynsel aan sy kapsel. En met die kunsmatige sonbrand het hy ’n terracotta voorkoms. Trump is lief daarvoor om groot handgebare te maak as hy praat, soos iemand wat konsertina speel. Die verstommendste egter is sy gevolg, wat lief is om met die resepmatigheid van ’n swak sitkom-boe! te koggel ná sy kwetsende en infantiele uitsprake. Die meerderheid van hierdie mense is hillbillies wat geken word aan hulle denim-jumpsuits, groot bakkies en gewere; mense wat nie behoorlik werk het nie en bitter min van hulle eie politiek of geskiedenis verstaan. Trump is voorts berug daarvoor dat hy die Bible belt teiken vir sy veldtog; Christene wat behoort aan evangeliese kerke en glo hy is ’n gesalfde van God of die een of ander messias wat Amerika moet kom verlos. Trouens, die man het al letterlik sy eie Bybel uitgegee. In teenstelling met Trump se gevolg, is die Demokrate hardwerkende en eerlike bloukraagwerkers en akademici, veral uit Massachusetts. Dit is opvallend hoeveel aanhangers van die Demokratiese Party ’n rein lewe lei, terwyl dit ironies die Republikeine is wat aanspraak maak op gesonde waardes. Sal die wêreld ooit vergeet dat die VSA die swakste Covid-respons tydens Trump se bewindname gehad het (5% van die wêreld se bevolking, teenoor meer as 20% van die wêreld se Covid-sterftes) – want Trump het Fauci, een van die wêreld se voorste epidemioloë, bloot geïgnoreer, ge-overrule en verdag gemaak.
Maar terug na Kamala Harris en die hiperrealiteit rondom die presidensie. ’n Mens sou gedink het dat Amerika teen dié tyd al lankal ’n vroulike president sou gehad het, soos ’n eeu gelede reeds voorspel is in ’n ou stilfilm. Tog is vroulike staatshoofde in die geskiedenis van baie lande niks nuuts nie. Golda Meir, byvoorbeeld, het die amp van Israel se Eerste Minister tydens 1969–1974 beklee. Daar was wyle Indira Gandhi, die Eerste Minister van Indië (1966–1984); wyle Benazir Bhutto, eweneens die Eerste Minister van Pakistan; die korrupte Imelda Marcos van die Filippyne, ’n invloedryke politikus en vrou van president Ferdinand Marcos; en natuurlik Maggie Thatcher, Eerste Minister van Engeland en leier van die Konserwatiewe Party. Theresa May en Liz Truss het nie lank gehou as Eerste Ministers van die Verenigde Koninkryk nie. Jacinda Ardern, Eerste Minister van Nieu-Seeland (2017–2023), was legendaries en het letterlik regeer met ’n baba op die heup.
Die grootste uitdagings wat die nuutverkose president in die gesig staar, is die buitelandse beleid (foreign policy) en die potensiële bedreigings vir wêreldvrede; die herstel van die ekonomie; werkskepping; belasting; plaaslike sekuriteit (homeland security); misdaad en grensveiligheid (border security); gesondheid; vuurwapenbeheer (gun control); ongeskiktheidstoelae (social security); en reproduktiewe regte van vroue. Wat Donald Trump tafel toe bring, is onder meer die misterieuse Project 2025 waarin die verbod op ongewenste boeke en die afskaf van die Departement van Onderwys onder andere beplan word. Baie van die agendapunte van hierdie projek is obskuur, waarskynlik omdat die Republikeine besef dat hulle na aan die harslag van ’n diktatuur gaan beweeg en dat dit dalk voornemende kiesers mog afskrik. Harris, daarenteen, se agendas is so oop en helder soos ’n sonnige somersdag.
........
Politieke ontleders bespiegel dat die belangrikste uitdaging – waarop Harris kan wen – juis die reproduktiewe regte van vroue is.
........
Politieke ontleders bespiegel dat die belangrikste uitdaging – waarop Harris kan wen – juis die reproduktiewe regte van vroue is. Dit is belaglik dat die Staat moet beslissings neem oor die vrou se liggaam, dáároor kan vroue volgens hulle onderskeie geloofsoortuigings sélf besluit. Trump se reaksie hierop is dat, volgens Harris se standpunt, selfs pasgebore babas na geboorte tereggestel word. Hy skets doelbewus ’n beeld van gruwelike abjeksie, net nog een van sy talle leuens. Harris het beloof dat sy die Roe vs Wade-uitspraak persoonlik sal omkeer en die wetgewing sal wysig dat vroue self kan besluit oor kwessies soos aborsie. Die indrukwekkende en toonaangewende Demokratiese goewerneurs soos Walz, Shapiro, Whitmer en Newsom het reeds wetgewing in hulle state ingestel wat die reproduktiewe regte van vroue waarborg. JD Vance, die verkose vise-presidentskandidaat, het beweer dat families met kinders se stem meer gewig moet dra as dié sonder kinders. Waarom is dit so dat mans ’n preokkupasie met vroue se reproduktiewe stelsels het? Keer ons nou terug na die bybelse tyd waar ’n vrou se “status” gemeet word aan haar vermoë om kinders te baar, verkieslik seuns, en dat mans oor hulle moet heers? Die verwysing na die “childless cat ladies” soos Harris, wat nie biologiese kinders van haar eie het nie, klink soos ’n desperate poging tot fallosentriese beheer oor vroue. Of dalk is Vance, ’n selferkende hillbilly, se beskouing van die werklikheid effens versteur. In sy boek, Hillbilly elegy, wat verwerk is tot film, blyk dit dat hy maar ’n traumatiese jeug gehad het. En ja, hillbillies hét baie kinders.
Die Amerikaanse populasie bestaan uit 335 miljoen mense. In die vorige verkiesing het Trump net-net verloor teen Biden. Dit lyk of 48% van die VSA se populasie bestaan uit onkundiges wat vir Trump se retoriek en verdraaiings val, terwyl hulle nie eens weet wie George Washington of Abraham Lincoln was nie. Dit is groot pret om die politieke satire-geselsprogram, Jimmy Kimmel Live!, te volg en te sien hoe hierdie Trump-aanhangers op straat voorgekeer word en gepeper word met eenvoudige vrae, soos wat het gebeur op 6 Januarie 2021? En niemand weet nie. Waar – ek vra weer – waar op dees aarde kom al die hillbillies vandaan? Is daar werklik ’n verrotte binnelaag in die Amerikaanse populasie wat nie vir hulself kan dink nie?
........
Hou ’n mens voorts in gedagte dat Harris se tempo van ondersteuning met rasse skrede toeneem, dat honderde duisende volgelinge reeds as vrywilligers gekeur en aangestel is, dat daar miljarde dollar in donasies vir die Demokrate ingesamel is, dan lyk dit of die pendulum in Harris se guns sal swaai om te wen.
........
Sedert die vorige Amerikaanse presidentsverkiesing is daar 20 miljoen mense uit die ouer populasie van die VSA oorlede. (’n Mens moet in gedagte hou dat dit veral ouer mense is wat vir Trump stem.) In 2024 is 40 miljoen mense vir die eerste keer stemgeregtig. Hou ’n mens voorts in gedagte dat Harris se tempo van ondersteuning met rasse skrede toeneem, dat honderde duisende volgelinge reeds as vrywilligers gekeur en aangestel is, dat daar miljarde dollar in donasies vir die Demokrate ingesamel is, dan lyk dit of die pendulum in Harris se guns sal swaai om te wen. Die meeste van hierdie donasies kom uit die sakke van gewone mense, wat op gemiddeld 91 dollar per persoon neerkom. Of dit akademici van Massachusetts is of die fabriekswerkers van Detroit wat Bruce Springsteen luister en een maal ’n maand hulle kinders neem vir hamburgers, en of dit die werkersklas van Jan Alleman verteenwoordig: Harris se steun kom uit alle geledere. Ná die vorige verkiesing het Joe Biden onmiddellik die unies besoek en vir hulle gevra wat hy vir hulle kan doen. Donald Trump voel vere vir sy eie mense; sy verkiesings gaan bloot oor sy eie narsistiese en fascistiese agendas. “We take care of our own,” het Bruce Springsteen in 2020 tydens die Biden-veldtog gesing. En dit is inderdaad so. Amerika se credo en nalatenskap is vervat in die inskripsie van die ikoniese Statue of Liberty, waarin die Amerikaanse psige weerspieël word: “Give me your tired, your poor, your huddled masses yearning to breathe free, the wretched refuse of your teeming shore. Send these, the homeless, tempest-tossed to me, I lift my lamp beside the golden door!” Dít is die baken van hoop wat vlugtelinge gesien het wanneer hulle New York se hawe binnegevaar het. En mag dit so behoue bly.
........
In ’n wêreld wat in navolging van Trump se 2016-oorwinning al meer konserwatief geraak het, het ’n politieke onderstroom só ver regs beweeg dat selfs liberale sentristiese mense nou as “radical left” afgemaak word
........
Kamala Harris is sentristies, nie ’n verlinkse liberaal soos Trump beweer nie. In ’n wêreld wat in navolging van Trump se 2016-oorwinning al meer konserwatief geraak het, het ’n politieke onderstroom só ver regs beweeg dat selfs liberale sentristiese mense nou as “radical left” afgemaak word. Amerika is ’n volk wat ontstaan het uit immigrante uit verskillende lande en bevolkingsgroepe, waarvan die seëvierende Statue of Liberty, soos genoem, die bewys is. Daar word bespiegel of Harris, in navolging van haar swart voorganger en Nobelpryswenner, Barack Obama, nie dalk selfs ’n gróter triomf as sy oorwinning in 2008 gaan behaal nie. Ook Trump se volgelinge raak nou keelvol vir sy leuens, samesweringsteorieë en lasterlike getjommel – en hiervan is “regse” drukgroepe soos Republicans for Harris en The Lincoln Project die bewys. Harris se ondersteuningsbasis bestaan uit ’n lang lys celebs, soos onder andere George Clooney, Tom Hanks, Beyoncé, Bruce Springsteen en Jennifer Aniston. Sy bereik ook generasie X en Y, iets wat met die vorige Biden/Trump-verkiesing nie juis op die voorgrond was nie. Die Demokrate praat die taal van jong mense en die populêre kultuur vlot. Die atmosfeer tydens Harris se saamtrekke is elektries-gelaai en die mense is gevul met vreugde, teenoor die suurknolle en hillbillies se wanordelike teenwoordigheid tydens Trump-saamtrekke waar hy vir Biden en Harris die skuld gee vir die mense se eie onbeholpenheid.
In die karakterdebat (character debate) loop Harris ver voor. Volgens die nuusmedia is Trump ’n 78-jarige krimineel wat patologies leuens vertel, mense se karakter beswadder, wat vroue seksueel objektiveer, wat bedrieg, en so kan mens aangaan. Harris, aan die ander kant, het ’n kraakskoon beeld: Sy is ’n vrou met integriteit en etiek. Dis of die sterre dit so belyn het dat Harris die eerste vroulike president van die VSA gaan word. Of: Dis asof die onsigbare hand van ’n regisseur besig is om die kousale gang van die draaiboek só te stuur tot die blye tyding op 4 November uiteindelik kom. “Madam President!” En dit is presies wat die wêreld nodig het: ’n vorstin aan die stuur van Amerika wat in geregtigheid en menswaardigheid glo.
Lees ook:
Links en regs: Hoe lyk die huidige globale politieke toneel?