Die mag van vreugde in politiek

  • 0

Foto: Luis Quintero via Canva

Kamala Harris se presidensiële veldtog word gekenmerk deur ’n ontspanne, gemaklike gees. Sy dra tekkies en deel resepte met lede van die publiek; Tim Walz is ’n paar dae gelede in ’n T-hemp gewys waar hy by ’n winkel in Minnesota stop om iets te koop en die geleentheid gebruik om besighede te bevorder.

Hulle lag; die gehore waar hulle ook al gaan, is duidelik opgewonde. Anders as die Trump-veldtog, waar woede en griewe die orde van die dag is, is mense bly om die Harris-Walz-span te ontmoet. Aan die begin van haar veldtog het almal gefokus op die feit dat sy die eerste swart/Asiese vrou is wat vir president staan. Sy is nie. In 1972, die jaar na my geboorte, het Shirley Chisholm daai eer gehad. Maar Harris is die eerste vrou wat regtig moontlik president kan word.

Daar was gewag gemaak van hoe sy sosiale media gebruik om veral jonger kiesers in te trek. Sy (of haar sosialemediaspan) weet hoe om die zeitgeist te gebruik. Dink aan hoe sy die woorde “black job” en “brat” gebruik en haar eie gemaak het. Dink aan die manier waarop sy Beyoncé se lied “Freedom” by elke byeenkoms gebruik.

Trump het gedink hy kan dieselfde doen deur Taylor Swift se musiek sonder haar toestemming te gebruik. Die gevolg?  Duisende Swifties het bymekaar gekom om Harris se veldtog te ondersteun.

........
Wat Harris se veldtog onderskei van enige vorige presidensiële veldtogte, is die vreugde en die vermoë om fyn spot te dryf. Trump se spot is altyd ten koste van ander; haar spot maak die gehoor deel van die grap, deel van die binnekring.
........

Maar wat Harris se veldtog onderskei van enige vorige presidensiële veldtogte, is die vreugde en die vermoë om fyn spot te dryf. Trump se spot is altyd ten koste van ander; haar spot maak die gehoor deel van die grap, deel van die binnekring. Toe sy in daai ligbruin pak opdaag by die Demokratiese Nasionale Vergadering, het sy ’n kopknik gegee aan die destydse “skandaal” toe Barack Obama in ’n netjiese ligte pak in die openbaar verskyn het. Die Republikeine was destyds ontstoke. Elke keer as “Freedom” speel, lewer sy speelse en tog ernstige kommentaar op Trump se belofte om op dag 1 van sy nuwe termyn, sou hy herkies word, reeds as diktator op te tree. Sy is energiek, sy is jonk, sy vind vreugde in klein interaksies. Tim Walz is die perfekte keuse as haar visepresidentskandidaat.

Die manier waarop Harris humor gebruik, eerder as die aansporing tot woede wat die laaste ruk so deel van die politeke retoriek geword het, sal hopelik deel van die nuwe normaal word in politiek. Sy is bereid om Trump te debatteer. Trump, dink ek, is baie bang daarvoor. Sy gewone manier om bo-oor mense te praat en hulle redeloos van woede te maak sodat hulle tot sy vlak daal, gaan nie slaag met Harris nie. Sy sal hom uitlag, en Trump se ego sal dit nooit kan hanteer nie.

........
Kyk na die uitdrukkings op mense se gesigte. Daar is hoop, daar is vreugde. Dis in skerp kontras tot die strak gesigte by Trump se skares.
........

Sy is bereid om te praat oor eenheid dwarsoor politieke grense heen, iets waartoe Trump nie in staat is nie. Baie van Trump se personeel tydens sy vorige administrasie het inderdaad nou begin om na vore te kom en Harris in die openbaar te ondersteun. Dit sê veel as sy eie personeel nie kans sien vir ’n tweede termyn met hom nie.

Harris se entoesiasme is aansteeklik. Kyk na elke foto van die skares wat sy trek. Moenie kyk na die grootte van die skare nie, soos wat Obama in sy toespraak so mooi geillustreer het. Kyk na die uitdrukkings op mense se gesigte. Daar is hoop, daar is vreugde. Dis in skerp kontras tot die strak gesigte by Trump se skares.

Haat kan net só ver gedryf word. Deur te kies om dit weg te lag eerder as om vurige retoriek te lewer, het Harris bewys dat sy die Amerikaanse temperament baie beter lees as wat die Republikeine kan. Mense is moeg van haat en nyd en tweespalt. Hulle is gereed om ’n kandidaat te ondersteun wat hulle herinner aan die Amerikaanse ideaal van sonskyn en appeltert. Hulle is dalk baie ver van daai ideaal, maar ten minste is daar nou ’n kandidaat wat hulle herinner dat dit moontlik is.

Daar is nog omtrent 70 dae oor voor die verkiesing. Kom ons hoop dat vreugde Harris oor die wenstreep sal dra.

Lees ook:

Harris vs Trump: November kan nie gou genoeg kom nie

Amerikaanse presidentsverkiesing 2024: Hoe raak dit ons?

Madam President!

Elders gesien: Die prezzie word maar net die salesperson

Is vroulike politici beter vir ons wêreld?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top